Go Deep 10 Oktober 2021

DAAR IS ALTYD MEER

Albert Verwey

 

Dag 1: Gunsteling skrifvers

Elkeen van ons het 'n spesifieke teksvers wat vir ons uitstaan. Dit is heel moontlik 'n vers wat in 'n spesifieke situasie baie vir ons beteken het. Dit is ook moontlik dat iemand jou geseën het met Woord en jy dit jou eie gemaak het.

Is Jeremia 29:11 dalk ’n vers wat vir jou baie beteken? Hierdie is ’n vers wat vir ons ’n hoopvolle toekoms belowe en ons wil dit vat en ons eie maak, maar verstaan ons hierdie vers korrek? Is daar moontlik meer?

Daar is drie belangrike beginsels wat ons kan toepas om dieper te delf in ‘n skrifvers wat ons ontvang. Hierdie drie beginsels is: konteks, ontleding en toepassing.

  • Konteks

Stel vas wie die skrywer was. Stel vas aan wie dit geskryf was. Wat was die omstandighede tydens die skrywe van die vers? Wat staan voor en na die vers?

  • Ontleed skrif met skrif

Die beste interpretasie van God se Woord is God se Woord. Gebruik skrifaanwysings van ander skrif om ’n sekere skrif beter te interpreteer.

  • Toepassing van skrif in ons lewens

Die Bybel is nie net daar om as Logos (God se geskrewe Woord) toegepas te word nie, maar ook sodat ons Rhema (Heilige Gees geïnspireerde Woord)  kan ontvang deur God wat met ons praat deur sy Woord, en dit uit te leef.

Deur hierdie drie beginsels toe te pas wanneer ons skrif kry, delf ons dieper en kry ons die ware betekenis van ‘n vers.

Lees:

Jeremia 29:11

Johannes 3:16

Mediteer:

  • Dink na aan jou gunsteling vers en in watter omstandigheid of situasie jy was toe jy die vers ontvang het.
  • Neem 'n oomblik en dink aan die betekenis en uitwerking van die vers op jou lewe.
  • Neem hierdie gunsteling vers van jou en delf dieper deur die drie beginsels daarop toe te pas.

Bid:

Abba Vader, dankie vir u Woord wat vol beloftes en waarhede is vir my lewe. Heilige Gees, spreek deur die Woord sodat ek die volle betekenis kan ontvang van die waarheid in u Woord. Breek asseblief Uself as Woord vir my oop terwyl ek lees. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die Woord is vol beloftes vir elkeen van ons, maar daar is soveel meer as net 'n “feel good” vers.

Aanbidding:

Your Word - Hillsongs

 

Dag 2: Wanpersepsies

Gister het ons bietjie na gunsteling verse gekyk en melding gemaak van die belofte wat in Jeremia 29:11 staan, en dat daar 'n dieper betekenis  in die vers is as net om vir ons 'n hoopvolle toekoms te bied.

Wanneer ons beloftes in die Bybel lees, is dit belangrik om onderskeid te tref tussen twee tipes beloftes, naamlik spesifieke beloftes en algemene beloftes. Jeremia 29:11 is 'n spesifieke belofte wat God gegee het vir die volk van Israel op 'n spesifieke tydstip. Dit is nie verkeerd om hierdie vers jou eie te maak nie, en dit beteken ook nie dat die vers nie kragtig in jou lewe kan werk nie. Die gevaar om 'n spesifieke belofte te neem as 'n algemene belofte en van toepassing op jou lewe te maak, is dat ons 'n wanopvatting ontwikkel oor wie God is en wat sy bedoeling met ons lewens is in tye wanneer ons skielike teenspoed beleef. Hierdie vers belowe 'n hoopvolle toekoms wanneer jy dit joune maak — maar, skielik verloor jy 'n geliefde, of jy word afgedank by die werk, en jou toekoms lyk nie meer so hoopvol nie.

Dit veroorsaak dat jy begin glo dat God nie bestaan nie, of dat Hy nie noodwendig 'n goeie God is nie. Daarom is dit baie belangrik om, eerstens, die drie beginsels op 'n vers toe te pas soos ons gister bespreek het en ook sodoende te onderskei tussen watter tipe belofte dit is, voordat ons net 'n vers aangryp en dit ons eie maak.

Lees:

Johannes 3:16

Mediteer:

  • Maak 'n lysie van die beloftes uit die Woord waarop jy op hierdie oomblik staan.
  • Vat elke belofte en bepaal watter tipe belofte dit is.
  • Neem 'n oomblik en laat die Heilige Gees weer opnuut met jou praat en weer kom bevestig wat hierdie beloftes betref.

Bid:

Abba Vader, dankie dat ons altyd weet u hart vir ons en ons lewens is goed, dat u liefde vir ons groter is as enige wanopvattings of twyfel wat ons kan teenkom. Heilige Gees, kom wys my die beloftes en betekenis volgens u wil vir my lewe.  Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se goedheid is onmeetbaar en oneindig vir jou!

Aanbidding:

Good good Father - Chris Tomlin

 

Dag 3: Gedagtes

Ons het gekyk na spesifieke en algemene beloftes en die gevaar wat dit inhou om 'n spesifieke belofte as 'n algemene belofte vir ons te neem. Ons het ook bespreek dat dit nie verkeerd is om ‘n spesifieke belofte as 'n algemene belofte te neem indien die Heilige Gees dit so openbaar nie. Wanneer ons dit wel doen, moet ons seker maak wat ons hart se motief is. Jeremia 29:11 is ‘n skrif wat elkeen van ons oor ons lewens wil spreek, maar wanneer ons dit net spreek om te verseker dat ons lewens sonder teenspoed en vol guns en goedheid sal wees, is ons gedagtes besig om vir God voor te skryf. Hierdie manier van dink is baie gevaarlik.

Craig Groeschel sê die volgende:

“If this is our thinking, we reduce Christianity to a 'means to an end'. God exists to make my life easier, God exists to make my life comfortable, God exists to make me prosperous, God exists to bless me, and if we are not careful, we become the main object of God’s word, when in reality, God is the main object of everything.”

Ons moet seker maak dat dit wat ons najaag nie ons eie gedagtes en wil is nie. Ons is nie geskape sodat God se Woord óns dien nie, maar eerder dat ons Hóm dien.

Lees:

Johannes 1:1-4

Mediteer:

  • Neem 'n oomblik en bepaal wáároor jy dink wanneer jy Jeremia 29:11 lees.
  • Dui hierdie gedagtes God as middelpunt aan, of jouself?
  • Dink terug aan tye van teenspoed, en wat jou gedagtes oor God se goedheid was?

Bid:

Abba Vader, dankie dat my gedagtes oor u goedheid nooit die Woord en u wil vir my lewe kan verander nie. Vader, kom leer my om my denke te vernuwe en dit in lyn te bring met u Woord en nie met my eie wil nie. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ons dien ‘n God wie se gedagtes oor ons altyd hoër is as wat ons vir onself kan dink!

Aanbidding:

Your Word - Hillsongs

 

Dag 4: Valse waarheid

Ons het gister gekyk hoe maklik dit is om sekere gedeeltes van ‘n vers te neem en te dink dat God die belofte moet laat gebeur en waar maak in my lewe. Dieselfde gevaar bestaan wanneer ons slegs gedeeltes van die Woord wil hoor omdat dit my omstandighede pas en beter vooruitsigte inhou. Dit het ook gebeur in Jeremia 28: daar was ‘n stryd tussen Jeremia en die profeet Hananja. Hananja was ‘n valse profeet en het aan die volk gesê dat die verdrukking wat hulle beleef het net vir twee jaar gaan duur. Dit nadat God spesifiek met Jeremia gepraat het en gesê het dat die verdrukking gaan stop, maar eers oor 70 jaar.

Hierdie nuus van Hananja was valse goeie nuus, valse waarheid. Dit is aanloklik om die halwe waarheid te wil glo en as waarheid te sien. Dit klink net beter om twee jaar in verdrukking te leef as 70 jaar! Ons kan nie net glo wat in die Bybel staan in gevalle waar dit ons laat goed voel nie, want dan loop ons die ander dinge mis wat God vir ons in gedagte het.

Jeremia 28

Mediteer:

  • Neem Woord wat jy ontvang, gaan lees die skrif self deur en vra God om die volle waarheid aan jou te openbaar.
  • Maak ‘n punt daarvan om selfs die moeilike gedeeltes in die Woord te lees en te soek na dit wat in God se hart was.
  • Weereens, pas die drie beginsels van dag 1 toe op skrif wat jy ontvang.

Bid:

Abba Vader, dankie dat my gedagtes oor u goedheid nooit die Woord en u wil vir my lewe kan verander nie. Vader, kom leer my om my denke te vernuwe en dit in lyn te bring met u Woord en nie met my eie wil nie, sodat ek u liefde vir my ten volle kan begryp. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God se belofte vir die volk en vir ons is soveel groter en dieper as net verlossing uit verdrukking wanneer hy die belofte in Jeremia 29:11 maak.

Aanbidding:

Your love never fails – Jesus Culture

 

Dag 5: Die goeie nuus

Ons het gekyk na die skrif voor Jeremia 29:11, maar die groot seën van die vers is in die skrifvers wat daarop volg.

Jeremia 29:12 - 13

God het vir ons mens geword  en uit sy liefde vir ons ‘n pad kom maak sodat ek en jy in geregtigheid voor God kan wees in Jesus Christus. Al was ons so vêr verwyder van God, kan ons nou in 'n nabye en intieme verhouding met God die Vader staan.

Hierdie verse belowe nie vrywaring van teleurstellings nie en ook nie dat God net vir ons alles doen wat ons wil hê en presies soos ons dit wil hê vir ons toekoms nie. Dit belowe egter dat ek en jy ‘n God dien wat antwoord wanneer ons Hom aanroep en Homself laat vind wanneer ons Hom soek.

DIT IS DIE GOEIE NUUS VAN DIE GOD WAT ONS DIEN!

Weet dat God ‘n plan vir jou lewe het en 'n hoopvolle toekoms vir jou beplan: heelwaarskynlik nie soos jý dit wil hê nie en, al verstaan jy dit nie altyd nie, God se plan en wil is altyd meer as wat ons dink.

Jeremia 29:12-14

Mediteer:

  • Dink na aan wat jou persepsie van God was in tye van teenspoed.
  • Skryf ook die getuienisse neer van waar jy God se hand in daardie tye kon sien as jy nou terugkyk.

Bid:

Abba Vader, ons loof en prys U vir die liefde wat U vir ons het. Dankie vir die pad wat U kom oopmaak het sodat ons naby U kan beweeg. Ons prys U vir die totale versekering dat U antwoord wanneer ons roep en Uself laat vind wanneer ons na U soek.

Bonus: Spreek Lewe!

Jy is NOOIT alleen in enige situasie of krisis nie! God se Woord belowe dat, wanneer ons Hom roep, Hy sal antwoord, en dat Hy Homself te vinde sal stel wanneer ons Hom soek!

Aanbidding:

Stand in Your love – Josh Baldwin