Die Geesvervulde Lewe
Neville Goodchild
Boat Trim
![]()
Dag 1: Vaar van punt A na punt B
Die doel van die lewe is nie om net nog ‘n jaar asem te haal en ‘n hart te hê wat aanhou klop nie. Dit is genade as dit gebeur, maar dit is nie waarvoor ons lewe nie. Mense wat tot bekering gekom het en daarna nie in verhouding met God groei nie, maar net godsdiens beoefen en saam met ander net slaafs agter die leier aanloop (soos ‘n trop skape agter die herder aan), stagneer in hulle geestelike lewe. Hulle kan nie vir hulleself dink en doen nie, maar volg die stelsel. Geestelik is hulle dan soos ‘n persoon wat siek en afhanklik is van ander om te eet, te bad, iewers te gaan of om besluite te neem. So persoon kan nie onafhanklik in hulle geestelike lewe funksioneer nie. Hulle haal net asem en hulle harte klop, maar hulle leef nie regtig nie.
Jesus het vir Petrus gesê dat in die laaste dae sal hy (Petrus) omgord word en gevat word waar hy nie wil wees nie. Dit het gedui op die dood waarmee Petrus God sou verheerlik. Sy onafhanklikheid sou van hom af weggeneem word en hy sou nie kon besluit oor sy eie lewe nie. (Joh. 21:18-19)
Daarom dat wedergebôre kinders van God nie anders kan as om in verhouding met God te staan nie. Jesus het gesê dat die koninkryk het in ons harte gekom. Elkeen moet dus sy eie belewenis hê en onafhanklik in hulle verhouding met God kan funksioneer. God het dit vir ons gedoen deur die Heilige Gees vir ons te gee met wedergeboorte. Waar die Heilige Gees is, is daar altyd beweging. Die ‘wind’ waai altyd in ons geestelike lewe en ons moet leer om die ‘wind’, die Heilige Gees krag, in ons lewens te kanaliseer en te gebruik om geestelik te groei en te beweeg van punt A na punt B. ‘n Geesvervulde lewe is ‘n lewe waar ons in verhouding met God staan en waar ons geestelik groei.
In Joh. 3:8 sien ons dat Nikodemus, ‘n skrifgeleerde en getroue geestelike leier, nie die dinge van die Heilige Gees verstaan nie. Hy is gefrustreerd, want hy besef dat alhoewel hy hom daarop toegespits het om die Woord te ken en dit uit te leef, mis hy iets. Hy sien iets by Jesus en sy volgeglinge wat hy nie verstaan nie, wat hy nie beleef nie en begeer om te beleef. Dit het te doen met die Heilige Gees en die werking van die Heilige Gees. Paulus skryf ook dat die dinge van die Gees is dwaarheid vir die vlees (1 Kor. 2:14). Dit beteken dat die geestelike dinge in die gees beoordeel moet word en dat ‘n mens die Gees van God nodig het om dit werklik te verstaan en te waardeer.
Indien ons dus die teorie van die Woord ken en toepas, maar ons het nie die Heilige Gees nie en staan nie in persoonlike verhouding met God nie, sal ons stagneer en dit sal dui om geestelike dood. Waar God betrokke is, is daar altyd groei, ontwikkeling en vooruitgang. As jy nou in jou geestelike lewe presies is waar jy verlede jaar was en die jaar voor dit, is daar nie groei nie en kan mens verseker weet dat jou lewe nie geesvervuld is nie.
LEES:
Mediteer:
· >Hoe sou jy jou eie geestelike lewe beskryf? Staan dit reeds vir lank stil, op dieselfde plek, of kan jy getuig van geestelike groei?
· >Kan jy getuig van beweging in jou geestelike lewe, jou verhouding met die mense om jou of selfs in jou besigheid?
Bid:
Dankie Vader vir U genade in ons lewens, dankie Vader vir U Gees wat ons persoonlik bedien en persoonlik aan ons U koninkryk visie wil openbaar. Vader kom leer my van U Geeswerk, leer my om gemaklik met U Gees se werking te raak, sodat ek U kan hoor en optree daarvolgens. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek is gemaak vir die Geeslewe!!!!!
Aanbidding:
Onder Sy Vlerke | Psalm 91:1-4 | Afrikaanse Aanbiddingslied

Dag 2: Waar jy sit maak ‘n groot verskil
‘n Mens wat nie bekend is met seilvaart en die reëls van seilvaart nie, sal outomaties aanneem dat die beste plek vir die seilvaarder sal wees by die roer van die seilboot om die boot te stuur. Met seilvaart is dit nie die geval nie. Die beste plek vir die seilvaarder is naby die mas in die middel van die boot, waar hy die meeste kontrole het oor die seile van die boot. Die seilvaarder lees die wind en pas dan die seile dienooreenkomstig aan om die wind krag die beste te gebruik om die boot na die bestemming te trek.
Passasiers op ‘n seilboot sal ook aangesê word om meer aan die neus van die boot se kant te wees, want as hulle bymekaar kom op die agterkant van die boot, wat die naaste aan die roer is, sal die gewig die neus van die boot uit die water lig en dan die neus van die boot in die wind druk. Die boot word dan heeltemal oneffektief en stagneer.
Die seilbootvaarder het ‘n verlenging wat gekoppel is aan die roer wat dit vir hom moontlik maak om in die middel van die boot te bly en nog steeds die boot te stuur. Die seilbootvaarder is dus op die plek waar hy die effektiefste die balans op die boot, die wind en die seile se posisie kan kombineer om die meeste spoed te genereer.
‘Boat Trim’ is die vierde ‘sailing essential’(belangrike beginsels van seilvaart wat in die opleiding van seilvaarders vir hulle geleer word). ‘Boat Trim’ is die beginsel wat bepaal dat die seilvaarder moet sy posisie behou by die mas en nie probeer om die roer te gryp en die boot te beheer en manipuleer nie. Indien die seilvaarder dit sou doen sou hy juis beheer verloor.
In ‘n geesvervulde lewe moet ons onsself ook op die regte plek posisioneer. Ons moet God vertrou en nie die stuurwiel van ons lewe so vasklem dat God ons nie kan stuur in die regte rigting nie. Ons moet leer om die Heilige Gees se stem te hoor en die werk van die Heilige Gees te identifiseer. Ons moet ook leer om die Heilige Gees werk in ons lewe toe te laat en ons lewe so te posisioneer dat ons maksimum groei en voordeel van die Heilige Gees werk in en deur ons lewe kan beleef. Die Woord sê dat ons nie onkundig moet wees oor die Geestelike gawes nie. (1 Kor. 12 en 14)
‘n Geesvervulde persoon sal nie ongeduldig word en beangs gryp om beheer te vat van situasies nie, maar toelaat dat die Heilige Gees in die situasies inkom en intree. So persoon sal in geloof wandel en weet dat God is in beheer. Die persoon sal die beginsel van ‘boat trim’ toepas en sorg dat hulle die beste posisie in hulle verhouding met God behou. God wil ons behendig maak in die Gees gawes en ons moet leer om in geloof beheer oor te laat aan God.
Lees:
Mediteer:
· >Dink na oor ‘n tyd in jou lewe toe ‘n klomp goed op een slag gebeur het en dit gevoel het of alles buite beheer is. Hoe het jy reageer? Het jy in geloof God aangeroep en beheer oorgegee aan Hom? Het jy die Heilige Gees werk in die situasie dopgehou en toegelaat dat die Heilige Gees gawes deur jou werk en vloei in die situasie?
· >Het jy uit vrees gereageer en oorreageer? Het jy besluit wat jy dink die uitkoms moet wees en jou wil op die situasie forseer? Het jy dalk die situasie probeer manipuleer en beheer en nie vir God ‘n geleentheid gegee om die situasie te bestuur nie?
· >Bestudeer die gawes van die Gees en dink oor hoe jy jou reaksie kan verander in situasies om God toe te laat om in beheer te wees en die Heilige Gees toe te laat om in jou en deur die Gees gawes die situasie optimaal te benut vir die koninkryk.
