Go Deep 25 January 2026

SOEK EERS!

Neville Goodchild

Ontdek Jesus se visie vir ‘n koninkrykslewe.

Dag 1: Regte prioriteite bring standvastigheid en groei

Die jaar tel vinnig spoed op. Dit voel soos gister wat ons die ‘Nuwe Jaar’ gevier het en die eerste maand is amper verby. Dit help baie as ek my prioriteite (dit wat vir my belangrik is en voorrang kry) en my waardes uitgesorteer het. Ek kan nie alles doen wat na my kant toe kom nie en daarom moet ek onderskei: Wat is belangrik en wat is nie belangrik nie? Anders sal ek soos ‘n afkop hoender rond hardloop en niks ordentlik doen nie. Ek sal wees soos ‘n brander wat heen en weer gedryf word deur die wind.

In die begin van die jaar is daar ook so klomp goed waaraan die kinders wil deelneem en dit is net nie prakties moontlik nie. Dit is ook ‘n goeie geleentheid vir ons as ouers om hulle te leer van prioriteite, waardes en beginsels. Dit verryk die kinders, gee hulle wysheid en help hulle om die regte keuses te maak.

'13 Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Líbanon. 14 Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. 15In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, 16om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.'
PSALMS 92:13-16

Die Woord beskryf hier standvastigheid in Christus Jesus vir die regverdige. ‘n Regverdige is nie iemand wat iets gelykop deel tussen twee mense nie. Die regverdige is ‘n persoon wat sy of haar identiteit vind in Jesus Christus en in wat Hy gedoen het. ‘n Regverdige vertrou nie op sy eie insigte en vaardigheid nie, maar maak net staat op Jesus Christus.

‘n Seder op die Libanon is ‘n sterk boom, met goeie hout, wat in ongiere omstandighede, groei met ‘n missie. 'n Seder groei hoog in die berge. Die boom is nie sukkelend nie en is van goeie kwaliteit.

Die palmboom groei weer waar daar ‘n fontein is in die woestyn. Die palmboom is mooi en dit het die boodskap van hoop, want dit wys waar daar water is. Die hout is nie van ‘n goeie kwaliteit soos die van die seder nie, maar dit het weer ander kwaliteite. Die palmboom spreek van die seën van God.

In Christus Jesus groei ons dus soos hierdie palmboom en seder, in God se teenwoordigheid. Ons lewens sal getuig van seën en sal God verheerlik. Ons sal vas bly staan in die moeilikste omstandighede en dit sal ‘n getuienis wees dat God by ons is en getrou is.

LEES:

Ps. 92:13-16

Mediteer:

  • Is ek in Christus Jesus en ervaar ek die standvastigheid daarvan om te leef soos ‘n seder en ‘n palmboom, op grond van wat Jesus Chrisus gedoen het – Sy kruisdood en opstanding, verlossing en redding?
  • Beleef ek die leiding van die Heilige Gees?
  • Dra my lewe vrug en verheerlik dit God?
  • Moet ek iets verander in my lewe om hierdie plek van groei en seën ten spyte van uitdagings, in besit te neem?

Bid: 

Abba Vader dankie dat ek in Christus Jesus kan wees, omdat ek redding ervaar het. Dankie vir U Heilige Gees wat my vul en lei in wysheid. Dankie vir die vrede en standvastigheid wat ek vind in U. Here ek het nog baie werk. Lei my deur U Heilige Gees om wyse besluite te neem en aan te hou groei in alle omstandighede. Ek wil ‘n lewe hê wat vrug dra en wat U verheerlik. Help my Here. Ek kies U elke dag en elke oomblik. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Ek is regverdig op grond daarvan dat ek in Jesus Christus is. Dit gaan oor wie Hy is en wat Hy gedoen het.

Aanbidding:

Crowns Down | feat. Josh Baldwin | Gateway Worship   

Dag 2: Die pad van lewensverandering

Hoeveel van ons se lewens is verander deur die Here? Ons hoor getuienisse van mense oor waar hulle was in die lewe en waar hulle nou is. Daar is verskeie fasette van ons lewe wat vernuwe word wanneer ons gered word.

Die vraag is: Hoe kom ek op ‘n pad van lewensverandering? Hoe kom ek op ‘n nuwe roete?

Ons sien in Matt. 6 is Jesus op die berg besig om vir ‘n groot skare mense te leer. Dit gaan oor die dinge waarmee ons as mense ons besig hou. Dit praat oor die bekommernis wat ons het met klere om aan te trek, kos en materialisme. In die middel van hierdie preek gee die Here die volgende lering oor ‘n nuwe, beter manier om te leef in Matt 6:33 - '33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. '
MATTHÉÜS 6:33

Om die regte prioriteite te hê is van kardinale belang. Hierdie skrifgedeelte leer dat ons moet eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek alvorens ons enige iets anders soek. Dit is die enigste manier om sukses te kan behaal.

Indien ‘n persoon se eerste prioriteit is om in die huwelik te groei, sal die persoon fokus op die huwelik. Die probleem is dat die persoon dan van sy/haar maat verwag, dit wat mens net van God kan verwag. Dit sal nie goed uitwerk nie.

Dieselfde geld vir ‘n persoon wat finansies eerste stel en die meeste daarop fokus. Die persoon sal dan van finansies verwag wat mens net van God kan verwag.

‘The kingdom must be sought first, not as an added concern, but as the controlling priority that orders all of life.’ – Dallas Willard

Ons ander prioriteite is ook vir God belangrik. Hy weet wat vir ons belangrik is en God wil ons graag seën. Ons moet bly by die bybelse beginsel indien ons wil floreer. Ons moet God se Koninkryk en Sy geregtigheid eerste soek.

Lees:

Matt. 6:33

Mediteer:

  • Maak eerlik ‘n lys van u prioriteite. Dink na oor wat was dit wat die meeste in jou gedagtes was gedurende die dag. Dink dan oor hoeveel tyd ons spandeer het aan die Koninkryk van God.
  • Kies die beter pad en laat toe dat die Here jou Sy visie gee vir jou in die koninkryk van God.

Bid:

Dankie Abba Vader dat U van die grondlegging van die aarde af reeds vir elkeen van ons ‘n plan en ‘n visie het. Berei my hart voor en lei my op die regte pad. Help my om deur die werking van die Heilige Gees my roeping uit te leef tot die glorie van U Naam te leef.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus Christus is die weg en waarheid en die lewe!

Aanbidding:

This is the Kingdom (feat Pat Barrett)| Elevation Worship

Dag 3: ‘Maar soek…’

'33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. '
MATTHÉÜS 6:33


Maar…’ Ons terg mekaar baie keer dat as iemand sê ‘maar’, kan jy alles wat hy voor dit gesê het, maar uitkanselleer. Eintlik beteken dit ons moet net eers stop, daar is ‘n ander belangrike waarheid waarvan daar ook kennis geneem moet word. Dit is presies wat Jesus hier doen. Hy gee vir hulle lering oor die dinge wat mense kwel en dan sê Hy ‘Maar…’.

Mense kwel hulle oor goed wat hulle fisiese behoeftes en begeertes raak. Werk, geld, versorging, verhoudings, vriende, wêreldse plesier. Hierdie is alles dinge waaroor mense hulle kwel. Dit beteken dit vreet hulle op. Hulle spandeer al hulle tyd en energie daaraan. Hulle gedagtes is die heeltyd besig met hiedie dinge. Juis omdat hierdie goed so belangrik is vir die mens gee die Here Jesus lering hieroor en dan sê Hy ‘Maar…’. Hy weet dat hierdie kwellinge neem so besit van die mens dat hy aan niks anders kan dink nie. Hy hou hom dus nie besig met dit wat belangrik is nie. Hy verloor visie en fokus nie op die regte goed nie.

soek….’ In Psalm 5:4 is een van die gedeeltes waar ons sien dat Koning Dawid vroeg in die oggend God se aangesig gesoek het. Hy het sy stem opgehef na die Here en dan gewag. Dit is vir ons ‘n pragtige voorbeeld van hierdie ‘soek’. Koning Dawid moes regeer oor die volk Israel, oorloë veg, vergaderings lei en aan so baie goed aandag gee. Tog was sy eerste prioriteit in die oggend om God se aangesig te soek. Koning Dawid was ‘n belangrike persoon, maar hy het sy lewe gerig na God se Woord en prioriteite.

Die woord wat hier gebruik word vir ‘soek’, beteken nie net om een keer te soek en dan is dit verby nie. Die goed wat belangrik is om te soek in die koninkryk van God, soos:

  • Die aangesig van God
  • God se teenwoordigheid
  • Die Woord van God

… moet aanhoudend gesoek word. Dag in en dag uit moet dit ons gedagtes vul en moet ons daarmee besig wees.

Lees:

Matt. 6:33

Ps. 5:4

Mediteer

  • Is ek ‘n konstante toestand van “worry”? Oor finansies,rekeninge, skoolgelde ens.
  • Dink jy hierdie dinge is vir God belangrik? Hoekom glo jy dit wat jy nou geantwoord het?
  • Lees weer Matt.6 deur en dink oor boonste punt.
  • Kan jy met eerlikheid sê jy soek God se koninkryk?
  • Wat behels dit vir jou om God se koninkryk te soek?
  • Kan jy sê dat God en Sy koninkryk is eerste op jou prioriteits lys?

Bid: 

Ja Vader, ons almal ken die regte antwoord oor wie moet eerste in ons lewens wees, maar tog is dit nie altyd die geval nie. Soveel keer is ander dinge eerste, as ons eerlik moet wees. Vader wil U ons help en leer en oortuig van U liefde en u koninkryks beginsels. Help ons om ons fokus 100% na U te draai sodat ons in U rus kan ingaan en weet U sal vir al die ander dinge sorg. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ware en volkome lewe is in Christus en in Christus alleen.

Aanbidding:

In die hemel is die Heer - DJWZuidAfrika

Herleef – Hier Staan Ek Nou (Official)

Dag 4: Eers = Protos

'33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. '
MATTHÉÜS 6:33

Vandag gaan ons praat oor – Eerste dinge, eerste. Eers soos dit in hierdie vers gebruik word kom van die antieke Griekse woord protos met die volgende betekenis: ‘“first”, “foremost”, “chief” or “principal”. It signifies priority in time, order or importance, often refer to the earliest, highest -ranking, best example of something. It serves as the root for the prefix proto-, which denotes the original, earliest form, or a precursor.’

In hierdie skrifgedeelte gee Jesus lering oor wat veronderstel is om eerste te wees in ons lewe. Ons elkeen kan nou self ondersoek doen oor die orde wat in ons lewe is. Wat is die orde van dinge in my lewe? Wat is eerste in my lewe?

Ons het elkeen heel moontlik ‘n baie eerbare en goeie eerste prioriteit in ons lewe. Dalk is dit finansies, ‘n besigheid, studies en akademie. Dalk is dit jou vrou en jou huwelik. Daar is nie fout daarmee dat hierdie goed prioriteit is nie, maar dit kan nie die eerste prioriteit wees nie.

Protos beteken nie net dat dit die eerste prioriteite is nie, dit beteken ook dat indien dit nie waarlik eerste is nie en iets anders is in die plek daarvan, sal dit nie suksesvol wees nie. Daar is nie ‘n twede prys nie. Die regte prioriteit moet eerste wees anders sal jy nie suksesvol wees nie.

Jy kan nie byvoorbeeld jou vrou jou eerste prioriteit maak nie. Ja, sy is ‘n onmisbare deel van die avontuur wat die lewe is, maar sy kan nie die plek van die koninkryk van God en sy geregtigheid inneem nie. Dit sal ‘n huwelik van performance” tot gevolg hê, waar julle baie druk sal beleef en nooit sal kan onstpan en net wees nie. ‘n Huwelik moet ‘n plek van vryheid en genade wees. Jou vrou of man kan nooit jou protos wees nie en ook nie enige iets anders as die koninkryk van God en sy geregtigheid nie.

Jesus sê vir sy volgelinge dat hulle het die protos verag en daarom is die res ‘n mislukking. Protos is die beginpunt.

Lees:

Matt. 6:33

Mediteer:

  • Wat is eerste in jou lewe?
  • Ek en jy ken die regte antwoord as ons gevra sou word; “ wie of wat moet eerste prioriteit wees?” Ons is gekerk, die vraag is of God en Sy konikryk werklik eerste is.
  • Gaan bedink dit, skryf al die belangrike dinge in jou lewe neer en rangskik dit volgens wat jy wil hê dit moet wees met God en Sy koninkryk bo-aan.
  • Neem tyd en kies dit in gebed en vra Vader om jou te help om Hom en Sy koninkryk eerste te stel.

Bid:

Vader ek weet dat U moet eerste wees in my lewe, maar ek bely dat baie keer is daar ander goed wat ek bo U en U koninkryk prioritiseer. Vergewe my,maar help my deur U Gees se werking dat ek ‘n totale oorgawe sal kan maak aan U en U koninkryk. Ek kies nou om U en U koninkryk eerste te stel. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Daar is lewe en dit in oorvloed vir my in elke area van my lewe as ek U koninkryk eerste soek.

Aanbidding:

Beautiful finale with Brendon Lake and Phil Wickham at Summer Worship tour

Brendon Lake & Phil Wickham – I Know a Name| Summer Worship Nights 2025 (Video Live)

Salvation Song – Josh Baldwin

Dag 5: Die hoogste prioriteit

As ons weer kyk na Matt. 6:33 sien ons dat die hoogste prioriteit is tweeledig. Dit is om eerste die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek. 

Die koninkryk van God is nie in die hemel nie, want die hemel is ‘n geestelike realiteit en dit is waar God die Vader, Seun en Heilige Gees is. Dit is nie ‘n geografiese plek nie. God beweeg buite tyd en ruimte. Ons kan nie buite tyd en ruimte beweeg nie en kan net op een plek op ‘n spesifieke oomblik wees. Na ons afsterwe sal ons ook in die gees lewe en nie na die vlees nie.

Die koninkryk van God  is oral waar God eerste prioriteit is en waar God se teenwoordigheid eeste geplaas word. Dit is waar God in beheer geplaas word. Dit is waar ons onsself aan God onderwerp in Christus Jesus, om lewende offers te wees wat vir God aanneemlik is.

Ons word God se geregtigheid sodra ons wedergebôre word. Dit beteken dat ons in Christus Jesus is. Die tekens van wedergeboorte is waar iemand se lewe die vrug van die Heilige Gees dra, nadat so persoon gered is: Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en gedoop is in water en in die Heilige Gees.

Daarom is dit so belangrik om die regte fokus op aarde te hê. Ons moet in Christus Jesus bly(God se geregtigheid). Ons moet ons posisie van diep afhanklikheid van God behou. Ons moet met die hulp van die Heilige Gees, wat die dinge van God aan ons openbaar, onderskei en sien hoe ons saam met God kan meewerk.

Vra jouself die vrae:

  • Waarheen is God oppad?
  • Waarmee is God besig?
  • Wat is die visie van God op aarde?

Ons kan dan ons mandaat in Jesus Christus uitleef op aarde deur by God aan te sluit en onsself beskikbaar te stel. Twee van die belangrikste funksies van die koninkryk van God is evangelisasie (die verkondiging van die goeie nuus oor redding en verlossing in Christus Jesus) en dissipelskap. Dit is Jesus Christus se opdrag aan elke gelowige kind van God. Daar is baie kerke en individue wat die koninkryk van God mis. Dit gaan oor die redding van verlôre siele. Die lewe gaan nie oor onsself en om onsself te verryk (selfgesentreerd te leef) nie. Dit gaan oor die redding van mense en transformasie in mense se lewens. Wanneer ons dus die koninkryk van God soek sal ons ons harte hou by God en God se prioriteite, die prioriteite van ons lewe maak. Ons sal ons instel om ons lewe te kalibreer met God se plan deur die werking van die Heilige Gees.

Daar is ‘n belofte gekoppel daaraan as ons God eerste stel in ons lewens(protos). Die Woord sê dat al daardie dinge waaroor ons onsself so kan kwel, sal dan as ‘n bonus vir ons gegee word.

‘Put first things first and we get the second things thrown in: Put the second things first and we lose both the first and second things.' -CS Lewis.

Lees:              

Matt. 6:33

Mediteer:

  • Soek God se aangesig en bid dat God se waarheid in jou hart sal leef, die Heilige Gees vrug sigbaar sal word in jou lewe en God se lig deur jou sal skyn.
  • Raak aktief betrokke by evangelisasie en dissipelskap.
  • Bid vir protos.
  • Maak met smeking en danksegging elke behoefte en begeerte aan God bekend.

Bid:

Abba Vader, Seun en Heilige Gees dankie dat U my so geskape het dat ek nie sonder U kan leef of funksioneer nie. My hele lewe lê ek liggaam, gees en siel voor U neer. Seën elke woord wat oor my lippe kom dat dit U sal verheerlik, mense sal help om redding te beleef en U koninkryk sal bou op aardee. Dankie Abba Vader dat ek deel kan wees van U bruid op aarde  en dat ek saam met my mense vandag kan besluit, om U eerste te stel in ons familie en intensioneel te bou aan ons huwelik. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

…dat elkeen gered sal word,

Aanbidding:

Anne Wilson – My Jesus (Official Music Video)