Prince of Peace #1
De Villiers Nel
Peace is Being Present
Dag 1: Shalom
Ons het dikwels ‘n moderne idee van vrede. Ons dink meer in die rigting van die afwesigheid van oorlog en dat vrede ‘n emosie is, om goed en gelukkig te voel. Die vrede van God is egter baie meer as ‘n gevoel en om nié in oorlog te wees nié.
Ons kyk in hierdie volgende paar weke na wat God se bedoeling van vrede is. Bybelse vrede is nie ‘n emosionele reaksie nie, maar iets waarin jy groei. ‘n Mens kan dit amper vergelyk met genesing. Genesing is ‘n proses waarin ons stelselmatig gesond word na wie ons eintlik is. So is vrede ook vir die siel, wat genesing vir die liggaam is.
In Hebreeus is die woord vir vrede ‘Shalom’. Dit beteken om volledig of vergenoegd te wees. ‘To be safe, secure and free from harm’. Dit is heelheid in elke aspek van jou lewe. Vrede in jou huwelik is die sekerheid van jou liefde vir mekaar, vrede in jou finansies is om nie gebrek te lei nie, en vrede in jou gemoed is die teenmiddel vir angs en vrees.
In Jes.9:5 lees ons dat die Kind wat vir ons gebore is, die Vredevors is (Prince of Peace). Dit beteken dat Jesus Christus self vir ons vrede is en vrede gee. Hy het Shalom vir ons gebring! Daarom bevestig die koms van Jesus ook God se wil vir vrede (wholeness in every aspect) vir ons. Dat God vir ons Sy Shalom reeds gegee het met die geboorte van Jesus: “...Vrede op aarde vir die mense...” (Luk.2:14).
Ons kan in hierdie seisoen die vrede wat God vir ons bestem het, inneem, deur ons posisie in Jesus Christus in te neem. Hy ís Prins van vrede!
Lees:
Mediteer:
- Wat bring onvrede vir my?
- Wat is vrede soos God dit bedoel het?
- Hoe kan ek die vrede van God kry?
Bid:
Vader, dankie dat U verklaar het dat daar vrede vir my is deur Jesus Christus, omdat U ‘n welbehae in my het. Dankie vir U volkome, volmaakte vrede wat my herstel en dat ek in U volmaakte vrede kan groei. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan in vrede gaan lê en dadelik slaap, want U Here laat my veilig woon.
Aanbidding:
Dag 2: Peace is Being Present
Om in elke oomblik teenwoordig te wees, bring ‘n heelheid (wholeness). Dit is egter in vandag se tyd vir ons moeilik om in die teenswoordige tyd te leef. Ons is dikwels opsoek of op die uitkyk na die toekoms. Ons streef na beter, meer, groter en ons doelwitte bly voor oë. Soms gebruik ons dit om weg te kruip. Ambisie word die dryfveer wat onsekerheid of teleurstelling of vrese probeer verbloem.
Ons soek ons waarde in dit wat die toekoms bied, eerder as om nou, in hierdie oomblik in die Here gevestig te wees.
“...Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak...” (Ps.131:2).
Die woord siel kan ook in Hebreeus vertaal word as ambisie. “ek het my ambisie tot bedaring gebring en stilgemaak”. Wat beteken dit om my ambisie stil te maak?
Dit beteken nie dat ons nie ambisie mag hê of oor die toekoms mag dink en werk vir dit wat voorlê nie. Die Woord sê tog ook “baken jou koers af” en dat God vir ons “‘n toekoms en ‘n verwagting het”. Dit is ook Sy wil.
Hierdie ambisie wat tot bedaring gebring moet word, is dat ons moet kyk na dit wat ons dryf. Wanneer ons só besig is met die toekomstige en ons eie ambisie, móét ons ondersoek doen oor of daar dalk iets is waaragter ons skuil, eerder as om in die oomblik te wees. Hierdie ambisie wat ons nodig het om neer te lê, is ambisie wat nie van God af kom nie, maar wat eie werke is en selfgesentreerd. Hierdie ambisie dryf ons in die verkeerde rigting en weerhou ons in ons verhouding met die Here. Dit steel ook ons vrede.
Om hier, nou in die oomblik te wees en God se vrede te hê, vra iets anders as wêreldse ambisie. Dit is in God se teenwoordigheid dat ons vrede vind.
Lees:
Mediteer:
- Is ek so besig met agendas en eie ambisie dat ek die Here mis?
- Waarin is my ambisie gesetel, waarop is my fokus?
- Hoe kan ek in die oomblik leef?
- Wat het om in die oomblik te leef (being in the present) met vrede te doen?
Bid:
Here ek wil nou in hierdie oomblik wees en nie so gefokus op die dinge van môre of wat ek moet bereik of nie is, dat ek U mis nie. Dit is in die hier en nou wat ek U vrede het. Kom bedien my met U Self Here...
Bonus: Spreek Lewe!
I have peace here in Your Presence!
Aanbidding:
In The Presence – JWLKRS Worship
Dag 3: Gespeen
“Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my” (Ps.131:2).
Daar is ‘n verskil tussen selfsugtige, kinderagtige ambisie en geestelike, volwasse ambisie. Dawid vergelyk Goddelike ambisie met ‘n gespeende kind by sy ma. ‘n Baba het nog sy ma nodig vir melk. So ‘n baba is onseker en gekwel. Hy huil wanneer honger of moeg en raak angstig wanneer daar nie in sy behoeftes voorsien word nie. Elke nou en dan huil hy om seker te maak dat daar iemand is wat reageer, vertroos en dáár is. ‘n Kind wat gespeen is, is gelukkig by sy ma (ABA). Hy voel veilig en tevrede (Die Boodskap).
“My soul is like a weaned child within me [composed and freed from discontent]” (AMP).
Die verskil lê in die sekuriteit van die verhouding. In hierdie verhouding weet die kind dat daar aan sy basiese behoeftes omgesien word, en hy kan fokus om ‘n dieper belewenis te hê soos wedersydse gesprekke, take wat saam aangepak word en drome oor die toekoms.
Onvolwasse ambisie is selfgesentreerd, soos ‘n baba wat nie van beter weet nie. Dit is om iets te soek, om ‘n wond of onsekerheid te koester, of om iets te probeer bewys. Hierdie ambisie kweek angs en het nooit genoeg nie, is nooit genoeg nie, en is onseker oor die toekoms. Hierdie ambisie maak ‘n skeiding in ons verhouding met die Here.
Goddelike ambisie is gebore uit ‘n intieme verhouding, ‘n vergenoegdheid in die Here. Dit is om seker te wees van waar jy staan in die verhouding, selfs al sou omstandighede uitdagend wees. Die omstandighede bepaal nie die verhouding nie. Dit is om heel te wees, ‘n tevredenheid, om genoeg te wees. Dit is ook om uit te reik en te gee, om te droom oor wat goed sal wees vir ander. Dit sluit nie uit nie, dit sluit in. Hierdie ambisie versterk verhouding met die Here.
Die verskil tussen onvolwasse en Goddelike ambisie lê in my verhouding met die Here.
Lees:
Mediteer:
- Het ek tans vrede of probeer ek ‘n vrede te bewerk uit ‘n plek van eie werke of angs?
- Droom ek groot drome om myself of iets te probeer bewys?
- Droom ek saam met God, omdat ek God se Shalom in besit geneem het?
Bid:
Vader, U het my gemaak vir verhouding met U. U het my gered deur Jesus Christus. Ek maak nou klaar met my ongespeende gedagtes, idees en onsekerheid oor U. U is ‘n goeie Pa en U is betroubaar. U sorg vir my. Ek rus nou my siel in U, want in U is my vrede. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
My siel rus in U Here want in U is ek volkome.
Aanbidding:
Dag 4: Geloof en vrede vir vandag
In moeilike tye sukkel ons om na die realiteite te kyk en om die Here in hierdie tye te vertrou in geloof. Spanning en angs maak dat ons ontvlugting soek, eerder as om God in ons huidige situasies te soek. Ons dink dat ons op ‘n manier makliker geloof het vir die toekoms, of dat ons op ‘n latere stadium dinge anders sal aanpak, as om geloof te hê in die oomblik.
Geloof en vrede bring ons terug in die oomblik in.
In 1 Konings 20 lees ons die verhaal van die oorwinning van Israel. Daar is gesê dat Israel gewen het, omdat hulle berggode het waar die geveg was, en dat hulle die volgende rondte in die vallei moes veg waar die Arameërs die voordeel sou geniet. Dan sien ons dat God ingryp en sê (vers 28): “So sê die Here, ‘Omdat die Arameërs gesê het “Die Here is ‘n berggod; hy is nie ‘n god van die valleie nie”, gee Ek hierdie hele groot menigte in jou hand, sodat julle kan weet dat Ek die Here is’”.
Ons God is nie net die God van die berg nie, maar ook die God van die valleie. Hy is nie net daar wanneer dit goed gaan nie, maar ook in die sleg. Hy is in elke oomblik, in elke omstandigheid. Hy is betrokke. God se heerskappy word nie beperk deur ons omstandighede nie, en ook nie deur ons gemoed nie. Ons God bly dieselfde. Hy is standvastig.
Omdat Hy standvastig is, is ek ook standvastig in Hom. Daarom kan ek met geloof en vrede, God in elke oomblik soek. Ek hoef nie angstig my omstandighede te verander nie, maar kan in vrede enige situasie met geloof aanpak. Hy het die oorwinning in elke situasie. Hy is my oorwinning.
You will keep in perfect and constant peace the one whose mind is steadfast [that is, committed and focused on You – in both inclination and character] – Is.26:3
Lees:
Mediteer:
- Wat wen ek deur nie my geloof in God te plaas nie?
- Wat verloor ek deur nie vandag my geloof in God te plaas nie?
- Dit is deur geloof en vertroue wat my gesindheid vrede koester. Dit gee vir my ‘n standvastige gesindheid.
Bid:
Vader, my geloof en vrede is in U omdat U standvastig is. In U is my hoop gevestig. U is deel van my hoogtes en laagtes en U verander nie soos die weer nie. U is nie soos ‘n mens nie, maar U is God. U is waardig om aanbid te word. U is my vrede!
Bonus: Spreek Lewe!
Ek plaas my geloof en vrede in God, en daarom het ek ‘n standvastige gesindheid!
Aanbidding:
Isaiah 26 Trust in the Lord – Project of Love
Dag 5: Op pad na
Die dissipels was op pad na die dorp van Nahum wat beteken “’n troos of ‘n sug van verligting” (Joh.6). Die dissipels het uitgesien na hierdie plek van rus en vrede. Terwyl hulle op die see gevaar het, het die see onstuimig geword. Hulle het nie ver geroei nie, toe is hulle binne-in ‘n storm. Hulle was bang. Dit is in hierdie plek van vrees en angs dat Jesus hulle ontmoet.
Hier waar Jesus hulle ontmoet binne-in die storm, is nie die plek van vertroosting waarheen hulle op pad was nie. Jesus het hulle op ‘n ongemaklike plek kom ontmoet.
Dit is waar Jesus ons ook kom kry. Dit is nie aan die anderkant by ons bestemming nie, maar op die plek waar dinge nog nie sin maak nie. Dit is in die middel van ons verdrukking, storm of vrees wat Jesus Homself aan ons openbaar.
“Hulle was toe gewillig om Hom in die boot te neem, en onmiddellik het die boot by die land aangekom waarheen hulle op pad was” (Joh.6:21).
Let daarop dat die oomblik toe Jesus saam met hulle in die boot geklim het, was hulle by hulle eindbestemming. Hierdie was ‘n wonderwerk wat gebeur het.
Wanneer ons Jesus Christus toelaat om in ons omstandighede saam met ons in die boot te klim, gee Hy vir ons vrede en bring Hy ons op ‘n veilige plek.
God se vrede is nie ‘n plek waarna jy toe moet wérk nie. Sy vrede is hier. Dit is nou beskikbaar. Hy is by jou in die vallei en Hy is by jou op die berg.
“In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon” (Ps.4:9).
Lees:
Mediteer:
- In watter dele van my lewe het ek nog nie vir Jesus Christus ingenooi nie?
Bid:
Here, ek nooi U in my moeilike omstandighede in. Dankie dat U vir my veiligheid gee, dat U vir my standvastigheid gee en dat U my beskerm. U is my God. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
My siel het U tot bedaring gebring en stilgemaak. In U rus ek!
Aanbidding: