Go Deep 09 Februarie 2025

LEEF DIE NUWE LEWE!

Neville Goodchild

Verstaan wat jy ontvang het deur wedergeboorte!

 

Dag 1: My deelname

Lewensverandering begin by wedergeboorte, wat gebeur deur die Heilige Gees wat betrokke is en suiwer Woord wat verkondig word. Daarom fokus ons om toegewyd te wees om Nuwe Testamentiese waardes en beginsels te verkondig. Ons het nodig om te verstaan watter beginsels in ons lewens sigbaar moet word, as bewyse van die nuwe lewe wat ons gekry het.

Dit is God se wil dat ons vrymoedigheid sal hê om deel te neem aan die nuwe lewe wat Hy vir ons beplan het. Hy wil hê dat ons by Sy tafel moet aansit en deelneem.

Dikwels sukkel ons met hierdie deelname. Ons sukkel om oor te gee. Dit is hier waar ons ‘n vrye wil gekry het, om te kies om oor te gee of nie. Wanneer ons nie oorgee nie, val ons vas in kultuur en tradisie. Om juis deel te neem met jou liggaam deur jou hande in die lug te steek wanneer jy aanbid, breek die houvas. Dit is om jou wil te buig voor God se wil. Om deel te neem deur gebed, en jou eie stem te hoor in die teenwoordigheid van God, of om ‘Amen’ te sê op waarheid wat jou gees roer, breek die siklus van onvrymoedigheid.

Nog ‘n struikelblok is wanneer ons meer fokus op rasionele denke. Dan sukkel ons om die dinge van die Gees te verstaan en deel te neem. Om baie sigbare en meetbare dinge te verstaan, beteken nie dat jy alles so goed verstaan nie. Daar word te veel beredeneer en dit kan lei tot frustrasie en wanpersepsie van God se beginsels.

Dit is juis daarom dat die verstandige nie moet roem in sy kennis nie, die ryke nie moet roem in sy rykdom nie, en die sterke nie moet roem in sy krag nie, maar dat ons juis sal verstaan dat God se liefde opreg is. Hy is liefde!

"I want you woven into a tapestry of love, in touch with everything there is to know of God. Then you will have minds confident and at rest, focused on Christ, God’s great mystery" (Col.2:2).

Lees:

Kol.1-3

Mediteer:

  • Hoe lyk jou deelname aan God se tafel?
  • Wat verhoed jou van volle oorgawe?
  • Watter aksie gaan jy neem, om deel te neem?

Bid:

Vader, dankie vir die groot genade geskenk wat U gegee het deur Jesus Christus, sodat ek ‘n nuwe lewe in U kan leef. Dankie dat ek met vrymoedigheid kan aansit en deelneem aan dit wat U vir my gee. Halleluja! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Dit is juis uit die groot geskenk wat Jesus Christus vir my gegee het, wat ek met vrymoedigheid kan opdaag en deelneem aan dit wat Hy vir my beplan.

Aanbidding:

The Table - Jonathan Traylor

Dag 2: Eerste Stappe

Om gemaklik te wees en aan God se tafel deel te neem, beteken dat ons in verhouding met Hom staan. Dit beteken dat daar kommunikasie is, wedersydse gesprekke.

Hierdie kommunikasie sluit gebed in. Het jy al geleer om te bid? Hoe leer ‘n mens bid? Jy laat staan die gewoontes en rympies wat jy geleer het en die idee dat God net na sekere tipe gebede luister, wat op ‘n sekere manier gebid word. God kyk na jou hart en jou geloof en vertroue in Hom. Het jy nie genoeg geloof nie, vra Hom om vir jou méér te gee. Het jy nie woorde nie, bring jou swaarmoedigheid voor Hom. Een van die maniere waarop ons bid, is om Woord te gebruik en Woord-waarhede te verklaar. Hierdie is belangrik, want ons het nodig om ons self in hierdie vernuwings lewe te lei.

Dit is soos wanneer jy in ‘n huwelik is met geen kommunikasie. Daar is dan baie spasie vir interpretasie, wat lei tot onvrymoedigheid en seer. As ons nie kan kommunikeer nie, dan gebruik die vyand dit om ons verhouding te beperk.

Ons het nodig om te dink aan ons storie van vernuwing. Om te dink aan dit wat ons weerhou van ‘n vernuwingslewe. Is dit nodig om ons denke te bekeer? Of om ons wil te buig voor God deur ons hande in die lug te bring in aanbidding? Of op ons knieë voor Hom te kom, of deur ons lippe te bely dat Hy God is? Wat dit ook al is, ons het nodig om ons van ongehoorsaamheid te bekeer, en te begin reageer op Sy Stem.

Dikwels is ons onvermoë om ‘n vernuwingslewe te lei, as gevolg van ‘n fondasie probleem. Die fondamente wat God neergelê het, is die boustene van ons geloof.

Dit begin by bekering - Om met my hele hart tot God te bekeer en te besef dat Jesus vir my sonde betaal het. Ek aanvaar Sy offer en afgehandelde werk en draai my rug op my ou sondige natuur.

Die eerste Geestelike aksie wat ek dan kan doen, is om in gehoorsaamheid gedoop te word. Min dinge sal sin maak, en ek sal nie vernuwingsaksies verder in my lewe sien, as my ou lewe nie in die doopwater sterf, en ek dan opstaan uit die water in ‘n nuwe lewe in Jesus Christus nie.

Lees:

Kol.1-3

Mediteer:

  • Hoe lyk my kommunikasie met God?
  • Wat keer my daarvan om my te bekeer en te laat doop?
  • Glo ek en aanvaar ek die afgehandelde werk van Jesus Christus in my lewe?

Bid:

Here, jammer dat ek so ongelowig was en dat ek my hart teenoor U verhard het. Ek het soveel sonde. Ek aanvaar nou die volmaakte werk van Jesus Christus aan die kruis. Dankie Jesus dat U vir my gesterf het, sodat ek kan lewe. Ek ontvang nou hierdie genade geskenk. Ek kies om nou weg te draai en om van nou af in gehoorsaamheid te wandel. Dankie dat die graf van die doop as sakrament dit vir my moontlik maak om van my ou sondige natuur af weg te loop. U werke is volmaak! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nuut gebore in Jesus Christus en daarom is ek vry en het vrye toegang tot God!

Aanbidding:

Love of God – Brandon Lake, Phil Wickham

Dag 3: Vaste fondamente

Wanneer ‘n bruidegom sy bruid vra om te trou, gee hy ‘n uitnodiging aan haar. Sy het ‘n keuse om te reageer op hierdie uitnodiging. Indien sy besluit om haarself nie beskikbaar te stel nie, en nie deel te neem nie, kan daar nie ‘n bruilof wees nie. Indien sy besluit om wel deel te neem, is haar enigste volgende skuif om in gehoorsaamheid te reageer uit ‘n plek van oortuiging.

Jesus Christus is die bruidegom en Hy nooi sy bruid (ons) uit na ‘n bruilof, ‘n feesmaal. Dit is waar ons ‘n keuse het om “ja” te sê of nie. ‘n “Ja” beteken dat ek my lewe neerlê en Hom volg. Dit is waar die plek van bekering is. Daarna volg ek Hom in gehoorsaamheid deur die doopwater wat God as sakrament ingestel het. Ek kan my nie laat doop, as ek nie besef dat ek ‘n Redder nodig het nie, en my nie in geloof tot Hom bekeer nie.

