LEEF VS BESTAAN
Gerrit Jansen van Vuuren (Stass van Onbeskaamd)
Sonder Hom bestaan ek net. Met Hom leef ek!

Dag 1: Is dit dit? Is dit al?
Het jy al ooit na ander mense om jou gekyk, ’n bietjie op sosiale media gescroll en gedink:
“Kyk na daardie persoon. Ek is ’n bietjie agter. Ek doen te min. Ek weet nie wat in my lewe aangaan nie. Dalk is ek nie bestem vir meer nie. Daar is seker nie iets groter waarvoor ek bestem is nie. Ek moes al ... Ek het my kans gemis. Dit voel vir my asof ek net bestaan. Dit voel nie asof ek werklik leef nie. Ek dra almal om my, maar wie dra my? Maak ek nog saak? Ek kan nie meer doen wat ek vroeër kon doen nie. My beste jare is verby ...”
As jy voel dat jy net bestaan, kan jy fisies moeg en emosioneel afgestomp raak. Jy begin dalk uit verhoudings onttrek, en daar kan ’n geestelike dofheid oor jou kom. Jou kapasiteit om in jou gemeenskap te dien, verminder, omdat jy jouself isoleer en uit belangrike verhoudings onttrek. Jy voel hopeloos en verloor perspektief en doel.
Hoe verander ons dit?
Hoe beweeg ons van bloot bestaan na ’n lewe wat werklik vol betekenis en lewe is?
Ons kan probeer om ons lewe voller te maak met meer dinge, prestasies, besittings of ervarings en tog steeds voel dat ons net bestaan.
Jesus het hierdie woorde met Sy dissipels gedeel kort voordat Hy gearresteer, ter dood veroordeel, gemartel en gekruisig sou word. Hy het geweet dat Sy dissipels ’n tyd van verwarring, onsekerheid en groot verlies tegemoetgaan. Hulle het nog nie ten volle verstaan wat voorlê nie, maar Hy het.
Daarom verduidelik Jesus vir hulle op ’n manier wat hulle kon verstaan. Die beeld van ’n wingerd en sy lote was aan hulle bekend. Israel is dikwels in die Skrif met ’n wingerd vergelyk, en Jesus gebruik hierdie bekende beeld om Sy dissipels iets belangriks te leer.
In ’n tyd waarin verwarring en onsekerheid voorlê, gee Jesus vir hulle hierdie woorde:
“Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur”. (Joh. 15:5–7 AFR20)
Jesus weet dat daar tye van verwarring en onsekerheid sal kom.
Maar Hy het ons nie geskep om net deur die lewe te gaan nie.
Hy nooi ons na ’n lewe met doel, betekenis en ware lewe.
Lees:
Mediteer:
- Herken jy die simptome van ’n lewe wat slegs bestaan?
- Glo jy dat daar vir jou méér is soos wat die Woord sê?
- Wanneer jy Sy roepstem hoor, slaan jy daarop ag?
Bid:
Vader, ek is bekend met hierdie plek van net bestaan en nie werklik lewe nie. Al die simptome wat hierbo genoem word, weet ek is deel van my lewe, en ek weet nie hoe om dit te verander nie.
Vandag gee ek oor. Ek kan nie meer self nie. Ek vra dat U asseblief in U grootheid kom en my deur U Gees vernuwe.
Kom gee vir my hoop en drome. Gee vir my wat ek nodig het om ’n lewe te begin leef – ’n ware lewe met betekenis.
In Jesus se Naam.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Sonder Hom bestaan ek net. Met Hom leef ek!
Aanbidding:
Oorwinningslied – Dan moet ek juig – Onbeskaamd

Dag 2: Verbind aan die Bron
Jesus gebruik die beeld van die wingerdstok om ons te help verstaan dat Israel gefaal het en, soos ’n loot wat van die bron afgesny word, verdroog het. Maar Hy, Jesus, sal nie faal nie, want Hy ís die ware Wingerdstok!
Hy verduidelik:
“Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur”. (Joh. 15:5–7 AFR20)
Jesus praat hier oor ’n voortdurende verbintenis met Hom. Hy sê as’t ware: “Wanneer dinge verander en moeilik raak, moet jy jouself nie van My losmaak nie. Al is jy verward, bly net verbind aan My!”
Die woorde “bly in My” kom van die Griekse woord μένω (menō), wat beteken om te bly, te vertoef, aan te hou, voort te gaan, te volhard en nie weg te gaan nie.
In engels: to remain, abide, not to depart, to continue to be present, to wait for, await one
Dit is om te bly. Om op een plek te vertoef. Om jou tyd te neem in daardie oomblik. Om nie haastig weg te beweeg nie.
Wanneer dinge rondom ons verander, wanneer ons verward, onseker of moedeloos raak, is Jesus se uitnodiging eenvoudig:
Bly.
Nie net nou en dan nie. Nie net wanneer dit maklik is nie. Bly verbind. Vertoef. Maak jou permanente plek by Hom.
Die lewe kom nie uit onsself nie. Ons kan nie vrug uit eie krag voortbring nie. Alles wat ons nodig het, vloei vanuit ons verbintenis met Jesus.
Hy is ons Bron!
Lees:
Mediteer:
- Is ek werklik aan die Wingerdstok verbind?
- Weet ek hoe om in Jesus Christus verbind te bly?
- Het ek, deur die seer van die lewe, van Hom weggetrek en myself geïsoleer?
- Het ek nodig om weer terug te keer na die Bron?
- Reik uit na ’n geestelike leier indien jy hulp nodig het (Kontak ons).
Bid:
Jesus Christus, U is die Bron van die lewe, en vandag wil ek my weer aan U verbind. Ek wil my permanente plek in U maak.
Ek bely dat ek ’n sondaar is en dat ek U nodig het. Vandag aanvaar ek dat U vir my sondes aan die kruis gesterf en die straf op Uself geneem het. Ek aanvaar U as my Redder – die Een wat my verlos en aan my ware vrede gee.
Dankie dat U my vergewe en al my skuld en skaamte wegneem. Dankie dat U nou deur U Gees in my kom woon en dat ek ’n permanente plek in U het.
Dankie dat ek dit nie hoef te verdien nie, maar dat ek dit uit genade ontvang, omdat U genadig en barmhartig is.
U is liefde.
Dankie, Here.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ware lewe begin wanneer ek aan Jesus verbind bly!
Aanbidding:
Here van die Hemele – Stass & Nuwe Lof

Dag 3: Die Woord in jou
Daar is lewe wat vanuit die wingerdstok in een rigting vloei: na die lote toe. Dit is een groot wingerd, met lewe wat na elkeen van die lote vloei. Die lewe kom nie van die lote af nie. ’n Loot kan nie self druiwe voortbring nie. Die vrug kom van die wingerdstok af.
As jy dinge uit jou eie krag probeer doen, werk dit nie, want die lewe kom nie uit jouself nie. Jy moet verbind bly aan die Bron waarvandaan die lewe kom.
As jy verbind bly: Jesus gee vir ons ’n keuse. Ons kan kies om in te skakel en ingeskakel te bly. Dit is ’n keuse.
As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur”. (Joh. 15:5–7 AFR20)
Jesus sê nie net dat ons in Hom moet bly nie; Sy woorde moet ook in ons bly.
Wanneer God se Woord op ons harte geskryf is, kan die Heilige Gees ons op die regte oomblik daaraan herinner. Die Woord wat lewe gee, kom dan by jou op en jy kan dit verklaar. Wanneer vrees, onsekerheid of donker tye kom, het jy dan waarheid wat uit jou kan vloei.
Jesus se woorde moet in jou bly, sodat jy op die regte tyd vrug kan dra.
Ons leef nie uit ons eie krag nie. Die lewe vloei vanaf die Wingerdstok deur die lote. Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh. 4:19). Ons vergewe omdat ons vergewe is. Ons gee genade omdat ons genade ontvang het.
Sefanja 3:17 vertel van hierdie verhouding. God sing oor jou! Hy wil nie hê dat ons net moet bestaan nie. Hy wil hê dat ons waarlik moet leef!
Daarom sê Hy ook:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan … voorspoed en nie teenspoed nie …” Jer. 29:11
Dit is wat gebeur wanneer jy in verhouding verbind bly aan die Wingerdstok en wanneer Jesus se woorde op die tafels van jou hart geskryf is. Hy maak jou wakker en gee vir jou wat jy nodig het wanneer jy dit nodig het.
Wat uit ons lewe vloei, begin by dit wat ons van Jesus ontvang.
Sy Woord in ons word ’n bron van lewe, waarheid en vrug vir ander.
Lees:
Mediteer:
Dit is baie selde dat ’n mens die Woord in jou hart het sonder om tyd in die Woord deur te bring.
- Wat doen ek om gereeld in God se Woord te wees?
- Waar kom ware vrug vandaan?
- Probeer ek vrug uit my eie krag voortbring, of bly ek verbind aan die Bron?
- Watter plek het God se Woord tans in my hart en gedagtes?
Bid:
Here, dankie dat die lewe by U begin en dat ek nie self die bron van lewe hoef te wees nie. U is my Bron.
Wanneer ek U Woord lees en bestudeer, openbaar U dinge aan my — soms onmiddellik en soms oor ’n tydperk. U herinner my aan U Woord wanneer dit saak maak en U help my om vrug te dra.
Help my asseblief met die dissipline om U Woord te bestudeer en dit vas te maak in my hart en gedagtes. Ek wil tyd maak om in U Woord te wees.
Here, die besluit lê by my en die aksie ook. Daarom kies ek vandag om tyd te maak vir U en vir U Woord.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Sy lewe vloei deur my, want Sy Woord bly in my!
Aanbidding:
Great are You Lord/Let it rain/Healing rain – Michael W. Smith

Dag 4: Storms vs Snoei
Wanneer daar ’n storm op pad is, begin die lote nie bewe en weghardloop vir die storm nie. Hulle bly verbind aan die wingerdstok, want dit is hulle beste kans om deur die storm staande te bly.
En selfs as ’n loot beskadig word, bly daar lewe en die moontlikheid van herstel, omdat dit steeds verbind is aan die wingerdstok en die lewegewende sap daardeur vloei.
Dit is waar jy wil wees wanneer jy deur storms en beperkings gaan: verbind aan Jesus, die Wingerdstok.
Selfs in jou storms kan jou beperkings betekenis kry wanneer Jesus jou Wingerdstok is. Want wanneer jy swak is, is Hy sterk.
“My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring”
(2 Kor. 12:9).
Dit is nie omdat jy in jouself sterk is nie. Maar in verbintenis met Jesus kan selfs jou swakheid betekenis kry in die hande van die Here.
Die prentjie wat Jesus vir ons skets, is wat met ’n loot gebeur wanneer dit van die wingerdstok losgemaak word. Dit mag dalk vir ’n rukkie nog lewendig lyk, maar dit is besig om op te droog. Uiteindelik sal dit heeltemal verdroog.
Daar is geen moontlikheid om te floreer en vrug te dra wanneer ons los van die Bron leef nie. Jou kapasiteit droog op. Jou kapasiteit om lief te hê, droog op. Jy begin voel dat jy net bestaan.
Op hierdie plek waar jy net bestaan, word jou beperkings en tekortkominge maklik die fokus. Jy begin glo:
“Ek is nie genoeg nie. Ek kan nie. Ek pas nie in nie.”
Maar in verbintenis met Jesus kan selfs jou swakheid betekenis kry.
Wanneer jou verhoudings met mense begin opdroog, kan jy jouself begin isoleer. Jy begin dalk redeneer: Hulle wil in elk geval nie saam met my kuier nie. Hulle is in elk geval nie regtig my vriende nie.
Jesus gee egter betekenis aan elke deel van jou lewe wat jy aan Hom oorgee — jou finansies, jou verhoudings, jou werk, jou huwelik en jou kinders.
Elke area wat jy aan Hom oorgee, kan Hy met Sy lewe en betekenis vul.
Soms redeneer ons dat die pyn wat ons ervaar, van die Here af kom.
Daar is wel tye wanneer die Boer die lote snoei, en daar kan pyn by snoei betrokke wees. Maar die doel van snoei is nie vernietiging nie. God is besig om kapasiteit vir groter en meer vrug te vorm.
Daar is egter ook pyn en trauma wat nie deur God veroorsaak word nie, maar wat Hy kan herstel en waaraan Hy betekenis kan gee wanneer ons dit aan Hom oorgee.
Jesus verander nie noodwendig elke moeilike omstandigheid onmiddellik nie. Maar in verbintenis met Hom kan selfs pyn, swakheid en druk betekenis kry en nuwe vrug voortbring.
Moenie tydens die storm van die Wingerdstok losmaak nie. Bly verbind aan die Bron van lewe.
Lees:
Mediteer:
Is daar pyn of trauma in my lewe of verlede waarvoor ek God blameer?
Verstaan ek dat God my nie straf nie, maar dat Jesus die straf vir sonde gedra het?
Glo ek dat God my pyn en trauma kan herstel en betekenis daaraan kan gee?
Is daar tye wanneer ek kan sien dat God besig is om in my te snoei sodat ek meer en beter vrug kan dra?
Bly ek verbind aan Jesus wanneer die storms van die lewe kom?
Bid:
Vader, U is bo alles betroubaar. Ek besef dat U nie ’n God is wat verwoesting in my lewe saai nie. U is ’n goeie God en Vader, en U wil is opreg goed vir my.
Wanneer daar storms kom, is U my anker en my Bron van lewe. Help my om nie van U weg te beweeg wanneer dinge moeilik raak nie, maar om nog nader aan U te bly.
Ek verstaan dat daar tye is wanneer U besig is om aan my te snoei sodat ek meer en beter vrug kan dra. Help my om die seisoene waardeur ek beweeg, te onderskei.
Selfs wanneer ek nie verstaan wat besig is om te gebeur nie, kies ek om verbind aan U te bly en te vertrou dat U nuwe lewe, herstel en groei kan voortbring.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Selfs my pyn en beperkings kan betekenis kry in Sy hande. Ek bly verbind aan die Bron van lewe!
Aanbidding:
My God By My – Stass & Nuwe Lof

Dag 5: Vertrou die Boer, dra vrug!
Nie elke wingerd lewer dieselfde vrug nie. Nie elke tros druiwe lyk of smaak dieselfde nie. Die Boer sien egter die hele wingerd, en Hy weet watter vrug waar nodig is.
Ons hoef nie ons gawes, roeping, kapasiteit of vrug met dié van ander te vergelyk nie. Ons beheer ook nie die eindresultaat nie.
Ons taak is om verbind te bly, die snoei toe te laat en te vertrou dat God weet wat Hy deur ons wil doen.
Die Here bring perspektief in tye wanneer dit voel asof jy onder druk geplaas word. Dit is nie lekker om gedruk te word nie, maar wanneer olywe gepers word, kom suiwer olie daaruit voort.
In elke gemeenskap is daar spesifieke behoeftes, en die Here kan elkeen van ons gebruik om op ’n unieke manier vrug te dra en ander te dien. Daarom is dit belangrik dat ons fokus op die gawes en vrug wat ons ontvang het, eerder as om onsself voortdurend met mekaar te vergelyk.
Elkeen het ’n spesifieke doel, en die Here gee betekenis en doel aan dit wat Hy aan jou toevertrou het.
As jy heeltyd na ander se vrug rondkyk, kan jy maklik mis wat God vir jou wil doen!
Dit is die Boer se werk om die hele wingerd te versorg. Hy sien die groter prentjie. Hy ondersoek harte. Hy weet wat Hy doen!
Daarom kan ons die Here vertrou met dit wat ons elkeen ontvang het. Die gawes wat Hy aan jou gegee het, is joune om nou uit te leef. Hy het dit aan jou toevertrou.
As jy toelaat dat Sy krag en lewe deur jou vloei, soos die lewe van die wingerdstok deur die lote vloei, kan jy vrug dra.
Dit is Hy wat die groei gee. Dit is Hy wat betekenis gee.
Moenie jou vrug met iemand anders s’n vergelyk nie. Bly verbind aan Jesus en vertrou die Boer met die groei, die vrug en die eindresultaat.
Lees:
Mediteer:
Vertrou ek dat God weet wat Hy doen wanneer Hy geestelike gawes uitdeel?
Neem ek die vrymoedigheid en waagmoed om dit wat die Here op my hart lê, uit te leef?
Kan ek ophou om myself met ander te vergelyk en begin fokus op dit wat die Here vir my gee om te doen?
Bly ek so gefokus op ander se vrug dat ek dalk mis wat God deur my wil doen?
Bid:
Vader, dankie dat U weet wat U doen wanneer U vir elkeen van ons gawes gee. Help my om te fokus op dit wat werklik saak maak: om nie my eie belange te soek nie, maar om U hoog te ag en te doen wat U van my vra.
Ek wil U liefhê deur gehoorsaam te wees aan U, deur te doen wat U sê.
Dankie dat ek myself nie met ander hoef te vergelyk nie. Help my om getrou te wees met dit wat U aan my toevertrou het en om dit wat U vir my gee, met vrymoedigheid uit te leef.
Ek vertrou U met die groei, die vrug en die eindresultaat.
In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek hoef nie myself met ander te vergelyk nie — ek vertrou die vrug wat God deur my wil voortbring!
Aanbidding: