Go Deep 13 October 2024

Wat die wêreld nou nodig het

Neville Goodchild

Dag 1   U regeer

Sondagoggend sing ons “ God You reign”. Ons dink nie altyd daaraan nie, daarom is dit nodig dat ons mekaar herinner dat ons nie op onsself hoef staat te maak nie, ons vleeslewe is nie in staat nie, ons het Woord en Gees nodig om hier op aarde ʼn positiewe invloed vir ander te wees. Ons het die skadu van die kruis nodig, want ons is die gevolg, die resultaat van Jesus se oorwinning aan die kruis. “We don’t walk alone".

In hierdie tye  waarin ons leef, lyk dit soms asof chaos en verwarring die oorhand het. Maar in die middel van ons stryd herinner ons onsself aan die waarheid: God regeer. Die lied "God You Reign" bring hierdie waarheid met krag na vore. Dit is 'n oproep om ons oë op die Here te hou, selfs wanneer ons deur uitdagings gaan.

Wanneer ons in die skadu van die kruis, Jesus se opoffering, beweeg, is ons deel van die wenspan en wie wil nie in daardie span wees nie? Wanneer ons struikel of vassit aan hedendaagse probleme is die antwoord altyd maklik, al wil ons dit soms nie sien nie. Ons het die waarheid van die Woord nodig en die Gees van God om ons te help om mooi vrugte voort te bring tot eer van die Here.

Die Ou Testament is die geskiedenis. ʼn Geskiedenis wat ons help onthou van God se talle ingrypings om ons te kry waar ons nou is. Híér. Die bruid van Jesus. Maar, die Nuwe Testament help ons onthou wat Jesus se ingryping was. Ons lewensvrae word beantwoord in die boeke van die Nuwe Testament. Jesus se handel en wandel is ons voorbeeld. Ons het niks anders nodig nie.

Wanneer ons sing "God, U regeer," erken ons sy opperste gesag oor ons lewens en die wêreld. Hy is nie net 'n veraf God nie; Hy is aktief besig om in ons omstandighede te werk. Hy gebruik selfs die skaduwees in ons lewens om ons nader aan Hom te bring. Dit herinner ons aan die belofte van Romeine 8:28 (NLT): " And we know that God causes everything to work together for the good of those who love God and are called according to his purpose for them."

Die moderne mens het niks anders nodig as om die Gees te vra om ons lewens te rig nie, en die Woord wat ons lei om te onthou wat die perfekte beeld van God, Jesus, in moeilike situasies gedoen het nie.

Mag ons elke dag leef met die kennis dat God regeer, en dat ons in die skadu van die kruis veilig is. Laat ons voortgaan om sy liefde en genade te weerspieël, selfs wanneer ons uitdagings ondervind. Sy dood en opstanding beteken dat ons nie langer in die donkerte van ons sondes hoef te lewe nie, maar in die lig van Sy genade.

Lees

Psalm 47

Mediteer

Hoe en waar kan ek uit die pad van die Gees kom sodat God verheerlik kan word?

Gebed

Heilige Vader, dankie dat U oor ons regeer, selfs wanneer die wêreld om ons chaoties is. Help ons om te vertrou op U heilige plan. Mag ons in alles wat ons doen, U naam verheerlik. Gee ons die krag om U teenwoordigheid te ervaar, al is dit in ons grootste stryd. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek het toegang tot God deur die Gees. Die Woord help my om my rigting te bepaal in vandag se tye.

Aanbidding

Same GodBrandon Lake and Phil Wickham

Dag 2   Hoe om die regte keuses te maak

Die hedendaagse Christen word aan baie verskillende vorms van spiritualiteit of geestelikheid voorgestel. Hoe weet ons waaraan ons kan deelneem om te groei. Hoe maak ons die keuses met sekerheid dat dit die pad vorentoe vir ons en ons gesinne moet wees?

As ons op Woord alleen staat maak sonder om die Gees in te nooi in ons lewens is dit maklik om veroordelend te wees. Ons is dan oorkrities en soms selfs uit ʼn geestelike hoogmoed arena vorm ons opinies oor ander wat nie ons standaard “kan” haal nie. Aan die ander kant, as ons die Woord ignoreer en net in die Gees probeer wandel, loop ons die risiko van super charismaties wees. Dieselfde arena van hoogmoed kan dan ook hier ons speelveld raak. Ons assosieer al minder en minder met ander mense omdat hulle nie op “standaard” is nie. Ons groep raak la kleiner en kleiner. Maar waar God betrokke is, groei dinge, groepe en kerke, dit word nie kleiner nie. Ons het beide Woord en Gees nodig. Die Woord, veral die Nuwe Testament, sal ons rig en onderrig oor Jesus se lewe en optrede teenoor ander. Die Ou Testament herinner ons aan God se getrouheid deur die eeue en hoe Hy altyd Homself met SY kinders bemoei het. Van die begin af. Lees gerus die leesstuk uit Joël hieronder as voorbeeld. Terselfdertyd lei die Gees ons om die regte besluite te neem in al die aspekte van ons lewens.

In Hebreërs 1:1-3 staan daar:” NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,”

Jesus is die afdruksel van God, die perfekte beeld en voorbeeld vir ons. In die Grieks word die woord “charaktēr” hiermee vereenselwig. Perfect image. Karakter. Hier, in Hebreërs, is dit baie duidelik dat God in die nuwe bedeling deur Sy Seun praat, Jesus. Jesus se voorbeeld in die Nuwe Testament wat ons lees, tesame met die leiding van die Heilige Gees, wys ons presies waaraan, hoe en met watter ingesteldheid ons moet handel en wandel. Woord en Gees. Saam. Ons is in die nuwe bedeling en met die Gees en Woord sal ons die regte vrugte voortbring.

 

Lees

Joël 2:12-14

Mediteer

Is ek seker dat ek met Woord en Gees leef?

Gebed

Vader, ons kom in ootmoed tot U en dank U vandag dat U vir Jesus na ons gestuur het om eerstens ʼn voorbeeld te wees en tweedens ons sonde op Hom te neem. Dankie dat U die Heilige Gees aan ons beskikbaar stel om elke dag, elke tree wat ons gee, vir ons te lei. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek het die Seun as voorbeeld en die Gees se leierskap. Dit is mooi.

Aanbidding

Prince of Peace – Josh Baldwin

Dag 3   Nie uit my eie krag nie ...

In Romeine 7 skryf Paulus oor sy onvermoë om die wet te onderhou. In die eerste paar verse leer ons dat ons dood is vir die wet, net soos ʼn vrou wie se man oorlede is en sy weer trou nie van egbreek aangekla kan word nie. Vers 4: “So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.”

Paulus spandeer dan baie tyd om te wys hoe onmoontlik dit is om die wet te onderhou. Inteendeel, tot by vers 24 lyk dit of Paulus wil wys hoe ons oorweldig kan word met ʼn gevoel van magteloosheid en ons eie sondigheid. In vers 24 verander Paulus se trant en keer hy sy oë op God. Dit is nie onbeplan gedoen nie, Paulus het geleef in die Gees en het die stryd waarmee gelowiges elke dag woeker maar te goed verstaan.

Rom. 7:24-26 “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.”

Ek ellendige mens. In een van die Engelse vertalings sê Paulus: “O wretched man that I am! Who will deliver me from this body of death?” Tot op hierdie punt het Paulus sedert vers 14 meer as twintig keer na homself verwys. Hierdie is ʼn les wat hy sekerlik beplan het. Hy keer nou sy oë na God met amperse desperasie. Tot op hierdie oomblik beeld Paulus uit hoe baie gelowiges gereeld voel omdat hulle op hulleself opgegee het. Gelowiges wat onder die wet leef fokus net op hulself en wat hulle “moet” regkry. Dit was ʼn gewoonte onder sommige volke van daardie tyd om iemand wat hulle swaar wil straf vas te bind aan die lyk van ʼn ander wat hy oral moet saamsleep. Sommige Christene doen dit ook. Ons het nuwe lewe in ons, die Heilige Gees, maar ons voel ons moet hierdie stinkende karkas van sonde agter ons aansleep.

Nou kyk Paulus uiteindelik na God. “I thank God; through Jesus Christ our Lord! So then, with the mind I myself serve the law of God, but with the flesh the law of sin.”

Die oomblik toe Paulus na Jesus kyk het hy iets om voor dankbaar te wees. Hy sien Jesus wat die gaping tussen ons en God oorbrug. Meer nog, sy gebruik van “Lord” of “Onse Here” in Afrikaans beteken dat hy Jesus beskou as Meester van sy lewe. Paulus dank dan God vir die oorwinning in Jesus. Jesus het nie gekom om nog meer en of beter reëls vir ons op te stel nie. Hy het gekom sodat ons Sy oorwinning oor sonde kan uitleef en jubel daaroor.

Die boodskap is eenvoudig en duidelik. Die wet is nie sleg nie, maar die wet kan ons nie help nie en het ons nie gered nie. Jesus het gekom en ons gered.

Lees

Romeine 7

Mediteer

In watter aspekte van my lewe kyk ek binne toe in plaas van na Jesus toe?

Gebed

Vader God, dankie vir hierdie lering van Paulus in Romeine 7. Ons vleeslikheid maak dat ons soms na die eie ek kyk om iets goed te doen selfs vrugte voort te bring wat U sal behaag, maar ons weet dat ons dit net kan doen deur U Gees se hulp en leiding. Help ons om meer en meer na Jesus se voorbeeld te kyk en in vrede met onsself kan leef omdat ons gered is en nie onder die wet leef nie. Amen.

 

Spreek Lewe

Ek rig my oë op Jesus. Dit hou my veilig.

Aanbidding

Speak Jesus– Stephen McWhirter

Dag 4   Getrouheid

Dis lekker om soms ander vertalings van die Bybel te lees om beter perspektief te kry. Galasiërs 5:22-24 in die Living Bible lyk so:”But when the Holy Spirit controls our lives he will produce this kind of fruit in us: love, joy, peace, patience, kindness, goodness, faithfulness, gentleness and self-control; and here there is no conflict with Jewish laws. Those who belong to Christ have nailed their natural evil desires to his cross and crucified them there.

Wanneer die Heilige Gees (nie die wet nie) ons lewens rig, word die vrugte van die Gees nie deur ons voortgebring nie, maar deur die Gees. Ons eie kragte is nie in staat nie, inteendeel, iemand wat nie in God glo nie kan ook getrou wees, soms uit selfbehoud, maar soms sommer net uit gewoonte.

Daar is nog meer. Die vrugte van die Gees is nie in konflik met die wet nie, dus is daar ook nie ʼn maatstaf of meting wat bepaal hoeveel jy daarvan mag doen nie. Inteendeel, die Geesvervulde lewe kyk nie na hoeveel nie, dit bring natuurlik vrugte voor want dit is aangedryf deur God self. Daar is geen wet wat sê jy moet vriendelik wees nie. As die Heilige Gees in ons lewens is, doen ons outomaties wat ons in die Bybel lees, die voorbeeld van Jesus. Hierdie volmaakte voorbeeld wys ons ook presies hoe die hart van God en Gees werk.

Getrouheid as vrug van die Gees is maklik om te verstaan. Ons almal is al teleurgestel deur iemand wat ons vertroue breek, of ʼn besigheidstransaksie wat skeefloop omdat een party nie sy kant bring nie. Hoe reageer ons in sulke situasies? As ons uit die vlees reageer met woede of weerwraak, koppel ons reëls (die wet) aan die optrede van die ander mense. Dit is nie hoe die Gees werk nie.

Jesus, die beeld van God, en dus ook Gees, is altyd getrou en bly altyd getrou. Kyk maar na die tyd waar Jesus waarskynlik die swaarste gekry het, net voor sy kruisiging. Petrus verloën Hom. Dis ernstig. Hoe sou jy voel as jou vriend of kind vir ander sê dat hy of sy jou glad nie ken nie? Dis ʼn goor en groot belediging en ontkenning van jou menswees, dan nie? Wat doen Jesus?

Jesus gaan na sy opstanding Galilea toe waar Petrus en nog ʼn paar vis vang en Hy gebruik ʼn wonderwerk om sy aandag te trek. So reg in Petrus se kraal ook, vis vang. Dit is hier waar Jesus drie keer vir Petrus vra of hy Hom waarlik lief het en elke keer by hom aandring om na sy skape te kyk. Onthou, Petrus is die man aan wie Jesus Sy kerk toevertrou het (Mattheus 16). Hierdie selfde man wat so ontrou was word ten volle vergewe en hy bly in sy rol as die man wat die eerste kerk begin het. Dit is hoe Jesusgetrouheid lyk. Geesgetrouheid. Godgetrouheid. Die vrugte van die Gees betaal nie wat mense verdien in ons oë nie. Wat die wêreld nou nodig het is mense wat getrou bly in alle situasies en fokus op Jesus.

 

Lees

Mattheus 16

Mediteer

Hoe kan ek wees wat die wêreld nou nodig het?

Gebed

Vader God, dankie dat U deur U gees seker maak dat ons vrugte bring wat ander mense impakteer en hulle na U koninkryk toe lei. Gebruik ons Vader, meer en meer. Dankie vir Jesus. Dankie vir die voorbeeld. Amen.

 

Spreek Lewe

Die wêreld het my nou nodig.

Aanbidding

This is a move– Brandon Lake

Dag 5   Die Here in ons huis

In Lukas 19:1-10 is die storie van Saggéüs. Hy moes al van Jesus gehoor het en was seker nuuskierig om Hom te sien. Maar om hom te sien moes hy die moeite doen om in ʼn boom te klim vanweë sy kort statuur. Ons weet dat hy as tollenaar nie eerlik was nie en dat hy baie mense verneuk het, dus nie ʼn bekeerde man nie, tóg is hy nuuskierig genoeg om tot hierdie aksie oor te gaan. Ons weet nie wat sy regte motief was nie, dalk was hy net bang hy mis uit op iets, dalk het hy al ʼn gevoel begin kry dat Jesus die Waarheid is, dalk was hy net moeg om skelm te wees. Jesus stop onder die boom en nooi Homself in Saggéüs se huis in en net daarna gee hy al die geld terug wat hy ooit uit sy bedrog gemaak het. Dit is die impak van Jesus in ons huise.

Ons het volle toegang tot God en die Waarheid wat Hy is. Ons hoef nie die antwoorde tot die lewe in selfhelpboeke, webtuistes en Facebook te soek nie. Die antwoorde is in die Bybel en die rigting van ons lewens, die vrugte, kom van die werking van die Heilige Gees in ons. Dit is nie nodig om figuurlike bome te klim om die waarheid te vind nie, die waarheid is op elke bladsy in ons Bybel. Jesus was die verteenwoordiger van waarheid, ons hoef nie verder as dit te kyk nie.

Jesus se teenwoordigheid in ʼn ongelowige man se huis bring onmiddellik vrug voort. Na Sy Hemelvaart het ons nou die Gees in ons harte en ons huise. God se teenwoordigheid in ons lewens bring vrugte voort. Vrugte soos getrouheid.

Dit is net eenvoudig wonderlik hoe Jesus deurentyd dieselfde is in elke boek in die Bybel wat oor Hom geskryf is. Hy gee om vir elke mens, siekes, armes, skelms, maak nie saak wat die agtergrond van daardie mense is nie. Ons is geneig om teen ons eie swakhede vas te kyk (veroordeel onsself onder die wet) en vergeet dat ons vry is. Jesus red Saggéüs as’t ware van homself en beweeg iets in hom wat geesvrugte oplewer. Dit geld vir ons ook. Die Gees is in ons, Hy help ons om vrugte te dra wat mooi, regverdig en vol liefde en getrouheid is. Dit kom vanself nadat ons gedoop is en die Heilige Gees in ons lewens innooi.

'n Laaste gedagte oor getrouheid. Kom ons dank die Vader vir elke mens wat so getrou in ons kerk werk, baie van hulle agter die skerms waar niemand dit sien nie. Hierdie vorm van getrouheid is voorwaar vrugte wat deur die Gees voortgebring word.

 

Lees

Romeine 6:1-5

Mediteer

In watter omstandighede van my lewe kan ek die Gees vra om goeie vrugte te dra?

Gebed

Vader, dankie dat U Uself bemoei met ons ten spyte van ons donker verledes. Ons vra U, Gees, lei ons om vrugte te dra tot U eer en tot die uitbou van U Koninkryk. Amen.

 

Spreek Lewe

Daar is ʼn plan vir my in hierdie wêreld.

Aanbidding

World needs Jesus – River Valley Worship