Dit is vir God belangrik dat die struktuur wat Hy oprig (Sy Bruid), volmaak moet wees soos Jesus Christus volmaak is. Volmaak beteken dat ons stewig vasgeanker moet wees in Hom. Daarom inspekteer Hy ons fondasie. Paulus wys in Hebreërs dat daar ses belangrike fondasie elemente is van ons geloof. Dit is bekering uit dooie werke/ou leefwyse, bekering tot geloof in God, lering van die doop, handeoplegging, opstanding uit die dood en ewige oordeel. Hierdie is die ses leerstellings wat ons substruktuur stewig maak en wat ons onder die knie moet hê, voordat ons verder kan groei. Anders kom daar later skade aan die struktuur wat bo-op gebou word.

As hierdie fondasie reg gelê is, kan ons Geestelik verder kan groei.

Lees:

Heb.6:1-3

Mediteer:

  • Reageer jy as Bruid uit ‘n plek van oortuiging?
  • Is jou fondasie sterk, sodat God daarop kan bou?
  • Oor watter dele van die substruktuur het jy nog vrae? Kontak die voltydse span vir ‘n gesprek.
  • Kan jy getuig van Geestelike groei?

Bid:

Here, U nooi my as Bruid in ‘n nuwe lewe in saam met U. Ek sê heelhartig “Ja” en ek lê myself neer, omdat ek besef dat ek dit nie op my eie kan regkry nie. Ek het U nodig. U is die Enigste Een wat vir my hierdie nuwe vol lewe kan gee en ek wil dit gryp met alles wat ek het. Dankie dat U my eerste gryp, net soos ek “Ja” wil antwoord. U het alles reeds gedoen om dit vir my moontlik te maak. Ek volg U nou as my Koning in gehoorsaamheid. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

My fondasie is in Jesus Christus geanker en daarom groei ek Geestelik!

Aanbidding:

Firm Foundation – Cody Carnes

Dag 4: Volgende stappe

Wat ware vernuwing bring, is nie my besluit om beter te doen en reg te lewe nie. Vernuwing kom deur die vervulling van die Heilige Gees, nadat ek die eerste stappe, in gehoorsaamheid aan Sy roepstem, neem. Die Evangelie is wonder werkend en daarmee saam bring die Gees transformasie. Dan ontvang ek ook Geestelike gawes.

Jesus loop op die strand (Mat.4:18-36) en sê vir Petrus en Andreas: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Jesus kry ook vir Jakobus en Johannes waar hulle besig is om die nette heel te maak. Die Griekse woord wat hier gebruik word is katartizó (καταρτίζω). Dit beteken “mending the nets”. Dit is om te herstel, toe te rus, saam te heg en voor te berei. Dit is wat God se Gees met ons doen: om ons heel te maak, voor te berei, saam te heg en ten volle toe te rus.

Die gawes wat ons ontvang is nie vir onsself nie, maar vir die opbou van God se Koninkryk. Dit is vir die opbou van die gemeente bedoel. Dit is waarom ons fokus skuif van onsself na ander mense en waarom ons ‘n passie het vir transformasie in ander mense. Ons word passievol oor mense, omdat God passievol is oor mense. Ons fokus is Passionate People Finding Purpose in His Presence.

Dieselfde woord katartizó word in Lukas 6:40 gebruik: “'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees”.

Dit is Jesus se intensie, dat ons ten volle toegerus en heel is deur Sy katartizó, sodat ons gereed is om die gawes waarmee Hy ons toerus uit te leef, tot voordeel van Sý Koninkryk - sodat ander gered kan word. Dit is ook dan die verdere opdrag wat ons ontvang om uit te gaan en vissers van mense te word. Om dan toe te laat dat suiwer Woord wat ons verkondig en God se Geeswerking, ander katartizó. Om seker te maak dat ons gawes gebruik word om te herstel, voor te berei en saam te heg! Ons word passievolle mense wat ons doel vind in Sy Teenwoordigheid!

As wedergeborenes vier ons lewensverandering!

