Go Deep 14 November 2021

 

Meesterstuk

Neville Goodchild

Ontdek God se genadewerk!

 

Dag 1: Die begin van genade

Ons het die antwoord ontvang vir die dilemma van Romeine 7. Hoe hou ons op om te doen wat sonde in ons wil doen? Die werk wat genade in ons lewens kom doen is nie net om sondes te vergewe nie, maar om ons te bevry van sonde. Die effek van Jesus se dood en opstanding was nie eenvoudig net ‘n bedekking van ons tekortkominge en sonde nie, maar ‘n geleentheid om in ‘n nuwe lewe in te stap waar ons hele wese verander word om soos Jesus te wees.

Hierdie nuwe lewe bring:

  • Geregtigheid - ‘n posisie voor die Here wat verklaar dat ons aanvaarbaar is vir die Vader en dat ons met vrymoedigheid in Sy teenwoordigheid in mag gaan. (2 Kor. 5:21 AMP)
  • ‘n Nuwe weg van lewe vol van vreugde en plesier in die Vader se teenwoordigheid. (Ps. 16:11)
  • Konstante vrede wat alle verstand te bowe gaan. (Fil. 4:7)

Hoe verkry ons dan hierdie genade? Deur geloof in Jesus Christus. Romeine 5:1-2 sê, “Omdat ons uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons kan staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.” In Efésiërs 2:8-9 skryf Paulus weer, “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Genade is ‘n geskenk van God af wat ons vrylik ontvang wanneer ons, ons geloof in Jesus Christus plaas. Daar is geen werk wat ons hoef te doen om dit te verdien nie, want ons word dit gegee terwyl ons nie dit verdien nie. Weens die Vader se liefde het Hy besluit om vir jou hierdie geskenk te gee deur Sy seun wat vir jou die prys betaal het.

Lees:

2 Kor. 5:21 AMP

Ps. 16:11

Fil. 4:7

Rom. 5:1-2

Efe. 2:8-9

Mediteer:

  • Probeer jy genade te verdien?
  • Het jy jou geloof in Jesus geplaas?
    • Indien ja, is jy oortuig van die genade wat vir jou gegee is of voel jy nog asof jy staan onder die oordeel van God? Jesus het klaar gemaak met alle veroordeling in jou lewe. Al die straf wat jy verdien het of nog sou moes ontvang weens sonde, is afgehandel en al wat oorbly is God se onuitputbare liefde vir jou.
    • Indien nee, kontak ‘n leier van die kerk en vra dat hulle jou sal lei in ‘n gebed om jou geloof in Jesus te plaas en jou lewe vir Hom te gee. Jy kan die kontak besonderhede van ons span hier vind: Bedienings Span

Bid:

Vader God, dankie dat U liefde so oorvloedig is. U het met alles in my lewe kom afreken en vir my ‘n nuwe kaans gegee om ‘n lewe van vervulling en vreugde te kan vind in U. Jesus, versterk my geloof in U en help my om U genade te verstaan en in my hart oortuig te word dat U genade vir my gegee het. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Deur Jesus ontvang ek genade wat my lewe verander. In Hom ontvang ek liefde wat die krag het om alles in my lewe te oorwin!

Aanbidding:

Good Grace - Hillsong Worship

 

Dag 2: Heel en heilig

Baie gelowiges is in hul harte daarvan oortuig dat ons gered is deur Jesus se genadewerk, maar dat heiligmaking nog steeds in ons lewens moet plaasvind. Hierdie oortuiging laat ons kyk na mense rondom ons wat “groot” sondes pleeg en ons sê dat genade nie genoeg is vir daardie persone nie, want dit sal hulle net toelaat om meer te sondig. Dan kyk ons na ons eie lewens of mense wie se lewens nie so erg lyk nie en ons besluit dat genade net in hierdie gevalle genoeg is. Ons is werklikheid besig om genade met die wet te meng.

Jesus was op 'n keer saam met Petrus, Jakobus en Johannes op die berg waar Elia en Moses aan hulle verskyn het. Elia het die profete van die ou testament verteenwoordig en Moses het die wet verteenwoordig. Op hierdie oomblik het die Vader ingetree en verklaar dat Jesus, wat genade verteenwoordig, van hier af vorentoe gekies is en dat die wet nie met genade gemeng mag word nie.

Terwyl ons besig is om genade op hierdie manier te sien, is ons besig met 'n leerstelling of 'n teologie oor genade waar ons vir onself wil bepaal wanneer die geleentheid reg is om genade as 'n oplossing te gebruik. In stede hiervan wil die Here ons leer dat genade gekom het as 'n persoon, naamlik Jesus Christus. Die oplossing is nie om 'n leerstelling of konsep te gebruik om mense wat in sonde vasgevang is se lewens te red nie, maar vir hulle om in genade vas te loop. Om Jesus te ontmoet, is om genade te ontvang. Dit is die openbaring van Jesus Christus en die geloof in Hom wat ons lewens red en God het geen ander opsie gegee as Jesus om redding te bring nie. In plaas van om genade te gebruik vir redding en die wet voor te stel vir heiligmaking, is genade deur die Here bepaal om ons heiligmaking ook te wees (Heb. 10:10).

Lees:

Rom. 5:1-2

Mark. 9:2-8

Heb. 10:10-18

Mediteer:

  • Ken jy genade as 'n teologie of as ‘n persoon?
  • Is die leuen dat die wet gebruik moet word om jou heilig te laat word, besig om jou te verhoed om die volle werk van genade (Jesus) in jou lewe te aanvaar?
  • As jy kyk na mense om jou wie se lewens vol sonde is, wat het jy gedink is nodig om hulle lewens te red? Oordeel van die wet wat hulle sal skuldig verklaar en forseer om te bekeer? Of die ontmoeting van Jesus wat deur genade red selfs wanneer hulle kom net soos hulle is?
  • Jesus het 'n hart vir gebroke en sondige mense. Hy het gekom juis vir hulle wat deur sonde oorheers word.

Bid:

Here Jesus, ek bely dat ek soms voel dat ekself of ander mense om my die wet nodig het sodat ons heilig gemaak kan word. Ek verklaar dat U genade genoeg is, want hierdie genade is Uself! U offer is genoeg vir my en vir ander mense om gered te word sonder dat dit vir ons nodig is om iets te doen om dit verdien. Dankie dat ek net nodig het om in U te glo. Jesus, leer my die volheid van u genade deur my te leer wie U is, wat U sê en oor my dink, en hoe U oor ander mense voel. Ek prys U Here vir alles wat U doen en wat U afgehandel het! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is my heiligmaking. Ek is heilig in Hom en my lewe word getransformeer wanneer ek in Hom is!

Aanbidding:

Son of Suffering - Bethel Music feat. Matt Redman

 

Dag 3: Vrede wat alle verstand te bowe gaan

Ons kan vrede ontvang. Vrede wat konstant is en wat ons permanent kan beleef. Hierdie vrede word net in Jesus gevind. Slegs deur Jesus, as die bron daarvan weens die genade wat ons in Hom ontdek, kan ons in elke aspek van ons lewens vrede beleef. Met ons harte wat gevul is met hierdie liefde en vrede kan ons begin om vry te leef. Dit verlig die las van die wet en daarom sê Jesus vir ons dat sy las lig is.

Wanneer 'n persoon aangekla word en in die hof verskyn, moet hy staan terwyl hy sy beskuldigings aanhoor. Ons lees van die vrou, in Jesus se tyd, wat in owerspel betrap is en voor Hom gebring is. Die Fariseërs bring haar voor Jesus terwyl Hy besig is om in die tempel te bedien en laat haar voor Hom staan. Hulle beskuldig haar van die sonde wat sy gepleeg het en sê vir Jesus dat sy, volgens Moses, doodgegooi moet word. Jesus het afgebuk en iets op die grond geskryf. Toe sê vir hulle dat die persoon wat sonder enige sonde is die eerste klip moet gooi. Daarna moes al die Fariseërs weggestap, want nie een van hulle was sonder sonde nie.

Hierdie vrou staan alleen in die teenwoordigheid van die heiligste persoon wat bestaan. Die enigste Een wat die reg gehad het om haar te veroordeel, die Koning van geregtigheid. In sy teenwoordigheid vind sy 'n nuwe waarheid waarvoor sy kan staan. Jesus vergewe haar sonde, verklaar dat Hy haar nie oordeel nie en spreek haar vry om vir ewig verder in vrede te lewe sonder sonde. Sy het nie meer gestaan om gevonnis te word nie, maar sy het vry gestaan in die openbaring van Rom. 5:2 , soos dit in die MSG staan, “We find ourselves standing where we always hoped we might stand - out in the wide open spaces of God’s grace and glory, standing tall and shouting our praise.”

Lees:

Joh. 8:1-11

Rom. 5:1-2 MSG

Fil. 4:7

Mediteer:

  • Staan jy in oordeel of in vrymaking en vrede?
  • Wat beset die spasie tussen jou en God se genade en glorie?
  • In Jesus is daar geen veroordeling meer nie, maar daar is ander bronne wat veroordeling kan bring in jou hart en jou lewe. Is jy besig om jouself te veroordeel? Vra Jesus om jou te help om jouself te vergewe en vry te spreek sodat jy in die oop spasie van God se genade en glorie kan staan.

Bid:

Vader God, U het vir my ‘n plek voorberei waar ek voor U kan staan in u genade en glorie waar ek geen veroordeeling sal ontvang nie en my stem kan oplig om U te verheerlik met blydskap en vrede. Dankie dat u Seun vir my geregtigheid kom gee het. In hierdie verhouding saam met U, kom en deursoek my hart en verwyder enige oordeel wat ek nog teen myself het. Here Jesus, U is my redder en ek loof en prys U vir u liefde vir my! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

We are standing tall in God’s grace and glory, ready to face anything and empowered by His extravagant love for us, by which He had saved our souls!

Aanbidding:

Freedom - Jesus Culture feat. Kim Walker-Smith

 

Dag 4: Die deur staan oop

Waarom het ons genade nodig en hoekom het die Here besluit om genade deur Jesus as redding vir ons lewens te gee? Die Vader het mense geskape sodat Hy ons kan liefhê, en vir ons om Hom lief te hê. Die doel van ons lewens is om 'n verhouding met die Vader te hê. Sonde het ons kom verwyder van God. Nadat die wet gekom het, het dit ons toestand vererger. Mense het herhaaldelik gefaal in getrouheid aan God se gebooie.

Die wet was bedoel om ons heilig te maak sodat ons weer in God se teenwoordigheid kon instap, maar weens ons swakheid en onbetroubaarheid, het die Vader 'n nuwe verbond gemaak. Hy het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om die verbond deur sy dood se verseël. Van daardie oomblik is ‘n nuwe verbond geskep wat tussen die Vader en die Seun gesluit is en wat nie verbreek kan word nie – want beide partye is vir ewig betroubaar om alles wat die verbond vra, na te kom. Wanneer ons in Jesus begin glo en sy genade ontvang, word ons by hierdie verbond as erfgename ingesluit met geen mag om enige iets te doen wat die verbond kan verbreek nie.

Die posisie waarin hierdie genade ons laat staan, transformeer ons lewens. Hierdie onvoorwaardelike liefde van Jesus het alles tussen ons en die Vader uit die weg geruim. Ons kan weer 'n verhouding met die Vader ervaar, want alle veroordeling is finaal afgehandel. Jy kan vrymoedig in die Vader se teenwoordigheid staan. Daardie posisie voor die Een wat sy onvoorwaardelike en oneindige liefde oor jou uitstort, bring die verandering te weeg. Hoe sal ons dan anders reaggeer teenoor die Een wat aan ons gee wat ons nie verdien en nog nooit verwag het nie?

In Johannes 5 lees ons van die kreupel man wat 38 jaar lank langs die bad van Betésda gelê het. Hy kon nooit uit sy eie gesond word nie, omdat hy nie eerste in die genesende waters kon wees nadat die engel dit geroer het nie. Behalwe dat hy dit nie uit sy eie krag dit kon regkry nie, was hy ook tydens daardie 38 jaar alleen met niemand om hom te help nie. Jesus kom na die man toe en genees hom onmiddellik. 'n Dag later ontmoet Jesus daardie man in die tempel. Hierdie man het, weens die genade en liefde wat onverdiend aan hom bewys is, vir Jesus begin loof en prys en 'n weg na die Vader toe gevind. Deur genade is die deur geopen en dit verleen aan ons volle toegang tot die teenwoordigheid van die Persoon wat vir ons die liefste is en wie se liefde teenoor ons nooit sal kan verander nie.

Lees:

Joh. 5:1-15

Rom. 5:1-2 MSG

Mediteer:

  • Glo jy dat Vader God jou lief het?
  • Wat is jou persepsie van Vader God?
  • Vader God is die Gewer van lewe. Hy het aan jou lewe geskenk met 'n doel en 'n plan. Hy het jou lewe met opgewondenheid beplan en Hy het jou onmeetbaar lief. Afgesien van hoe jou verlede lyk, was Hy nog altyd daar en Hy wil jou hand vat om jou getrou verder te lei vir die res van jou lewe om in sy wil te lewe en saam met Hom vrede en vreugde te beleef.

Bid:

Vader God, dankie vir u liefde. Ek het dit vir lank nie dit verstaan of selfs geweet hoe lief U my het nie, maar ek dank U dat ek nou kan begin om U liefde persoonlik te beleef. Verander enige verwronge perspektiewe van wie U is en leer my in verhouding wie U werklik is. Dankie Jesus dat U vir my die deur oopgemaak het en dat ek, in U, volle toegang het na die Vader. Ek loof en prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

We throw open our doors to God and discover at the same moment that He has already thrown open His door to us, welcoming us home in His presence and preparing a feast for us!

Aanbidding:

Stand in Your Love - Josh Baldwin

 

Dag 5: Van geloof na verhouding

Geloof is die begin van redding in ons lewens. Ons kies om in Jesus te glo en ontvang God se genade, maar geloof is nie genoeg nie. Geloof is net die stap waardeur Jesus vir ons die deur oopmaak na God die Vader toe. Jesus se missie was om ons met die Vader te versoen. As ons net by geloof bly en nie begin om in 'n verhouding die Vader te leer ken nie, gaan dit wat ons beleef nie vir ons lewe gee nie, maar weer lei na die dood. Alles wat die Vader wil gee, wil Hy gee binne 'n verhouding met Hom.

Kom ons kyk weer na die wet: Moses kom van die berg af het met die kliptablette en die volk van Israel sê vir hom dat hy God moet hanteer. Hulle wil net by hom hoor wat God sê. Hulle in God geglo, maar nie geglo in 'n verhouding met Hom nie. Weens dit het die wet, wat buite verhouding gegee is, skade veroorsaak en 'n vloek geword. Jesus leer ons dat selfs die duiwels glo. Die vrug van geloof sonder 'n verhouding, is vrees. Geloof binne 'n verhouding is die vrede wat die Vader deur Jesus wil gee.

Nadat die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het hulle volle toegang ontvang en kon hulle met nuwe krag bedien. Dit is ook die medium waardeur ons konneksie met die Vader kan hê. Die eerste keer wat Petrus daarna gepreek het, het ongeveer 3000 mense tot redding gekom. Ons ontvang vrede wanneer ons Jesus (genade) ontmoet, sodat ons vanaf daardie oomblik kan begin om ‘n lewenslange pad  in 'n verhouding saam met die Vader te stap. Geloof het die deur oopgemaak en 'n verhouding laat ons die volheid van lewe saam met God beleef.

Lees:

Rom. 5:1-2 MSG

Hand. 2:14-41

Mediteer:

  • Is jy besig om in 'n verhouding met God te leef, of is jy op ‘n plek waar jy net in God glo?
  • Wanneer jy in 'n verhouding met God is, is jy in die mees bevoorregste posisie. Die tweede oudste familielid met die beste Vader, en 'n perfekte ouer Broer wat 'n toonbeeld is van wat jy gemaak is om te wees en wat jy gemaak is om te beleef.

Bid:

Vader God, dankie dat U vir my meer gee as net 'n opdrag om in U te glo. U nooi my om in 'n verhouding met U te wandel en die volheid van u goedheid te beleef en te sien. Here Jesus, lei my voortdurend na die Vader toe en help my om Hom beter te leer ken. Verander enige wanopvattings wat ek het van Hom en wys my hoe sy liefde vir my lewe lyk. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

In 'n verhouding met Jesus en Vader God beskik ons oor 'n bron wat alles voorsien wat ons ooit sal benodig!

Aanbidding:

Nothing Else - Cody Carnes