Go Deep 16 Maart 2025

NUWE LEWE!

Neville Goodchild

Ontdek hoe die regte oortuigings oor God se karakter jou geestelike groei aktiveer!

 

Dag 1: Jou ID

Hoe lyk jou geloofslewe? Kan jy vrug in jou lewe sien, wat getuig van ‘n nuwe lewe in en deur Jesus Christus? Miskien voel dit vir jou of jou lewe soos hierdie ou boomwortel lyk. Hierdie wortels groei nie en daarom kan die boom nie die nodige vrug lewer nie. Miskien hoor jy van hierdie ‘nuwe lewe’ waarvan daar gepraat word, en jy weet dat jy verandering nodig het, maar jy weet nie waar om te begin nie. Jy sukkel om die ou lewe af te skud en ‘reg’ te lewe. Dan is hierdie boodskap vir jou!

Om ‘n kind te leer dat hy ‘n verloorder is, en om hierdie boodskap aan te hou verklaar, help hom nie om bo sy omstandighede uit te styg nie. Dit is wanneer ‘n pa vir sy seun leer dat hy ‘n wenner is, en dit aanhou verklaar, wat die seun leer wie hy is en daarvolgens begin leef. Dan begin sy optrede verander na dié van ‘n wenner.

Net só, help dit nie dat ons aanhou glo dat ons sondaars is, en sondig is, om ‘n nuwe lewe van geregtigheid en oorwinning te leef nie. Dit is sonde-bewustheid wat ons terugtrek en mismoedig maak, wat ons eintlik verlam. Ons het nodig om te verstaan dat God nie só oor ons dink nie en dat ons onsself moet begin noem wat Hy ons noem.

God het alle straf van alle sonde op Jesus Christus gewreek. Daarom, as ons tot inkeer kom en Jesus Christus ontvang, word ons nuut. Dan geld ons ou lewe nie meer nie. Jesus het die oud gevat en nuut gemaak. God noem ons nou geregtig. Ons is geregtig in God se oë juis omdat God ons genadig is. Dit is nie iets wat ons verdien nie, maar die grootste geskenk ooit. God gee vir ons ‘n nuwe identiteit, deur Jesus Christus se offer. Ons is nou wat God sê en word nie meer geken na ons sonde nie. Dit is vryheid. Dit is om weg te beweeg van die ou wette wat ons nie kon red nie, na Jesus Christus wat ons vrygemaak het.

Ons is vry! Ons is geregtig!

Lees:

2Kor.5:21

Joh.3:16

Heb.1:1-3

2Pet.1:3-4

Mediteer:

  • Vir watter van my sondes kon Jesus nie die prys betaal nie, as Hy alle sonde op Homself geneem het, en God Hom gewreek het op Jesus Christus vir alle sonde?
  • Is dit net as ek verander en heeltemal skoon is van sonde, en nooit weer iets verkeerd doen nie, dat God my geregtig noem? Wat gebeur as ek weer sonde doen? Verloor ek dan die kruiswerk van Jesus Christus?
  • Wat het ek nodig om te doen, voordat ek kan oorgaan van sondebewus na genadebewus?
  • Hoe kan ek die vrug van nuwe lewe begin sien in my lewe?
  • Het ek Jesus Christus aangeneem?
  • Wat noem God my noudat ek in Jesus Christus is?
  • Wat noem ek nou myself?
  • Wat noem Paulus die gemeente van Korinte wat Geesvervuld is, maar so erg verval het in sonde (Volgens 1Kor.5)? Lees: 1Kor.1:2-3

Bid:

Vader, dankie vir hierdie ongelooflike verligting en las wat U van my afhaal om perfek te lewe en alles te doen wat ek dink my in U goeie boekies kan laat kom. U het Jesus Christus gegee en die enigste roete na U is om Jesus te ontvang. Dankie dat U dit vir my moontlik maak om ‘n verhouding met U te hê, om in ‘n nuwe lewe te wandel en hoop te hê eerder as die las wat sonde en veroordeling bring. U het my vrygemaak. Ek is nou regverdig in U. Halleluja Amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2Kor.5:21).

Aanbidding:

Whole Heart - Hillsong

Dag 2: Geen inperking

In die nuwe lewe wat ek kry wanneer die Here opdaag in my lewe, of wanneer ek instem vir die uitnodiging van die Here, behels dit dat daar transformasie in elke area van my lewe is. Dit is nie net vir ‘n sekere area soos om Geestelik te groei nie. Daar is geen area van my lewe wat buite hierdie transformasie val nie. ‘n Nuwe lewe beteken ook nie dat ek ‘n beter Godsdiens beoefen nie, maar dat ek nou in persoonlike verhouding met Jesus Christus is en versoen is met God die Vader. Ek noem God nou Vader en Hy is nou vir my ‘n Vader. Ek leer Hom ken en groei in hierdie persoonlike verhouding met Hom. Hy gee vir my ‘n nuwe identiteit!

Daar is twee spesifieke voordele wat ek ontvang. Ek het nou vrede met God, want God is in vrede oor my, en ek leef nou in Sy Teenwoordigheid, omdat ek in perfekte verhouding met Hom staan. God praat nou nie meer soos in die ou dae net met sekere Heiliges nie, maar Hy praat nou met my. Dit is hierdie vrede en Sy teenwoordigheid wat verandering in my lewe bewerk.

Sonde maak dat ek onvrymoedig is om in hierdie persoonlike verhouding met God te leef, want my sonde bring ‘n skeidingsmuur tussen my en God. Dit is nie God wat Sy rug op my draai nie. God baseer nie Sy liefde op my goed wees of sleg wees nie, maar op my Broer, Jesus Christus, se afgehandelde werk aan die kruis. Niemand kan deur die wette te onderhou redding verdien nie. Redding is slegs deur Jesus Christus. Maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, God het alle sonde op Jesus Christus gestraf.

As ek dit glo, kan ek met vrymoedigheid na die Troon gaan in my wandel.

Daar is vrede! God is betrokke en teenwoordig! Noudat ek vrye toegang tot God het, begin ek ook volgens Sy Woorde leef en ek begin groei volgens Sy ryklikheid!

Lees:

2Kor.5:21

Joh.3:16

Heb.1:1-3

2Pet.1:3-4

Mediteer:

  • God het Hom gewreek op alle sonde in die verlede en in die toekoms en daarom kan Hy alle sonde wat bely word en alle mense wat in Jesus Christus kom, vryspreek. Geen sonde val buite die kruiswerk as jy Jesus Christus aangeneem het nie.
  • In God se hart is daar vrede met die mens. Daarom kan Jesus uitreik na mense wat vasgevang is in sondes en siektes. Jesus neem nie aanstoot nie, en God distansieer Homself nie van mense met sondes nie. Inteendeel, Hy kom juis na dié wat dit die nodigste het. Jesus se voorbeeld wys vir ons God se hart. Geen sonde wat ek doen, en niks wat aan my gedoen word, kan my skei van die liefde van God nie.
  • Daar is niks wat ek hoef te doen om God se genade te verdien as ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker nie. God het my vergewe en daar is nou vrede tussen my en God. Dit wat ek nou begin doen, vloei uit hierdie genade.

Bid:

Here ek perk U so in in my verstand. Dankie dat U bo my verstaan van dinge heers en met genade en troue liefde my nader trek en vry gemaak het sonder dat ek dit verdien. Dankie vir hierdie nuwe lewe, wat nie beperkinge het nie, maar juis vryheid en vrede in U. Dankie dat ek met vrymoedigheid kan nader kom en van U kan leer. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God is in vrede oor my ten spyte van my tekortkominge!

Aanbidding:

More Than Able – Elevation Worship

Dag 3: Wat is my boete?

Ons is dankbaar vir God se redding, maar dit beteken nie dat ons geloofslewens geaktiveer is nie. Ongeloof kniehalter ons geestelike groei. Ons kan nie die pad vorentoe sien nie, en omdat ons nie met ons oë kan sien wat vorentoe lê nie, is ons onseker, sukkel ons om vas te hou en te hoop op dinge wat nog nie is nie.

Ons sukkel ook met ongeloof, omdat ons nie weet of ons veroordeeld of onveroordeeld voor God staan nie. Dit is veral prominent wanneer ons blootgestel word aan ‘n boodskap oor die sondelas wat ons dra (bly dra) en straf van God wat wag, veral op die oordeelsdag, wat daar ‘n vrees by ons ontwikkel. Ons verstaan nie die groter prentjie nie en dink ons moet die heeltyd boet vir dinge van die verlede. Ons dink dat ons nie goed genoeg is nie, en oor en oor moet betaal. Hoe gaan ‘n mens vorentoe as jy nie genoeg het nie, en dit wat jy wel het, nie goed genoeg is nie?

Jesus vertel hierdie storie van die jongman wat teruggekeer het na sy Vader se huis. Toe die pa hom van vêr af sien aankom, het hy gehardloop en hom omhels. Hy het hom herstel met ‘n kleed, skoene, ‘n ring en feesgevier. Hy het nie éérs vereis dat sy seun hom moet gaan skoonmaak nie. Hy het hom eers omhels! Wanneer jy tot jouself kom, en terugkeer na jou Vader se huis, word daar feesgevier. Daar is nie vereistes waaraan jy éérs moet voldoen nie. Dit is wanneer jy glo dat jou sondes vergewe is dat jou geloof begin groei.

Dit is hoekom ongeloof jou geestelike groei so belemmer. Hoe kan jy in God se heerlikheid groei as jy nie glo in dit wat Hy sê en doen nie? Hoe kan jy in Hom groei as jy die heeltyd veroordeeld voel en is? Vrees vir veroordeling belemmer jou geloof.

Lees:

Rom. 8:1

Mediteer:

  • Waaroor is ek onvrymoedig by God die Vader?
  • Om toegang te hê tot die Vader beteken dat ek enige tyd kan bid, Hy hoor, en Hy is betrokke selfs al weet ek dit nie!
  • Hoekom het ek nie nodig om te vrees vir veroordeling nie?

Bid:

Vader, dankie vir U omhelsing nog voordat ek die woorde kan uiter. Dankie dat U my soos ‘n eregas ontvang, met geen voorwaardes nie, en dat ek kan aansit by U tafel wat oorloop. Help my hierdie week om die vrees van veroordeling neer te lê en te verstaan dat ek vryheid het in Jesus Christus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo in dit wat God sê en doen, al kan ek dit nog nie sien nie!

Aanbidding:

Run to the Father – Cody Carnes

Dag 4: Dade wat red

In Luk.18 lees ons van ‘n jongman wat alles gedoen het om reg te lewe. Hy kan alles opnoem wat hy reg doen en voel goed daaroor. Dan vra hy vir Jesus wat hy nóg moet doen, sodat hy die ewige lewe kan erf. In die eerste plek noem hy Jesus, Goeie Meester, wat aandui dat die jongman Jesus net erken as ‘n leraar en nie as die Seun van God nie. Jesus antwoord hom dan volgens hierdie ingesteldheid wat hy het, en noem dat hy alles moet verkoop en weggee en Jesus dan moet volg. Dit bedroef die man, want hierdie man se hart is nie op die regte plek nie. Hy het ‘n verdienste mentaliteit en daarom wil Hy die ewige lewe verdien, deur werke. Daar is geen werke wat genoeg is om die Koninkryk te verdien nie. Dit is net geloof in Jesus Christus wat jou red.

Dade is nie wat jou red nie, selfs nie om alles te verkoop nie. Wanneer jy die genade van God beleef en jou lewe oorgee, skakel jou lewe om en vloei dade van dankbaarheid uit hierdie genade.

Dit is juis omdat ons Jesus Christus het, dat ons weet waarheen ons oppad is. Ons is ook nie vreesagtig oor die wederkoms nie, want ons hoop en geloof is in die Here. Daar is soveel boodskappe oor die wederkoms en die dag van oordeel wat angs by Christene wek. Maar waarom bring dit angstigheid? Waarop hoop ek op die wederkoms as dit beteken dat daar vir my ‘n oordeel wag? Waarin glo ek dan? Watter hoopvolle boodskap het die kerk as dit is om te vrees vir die bruidegom se koms? Jesus se koms is juis dit waarna ons uitsien.

Ons staan vry in die Here, en dien die Here vrylik sonder ‘n vrees vir veroordeling, omdat ons ons oë op Jesus Christus het!

Lees:

Luk.18:18-30

Mediteer:

  • Sukkel ek met ‘n verdienste mentaliteit of ‘n wettiese ingesteldheid?
  • Wat sal God se motief wees om ons as bruid te kies, net om ons te straf of te veroordeel?
  • Hoe kan ek seker wees dat ek die ewige lewe het?
  • Watter beloftes en voordele wag vir Christene met die wederkoms?

Bid:

Vader, dankie dat ek U nie hoef te vrees nie en ook nie die wederkoms nie. Daar is ‘n beloning wat vir my wag en geen veroordeling nie. U is in vrede oor my en met my en daarom is ek vry en leef ek in U vrede. Dankie dat ek nie ‘n lys van goed moet doen om U tevrede te stel nie, maar dat U reeds tevrede met my is. Dankie dat geloof in Jesus Christus die roete is na U. U het dit moontlik gemaak deur U groot genade! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is gered, nie op grond van my dade nie, maar op grond van my geloof in Jesus Christus!

Aanbidding:

Worthy is the Lamb - Hillsong

Dag 5: Vrug uit genade

In Lukas 19 lees ons van Saggéüs wat in ‘n boom klim om Jesus te sien. Toe Jesus by die plek kom en opkyk, sien Hy vir Saggéüs raak. Die verskil tussen Saggéüs en die ryk jongman was dat Saggéüs alles in sy vermoë gedoen het om Jesus te sien. He wanted to behold the Lamb. Hy wou sien wie Jésus is.

Jesus beplan om by Saggéüs aan huis te gaan en Hy sê: “maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly”, en Saggéüs maak toe gou en ontvang vir Jesus met blydskap. Jesus is gemaklik by mense wat dit nog nie regkry nie. Hy word nie bedreig deur tekortkominge of sonde nie.

“As jy jou oog op My hou, sal Ek by jou kom woon”, “selfs voor jy met jou dinge ophou”. Jesus wil gou by Saggéüs uitkom, voordat hy bewus en veroordeeld raak, nog voordat hy sy sonde belei. Saggéüs het nie nodig om ’n Godsdienstige draai te stap nie. Hy moet net gou maak om Jesus te ontvang. Ons is die tempel van God, dit is by ons wat Hy tuis wil gaan.

Dit is God se Koninkryk wat nuwe lewe bring. Sonde aktiveer ongeloof, en dit bring vrees. Wanneer jy in sonde is, kan jy God nie vertrou nie en begin jy vrees vir veroordeling. Die Seun van die mens het egter gekom om ons te soek en te red. Jesus noem nie een keer ‘n gebod, ‘n gebed of ander vereiste, of enige verwagting teenoor Saggéüs nie. Jesus gee net genade en onmiddelik is daar vrug in Saggéüs se lewe.

Jou nuwe lewe begin omdat jy reeds lankal gekwalifiseerd is, lank voordat jy afstand gedoen het van jou sondige natuur. Jou vrug vloei uit God se genade, nie uit wat jy regkry of nie regkry nie.

“Daar is nou geen veroordeling vir die wat in Jesus Christus is nie” (Rom.8:1).

Lees:

Luk.19:21-10

Mediteer:

  • Is daar iets in my lewe wat my fokus van Jesus af wegneem?
  • Het ek Jesus al binne genooi?
  • Hoe hou ek my oog op Jesus in vandag se tyd?

Bid:

Here dankie dat U verhouding met U Self moontlik maak deur U kruis en U Gees. Dankie dat U in my kom woon het die oomblik toe ek my oë op U gerig het. Help my om my oë gevestig te hou op U en om U in alles te ken in my lewe. Ek wil U sien in alles. Dankie dat daar geen veroordeling vir my by U is nie, omdat U my gekoop het. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

My oog is op Jesus, daarom trek Hy in!

Aanbidding:

Let Me see Jesus – Matt Redman