STAAN VAS!
Neville Goodchild
Staan vas en veilig in die geloof.
Dag 1: Hier en nou teenoor die groter prentjie.
Elkeen van ons bevind onsself in ’n wedloop. Sommige hardloop, sommige strompel, ander wil omdraai of stop. Die geloofslewe is nie ’n kortafstandwedloop nie, maar ’n langafstand marathon. Die verskil is dat kort afstand net fokus op onmiddellike prestasie. Langafstand vereis visie, geduld en deursettingsvermoë.
Hebreërs 12 nooi ons om die vrede na te jaag en op te let dat geen wortel van kwaad en bitterheid in ons harte groei nie, want dit het ‘n manier om jou oë af te trek van die groter prentjie en jou vas te vang in wat “nou” verkeerd loop. Baie gelowiges leef in oorlewings mentaliteit, gefokus op huidige pyn of konflik – en verloor die ewige perspektief van wat God besig is om te doen.
In Jesaja 54:17 gee God ‘n belofte: "Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie." Dit beteken nie dat wapens nie gesmee sal word nie, dit beteken net hulle sal nie slaag nie. As jy jou oë hou op die groter prentjie, sal jy nie weghardloop by die eerste teenstand nie. Jy sal onthou: God is besig met iets groter. Die wyse waarop jy vandag reageer, het ’n invloed op waarheen jy op pad is.
Lees:
Mediteer:
- Is ek vasgevang in ’n korttermyn reaksie, of leef ek met ewigheid visie?
- Dink ek nog soos ‘n “sprinter” in sekere areas van my lewe (soek vinnige uitkoms), eerder as om God se tempo en pad te vertrou?
Bid:
Here, ek wil leef met die groter prentjie in gedagte. Help my om nie deur die hede se pyn, my toekoms te verloor nie. Ek vertrou U plan vir my lewe, selfs wanneer ek dit nie verstaan nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Hy help my in my struikelblokke om in oorwinning te staan!
Aanbidding:
Dag 2: Vrede en oorwinning
Daar is tye wanneer ons voel asof ons aan alles en almal uitgelewer is. Ons voel magteloos, vasgevang in die greep van ons eie emosies, die pyn wat ander veroorsaak het, of die ongenaakbare werklikheid van omstandighede. Jy wil dalk bid, maar jy weet nie wat om te sê nie. Jy wil glo, maar alles in jou vlees sê "gee op".
En tog, op die plek van jou diepste swakheid, begin God se genade werk. Romeine 8 herinner ons dat die Heilige Gees self intree vir ons met versugtinge wat nie met woorde uitgedruk kan word nie. Jy hoef nie die regte woorde te hê nie, jy hoef nie eers sterk te wees nie. Jou swakheid is nie die einde van die wedloop nie – dit is die begin van God se werk in jou.
God belowe nie dat die lewe altyd maklik of pynloos sal wees nie. Inteendeel, Jesus het self gesê dat ons verdrukking sal hê in hierdie wêreld (Joh 16:33). Maar Hy belowe dat Hy teenwoordig sal wees, altyd, oral, selfs in die donkerste nag. Romeine 8:28 gee ons die versekering dat God alles – selfs ons seer, foute, en mislukkings, gebruik sodat alles ten goede sal meewerk vir dié wat Hom liefhet. Die vyand mag dalk probeer om jou te vernietig, maar God het die laaste Woord, en Sy plan is herstel, nie verwoesting nie.
Jesaja 61 skilder 'n prent van God se hart. Hy kom om die gebrokenes te verbind, die gevangenes vry te maak, en om as, daardie simbool van verwoesting te vervang met ’n sieraad van skoonheid. Hy ruil rouklere vir vreugde-olie, en ’n verslae gees vir ’n kleed van lof. Dít is God se styl. Hy bring redding te midde van ruïnes, lig in die duisternis, hoop in wanhoop.
Isaiah 54:17 (Amp) "But no weapon that is formed against you shall prosper, and every tongue that shall rise against you in judgment you shall show to be in the wrong. This [peace, righteousness, security, triumph over opposition] is the heritage of the servants of the Lord [those in whom the ideal Servant of the Lord is reproduced]; this is the righteousness or the vindication which they obtain from Me [this is that which I impart to them as their justification], says the Lord."
Baie mense dink vrede is net die afwesigheid van konflik, 'n soort stilte ná die storm. Maar in God se Koninkryk is vrede nie die afwesigheid van iets nie, dit is die teenwoordigheid van Iemand. Sy Gees is by jou. Dit is daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7), die vrede wat jou dra wanneer jy self nie meer kan nie.
So kan jy, selfs al weet jy nie wat môre bring nie, met vertroue sê: "Ek weet nie wat voorlê nie, maar ek weet Wie saam met my is." En dit is genoeg. Want as God vir jou is, wie kan teen jou wees?
"Evil is not supposed to change you. You are called to change evil for good!"
Lees:
Mediteer:
- Watter areas in my lewe beleef ek nog nie die vrede van die Here nie?
- Het ek begin aanvaar dat daar dele in my lewe is wat vir altyd vas of gebroke gaan wees, eerder as om God se belofte van vryheid en vrede vas te gryp?
Bid:
Laat U vrede, wat alle verstand te bowe gaan, my hart en gedagtes bewaar in Christus Jesus (Filippense 4:7). Open my oë vir U teenwoordigheid wat altyd by my is, selfs wanneer ek dit nie voel of verstaan nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God gee my vrede, geregtigheid en sekuriteit, dit is my erfdeel in Christus Jesus!
Aanbidding:
Dag 3: Jou oorsprong vs jou doel
Die vyand is nie net 'n brute mag of ‘n doellose teenstander nie. Hy is ’n berekende en slinkse strateeg (vgl. Ef 6:11). Een van sy mees effektiewe taktieke is om mense vas te vang in patrone van sonde, innerlike gebrokenheid en geestelike vestings (strongholds), leuens en denkpatrone wat in stryd is met God se waarheid. Dit is belangrik om te besef dat die vyand nie jou ware identiteit in Christus kan verander nie.
Romeine 6:16: “Weet julle nie dat as julle julleself aan iemand as slawe beskikbaar stel om hom te gehoorsaam, julle slawe is van die een wat julle gehoorsaam, hetsy van die sonde tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” Elke dag, bewustelik of onbewustelik, stel ons onsself beskikbaar, óf as instrumente van geregtigheid in God se hand, óf as werktuie van selfgerigtheid en misleiding, tot voordeel van die vyand.
Onverwerkte emosionele pyn verander in bitterheid. Bitterheid word dikwels die boustene van ’n vesting, ’n manier van dink wat nie ooreenstem met die evangelie nie, maar met vrees, wraak, of selfs selfregverdigheid. Hierdie vestings moet nie net geïgnoreer of onderdruk word nie; hulle moet afgebreek word deur die krag van die waarheid van God se Woord (2 Kor. 10:5).
Maar God laat ons nie weerloos nie. Rom 12:21 gee aan ons die strategie van die Koninkryk: “Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Jesus leer ons nie net om onsself van boosheid te weerhou nie. God nooi ons om dit aktief te konfronteer en te transformeer. Waar die wêreld roep vir wraak, roep Christus vir liefde. Waar daar verwerping was, bring Hy aanvaarding. Waar daar onreg was, bring Hy geregtigheid volgens God se definisie, nie die mens se definisie nie.
Hierdie waarheid word kragtig geïllustreer in die lewe van Josef. Hy is verraai deur sy eie broers, onregverdig behandel, en vir jare in gevangenskap gehou. En tog, toe hy uiteindelik in ‘n posisie van mag en invloed geplaas word het hy nie wraak geneem nie. Hy het nie in bitterheid geleef nie. Hy het die seer nie laat definieer wie hy was nie. Josef het erken dat God groter is as die kwaad wat teen hom beplan is. In Gen 50:20 sê hy aan sy broers: “Julle het wel kwaad teen my beplan, maar God het dit ten goede bedoel om te doen soos vandag: om 'n groot volk aan die lewe te hou.”
Dít is geestelike volwassenheid: om nie te leef as slagoffers van ander se dade nie, maar as oorwinnaars in Christus. Gee die pyn van die verlede aan God sodat Hy dit kan gebruik as 'n werktuig van genesing vir ander. Dit is hoe die Koninkryk groei: deur dat God ons wonde omskep in bronne van wysheid, deernis, en vryheid.
So, staan vas in jou identiteit. Laat nie toe dat die vyand plek kry nie. Bring elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor 10:5), en kies om te leef in die vryheid waarvoor Hy jou vrygemaak het (Gal 5:1). Oorwin die kwaad met die goeie en sien hoe God selfs jou seer omskep in 'n getuienis wat ander bevry.
Lees:
Mediteer:
- Is daar areas waar ek die vyand onbewustelik plek gegee het deur bitterheid of sonde?
- Wat moet ek bely of aflê vandag sodat ek kan leef in vryheid?
Bid:
Here, ek is nie meer slaaf van my emosies of my verlede nie. Deur die genade van Jesus Christus is ek vrygekoop. Help my om oop deure (sonde) in my lewe te identifiseer en die deur toe te maak. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek staan vas, omrede my identiteit vas is in Christus Jesus!
Aanbidding:
Jesus have it all – Jeremy Riddle
Dag 4: Weerstaan & Staan Vas
Die wêreld voel soms soos ’n gevegsterrein, nie net in die fisiese sin nie, maar in die onsigbare realiteit van die geestelike dimensie. Woorde word wapens, teleurstellings ruk aan die fondament van ons vertroue, en geestelike aanvalle tref dikwels sonder waarskuwing. Maar God laat ons nie weerloos nie. Hy belowe nie dat ons nooit in die stryd sal beland nie. Hy belowe dat ons nie alleen daarin hoef te staan nie, en beslis nie ongewapen nie.
In Ef 6:10-18 roep Paulus gelowiges op om die volle wapenrusting van God aan te trek. Hierdie oproep is nie ’n simboliese voorstel nie, maar ’n dringende geestelike opdrag, ’n realiteit wat elke Christen ernstig moet opneem. Elke stuk speel ’n noodsaaklike rol in jou vermoë om staande te bly te midde van teenstand.
- Die gordel van waarheid hou alles bymekaar. Hierdie waarheid is die objektiewe waarheid van God se Woord, wat ons denke en optrede rig.
- Die borsharnas van geregtigheid beskerm jou hart teen die beskuldigings van die vyand. Dit is Christus se geregtigheid wat jou regverdig maak voor God, nie jou eie pogings nie.
- Die skoene van die evangelie van vrede gee jou stabiliteit en beweeglikheid. Selfs te midde van konflik dra jy ’n boodskap van versoening en vrede, tussen God en mens, en tussen mens en medemens.
- Die skild van geloof blus die vurige pyle van die bose. Geloof is nie net 'n emosie of hoopvolle gedagte nie, dit is ’n vaste vertroue in God se karakter, God se Woord en God se plan.
- Die helm van verlossing beskerm jou denke. Jou identiteit as verlosste in Christus is jou grootste beskerming teen twyfel, veroordeling en verwarring.
- Die swaard van die Gees, wat die Woord van God is, is jou enigste aanvalswapen. Maar selfs dan is jou rol nie om aggressief die duiwel aan te val nie, jou roeping is om staande te bly.
Let op die sleutelwoord: staan. In hierdie teks word die oproep om te “staan” of “vas te staan” herhaal. God roep jou nie om jou eie oorloë te voer nie, Hy roep jou om in geloof te staan, in Christus gewortel, vas in jou identiteit, onwankelbaar onder druk. "Wees sterk in die Here en in die krag van Sy mag." (Ef. 6:10)
Daarom, moenie moedeloos word in die geveg nie. Onthou, God se teenwoordigheid is jou krag, Sy wapenrusting is jou beskerming en Sy oorwinning is jou sekerheid. Staan vas in geloof, en laat God die oorlog voer. Jy is nie alleen nie. Jy is gewapen, geroep en bekragtig – nie om te vlug nie, maar om te staan.
Lees:
Efesiërs 6:10-18
2 Samuel 23:20-22
Mediteer:
- Watter leuen van die vyand het ek begin glo, en watter waarheid uit God se Woord kan ek spreek en aan vashou?
- Wat beteken dit vir my om vandag vas te staan in Christus, ten spyte van my omstandighede?
Bid:
Here, Ek weet dat U my toerus om nie net te oorleef nie, maar te staan in U oorwinning. Maak my oë oop vir die werklikheid van die stryd én die krag van U Gees binne-in my.
Bonus: Spreek Lewe!
“Ek is nie magteloos nie, God het my toegerus om te oorwin.”
Aanbidding:
See a victory – Elevation Worship
Dag 5: God se opinie oor jou
Ons leef in ’n wêreld wat voortdurend opinies oor ons plaas. Jou verlede, mense se verwagtinge, selftwyfel. Alles probeer vir jou sê wie jy is. Daar is net een opinie wat werklik saak maak. God se opinie en Sy opinie oor jou is vol glorie. Die Griekse woord vir “glorie” in die Nuwe Testament is doxa wat ook “opinie” beteken. God se opinie oor jou is die ware weerspieëling van jou identiteit. Sy opinie is nie beïnvloed deur wat met jou gebeur het nie. Dit verander nie as jy faal nie. Dit is vas, ewig, vol waarheid en liefde. Baie mense leef uit verlede pyn, eerder as profetiese waarheid. Hulle identifiseer met hulle foute, eerder as met God se stem. Vergifnis herstel nie net jou verhouding met God nie, dit herstel ook jou toegang tot Sy Stem van waarheid. Romeine 12:2 roep ons op om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie, maar vernuwe te word in ons denke. Met ander woorde, herbedraad jou brein om God se stem hoër te ag as jou siel se geraas. Psalm 139 sê dat jy “wonderbaarlik gemaak is”. Dit is nie net ’n mooi vers nie, dit is ‘n hemelse werklikheid. Jy is gemaak met ’n doel en as jy begin leef uit God se opinie oor jou, word jy ‘n stem van hoop vir ander.
Lees:
Jesaja 61:3
Romeine 12:2
Psalm 139:14
Mediteer:
- Wat glo ek oor myself wat nie ooreenstem met wat God sê nie?
- Hoe kan ek vandag prakties begin leef uit God se opinie oor my?
Bid:
Here, ek kies om U opinie oor my die hoogste gesag in my lewe te maak. Ek bely dat ek wonderbaarlik gemaak is. Ek is vergewe, verlos, en geroep. Laat my lewe ‘n weerkaatsing wees van U glorie, nie van my verlede nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
“Ek is nie gedefinieer deur my verlede nie, maar gevorm deur Sy waarheid.
Aanbidding: