SOEK EERS!
Neville Goodchild
Ontdek Jesus se visie vir ‘n koninkrykslewe.
Dag 1: Ek wou nog ...
Die meeste van ons het al opgewonde na ʼn afspraak met ʼn vriend of vriendin gery met die idee om oor spesifieke onderwerpe te gesels, maar wanneer ons huis toe ry besef ons dat ons heeltemal vergeet het daarvan.
Ek wou nog ...
Jou vra om ...
Deel met jou dat ...
Vir jou vertel ...
Sommer net bid vir jou gesin ...
Ons het meestal interaksie met ons geliefdes, vriende, familie en kollegas sonder om doelgerig te wees met ons kommunikasie. Soms is ons sommer net simpel, ons terg, gesels oor ditjies en datjies, tref reëlings en ons probeer inpas in ʼn wêreld wat so verfrommel is met verwagtinge (“demands”) wat ons verstrengel in stres. Ons laat eintlik toe dat die wêreldse materialisme ons vas spin in ʼn materialistiese web van onvergenoegdheid en afguns wat ons aandag aftrek van dit wat belangrik is.
Ons geesteslewe is baie keer ʼn afdruk van ons lewens. Ons maak nie tyd vir die belangrike verhoudings nie. Waaroor praat ons met ons Vader?
Waar staan ons met ons kinders, ons man of vrou, ons ouers, kollegas, werkers? Waar staan ek en jy met ons Saligmaker?
Hoe lyk die verhouding?
Is ons gefokus om aandag te gee aan die belangrikste verhouding in ons lewe? God roep vir jou en vir my. Hy wil ons ondersteun, onderskraag, help met al ons wêreldse uitdagings. Wat keer ons? Wat hou ons terug om ʼn lewe te lei wat vol sukses, suurstof en selfvertroue wat van die Here af kom, te lei?
LEES:
MEDITEER
- Is my lewensstyl ʼn spieëlbeeld van my verhouding met die Vader?
Bid:
Vader, dankie dat ek my wêreldse lewe kan leef terwyl my oog en hart gefokus is op U beginsels en waardes. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek is in die wenspan want ek het Jesus as my afrigter.
Aanbidding:
Praise. Elevation Worship

Dag 2: Die oopdeurbeleid met ʼn verskil
In Matt, 6:33 staan daar:”Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Jesus stel hier voor dat ons eerste prioriteit God moet wees sodat ons redding (geregtigheid) kan ontvang. Die Jode (met wie Jesus hier praat) was erg onderdruk deur die Romeine en het gesmag na verlossing. Hulle wou wegkom uit hulle slegte situasie. Jesus wil dat hulle fokus om hulle leefstyl te verander. Dieselfde geld vir ons vandag. Baie van ons is ongelukkig met waar ons onsself bevind. Ons voel dalk dat omstandighede ons pap druk en ons wil ontsnap ten alle koste.
So hoe lyk dit wanneer ek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek? In Matt 6:30-33 in The Message is dit baie mooi vertaal:” “If God gives such attention to the appearance of wildflowers—most of which are never even seen—don’t you think he’ll attend to you, take pride in you, do his best for you? What I’m trying to do here is to get you to relax, to not be so preoccupied with getting, so you can respond to God’s giving. People who don’t know God and the way he works fuss over these things, but you know both God and how he works. Steep your life in God-reality, God-initiative, God-provisions. Don’t worry about missing out. You’ll find all your everyday human concerns will be met.”
Ons moenie so fokus op “kry” (wêreldse dinge) nie, maar op God se seën. En dan, so mooi, leef in die God-realiteit, God se inisiatief en die feit dat God sorg.
Hoe maak ons bostaande prakties? “You can’t be into God and not be into people.” Om met God besig te wees moet ek met mense besig wees. Jesus was die hele tyd op aarde tussen mense en het slegs wanneer Hy tyd met die Vader spandeer het, homself afgesonder. Sy fokus was op mense gerig. Ons moet dieselfde doen.
In die Nuwe Testament lees ons hoeveel keer dat God as “Vader” beskryf word. Dit is wat Hy wil wees vir ons. Met Jesus se kruisdood is ons in verhouding met God gestel, ons het dus as’t ware ʼn oop telefoonlyn na God. Sy beleid is dié van ʼn oop deur. Ons kan net ingaan.
LEES:
MEDITEER
- Waar staan ek met my verhoudings met ander mense?
- Is daar dalk verhoudings wat ek kan probeer herstel of vir God vra om te help met die gesond maak daarvan?
Bid:
Vader, dankie dat ons U Vader kan noem, dat U deur oop staan vir ons en dat ons op U kan staat maak om ons te help fokus op ander. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek het Jesus se voorbeeld en die Vader se oop deur, niks kan my stop nie.
Aanbidding:
So so good – Brandon Lake and Phil Wickham

Dag 3: Ervarings met waarde
Daar is ʼn grappie van ʼn leraar wat een Sondag besluit om kerk te bank en te gaan gholf speel. Hy speel die rondte van sy lewe, breek die baanrekord en slaan vier kolhoue, ʼn wêreldrekord. Een van die Here se engele vra Hom toe waarom Hy toelaat dat die ou sy gholf so geniet op ʼn Sondag en Hy antwoord:”Vir wie gaan hy daarvan vertel?”
Natuurlik is die bedoeling van hierdie skrywer nie om oneerbiedig te wees nie, maar is dit nie so dat ons die lekkerste ervarings met ons mense wil deel nie? Dalk het jy al alleen iewers gereis en ʼn pragtige natuurtoneel gesien en jy besef dat selfs al neem jy nou ʼn foto daarvan gaan dit nie dieselfde impak hê wanneer jy dit wil oorvertel nie. Verhoudings is die sleutel tot ʼn suksesvolle (vervulde) lewe.
Die kerk gaan oor verhoudings. Alles in die kerk. Jesus het nie aarde toe gekom om Homself op een of ander manier te bewys aan ons of die Vader nie, Hy het gekom vir ons.
Om aan te sluit by gister se gesprek van soek na die koninkryk. Dit is presies wat die Vader wil hê dat ons moet doen – soek na redes om goed te wees vir mense. Ons lewens is net so vervuld soos wat ons verhoudings is. Die diepte van ons verhoudings is die barometer van egtheid wat bewys of ek werklik met die Koninkryk besig is.
God het ons ontwerp vir verhouding, dit is in ons RNA. Ons is gemaak na Sy beeld en gelykenis. Die vyand (sonde) het ten doel om verhoudings te beskadig, verwoesting te saai. Hy weet dat as hy ons verhoudings kan aftrek verskuif ons fokus weg van ander na die eie ek. Tim Keller het gesê:”Sin turns love inward towards ourselves.” Dit is nie waar ons wil wees nie.
Kerk en verhouding met God is nie privaat nie, dit is wel persoonlik. Deel van ons soeke na die Koninkryk is reeds om verhoudings te bou, mense op te bou en nie af te breek nie. Ons gaan môre baie tyd daaraan spandeer. Die kern van vandag se dagstuk is dat ons fokus op ander moet wees, nie op onsself nie, dit bring ons nader aan die Vader, want ons dink soos wat Jesus deurentyd gedink het. Ons lewens raak makliker wanneer ons ons prioriteite verstel.
“Put first things first and we get second things thrown in: put second things first and we lose both first and second things.” CS LEWIS
LEES:
MEDITEER
- Ons weet dat ons sondig van natuur is, maar wat is die voordeel dan om te werk aan my verhoudings met ander en daardeur met die Vader?
Bid:
Vader, U is ʼn Verhoudingsgod, U het ons gemaak in U beeld. Ons wil U vandag loof vir die liefde wat ons kry sonder om te verdien, die oop deur wat nooit toeslaan nie. Help ons om ander mense met liefde en respek te hanteer, soos Jesus gedoen het. Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek is ʼn verhoudingsbouer, nie ʼn breker nie.
Aanbidding:
Here for You – Matt Redman

Dag 4: Dalk mis ons iets in die bekende Matt. 22
In Matt. 36-40 staan daar:” Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”
Die eerste deel van Jesus se antwoord ken ons, dit gaan daaroor dat ons moet streef na ʼn verhouding met die Here. Daar is een woord in die tweede deel wat ons soms mis; “gelykstaan.” Dit beteken “net so belangrik”, “gelyk aan”, “dieselfde”.
Ons kan nie beweer dat ons God liefhet, maar ons isoleer onsself van mense nie. Liefde vir God en liefde vir mense stap hand aan hand. Ons verhouding met God is nie privaat nie, dis wel persoonlik, maar wanneer ons gedurig met iemand twis of ons gesinne weet al dat ons alweer in ʼn “mood” is of ons het daardie een kollega wat ons gereeld laat skel, is ons nie besig met die Koninkryk nie, ook nie met God nie.
God wil hê dat ons oraloor verhoudings aanknoop. Jesus het nie omgegee wat mense se agtergrond was nie, Hy het almal gelyk behandel; daar is die woord gelyk weer ...
Dit is die binnekant van hierdie week se boodskap – verhouding met die Vader en ook verhouding met mense. God is ʼn Verhoudingsgod, Sy hele fokus is op ons. Ons moet dit probeer dupliseer met almal wat oor ons pad kom.
LEES:
MEDITEER
- Wat beteken die gelykheid waarvan vandag se stuk gaan vir jou?
- Hoe kan jy meer en meer fokus op ander mense?
Bid:
Vader, dankie dat U nie selfsugtig met U aandag of U tyd is nie, dat U deur oopstaan vir ons. Lei ons om ook op verhoudings te fokus eerder as op onsself en ons eie probleme. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek besef nou hoe belangrik verhoudings is.
Aanbidding:
Holy Spirit – Jesus Culture

Dag 5: Jesuskind, hou nou op om te worry en fokus
Hoekom mors ons soveel energie om dinge te probeer verander wat buite ons beheer is? Matt. 6:34 (The Living Bible) roep ons terug na die kern: Werk aan dit wat jy kán verander—jou prioriteite—en laat die res aan God oor.
Wanneer God die eerste plek in ons lys het, vind al die ander fasette van ons lewe; familie, verhoudings, werksomstandighede, finansies, gesondheid, ons “purpose”, sy regmatige plek.
God is ’n verhoudings-God. Hy het ons ontwerp om te konnekteer met mense, nie om geïsoleerd aan te ploeter nie. Ons is die somtotaal van ons verhoudings; wys my jou vriende, en ek wys jou jou toekoms. Omdat verhoudings die sleutel tot God se ontwerp is, is dit ook die vyand se teiken. Van Adam en Eva af probeer hy om die verhoudings te vernietig, want hy weet dat sonde die fokus verskuif van “ons” na “my”. Soos Tim Keller sê: “Sin turns love inward towards ourselves.” Wanneer “self” die prioriteit is, is elke verhouding gedoem tot mislukking.
Ons het gedurende die week gesien dat God wil hê dat ons op verhoudings met ander mense moet fokus. Jesus was so. Ons kan nie God liefhê en ons naaste ignoreer nie. Ons naaste is enigiemand wat God naby ons plaas—selfs diegene wat ongemaklik is om lief te hê.
So hoe doen ons dit. Vandag se leesstuk is Matt 7:12. Dit begin by ander mense. Voordat ons verstaan wil word, moet ons eerder streef om ander te verstaan. Hier volg ʼn paar voorstelle:
- Luister voordat jy praat (wysheid kom deur te luister)
- Onthou dat almal ’n onsigbare las dra
- Besef dat woorde krag het—kies stille vergifnis voor felle vernedering.
- Sien mense as siele om lief te hê, nie probleme om op te los nie.
- Moenie wag vir ’n verskoning nie; vra eerste om verskoning.
- Moenie wag dat iemand jou dien nie; begin dien.
Ons kan onmoontlik bostaande op ons eie doen. Ons het die Heilige Gees nodig. Dit is nie deur ons eie oulikheid dat ons dit kan doen nie, dit is deur Sy Gees dat ons liefde, vreugde, entoesiasme en vrede in ander se lewens kan inblaas.
LEES:
MEDITEER
- Wat is jou volgende stap in terme van die voorstelle vir beter verhoudings wat ons hier neergepen het?
Bid:
Vader, dankie vir die Gees wat ons lei om meer en meer en deur volharding te bly veg om ons verhoudings met ander in gestand te hou. Dankie dat ons direkte toegang tot U het. In Jesus naam, Amen.
BONUS: SPREEK LEWE!
Ek fokus nou op ander, nie my probleme nie. God sal sorg vir die res.
Aanbidding:
Love God Love People – Danny Gokey