Gebed:
Pappa Vader dankie vir die Heilige Gees gawes. Help my Here om in die middel van die storm my fokus te hou op die Heilige Gees en om nie na die roer te gryp van my lewe en te wil beheer en manipuleer nie. Help my om in geloof te wandel en die situasie en uitkomste in U getroue hande te laat.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek wandel in geloof en vertoue dat God groter is as enige situasie en ek gee beheer oor aan Hom.
Aanbidding:
I Surrender – Hillsong Worship

Dag 3: Verstaan jou roeping en uitverkiesing
'Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. ' II Pet. 1:10
Ons is almal uitverkies. God het die mensdom gekies om hulle te red en te seën. Elke mens het egter die keuse om hierdie uitverkiesing van God hulle eie te maak.
Roeping het te doen met hoe gaan ek hier op aarde leef. Toe Jesus Christus opgevaar het, het God vir ons die Heilige Gees gestuur, wat ons bekwaam maak en kwalifiseer om die wil van God te kan doen. Ons roeping is om God se wil op aarde te doen deur in verhouding met God te leef en gehoorsaam die leiding van die Heilige Gees te volg; Heilige Gees vrug en gawes uit te leef.
Ons het gister gepraat van die ‘tiller extention’. Dit is ‘n toestel wat aan die roer verbind is en wat jy gebruik by seilvaart om in die middel van die boot te wees en steeds reg te kry om die boot te stuur. Jy bly dus in die beste posisie om die seile te stel, balans te reguleer, optimale spoed te bereik en in die regte rigting te vaar, deur gebruik te maak van die ‘tiller extention’. Jy hoef dus nie uit die beste/regte posisie uit te beweeg om by die roer uit te kom en om die boot te bestuur nie.
In ‘n geesvervulde lewe lyk dit soos in Handelinge 6:1-7 waar die apostels bewus word van ‘n sekulêre probleem in die kerk. Hulle is die leiers en hulle moet die probleem uitsorteer. Die probleem is dat die Griekse mense in die kerk voel ongelukkig omdat daar nie genoeg mense is om die Griekse weduwees en wese te bedien nie. Hulle besef dadelik dat dit is ‘n probleem wat moet aandag kry, maar indien hulle die funksie sou doen, sou hulle roeping skade lei. Hulle het wysheid van God gebid en die oplossing was om sewe dissipels, wie se lewens getuig het daarvan dat hulle geesvervulde kinders van God is, aan te stel om die funksie te verrig. Die situasie is bestuur en steeds het die apostels gebly in hulle posisie waar hulle hulle roeping optimaal kon uitleef. Dit is soos die ‘tiller extention’.
Dit is belangrik om te verstaan wat jou roeping is en watter situasies is buite jou mandaat. God sal jou wysheid gee hoe om dit te hanteer sonder om jou posisie waar jy geplaas is vir jou roeping, te verlaat. Mens kan net dink hoe dit sou gelyk het as die apostels probeer het om al die balle in die lig te hou. Hulle sou van bakboord na stuurboord gehardloop het en niks vermag het nie. Wanneer hulle die een probleem uitsorteer het, sou daar net weer ‘n paar ander opgeduik het omdat hulle nie op die plekke was waar hulle moes wees om hulle roeping te vervul nie.
Dit is waarop dit so belangrik is dat ons ons roeping en uitverkiesing moet vasmaak, sodat ons nie sal struikel nie.
Die uitkoms in Hand 6:7 spreek van die vrug wanneer mense hulle roeping en uitverkiesing vasgemaak het en weet om situasies wat hulle roeping bedreig, na God te neem.
'En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof. ' HAND. 6:7
Lees:
Mediteer:
· >Beleef jy dat jy in jou roeping staan en dat jy gefokus is op jou beste plek in die koninkryk volgens jou gawes?
· >Voel jy dat jy soms van bakboord na stuurboord rond hardloop en die heeltyd besig is om krisisse uit te sorteer of die heel tyd probeer om in beheer van elke situasie te wees wat die lewe na jou toe bring?
· >Is oorgee vir jou ‘n probleem? Wil jy nie gaan sit met pen en papier en elke sutuasie neerskryf wat jy voel jy het nie beheer oor nie of wat jou laat rond hardloop om self en in eie krag te probeer beheer en jy weet dit laat jou opstaan en weg beweeg van jou beste plek van funksionering volgens jou roeping en gawes.
· >Wil jy nou intensioneel elke situasie oorgee aan Vader en Hom vertrou om die uitkomste te bepaal?
Gebed:
Dankie Vader dat ek ‘n roeping op my lewe kan hê en dat u my gebruik volgens my gawes. Vader help my om nie rond te hardloop agter dinge aan wat my wegvat van my roeping nie. Help my deur U Gees se werking dat ek in elke situsie U wysheid sal kry om sonder om my posisie van vrede en krag te verlaat steeds die uitkomste van situasies kan stuur na oorwinning toe deur U absoluut in beheer daarvan te plaas. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
My krag en sterkte is in die stil wees en weet dat God by magte is om veel meer te doen as wat ek ooit kan bid of dink.
Aanbidding:
Brandon Lake, CeCe Winans – I Know A Name ( with CeCe Winans) (Performance Video)

Dag 4: Heilige Gees, vrug en gawes
Ons verstaan nou dat ‘boat trim’ by seilvaart beteken dat jy by die mas van die boot, in die middel van die boot, bly en die wind lees en doen wat gedoen moet word met die seile, roer, ‘tiller extension en balans van die boot, om die wind optimaal te gebruik en teen die optimale spoed te vaar.
In ons geestelike lewe beteken dit om vorentoe te beweeg, om te groei. Groei in geloof en verhouding met God. Groei in hoe ons die Heilige Gees en die werking van die Heilige Gees verstaan. Dit beteken dat ons toeneem in Heilige Gees vrug en gawes. Ek hou my by my roeping en staan nie verward op en hardloop rond soos ‘n afkop hoender wat hier vat en daar los nie. Nee, ek behou my posisie in Christus en leer om die Heilige Gees beter te identifiseer, te hoor en te volg. Ek laat toe dat God iemand oproep om ander situasies te hanteer of om my te onderrig in wat ek volgende moet doen.
'Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. ' II Kor.3:17
Die geheim is om nie te wil bestuur en beheer uit te oefen nie, maar om die wind te verstaan. Ons moet die Heilige Gees werking in en deur ons verstaan. Waar die Heilige Gees is daar is vryheid. Daar kan ons oorgee aan die Here en ons kan fokus op die Heilige Gees vrug en gawes.
Die Heilige Gees vrug dui op karakter (Gal. 5:22-23). Om die vrug van die Gees te dra beteken dat jy vir ‘n lang tydperk, konstant geoefen het om in God se teenwoordigheid te bly en toe te laat dat jou gedagtes vernuwe word en jou hart van klip vervang word met ‘n hart van vleis.
Die Heilige Gees gawes gaan oor funksionering (1 Kor. 12 en 14) van elke kind van God in die liggaam van Christus.
Die Heilige Gees vrug en gawes laat ons opnuut besef ons het God nodig in en vir alles. Dit stel my instaat om staande te bly in tyd van benoudheid. Ef. 6:13,17,18
Lees:
- Bestudeer die vrug en die gawes van die Heilige Gees. Bly in die teenwoordigheid van die Here.
- Vra dat die Here jou gedagtes vernuwe en leer om die Heilige Gees te herken en die werking van die Heilige Gees te begryp.
Bid:
Abba Vader dankie dat daar vryheid is waar U Gees is. Help my om te leer om U Heilige Gees meer en meer te ken en toe te laat dat die Heilige Gees deur my werk en in my werk. Vernuwe my denke en laat die vrug van die Gees duidelik word in my lewe en die Heilige Gees gawes deur my werk. Amen.
Bonus: Spreek Lewe
God is in beheer, daarom kan ek vry wees deur die Heilige Gees wat in my woon.
Aanbidding:
Josh Groban – You are loved (Don’t Give Up) (Official Music Video)

Dag 5: My ‘boat trim’ van my geestelike lewe is reg
Hoe weet ek dat my geestelike lewe se ‘boat trim’ reg is?
'Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebôre is. ' Joh. 3:8
# Ek raak betrokke by gees werk.
Ek identifiseer waar ek die meeste van die Heilige Gees en die werk van die Heilige Gees kan leer en kan groei in my deelname in die gees werk. Ek wil alles leer en prakties dit toepas om bekwaam en standvastig te wees in die werk van die Heilige Gees.
‘n Wegspringplek om die werking van die Heilige Gees te sien; te sien hoe daar vier wonderwerke gebid word en te sien hoe die gebede beantwoord word, is kleingroepe of selgroepe soos dit meestal bekend staan. Die kleingroepe is nie net ‘n plek waar ons iemand anders se voorbeeld kan volg en op hierdie wyse leer hoe die Heilige Gees werk nie, maar dit versterk ook die individu se geloof en hou elkeen by die selgroep verantwoordbaar vir hulle deelname en betrokkenheid. Dit help om gesonde dissiplines aan te leer om geestelik te groei. In kleingroepe is ons nie alleen nie en kan ons altyd as ons sukkel of struikel na mekaar kyk vir bemoediging en inspirasie.
# My betrokkenheid (posisie) maak ‘n verskil.
Elke persoon het ‘n spesifieke plek waar hulle gawes die liggaam van Christus dien. Die oomblik as die Heilige Gees gawes deur ons vloei en ons lewe vrug dra hoor ons die getuienisse van wonderwerke wat gebeur, mense wat tot bekering en wedergeboorte kom. Dit is duidelik dat iemand wat in die regte posisie is ten opsigte van hulle geestelike lewe, verstaan wie hulle in Christus is en wat hulle rol en bydrae is.
# My geestelike fokus het geskuif.
My geestelike fokus begin wegskuif van myself. In die begin wanneer iemand tot bekering kom en wedergeboorte beleef, moet die persoon nog baie leer en die fokus is hoofsaaklik op dissipelskap en om te leer van die basiese beginsels van Christenskap. Sodra ‘n kind van God in die gees begin wandel en verstaan wat hulle geestelike bydrae en funksie in die liggaam van Christus en in die Koninkryk van God is, skuif die fokus na die Heilige Gees en waar die Heilige Gees besig is en werk. My fokus skuif na wat die Heilige Gees deur my wil doen in die lewe van mense om my en in die Koninkryk. Solank as wat jou fokus op jouself bly en jy bly analiseer waar elke kinkel en kabel vandaan kom, kan daar nie geestelike groei wees nie.
Jesus Christus het net een antwoord vir bevryding en dit is wedergeboorte. Die dissipels het vir Jesus gevra hoekom die man blind was, was dit sy ouers wat gesondig het dat hy nou gestremd is. Jesus antwoord hom dat nie hy of sy ouers gesondig het nie. Hy sê dat die man blind was sodat God verheerlik kon word deur hom.
· >Hoor jy van wonderwerke wat gebeur, gebede wat verhoor word, bonatuurlike voorsiening, mense wat tot bekering en wedergeboorte gekom het en hulle laat doop, in die plekke waar jy deel is van die ligaam van Christus?
· >Kan jy identifiseer waarmee die Heilige Gees besig is en het jy al beleef dat die Heilige Gees gawes deur jou werk en mense na God trek?
· >Beleef jy dat jy op die regte plek is en dat die Heilige Gees gawes in en deur jou funksioneer?
Bid:
Abba Vader ek wil U na gees en waarheid dien. Ek wil meer leer van U Heilige Gees vrug en gawes in my lewe. Here U maak my bekwaam en gee my alles wat nodig is, sodat ek deel kan word van die werk in U Koninkryk. Abba Vader laat U Heilige Gees my lei om U te verheerlik en U Naam te verhoog. Dankie vir wonderwerke, bonatuurlike voorsiening, bekerings. Alleen deur U Heilige Gees is dit moontlik. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die gees wat God ons gegee het, die Heilige Gees, is nie ‘n gees van vrees nie, maar van liefde, krag en selfbeheersing.
Aanbidding: