Go Deep 16 Augustus 2026

JOU GELOOF IS STERK, DIEP EN STANDVASTIG !

Wouter van der Merwe

Geloof is profeties, dit is ’n toekoms prentjie!

 

Dag 1: Wat is Geloof

Jou geloof is sterk, diep en standvastig!

Wanneer mense met Jesus te doen gekry het, was Sy antwoord telkens dat hulle geloof genoeg is. Dit is ook Sy siening van ons. Jesus se fokus was nooit op die hoeveelheid geloof wat iemand gehad het nie, maar daarop dat hulle hulle vertroue in Hom gestel het.

Daarom hoef jy nie te dink dat jy te min geloof het nie. Wanneer jy jou vertroue in Hom stel, het jy reeds geloof ontvang. Dit gaan nie daaroor dat jy nie genoeg geloof het nie, maar eerder of jy die vrymoedigheid het om die geloof wat jy ontvang het, uit te leef.

Geloof het ook te doen met die feit dat jy die Here ken.

Die Griekse woord ginosko (γινώσκω) beteken "om te ken" en beklemtoon persoonlike, ervaringsgebaseerde en verhoudingskennis eerder as bloot intellektuele kennis.

Die Hebreeuse woord yada (יָדַע) beteken ook "om te ken" en dra die betekenis van intieme, persoonlike en ervaringsgebaseerde kennis.

Dit is wat geloof in ons wakker maak: ’n intieme verhouding met die Here. Dit is om Hom te ken, saam met Hom te wees en Hom persoonlik te leer ken.

Geloof is vir die mens. Diere behaag die Here deur diere te wees. Ons as mense behaag Hom deur in geloof met Hom te wandel.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

Faith actualizes what it realizes.

Geloof openbaar wat geloof ontdek en geloof beoefen wat geloof besef!

Geloof is ’n aksie. Dit is iets wat toegepas en uitgeleef word. Dit is wat ons moet doen.

Maar waarin plaas ons ons geloof? Dit kan maklik gesetel wees in die realiteite van vandag of in die vrese wat ons het, en dan begin ons daarvolgens leef.

Ware geloof beteken egter dat ons nie vasstaar teen ons huidige omstandighede of in vrees bly staan nie.

“Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Kor. 5:7).

Geloof is ’n toekomsbeskouing.

Geloof gaan juis daaroor dat ons nie in die verlede bly vashaak nie en ook nie deur die huidige realiteite bepaal word nie.

“Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1).

Geloof is om verder te kan sien as wat jy vandag kan sien. Geloof is ’n prentjie van wat die Here vir jou oor die toekoms wys.

Lees:

Heb. 11:6

2 Kor. 5:7

Heb. 11:1

Mediteer:

  • Het ek al vir die Here gevra om vir my ’n prentjie van my en my gesin se toekoms te wys?

Bid:

Vader, ek erken dat ek so dikwels vasgevang geraak het in my verlede, die realiteite wat ek rondom my sien en my eie vrese. Dit wys vir my dat ek nie altyd my volle vertroue in U geplaas het nie.

Vandag kies ek om nie langer op my verlede en huidige omstandighede te fokus nie, maar om toekomsgerig te begin leef. Ek kies om U te vertrou.

Here, ek het nodig dat U aan my openbaar wat U wil is vir my toekoms. Sal U asseblief vir my ’n nuwe prentjie gee, my deur U Woord lei en vir my hoop gee vir dit wat voorlê?

Help my om met geloof te kyk na wat ek nog nie kan sien nie en om U te vertrou met die pad wat voor my lê.

In Jesus se Naam.
Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek plaas my geloof in God. Ek glo dat Hy die onmoontlike moontlik maak. Hy gee vir my ’n nuwe prentjie van my toekoms, en ek kies om volgens Sy wil te leef.

Aanbidding:

Show Me Your Glory – Brandon Lake

Dag 2: Ontdek die Here deur prentjies!

Geloof is ’n profetiese aksie. Dit beteken om in ’n profetiese prentjie in te kyk van dit wat die Here vir jou wys en jou lewe daarvolgens te belyn. As jy egter nie ’n prentjie het nie, weet jy nie waarin om te glo of waarheen om te beweeg nie.

Jesus het vir ons ’n wonderlike prentjie gegee waarin ons kan glo—’n toekomsprentjie wat die Here in ons harte bou, sodat ons geloof in Hom kan hê en vorentoe kan beweeg met dit waarmee Hy besig is.

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:9).

Geloof is ’n oortuiging en 'n besluit. Ons bely met ons mond dat Jesus Christus die Here, ons God en ons Koning is, en ons glo in ons hart in die bonatuurlike werklikheid van Sy opstanding uit die dood. Dit is die evangelie—die prentjie waarin ons glo.

Romeine 10:13-17 leer ons dat geloof uit die gehoor kom, en die gehoor deur die Woord van God. Daarom het mense ’n prentjie nodig. Hulle moet dit hoor, dit verstaan en dit uiteindelik self begin uitleef.

Ons voetstappe klink wonderlik wanneer ons vir ander die prentjie van geloof skilder en hulle dit begin raaksien en agter daardie prentjie begin aanloop. Maar ons kan nie ’n prentjie vir ander skilder as ons dit nie self ontvang het nie.

Die Here hou van prentjies. Regdeur die Skrif gee Hy vir ons beelde van Sy goedheid en van hoe Sy bonatuurlike wil deur mense werk wat Hom vertrou.

Ons sien dit byvoorbeeld in Genesis 30:31-43, waar Jakob ’n plan volg wat vanuit ’n menslike perspektief vreemd lyk, maar waarin God bonatuurlik werk. Dit gaan uiteindelik nie oor die bokke nie, maar oor Jakob se vertroue in God.

Ons sien dit ook in die pragtige beeld van die doop:

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Die doop skilder vir ons ’n prentjie: die ou mens sterf saam met Christus, en ons staan op as ’n nuwe mens. Van nou af leef Christus in ons. Ons is oorwinnaars in Hom. Hierdie is die prentjie wat die Here vir ons gegee het. Ons kan dit nie op ’n ander manier doen nie. Jy moet deur die simboliese water graf gaan en anderkant uitkom. Daar is iets van nederigheid wat in jou hart moet gebeur om gedoop te word.

Nagmaal is nog een van die wonderlikste beelde wat die Here vir ons gegee het. Deur hierdie sigbare, beeld herinner Hy ons aan Sy liggaam, Sy bloed en die nuwe kragtige verbond.

Wanneer ons begin nadink oor al hierdie beelde wat die Here vir ons gee, ontdek ons iets wonderliks: die prentjies wat Hy vir ons skilder, help ons om Hom al hoe dieper en meer persoonlik te leer ken.

Geloof begin werk wanneer ons die prentjie wat God gee, raaksien, dit glo en daarvolgens begin leef.

Lees:

Rom. 10:9-17

Mediteer:

  • As ek met my mond bely dat Jesus my Here en Koning is, bely my lewe dit ook?
    Kan mense aan die manier waarop ek leef, sien dat Jesus werklik my Koning is?
  • Kan ek myself in die stories en beelde van die Woord raaksien en ontdek wat die Here daardeur vir my wil sê?

Bid:

Vader, dankie vir die beelde en stories in die Bybel waardeur ek meer van U en ook meer van myself leer. Dankie dat dit my help om ’n beter perspektief op my toekoms te kry.

Vader, ek besef dat ek ’n nuwe droom en ’n nuwe prentjie van my toekoms nodig het, sodat ek kan weet waarheen ek op pad is.

Sal U asseblief aan my openbaar wat U vir my wil wys? Help my om die prentjie wat U vir my gee, raak te sien, dit te glo en daarvolgens te begin leef.

In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Geloof gee vir my ’n toekomsprentjie!

Aanbidding:

Speak to Me – Kari Jobe Carnes

Dag 3: Prentjie van ’n gelowige se reis

As ’n mens die Evangelie in ’n prentjie sou teken, kan dit amper soos hierdie prentjie hierbo lyk.

By die skepping sien ons hoe Adam in ’n volmaakte verhouding en gemeenskap met God leef en met Hom wandel. Dan kom die sondeval (1 Kor. 15:45), en die gevolge daarvan raak nie net Adam nie, maar die hele skepping (Rom. 8). Sonde bring skuld, gebrokenheid, pyn, smart, lyding en uiteindelik die ewige dood.

Deur die geskiedenis van die mensdom sien ons dat godsdiens en wettisisme nie daarin slaag om die mens uit hierdie sondige en gebroke toestand te verlos nie. Wanneer jy uit jou eie krag probeer om jouself te red of God deur jou werke te beïndruk, bly jy vasgevang in ’n lewe onder die mag en gevolge van sonde – ’n lewe wat uiteindelik na die dood lei (Rom. 6:13-16). Jy kan nie deur jou eie pogings terugkeer na daardie oorspronklike plek van intieme gemeenskap met God nie.

Dit is waarom die Evangelie sulke Goeie Nuus is! God het ’n plan gemaak. Hy het Jesus Christus, die tweede Adam, na die wêreld gestuur om die mag en straf van sonde deur Sy voltooide werk aan die kruis te oorwin. Jesus het die wet volbring en die prys vir ons sonde betaal, sodat elkeen wat in Hom en in Sy voltooide werk glo, vrygespreek en met God versoen kan word. Hy plaas ons op ’n nuwe pad – ’n pad van intimiteit, geregtigheid en verhouding met God die Vader.

Wanneer jy die Evangelie hoor, wek God geloof in jou hart en bring Hy jou tot bekering. Jy draai weg van jou ou lewe en draai na Christus toe. Jy word gedoop, ontvang die Heilige Gees en word wedergebore.

Die oomblik wanneer jy wedergebore word, staan jy in ’n nuwe verhouding met God die Vader. Jy is geregverdig deur geloof in Jesus Christus, en dit is hoe God jou in Christus sien. Dit is deel van die groot geskenk van genade wat Jesus Christus vir ons bewerk het. Jou stand voor God is nie gebaseer op jou eie volmaaktheid nie, maar op Jesus se volmaakte werk.

Om geregverdig te wees, beteken dat God jou op grond van Christus se volmaakte werk as regverdig verklaar. Jy staan voor Hom nie omdat jy dit self verdien het nie, maar omdat Jesus se geregtigheid aan jou toegereken is deur geloof.

Wat daarna gebeur, is dat daar in jou wandel groei en verandering plaasvind. Jy begin ’n lewe van heiligmaking leef (Kol. 1:12-14) – ’n lewe waarin die Heilige Gees jou al hoe meer verander om soos Jesus te word. Jy begin dinge uitsorteer wat uit plek is. Jy begin die dinge wat nie by jou nuwe lewe in Christus pas nie, aflê en jou lewe al hoe meer in lyn met God se wil bring.

Christus se offer aan die kruis is volkome en voldoende vir al ons sonde. Daarom hoef ons nie elke dag weer ons redding te verdien nie. Ons redding is in Christus. Tog beteken dit nie dat sonde nou onbelangrik is nie. Daaglikse bekering beteken dat ons voortdurend bereid is om ons sonde te erken, daarvan weg te draai en ons lewe aan God se wil te onderwerp. Ons kies daagliks om skoon te maak, reg te maak en weg te draai van verkeerde weë (Kol. 3:10).

So begin jou hele lewe – alles wat jy doen en sê – al hoe meer eer aan die Here gee. Jy begin al hoe meer soos Jesus lyk (Kol. 3:1-13). Jou lewe word ’n getuienis van die Goeie Nuus, en ander mense begin iets van Jesus in jou lewe raaksien (Op. 12:11).

Hierdie pad van heiligmaking is ’n voortdurende groeiproses. Dit gaan voort totdat jy eendag ten volle verheerlik word in Christus. Die dood is die deur op die prentjie hierbo en is deel van elke mens se aardse lewensreis. Maar vir die gelowige is die dood nie die einde nie. Wanneer jy deur hierdie deur gaan, is jy by Christus en wag die uiteindelike vervulling van God se verlossingswerk. Dan is jy ten volle heilig en ten volle verheerlik. In die opstanding ontvang jy selfs ’n nuwe, verheerlikte liggaam (1 Kor. 15:55).

Wanneer jy in Hom glo en Hom bely, plaas Hy jou in ’n nuwe posisie van geregtigheid en verhouding met God. Jy is geregverdig deur geloof in Hom.

Jou lewe word nou soos ’n spreilig wat ’n gebou verlig. Dit gaan nie oor die spreilig nie, maar oor dit wat verlig word. Die spreilig trek nie die aandag na homself nie; dit wys die aandag op die gebou. Net so is dit nie ons wat die middelpunt moet wees nie. Ons roeping is om Jesus te laat skyn.

Deel van ons heiligmaking is om geestelik aan te hou groei. Hoe meer ek die Here deur my lewe verheerlik, hoe meer maak ek Sy Naam groot (Kol. 3:10), en hoe meer begin ander mense na Hom kyk en na Hom toe getrek word.

Soos Johannes die Doper gesê het:

“More of Him, less of me.”

Jesus het aarde toe gekom om vir ons die volmaakte prentjie te skets van hoe ’n mens in verhouding met God en met ander mense leef. Deur Jesus Christus en die krag van God se Gees wat in ons werk, word dit ook vir ons moontlik om al hoe meer soos Hy te leef.

Ons reis begin by die genade van God, ons word geregverdig deur geloof, ons groei deur heiligmaking, en ons bestemming is verheerliking in Christus.

Geloof skets ’n prentjie van ’n geregverdigde, heilige en uiteindelik verheerlikte lewe in Hom!

Lees:

1 Kor. 15:45

Rom. 8

Rom. 6:13-16

Kol. 1:12-14

Kol. 3:1-13

Op. 12:11

Mediteer:

  • Is daar dinge in my lewe wat ek uitstel of vermy om uit te sorteer, en wat my verhinder om ’n lewe van heiligmaking en verheerliking te leef?
  • Wat verlig die spreilig in my lewe? Waarop is my lewe se fokus?
  • Verstaan ek werklik die Goeie Nuus van Jesus Christus, en leef ek daaruit?

Bid:

Vader, dankie vir die volmaakte werk van Jesus Christus aan die kruis en Sy opstanding, wat dit vir my moontlik maak om ’n lewe van heiligmaking te leef en U te verheerlik. Dankie vir die oorwinning wat U reeds behaal het en dat ek hierdie Goeie Nuus al hoe beter kan verstaan en uitleef, sodat ander se lewens ook gered en heilig gemaak kan word en U daardeur verheerlik kan word.

In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My geloof is in Jesus Christus! Deur Hom is ek geregverdig en geheilig, en ek leef ’n verheerlikte lewe in Hom!

Aanbidding:

Known By You – Gateway Worship

Let My Life Be Worship – Bethel Music

Dag 4: Geloof skep ’n prentjie van hoop vir die toekoms

Ons het vandag die groot voorreg om die Evangelies te hê en Jesus se lewe te bestudeer. Die Bybel gee vir ons ’n prentjie van wie Jesus is en hoe Hy geleef het. Ons lees ook van die beloftes wat God vooraf gegee het oor die Verlosser wat sou kom.

Dink aan Maria. Sy het die beloftes van God oor die Messias ontvang en later direkte woorde van God gehoor oor die Kind wat sy sou baar. Sy was daar toe die skaapwagters gekom het, en later toe Simeon en Anna in die tempel oor Jesus gepraat het. Sy het hierdie dinge diep in haar hart bewaar. Sy het die beloftes gehad, maar sy het nog nie geweet presies hoe alles sou uitspeel nie. Sy moes glo wat God gesê het, selfs voordat sy die volle vervulling daarvan kon sien.

Jesus se lewe is vir ons die volmaakte en ware prentjie van geloof.

Stel jou voor dat jy saam met Jesus grootword as Sy jonger broer of suster. Stel jou voor dat Hy jou ouboet is en dat Hy die hele tyd volmaak is – Hy doen alles reg en leef sonder sonde. Jy moet Hom bewonder, maar jy moet ook in Sy voetspore volg. Dit moes nogal intimiderend gewees het.

Jakobus was so ’n broer. Hy het Jesus se lewe persoonlik gesien. Hy het Jesus se aardse lewe voor sy oë sien afspeel en daarom verstaan hy dat ware geloof sigbaar word in hoe ons leef.

Jakobus, wat later ’n pastoor in die gemeente in Jerusalem geword het, skryf: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jak. 2:17).

Hy sê daarmee dat geloof nie bloot iets is wat ons met ons mond bely nie. Ware geloof word sigbaar in ons lewe en in die vrug wat dit voortbring.

Selfs in die Ou Testament sien ons die skaduwee van Jesus Christus en ontdek ons telkens prentjies en profesieë wat vooruitwys na Hom.

Profete soos Jesaja, Daniël, Esegiël, Jeremia, Maleagi en Joël het deur hulle profesieë toekomstige prentjies van God se plan geskets.

Die Here gee vir Esegiël ’n prentjie van iets wat nog nie bestaan nie.

Jerusalem is vernietig, die tempel is verbrand en dit lyk asof daar niks oor is nie. Tog is God die God van genade. Hy gee vir Esegiël ’n prentjie van wat Hy weer gaan doen – ’n prentjie van herstel en van ’n toekomstige tempel.

Geloof is ’n toekomsprentjie. Geloof kyk verder as wat ons nou kan sien. Geloof wys ons waarheen God ons lei. Dit is profeties.

Selfs wanneer ons huidige omstandighede totaal anders lyk, kan God vir ons ’n prentjie gee van dit wat Hy nog gaan doen. Geloof kyk nie net na waar ons vandaan kom of waar ons tans is nie; geloof kyk na waarheen God ons neem.

Ek kyk nie net na wat nou is nie; ek kyk na wat God sê nog gaan wees. God kan reeds die herstel sien.

Dit is waarmee die profete besig was. Hulle het vir ons toekomsprentjies geskets van God se plan en van waarheen Hy besig is om dinge te lei.

Ons het ’n Afrikaanse gesegde wat lui: “Sien is glo.” Geloof sê eerder: “Glo, en dan sal jy sien.” (2 Kor. 5:7)

Ons glo God se Woord en Sy beloftes, selfs voordat ons die vervulling daarvan met ons oë kan sien.

God gee voortdurend prentjies van die toekoms vir Sy mense. Hoop en rigting deur Sy Woord en deur die leiding van Sy Gees. Dit kan groot Bybelse profesieë wees, maar ook die persoonlike leiding wat Hy vir ons gee wanneer ons Hom soek. Dit kan selfs betrekking hê op ons roeping, ons gemeente, ons gemeenskap of die mense rondom ons.

God kan vir iemand ’n prentjie gee van waartoe Hy hulle roep, hoe Hy hulle wil gebruik en waarheen Hy hulle wil lei.

Die Here sê:

“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee (Jer.29:11).

Die uitdaging is om nie net te hoor wat God sê nie, maar om die prentjie te sien en in geloof vorentoe te beweeg.

Watter tipe profeet is jy langs die braaivleisvuur?

Watter tipe prentjie skilder jy vir mense by die werk, onder jou vriende of in jou familie?

Die naam van die Boek is die Evangelie – die Goeie Nuus.

Jou roeping is om ’n prentjie van die Goeie Boodskap en hoop te skilder.

Nie ’n prentjie van vrees, hopeloosheid en slegte nuus nie. Nie ’n prentjie wat sê dat God nie ’n plan het nie. Ons kan kies om ’n prentjie van hoop te skilder – ’n prentjie wat mense herinner dat God steeds God is, dat Hy steeds werk en dat ons Hom kan vertrou.

As jy nie ’n prentjie van hoop en geloof vir jou gemeenskap of jou land het nie, vra die Here om vir jou te wys wat Hý sien.

Die Here wil jou oprig en jou geloof versterk, maar jy het ’n prentjie nodig wat jou hoop gee en jou geloof vir die pad vorentoe versterk.

Bid: “Here, wys my wat U sien.”

Wanneer God vir ons ’n prentjie gee, gee dit ons geloof om vorentoe te beweeg.

Lees:

Jak. 2:17

2 Kor. 5:7

Jer. 29:11

Eseg. 47

Mediteer:

Is my geloof sigbaar in hoe ek leef?

Die vraag is nie net: Wat glo ek? nie, maar ook:

  • Watter prentjie skep my woorde en my lewe vir ander mense?
  • Het ek ’n prentjie van God se goedheid en Sy beloftes vir my toekoms, of is ek eerder ’n doemprofeet?
  • Glo ek in dit wat God vir my wys?

Bid:

Here, wys my wat U sien:

  • vir my eie lewe;
  • vir my huwelik;
  • vir my kinders en kleinkinders;
  • vir my dorp;
  • vir my land;
  • vir die toekoms.

Help my om te sien wat U sien, om te glo wat U sê en om met geloof en hoop te leef.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek word stil by die Here en vra Hom om vir my die hoop te wys wat Hy vir my het. Ek glo wat Hy my wys, praat daaroor met ander en begin die prentjie van hoop uitleef!

Aanbidding:

All Things New – James River Worship

You Make Everything Beautiful – Rebecca St. James, for King + Country

Dag 5: Geloof Glo, Sien en Skets Jesus

Geloof glo voordat jy sien: Ons geloof is nie net gebaseer op wat logies of sigbaar voor ons is nie. Ons vertrou op ’n bonatuurlike God, selfs wanneer dit wat Hy belowe het, nog nie sigbaar is nie.

Abraham word beskryf as die vader van ons geloof. God het hom geroep om na ’n land te gaan wat Hy vir hom sou wys. Abraham het nie vooraf geweet waarheen hy gaan nie. Hy moes eenvoudig God vertrou en in geloof begin beweeg.

Geloof is profeties. Dit beteken dat jy God se belofte glo en volgens daardie geloof begin beweeg, selfs voordat jy die vervulling daarvan met jou oë kan sien. “Voordat jy sien, moet jy sien.”

Geloof is sterk verbind aan verhoudings en is nie alleen nie: Abraham se geloofsaksies wys ons ook dat God ons roep tot verhouding met mense. Toe Lot gevange geneem is, het Abraham gegaan om hom te bevry. Sy optrede was nie gedryf deur persoonlike voordeel of mag nie, maar deur sy liefde en verantwoordelikheid teenoor iemand wat aan hom verbind was.

Geloof wat werklik uit God kom, raak daarom nie net ons eie toekoms nie. Dit beïnvloed ook hoe ons ander mense behandel en of ons hulle help om God se prentjie raak te sien.

Dit is belangrik dat ons die prentjies wat God gee, deur nederigheid bewaar: God is voortdurend besig om mense te roep en vir hulle ’n prentjie te gee van wat Hy in en deur hulle wil doen.

God het met Nebukadneser gepraat en aan hom buitengewone openbarings gegee. Tog het sy hoogmoed veroorsaak dat hy God se werk aan homself toegeskryf het. Hy het na sy koninkryk en sy sukses gekyk en gesê: “Is dit nie die groot Babel wat ék gebou het deur my groot mag en tot eer van my majesteit nie?” Die gevolg was dat hy verneder is totdat hy erken het dat die Allerhoogste oor die koninkryke van die wêreld heers.

Jy kan die prentjie sien en dit steeds totaal mis as daar hoogmoed, vrees of negatiwiteit in jou hart is.

“But for the grace of God, there goes I.” – William Booth

Geloof vertrou God se plan: As ons nie waaksaam is nie, kan ons die doel wat God vir ons het, probeer bereik op ’n manier wat Hy nooit bedoel het nie. Ons kan probeer om dit deur ons eie krag, planne en menslike insig te vervul.

God het Abraham en Sara ’n belofte van ’n seun gegee. Hulle het egter probeer om die belofte deur hulle eie menslike plan te laat gebeur, en Ismael is daaruit gebore. Die probleem was nie dat hulle niks gedoen het nie; die probleem was dat hulle probeer het om God se belofte op hulle eie manier en volgens hulle eie tydsberekening te vervul.

Geloof sê nie dat alles maklik sal wees nie. Dit sê: God is getrou, selfs wanneer ek nog nie kan sien hoe alles gaan uitwerk nie.

Geloof hou vas aan God se Woord: Ons kan elke prentjie wat God vir ons gee, aan Sy Woord toets. Dit sal nooit Sy Woord weerspreek nie. Dit sal altyd binne God se groter plan, Sy Woord en jou roeping pas.

Geloof gee ’n toekomsverwagting van hoop en waarheid: Dit help jou en ander om uit moedeloosheid, vrees, swaarkry en ’n negatiewe ingesteldheid op te staan en weer met hoop vorentoe te kyk.

Sadrag, Mesag en Abednego het geweier om voor Nebukadneser se beeld te buig. Hulle het gekies om die Koning van die konings te vertrou. Hulle geloof het nie beteken dat hulle geweet het hoe God hulle sou red nie. Hulle het net geweet wie God is en dat Hy waardig is om vertrou te word. Toe hulle in die vuuroond gegooi word, het Nebukadneser ’n vierde Persoon in die vuur gesien.

Ons moet God se prentjie kies, Sy plan vertrou en weier om aan die verkeerde prentjie vas te hou.

Uiteindelik is Jesus Christus die grootste prentjie voor ons: Ons moet Hom volg, Hom verheerlik en ons eie lewe gebruik om hierdie prentjie vir ander mense sigbaar te maak.

Ons hoef nie alles vooruit te sien nie.

Ons moet net die Een volg wat die hele prentjie sien.

Lees:

Joh. 14:6

Mediteer:

  • Glo ek voordat ek met my oë kan sien?
  • Het ek ’n duidelike prentjie van God se wil vir my toekoms?
  • Is hierdie prentjie in lyn met God se Woord?
  • Begin ek volgens hierdie prentjie leef?

Bid:

Vader, dankie dat U prentjie nie net ’n prentjie, ’n droom of ’n gedagte is nie, maar Goddelik is.

Dankie dat U my siel verkwik met U prentjie, hoop en ’n verwagting vir die toekoms!

Dankie dat my toekoms oorloop van U handewerk en dat ek my oë gevestig kan hou op dit wat U wys en daarvolgens kan leef, selfs wanneer dit nie so lyk nie.

Dankie dat dit nie ’n alleenpad is nie, maar dat daar ander gelowiges is wat saam met my stap. Dankie ook vir die mense wat nog deur my lewe, wat na U wys, tot geloof in U sal kom.

In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo in die Waarheid, die Weg en die Lewe – Jesus Christus. Ek sien die prentjie wat Hy vir my skets en leef daarvolgens!

Aanbidding:

The Way The Truth The Life – Celebration Music

No One Like The Lord – Bethel Music