Wat die wêreld nou nodig het!
Neville Goodchild
Dag 1 Katalis vir verandering
Ons het baie beskrywings oor wie God is, en dis reg so, Hy is nie verniet Almagtige Skepper, Vredevors en Heerser nie. Hy vervul nie verniet verskeie rolle in ons lewens nie. Ons moet ook onthou dat God ʼn katalis is vir verandering.
In wetenskap is ʼn katalis iets wat ʼn reaksie laat plaasvind. Dit is nie bloot ʼn aanstoker nie, dit ontkiem as’t ware ʼn reaksie wat daarsonder nie sou plaasvind nie en bring iets nuuts na vore.
Op Sondag is baie mense gedoop, oud en jonk. Almal van hulle het ʼn keuse uitgeoefen om die Katalis van Lewe in hulle lewens in te nooi en te vra om verandering te weeg te bring. In ʼn doopbad in die vorm van ʼn kruis skud hulle die ou self af en ʼn nuwe Geesgedrewe mens kom uit die water. Ons sien dat die emosies diep loop in party se gesigte. Hierdie is nie iets alledaags nie, dis ernstige Geesgoed.
Die res van die gemeente sing “Only You can”, “I will sing of the goodness of God.”
Dit is belangrik dat ons iets soos die doop meemaak, saam inasem want ons sien hoe God lewens op ʼn nuwe trajek plaas. Elke mens wat uit daardie water opstaan is ʼn getuienis van wedergeboorte.
Romeine 6:4 (The Voice): “Therefore, we were buried with Him through this baptism into death so that just as God the Father, in all His glory, resurrected the Anointed One, we, too, might walk confidently out of the grave into a new life.”
Wat die wêreld nou nodig het is wedergebore gelowiges wat nuwe lewens leef omdat hulle deur die Gees gelei word. Jesus leer Nikodemis hierdie belangrike les in vandag se leesstuk, Johannes 3. Wedergeboorte is ʼn transformasie van ʼn lewe. Die ware Katalis bring verandering mee in ʼn lewe. Sonder dit sou daar nie ʼn reaksionêre gevolg wees nie. Maar nou dat ons ons sonde bely het, gedoop is en die Gees ontvang het, is ons lewens intens verander. Ons groei op alle vlakke van ons lewens, is die vrug van die hierdie Gees, tot God se verheerliking.
Lees
Mediteer
Is daar iemand in my naby omgewing wat nodig het om die vrug van die Gees in my te sien?
Gebed
Vader God, Heerser en Koning van alles, dankie vir die onskatbare waarde van U ingryping in ons lewens. Nie net laat U U Seun sterf vir ons sondes nie, maar U gee ons die geleentheid op aarde om deur U Gees gelei te word. Amen
Spreek Lewe
Ek is wedergebore, vernuut, ʼn katalis vir verandering en nou gaan ek die Koninkryk uitbrei met die hulp van die Heilige Gees.
Aanbidding
Love like this – Lauren Daigle
Dag 2 Selfbeheersing
Galasiërs 5:22-23 :”Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.”
Ons het bostaande nou al verskeie weke gelees en tóg is daar soveel lering hieruit. Paulus praat van die vrug van die Gees in enkelvoud. Dit is so bedoel. Die vrug waarvan hy praat is natuurlik liefde. Al die ander eienskappe van die liefde volg daarna as ʼn manifestasie van hierdie vrug (liefde) en eindig met selfbeheersing.
Net soos ʼn boom een soort vrug dra, het die Koninkryk van God net een vrug: liefde. Wanneer ons in liefde leef, leef ons ook God uit. 1 Johannes 4:16 (NIV):” And so we know and rely on the love God has for us. God is love. Whoever lives in love lives in God, and God in them.”
So hoe kan selfbeheersing ʼn mens help om hierdie liefde uit te leef? Eerstens het selfbeheersing meer met ons self te doen. Dit is nie soos byvoorbeeld vriendelikheid wat meer met ons optrede teenoor ander te doen het nie. Dit begin binne myself waar ek verantwoordelikheid neem vir my eie begeertes. Dit is hier in die enjinkamer van ons lewens waar ons maak of breek besluite neem wat gevolge dra vir ons eie lewens maar ook ons kinders, vriende en gemeenskap beïnvloed.
Die Griekse woord vir selfbeheersing is enkrateia en beteken om effektiewe beheer (power) oor jou eie instinkte en begeertes te hê. Die stamwoord, kratos, beteken letterlik krag. Wanneer ons hierdie krag binne ons het, is ons formidabel genoeg om nee te sê vir die self. Selfbeheersing is teken dat die Gees in ons woon en mense wat dit toepas kan lewens red vir die Koninkryk. Hoekom kan ons so sê?
Die wêreld kyk na gelowiges en soek óf redes om deel van die Koninkryk te word óf redes om weg te loop van Jesus. Ons voorbeeld van selfbeheersing is dus krities om ʼn voorbeeld te wees sodat mense wat nie in verhouding staan met God nie se opinie oor Christene positief is.
Selfbeheersing gaan nie net oor die onderdrukking van vleeslike begeertes (sensual appetites) wat negatief is nie. Dit gaan ook daaroor dat ons dit wat ons doen met uitmuntendheid doen, veral as daardie stem in die kop sê dat hy of sy nie nou lus is om dit te doen nie. Dit is wanneer die gelowige deur die Gees in staat is om op te staan en leierskap ten toon stel om te doen wat gedoen moet word.
Lees
Mediteer
Waar in my lewe is dit nodig dat ek die Gees moet vra om my te help om meer selfbeheersing toe te pas?
Gebed
Vader, dankie dat ek deur U Gees gelei word om selfbeheersing toe te pas en dat dit tot U eer kan wees. Dankie dat my selfbeheersing ʼn positiewe bril vir nie-gelowiges kan wees en leer my om dit meer en meer toe te pas. Amen
Spreek Lewe
Ek is nie alleen nie, ek het enkrateia, selfbeheersing deur die hulp van die Heilige Gees.
Aanbidding
Seph Schlueter– Counting my Blessings
Dag 3 Die Vrug van die Gees as Geskenk van God
Het jy al iemand gehoor sê dat hy of sy totaal beheer verloor het? Dalk het hy so kwaad geraak dat hy iemand geslaan het, dalk was sy so onder druk dat sy iemand met haar woorde diep gekwets. Om jouself oor te gee aan enige passie, gevoelens of aksies is ʼn teken van ʼn gebrek aan selfbeheersing.
In Galasiërs 5:16-17 verduidelik Paulus dat die Heilige Gees ons wegdraai van ons vleeslike (sinful) begeertes en draai om God se mooi werk te doen. Ons is nie meer onder die wet nie, ons is vry en omdat ons vry is, gee die Gees ons die karaktereienskappe van Jesus. Ons kan lief hê, ons kan geduldig wees, vriendelik wees. Ons spieël die goedheid van God terwyl ons vreedsaam is en met selfbeheer optree. Die vrug van die Gees is ʼn geskenk van God en soos ons groei en leef in die geloof, leer ons dat ons aan God behoort en dat ons daagliks in die Gees kan wandel.
In die teks hierbo is dit ook baie duidelik dat daar ʼn tweestryd is tussen ons ore wat nie sommer weggaan wanneer ons tot bekering kom nie. Die stryd is tussen twee realiteite en ongelukkig probeer die slegte kant om ons geestelike energie te annekseer. In 1 Timotheüs 6 (vandag se leesstuk) moedig Paulus vir Timotheüs aan: “Fight the good fight of faith...” Dit geld vir ons ook. Die stem wat teen die Gees stry sal altyd in ons kop wees, maar meer belangrik as dit, die Gees gaan nooit weggaan nie. Hy is daar vir ons. En dit is belangrik om te weet dat die vlees ʼn vuilspeler is, dit gaan jou verras van tyd tot tyd. Dit is hier waar ons die Gees moet vra om oor te neem en ons te help om die vleeslike behoefte te onderdruk. As ons nie selfbeheersing toepas nie, oorheers die vlees en veral in die sensuele aard van ons lewe verander normaliteit na perversiteit. Dis nie nodig om te verval in goed wat ons weet vleesverband het nie.
