Go Deep 04 Oktober 2026

OORTUIG VAN SY LIEFDE

Neville Goodchild

Dag 1: Liefde is ononderhandelbaar

Die enigste manier om ‘n lewe van stabiliteit te lewe is wanneer mens altyd en in elke omstandigheid oortuig is en bly, van God se liefde en goedheid.

Vir omtrent alle gelowiges is dit maklik om God te loof en prys as dit goed gaan. As dit goed gereën het, of hulle het iets ontvang waarvoor hulle gebid het en die omstandighede is goed, is dit vir ons almal maklik om God die eer te gee en seker te wees van God se liefde en goedheid.

Die lewe werk net nie so dat dit altyd goed gaan nie. Ons word baie keer gekonfronteer met moeilike omstandighede, gebede wat nie verhoor word nie, verkeerde goed wat ons gedoen het of verkeerde besluite wat ons in die moeilikheid bring. Dit is in hierdie tye wat party gelowiges begin twyfel in God se liefde en goedheid. Dit is ‘n ‘orphan spirit’. Ons sal later weer daaroor praat. Dit is wanneer jy dink dat God se liefde vir jou moet verdien word of dat jy iets verkeerd gedoen het en nou word jy deur God gestraf.

‘n Kind het nodig om te weet en seker wees van hulle ouers se onvoorwaardelike liefde. Liefde is ononderhandelbaar. Daar is niks wat hulle kan doen wat kan maak dat hulle ouers hulle nie meer liefhet nie.

Kinders mag dalk iets doen wat verkeerd is en die ouer pas tug (die vorm van dissipline wat die ouer gebruik) toe. Daar moet grense en reëls wees en dissipline moet toegepas word, maar dit verander nie aan die liefde van die ouer vir sy kind nie. Die ouer moet die boompie snoei terwyl hy klein is, dan sal hy nie van die regte weë afwyk as hy groot is nie. ‘n Kind moet weet dat daar niks is wat hy/sy ooit kan doen wat hom/haar van die liefde van sy/haar ouers kan skei nie.

As ons wat mens is ons kinders so liefhet dat al vang hulle wat aan dit nie ons liefde vir hulle in gedrang bring nie, net so maar baie meer is daar niks wat ons as Vader se kinders kan doen wat Sy liefde vir ons minder maak of hoegenaamd in gedrang kan bring nie.

 LEES:

Jer. 15:18-21 (AMPC)

Mediteer:

·       Die vraag sal wees, verstaan jy dit? Besef jy wat dit beteken? Aanvaar jy dat Vader se liefde nooit aangetas kan word deur die mens se sonde, onvermoë, mislukkings ens nie?

·       Twyfel jy soms oor Vader se liefde en goedheid?

·       Gaan jy outomaties na ‘n plek van skuld en twyfel in Vader se liefde as dinge nie goed gaan nie?

·       Probeer jy jou lewe lank om Vader se liefde te verdien?

·       Neem tyd en lees Jer. 15:18-21. Lees dit in die Amplified vertaling, oordink dit, maak dit jou eie.

Bid: 

Dankie Vader vir ‘n vars openbaring van U liefde. Dankie Vader dat U liefde nie afhang van my vermoë of onvermoë nie. Dankie Vader dat omsatandighede ook nie U liefde of karakter definieer nie. Vader help my om ‘n diep openbaring te kry van U onveranderlike, ononderhandelbare liefde vir my persoonlik.Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Niks wat ek doen of enige omstandigheid kan my van die onveranderlike liefde van Vader skei nie.

Aanbidding:

Chris Tomlin – Good Good Father ft Pat Barett  

 

Dag 2: Lewe van stabiliteit

In die boek ‘The Way of the Wild Heart’ deur John Eldredge, praat hy van die verskillende fases van manlikheid. Die doel van die verskillende fases waardeur die man in sy lewe gaan, bereik ‘n hoogtepunt wanneer die man op ‘n gesonde manier deur al die fases geaan het. Hy is dan gevorderd in die jare en al die kennis en vaardighede wat hy aangeleer het, kan hy weer  aan die jonger geslag oordra, om hulle weer te lei op hulle pad van gesonde  manlikheid. Dit is in hierdie fase van hulle lewe wat hulle maksimum impak kan hê en die waardevolste rol kan vertolk. John Eldredge noem hierdie fase van manlikheid ‘sagehood’. Dit beskryf iemand wat ‘n lewenslange reis afgelê het en baie wysheid, etiese standaarde, goeie regspraak en baie insig in die lewe bekom het.

Die beginsel kom eindlik uit die middel eeue (11de tot 13de eeu) waar jong soldate geleer was om te veg en die vegkuns bemeester het om in die weermag van die koning te gaan veg. Later word hierdie jong soldate ouer en is hulle meer ervare. Die wat uitgestaan het vir hulle goeie leierskap, heldedade en goeie vegmanskap is vereer deurdat hulle tot ridders (knights) beslaan is. Dit was ‘n groot eer. Die ridders wat oorleef en ouer word, word dan teruggehou van die vegveld af en naby die koning gehou, omdat hulle te waardevol word met al hulle kennis en ervaring om in die geveg verlore te gaan. Hulle is dan bevorder tot ‘sages’. Hierdie ‘sages’ het dan die jong soldate opgelei in vegkuns en al hulle kennis aan hulle oorgedra om die beste moontlike soldate van hulle te maak.

Die vyand se grootste prioriteit is om te keer dat mans deur hierdie fases van manlikheid gaan en hierdie baie kosbare fase, die klimaks van manwees bereik. Hierdie boek praat spesifiek van mans, maar dit is miskien meer op ‘n emosionele vlak vir vroue en dit is net so belangrik vir vroue om deur al die fases van vrouwees te gaan en om hierdie belangrike klimaks van vrouwees te bereik.

Die vyand se aanslag op mans en vroue kom in die eerste fase wat van geboorte tot ongeveer twaalf jarige ouderdom strek. Dit is die fase van die geliefde seun. God die Vader het ook vir Jesus, Sy seun gesê: ‘Dit is my geliefde seun in wie Ek ‘n welbehae het. Jesus het geweet dat hy is geliefd. Daar is niks wat ‘n kind kan bied om liefde te verdien of om te vergoed vir liefde nie. Dit is iets wat hulle net ontvang. In hierdie stadium moet hulle die sekuriteit ontwikkel dat hulle geliefd is en niks kan dit verander nie. Hulle kan dalk in die moeilikheid kom, maar die liefde is nooit in gedrang nie.

Die volgende fase is die ondekker fase waar die kind begin om grense te toets en bietjie meer te waag. Dit word weer beskryf as die ‘cowboy’ fase. As hierdie fase gesond is leer hulle weer dat daar is gevolge vir hulle dade, maar niks verander die liefde van die ouers nie. Dit gee hulle gesonde selfbeeld en waagmoed. Die grootste gruwel in hierdie fase is wanneer die grense onduidelik is en die kind beleef dat daar onsekerheid is oor die liefde en waar liefde in gedrang kom. Dit gebeur wanneer liefde onderhandelbaar is en onseker is.

Die volgende fase is die ‘warrior’ fase van vyftien tot sestien jaar waar die jongman sukses op verskeie areas van sy lewe moet behaal. Daar is nie meer vegvelde soos in die ou tye nie, maar daar is ander vegvelde. Hulle moet gesonde verhoudings bou met God en met mense. Hulle moet iets nastreef en sukses behaal. Dit kan wees op akademiese vlak of in die sportwêreld. Dit is belangrik vir gesonde manlikheid om deur hierdie fase te gaan. ‘n Man wat nie suksesvol deur hierdie fase gegaan het nie kan nie reg wees vir die volgende fase nie. Dit is die ‘lover’ fase . Hulle moet oorwinnings in hulle lewe beleef het en sukses behaal het. ‘n Man wat nie dit bereik het nie sal ‘n geknakte man wees.

Die volgende fase is die grootste deel van ‘n man se lewe en is die fase van koningskap. Dit is die fase waar hulle werk, trou, huis opsit, ouers word. Die konings wat dit maak word ‘sages’.

Die vyand val ons aan in die beginfases van ons lewens en al wat hy doen is om ons onseker te maak van onvoorwaardelike en ononderhandelbare liefde. Dit maak dat baie gelowiges onseker is en sukkel om besluite te neem. Hulle is onseker oor wat hulle moet doen en kan doen en probeer om liefde te verdien. Hulle moet altyd raad by ander vra omdat hulle nie seker is van die liefde nie.

Die enigste manier om dus nou ‘n stabiele lewe te kan lei is om verseker te wees van God die Vader se onvoorwaardelike liefde. Dit gee ons vrymoedigheid om besluite te neem en kanse te vat, want die liefde word nie bedreig nie. God se liefde is ‘n konstante van die begin van die skepping was God se liefde ononderhandelbaar, vas en volkome.

‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê;
soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
Joh 13:34  

'Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. '
I Joh 4:18

Lees:

Joh. 13:34

1 Joh. 4:18

Mediteer:

·       Wat gaan deur jou gedagtes as jy aan jou kinderjare dink, spesifiek van baie klein tot op 12?

·       Hoe het jy liefde beleef in jou huis en spesifiek van jou pa? Was dit seker en vas en onbedreig of was dit iets waarvan jy nie 100% oortuig was nie?

·       Hoe beleef jy die liefde van God, is jy sonder enige twyfel oortuig van God se onveranderlike liefde vir jou?

·       As jy met God praat kan jy Hom “Vader noem”?

·       Indien jy deur die woord van Sondag tot die besef gekom het dat jy sukkel met wonde wat deur jou belewenis met jou pa veroorsaak is en dat jy ook nou nie God se liefde as onvoorwaardelik kan aanvaar nie en jy het ‘n behoefte om met iemand daaroor te praat of om saam met iemand te bid, wil jy nie asb. met die kerkkantoor in verbinding tree nie en ‘n afspraak maak met iemand nie.

·       Kerkkantor: 060 835 4778

Gebed:

Dankie Vader dat U liefde ononderhandelbaar is, dat dit vas is en dat niks dit kan bedreig nie. Vader wil u deur U Heilige Gees vir my kom openbaar waar ek U liefde betwyfel of  getrouheid bevraagteken? Vader help my om ‘n nuwe openbaring te kry van U liefde.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is volmaak in God die Vader se liefde.

Aanbidding:

God is Liefde (Live) – Retief Burger

Dag 3: Liefde is funksioneel

Die liefde maak alles in die lewe funksioneel. Dit is hoekom Jesus die nuwe verbond bring wat Hy gebring het.

Enige volwasse persoon in ‘n huwelik of in ‘n volwasse verhouding sal begryp dat enige verhouding waar liefde onderhandelbaar is, maak ons lewens disfunksioneel. Dink net hoe ‘n verhouding sal wees waar jy een oomblik seker is van die liefde en net die volgende oomblik is jy onseker. Net so dan is die verhouding op risiko en word terme soos egskeiding met enige onderonsie ingegooi. Disfunksionele verhoudings onstaan waar die liefde nie seker is nie.

Alles hang af van die liefde. Die liefde is die een bestandeel wat redding bewerkstellig. So baie dinge in die lewe funksioneer alleenlik as liefde deel is daarvan. Ons het gister gesien hoe belangrik die liefde is in al die fases van manwees. Liefde is nie net ‘n bestandeel nie. Liefde aktiveer alles. Liefde is die basis. Ons geloofslewe begin met liefde. Die liefde van die Here het hierdie wêreld kom red en redding bewerkstellig. Liefde is die basis van alles.

Mense wil praat van wonderwerke en herlewing, maar dit kan nooit gebeur as die liefde uit plek is nie. Die liefde aktiveer alles.

‘n Man kan lyk soos ‘n gesonde, suksesvolle, vooruitstrewende persoon. Mense kan lyk of hulle alles het wat mens graag sal wil hê en hulle sal dit vertoon en uitstal. Mense kan ‘n perfekte prentjie skep, maar elke man weet dat die basis is liefde. Mens kan met gedrewenheid suskes opbou en formidable lyk, maar skielik kan alles verander. Onsekerheid kom in. Elke man weet dat die basis is liefde as jy ‘n nalatenskap wil hê en standhoudende verhoudings wil hê.

In die Ou Testament het God verskeie name, maar in die Nuwe Testament is God se naam Vader, Jesus se Vader, ons Vader. God word Vader genoem, want dit is net ‘n vader wat hierdie ononderhandelbare, onvoorwaardelike liefde kan gee. Dit is net God die Vader.

Ons kan wonderlike aardse ouers hê of minder oulike ouers, maar God wat ons Vader is het perfekte liefde en in die liefde is alles funksioneel en word alles geaktiveer.

Lees:

Heb. 11:1

Mediteer:

·       Is jy seker en oortuig van Vader se liefde vir jou?

·       Is jy oortuig dat Vader se liefde vir jou as mens, vir jou persoonlik, maak nie saak hoe jou verlede lyk nie, maak nie saak wat jy deur is nie of wat jy al aangevang het nie? Glo jy dat Vader se liefde vir jou is al vasgemaak, besluit is nog voor jy gebore is?

·       Hierdie is van kritiese belang omdat ek en jy net in rus kan ingaan en vrede beleef en ‘n absolute funksionele lewe kan lei as individu of as eggenoot of as ouer of vriend of as kind van God as ons in al hierdie verhoudings absoluut oortuig is van die liefde vir ons.

Gebed:

Dankie Vader dat ek absolute vrede kan beleef en sonder vrees kan lewe omdat ek absoluut oortuig is van U onveranderlike diep liefde vir my. Vader kom oortuig my elke dag van U diep liefde vir my. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Voor die grondlegging van die aarde het U my diep en innig liefgehad.

Aanbidding:

Chris McClarney – Valley (Official Lyric Video)

Dag 4: Jesus se liefde, nie myne nie!

Om hierdie beginsel te verduidelik gaan ons kyk van die vergelyking van twee dissipels se lewens. Die een het van die begin af gesnap dat dit gaan oor God se liefde en die ander dissipel het dit eers baie later ontdek toe Jesus Christus dit aan hom geopenbaar het.

Die een dissipel, Johannes, weet van die begin af dat dit gaan nie oor hoe lief hy God en sy Seun Jesus het nie, maar weet en aanvaar dat hy veilig en geborge is in God se liefde. Hy noem homself in die evangelie van Johannes telke male ‘die dissipel van Hy liefgehad het’ of ‘Sy geliefde dissipel’. Johannes verwys hier na Jesus se liefde vir hom, Johannes, en Johannes leef en tree op soos iemand wat weet dat Jesus hom baie lief het. Dit kan moontlik wees dat van die ander dissipels hierdie optrede van Johannes selfs as voorbarig kon beskou het of dat hulle dalk bietjie jaloers kon wees oor die verhouding. Dit is ook die rede hoekom Johannes by die laaste avondsmaal langs Jesus gelê het by die tafel, met sy kop by Jesus se hart. Dit word geskryf asof dit die norm was.

Die ander dissipel was Petrus. Op ‘n stadium het Jesus vir hom gesê gaan weg agter my vyand. Ons sien dat Petrus telke male wil wys dat hy Jesus lief het. Toe Jesus sê dat een van hulle gaan Hom verloën was dit Petrus wat wou weet wie dit gaan wees. Hy het dalk gewonder of dit hy is. Hy het nie die vrymoedigheid om vir Jesus te vra wie dit is nie, maar hy sê vir Johannes wat langs Jesus lê dat hy moet uitvind by Jesus wie dit is wat Jesus gaan verloën. Petrus voel asof daar ‘n onderskeid is en dat Jesus eerder vir Johannes sal antwoord as vir hom. Miskien dink hy dat Jesus liewer vir Johannes is en hom meer aanvaarbaar vind. Hy voel dalk dat hy nog nie genoeg gedoen het om met vrymoedigheid met Jesus te kan praat nie. Johannes is nie onseker oor die liefde van Jesus nie en weet dat Jesus se liefde is nie op die spel nie. Petrus verwar dissipline met liefde.

Ons sien ook die wedywering tussen Johannes en Petrus. Toe Maria vir hulle kom vertel dat die graf leeg is, het die twee dissipels na die graf gehardloop. Johannes het dit nodig geag om in die evangelie van Johannes pertinent te noem dat hy voor Petrus by die graf gekom het en Petrus het egter eerste in die graf ingegaan.

Petrus het verklaar dat hy sal sterf vir Jesus, maar Jesus het aan hom gesê dat hy Hom drie keer sal verloën voordat die haan kraai. Petrus se poging het nie eers 24 uur gehou nie. Na die kruisiging gaan Petrus terug na sy lewe voor Jesus, om te gaan visvang. Petrus het ‘n weeskind mentaliteit. Hy dink hy moet die liefde van God verdien en voel hy het gefaal.

Johannes wat weet dat God het hom lief is die enigste dissipel wat by die kruis staan voor Jesus se kruis, by Jesus se moeder. Johannes oorleef later ‘n aanslag op sy lewe waar die vyande van die evangelie probeer het om hom dood te maak deur  hom in kokende olie te gooi. Johannes oorleef die aanslag, maar is vermink en word na Patmos verban. Hier kry Johannes die openbaring van wat gaan gebeur soos dit opgeteken is in die boek Openbaring.

Die kosbare gedeelte is dat Jesus nie vir Petrus los in sy weeskind mentaliteit nie, maar weer aan die dissipels verskyn waar hulle besig was om vis te vang. Hy praat egter net met Petrus. Hy praat nie met die ander dissipels nie. Hy vra drie keer vir Petrus of hy Hom (Jesus) waarlik liefhet en dit is eers die derde keer toe Petrus antwoord ‘Here U weet alles. U weet dat ek U liefhet.’ Dit is hier waar Petrus besef dat dit gaan nie oor ons liefde en poging om God lief te hê en te dien nie, dit gaan daaroor dat ons ‘n openbaring moet kry van God se ononderhandelbare liefde vir elke mens. Daardie ‘elke mens’ is ook ek en jy. God het ons elkeen oneindig lief met ‘n volmaakte liefde en daarom het Hy deur sy Seun vir ons redding bewerk.

Nadat Petrus hierdie openbaring gehad het en sy kindskap van God die Vader gesnap het, het Petrus die mees dinamiese dissipel geword soos dit beskryf word in die boek van Handelinge in die Bybel.

Lees:

Jer. 15:18-21 (AMPC)

Joh. 20:3-20

Rom. 5:17

Mediteer:

  • Met wie assosieer jy, met Johannes of Petrus?
  • Het jy jouself al vergelyk met ander Christene en gevoel of gedink dat Vader het hulle defnitief meer lief as vir jou?
  • Onthou weer; God se liefde word nie gedefinieer in mense se omstandighede of rykdom nie, dit alles gaan verby. Vader het elke mens wat ooit op aarde gebore was en wat nog gebore gaan word lief met 'n liefde wat onbeskryflik is vir ons as mense. Hy het Sy Seun gegee sodat elke mens die geleentheid het om gered te word. Vader se liefde is voor die skepping reeds besluit en as ‘n onveranderlike vasgemaak.

Bid:

Dankie Vader dat U moeite gedoen het met Petrus om hom te oortuig van U onverdienbare liefde. Dankie Vader dat U  my ook so liefhet. Vader oortuig my steeds elke dag van U ononderhandelbare liefde totdat ek dit glo soos Johannes. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Ek is geliefd!!!!

Aanbidding:

Hosanna – Live from the Steps on the Temple Mount

Who You Say I Am – Hillsong Worship

Dag 5: Ononderhandelbare liefde van God vir alle mense

Romeine 8 praat van die liefde van God en hoedat niks enige gelowige van die liefde van God kan skei nie. Ek en jy kan dit aanvaar of ons kan dink dat dit is waar vir ander gelowiges, maar nie vir my nie. Baie gelowiges laat toe dat hulle verlede of goed uit hulle verlede hulle weerhou om te glo dat hierdie liefde van God vir hulle is.

Paulus skryf Romeine voordat hy nog ooit in Rome was. Hy skryf hierdie God geïnspireerde woorde deur die werking van die Heilige Gees, vir die gelowiges in Rome, omdat hy gehoor het dat daar gelowiges is. Paulus ken nie hulle geskiedenis nie en weet nie wat hulle gedoen het nie. Al wat hy weet is dat elke gelowige is ingesluit in hierdie vaste wete dat niks, en dit beteken niks, ons kan skei van die liefde van God nie.

Gaan lees Jeremia 15 vanaf vers 18  en veral die laaste gedeelte van  Romeine 8, want dit is ons huiswerk. Ek wil hier net in die volgende gedeelte uitlig dat niks ons ooit van die liefde van God kan skei nie.

'Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.'
ROMEINE 8:35-39 AFR53

As jy glo in Jesus Christus as jou verlosser en God die Vader is daar niks wat bestaan of ooit sal bestaan wat God se liefde vir jou kan verander nie. God het jou lief.

Lees:

Rom. 8

Jer. 15:18-21 (AMPC) 

Mediteer:

·       Gaan lees hierdie skrifgedeeltes en maak dit jou eie. Dit klink baie maklik om dit te sê, maar dit kan vir baie gelowiges baie moeilik wees, omdat hulle sukkel om liefde te gee en te ontvang.

·       Om seker te wees van God se ononderhandelbare liefde sal jou standvastigheid gee en dit sal jou aktiveer in die koninkryk van God.

·       Vra jouself of jy oortuig is van God se liefde vir jou en of dit jou aktiveer om lief te wees vir jouself en ander mense met God se liefde, soos die nuwe gebod sê.

Bid:

Abba Vader, Jesus Christus en Heilige Gees ek aanbid en eer U. Dankie vir liefde wat nie beskryf kan word nie en wat nie kan verander nie. Dankie dat U ‘n Vader en God is wat altyd goed is en altyd lief is. Verander my elke dag meer en meer in Christus Jesus om U liefde uit te leef in U koninkryk op aarde. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se ewige liefde is vir my. Ek rus in die Vader se liefde.

Aanbidding:

Don Francisco – I’ll Never Let Go Of Your Hand