Go Deep 20 Oktober 2024

WAT HIERDIE WÊRELD NÓU NODIG HET #8

De Villiers Nel

Volwasse Christene wat Geestelike volwassenheid uitleef

 

Dag 1: Noodsaaklikheid

Paulus leer ons in Gal. 5 dat hierdie Liefde: blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing nie net soos ‘n spesery is wat bygevoeg word by ons Christenskap nie. Om te weet of jy Geestelik is, kyk na die vrug. Die vrug is juis die metafoor wat gebruik word, omdat dit so ‘n noodsaaklikheid is.

Jesus sê ook dat ‘n boom aan sy vrug geken word. So om te weet of ‘n boom gesond en volwasse is, kyk na sy vrug.

‘n Vrug kan nie gepluk word vanaf ‘n boom waarby die vrug nie aard nie. ‘n Vyeboom dra nie appels nie. Sou jy ‘n appel aan ‘n vyeboom probeer vasmaak, dan sien jy die vrug sal vinnig verrot. Dit sal onmoontlik wees om die vrug aan die boom vas te maak sodat dit blywend is. Dit sal telkens weer afval.

Net so kan die vrug van die Gees nie opgeplak word nie. Jy kan hard probeer om dit te laat hou, maar dit sal nie blywend wees nie. Dit sal lam maak.

“We cannot produce fruits by manipulating the outside of a dead stump. Life is the one essential, and from life within grows fruit without. Only internal spiritual life can produce external Christian graces” – W.F. Adeney

Jy kan nie harder probeer om jou gedrag te verander nie. Dit is net deur ‘n opregte verhouding met Jesus Christus wat vrug van die Gees deel kan word van jou geaardheid.

Lees:

Gal.5:22-26

Mediteer:

  • Hoe lyk my vrug?
  • Wat het ek nodig om goeie vrug te dra?

Bid:

Here, dankie dat U nie van my vra om harder te werk om te verander nie, maar dat U U Gees in my wil uitstort sodat ek van binne na buite kan begin leef en vrug dra. Dit is deur my verhouding met U dat ek suksesvolle goeie vrug lewer. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die wortels van die boom bepaal die vrug. Ek is geanker in Jesus!

Aanbidding:

Firm Foundation – Cody Carnes

Dag 2: Sagmoedigheid

In Grieks is die Woord Sagmoedigheid “Prautes”. Dit beteken “Om ‘n matige ingesteldheid te hê. ‘n Nie-oorheersende houding”.

Dus beteken sagmoedigheid om nie mense te domineer en hul opinies te minag nie. In Afrikaans verstaan ons nie altyd heeltemal dat nederigheid en sagmoedigheid hand-aan-hand loop nie. Die een kan nie sonder die ander een nie. Ons kan maklik verkeerdelik verstaan dat sagmoedigheid ‘swakheid’ is. Die wêreld sien dit só. Die wêreld sien sagmoedigheid as ‘terugdeins en bang wees vir konflik’. Dit is nie hoe God se Koninkryk sagmoedigheid sien nie. Dit is om krag te hê en die vermoë om skade aan te rig, maar die sagmoedige kies om dit nie te doen nie.

Jesus is ‘gentle and meek’. Dink ‘n bietjie aan die boom wat Hy by ‘n berg opgedra het, nadat Hy tot die uiterste gemartel is, met die wete dat Hy daaraan gaan hang tot Hy sterf. Hy is God en kon besluit om dit nie te doen nie, maar tog het Hy as mens dit deurgevoer. Vir ons! Dit is nie swakheid nie!

Meekness is power under control. Dit is soos ‘n sterk man wat ‘n klein kindjie versigtig optel. Hy is versigtig al het hy krag. Dit is krag en gesag wat onderdanig is aan goedheid, eerder as reg.

Sagmoedigheid is om met goedheid op te tree, eerder as met reg. Om reg te wees is nie ‘n vrug van die Gees nie, maar om goed te wees, ís. Om jou krag en gesag te onderwerp aan goedheid en eerder sagmoedig op te tree, al verdien iemand dit nie, is ‘n vrug van die Gees.

Dit is ook Genade!

Lees:

Gal.5:22-26

Mediteer:

  • Hoe definieer ek sagmoedigheid?
  • Wat is die verskil tussen reg optree en sagmoedig optree?

Bid:

Jesus dankie vir die vrug van die Gees wat kragtig deur U gevloei het om vir ons ‘n voorbeeld te wees van hoe ons ook uit U Gees kan leef om sagmoedig te wees waar dit nie verdien word nie. Help my asseblief om eerder uit die vrug van die Gees te leef as om besig te wees met ander planne en perspektiewe. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar krag onder beheer.

Aanbidding:

Gentle Healer – Casting Crowns

Dag 3: Resultate

In die Nuwe Testament sien ons dat sagmoedigheid verband hou met regstellende aksie. Tog dink ons dat regstellende aksie straf moet in sluit. Sagmoedigheid is juis om vir iemand dit te gee wat hulle nie verdien nie, om hulle in nederigheid reg te help. Sagmoedigheid het ‘n eindpunt ingedagte.

“Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom” (Gal.6:1).

Sagmoedigheid se doel is om iemand reg te help, heel te maak, perfek te maak. Maar dit is meer as dit. Dit is om iemand toe te rus, sodat hulle kan funksioneer soos wat God hulle gemaak het. Dit is om só met mense te werk dat daar bekering kan plaasvind; om ‘n persoon te bemagtig om hul roeping in Jesus Christus uit te leef.

“Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2Tim.2:24-26).

Wat hierdie wêreld nou die meeste nodig het, is Christene wat hulle opinies oor mense onderdanig maak aan God se opinie oor daardie mense!

Lees:

Gal.6:1

2 Tim. 2:24-26

Mediteer:

  • Verstaan ek wat genade is?
  • Kan ek na ander kyk soos wat God hulle sien?
  • Hoe bemagtig ek ander rondom my?

Bid:

Here vandag vra ek dat U my sal help om mense te sien soos wat U hulle sien. Ek neem ‘n besluit om U opinie oor ander hoër te ag as my reg op opinies. Ek onderwerp my opinies aan U. Ek nooi U om deur U Gees vir my te openbaar wat U sien en sê, sodat ander na U toe kan draai. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Mense kom tot bekering, wanneer hulle God se gentleness in my beleef!

Aanbidding:

All Because of Mercy – Casting Crowns

Dag 4: In Verhouding

Wat beteken hierdie skrif uit Matteus 12:20 vir jou?

Ons kan net gee wat ons het. As ons nie God se sagmoedigheid en goedheid beleef nie, nie geanker is in Hom nie, kan ons dit nie vir iemand met opregtheid aanbied nie. Hy is die Bron van ons vrug.

“To love another person is to see the face of God” - Victor Hugo

Met ander woorde, dit is om God te sien en te ervaar, Sy liefde te ontvang, dat ons Sy liefde kan uitgee. Ons het nodig om in verhouding met Hom te staan, sodat ons goeie vrug kan lewer. In Sy lig, sien ons lig!

In hierdie wêreld is dit maklik om iets wat geknak is, uit te pluk en eerder te fokus op dit wat nie geknak is nie, of regop staan. God se fokus is egter nie om jou uit te sny of te verwerp as gevolg van jou verkeerde keuses of slegte dinge wat met jou gebeur het nie. God sien jou nie as geknak, vuil of onnuttig nie. Inteendeel, Hy sien jou na die potensiaal wat Hy jou gemaak het. Sy geduld met jou raak nooit minder nie. Hy gee nie op op Sy opinie en doel vir jou lewe nie!

Lees:

Mat.12:20

Jes.42:3

Mediteer:

  • Wat soveel mense nodig het, is nie my kommentaar of opinies nie, maar ‘n gees van sagmoedigheid, sodat hulle God kan beleef.
  • Geestelike volwassenheid word aan die vrug gemeet.
  • Ontvang ek sondaars of vang ek hulle? Hoe voel die wat ek uitvang? Is hul nader, of verder van God se opinie?
  • As ek sondaars vang, sit ek hulle saggies neer, of smyt ek hulle neer?

Bid:

Vader, dankie vir U sagmoedigheid, U liefde vir my. Dankie dat U genade vir my oorvloedig is en daarom kan ek U liefde, sagmoedigheid en genade uitleef na almal om my.

Bonus: Spreek Lewe!

Genade is die inspuiting en sagmoedigheid is die naald. Grace is the end, gentleness is the means!

Aanbidding:

Chosen – Matthew West

Dag 5: God se fluistering

In 1 Konings 18 lees ons van die kragtige dade wat God deur Elia gedoen het. Maar in 1 Kon.19 verander die storie heeltemal. As gevolg van die trauma waardeur Elia is, reageer hy uit vrees, asof niks van die vorige hoofstuk wat die krag van God gewys het, gebeur het nie. Sy riet is bietjie geknak. Die wonderwerke wat gebeur het, het hom goed genoeg gemaak, maar toe slegte dinge gebeur, het hy soos 'n mislukking begin voel, nie goed genoeg nie. Hy wou nie meer leef nie.

Hoe reageer God toe? God is besorg oor stukkende mense!

God sorg vir Elia. Daarna kan Elia vir 40 dae en 40 nagte stap om by die berg Horeb uit te kom. Dan, wanneer Elia in soveel vrees en emosionele pyn sit, nooi God hom in Sy teenwoordigheid in. God wys vir Elia ’n geweldige sterk wind wat rotse geskeur het, ’n aardbewing en vuur. Maar God was nie in die magtige sterk wind, in die aardbewing of in die vuur nie. Daarna was daar ’n sagte gesuis, 'n sagte fluisterstem. Elia het besef dit is God wat praat (1Kon.19:4-12).

Elia verwag God se krag en het dit al beleef, maar dan wys God hom dat krag ondergeskik is aan goedheid. God praat met Elia en herinner hom aan sy roeping. God gee vir hom 'n doel en hy weet wat volgende moet gebeur. Dit gebeur in die windstilte. Met hierdie sagmoedigheid van God is Elia toegerus met alles wat hy nodig het om te wees wie God hom geroep het om te wees.

God se sagmoedige stem wag vir jou in die stilte, om jou heel te maak, saggies reg te maak en om jou te herstel om te wees wie Hy jou gemaak het om te wees.

Lees:

1 Kon. 19:4-12

Mediteer:

  • Is God jou toevlug wanneer jy soos ’n geknakte riet voel?
  • Stel jy jou in om God se sagte fluistering te hoor?
  • Is daar iets wat jou weerhou van wie God jou geroep het om te wees?

Bid:

Vader, ek word nou stil om my ore en my hart in te stel om U sagte fluistering, U woorde van sagmoedigheid en bemoediging te hoor...

Bonus: Spreek Lewe!

Dit is wanneer ons gevestig is binne God se diep liefde, dat ons die kanaal kan wees deur wie God se liefde na ander vloei.

Aanbidding:

Still Small Voice – Breakaway Music