1 Korintiërs 10:13 is baie duidelik oor versoekings. God sal nie toelaat dat ons versoek word op ʼn manier wat ons nie kan hanteer nie, meer nog, Hy help ons ontsnap as’t ware. God is die Weg en die Waarheid. Ons kan ook sê God is die Uitweg wanneer ons versoek word.
Lees
Mediteer
Wat gaan my go-to plan wees wanneer ek in versoeking kom?
Gebed
Vader, rig my lewe dat my refleksie U sal verteenwoordig hier op aarde. Ek wil nie net ʼn goeie mens wees nie, ek wil ʼn U mens wees. Ek besef dat ek versoek sal word, maar in U naam Here, deur U Gees, sal ek daarvan vrykom. Amen
Spreek Lewe
Ek is in beheer van my self, want die Gees is in my span.
Aanbidding
Katy Nichole en Naomi Raine – My God Can
Dag 4 Wat Veertig dae in ʼn Woestyn Vandag vir ons Beteken
Vandag se leesstuk is Mattheüs 4 en dit is verreikend. Het jy al ooit gewonder hoekom hierdie deel van Jesus se storie in die Bybel opgeneem is? In die Afrikaanse vertaling van 1953 sê die Gees het Hom weggelei in die woestyn in sodat Hy verlei kan word. Hierdie was dus ʼn plan, nie sommer ʼn kom-ons-doen-dít-want-dit-klink-goed lukrake gedagte nie. Dit is ʼn Goddelike plan wat noukeurig uitgewerk is.
Ons moet ook hierdie tyd in Jesus se lewe in ag neem. In Mattheüs 3 lees ons dat Johannes die Doper vir Jesus doop. Vers 16-17:”En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ʼn duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.”
Jesus is dus nou vervul met die Gees en reg om werklik met Sy werk af te skop. Terloops, in Hoofstuk 5 begin Hy sy dissipels werf.
Dit bring ons by die vraag. Hoekom is Jesus in die woestyn in gelei? God weet baie goed hoe ons as mense verlei word deur vleeslike begeertes. Daarom moes Jesus vir ons die voorbeeld stel sodat ons kan weet dat dit moontlik is. Veertig dae sonder kos en water in ʼn woestyn en daarna Satan wat in jou oor fluister met verskillende versoekings. Jesus se lippe moes sekerlik gebars wees, Sy keel droog sodat Sy stem dalk rasper. Ten spyte hiervan spreek hy die verleier elke keer met baie sterk woorde en karakter aan. Hy weet waar Hy geanker is. Hy sal nie val vir ʼn vleeslike begeerte nie. Jesus is die toonbeeld van selfbeheersing, ons voorbeeld.
Sodra ek en jy gedoop is, word ons vervul met die Heilige Gees en kan ons ook soos Jesus uit die water opstaan en met selfvertroue leef, want ons is nou soos Jesus. Romeine 6:29 bevestig dit weer (Living Bible).
“For from the very beginning God decided that those who came to him—and all along he knew who would—should become like his Son, so that his Son would be the First, with many brothers and sisters.”
Ek en jy, Jesus se broer of suster het die krag van die Heilige Gees om alles wat ons geestelikheid aanval teen te staan.
Wat die wêreld nou nodig het is gelowiges wat soos Jesus uit die woestyn gekom het en deur die Gees die versoeking kan weerstaan. Ons selfbeheersing gaan ander mense na Jesus lei. Kom ons doen dit.
Lees
Mediteer
Jesus het opgestaan uit die water en die Gees ontvang. Dit beteken dat ons, na die doop, dieselfde tot ons beskikking het.
Gebed
Vader, dankie vir Jesus se voorbeeld. Help ons altyd onthou, in watter omstandighede ook al, dat U Gees teenwoordig is om ons te versterk. Amen
Spreek Lewe
Ek is ʼn kind van God, ʼn broer of suster van Jesus.
Aanbidding
Praise the Father, praise the Son - Hillsong
Dag 5 Mens teen Wêreld en Vlees
Lesers sal saamstem dat die wêreld waarin ons leef nie maklik om te weerstaan nie. Alles is so vinnig. Soms is dit positief: wanneer jy met iemand ver wil gesels kan jy jou foon optel en hulle gesigte dadelik sien. Soms is dit negatief: ons word oorweldig, amper bedwelm, deur allerhande advertensies wat ons waardes uitdaag. Wat ons het is nie goed genoeg nie. Dit daag ons selfbeheersing uit: “You deserve more.” Natuurlik daag dit ook ons sensuele lewe uit en moet ons veral waak teen pornografie wat selfs op kinders gerig is. As volwasse mense maklik kan val vir sulke goed, hoeveel selfbeheersing gaan ons kinders hê. Maak seker dat jy weet wat hulle kyk.
Ek dink dit is maklik om te sien dat die mens sonder hulp nie teen die wêreld se uitlokking en vlees versoekings sal kan staan nie. Ons het hulp nodig.
Spreuke 25:28: “ʼn Afgebreekte stad sonder muur, so is ʼn man wat sy gees nie kan inhou nie.” In die tye van Salomo moes ʼn stad homself kon beskerm deur mure rondom dit te bou. Hy tref so ʼn goeie vergelyking tussen iemand wat sonder selfbeheersing leef; dis iemand wat oop is vir aanvalle. So ʼn iemand is moeilik om mee huis te hou. Sulke mense se standpunte is belangriker as hulle verhoudings en sukkel ons om liefde by hulle te sien.
Ons innerlike stadsmuur se naam is Selfbeheersing en by ons in die stad is die kragtigste Stem wat ons muur beskerm, die Heilige Gees. Ons het in die vorige dae gelees dat God ons niks sal laat deurgaan wat ons nie kan oorkom deur die Gees nie. Ons moet leer om dit te beoefen sodat ons dit kan glo. Aan die ander kant mis ons ook uit op geleenthede om uitnemendheid uit te leef. Ons gebrek aan selfbeheersing laat die Gees nie toe om ons vorentoe te vat nie. Na ʼn lewe van fokus, intensionaliteit en energie.
Die Heilige Gees is nie net kragtig wanneer wonderwerke moet gebeur nie, maar Hy is ook ons innerlike krag. Kratos. Krag. Inspirasie krag. Dryfkrag. Mense wat hierdie kenmerke deur die Gees bloot stel, lei ander tot die Koninkryk. Sulke mense is wat die wêreld nou nodig het. In Galasiërs 5:25 (NIV) staan daar:” Since we live by the Spirit, let us keep in step with the Spirit.”
Hoe meer ons selfbeheersing uitoefen met die Heilige Gees se hulp, hoe meer kom ons in pas met die Gees en hoe meer doeltreffend gaan ons in hierdie wêreld wees. “Let’s face it,” die wêreld het doeltreffende Geesmense nou nodig.
Lees
Mediteer
Hoe in pas is jy met die ritme van die Gees?
Gebed
Vader, help my om elke dag meer en meer in die ritme te kom van die pas wat die Heilige Gees vir my gee. Amen
Spreek Lewe
Die wêreld het my, die mens met selfbeheersing, nou nodig.
Aanbidding
Glory - Casting Crowns