Go Deep 24 May 2026

Die Geesvervulde Lewe

                                                                                         Neville Goodchild                                                                                       

 

Dag 1: Van Vaste Grond na Net Oorgee

Die meeste van ons is baie tuis in ons erwe waar ons bly. Ons is selfs gemaklik in die winkelsentrums, werksomgewings en al die ander plekke waar ons gereeld kom. Maar wat as dinge vreemd raak? As jy al ooit op ʼn lughawe in ‘n vreemde land was, of vervoer moet soek in ʼn stad wat jy nie ken nie, sal jy verstaan. Jy sal ook verstaan as jy nie goed kan swem nie. Wanneer jy jouself in die see bevind, soek jou voete die heeltyd die sand daaronder. Vastigheid. Beheer. In Charge.

Maar ons is nie in beheer nie, dit weet ons. Ons veg teen dié wete, maar eintlik spartel ons in die water soos voëltjies wat uit ʼn nes in ʼn rivier geval het. Wanneer ons in die water beland, is ons eerste reaksie dikwels om te spartel, want selfs in die moeilikheid, krap ons voete vir die bodem. Ons sukkel om die geeswêreld van die vleeswêreld los te maak.

In Johannes 3 kom Nikodemus in die nag na Jesus toe. Ons dink dit was onveilig vir hom en waarskynlik sou sy mede-hooggeleerdes hom veroordeel het. Maar iets pla hom. Hy ken die wet. Nog steeds besef hy dat daar ʼn leemte in sy lewe is.

Nikodemus was 'n kenner van die Skrifte, maar hy was totaal onbehendig in die geeswêreld. Ons gaan meer in diepte hieroor gesels in die res van die week en die reeks,  Net soos Heinrich, wat kilometers ver die see in geswem het terwyl ander bang was, roep die Here ons om gemaklik te raak in die diep water waar ons nie meer die bodem kan raak nie. Om geesvervuld te lewe, moet ons ophou spartel en leer dat die Gees (die water) ons sal dra wanneer ons ons eie beheer prysgee.

Jesus leer vir Nikodemus iets wat sy hele wêreldbeeld as godsdienstige leier uitgedaag het: geestelike behendigheid kom nie deur akademiese kennis of posisie nie, maar deur wedergeboorte. Hy verduidelik dat wat uit die vlees gebore is, vlees bly, en sy eindbestemming is stof; maar wat uit die Gees gebore is, is gees en besit die ewige lewe

LEES: Johannes 3:1-3; Psalm 42:8

MEDITEER:

  • In watter areas van jou lewe probeer jy nog self op "staandiepte" staan in plaas daarvan om die Gees se leiding te vertrou?
  • Is jou godsdiens tans net akademies, of is dit 'n ware geesoortuiging?

BID: Vader, ek bely dat ek dikwels vasklou aan die bekende omdat ek bang is vir die onbekende dieptes waar U Gees my sal lei. Leer my om op te hou spartel en om te vertrou dat U my sal dra wanneer die grond onder my voete wegval. Ek kies vandag om net oor te gee en U Gees my te laat lei. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Ek is veilig, want God dra my waar ek bang is vir diep water.

Aanbidding: Oceans - Hillsong

Dag 2: Wanneer gewone mense glo

Petrus doen iets radikaal op die See van Galilea wanneer hy uit die boot klim en Jesus vertrou om op die water te loop. Dit moes ongelooflike dapperheid geverg het. Dink jou in. Die boot wieg op die golwe, daar sou seker kraakgeluide wees, water wat klap teen kante. Dink aan die vrees wat hy moes ervaar het. Dit is ʼn stap teen enige redelikheid. In sy vlees moes Petrus sekerlik baie teenstand kry, maar tog doen hy die ondenkbare en die onmoontlike word moontlik omdat hy geloof het.

Petrus se drastiese eerste tree uit die boot was nie net 'n dapper daad nie; dit was 'n elementêre geloofsgesprek. Baie van ons voel dat ons grond onder ons voete het wanneer ons oor geloof praat, maar ons ignoreer dikwels dat ware geloof geaktiveer word in die "water" — die metafoor vir die Heilige Gees. As ons die geeswêreld ignoreer, sal selfs die eenvoudigste gesprekke oor Christenskap, soos geloof, ons begin irriteer of frustreer omdat ons nie die krag en manifestasie daarvan in ons eie lewens sien nie.

Jesus leer ons dat geloof nie 'n passiewe kop-kennis is nie, maar 'n aktiewe deelname aan die onvoorspelbare beweging van die Gees. Petrus moes die veiligheid van die boot verlaat om sy "boldness" te vind; 'n vrymoedigheid wat hom later gehelp het om die eerste preek van die Nuwe Testament te lewer. Wanneer ons kies om uit die boot van ons eie reëls en skuldgevoelens te klim, vind ons die vryheid om op God se krag te loop.

 

LEES: Johannes 3:5; Handelinge 2:14

MEDITEER:

  • Is daar 'n "boot" van menslike sekuriteit waaruit die Here jou vandag roep om op die water van die Gees te wandel?
  • Voel getuienisse van ander se geloof vir jou soms frustrerend omdat jy self nog op die "grond" probeer staan?

 

Bid: Here, gee my die vrymoedigheid van Petrus om uit my gemaksone te stap. Ek wil nie meer in 'n eentonige siklus van probeer en faal leef nie, maar in die krag van U Gees. Dankie dat U my geloof aktiveer die oomblik as ek die water betree. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! My geloof is nie 'n kop-ding nie; dit is 'n kragtige stap op die water van God se teenwoordigheid.

Aanbidding: Loop op die WaterJuanita du Plessis

Dag 3: As die Wind jou trek

In die wêreld van seilvaart is die wind die enigste eksterne faktor wat werklik saak maak vir besluitneming en ’n lewensstyl op die water. Die res — wat ander bote doen, wat op die land gebeur, of selfs wat die wolke maak, is ʼn bysaak. Gesoute seevaarders se oë is altyd op die wind.

Jesus gebruik hierdie kragtige beeld in Johannes 3:8 wanneer Hy vir Nikodemus sê: "Die wind waai waar hy wil... so is elkeen wat uit die Gees gebore is". Om geesvervuld te lewe, beteken om bewus van die wind te word — om konstant te kyk wat die wind (die Gees) besig is om te doen.

Mense wat seilvaart nie goed ken nie, dink dikwels die vinnigste manier om vorentoe te beweeg, is as die wind jou van agter af "stoot". Dit is nie waar nie. Die wind direk van agter af is eintlik die stadigste manier om te vaar en dit hou die hoogste risiko in. Dit kan die mas laat breek of die boot se neus in die water indruk.

Ware krag kom deur trekkrag. Seile is so ontwerp en gesny dat hulle die wind "rem" om ’n lugleegte (vakuum) aan die voorkant van die seil te skep. Die boot word dan as’t ware  in daardie lugleemtes in "getrek". As dit nie hiervoor was nie, sou skepe nie reg in die wind kon seil nie.

Die Heilige Gees werk op dieselfde manier: Hy forseer of stoot ons nooit in ’n rigting nie. Hy nooi ons uit tot ’n vennootskap waar Hy ’n trekpleister word wat ons vorentoe trek.

Baie gelowiges het ’n passiewe gesindheid: "As die Here wil hê ek moet dit doen, moet Hy my maar in die regte rigting druk".  Ons wil die verantwoordelikheid op die Gees plaas. Om werklik deur die Gees gelei te word, vra dat ons die Gees moet volg, gereeld kyk in watter rigting Hy ons lei en doelbewuste aksies neem om saam te gaan. Dit is soos ’n arend wat nie sy vlerke moeg klap nie, maar die windstrome (die Gees) gebruik om opgelig en getrek te word na sy bestemming. Ons volg die Gees intensioneel. Ons is nie bootjies wat doelloos dobber nie, ons het die Wind wat ons saam trek en ons kan volg omdat ons oë daarop gerig is. Prys die Here daarvoor. 

(Vandag se lied en die opvoering daarvan het hierdie skrywer diep geraak.)

 

LEES: Galasiërs 5:16-17

MEDITEER:

  • Wag jy vir God om jou te "forseer" om 'n stap te neem, of pas jy aktief jou gesindheid aan om Sy trekkrag te volg?
  • Is daar "tweespalk" in jou hart wat keer dat jy die volle energie van die Gees kan benut?

Bid: Heilige Gees, leer my om "windbewus" te lewe. Ek kies om my rebellie en passiwiteit neer te lê en myself te posisioneer om deur U getrek te word. Dankie dat U krag beskikbaar is om my na my Godgegewe bestemming te neem. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Ek word nie deur vrees gedryf nie, maar deur die magtige en sagte trekkrag van God se Gees

Aanbidding: PraiseGrace Idowu

Dag 4: Roei jy of seil jy?

In Johannes 3 ontmoet ons vir Nikodemus, 'n man wat die definisie van sukses op "vaste grond" is. ʼn Fariseër, 'n lid van die Joodse Raad, en 'n "spesialis in die Skrifte". Hy kom in die nag na Jesus toe. Die Romeine het ʼn aandklokreël toegepas. Maar ʼn mens kan ook dink dat Nikodemus dalk nie by Jesus gesien wou word deur sy kollegas nie.

Nikodemus is vasgevang in 'n geestelike roeiboot. Het jy al ʼn roeiboot of kano geroei? Dit vat energie, sweet, seer spiere en pyn. Dit is hoe dit is wanneer ons boksies wil tiek om by God uit te kom.

Wanneer Jesus vir Nikodemus sê hy moet wedergebore word, reageer Nikodemus onmiddellik vanuit sy vlees-verstand. "Hoe kan 'n  man weer in sy moeder se skoot ingaan?". Dit is die tipiese reaksie van iemand in 'n roeiboot: hy probeer 'n bonatuurlike konsep verstaan met natuurlike logika. Jesus wys hom egter daarop dat dit wat uit vlees gebore is, vlees bly. Onder die wet sal Nikodemus in sy roeiboot bly.

ʼn Roeibootlewe het ʼn eentonige siklus: ons sondig, ons voel skuldig, ons probeer harder, en dan faal ons weer. Ons probeer verander uit skuldgevoelens. En die “effort” maak ons net swakker en swakker. Jesus probeer Nikodemus help om te verstaan dat hy moet ophou "wonder". In hierdie konteks beteken "wonder" om te "overthink" en vas te haak by die feite en die "hoe-vrae". Jesus sê eintlik: "Nikodemus, moenie daar gaan vashaak nie; kom , daar is ʼn beter manier om oor die water te beweeg. Gebruik die wind.

Wanneer ons ophou roei en die seile span (moet asseblief nie aan Kurt Darren se liedjie dink nie), is die fokus nie op eie energie nie, maar op "pneuma" (die wind/Gees) wat reeds waai. Wanneer ons deur die Gees gelei word, is ons nie meer onder die wet nie. Klaar geroei, klaar gestoei. Ons oë op die Wind. Pneuma.

LEES: Johannes 3:1-8; Romeine 8:1-2;

MEDITEER:

  • Is jy, soos Nikodemus, 'n kundige op papier maar onbehendig in die geeswêreld?
  • Is jy bereid om op te hou "overthink" en jouself oor te gee aan die trekkrag van die Heilige Gees?

BID: Here Jesus, ek bely dat ek dikwels soos Nikodemus vashaak by my eie vrae en logika. Ek is moeg gespook in die roeiboot. Heilige Gees, ek span my seile vandag, my oë op U. Leer my om ʼn kundige seevaarder te word.  Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Ek lê my roeispane neer.

Aanbidding: Holy Spirit You are welcome here – Kim Walker-Smith

 

Dag 5: Windwapper

ʼn Windwapper se Engelse naam is “telltale”. Dit is linte wat op 'n seiljag se seile gebruik word om die windvloei te meet. Vir die boot om spoed op te tel, moet die wind aan beide kante van die seil gelyk vloei. As die wind net aan die buitekant waai, maar die binnekant wapper, begin die boot stagneer. Dit help die seevaarder om die boot se rigting aan te pas sodat dit teen volspoed kan vaar.

Wil jy nie ook volspoed in die Gees lewe nie?

Baie van ons is Sondae in die kerk, ons neem nuwe besluite. “Ek gaan dit anders doen hierdie week”. Maar dan kom “daardie” kollega Maandagoggend vroeg in jou kantoor en probeer om jou roeiboot om te gooi. Ons mag nie toelaat dat ons vaartuig stagneer nie. Die windwapper mag nie wapper nie. Die oomblik wat ons die veroordeling (wet) en genade balanseer, stagneer ons.

Die Gees lei ons. Ons stuur agter Hom aan. Ons lees die Wind. Daar moet groei in beide ons realiteite wees. Ons Geeslewe moet balanseer met ons weekslewe. Só beweeg ons vorentoe.

LEES: Galasiërs 5:25

MEDITEER:

  • As jy na jou "teltails" kyk, is daar dieselfde Gees-vloei in jou huwelik en werk as wat daar in die kerk is?

Bid: Vader, help my om nie net 'n "Sondag-Christen" te wees nie. Ek wil dat my hele lewe ʼn getuienis vir U wees. Hou my oë op die Gees sodat ek nie sal stagneer nie.  Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Die Heilige Gees is welkom in elke aspek van my lewe.

Aanbidding: WorthyStephen McWhirter