Go Deep 17 Mei 2026

ONTMOET DIE GEES VAN GOD !

Neville Goodchild

Wie is die Heilige Gees en wat kom doen hy?

 

Dag 1: Meer as perspektief

Wanneer daar oor die Gees van God gepraat word, het elkeen van ons reeds ’n idee gevorm. Hierdie idee kan ’n konserwatiewe verwysing wees, waarin ons ernstig en stemmig raak wanneer ons oor God se Gees praat; of, aan die ander kant, ’n meer charismatiese siening — ’n uitbundige opgewondenheid oor die ongelooflike dinge wat gebeur waar God se Gees besig is.

Tradisioneel het mense dikwels ’n probleem met die Pinksterbeweging en verwys daarna as vreemd, bygelowig en gevaarlik. Die charismatiese beweging het weer ’n probleem met die tradisionele en verwys daarna as sonder lewe, sonder geloof en kragteloos. Daar bestaan dus teenstrydigheid binne die kerk oor die idee van die Heilige Gees.

In hierdie reeks gaan ons ontdek wie God se Gees is. Ons gaan die Persoon van die Heilige Gees ontmoet, die krag en toepassing van die Heilige Gees ontdek, en daardeur ook verstaan waarom ons in wese Christene is.

Wat wel belangrik is, is dat ons ons idees oor God se Gees — dit waarvan ons oortuig is dat dit waar en reg is — vir ’n oomblik opsy skuif, sodat ons kan toelaat dat God self aan ons openbaar wie Sy Gees is.

Dikwels dink ons dat chaos in mense se lewens hulle op hulle knieë bring. Dit kan gebeur dat God mense deur hulle chaos bereik, maar dit is dikwels kortstondig. Die oomblik wanneer dinge beter gaan, vergeet hulle van die Here en keer terug na hulle ou weë.

Wat mense egter werklik na Christenskap trek, is die werk van die Heilige Gees. Dit is die krag van die Heilige Gees wat lewens verander en wat mense aantrek — meer as Christenskap as bloot ’n godsdienstige oefening.

Dit is die tipe verhale waarvan ons in Handelinge van die Apostels lees — verhale wat mense se aandag onmiddellik trek en hulle oortuig dat hierdie die weg is.

Dit is uiteindelik die werk van die Heilige Gees wat Christenskap die moeite werd maak!

Lees:

Gen. 1:1-3

Gen. 2:7

Mediteer:

  • Wie is die Heilige Gees werklik vir my?
  • Het ek al werklik ruimte gemaak vir God om Homself aan my te openbaar?
  • Soek ek net godsdiens, of verlang ek na die werklike werk van God se Gees?

Bid:

Vader, ek kies nou om my idees oor U Gees — tradisioneel, charismaties of wêrelds — neer te lê en myself oop te stel om te ontdek wie U Gees is: die Persoon van die Heilige Gees, die krag van die Gees, die toepassing van die Gees in my lewe, en ook waarom U Gees dit vir my die moeite werd maak om ’n Christen te wees. U is God en U is ’n veilige plek vir my. Daarom nooi ek U om Uself hierdie week aan my te openbaar. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God gee vir my méér as net ’n perspektief oor Sy Gees — Hy openbaar Homself persoonlik aan my deur Sy Heilige Gees!

Aanbidding:

Holy Spirit – Jesus Culture

Dag 2: Die roete

In Hebreërs 1:1-3 lees ons dat God in die laaste dae deur Jesus Christus praat. Jesus, die perfekte afdruk van God die Vader, het in die vlees na ons toe gekom, en omdat Hy mens geword het, is Hy ons sterkste assosiasie met God. Ons vier Sy sterwe, opstanding en hemelvaart. Hy is ons tasbare openbaring van God die Vader. Vader sê: “Luister na Hom, dit is My Seun” (Mat. 17:5).

Jesus Christus het Sy lewe neergelê. Die straf van sonde het op Hom gekom, en Hy het weer Sy lewe opgeneem deur die krag van God, sodat ons gered kan word en ook kan lewe. Dit maak Hom ons Redder. Hy het vir ons versoening bewerk, maar ons kan dit slegs ontvang as ons Jesus Christus as ons Redder aanvaar. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

Het jy al by jouself gedink: Sou dit nie beter gewees het as Jesus net op aarde by ons gebly het nie? Sou dit nie fantasties gewees het nie? Maar Jesus sê dit is beter vir ons as Hy weggaan. Hoekom?

Dit is absoluut waar dat ons deur Jesus Christus by God die Vader uitkom. Dan is ons gered en gaan hemel toe. Maar ons lewe stop nie daar nie. Dit is slegs die begin. As ons geloof net gaan oor “eendag hemel toe gaan”, dan verloor ons aardse lewe betekenis. As dit God se enigste doel vir ons was, sou Hy ons onmiddellik na ons bekering weggeneem het. Maar God het ’n groter plan.

Jesus is die roete, maar Hy is nie die bestemming nie. Hy is die waarheid wat alles oopbreek, die lewe, die fondasie en hoeksteen waarop ons bestaan gebou word. Sonder Jesus Christus is daar geen roeping, geen redding en geen fondament nie.

Jesus is die hoeksteen waarop die fondasie gelê word. Wanneer die fondasie reg is, kan daar verder gebou word. Daarom sê Hebreërs 6:1-3 dat ons verder moet groei as net die beginbeginsels van die geloof (bekering, doop, die oordeel, ewige lewe en hande oplegging).

Jesus sê dat dit beter is vir ons aardse bestaan dat Hy weggaan, sodat ons God se Gees kan ontvang (Joh.14). Ons het God se Gees nodig om hierdie lewe te navigeer. Hy is die Parakleet — die Helper, Trooster en Een wat ons in die waarheid lei.

Ons begin by Jesus, maar beweeg dan oor na die werking van die Heilige Gees. Jesus wil ons “launch” in ’n lewe van verhouding, roeping en geestelike krag. Sonder God se Gees kan ons nie by ons bestemming uitkom nie. Dit is God se Gees wat ons onderhou terwyl ons op pad is na die Vader. Dit is Sy Gees wat ons help om ons roeping uit te leef.

Ons vier dus nie net Jesus nie. Ons vier nie net Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons vier ’n nuwe leefwyse wat deur die Heilige Gees moontlik gemaak word. Dit is waarna die wêreld werklik soek — ’n lewe wat blootgestel is aan die teenwoordigheid en krag van God se Gees.

Lees:

Joh.14

Heb. 1:1-3

Joh. 14:6

Heb. 6:1-3

1 Kor. 3:10-11

Mediteer:

  • Het ek al Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker aangeneem, sodat ek op pad kan wees na my ewige bestemming?
  • Is daar fondasieprobleme in my lewe wat my keer om geestelik te groei? (Kom kerk toe, skakel in by 'n selgroep of die dissipelskapkursus, of kontak 'n kerkleier om hierdie vrae te hanteer.)
  • Het ek al God se Gees ontvang, en beleef ek die vrug van die Gees in my lewe?
  • Doen moeite om elke dag hierdie week die Pinkster in jou huis-boodskappe te volg en saam met jou geliefdes te bespreek. Die boodskap van Pinkster is hoopvol: God wag nie vir perfekte mense nie. Hy vul gewone mense met Sy Gees en gebruik hulle om hoop, vreugde en liefde na ander te bring.

Bid:

Vader, dankie vir U Seun wat vir my die Weg en die Waarheid is; wat my straf gedra het, gesterf het en deur U Gees uit die dood opgewek is. Dankie dat Jesus na die hemel opgevaar het, sodat ek die Gees van God kan ontvang en ’n lewe kan leef wat getuig van die krag van die Heilige Gees. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is die Weg wat my na die Vader lei. Die Heilige Gees onderhou en lei my in ’n Geesvervulde lewe, en my eindbestemming is Vader God!

Aanbidding:

A Thousand Hallelujas - Brooke Ligertwood

Mighty Name of Jesus – The Belonging Co

Dag 3: Heilige _

Ons begin by Jesus Christus as die Weg, en beweeg dan na die werking van die Heilige Gees. Die uitnodiging van die Evangelie was nooit net redding en “eendag hemel toe gaan” nie. Vir baie mense stop dit egter daar. Dit raak gevaarlik, want dit kan ’n selfsugtige plek word waar geloof net oor persoonlike redding gaan. Selfsug kweek sonde, en sonde steel ons vrymoedigheid en begeerte om naby aan die Vader te leef. So verloor ons dit waarvoor ons aanvanklik gered is.

God gee egter oorvloedige genade. As jy met jou mond bely en met jou hart glo dat Jesus die Seun van God is en dat Sy bloed vir jou gevloei het, sal jy gered word. Dan ontvang jy genade as geskenk. Maar dit is net hoofstuk 1 — nie die hele boek nie. Hoofstuk 1 is redding. Die res van die boek is die missie: totale versoening met God en heerskappy saam met Hom — training for reigning.

Baie mense uit kerklike omgewings het reeds vooropgestelde idees oor die Heilige Gees. Wanneer daar oor die Heilige Gees gepraat word, het jy waarskynlik reeds ’n gevoel, beeld of opinie in jou gedagtes. Wat is daardie gevoel? Wat dink jy wanneer jy “Heilige Gees” hoor?

Ons moet bereid wees om ons vooropgestelde idees neer te lê, sodat ons perspektiewe nie in die pad staan van dit wat God werklik deur Sy Gees wil doen nie. Ons wil ontdek wat ons dalk gemis het.

Vir baie van ons is dit maklik om in God die Vader te glo — die Skepper van hemel en aarde. Ons glo ook maklik in Jesus Christus, ons Redder. Maar dan glo ons ook in die “Heilige Bybel”. Ja, dit is reg — die Heilige Bybel. Ons verstaan nie altyd dat die Drie-Eenheid bestaan uit Vader, Seun én Heilige Gees nie.

Ons beleef nie dit waarvan ons in Handelinge  lees nie, en maak verskonings oor ’n ander tydperk of God se tydsberekening. Maar diep binne ons weet ons iets skiet tekort, al weet ons nie presies wat nie. Wanneer ons op hierdie plek is, is dit belangrik om onsself eerlik af te vra: Wat glo ons werklik oor die Gees van God?

Hoe kan ons die missie van Handelinge navolg sonder geloof in die kragtige werking van die Heilige Gees? Hoekom sien ons nie méér manifestasie van die krag van God nie?

Want ons oortuiging/persepsie is beperk tot ons geloof in Vader, Seun en die Heilige Bybel. Ons moet eers met die Heilige Gees geaktiveer word, voordat ons dit sal begin ervaar waarvan ons in Handelinge lees.

Die Bybel is inderdaad die Woord van God en deur die Gees geïnspireer. Maar sonder die openbaring van die Heilige Gees bly dit slegs Logos — die geskrewe Woord. Wanneer die Gees van God die Woord lewend maak in jou hart, word dit Rhema — lewende waarheid en ’n swaard met twee snykante.

Van die begin van die Bybel af sien ons die Gees van God as God se antwoord op chaos. Die Heilige Gees was reeds daar in die begin en het oor die waters gesweef. Regdeur die Skrif — van Genesis tot Openbaring — sien ons die openbaring van die werking van God se Gees.

Die Heilige Gees wil Homself aan jou openbaar — nie net as ’n krag nie, maar as ’n Persoon; deel van die Drie-Enige God met wie jy in verhouding kan leef.

Lees:

Gen.1:1-3

Gen.1:26

Mediteer:

  • Waaraan dink ek wanneer ek hoor Heilige Gees of God se Gees?
  • Wat voel ek wanneer ek hoor Heilige Gees of God se Gees?
  • Het ek ’n vooropgestelde idee oor die Gees van God wat ek moet neerlê?
  • Ervaar ek die Vrug van die Gees in my lewe?

Bid:

Vader, U is my veilige plek, en U is in volmaakte eenheid met U Seun en U Gees. U is die Drie-Enige God. Daarom hoef ek nie bang te wees vir U Gees nie. U is ’n God van vrede, en U regeer met vrede. Ek is veilig in U en veilig in U Gees.

Heilige Gees van God, openbaar Uself aan my, sodat ek U kan ken en in verhouding met U kan leef. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Heilige Gees is ’n Persoon met wie ek in verhouding staan en wat my aktiveer om ’n Geesvervulde lewe te leef!

Aanbidding:

From My Knees to the Ground – Brandon Lake

Dag 4: Ruach

Aan die begin was alles woes en leeg. Toe die Gees van God daaroor sweef, het daar orde gekom. Daar waar God se Gees in jou lewe betrokke is, bring Hy orde uit chaos. God manifesteer bonatuurlik deur Sy Gees.

Ons kan dit ook anders stel: Daar waar God nie bonatuurlik in my lewe manifesteer nie, leef ek nie ten volle vanuit Hom as die antwoord vir my lewe nie.

In watter mate beleef ek die effek van die Heilige Gees in my lewe? Beleef ek vreugde in die Here? Beleef ek deurbraak in gebed? Dit is die bonatuurlike werking van die Heilige Gees wat Christenskap aantreklik maak.

Heilige Gees wil sentraal staan in ons lewens. Hy wil verandering en die bonatuurlike teweegbring — dinge wat ons nie uit eie krag kan doen nie, en waarvoor ons self nie antwoorde het nie.

Ons mis dikwels God se wil wanneer ons dinge probeer kompliseer en ooranaliseer. Wanneer ons egter die knie buig en aan God die eer gee wat Hom toekom, begin ons die krag van Sy Gees beleef.

Die enigste manier om daar uit te kom, is om te kies om God die eer te gee vir alles wat goed is in my lewe.

Ons moet ook onsself reg posisioneer: daar waar God besig is om te werk.

Ons sien hoe die Israeliete in die woestyn murmureer. Ná soveel wonderwerke en voorsiening verlang hulle terug na die tyd toe hulle slawe was en mishandel is. Al het God hulle genees, voorsien en beloftes gegee, was hulle denke steeds vasgevang in gebrokenheid. Dit wat afskuwelik was, het weer aantreklik begin lyk. Dit is wat sonde doen — dit verdraai ons perspektief totdat vernietiging aantreklik lyk.

Moses skryf die eerste vyf boeke van die Ou Testament en herinner die Israeliete waar alles begin het. Hy staan voor miljoene mense wat terug verlang na die verwoesting van Egipte en help hulle om te verstaan Wie die God is wat hulle dien.

Alles begin by God in jou lewe. Alles in jou toekoms wat die moeite werd is, begin by God:

“En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters” (Gen. 1:2).

Moses herinner ons daaraan dat wanneer alles leeg en chaos is, God Sy Gees stuur. Die manifesterende krag van God se Gees bring orde. Hierdie manifesterende krag word in Hebreeus Ruach genoem.

Ruach beteken asem, wind, lewe, gees — die beweging en teenwoordigheid van God.

Toe Adam en Eva saam met God in die tuin gewandel het, was hulle bewus van Sy teenwoordigheid. Hulle het Hom gehoor in die geritsel van die wind. Hulle het Sy asem gehoor. Wat Hy gesê het, het gebeur.

God se Gees is Sy asem. Dit is Sy bedoeling, Sy gedagte. Sy asem bring orde.

God is die begin wat oor chaos sweef, en wat Hy sê gebeur. As God jou begin is, sal dit wat Hy sê, gebeur.

Lees:

Gen.1:1-3

Gen.1:26

Mediteer:

  • In watter mate beleef ek die effek van die Heilige Gees in my lewe?
  • Beleef ek vreugde in die Here?
  • Beleef ek deurbraak in gebed?
  • Het ek God in my situasie, in my seisoen ingenooi?
  • Het ek plek gemaak vir God se Gees binne my of beheer ek my persepsies van Hom uit vrees of hardkoppigheid?
  • Sien ek God se heerlikheid in my lewe? Pinkster in jou huis #3

Bid:

Vader, dankie vir U Gees, wat U asem is, U bedoeling, en wat orde bring in chaos. U bring orde in my chaos. Vader, kom wees betrokke in hierdie seisoen van my lewe waar ek hiermee sukkel (_____). Vader, spreek U lewe, U woorde oor my situasie sodat daar kan lewe kom. Dankie dat ek ook elke belofte van U Woord kan spreek oor my situasie, want U het U Woord hoog bo U Naam gestel. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Wat God spreek, sal gebeur in my lewe. God is goed!

Aanbidding:

Fulfillment – Former Things

Dag 5: Die wese van Christenskap

Ons wil God dikwels eers uitredeneer en verstaan voordat ons oorgee. Maar die onsigbare kan nie gemeet word nie.

God is die Begin. Sy Gees sweef nie net waar alles reg is nie, maar juis waar dinge buite orde is.

As jy God se Gees wil sien beweeg, raak betrokke op plekke waar dinge nie reg is nie. Die eerste tree is om te begin bid vir mense in moeilike omstandighede.

God is eerste.
Alles wat goed is op aarde, is Sy hande werk.

Dit is waarom dit die moeite werd is om jouself met Christenskap te vereenselwig — want in Christenskap is God die Begin van alles. Dit beteken alle eer kom Hom toe, en jy kies om God raak te sien en te soek in alles van jou lewe op aarde.

Jesus was die tasbare, sigbare manifestasie van God op aarde. Hy sê egter dat dit beter is dat Hy weggaan, sodat God se onsigbare krag sigbaar in ons lewens kan werk. God se onsigbare Gees is voortdurend besig om in en om ons te werk. Dit is Hy wat van die begin af ingegryp en orde uit chaos gebring het.

Ons is na God se beeld en gelykenis geskape en Hy het Sy asem in ons ingeblaas: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Gen.2:7).

Sy onsigbare krag manifesteer steeds vandag, deur Sy Gees. Die Heilige Gees is skeppend — Hy bring nuwe lewe voort. Hy is bemagtigend — Hy vul ons met krag en vrymoedigheid. Hy is leidend — Hy leer ons om daagliks in die Gees te wandel.

God het ons na Sy beeld geskape, wat beteken dat ons geroep is om draers van Sy teenwoordigheid en Sy onsigbare krag te wees. Deur ons wil Hy sigbaar word op aarde. Dit is die wese van Christenskap.

Die uitnodiging is daarom nie net om gered te word nie, maar om deel te neem aan die werk van die Heilige Gees, sodat die onsigbare teenwoordigheid van God sigbaar kan word in mense se lewens.

Lees:

Gen.1:1-3

Gen.1:26

Gen. 2:7

Mediteer:

  • As ons nie wil aktief deelneem aan die werk waarmee God besig is deur sy Gees nie, is die ander alternatief om te verval in godsdiens.
  • Wanneer gaan ek begin deelneem aan dit waarmee God besig is?
  • Pinkster in jou huis #4

Bid:

Vader, dankie dat U orde bring in my lewe en in die lewens van mense om my. Kom wees die onsigbare krag wat in en deur my werk. Ek wil myself belyn met U handewerk en betrokke raak waar U besig is om te werk.

Help my om U raak te sien in alles wat goed is, maar ook om U wil raak te sien in plekke waar daar nog chaos en gebrokenheid is — die plekke waar U my dalk juis wil gebruik om deurbraak te bring.

In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se onsigbare krag word sigbaar deur my lewe, wanneer ek myself in Hom posisioneer!

Aanbidding:

Net U – Stella & Nuwe Lof