MEESTERSTUK
Neville Goodchild
Lewe uit jou gees en sluit aan by wat God reeds doen.
Dag 1: Lê die vlees neer
Vanaf die oomblik wat ons gedoop word, word 'n genadewerk in elkeen van ons gedoen. In die doopwater word ons vlees gekruisig, ons word wedergebore, en ons is daarna in staat om vanuit ons gees te lewe. Dit verg egter ons samewerking om ons vlees gekruisig te hou. Jy kies in elke oomblik van jou lewe of jy jou lewe bestuur vanuit jou siel, of vanuit jou gees.
Wanneer jy die sielkundige benadering kies, word jou lewe dan uiteraard beheer deur jou emosies en denke en jou besluite word gemaak gebaseer op dit wat jy kan waarneem. Hierdie sielkundige benadering werk nie, dit eindig dikwels in wanhoop, depressie en uiteindelik die dood.
Wanneer jy 'n geestelike benadering neem tot hoe jy jou lewe bestuur, is dit 'n heel ander saak. In jou gees is jy reeds belyn met die gees van God en kan jy jou besluite neem, gegrond op die instuksies en beloftes, wat jy van direk van ons Vader ontvang. Jy kan dan jou besluite neem gebaseer op jou geloof ipv gelei deur dit wat jy kan waarneem
As jy nie jou vlees kan neerlê nie, bly die vlees 'n oop poort vir sonde. Die vlees is misleidend en laat jou glo dat jy jou sonde kan bestuur, maar dit is 'n leuen en lei uiteindelik tot 'n geestelike dood. As jy jou siel toelaat om jou lewe te bestuur, gaan jy altyd sukkel in jou geestelike lewe. Jesus het egter klaar met die sonde afgereken aan die kruis en ons het nie nodig om ons lewens alleen te bestuur nie. Ons het slegs nodig om onsself oor te gee aan Jesus, deur ons vlees af te lê, en dan kan ons vanuit ons gees lewe. Omdat ons gees deur wedergeboorte reeds belyn is met God se gees, is dit dan moonlik om aan te sluit by wat God beplan vir ons en reeds mee besig is in ons lewens, eerder as om ons eie kop te volg.
Lees:
Mediteer:
- Met watter deel van my bestuur ek my lewe? Siel of gees?
- Het ek my vlees al neergelê en gekruisig? Laat ek dit daagliks in die graf bly?
- Waarop baseer ek my besluite: is dit op wat ek kan sien, of op God se Woord en beloftes oor my lewe?
- Deel ek God se visie vir my lewe? Weet ek wat die woord is oor my lewe? Maak ek genoeg tyd om die Woord van God te kan ontvang, sodat ek daarmee belyn kan wees?
Bid:
Here, vergewe my dat ek my lewe uit my siel uit wil beheer. Help my om ten volle oor te gee aan U, om my vlees totaal en al neer te lê. Here help my om myself met u wil vir my lewe te belyn deur uit die gees te lewe.
Bonus: Spreek Lewe!
Jesus het reeds alle oorwinning vir my behaal!
Ek is vrygemaak van die wet van die sonde en die dood, deur die Gees van die lewe in Jesus Christus!
God droom oor my en het planne vir my lewe!
Aanbidding:
Dag 2: Dit is volbring
Gister het ons Romeine 8:1-17 in die Afrikaanse 1953 vertaling gelees. Vandag keer ons onself na The Message-vertaling en lees Romeine 8:1-8. Alhoewel hierdie vertaling se inhoud dieselfde is as wat ons gister gelees het, laat die taalgebruik ons toe om sekere dele bietjie beter te kan verstaan en selfs om elemente van die teks met nuwe oë te sien. Hoe pragtig is die metafoor van sonde wat soos ‘n donker swart wolk oor ons lewens hang, met die Heilige Gees wat soos ‘n wind dit alles wegwaai. Die oorspronklike woord vir Gees in die teks dan ook “pneuma” wat ook vlaag wind kan beteken.
Ons het gesien dat ons moet kies of ons uit ons vlees of uit ons gees lewe. Dit beteken ook dat ons onself onder die wet of onder genade sit met daardie keuse. Jesus het aan die kruis gesê, “Dit is volbring” en toe sy laaste asem uitgeblaas, juis sodat ons daardie keuse kan maak. In daardie oomlik het ons toegang gekry tot God se genade en is die wet volbring. Ons hoef onself nooit weer na die wet te keer om tot God te kan nader nie, ons kan dit nou doen deur onsself na Jesus te keer.
Onder die wet kan die vyand ons wys hoe ver ons tekort skiet, ons beleef dan dikwels ons eie onvermoë: ons het geen hemelse erfenis nie, ons leef soos slawe, en ons plak net 'n pleister op die septiese wond wat sonde in ons lewe is.
Aan die ander kant kan ons, deur onself aan Jesus oor te gee, dit alles by die kruis laat en die Gees van God toelaat om 'n genesende werk in ons te doen – om ons te transformeer na die gelykenis van ons Here Jesus Christus, deur aan te sluit by waarme God reeds in die gees besig is. Deur genade skiet ons nie meer tekort nie, want wat Jesus vir ons gedoen het, was genoeg. Ek hoef nie meer alles self te doen nie, Jesus het dit klaar vir my gedoen. Deur genade is die koningkryk van God my erfenis. Deur genade is ek vry om soos ‘n koningskind te lewe. Daar is volkome genesing in Christus, geen pleisters word benodig nie. Ons hoef onsself nie te red nie, want ons is reeds gered.
Lees:
ROMANS 8: 1-8 (The Message)
Mediteer:
- Wat reflekteer my lewe? Lyk en klink ek soos 'n vermoeide slaaf, of lewe ek as oorwinnaar, soos ‘n vrygemaakte koningskind?
Bid:
Here, help my asseblief om alle vleeslike dinge en pogings neer te lê, sodat ek vanuit my gees kan lewe en U kan volg. Here, vergewe my dat ek myself probeer red, ek neem U aan as my enigste redder. Help my om dit in myself vas te maak as waarheid, sodat ek my lewe daarvolgens kan bestuur.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is genoeg, ek is gered! Ek is ‘n koningskind! Sy koningkryk is my erfenis. Ek is vrygemaak deur Jesus Christus.
Aanbidding:
Dag 3: My hulp kom van God
As jy vandag in ʼn Christelike boekwinkel instap, gaan jy baie selfhelpboeke teëkom. Die meeste van die magdom preke wat aanlyn beskikbaar is, gaan nie oor Jesus nie, maar oor wat jy kan doen om jóú lewe te verbeter. Dit is eienaardig dat hierdie tipe selfhelp-teologie kop uitsteek in Christene se lewe, terwyl dit eintlik teenstrydig is met die boodskap van die evangelie van Jesus Christus. Jy hoef jouself nie te help nie, jou hulp kom van God af. Jy kan jouself nie van buite af, deur die vlees met werke verander nie: jy moet God toelaat om jou van binne af te verander, deur die Heilige Gees, wat spreek tot jou gees. Jy het nie ’n dik selfhelpboek met ’n lang lys veeleisende goed nodig om te doen nie. Die evangelie van Jesus Christus is kort en báie kragtig.
Jy hoef nie ’n klomp dinge te doen om eendag die kampioen te word nie. Jesus is reeds die kampioen, hy het klaar oorwin, en jy kan net sorg dat jy by sy span aansluit en sy instruksies saam met die res van die span volg – jy kan dan verseker wees dat jy deel van die wenspan is.
Spandeer minder tyd daaraan om aan jouself te werk en bring meer tyd saam met God deur. Spandeer tyd in die woord, stilsit by sy voete en luister net. Laat dit wat in daardie tye in jou gees inspreek jou lewe stuur. Dit sal van meer waarde wees as enige iets anders wat jy uit jouself kan doen.
Wanneer jy die selfhelpbenadering volg, gaan jy altyd besig wees om jouself te meet. Dan gaan een van twee dinge gebeur: óf jy voel altyd dat jy net nie goed genoeg is nie en dat jy te kort skiet, omdat dit vir jou lyk of ander mense dinge regkry wat jy nie kan regkry nie, óf jy meet jou eie pogings en kennis van God aan die van ander mense, en jy dink jy doen fantasties omdat jy jou gemiddelde uitkomste meet aan die ondergemiddelde uitkomste van ander. Wanneer laasgenoemde die geval is, gebeur dit soms dat mense begin dink dat hulle beter is as ander en dan soms selfs probeer om ander ‘reg’ te help en te red. Dit is ’n gevaarlike plek om te wees, want ons kan, soos vir onself, ook nie vir ander mense vanuit die vlees dinge regstel en hulle red nie. Al wat ons kan doen, is om hulle na Jesus toe te lei, sodat Hy die herstelwerk op ’n geestelike vlak kan doen, want Hý is ons redder.
Lees:
ROMEINE 8: 1-17 - Ja, lees dit weer
GALASIANS 5:16 (The Message)
GALASIANS 5:25 (The Message)
Mediteer:
-
Waaraan spandeer ek meer tyd? Luister ek na mense se kommentaar en opinies oor die Bybel en Christenskap, of spandeer ek meeste van my tyd in die woord self en in intieme oomblikke by Jesus?
Bid:
Here, help ons om tyd te máák om Bybel te lees en stil oomblike in intimiteit met u te vind. Help my om minder gemoeid te wees met myself en wat ek doen, en meer te fokus op U en wat U reeds mee besig is. Help my om vanuit my gees, en nie die vlees nie te lewe.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is reeds gered. Ek het direkte toegang tot daaglikse instruksie van my God, Hy kan my al die leiding gee wat ek ooit kan nodig hê.
Aanbidding:
Ek slaan my oë op – Retief Burger
Dag 4: Werke of vrug
Gedurende die afgelope paar dae het ons gekyk na die verskil tussen 'n sielkundige (vleeslike) en geestelike benadering tot lewensbestuur. Vrae wat ons onself in die “mediteer” afldeling van ons dagstukkies gevra het, het ons gehelp om tot inkeer te kom en dit het ons 'n goeie idee gegee van hoe ons eie benadering tans lyk. Die vyand is egter slinks en mislei maklik.
Twee mense presies dieselfde ding doen, en op die oog af lyk dit dieselfde, maar hoe bepaal ons of die optredes net werke is en of dit eerder uit die gees gedrewe is? Dit gaan nie net oor die aksie self nie, maar ook oor dit wat daarmee saamgaan:die houding waarmee die aksie uitgevoer word, en so meer. In vandag se skrifgedeeltes wat teksverwysings is wanneer ons die eerste deel van Romeine 8 lees (soos ons die aflgelope paar dae gedoen het) gee die woord aan ons baie goeie riglyne hoe ons dit moet meet.
Wanneer ons aksies uit ons eie vlees uitvoer, is dit ons eie poging: ons probeer iets verdien en onbewustelik wil ons dalk selfs ons eie redding verdien. Of ons voel dalk dat dit iets is wat ons móét doen uit 'n verantwoordelikheidsin. Ons hou telling van wat ons doen en ons meet wat ons doen aan dit wat ander doen. Ons raak jaloers as ander mense op dieselfde manier optree en dit beter kan doen, of ons raak afgustig wanneer ander dit beter as ons kan doen. Ons voel dalk selfs goed daaroor as ander mense in dieselfde optrede misluk, terwyl ons dit regkry. Ons hou daarvan om erkenning vir ons optrede te kry enons voel dalk selfs ons verdien hierdie erkenning, en dring daarop aan. Wanneer ons optredes egter twis, tweedrag en partyskap tussen ons en ons mede-christene versoorsaak is dit 'n baie goeie aanduiding dat ons besig is met werke.
Wanneer ons presies dieselfde aksies, soos dit hierbo bespreek is, met 'n geestelike benadering uitvoer, is dit goeie vrug eerder as werke. Dan is dit nie net ons wat iets uit onsself doen nie, maar omdat ons gees, as bekeerde en gedoopte Christene, deur Heilige Gees gelei word om so op te tree. Ons is dan soos bome wat geplant en gewortel is langs lewende strome water en wat bewerk en gesnoei word om vrugte te dra. Ons floreer. Ons fokus is op God en ander mense rondom ons. Ons vier ander se bekering en transformasie en ons beleef liefde, blydskap, vrede. Ons optredes is getrou uit met vriendelikheid en sagmoedigheid, en ons tree is geduldig teenoor diegene om ons.
Lees:
JOHANNES 15:3-5
Mediteer:
-
Waarom doen ek die dinge wat ek doen en hoekom is ek daarby betrokke? Spreek my optrede van werke of goeie vrugte? (Dink aan verskeie areas van jou lewe.)
Bid:
Here gee my asseblief 'n gees van onderskeiding, sodat ek volgens u maatstawwe, my optredes kan beoordeel. Here help my asseblief om op te hou om dooie werke te doen en leer my om my lewe deur my gees te bestuur sodat ek my leiding van u Heilige Gees kan ontvang en goeie vrugte kan dra.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is reeds rein verklaar deur die woord, in Jesus Christus. Ek het nie nodig om werke te doen nie, in Hom kan ek rus, lewende water drink, en gevolglik goeie vrugte dra.
Aanbidding:
Spirit lead me – Influence music & Michael Ketterer
Dag 5: Rots van die eeue
Daar word gesê dat die bybelboek Romeine die evangelie van Jesus Christus is, teenoor die boeke van die ander apostels wat gesien word as die evangelie volgens die apostel wat dit skryf. Dit is so belangrik dat ons hierdie evangelie ten volle verstaan en weet wat Jesus vir ons gedoen het en hoe ons daarby moet aansluit.
Die uitkoms van my lewe hang nie van my alleen af nie en ek hoef nie my eie kruis alleen te dra nie. Die juk van die sonde is reeds van my afgelig deur dit wat Jesus aan die kruis vir my gedoen het. Na my wedergeboorte en doop kan ek Jesus se juk opneem en daardie juk is baie ligter as die eersgenoemde. Om aan te sluit by die genadewerk van Christus, hoef ek nie in die gees verantwoordelikheid te neem nie, want Jesus se werk is afgehandel en ek kry deur my geloof toegang daartoe. My enigste verantwoordelikheid is om deur geloof na die Here toe te kom.
In Matheus 16:13-19 lees ons dat God vir Petrus 'n openbaring gee het van wie Jesus is. Petrus moes hoor dat dit wat hy in hierdie skrif regkry nie is omdat hy self so wonderlik is nie, maar omdat dit God is wat dit deur hom doen. Net so moet ons ook bewus wees van wat ons verantwoordelikheid is en dit nie verwar met wat God reeds gedoen het nie. Ons hoef slegs in geloof na Hom te kom. Ons hoef nie God se werk namens Hom te doen nie. In hierdie skrifgedeelte verwys Jesus in Grieks na Petrus as Petros en sê dan daarna dat hy sy Kerk op hierdie Petra sal bou. Petros beteken klein spoelklippie teenoor Petra, wat groot rots beteken. Jesus is self die rots (Petra), soos ons in 1 Kor 10 lees. Hy bou self sy Kerk en ons hoef net deel te neem deur 'n klein deeltjie by te dra. Ons doen dit met sy Gees wat déúr ons werk en dit kom nie uit onsself nie. Ek maak dinge net ingewikkeld as ek te veel van myself dink en werke wil doen, eerder as om in Hom te rus en vrug te dra.
Lees:
ROMEINE 6:4-14
MATHEUS 16:13-19
1 KORRINTIERS 10:1-4
Mediteer:
-
Gee ek werklik alles in geloof oor aan Jesus, sodat ek bruikbaar kan wees? Of neem ek dinge op myself?
-
Is ek beskikbaar, nader ek Hom in geloof, en lê alles neer sodat Hy my kan gebruik om sy Kerk te bou, of neem ek verantwoordelikheid in die gees op om dit self te doen?
Bid:
Here, maak my nederig genoeg om te besef wie ek is en hoe ek inpas in u Kerk. Help my om ten volle oor te gee aan U, sodat ek bruikbaar is vir U om u werk deur my te doen.
Bonus: Spreek Lewe!
Hy het alles reeds vir ons gedoen by die kruis. Deur geloof is ek gered.
Aanbidding: