PRINCE OF PEACE #2
Neville Goodchild
Praktiese wenke om die Vredevors in jou belangrikste verhoudings te verwelkom!
Dag 1: Die tekens
Daar is mense wat beweer dat Jesus Christus alreeds weer gekom het en dat ons nou in die vrede tydperk is. Jesaja profeteer oor hierdie tydperk, oor die tekens wat ons sal sien:
“Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes.9:5).
“‘n Kind is vir ons gebore”. Dus is dit voorspel dat Jesus Christus as ’n kind biologies, fisies vir ons gebore is. Ons weet geskiedkundig het dit gebeur en die hele wêreld erken dit. “’n Seun is aan ons gegee”. Jesus Christus het Sy hemelse plek langs Vader vir ons opgegee.
“En die heerskappy is op Sy skouer”. Dit beteken dat Hy die las van God se heerskappy op aarde sou kom dra. Hy sou verantwoordelikheid neem, ’n tipe gesag soos ’n rang wat aangedui word, maar ook op God se manier, op aarde. Hierdie is ’n profesie van voor Sy geboorte, regdeur tot in die koms van die tye, van die finale gesag van Jesus Christus in die Koninkryk van God.
Dan, wanneer Hy kom, is dit hoe dit sal lyk en dit is wat mense sal sê waar Hy heers: Wonderbaar (omdat daar wonderwerke gebeur), Raadsman (omdat Hy in wysheid heers), Sterke God (omdat mense sal getuig van Sy krag), Ewige Vader (omdat Jesus Christus juis ons kom versoen het met God die Vader; mense se getuienis en storie sal wees, “ewige Vader”), Vredevors (Hy word genoem die Prins van Vrede, want Hy is die Seun van Vrede). Dit is hoe dit sal lyk, en dit is wat mense sal sê waar Jesus Christus heers. Dit sal anders lyk wanneer die Prins van Vrede op die Troon van Vrede heers. Daar is ’n ander realiteit wanneer Jesus Christus in beheer is van alles op aarde.
Vrede is nie ’n eksterne faktor, ’n feit of ’n belewenis nie. Vrede is slegs moontlik wanneer dit in jou hart aanbreek. Dit begin binne jou en vloei dan uit jou na die wêreld om jou. Dit is dan moontlik dat die wêreld om jou begin verander, nie net deur jou perpektiewe wat verander nie, maar ook in jou heerskappy, omdat jy saam met Christus heers. Eventueel sal ons vir ewig saam met Hom heers om vrede te handhaaf in die hemel en op aarde!
Lees:
Mediteer:
- Jesus Christus is die perfekte uitbeelding van die Vader, daar is geen ander beter, suiwer voorbeeld nie. Jesus is die manifestasie van die Vader (Heb.1:1-3). Kan jy assosieer met Ewige Vader?
- Wanneer mense die Vader beleef, beleef hul sekuriteit en veiligheid. Jesus is so ’n egte vertoonstuk van die Vader, dat wanneer Hy op die toneel verskyn, roep mense uit "Ewige Vader". Dit was profeties van die versoeningswerk wat Jesus Christus kom doen het. Hy het ons voorgestel aan die Vader!
- “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien” (Joh.14:6-7).
Bid:
Vader, dankie vir die vrede wat U in my laat heers deur die vrede wat U Koninkryk deur Jesus Christus bring. U heers in my hart en U is die Koning van my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Vrede begin binne my, dit is nie ‘n eksterne faktor nie!
Aanbidding:
God You Reign – Lincoln Brewster
Dag 2: Groei
“Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jes.9:6).
Voor Jesus Christus se geboorte was die Jode een volk van God, met ‘n spesifieke grondgebied. Toe Jesus kom, toe begin God se volk (wat rebels en afvallig geword het) groei en mense word met God verbind. Die Diaspora is ‘n tydperk in die geskiedenis waarna verwys word toe die Jode onderdruk en vervolg is. Hulle het as gevolg van die onderdrukking begin uitbeweeg na ander omgewings. Die Evangelie het met rasse skrede begin uitbrei, en is verkondig aan ander nasies; later word dit alle nasies.
Selfs toe Jesus verwerp is, kon Sy werk nie geëlimineer word nie. Dit het Sy werk inteendeel geaktiveer. Die vervolging van die Nuwe Testamentiese kerk het tot gevolg dat alle volke en tale wêreldwyd, die ware Evangelie hoor. Daar waar God betrokke is, is daar groei.
Dit is ook wat gebeur wanneer God se werk in jou lewe teengestaan word. As God betrokke is, sal dit God se werk in en om jou aktiveer. As die Prins van Vrede teenwoordig is en die heerskappy in jou lewe op Sy skouer is, sal selfs teenstand groei aktiveer. Dit is wat vrede doen. As vrede nie teenwoordig is nie, sal weerstand, teenstand, konflik en uitdagings God se werk in jou lewe kelder. Omdat die Vredevors daar is, kan selfs weerstand, God se werk in jou lewe aktiveer.
Ons beleef daarom iets van ‘n diaspora in ons eie lewens elke keer wanneer ons teenstand en teleurstelling beleef. Dit is waar die werk van God floreer in ons lewens en dit soms nodig is om sterker te word, ook sterker in ons geloof. Dan sien ons in ons eie lewens hoe God se Koninkryk met rasse skrede uitbrei!
Lees:
Mediteer:
- Rus jou lewe en omstandighede op Jesus Christus se skouer?
- Wat is die gevolge daarvan in jou en ander om jou se lewens?
- Ervaar jy vrede in jou uitdagings?
- Indien jy nie vrede ervaar nie, wat is uit plek?
Bid:
Vader, dankie dat U besig is om te werk en om U heerskappy uit te brei. Dankie dat ek deel kan wees van die werk wat U doen en dat U my wys, dat selfs in moeilike omstandighede, is U juis besig om te doen wat net U kan doen. U Koninkryk vermeerder want Jesus Christus is Koning. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus Christus is my Here en daarom heers Hy in my Lewe. My hede en my toekoms rus op Sy skouers. Ek heers saam met Hom en sien hoe daar groei is oral om my, vermeerdering van Sy heerskappy, selfs in tye van teenstand en teleurstelling!
Aanbidding:
God is On the Move – 7eventh Time Down
Dag 3: Binne ons
Die belangrikheid van die geboorte van Jesus Christus is nie ‘n geografiese gebeurtenis nie. Om na die fisiese plek te reis om ‘n belewenis van Hom te kry, is kennis verreikend, maar nie Geestelik verreikend nie. Daar is nie ‘n dieper Geestelike iets wat gebeur wanneer jy in en deur Jerusalem stap nie. Die persoonlike belewenis waarna jy opsoek is, is dat Jesus gebore moet word binne jou. “Van toe af het Jesus begin om te preek en te se: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mat.4:17). Later leer Jesus sy dissipels” “En hulle sal nie sê: Kyk hier! Of: Kyk daar! Nie; want die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk.17:21).
Die Koninkryk van God het geskuif van ‘n plek (Israel), na binne jou en my. Die Koninkryk van God is ‘n persoonlike belewenis. Die geboorte van Jesus Christus is ‘n persoonlike belewenis. As Jesus nie gebore is in my nie, kan ek nie deelneem aan die goeie nuus nie. Ek kan deelneem aan ‘n geskiedkundige kalenderdatum, maar Jesus is binne-in ons gebore, en Sy heerskappy in my lewe bring vrede binne my.
“op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jes.9:6).
Hierdie profesie geld nie net vir die troon van Dawid nie, maar dit is binne ons waar Hy die Koninkryk aangekondig het, in ons harte! God se Woord is betroubaar en Hy sien met ywer toe dat hierdie profesie in ons eie lewens vervul word.
Jesus heers deur vrede en Hy handhaaf Sy heerskappy deur vrede. Dit gebeur nie deur wette, regulasies en ‘n magsvertoning nie. Dít is die wêreld se manier. Dan verg dit ook dat vrede die heeltyd gehandhaaf moet word, wat eintlik ‘n aanduiding is van onvrede. Ons wil vrede meet aan eksterne dinge om te bepaal of daar vrede is. But the absence of war is not peace. Om na buite te kyk om vrede te bepaal, is om heerskappy op ander se skouers te plaas eerder as op Jesus se skouer.
In Christus is dit anders. Jesus heers deur vrede, deur die nuwe wet van liefde en genade. Hierdie vrede is intern, dit is in jou hart.
Daarom staan daar in Spr. 4:23 “Bewaar jou hart (die Troon van die Prins van Vrede) bo alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
Lees:
Mediteer:
- Hoekom is ware vrede nie gelyk aan die afwesigheid van oorlog nie?
- Hoe kry ek vrede in my hart?
- Watter deel van dit wat die Vredevors gebring het, het ek in my eie lewe?
- As God sê dat Hy ywerig is dat hierdie dinge vervul sal word, wat wil Hy hê moet ek beleef in my lewe?
Bid:
Vader, dankie dat U getrou is en dat U aktief besig is om te kyk dat U Woorde in my lewe tot vervulling kom. U is getrou en regverdig en U heers deur vrede. Halleluja! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Die Prins van Vrede heers in my eie lewe in my hart!
Aanbidding:
King of My Heart – Bethel Music
Dag 4: Onlosmaaklik deel
Ons het vroeër hierdie jaar gesels oor ‘n swaelstertvoeg wat op die perfekte manier in mekaar pas, sodat dit die sterkste binding vorm, wat geen gom of ander ekstras benodig nie.
Wanneer ons in Jesus Christus een word met God, verbind Hy ons met Homself om onlosmaaklik deel te hê in alles wat Sy heerlikheid betref. Hy gee vir ons Sy vrede.
“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God”(Rom.5:1-2).
Ons verloor hierdie vrede wanneer ons na eksterne dinge kyk en dít as waarde of waarheid meet. Ek kan nie vrede beleef as my vrede nie by God begin nie.
God se heerskappy en uitkyk is gebaseer op Sy Woord en heersende waarheid. God kyk nie na dit wat ons nog nie gedoen het, of wat ons miskien gemis het nie. Hy kyk na dit wat Hy aangekondig het en maak seker dat dit in vervulling kom.
Volgens Romeine 5 staan ons deur geloof in Jesus Christus, in eenheid, in perfekte verhouding met God. God staan op hierdie afgehandelde realiteit wat vir ons twee belangrike kern waarhede gee, in ons verhouding met Hom:
- Ons het vrede. Dit kom van God af deur geloof in Jesus Christus.
- Ons het toegang. Deur geloof het ons toegang tot God en Sy genade.
Irene is hierdie vrede, wat nie die afwesigheid van konflik is nie. Hierdie vrede is die vrede wat ons verkry deur versoening met God op grond van ons geloof. Ons is in vrede in verhouding met Hom (Romeine 1 en 2).
Dit is soos die voeg wat een word, en niks ekstra benodig nie. Dit is onlosmaaklik verbind. Ek is nou ‘n ekstensie van Sy Heerskappy en vrede.
Heerskappy gebeur wanneer twee perfekte partye, perfek en volmaak deur God verklaar, bymekaar gevoeg word. Dít is die sekuriteit wat ons het. In Sy volkomendheid is ons volkome.
Irene is om te rus in die Here en vrede te kry dat ek saam met God, vir ewig, onlosmaaklik verbind is, in perfekte volkomendheid!
Lees:
Mediteer:
- Wat beteken ‘n swaelstertvoeg vir my in my verhouding met God?
- Daar kan net vrede in my omgewings wees as ek verstaan dat Hy nie verander nie. Deur Sy vrede in my hart, is ek die ambassadeur wat vrede uitleef. Soos Hy is, is ek ook in hierdie wêreld (1Joh.4:17). Daarom is ek my wêreld se vredevors. Ek kondig die koms van God se heerskappy aan waar dit nodig is.
- Al wat ek nodig het, is myself en Jesus Christus.
- As ek opdaag en God daag op, dan is dit die perfekte omgewing. Al wat dan uit plek kan wees, is ek (van wie die waarde reeds bepaal is, en die pottebakker reeds alles reg gevorm het).
- Al die ander ekstras is gom wat ek dink die voeg gaan sterker maak, maar die krag van God in my lewe is al wat nodig is, en ek het dit reeds in Jesus Christus.
Bid:
Vader, dankie dat ek in U gevoeg is met die sterkste voeg wat daar is. Ek is onlosmaaklik aan U verbind. U vrede heers in my en ek heers saam met U, in U, deur U en tot U. Dankie vir U krag in en deur my, en dat ek U vrede kan uitleef na die wêreld om my. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
In Christus is ek onlosmaaklik in God se perfektheid ingebind!
Aanbidding:
Dag 5: Omgewing van Vrede
“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (Kol.3:15).
Vrede is ’n teken vir gelowiges omdat God deur vrede heers. Die oomblik wat ons ons vrede verloor, verloor ons die heerskappy van Jesus Christus in ons lewens. Vrede is vir ons soos ’n kompasnaald, dit is ’n aanduiding dat Hy op die troon van ons lewens is en heers.
Hoe kan ons prakties raak om vrede in ons omgewing in te bring?
Vrede is nie net die afwesigheid van oorlog nie. Dit is nie net om onsself uit konflik te verskoon nie, want dít is nie om in vrede te heers nie.
Hoe kan ons Geesvervuld, vol van die Here, by mense opdaag en dit regkry om Jesus Christus in ons verhoudings sigbaar te maak, sonder om 'n woord te sê?
Vrede lyk só in die Nuwe Testamentiese gelowige se lewe. Daar is vryheid om:
- Anders te wees: ’n Omgewing van genade aanvaar nie net dat God mense verskillend gemaak het nie, maar omhels hierdie verskille en vier fees daaroor. Dit skep ruimte, sodat mense gemaklik hulself kan wees.
- Broos te wees: Genade skep ’n omgewing waarin dit “OK” is om nie die hele tyd “OK” te wees nie. Wanneer ons in performance mode is, is daar geen ruimte vir swakheid nie. Genade kyk verby swakheid en skep ’n omgewing waarin mense rondom jou sterk kan word.
- Opreg te wees: Genade roep uit: “geen publieke verleentheid!”. Daar is ’n eerlike konfrontasie wat in die privaat uitgesorteer word en dit skep ’n oortuiging van dit wat reg is. Leierskap wat genade uitleef, gee ruimte vir opinies. Genade skram weg van blatantheid wat toksies is. Oneer kweek oneer.
- Foute te maak: Die kruis het nie net vir ons verlede sonde betaal nie, maar dit skep ’n omgewing van genade waarin ons mag leef en foute maak.
Vrede heers in ’n omgewing van liefde en genade.
Wanneer ons ’n omgewing van genade skep, dan word mense om ons bruid-materiaal van Jesus Christus!
Lees:
Mediteer:
- Wat kan ek doen om vrede prakties toe te pas in my omgewing?
- Wat sal dit van my verg om dit deur te voer?
Bid:
Vader, U Gees is my krag wat my help om ‘n omgewing van liefde en genade te skep, sodat vrede kan heers. U gee vir my die gesag en die wil om ander soos U lief te hê, sodat hulle anders kan wees en ek dit kan celebrate, sodat hulle hulle self en broos by my kan wees, sodat hulle opreg kan wees en foute mag maak. Dankie dat U vrede in en deur my heers sodat U Bruid tot haar volle reg kan kom. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
In die vrede van die Prins van Vrede, skep ek ‘n omgewing, sodat ander om my groei as die Bruid van Vrede!
Aanbidding: