Go Deep 02 Augustus 2026

Geloof

Jou geloof is diep, sterk en standvastig

Neville Goodchild

Dag 1: Fondasie van geloof

Jesus het verwys na geloof soos ‘n mosterdsaad. ‘n Mosterdsaad is baie klein en die boodskap wat Jesus wou oordra is dat ons nie groot geloof nodig het nie. Ons het geloof nodig.

Die boom wat groei uit die mosterdsaad is groot. Nadat die saadjie geplant is en ontkiem in die grond, begin die wortels vorm en dan kom die plantjie uit. Die boom se wortels groei eers baie diep en sterk onder die grond, voordat die boom sterk en groot kan groei bokant die grond.

Net so is dit baie belangrik om sterk fondasies te bou, voordat ons ‘n gebou kan bou op daardie fondasies, wat sterk en standvastig sal wees.

Dit wat ons nie kan sien nie, die wortels en die fondasie onder die grond, bepaal hoe sterk en standvastig dit is wat ons wel bo-op die grond kan sien.

Met geloof werk dit ook so dat ons ‘n vaste fondasie moet bou van wat ons glo, sodat ons steeds standvastig kan bly, al beleef ons omstandighede en tye waar ons geloof getoets word. Sulke tye moet ons kan steun op die fondasie van ons geloof, sodat ons nie ons geloof in God verloor nie.

Johannes het so ‘n tyd beleef waar sy geloof beproef is. Johannes wat in die tronk en hy het die dood in die oë gestaar. Hy wou seker weet of Jesus was wie hy, Johannes, gedink het Hy was.

Johannes wou, figuurlik gesien, bevestig dat sy gebou se fondasies standvastig was en of sy boom se wortels goed ontwikkel, diep, sterk en standvastig was. Die ‘fondasie’ van sy geloof was dat Jesus die Seun van God was, die Messias, die Een wat moes kom. Hy het toe ook sy dissipels wat hom in die tronk kom besoek het, gestuur na Jesus om te gaan hoor by Jesus of Hy waarlik die Seun van God was, die Redder wat moes kom.

Wat ons in hierdie gedeelte by Johannes leer is baie belangrik. Die basis van ons geloof is dat ons weet dat Jesus Christus die Seun van God is wat gekom het om die sonde van die wêreld weg te vat en ons te versoen met God die Vader.

 LEES:

Matt. 11:2-6

Matt. 17:20

Mediteer:

·       Hoe beleef jy jou eie geloof? Het jy ook al gewonder of jou geloof groot genoeg is of het jy al gewonder of jy hoegenaamd geloof het?

·       Die basis van ons geloof is om te glo dat Jesus die Seun van God is, dat Hy die Mesias is, dat Hy vir my en jou gesterf het, ens.

·       Glo jy dit van Jesus? Het jy ‘n vaste oortuiging oor die basiese waarhede oor Jesus?

Bid: 

Dankie Jesus vir wie U is. Dankie Vader vir U plan met die mensdom en vir die reddingsplan wat U gebring het in Jesus. Dankie Vader dat ons slegs hoef te glo en geen werke hoef te doen vir ons redding nie. Vader kom vestig U geloof in my. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

My geloof is diep, sterk en standvastig.

Aanbidding:

Jesus Have it All – Live in the Prayer Room | Jeremy Riddle  

Dag 2: Moenie aanstoot neem nie

Die eerste gedeelte van Jesus se antwoord aan Johannes toe hy sy dissipels gestuur het om vir Jesus te vra of Hy waarlik die Seun van God is, maak vir my sin en is maklik om te verstaan. Jesus het vir Johannes se dissipels gesê dat hulle vir Johannes moet gaan vertel van die wonderwerke wat hulle gesien het wat Jesus gedoen het. Dit maak sin dat Johannes se geloof versterk sou word en opgebou sou word. Johannes sou sonder twyfel kon begryp dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is. Hy sou weer versterk in die geloof kon staan en glo dat Jesus Christus van Nasaret is waarlik Seun van God en die Messias wat die profete voorspel het sou kom.

Die tweede gedeelte van Jesus se antwoord is dat die persoon wat nie aanstoot neem nie geseënd is. Johannes was die een wat ‘n pad vir Jesus gemaak het in die wildernis en wat verkondig het wat hy van God ontvang het. Johannes bevind hom nou in die tronk omdat hy die waarheid oor Herodus en Herodias se verhouding uitgewys het, dat dit iets afstootliks is voor God se aangesig. Hy het gedoen wat hy geglo het is reg en nou sit hy in die tronk en hy het moontlik vermoed dat sy einde naby is. Hy moes baie vrae gehad het oor die roeping op sy lewe, oor die openbarings wat hy beleef het en die manier waarop hy dinge gedoen het. Die kruks van sy geloof was dat Jesus Christus die Seun van God is en die Redder van die nasies. Hy moes weet dat dit die moeite werd was en dat dit die waarheid was.

Ek kan dink dat Johannes aanstoot kon geneem het en dat daar mense was wat Johannes te na gekom het. Hy kon miskien gevoel het dat sy deelname aan geloof het nie goed uitgewerk nie en dat dit nie vir hom gewerk het nie. Hy kon beleef het dat die uitkoms is nie wat hy sou verwag het dit sou wees nie en gevoel dat hy gaan onttrek en nie verder deelneem nie. Dit is oor die algemeen goed om te twyfel, want dan sal ons in gesonde omstandighede vrae vra en nader aan die Here kom. Dit is egter wanneer twyfel lei tot aanstoot dat dit toksies raak. Dan onttrek ons en besluit om nie verder deel te neem aan dit wat God vir ons beplan het nie. Ons stem nie saam met die uitkomste nie en ons bots met die uitsprake en manier van doen van ander gelowiges. Ons ontvang kritiek en afbrekende kommentaar. Dit is hier waar die gevaar ontstaan dat ons afvallig van geloof kan word en ons op ‘n plek bevind waar dit moeilik is om weer terug te keer na geloof. Jesus wys hier vir Johannes dat hy ‘n keuse sal moet maak om nie aanstoot te neem nie, om homself nie af te sonder nie. ‘…geseënd is hy wat nie aanstoot neem nie.’

Lees:

Matt. 11:2-6

Mediteer:

·       Het jy al seergemaak gevoel in die kerk of deur jou mede-gelowiges?

·       Het jy al aanstoot geneem agv woorde of dade wat teen jou gerig was? Dit maak seer om teenstand te ontvang wanneer jy beleef dat jy presies dit doen wat God vir jou op jou hart geplaas het om te doen. Wanneer ons God se wil doen is gewoonlik die tyd wat ons die meeste teenstand beleef.

·       Hoe het die aanstoot wat jy geneem het jou verhouding met die mense en Vader beïnvloed?

·       Dink daaroor dat iemand of iets jou nie kan aanstoot gee nie, maar dat jy aanstoot neem.

·       Dink oor Jesus se stelling dat jy geseënd is as jy nie aanstoot neem nie.

Gebed:

Vader help my om nie aanstoot te neem deur woorde of aksies van ander mense nie. Help my veral om nie aanstoot te neem van mede gelowiges of selfs U nie. Heilige Gees help my om in die oomblik te waak teen aanstoot neem. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om nie aanstoot te neem nie.

Aanbidding:

It’s Finished Now – Josh Baldwin

Dag 3: Hoe sien ek my geloof?

Die goed wat beïnvloed hoe ek my eie geloof sien:

·       Die waargeneemde sukses wat ek behaal deur in geloof vir mense te bid lyk nie soos Jesus se sukses nie. Hy het vir gemeenskappe gebid en almal het gesond geword. Jesus kon egter nie in Nasaret genesings en wonderwerke doen nie, want familiariteit en aanstoot het die mense laat vra: ‘Wie dink hy nou eintlik is hy? Ons ken hom. Hy is Josef die skrynwerker se seun en het voor ons groot geword.’ Hulle het aanstoot geneem en het nie geloof gehad nie. Jesus sou baie graag sy broers en susters, sy vriende saam met wie Hy groot geword het, wou evangeliseer, maar Hy kon nie. Ons moet aanvaar dat daar gaan goed wees wat buite ons beheer is en wat ons nie sal kan verander nie. Niemand kan daarop aanspraak maak dat hulle ‘n 100% sukses beleef in die uitkoms van hulle geloof nie. Hoe ‘n mens dit hanteer wat ons as onsuksesvolle geloof beskou en hoe dit ons vrymoedigheid om in geloof te wandel beïnvloed is belangrik. Ons moet weet dat ons net beheer het oor ons eie gehoorsaamheid waarmee ons in geloof wandel. Vir die res moet ons vertrou op God en dat dit in Sy hande is.

·       Skuld, skaamte en seer maak altyd dat ons verwyder word van God se plan. Jesus het gekom om al ons skuld en skaamte en seer op Hom te neem, sodat ons met vrymoedigheid, vry in geloof kan wandel. As ons dus toelaat dat skuld oor goed wat ons gedoen het of gedagtes, skaamte oor sonde en seer wat ons beleef het, tussen ons en God kom staan, ontken ons eindlik die reddende krag van die kruis van Jesus Christus. Dan laat ons toe dat die vyand ons erfenis steel.

·       Ons voel dikwels dat ons nie kwalifiseer nie. Ons meet ons aan onmootlike standaarde van geloof en voel dan dat ons dit nie maak nie. Maak nie saak hoeveel kursusse ek gedoen het, seminare en konferensies ek bygewoon het oor geloof nie, ek sal nooit op ‘n plek kom dat ek uit my eie voel dat ek het dit onder beheer om in geloof te wandel en dat ek onwrikbare sterk geloof het nie. Ons geloof is gebaseer op Jesus Christus wat binne elkeen van ons is en nie op ons eie wysheid, kragte en insigte nie. Alleen as ons Jesus Christus ken en kan getuig van Sy werk in ons lewe, kan ons geloof hê.

·       Gemaksones veroorsaak dat ek nie voorbereid is om in geloof te wandel nie en dan gaan ek dit ook nie doen nie. Sodra ons onsself instel daarop om in gehoorsaamheid in geloof te wandel, verander ons geloof en daar is werke wat getuig van dit wat ek glo God doen en wil doen. Selgroepe is ‘n goeie voorbeeld daarvan om uit jou gemaksone te kom. Dit is ‘n plek waar ons kan getuig en waar ons geloof mekaar kan stig. Ons kan vir mekaar bid of saam as ‘n selgroep bedien en sien hoe geloof in aksie werk. Ons kan ons geloofswandel met God met mekaar deel en saam liggaam van Christus beleef. As ons egter gaan weier om uit ons gemaksone te kom, gaan ons baie selde geloof in aksie sien of beleef. Dit sal nie moontlik wees om die ware omvang van geloof te beleef sonder praktiese ondervinding nie.

Lees:

Heb. 11:1

Mediteer:

·       Hoe sien jy jou eie geloof, as geloof wat werk of as geloof wat nie die uitkomste lewer as wat jy verwag het nie?

·       Het jy nog ‘n vrymoedigheid om in geloof te wandel en om vreesloos Vader te vertrou vir uitkomste wat geloof sou vra?

·       Is daar spesifieke oomblikke wat jy kan uitsonder waar jy God vertrou het vir ‘n sekere uitkoms en jy teleurgesteld daarvan moes wegstap?

·       Is daar nog enige vorm van skuld en skaamte voor Vader wat maak dat jy nie vrymoedigheid het nie?

·       Wil jy nie jou teleurstellings na Vader toe vat in gebed nie en Hom vra om jou geloof weer volkome te vestig op Hom nie?

Gebed:

Ja Vader ek het ook al teleurstelling beleef in my geloofswandel, waar ek ook al my vrymoedigheid verloor het om U te vertrou vir die onmoontlike. Vader ek kom meld aan by U sodat U my weer kan leer van regte geloof en dat U ook deur U waarheid en Gees my vrymoedigheid kan herstel. Dankie Vader dat u altyd dieselfde bly ten spyte van ons onvrymoedigheid en tekortkominge. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My geloof is sterk, diep en standvastig!!

Aanbidding:

Chris McClarney – Valley (Official Lyric Video)

Dag 4: In die hemel, so ook op die aarde

‘Faith is the mirror of the heart that reflects the realities of an unseen world. The actual substance of His Kingdom.Through the power of faith, we are able to pull the reality of His world into this one. That is the function of faith.’

Geloof moet aktief en geaktiveer wees in ons lewens omdat dit die meganisme is, die handvatsel is, waarmee ons God se wêreld op aarde vestig. Dit is ons missie om die koninkryk van die hemel af te bid op aarde. Ons sien dit deur Jesus se lewe op aarde. As dit net gegaan het oor om ons in die hemel te kry, kon dit Jesus drie dae geneem het, maar omdat die Koninkryk op aarde gevestig moet word het dit Jesus drie jaar geneem om dissipels op te lei en die evangelie vas te maak op aarde.

Jesus het dus reeds alles gedoen wat nodig is om die mensdom met God te versoen en om aan elkeen wat glo toegang te gee tot die ewige lewe.

'DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. ' Heb.11:1 AFR53

 

Daar is ‘n persepsie dat as ons nie geloof sien nie, dan het ons nie geloof nie. Hier staan egter dat geloof is ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. As ek dus vir iets glo en bid en ek sien dit nie realiseer nie, beteken dit nie dat ek nie geloof het nie. Ek het reeds geloof omdat ek bid al sien ek nie.

Elke persoon wat tot bekering gekom het en gered is, se missie is om die koninkryk van die hemel op aarde bekend te maak. Ons ken almal die gedeelte van die Onse Vader gebed: ‘Laat U koninkryk kom in die hemel en net so ook op die aarde.’

Ons weet byvoorbeeld dat daar geen siekte in die hemel is nie en daarom glo wedergebôre Christene dat ons altyd tot God kan bid vir genesing. Ons besef dat ons nie alles verstaan nie en een van die moeilikste dinge om te besef is dat geloof nie gebaseer is op die uitkoms nie, maar op die vaste wete en vertroue dat God kan genees, wil genees en dat ons volgens God se wil bid wanneer ons vir genesing bid. Indien iemand dan nie genees word nie, sê dit nie dat ons nie geloof het nie. Dit dui net daarop dat ons nie alles weet en verstaan nie. Ons kan nie ophou om in geloof en met vaste vertroue vir mense te bid vir genesing nie, aangesien dit deel is van wat ons glo dat God mense wil genees. Dit is ook belangrik om te besef dat baie mense wat genees word nadat daar vir hulle gebid is, wel tot bekering kom. Dit is dus ‘n manier waarop die koninkryk van die hemel aarde toe gebring word. Dit is deel van ons missie.

Ons kan ook nie besluit om mense af te skryf en uit ons lewe te blok, as ek besluit dat ek aanstoot geneem het nie. Ons missie sal altyd eerste verhouding en siele vir die koninkryk bly. Wanneer ons tot bekering kom sê die Woord dat ons moet soos iemand wat ‘n huis gaan bou, die somme doen en die koste bereken, of ons bereid is om die volle prys te betaal. Ons moet eers die keuse doen dat ek bereid is voordat ek die missie van koninkryk aandurf. Want sodra ek aanstoot neem is die missie verlore en kan ek nie die persoon bedien soos wat God dit bepaal het nie. Mense sal verlore gaan wat bereik sou kon word as ons nie aanstoot geneem het en onttrek het toe God ons wou gebruik het nie.

Ons moet dus altyd ‘n koninkryk visie hê en voorbereid wees met ‘n getuienis of ‘n woord om die koninkryk van God te bou.

Lees:

Heb. 11:1

Mediteer:

  • “Sien is glo” het jy al die uitdrukking gehoor? Wat dink jy van die stelling na aanleiding van die dagstuk?
  • Om nie die uitkoms te sien nie beteken nie dat jy nie glo nie. Dink hieroor en begin anders dink oor jou geloof.
  • Aanstoot word geneem en nie gegee nie. Dink hieroor en dink aan oomblikke waar jy aanstoot GENEEM het deur die woorde of dade van mense, familie, vriende, die kerk of selfs Vader.
  • Hoe het aanstoot wat jy deur ‘n keuse geneem het jou eie vrede, jou verhoudings en ook jou bediening geraak?
  • Indien jy nou besef dat jy aanstoot geneem het iewers en dit steeds jou lewe beïnvloed, wil jy nie die aanstoot neerlê nie en vir Vader vra om jouself en die verhoudings wat daardeur skade toegedien is te genees en te herstel nie?

Bid:

Dankie Vader dat ek nie my geloof hoef te meet aan die sigbare uitkomste nie maar dat ek kan weet my geloof is sterk, diep en standvastig ten spyte van die sigbare. Vader help my om volwasse genoeg te raak om nie aanstoot te neem nie. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

My geloof is diep, sterk en standvastig!!!!!

Aanbidding:

Lord I Lift Your Name On High | Maranata Music (Lyric Video)

Dag 5: Elke gelowige het sterk, diep en standvastige geloof

Geloof soos Petrus…..? Ja, ons kan in ons gedagtes dink aan Petrus se geloof wat in die nag in ‘n storm op die see, vir Jesus in die branders sien loop het, soos ‘n spook of ‘n gedaante. Petrus het die begeerte gehad om na Jesus toe te gaan en Jesus het gesê hy moet kom. Watter massiewe geloof moes Petrus nie gehad het nie, om in die nag uit die boot te klim, in ‘n storm, op die woord van Jesus.

Ek kan net dink dat as ek myself op daardie boot plaas, sou ek moontlik met alles in my aan daardie boot geklou het en moontlik nog my oë  toegemaak het sodat ek nie kan sien hoe groot die branders is nie. Verder vertel my ervaring en als wat ek weet my, dat ek gaan sink die oomblik wat ek my voete in die see sit.

As ek my geloof met die van Petrus moet vergelyk sou ek verseker sê dat sy geloof by verre groter is as myne.

‘n Bietjie later sien ons egter dat Jesus vir dieselfde Petrus moet sê: ‘Gaan weg agter my Satan.’ Petrus is iemand wat vinnig praat en vinnig reageer. Hy het by die Olyfberg toe hulle vir Jesus kom gevange neem het, die een soldaat se oor afgekap. Hier verstaan hy nie die proses nie, al het Jesus vir hulle gesê wat moet gebeur. Jesus moet hier vir Petrus keer en eers Malgus se oor genees, sodat hulle vir Jesus kan gevange neem en dit alles kan gebeur soos dit moet. Maar steeds bly dit dieselfde Petrus wat uit die boot geklim het en op die water geloop het na Jesus toe.

Petrus verduidelik vir die volgelinge van Jesus waar geloof wat standvastig, diep en sterk is, vandaan kom in 2 Pet. 1:1.

SÍMEON Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: 'II PET. 1:1 AFR53

Petrus verduidelik hier dat ons almal identiese geloof het, dieselfde geloof as Petrus, Johannes en al die ander appostels. Ons het almal dieselfde kosbare geloof gekry, omdat ons geregtigheid ontvang het in Jesus Christus deur wie ons gered is.

“FAITH ACTUALIZES WHAT IT REALIZES”

Geloof openbaar wat geloof ontdek en geloof beoefen wat geloof besef!

Kennis van Jesus Christus en van God is een van die grootste struikelblokke vir kinders van God om hulle geloof uit te leef. Omdat hulle nie besef wat van hulle verwag word of wat hulle kan verwag nie. Ons moet dus altyd poog om nader en nader aan God te leef en so sal ons dan meer en meer in die volheid van geloof wandel.

Elke persoon wat na Jesus gegaan het met geloof vir ‘n sekere saak, se geloof is beloon. Nie een persoon wat na Jesus gekyk het met geloof is weggestuur of afgebreek nie. Jesus se boodskap vir elkeen wat geloof het in Jesus Christus is dat Hy hulle geloof sien as sterk, diep en standvastig. Dit is die oë waarmee Jesus na ons kyk.

Lees:

2 Pet. 1:1-4             

Filèmon 1:6

Fhm 1:6 (AMPC)

Gal. 2:20

Gal. 2:20 (AMPC)

Mediteer:

·       Wat het jy al ontdek oor Jesus, jou posisie as wedergeborene, wie jy in Christus is, die KARAKTER van God en wie Hy werklik is? Ken jy Hom?

·       Jou geloof in God kan net so sterk wees as wat jou absolute oortuigings is oor Vader, Jesus en die Heilige Gees.

·       Glo jy in God die Vader, in Jesus Christus as die Messias en in die Heilige Gees as ons helper en vertrooster? Indien jy “ja” kan antwoord beteken dit dat jou geloof is: Diep, Sterk en Standvastig.

Bid:

Dankie Vader dat ek kan rustig word oor die die grootheid van my geloof en dat ek van nou af kan weet en rustig wees in die wete dat my geloof is groot genoeg vir U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Bely weer vanoggend saam met my: “My geloof is diep, sterk en standvastig”

Aanbidding:

Shane & Shane – In Christ Alone