Go Deep 06 September 2026

GELOOF WAT ANDERKANT UITKOM

Neville Goodchild

DAG 1: KIES JOU WAARHEID

Daar is ʼn ritme in ons kerk en dit is nie veroorsaak deur musiekinstrumente nie. Deel daarvan is die uitnodiging om met oorgawe aan die lofprysing deel te neem. Iewers vandag raak die kerk stil, net instrumente wat sag in die agtergrond speel. Net Nico se kitaar? Neville bid. Dan hou ons Nagmaal. Gesinne staan saam in groepe, breek brood, drink die wyn en  bid saam. Dit is ʼn geloofsritme wat kinders veral so nodig het, maar ons ouer garde selfs meer. Ons moet gereeld konnekteer met ons Kragbron om die alledaagse probleme en aanvalle suksesvol teen te hanteer.

Ons leef in ’n wêreld waarin verskillende idees, waardes en waarhede voortdurend aan ons voorgehou word. As ons lank genoeg in ’n bepaalde sisteem leef, kan dit ons verwysingsraamwerk word sonder dat ons eers besef dat ons dit gekies het.

Geloof wat anderkant uitkom begin met ʼn keuse. Dit bly volhoubaar wanneer ons gereeld herlaai by Sy voete.

Daarom is geloof in Jesus Christus meer as om net Sy Naam te gebruik. Dit beteken om te kies dat die waarheid wat Hy gebring het, my waarheid word. Om Hom as Saligmaker te erken, te ontvang en te dien. Om my voete binne die waarheid van Sy Koninkryk te plaas en van daar af te leef.

Ons is geneig om dit wat ons as waarheid beskou te skuif sodat dit ons eie ideologie, of dit waarmee ons bombardeer word, te pas. Dit gebeur veral wanneer ons nie gereeld “incheck” met die Here nie.

Ons kan nie met een voet in die Koninkryk en een voet in ’n ander waarheid staan nie. Daar kom ’n punt waar ons moet kies: Watter waarheid bepaal hoe ons dink, leef en besluite neem?

Ons kies om in die naam van Jesus te leef. Dit is nie ʼn een-maal-nou-en dan-keuse nie. Dit beteken dat ons by ons Bron uitkom. Tyd spandeer. Moeite doen.

LEES:
Handelinge 4:12

MEDITEER:
Watter waarheid bepaal vandag my denke en my besluite? Het ek werklik gekies om my lewe vanuit die Koninkryk van God te leef?

BID:
Here Jesus, ek kies U. Ek kies U waarheid, U Koninkryk en U beginsels as my vertrekpunt. Help my om nie heen en weer tussen verskillende waarhede te beweeg nie, maar om met albei voete in U waarheid te staan. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!
Ek kies die waarheid van Jesus Christus. Ek leef vanuit die Koninkryk van God.

AANBIDDING:
Lord my soul is tired – Lauren Daigle

DAG 2: DIT GAAN OOR HOE JY EINDIG

Naas Botha is bekend vir sy woorde:” Die Curriebeker word nie in Maart al gewen nie.” Natuurlik was hy reg. Die begin van ‘n projek, ‘n nuwe seisoen, en ja, ons geloofsreis, is natuurlik baie belangrik. Hoe beter jy begin, hoe vinniger vorder jy. Maar dit is nie die hele storie nie.

In Prediker sê dit: “Die einde van ’n saak is beter as sy begin.” Die boodskap is eenvoudig: dit is nie net hoe jy wegtrek nie; dit is hoe jy eindig.

Dit is veral waar van geloof.

Ons kan almal sterk begin. Ons kan opgewonde wees, groot besluite neem en vol geloof voel. Maar die ware toets kom wanneer die pad ongelyk word. Wanneer die gewig van die lewe swaarder raak en daar nog ’n slaggat voor ons lê.

Dit is waar veerkragtigheid (resilience) en deursettingsvermoë belangrik word.

Soos ’n veerstelsel ’n voertuig help om die ongelyke pad te hanteer en telkens terug te keer na sy normale posisie, moet geloof ons help om onder druk te bly staan en weer op te staan.

Josef se lewe is ’n voorbeeld hiervan. Dink waardeur hy moes gaan as gelowige. Sy broers, sy eie broers, verkoop hom as ‘n slaaf. Hy word ‘n slaaf in Egipte, weg van sy mense, sy kultuur en sy plek van aanbidding. Potifar se vrou veroorsaak dat hy in die tronk beland nadat hy weier om sy morele beginsels prys te gee. Eers later kry hy die geleentheid om Farao se drome uit te lê, word hy bevorder en eventueel herenig met sy broers. Sy pad was nie maklik nie, maar hy het deurgedruk. Die belangrike vraag was nie hoe sy verhaal begin het nie, maar waar dit geëindig het.

Miskien lyk jou lewe of jou situasie vandag nie soos jy gehoop het nie. Dit beteken nie dit is die einde van die verhaal nie.

Die einde is belangriker as waar jy vandag is.

LEES:
Prediker 7

MEDITEER:
Het ek dalk moed verloor omdat ek te veel fokus op hoe dinge vandag lyk?

BID:
Here, gee my die genade om deur te druk. Help my om nie my huidige omstandighede as die einde van my verhaal te beskou nie. Laat my geloof anderkant uitkom. In die naam van Jesus,  Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!
My huidige omstandighede bepaal nie my einde nie. Ek sal deurdruk. My geloof sal anderkant uitkom.

AANBIDDING:

God was working while I was crying – Chris Stapleton and Lauren Daigle

DAG 3: JOU GELOOF HET ONDERHOUD NODIG

Geloof is nie iets wat soos Ouma se spoggerige eetstel net op die spesiale geleenthede uitgehaal moet word nie. Dis nie iets wat ons net op staat maak wanneer ‘n storm om ons koppe losbars nie. Geloof is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Geloof moet onderhou word.

‘n Ander woord vir hierdie tipe onderhoud is “verkwikking”. Om verkwik te word in hierdie konteks, beteken nie dat iemand heerlike koue lug op jou blaas in die somer nie. Dit is ook nie ‘n lekker bord kos as jy honger is nie. Dit gaan nie bloot daaroor om beter te voel of ’n blaaskans te neem nie. Ons moet ons batterye herlaai by die Bron van alle dinge.

Ons kan sterk wegtrek en later uitgeput raak.

Dit gebeur met Daniël. Hy was baie dapper omdat hy geweier het om op te hou bid. Sy geloof was sterk. Hy was besig met die regte ding. Hy word tussen leeus gegooi, maar God beskerm hom steeds. Later jare staan hy op die walle van die Tigris. Hy voel sonder krag. Hy is moeg en uitgeput. Hy het versterking nodig. Lees gerus in vandag se teks meer hieroor.

Dit beteken nie sy geloof was vals nie. Daniël was mens. Soos ek en jy.

Ons geloof het gereelde voeding nodig — in God se teenwoordigheid, in Sy Woord, in gebed, by die kerk, by ander gelowiges wat saam met ons bid. So word ons herinner aan waarom ons Hom gekies het, maar ons raak ook meer sensitief om Sy stem te hoor.

As ons nie verkwik word nie, word ons swak. En wanneer ons swak word, hoor ons makliker ander stemme.

Moenie wag totdat jou geloof uitgeput is voordat jy dit begin onderhou nie.

LEES:
Daniël 10:17–19

MEDITEER:
Hoe lyk die onderhoudsplan van my geloof tans? Waar kry ek gereeld nuwe krag?

BID:
Here, versterk my geloof. Help my om gereeld in U teenwoordigheid en in U Woord te wees. Wanneer ek moeg word, herinner my waarom ek U gekies het. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!
My geloof word versterk. Ek luister na die stem van die Here. Ek sal nie ophou nie.

AANBIDDING:

The Lion of Judah – Lauren Daigle

DAG 4: HOU JOU GELOOF VARS

Geloof kan nie vrot word soos groente of vrugte nie. Wanneer ons gered is, is dit vir ons gegee. Maar daar is maniere om ons geloof vars te hou. Jy ken daardie gevoel. Jy loop by daardie moeilike vergadering in, heeltemal verkwik in geloof, die Gees in jou en jy weet dat jy nou die regte goed gaan doen en sê. Of jy kry slegte nuus oor jou gesondheid, maar in jou hart is jy sterk, want jy weet wie in beheer oor siekte is. Dit is “vars” geloof wat in sulke omstandighede ons ondersteun.

Ons dink maklik dat geloof iets is wat ons eenmaal ontvang en dan net moet hê. Ons verwag dat dit moet “inskop” wanneer ons dit nodig het.  In gister se dagstuk het ons gefokus op geloofsonderhoud. Om geloof vars te hou, is dieselfde beginsel.

Hoe meer ons in ‘n siklus kom van Bid, Woord, Kerk, Gemeenskap met Gelowiges, Bid, Woord, Kerk ensovoorts, hoe varser is ons geloof, hoe meer verkwik is ons en hoe beter voorbereid is ons wanneer die lewe met sy terugslae gebeur.

“Life happens.” Dis so ‘n halwe bleek idee as dit jou lewensuitkyk is om maar net skouers op te trek. In realiteit kry almal iewers ‘n terugslag wat jou keel wil toedruk. Dis menslik. So ja, die lewe gebeur wel met almal, maar kinders van die Here het die gereedskap om dit met selfvertroue aan te pak saam met die Here.

Maar die feit is dat almal van ons iewers uitgeput raak, nie kans sien vir wat voorlê nie, leeg voel. Dit is wanneer ons terug in die siklus moet kom, want as ons eerlik is, gebeur hierdie moegheid wanneer ons nie genoeg tyd by die bron spandeer nie.

Ons kan nie verwag om sterk te bly as ons nooit weer stil word in God se teenwoordigheid nie. Ons moet gereeld terugkeer na die Woord, terugkeer na gebed en terugkeer na die waarheid wat ons aanvanklik laat glo het.

Miskien voel jy vandag moeg in jou geloof. Dit beteken nie jy het verloor nie. Dit beteken dalk net: dit is tyd vir onderhoud.

God wil jou nie veroordeel omdat jy moeg geword het nie. Hy wil jou verkwik, sodat jy weer kan aangaan.

LEES

Jesaja 40:31

MEDITEER

Waar het my geloof begin “afgaan”? Wat het ek nodig om my geloof weer te verkwik?

BID

Here, dankie dat U verstaan wanneer ek moeg word. Help my om nie weg te dryf nie, maar om weer tyd met U te maak. Verkwik my geloof en gee my nuwe krag om aan te hou. In die naam van Jesus, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

My geloof kry onderhoud. God verkwik my en gee my krag om aan te hou. Ek gaan anderkant uitkom!

AANBIDDING

You are my strength - Hillsong

 

DAG 5: Hoe wil jy jou Geloofsreis voltooi?

In Sameul 15 lees ons hoe sterk Saul begin. Gesalf as koning. Hy weet dat hy die Here aan sy kant het, Sy profeet langs hom. God het gepraat en Saul het met geloof uitgetrek. En God het die oorwinning gegee. Uitstekende begin.

Maar Saul het nie ’n geskiedenis gehad van tyd spandeer in God se teenwoordigheid nie. Sy geloof is nie onderhou nie. En toe hy swak geword het, het hy nie meer na God geluister nie. Hy het na die stem van sy manskappe geluister en God se opdrag ignoreer. Die gevolg is dat hy en Jonathan in die volgende oorlog hulle lewens verloor.

Dit is ’n goeie voorbeeld om te wys dat dit nie net genoeg is om sterk met geloof weg te trek nie. Ons moet geloof hê wat anderkant uitkom. En dit kom net met toewyding. Uithou, aanhou, vasbyt. Mense met sterk deursettingsvermoë het dit nie van die begin af gehad nie, hulle het dit stelselmatig opgebou. In geloofsterme, beteken dit om aanhoudend onsself te verkwik in God se teenwoordigheid deur Sy Woord, Sy Gees en gebed.

Die meeste sportsoorte vereis dat die atleet fokus op die spel. Dit wat tussen die ore gebeur, is baie belangriker as die dinge wat op die kantlyn afspeel. ‘n Langafstandatleet fokus op die pad voor hom of haar, nie op wat die toeskouers dalk skree nie. Die fokus bly op die wedstrydplan.

Hierdie skrywer het lank terug ‘n mooi storie oor twee boogskieters gehoor wat ook van toepassing is. Die twee is in dieselfde span, het dieselfde afrigter en dring deur na die finaal van die wêreldkampioenskappe. Die aand voor die tyd besoek die afrigter hulle altwee.

“Wat sien jy gebeur môre?” vra hy vir die eerste ou.

“Coach, ek sien hoe die mense vir my juig, ek sien die goue medalje oor my skouers, hoe bly my ouers is.”

“Jy gaan nie wen môre nie, my seun.” Die afrigter kyk na die ander een. “En jy, wat sien jy gebeur?”

“Coach, al wat ek sien is bullseye …”

Ons weet wie gewen het.

Wanneer ons gereeld by die Here tyd spandeer, ons geloof onderhou, word ons nie deur “side-shows” van stryk gebring nie. Dis hoe geloof aanhou en aanhou en aanhou.

God wil ons nie net sterk laat begin nie. Hy wil ons help om te volhard, om ons geloof te onderhou, te fokus op die waarheid en om vas te staan tot die einde.

Die einde is belangriker as waar jy vandag is.

LEES

Heb. 12:1-3

1 Samuel 15

MEDITEER

Na wie se stem luister ek wanneer ek moeg, teleurgesteld of onseker raak — God s’n, of die mense rondom my?

BID

Here, help my om nie net sterk te begin nie, maar om getrou te volhard. Hou my naby U wanneer ek moeg word, sodat ek steeds U stem sal hoor en nie deur ander stemme weggestuur word nie. Laat my geloof anderkant uitkom. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Ek sal nie net sterk begin nie. Ek sal volhard. Ek sal my geloof onderhou. Ek sal God se stem bly hoor. My geloof kom anderkant uit!

AANBIDDING:

Worthy – Stephen McWhirter