Go Deep 06 Oktober 2024

WAT HIERDIE WERELD NOU NODIG HET!

Neville Goodchild

 

Dag 1: Inklusief

Hoe moet ek as Christen optree? Die wêreld kyk na Christene se optrede en beoordeel daarvolgens of Christenskap sin maak. Christene sukkel met Christenskap en om te verstaan hoe om ‘n Christen te wees, wat om te doen en wat om nie te doen nie. Dit is egter belangriker om ons fokus en perspektief te draai na hoe ek as Christen, God se Koninkryk wil verteenwoordig, eerder as om na die negatiewe te kyk van dit wat ons of ander nie regkry nie. Om te fokus op alles wat verkeerd gedoen word, bring ons nie by die regte antwoord nie, en dit help ons nie om die regte dinge te doen nie. Inteendeel, ons bly dan onvrymoedig en onseker. Ons voel onbekwaam en nie toegerus nie.

In die ou dae het God deur Sy profete gepraat, maar in die Nuwe Testament (dit is nou), praat Hy deur Sy Seun. Daarom luister ons nou vir Hom. Dit is God se keuse om in hierdie dispensasie deur Jesus Christus te praat.

Jesus Christus het die wet vervolmaak. Hy is die enigste Een wat dit kon regkry, en daarmee saam het Hy vir ons ‘n nuwe wet kom gee. Dit is die wet van die liefde. Dit gaan nie oor alles wat ons probeer regkry en self-pogings nie. Jesus nooi ons nie uit na ‘n dieper geestelike vlak nie. Inteendeel, Hy waarsku dat nuwe stelle reëls maar net weer ‘n nuwe tipe van die Fariseërs is. Dit word naderhand geestelike hoogmoed.

In God se Koninkryk groei dinge en is daar inklusiwiteit. Daar is goedheid en genade. Dit is wat liefde doen. Die vrug van die Gees is liefde!

Wat hierdie wêreld nou nodig het, is nie nóg reëls en nóg regulasies nie, maar insig en ‘n openbaring van die liefde wat daar in Christus is.

Lees:

Gal.5:22-26

Mediteer:

  • Wat beteken dit dat God se Koninkryk inklusief is?
  • Hoe leef ek hierdie ingesteldheid uit?

Bid:

Vader, dankie dat U gekies het om deur U Seun te praat en dat ek nou U goedheid en genade kan beleef. Help my asseblief om ‘n nuwe openbaring van U liefde te kry hierdie week en om U nuwe wet van liefde in my lewe te begin uitleef. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Liefde vergaan nooit nie!

Aanbidding:

Love of God – Brandon Lake & Phil Wickham

Dag 2: Dit gaan nie oor die boom nie

Daar is baie goeie goed in hierdie lewe, maar nie alles is Geestelik nie. Baie haal Skrif aan, en hou vas aan een of ander Skrif om ‘n idee te bevestig, maar dit is nie die volle waarheid nie. Net omdat ‘n teksvers aangehaal word, beteken dit nie dat iets Geestelik is nie.

Ons word deur God se Gees toegerus om te onderskei en dit is nodig vir ons om te kan onderskei. Só, word ons nie meegesleur deur allerhande lering en dogma nie. Hoe moet ons dan weet of iets eg is of werklik Geestelik? ‘n Boom word aan sy vrug geken (Mat.12:33). Ons kyk daarom na die vrug. Ons observeer nie hoe goed die boom lyk nie, maar hoe die vrug van die boom lyk. Dit is die maatstaf wat Jesus Christus vir ons leer.

Jesus loop verby die vyeboom, en omdat daar nie vrug aan is nie, vervloek Hy die boom en dit vrek net daar (Mar.11). Jesus leer ons dat die boom sonder vrug nie sin maak nie. Dit is onnodig en oorbodig. Enige instellings of sisteme in ons lewens wat sonder goeie vrug is, is onnodig, dit beteken niks en kom tot niks. Dit het geen bestaansreg nie.

Dit is daarom belangrik dat ons begin oplet na die dinge wat God sê vrug is in ons lewens: Liefde: blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing!

Lees:

Gal.5:22-26

Mediteer:

  • Watter Geestelike vrug is daar in my lewe?
  • Watter vrug is daar in die wêreld uit die WWJD bandjies?
  • Is daar enige instellings in my lewe wat geen Geestelike vrug dra nie?

Bid:

Vader, ek wil graag goeie Geestelike vrug in my lewe hê. Help my asseblief om te fokus op die ware dinge waarop dit neerkom en om nie oneffektief te wees met instellings en allerhande dinge wat onnodig is en tot niks lei nie. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het God se Gees en daarom fokus ek om Geestelike vrug in my lewe te dra!

Aanbidding:

Holy Spirit Living Breath of God – Keith & Kristyn Getty

Dag 3: Goedheid is Geestelik

Goedheid is ‘n vrug van die Gees:

  • Goodness – virtue or beneficence:
  • The quality or state of doing or producing good
  • The quality or state of being beneficent (so that others can benefit)

Om goed te doen is ‘n bewys of lewer ‘n bewys van jou karakter, dit waaruit jy saamgestel is.

Paulus was opgesluit in die tronk, waar hy nie meer kon werk, die boodskap verkondig en kerke kon plant nie. Tog sien hy daar in die slegste omstandighede, die Goddelike waarde in die slaaf Onesimis raak en red sy lewe (Filemon 1). Onesimus word daarna ‘n sterk kerkleier. Die gewig van Paulus se karakter is geopenbaar deur die vrug in Onesimus se lewe.

Jesus het die potensiaal in Petrus raakgesien. Nadat Petrus Jesus drie maal verloën het, herstel Jesus hom en Petrus se lewe begin sin maak.

Dit is hierdie goedheid wat die vrug van die Gees is, waaraan die boom geken word. Dit bepaal hoe goed die vrug in jou lewe is. ‘n Mens kan nie goed wees uit skuldgevoel of uit enige emosie nie. Jy kan nie volhoubaar goed wees uit emosie of besluite nie. Goedheid wat Goddelik is, kom van die krag van die Gees binne jou wanneer jy toelaat dat die Heilige Gees deur jou werk. Dit lewer daarna nóg goeie vrug.

Goedheid kom van God af, want God is goed! Sy goedheid ken geen einde nie!

Wat hierdie wêreld nodig het, is gelowiges wat goedheid verstaan!

Lees:

Ps.15:1-5

Mediteer:

  • Dit is tyd dat ons ontslae raak van spiritualiteit en begin verstaan wat goedheid is!
  • Gelowiges word gekenmerk aan hul goedheid eerder as om reg te wees.
  • Goedheid hou ‘n voordeel vir die wêreld in.
  • Om regtig Geestelik te wees, stel ander in staat om te floreer!

Bid:

Vader, dankie vir U goedheid in my lewe. U liefde en trou, U genade in my lewe maak dat ek my lewe aan U wil wy en U goedheid en guns uitleef na ander. Dankie vir goedheid as vrug in my lewe en dat dit ander se lewens verryk om verder goeie vrug te lewer.

Bonus: Spreek Lewe!

God se goedheid volg my al die dae van my lewe!

Aanbidding:

Goodness of God – Jenn Johnson

Dag 4: Vriendelikheid is Geestelik

Om die goedheid van God uit te leef, is een van die eenvoudigste maniere waarop ons kan wys dat God goed is. Ons kan vertrou dat die Heilige Gees ons vol maak om die goedheid van God deur ons vry te stel. God wil déúr ons goedheid aan die wêreld bewys, sodat die wêreld Hom kan ken en dien.

Wanneer ons sukkel om God se goedheid uit te leef, beleef ons konfrontasie binne onsself, omdat dit ‘n verlore geleentheid vir God word. Dit is daarom nodig dat ons ons hande uit ons sakke haal en vergeet om te probeer onderskei tussen reg en verkeerd. Ons moet eerder fokus daarop om te doen wat goed is in die oë van die Here!

Wat is dit om goed te doen? Dawid skryf van die loving kindness of God, nie omdat hy kwalifiseer nie, maar omdat hy aan die ontvangkant is van God se goedheid en barmhartigheid. Hy sê God se kindness het sy lewe getref, en gered!

Jesus het met vriendelikheid Petrus se lewe verander, sodat Petrus die goedheid van God kon beleef en herstel is in sy verhouding met God. Paulus het met vriendelikheid Onesimus se lewe verander en sy waarde bevestig, sodat ander die goedheid van God deur Onesimus kon ervaar. Vriendelikheid as vrug van die Gees loop hand aan hand met God se goedheid.

Laat mense ook sê dat hulle God se goedheid ervaar deur ons lewens. Dat ons vriendelikheid hulle op ‘n nuwe plek bring; dat God hulle raaksien en goedgesind is en red wanneer hulle met ons te doen kry!

Lees:

Ps.15:1-5

Mediteer:

  • Hoe kan vriendelikheid ander se lewens op ‘n Geestelike vlak raak?

Bid:

Vader, dankie vir vriendelikheid as ‘n Geestelike vrug. Dat dit oor meer gaan as net om ‘n glimlag te gee of iemand te groet. Kom kweek binne my die waarde van vriendelikheid sodat ek dit as Geestelike vrug kan uitdeel aan ander rondom my. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

His kindness leads us to repentance!

Aanbidding:

You Are Good – Kari Jobe

Dag 5: God se stof

In Genesis 1 lees ons dat God alles gemaak het en gesien het dat dit baie goed was. God kies die woord ‘goed’ bo ‘perfek’ of ‘great’. Goed dui op die weefsel of die stof waaruit alles gemaak is, uit God se stof. Perfek of great verwys na prestasie (performance). Hierdie goedheid van God openbaar vir ons die fundamentele stof waaruit ‘n Gees-vervulde lewe bestaan. Wanneer ons goed doen, vind ons vervulling daarin, omdat die Gees van God aan die werk is.

“Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?” Mat.12:5

Jesus verduidelik in Mat.12:5 dat die priesters wat die wet oortree deur op die sabbat te werk onskuldig is! Die wet sê dat jy nie op die sabbat mag werk nie, maar omdat die priesters uit goedheid bedien, is hul onskuldig in God se oë. Dus, leer ons hier dat reg of verkeerd nie swaarder opweeg teen om goed te doen nie. Reg of verkeerd kies, is nie geestelik nie, maar om goed te doen, is!

Wat? Dit is belangriker om goed te wees as reg? Dit daag nogal ‘n mens se perspektief op Christenskap uit, né? God sê dat Hy barmhartigheid bo offers verkies (Mat.9:13).

Goodness reveals the essence, the substance of a spirit-filled life!

Lees:

Gen.1

Mat.12:1-5

Mediteer:

  • Wanneer dié wat onskuldig is in die oë van die Here, aangekla word omdat hulle barmhartig optree eerder as reg, dan kan God se fundamentele karakter nie vir hierdie wêreld gewys word nie.
  • Ons dryf vir reg/verkeerd, is dieselfde dryf wat Jesus Christus gekruisig het.
  • ‘n Reël kan nie bo ‘n mens se toekoms of lewe geplaas word nie.

Bid:

Vader, jammer dat ek dikwels probeer onderskei tussen reg en verkeerd om meer Geestelik te probeer optree. Ek besef dit is alles eie werke en nie Geestelik nie. Help my asseblief om uit U Gees te leef, en U goedheid aan ander uit te leef, sodat ek ‘n Gees-vervulde lewe kan leef en vir die wêreld kan gee wat die wêreld nodig het; sodat ek U vir hierdie wêreld kan gee. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het God se Gees en daarom leef ek die goedheid van God uit na hierdie wêreld en sien baie goeie vrug rondom my!

Aanbidding:

Kindness – Steven Curtis Chapman

Lovingkindness – Matt Redman, Matt Boswell, Matt Papa, Keith & Kristyn Getty