Lees:

Mat.4:18

Luk.6:40

Mediteer:

  • Dit is deur suiwer Woord en Geeswerking wat dit moontlik word om lewensverandering te sien.
  • Het jy al God se Gees ontvang en sien jy Sy transformerende krag deur jou lewe? Watter van die basiese beginsels het jy gemis?
  • Het jy ‘n passie vir mense? Wat is God se hart en watter waarheid kort jy om ‘n passie vir God se mense te ontdek?
  • Het jy al begin om te help om die liggaam van Christus te herstel, op te bou en voor te berei?

Bid:

Vader, dankie dat U passievol is oor my, en dat U belangstel in die groot en klein dele van my lewe. U is betrokke. Ek wil nie stagneer nie, maar Geestelik groei, sodat ek ook kan help om te katartizó en ‘n visser van mense te word. Dankie dat U my nie alleen los met my tekortkominge nie, maar dat U eerste na my omsien en my herstel, en my dan oprig en uitstuur. Ek stel myself beskikbaar vir U Koninkryk. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se Gees wat ek ontvang het, gee my alles wat ek nodig het vir God se Koninkryk!

Aanbidding:

Made For More - Josh Baldwin, feat. Jenn Johnson

Dag 5: Doen ondersoek

“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (Titus 3:4-7).

Wanneer ‘n plant of boom geplant is in materiaal waarin dit nie kan groei nie, het ‘n mens nodig om die plant uit te haal, die wortels skoon te maak en die grond skoon te maak en te bewerk, voordat dit terug geplant kan word. So nie, stagneer die plant en is daar nie ruimte vir groei nie. Daarom moet ons ondersoek doen as ons nie Geestelik groei nie en bepaal wat die rede is vir ons stagnasie. ‘n Nuwe lewe vereis dat ons fondasie reg moet wees.

As Christene, het ons veral nodig om te kyk na ons ou denkpatrone. Ons het nodig om elke gedagte gevange te neem tot die gehoorsaamheid aan Jesus Christus (2 Kor.10:5) (Repent your mind to the mind of Christ), en toe te laat dat die Gees ons denke vernuwe. Ons moet ons denke bekeer na Jesus Christus.

Jesus Christus was nie bekommerd, skaam of het aanstoot geneem deur Saulus wat alles verkeerd gedoen het nie. Jesus het die Gees potensiaal in hom raakgesien. Jesus weet wie Hy ín Saulus gaan wees en in Paulus is. Jesus het vertroue in Sy potensiaal in Paulus. Daarom kan Hy gee aan mense wat hulleself neerlê. Dit alles begin by bekering, ontvang van vergifnis, die doop as sakrament en die vervulling van die Heilige Gees.

Dit is hoe Paulus so onlosmaaklik kon verander. 1. Hy was uitverkoop aan Jesus Christus as sy vaste fondament; 2. hy het al die regte beginsels onder die knie gehad en 3. hy het homself neergelê, sodat die Gees van God hom kon vernuwe.

Wysheid en waarheid kan ons net by Jesus Christus kry. Lewensverandering gebeur wanneer ons die vlees neerlê en in die Gees begin wandel!

Lees:

Titus 3:4-7

Mediteer:

  • Wat het die Here vir jou beplan as dit kom by vernuwing?
  • Jou erfporsie is vir vandag, nie net vir eendag nie. Wat beperk jou?

Bid:

Sjoe Here, dankie dat U my potensiaal raakgesien het nog voordat ek my tot U bekeer het. U het my gekies, en daarom kon ek deur die Woord te hoor en U Gees wat my trek, U ook kies. U het my kom vernuwe met U Gees, sodat ek nie net eendag ‘n nuwe lewe kan lei nie, maar vandag reeds kan stap in die doel wat U vir my lewe het. U het méér beplan. U het Saulus heeltemal kom vernuwe en so vernuwe U my ook. Ek kies om U suiwer Woord te hoor en te praat, U beginsels vas te maak, en U Gees te volg. U is my Here! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is wedergebore en daarom leef ek my volle potensiaal uit!

Aanbidding:

New Wine – Hillsong

Fishers of Men - Newsboys