Go Deep 10 Mei 2026

‘DIE GEES-INTERSEKSIES IN JOU LEWE’

Neville Goodchild

Hoe mis ons God se wil?

Dag 1: Die goeie, welgevallige volmaakte wil van God

‘En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.’ Rom. 12:2 (Afr. 53 Vertaling)

Jesus het ons die perfekte voorbeeld van God se wil en orde gegee. Hy is gedoop en daarna het die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus kom sit. Nadat Jesus gedoop is en gedoop is met die Heilige Gees het Jesus met Sy bediening op aarde begin. Jesus is eers op dertig jarige ouderdom gedoop, alhoewel Hy nie sonde gehad het nie. Het u al gewonder hoekom Jesus eers op dertig gedoop is? Na Jesus se doop was Hy deur ‘n veertig dae van afsondering, vas en gebed. Net daarna was dit die begin van Sy aardse bediening. Jesus het met Sy opvaarding aan die dissipels gesê om in Jerusalem te gaan wag vir die gawe van God, die Heilige Gees. Nadat die Heilige Gees uitgestort is op die dissipels van God sien ons dat hulle bediening begin het.

Dit is die orde wat ons in die Woord sien.  BEKERING – DOOP – DOPING MET DIE HEILIGE GEES – BEDIENING. Daar is uitsonderings wat in die Woord voorkom, waar die orde bietjie omgekeer is, maar bekering is altyd eerste. Wanneer ons in gehoorsaamheid hierdie stappe volg is ons in ons Christelike baba skoene. Ons is pasgebôre tot die geestelike wêreld en die volgorde van dinge word duidelik vir ons uitgelê. Hier neem ons ‘n geloof besluit om Jesus aan te neem en daarna volg ons die stappe in gehoorsaamheid. Terwyl ons hierdie stappe van gehoorsaamheid volg groei ons in ons verhouding met God en word ons wese verander en ons denke vernuwe. In verhouding met God leer ons nou wat die welgevallige, goeie en volmaakte wil van God is.

Vandag was daar verskeie mense gedoop by Lewende Woord en daar is ‘n groot opgewondenheid oor elke dopeling wat besig is om gehoorsaam in geloof te wandel. Elkeen is besig om te groei tot volwassenheid in hulle verhouding met God. Soos wat ons onsself neerlê, ons gedagtes rig op Jesus Christus en die volmaakte werk wat God in ons gedoen het, deur genade en liefde, ontdek en leer ons wat die volmaakte, welgevallige en perfekte wil van God is.

LEES:

Rom. 12:2

Mediteer:

  • Dink terug aan die begin van u eie pad as Christen. Onthou jy hoe maklik alles was en hoe die volgende stap so duidelik was? Die tyd wat ons babatjies in die geloof is, gee die Here duidelike riglyne en speel gehoorsaamheid ‘n baie belangrike rol. Soos ons in gehoorsaamheid wandel groei ons geloof.
  • Dink oor hoe jou geloof gegroei het en versterk is, soos wat jy God leerken het in jou Christelike wandel.
  • Christelike groei is 'n proses wat aangaan tot ons eendag sterwe. Groei u steeds?

Bid: 

Dankie Vader dat U my toegevou het en beskerm het toe ek as Christelike baba op my pad van wedergeboorte begin het. Dankie dat ek in gehoorsaamheid elke stap van wedergeboorte kon volg en in die proses U kon leerken en nader aan U kon groei. Dankie vir vergifnis van sonde en U volmaakte plan. Dankie dat U my lei by die opritte op na die hoofpad van geestelike lewenswandel. Help my om elke dag my oë op U te hou en op die geestelike pad van Christenskap te bly. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Ek wandel in U goeie, welgevallige en volmaakte wil.

Aanbidding:

Doen slegs U wil Heer/ Ek weet verseker/ Saggies en teer/ Here ons sal U loof – Juanita du Plessis   

Dag 2: Oor-vergeestelik besluitneming

Oor-vergeesteliking van besluite kan daartoe lei dat ons die oprit mis na ‘n geesvervulde lewe en persoonlike verhouding met God.

Ek kry sommer ‘n beklemming as ek dink aan besigge verkeer en om die aansluiting by die hoofweg oppad na jou bestemming te mis. Tyd speel gewoonlik ‘n baie belangrike rol in besluitneming. Geleenthede kom en gaan om geesvervuld deel te neem aan ons allerdaagse lewe in die koninkryk van God. Dit sluit goed in soos om die telefoon op te tel en iemand te bel wat die Here op jou hart lê, wat bemoediging nodig het of net ‘n Woord van God af; om sommer daar waar iemand met jou deel, hande te vat en saam te bid; om iemand te gaan besoek wat siek is; om ‘n skuif te maak ten opsigte van werk en woning; in die opvoeding van ons kinders, om tyd met hulle te spandeer; vriendskappe en wat ons toelaat in ons lewe en verhoudings; tyd in gebed en om God se Woord te lees.

Oor-vergeesteliking is wanneer ons ‘heavenly minded and earthly no good’ word. (Craig Groeschel)

Daar is baie besluite en keuses waarvan die antwoord voor-die-handliggend is. Ons moenie mis dat ons wel in ‘n natuurlike wêreld leef nie en daar is alledaagse goed wat moet gebeur. Ons moet wysheid toepas. Nie elke besluit wat ons moet neem het ‘n teken van God nodig, soos  in Gideon se geval nie. Hy het vir God gevra dat die velletjie moet onder nat en bo droog wees en toe weer vra hy dat die grond moet droog wees en die velletjie alleen moet nat wees. God het dit in daardie situasie gedoen, maar ons kan nie in elke situasie dit van God verwag nie. Mense doen baie keer dit om die verantwoordelikheid van besluite en die werk van om in die geloof te wandel, te ontduik. Nou hoef hulle nie verantwoordelikheid te vat nie en God blameer as goed nie uitwerk soos wat hulle gedink het nie. Baie keer in ons geestelike lewe het ons nie duidelike antwoorde nie en moet ons op ons geloof en ons persoonlike verhouding met God staatmaak. Dit is hier waar baie mense die oprit mis lewe en al langs die hoofweg van ‘n geesvervulde lewe en persoonlike verhouding met God aan ploeter.

'Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. '

MATTHÉÜS 12:39 

‘n Boek wat ook hierdie konsep aanspreek is, ‘How to ruin your life by 40.’, deur Steve Farrar.

Lees:

Mat 12:39

Rigters 6 tot 8

Mediteer:

  • Hoe neem jy besluite, soek jy elke keer na ‘n teken of duidelike bevestiging voor jy aan beweeg?
  • Het jy al geleenthede gemis of selfs verkeerde besluite geneem omdat jy ‘n “teken” gevolg het?
  • Dink aan kere waar jy nie gehoor het nie, maar tog in geloof gewandel het volgens die vrede wat jy beleef het. Hoe het dit uitgewerk?

Gebed:

Dankie Vader vir verhouding met U, dankie dat U my leer en onderrig. Vader help my ook om in geloof te begin wandel, waar ek moet besluite neem sonder ‘n duidelike bevestiging van U.  Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ons as regverdiges wandel volgens geloof en nie deur sig nie.

Aanbidding:

There was Jesus - Zack Williams, Dolly Parton

Dag 3: Oor-analiseer

Die ander manier om God se wil te mis is om alles te wil verstaan. Mense sê hulle kan nie ‘n besluit maak voor hulle nie alles verstaan nie. Hulle hou vas aan hulle kennis en eie insigte. God nooi ons nie na ‘n plek van verstaan nie, maar eerder na ‘n plek van verhouding waar ons in geloof en vertroue ‘n pad stap.

Daar is baie goed wat verwerp word omdat mense dit nie verstaan nie. Die doel van die aspekte van Christenskap was nooit om verstaan te word nie, maar dit is deel van die proses van redding en wedergeboorte wat mens nie sal verstaan as jy nie eers in gehoorsaamheid gewandel het daarin nie. Dit is soos die doop, praat in tale en doping met die Heilige Gees. 

'En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek. '

HEBREËRS 11:6

Ons moet met geloof na God toe gaan. Ons eie kennis en teorieë kan ons weghou van die waarheid. Die Woord waarsku reeds in die tuin van Eden vir Adam en Eva oor die boom van kennis.

' Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. '

SPREUKE 3:5-6

Verstaan beteken nie noodwendig saamstem nie. Gehoorsaamheid lei ons na volwassenheid en dan lei dit tot geloof.

Lees:

Heb. 11:6

Spr. 3:5-6

Mediteer

  • Wil jy ook eers alles verstaan en moet alles eers sin maak voor jy deelneem of ‘n besluit neem?
  • Paulus praat van dit in een van sy briewe. Hy noem dat die dinge van die Gees is onsin vir die wat in die wêreld is en dat die dinge van die Gees nie in die natuurlike verstaan kan word nie.
  • Is daar dinge wat jy lankal reeds weet jy moet doen of aan deel neem, maar jou oor-analisering en poging om alles te wil verstaan, hou jou weg van deelname?

Bid: 

Vader ek besef dat ek ook gekies het om nie deel te neem aan sekere woord beginsels nie omdat ek dit wou uitredeneer in die natuurlike. Help my om U woord te ken en om blindelings met geloof U woord opdragte en beginsels te volg. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Geloof behaag Vader!!!

Aanbidding:

Ek Soek U O God, my God/Soos ‘n Wildsbok – Louis Brittz

Dag 4: Ken God deur Jesus Christus te ken

'Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? '
JOHANNES 14:6-9

Ken in die skrifgedeelte is jada (is afgelei van die Hebreeuse woord Yada) en dit beteken om intiem ken. Dieselfde woord is gebruik om te beskryf wat gebeur het toe Adam en Eva intiem verkeer het. Die Woord sê dat die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword … (Gen.4:1). Deur intiem te ken word ‘n hele nuwe geslag voortgebring.


Ons kan net werklik glo as ons God intiem leer ken en verhouding bou. Gister het ons gelees dat Christelike volwassenheid word gesien in geloof. Ek faal as ek nie in geloof kan wandel nie. Ons moet wandel in die geloof. God wil sy kinders Seuns maak. Geregtiges wandel in geloof.  Kinders van God wandel in die geloof. God die Vader wil ons seën.

Die beginsel is dat ek nie kan bid vir ‘n oop deur oor ‘n toe Bybel nie. Ek moet God leer ken uit Sy Woord en Sy wil ken, om in verhouding met God te wandel. Ek moet die Christelike lewe in gehoorsaamheid wandel en dan sal ek God intiem leer ken en sal dit my geloof aktiveer.

Wanneer ek God intiem ken en lief het, weet ek dat Hy is ‘n goeie God en glo ek dat Hy “my het”, maak nie saak wat gebeur het en wat die omstandighede is nie. Ek glo vas in my hart en het ‘n vaste wete dat God goed is en dat Hy my liefhet, daarom glo ek dat alles sal ten goede vir my meewerk.

Die ander kant van die munt is dat ek God se wil heeltemal kan mis, as ek Hom nie ken nie en elke keer as iets ‘verkeerd loop’ in my lewe, God verdink en beskuldig. Ek sal God se Vader hand mis en ook Sy liefde en goedheid. God verander nie, maar my perspektief verander afhangende van my verhouding met God.

Lees:

Joh. 14:6-9

Heb. 11:6

Spr. 3:5-6

Gen. 4:1

Mediteer:

  • Besin oor jou verhouding met God en dink oor die laaste moeilike situasie waardeur jy gegaan het.
  • Hardloop jy in ‘n moeilike situasie na God en soek Hom in vas, gebed en Bybel lees; saambid met gelowiges en God vertrou vir ‘n uitkoms; onderrig en leiding van jou geestelike leier? Bid jy vir die gawe van geloof wanneer jy dit kortkom? Of maak jy jouself toe vir God en is jy kwaad, omdat dinge nie uitwerk soos wat jy dit wou hê of beplan het nie?
  • Die Woord sê dat ons in die wêreld verdrukking sal beleef. Goed gaan nie altyd net uitwerk nie.
  • Bou jy jou huis op die vaste rots van verhouding en geloof in God?

Bid:

Dankie Abba Vader, Jesus Christus en Heilige Gees dat U ‘n goeie God is en dat U altyd net die beste vir my en U koninkryk in gedagte het. Ek soek ‘n intieme verhouding met U Vader in Christus Jesus. Help my om in geloof standvastig te wees in elke omstandigheid en vas te glo in U. Help my om in verhouding en geloof te groei deur tyd te spandeer in vas, gebed, Bybel lees en gemeenskap van gelowiges. Dankie dat ek kan bid vir ‘n gawe van geloof as die lewe gebeur en ek oorweldig voel. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Alles werk ten goede vir die wat Hom lief het, wat in verhouding staan met Vader.

Aanbidding:

Casting Crowns – Good, Good Father (Official Live Performance)

Dag 5: Gaan dan….

'Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. '
PSALMS 32:8

Hierdie was die skrifgedeelte van die reeks. Die skrif beskryf ouerskap wat daarop gemik is om ‘n kind te help om groot te word en selfstandig en volwasse te word. Ouers gee ondersteuning en liefde, raad en onderrig, maar op die einde van die dag moet die ouer die kind toelaat om te gaan en dan word die rol meer ondersteunend. Die Here onderrig en leer ons aangaande die weg wat ons moet gaan. Die vraag is waarheen moet ons gaan?

' Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.'
MATT. 28:19-20

Ons moet gaan na ons wêreld met die evangelie van redding en ander ook help om tot bekering te kom, dissipels te word, gedoop te word en die Heilige Gees te ontvang.

'En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 'HAND. 2:38
Ons het die Heilige Gees ontvang wat ons helper is en wat ons toerus met krag en goddelike wysheid en insig. Die Heilige Gees help ons om in die geestelike realm te funksioneer en om in verhouding met God te staan. Met die Heilige Gees word ons toegerus om in oorwinning te leef en te heers in Christus Jesus.

Volgende week begin ons met ‘n reeks oor die ses belangrike beginsels van seiljagvaart. Die Heilige Gees is soos die wind wat waai en wat bymekaar gemaak word in die seile van die boot, om dit vorentoe te stoot. Ons gaan uitvind wat hierdie ses beginsels is en hoe ons dit van toepassing maak op ons Christelike lewenswandel. Ons gaan ook die werking van die Heilige Gees beter leer verstaan aan die hand van hierdie beginsels. Moenie dit misloop nie.

Lees:              

Ps. 32:8

Matt. 28:19-20

Hand. 2:38

Mediteer:

  • Maak nie saak waar jy in jou Christelike lewenswandel is nie, elkeen van ons is besig om te leer om te gaan na die nasies en om die goeie nuus te versprei met die hulp van die Heilige Gees. Dink oor waar jy jouself nou geestelik bevind. Is jy besig om deel te neem en om Christus se opdrag te gehoorsaam in geloof?
  • Raak stil en laat toe dat die Vader deur die Heilige Gees jou onderrig en leer oor die weg waarop jy moet gaan.
  • Laat toe dat die Heilige Gees jou lei.

Bid:

Dankie Vader dat ek in persoonlike verhouding met U kan staan in Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees. Dankie Vader dat U ‘n baie unieke wil vir my lewe het. Help my deur U Gees om volwasse te word deur gehoorsaamheid en om in geloof te gaan op die weg wat U vir my wys. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Abba Vader, U voorsien in alles wat ek nodig het om in gehoorsaamheid en geloof ‘n geesvervulde lewe van oorwinning te leef. U Heilige Gees lei my met die goeie nuus na die wêreld om my.

Aanbidding:

Ascend Worship| Come Holy Spirit (Deep Soaking Prayer Song| Spirit Filled Atmosphere)