Go Deep 7 Junie 2026

DIE GEESVERVULDE LEWE

Neville Goodchild

Ontdek en verstaan die beweging van die Heilige Gees!

 

Dag 1: Windbewus

Ons sukkel dikwels om die karakter van die Gees van God te verstaan en Sy werk in ons lewens toe te pas. Wanneer ons die seiljag as metafoor gebruik, verteenwoordig die boot ons lewens en die wind die Heilige Gees. Hierdie wind is die enigste faktor van buite af wat ’n bepalende rol speel en waaraan ek aandag moet gee. Geen ander eksterne faktor is so belangrik, of verdien soveel aandag, soos die wind nie. Nie die wêreldmarkte, dit wat bekendes kwytraak, of selfs wat die weervoorspelling inhou nie. Die enigste faktor buite my verantwoordelikheid waaraan ek werklik aandag moet gee, is die Heilige Gees — die wind op my seiljag.

Jesus sê dit is belangrik om te verstaan dat die wind ’n rol speel. As ons nie bewus is van hierdie wind nie, sal ons nie die Koninkryk van God in ons lewens beleef nie. Die manier waarop ons die Koninkryk van God beleef, is om ná wedergeboorte die wind te leer lees.

In Johannes 3 verduidelik Jesus aan Nikodemus, ’n invloedryke en gerespekteerde godsdiensleier, dat hy nie die Koninkryk van God sal sien as hy nie wedergebore word nie. Baie gelowiges sukkel hiermee. Ons wil die Here dien en Sy wil volg, maar ons het nooit geleer dat die enigste manier om in God se Koninkryk in te gaan, is om ’n nuwe skepsel te word deur wedergeboorte nie. Ons dink soms dat ons sekere ander dinge kan doen om gered te word. Maar net soos jy nie in ’n Ford-bakkie verander deur elke aand langs of selfs in die bakkie te slaap nie, kan jy nie ’n gelowige word deur bloot op die regte plekke uit te hang en ’n goeie leefwyse te handhaaf nie.

Selfs Nikodemus, ’n toegewyde priester van hoë aansien, met geen bedrog in hom nie, was op risiko om die Koninkryk van God mis te loop.

Nikodemus is verbaas oor wat Jesus sê. Alhoewel hy ’n kerkleier is, het hy nodig om die proses van wedergeboorte te volg deur hom te bekeer, hom te laat doop, en die vervulling van die Heilige Gees te ontvang.

Jesus wys ons dit ook in Sy eie voorbeeld. Hy laat Hom doop, en wanneer Hy uit die doopwater opkom, beleef Hy die vervulling van die Heilige Gees. Hy hoor ook God se stem oor Sy lewe. Dit is hier waar Jesus se bediening begin. Hy was van die begin af God se Seun en het reeds die werking van God se Gees beleef, maar toe Hy Hom laat doop, is eer en heerlikheid bygevoeg wat nie voorheen daar was nie.

“want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het” (2 Pet. 1:17).

Jesus het God se stem gehoor en ’n oortuiging ontvang van die werk wat God deur Sy lewe wou doen, en Hy het daarin begin wandel. Dit was God se opinie uit die hemel — ’n Koninklike opinie wat die moeite werd is om na te luister.

Jesus moes gedoop word en die uitstorting van die Heilige Gees beleef.

Dit is wat gebeur wanneer ons gehoorsaam is. Ons word vervul met God se Gees en ons ore gaan oop vir die Koning se opinie oor ons lewens. So word eer en heerlikheid by ons lewens gevoeg.

Daar gebeur twee dinge wanneer jy God se Gees ontvang: Geesvervulling bring die aandoening van krag en die manifestasie van geestelike gawes. Daarom sien ons dat Jesus Sy eerste wonderwerk doen nadat Hy met die Heilige Gees vervul is.

Om wedergeboorte te beleef, is meer as om net Geesbewus te leef. Baie gelowiges stagneer op hierdie punt. Dit lyk asof die wind waai, maar die boot bly stil.

Die Gees van God werk voortdurend om God se wil uit te voer. Hy kan deur enige persoon of omstandigheid werk. Dit beteken egter nie noodwendig dat iemand Geesvervuld leef nie. Die wind waai immers oor almal.

Geesvervulling beteken dat jy krag en gawes ontvang om aktief deel te neem aan dit waarmee God besig is. Jy word nie net bewus van die wind nie; jy begin jou seile span.

Daarom moet ons windbewus leef. Ons moet leer om raak te sien waar die Gees van die Here besig is om te werk, en dan doelbewus inskakel. Ons laat toe dat Sy krag deur ons vloei en dat Sy gawes deur ons lewens sigbaar word.

Heilige Gees-vervulling beteken nie bloot dat God in my werk nie; dit beteken dat ek saam met die Gees van God begin werk. Ek beweeg in die rigting waarin Hy waai. Ek leef in lyn met God se wil, wandel in Sy krag en dien volgens die gawes wat Hy aan my gegee het.

Soos 'n seiljag nie sonder die wind sy bestemming kan bereik nie, kan ons nie sonder die Heilige Gees die lewe leef waarvoor God ons bestem het nie.

Lees:

Joh. 3:7-9

Hand. 2:38

2 Pet. 1:17

Mediteer:

  • Beleef ek die krag en gawes van die Heilige Gees in my lewe?
  • Het ek nodig om soos Nikodemus wedergeboorte te beleef?

Bid:

Vader, dankie dat U my met eer en heerlikheid gekroon het en dat ek die krag van U Gees in my lewe mag beleef. Help my om Gees-bewus te leef en sensitief te wees vir waar U Gees besig is om te werk. Gee my die vrymoedigheid om betrokke te raak en saam met U deel te neem aan dit wat U doen. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is gevul met God se Gees, bemagtig met Sy krag en gawes, en geroep om in Sy wil en bestemming vir my lewe te wandel!

Aanbidding:

Made for More – Josh Baldwin

Dag 2: Sail Setting (Kyk en pas aan)

Jesus verduidelik aan Nikodemus dat dit belangrik is om Gees-bewus te leef.

“Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh.3:8)

Elkeen wat nie uit die Gees gebore is nie, verstaan nie die dinge van die Gees nie, want die dinge van die Gees is dwaasheid vir die natuurlike mens (1 Kor. 2:14). Die volgende stap is om te begin deelneem. Wat nou belangrik is nadat jy met die Gees vervul is, is om die wind te begin dophou en na jou seile te begin kyk.

Almal wat uit die Gees gebore is, word geroep om só te leef — sensitief vir die beweging van die Gees. Wanneer die Gees beweeg, verstaan mense wat nie die wind kan lees nie, wat nie Gees-bewus leef nie, dikwels nie wat besig is om te gebeur nie. Dit is presies waar Nikodemus hom bevind het, omdat hy nog nie uit die Gees gebore was nie.

Die eerste belangrike beginsel: Leer hoe die wind werk (Wind Awareness)

Die tweede belangrike beginsel: Stel die seile reg op (Sail Setting)

Binne-in die boot is daar verskeie gesprekke. Die eerste gesprek gaan daaroor om die seile reg op te stel wanneer dit kom by die onsigbare krag van die Heilige Gees. Dit is hierdie onsigbare beweging wat ons moet leer lees, al kan ons dit nie sien nie, sodat die beweging van die wind omgeskakel kan word in bewegings-energie.

Die seile van 'n boot is die enjin, die versneller en die remme alles in een. Die seiljag se hele kragbron lê in sy seile, maar dit kan ook die beperkende faktor wees. Dit is wat die seiljag vinniger laat beweeg, maar ook wat hom kan terughou en laat spoed verloor.

Die geheim lê daarin om voortdurend dop te hou en aanpassings te maak volgens die wind.

Lukas 21:36 sê dat ons voortdurend moet waak en bid. Om te waak beteken om uit te kyk vir die koms van goeie nuus. Dit is soos 'n wagter op die muur wat uitkyk vir die aanbreek van 'n nuwe dag. Dit is om uit te kyk vir hoop, om op te let en aan te pas.

Dit is ook die doel van die tell tales wat aan weerskante van die seil vasgemaak is. Hulle gee vir jou 'n aanduiding van hoe die seiljag vaar. Die tell tales moet aan beide kante van die seil glad vloei. Wanneer dit gebeur, beteken dit die boot beweeg effektief vorentoe.

Wanneer een van die tell tales begin wapper, verloor die boot spoed en kan dit selfs tot stilstand kom — al waai die wind nog en al is die seile steeds opgeslaan. As die tell tales nie aan weerskante in dieselfde lyn beweeg nie, is dit 'n teken dat iets verkeerd is.

So is dit ook met ons geestelike lewe. As jou lewe aan die buitekant en jou lewe aan die binnekant nie ooreenstem nie, verloor jy momentum. As jou aanbidding by die kerk wonderlik is, maar jou lewe by die huis getuig van iets anders, sal dit jou geestelike groei strem. My geestelike lewe in die openbaar en my geestelike lewe in die privaatheid van my huis moet konsekwent wees, sodat my boot kan beweeg wanneer die wind waai.

Daar is ook wat seilers 'n "no-go zone" noem. Dit is wanneer die neus van die boot reguit teen die wind in wys. Die uitdaging van seilvaart is om in die rigting van die wind te beweeg, maar nooit direk teen die wind nie.

Wanneer jy teen die werk van die Gees in jou lewe begin beweeg, sal dit gou sigbaar word in jou geestelike en persoonlike lewe. Die tell tales sal onmiddellik begin wapper. Dit is 'n teken waaraan jy aandag moet gee.

Aan die ander kant, wanneer jy te ver weg van die wind beweeg, die wind heeltemal mislees en van die koers af wegdraai, sal die binneste tell tale begin wapper. Dit is nóg 'n teken dat aanpassing nodig is.

God gee vir ons tekens om ons te help sien wanneer ons begin stagneer. Ons werk immers met die wind — die Gees van die Here — wat ons leer ken en volg.

Om Geesvervuld te leef beteken dat ons voortdurend moet oplet en aanpassings maak, sodat ons in die regte rigting en teen die regte tempo kan bly beweeg soos die Gees ons lei.

Lees:

Joh. 3:8

1Kor. 2:14

Mediteer:

  • Is daar Geestelike vrug in my lewe?
  • Is daar areas in my lewe waarin ek tell tales kan sien begin wapper?
  • Het ek ver weggedryf sodat ek die Geeswerk heeltemal mis?
  • Is ek besig om teen die Gees te werk of saam met die Gees?
  • Hoe kan ek my privaat lewe en my kerk lewe belyn?

Bid:

Vader, dankie vir U Gees wat voortdurend besig is om te werk. Dankie dat U Gees uitgaan om U wil uit te voer en dit tot vervulling te bring wat U bepaal het. Help my om Gees-bewus te leef en my lewe te belyn met dit waarmee U besig is. Help my om die tekens raak te sien wanneer dinge uit balans raak, sodat ek nie in my geestelike lewe stagneer nie, maar op koers kan bly en met die regte ritme en spoed saam met U Gees kan beweeg. Ek wil met ‘n gewillige gees aanpas soos U lei. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek leef Gees-bewus. Ek hou my oë op die werk van die Heilige Gees, pas my lewe aan volgens Sy leiding en beweeg vorentoe in die krag en rigting van God se wil.

Aanbidding:

Mercy Found Me – Live Worship Experience

Inhabit – Bethel Music

Dag 3: Deelname vereis nie beheer nie

Die wind waai reg en staan nooit stil nie. Vandat die Gees van die Here uitgestort is, beweeg die Gees om God se wil op aarde te vervul. Ons kan kies of ons deel daarvan wil wees of nie. Ons mág, maar ons wil nie altyd nie. Ons is genooi, maar ons kies dit nie altyd nie.

Die Gees van God is gereed om Sy wil te doen – met jou of sonder jou. Dit is egter 'n wonderlike uitnodiging dat jy deel daarvan kan wees.

Daar is drie tekens dat jy jou seile reg span om op koers te bly.

Die stuur bepaal die rigting waarin jy beweeg. Dit wys of jou koers reg is. Wanneer die seile reg opgestel is, kan jy selfs die stuur vir oomblikke los. Die eerste teken dat jou seile reg gespan is om op koers te wees, is dus dat jy die stuur kan los. Jy het minimale beheer nodig.

Dit beteken ook dat almal op die dek veilig is, omdat die boot nie onverwags gaan omkap of skielike, gevaarlike draaie gaan maak nie. Selfs wanneer jy die stuur los, is almal saam met jou veilig.

Die seile is jou enjin, jou petrolpedaal en jou remme. Alles binne die boot is jou verantwoordelikheid. Dit verteenwoordig jou deelname en jou geestelike lewe.

God is verantwoordelik vir die wind. Hy is getrou en stuur Sy Gees. Sy Gees waai konstant en volmaak. Hy is voortdurend besig om God se wil te vervul.

Wanneer die seile reg opgestel is, kan die wind – waarvoor God verantwoordelik is – sy werk doen, en het jy minimale beheer nodig.

Dit is wanneer ons onseker is oor die Heilige Gees dat ons dinge wil beheer. Waar ons nie weet hoe om die Gees te lees nie, probeer ons die uitkomste van ons lewens beheer. Ons wil self stuur. Ons wil ons hand op alles hou en slegs sekere dinge toelaat of op sekere plekke deelneem. Ons wil bepaal wanneer dit genoeg is.

Die vryheid en gesondheid van die Geeslewe lê daarin dat God se wil kan geskied sonder dat mense dit beheer of manipuleer, daar waar die Heilige Gees werk. Waar God se Gees toegelaat word om te waai, gebeur Sy wil sonder dat jy dit hoef te beheer. Dit is natuurlik mits jou seile reg opgestel is, want die wind kan waai terwyl ek steeds stilstaan. Waar God se Gees beweeg en ek weet hoe om daarop te reageer, sal God se wil natuurlik in my lewe ontvou.

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Pet. 1:19-21)

Petrus leer ons hier dat, sover dit die profetiese aangaan, God se Gees werk sonder dat mense dit hoef te beheer, belemmer of aan te vuur. Ons hoef onsself nie daarin te forseer nie, want wanneer die seile reg gespan is, gebeur God se wil op ons boot. Dan bereik die boot die bestemming wat God daarvoor het.

“For no prophecy ever originated because some man willed it [to do so–it never came by human impulse], but men spoke from God who were borne along (moved and impelled) by the Holy Spirit” (vers 21)

Wanneer ons deelneem en sê wat ons volgens die Woord van God moet sê, is dit omdat ons saamwerk met wat God doen. Ons neem deel, maar ons word gedra en aangedryf deur die Heilige Gees – (moved and impelled by the Holy Spirit).

Lees:

2 Pet. 1:19-21

Mediteer:

  • Is daar dinge in my lewe, omstandighede of mense, wat ek probeer beheer of manipuleer?
  • Hoekom probeer ek dinge so erg stuur?

Bid:

Vader, dankie dat U Gees voortdurend besig is om U wil op aarde te vervul. Dankie dat U my nooi om deel te wees van dit waarmee U besig is. Help my om my seile reg te span en my lewe in lyn te bring met U Gees. Bewaar my daarvan om uit vrees te probeer beheer wat aan U behoort. Leer my om U te vertrou, die stuur los te laat waar nodig, en met vrymoedigheid deel te neem aan dit waarvoor U my bestem het. Laat my gedra en aangedryf word deur U Gees. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se Gees waai voortdurend om God se wil te vervul. Ek kies om my seile reg te span, beheer aan God oor te gee en saam met die Heilige Gees te beweeg in die rigting waarvoor Hy my bestem het.

Aanbidding:

Your Spirit – Kim Walker-Smith

Dag 4: Momentum

Wanneer die seile reg gespan is, soek die voorste seil die wind en lei dit na agter. Die agterste seil is hoër, groter en aan die mas geheg. Hierdie seil is verantwoordelik om die wind te ontvang en die energie na die boot oor te dra. Die agterste seil verskaf die dryfkrag.

Die voorste seil hoor, en die agterste seil doen. Die voorste seil soek, en die agterste seil luister. Wanneer my seile reg gespan is, beweeg my lewe in die regte rigting en kan my boot maksimum spoed bereik.

Die eerste seil soek en vind die wind; dit hoor die wind. Die tweede seil ontvang die wind en skakel dit om in bewegingsenergie.

Dit is die tweede teken dat ek my verantwoordelikheid opneem: ek hoor en ek doen.

Jesus sê dat ons nie net Sy woorde moet hoor nie, maar dit ook moet doen (Matt. 7:24; Joh. 13:17; Rom. 2:13; Jak. 1:22). Ons moet nie net die wind soek nie, maar dit ook ontvang. Ons moet nie net bewus wees van wat Hy sê nie, maar doelbewus daarvolgens leef. Dit is hoe ons vermy om geestelik stil te staan. Die groter uitdaging lê dikwels nie in die hoor nie, maar in die doen.

Dit is bevrydend om Rhema te hoor. Dit bring insig en wek geloof. Maar geloof sonder werke is dood (Jak. 2:17-18,26). Wanneer dit wat gehoor word nie in aksie omskep word nie, word die werking van die Heilige Gees nie sigbaar in my lewe nie. Wanneer Rhema egter verander in gehoorsaamheid en daadwerklike optrede, kom daar beweging in my lewe. Dan is hoor en doen in lyn, en bereik my boot maksimum spoed.

Wanneer ek gehoorsaam is en begin doen wat ek hoor, word die energie reg gekanaliseer om my geestelike lewe op dreef te kry. Dit is wat behoort te gebeur wanneer daar Rhema is. Wanneer mense bewus word van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, behoort daar altyd die vraag te wees: Wat wil God bereik? Waarheen is Hy besig om ons te lei? Die teenwoordigheid en ervarings van die Gees moet altyd gekanaliseer word na aksie.

Een van die tekens dat jou seile reg gespan is, is dat daar momentum in jou geestelike lewe is. Daar is nie stagnasie nie. Jy doen wat jy hoor.

Ons wil dikwels sê dat ons gehoor het, maar dat die tyd nog nie reg is nie. God gee egter nie openbaringskennis aan Sy kinders om hulle te frustreer nie. Hy openbaar nie Sy wil en planne net om dit onbereikbaar te maak nie. As God se wil jou voortdurend begin frustreer, moet jy ondersoek instel of daar nie iets binne die boot aandag nodig het nie. Dit is nie die wind wat gaan lê het nie, want die wind waai voortdurend.

Wanneer die beweging van die Gees gepaardgaan met gehoorsaamheid, gebeur God se wil dikwels vinnig in jou lewe en in die lewens van mense rondom jou. Jou seile moet reg gespan wees vir hierdie beweging.

Wanneer my seile reg gespan is en hoor verander in doen, gebeur God se wil in lewens in rekord tye. God se wil is nie dat ons moet stagneer nie. Wanneer die teenwoordigheid van die Gees gevier word, maar die werk van die Gees nie daarna voortgaan nie, is daar min blywende verandering in mense se lewens.

Wanneer een persoon beleef: "Die Here is hier," is daar iemand anders nodig wat vra: "Waarvoor? Waarheen is God besig om ons te lei?" Beweging gebeur nie slegs deur "wow"-oomblikke nie, maar wanneer daardie "wow" verander in lewensverandering en belyning met God se wil.

Dit wat gebeur, moet nie net woorde wees nie, maar woord én krag!

“Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het” (1 Thes. 1:5).

Lees:

1 Thes. 1:5

Jak.2:17-18

Mediteer:

  • Beleef ek die Here se teenwoordigheid in my lewe? Is daar ’n vraag wat by my ontstaan oor waarheen die Here oppad is?
  • Wys my dade wat ek glo?

Bid:

Vader, ek verlang daarna om momentum in my geestelike lewe te beleef. Help my om nie net 'n hoorder van U Woord te wees nie, maar ook 'n dader daarvan. Laat my lewe getuig van dit wat ek glo. Daar waar ek onseker is, vra ek dat U deur U Gees aan my openbaring en wysheid sal gee, sodat my doen en late in lyn kan wees met U Woord en U wil vir my lewe. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die wind waai reeds. Ek span my seile reg en beleef momentum en geestelike groei!

Aanbidding:

Let My Life Be Worship – Bethel Music