Go Deep 03 October 2021

 

Hoekom gebruik ons nagmaal?

Neville Goodchild

Ontdek die essensie en krag van die belangrikste geestelike dissiplines vir ons tyd!

 

Dag 1: Jou kwalifikasie

Ons word gereeld geleer van geestelike dissiplines soos bybellees, bid  en aanbidding, maar deur die loop van ons lewens, veral in ons geestelike groei, word ons min van die beginsel van nagmaal geleer. Die grootste lokval in verband met hierdie dissipline is die leuen wat sê dat, as jy sekere benodighede kortkom,  kwalifiseer jy nie om nagmaal te gebruik nie.

Die waarheid is dat jy nooit gediskwalifiseerd kan wees om nagmaal te gebruik nie, en dat nagmaal baie eerder gebruik word om jou te kwalifiseer vir die beloftes van die Here. Die nagmaal is 'n simbool dat jy deelneem aan die nuwe verbond van Jesus Christus. Dit is die verbond van genade waardeur jy gered word as jy glo dat Jesus vir jou gesterf het en uit die dood opgestaan het. Deur God se genade kan jy vrylik nagmaal gebruik, wat vir elke gebroke realiteit 'n antwoord bring deur God se voorsiening, versorging of versoening.

Nagmaal is ook die herinnering aan wat Jesus aan die kruis gedoen het. Jesus leer ons in Johannes 6 dat almal wat van Jesus se liggaam eet en sy bloed drink, wat verteenwoordig word deur die brood en die wyn wat ons tydens nagmaal gebruik, die ewige lewe sal ontvang. Deur nagmaal te gebruik, word ons gekwalifiseer vir die ewige lewe omdat dit ‘n verklaring is dat ons Jesus se dood en opstanding erken as die reddende krag in ons lewens.

Lees:

Joh. 6:51-57

Hand. 2:46

Mediteer:

  • Wat verhoed jou om nagmaal saam met jou gesin in jou huis te gebruik?
  • Waar moet nagmaal gebruik word? Nagmaal is ontwerp om in die huise van gelowiges gebruik te word. Handelinge 2:46
  • Die krag van nagmaal word nie gekanselleer as brood en wyn nie gebruik word nie. Die elemente kan vervang word met dit wat byderhand is, mits dit nog steeds die liggaam (voedsel) en die bloed (vloeistof) kan verteenwoordig.
  • Vir die gebed wat deel is van vandag se dagstuk, gebruik nagmaal saam met jou geliefdes of in jou persoonlike stiltetyd saam met die Here.

Bid:

Jesus, dankie vir dit wat U aan die kruis vir ons gedoen het. Deur u liggaam wat vir my gebreek is, gee U vir my 'n positiewe uitkoms vir elke realiteit in my lewe. Deur u bloed het ek redding en die geskenk van die ewige lewe ontvang. Ek prys U daarvoor, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Geen skuld, skaamte, of seer diskwalifiseer my om nagmaal te gebruik nie. Deur nagmaal word ek gekwalifiseer en ontvang ek die voorsiening in elke behoefte!

Aanbidding:

Thank You Jesus for the Blood - Charity Gayle

 

Dag 2: Persoonlike openbaring

Nadat Jesus aan die kruis gesterf het, het twee van sy dissipels Jerusalem bedroef verlaat en die pad na Emmaus toe begin stap. In hierdie tyd het Jesus hulle tegemoet gekom, maar hulle is verhoed om Jesus te herken.

In baie van ons se eie lewens leer ons Jesus slegs op 'n geskiedkundige manier ken. Ons leer van sy lewe wat hier op aarde deurgebring is en van dit wat Hy vir ons deur die kruis en die opstanding gedoen het. Ongelukkig is dit slegs kennis wat ons opdoen, in plaas van 'n persoonlike oortuiging wat ons in staat stel om deur geloof te lewe.

Jesus het geweet hoe hy hierdie twee dissipels van Hom se oë kon oopmaak om Jesus te sien vir wie Hy is en dat dit 'n peroonlike openbaring vir hulle lewens sou wees. Nadat Hy saam met hulle gestap het tot by die dorp waarheen hulle oppad was, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly. Toe het Jesus saam met hulle aan tafel gaan sit, Hy het die brood gebreek, en hulle oë is geopen om Hom te herken.

Nagmaal maak Jesus aan ons bekend. Dit openbaar sy hart en sy liefde aan ons, want ons neem deel aan sy kruiswerk. Dit word 'n inspirasie in ons lewens, want die Heilige Gees bedien ons elke keer wanneer ons nagmaal gebruik.

Lees:

Luk. 24:13-35

Mediteer:

  • Die gebruik van nagmaal is 'n beginsel waardeur Jesus Homself wil openbaar. Hy belowe ook dat daar 'n tyd sal kom wanneer ons saam met Hom vir ewig gaan lewe, waar Hy weer persoonlik saam met ons nagmaal gaan gebruik.
  • Wanneer jy die nagmaal gebruik, ontvang jy inspirasie. Inspirasie staan in Latyn bekend as inspiritus. Soos die Emmausgangers die inspirasie gekry het om terug te gaan Jerusalem toe nadat Jesus Homself deur nagmaal bekend gemaak het, ontvang jy ook inspirasie en bemagtiging deur die Heilige Gees wanneer jy nagmaal gebruik.
  • Vir die gebed wat deel is van vandag se dagstuk, gebruik nagmaal saam met jou geliefdes of in jou persoonlike stiltetyd saam met die Here.

Bid:

Heilige Gees, terwyl ek nou nagmaal gebruik, vra ek dat U vir Jesus meer aan my sal openbaar. Laat die kennis van Jesus nie slegs geskiedkundig wees nie, maar persoonlik word deur verhouding en deur hierdie oomblik waar ek saam met Hom aan die tafel kan sit wat Hy vir my voorberei het. Ek loof U, Here Jesus, dat U by my is en nie ver verwyderd nie. Dankie dat ek U persoonlik kan ken en meer van U kan leer sodat my lewe, met die lig wat U daarby voeg, kan uitstraal vir die wêreld.

Bonus: Spreek Lewe!

Deur die nagmaal leer ek vir Jesus persoonlik ken en word ek geïnspireer om 'n lewe te lei wat Hom sal verheerlik!

Aanbidding:

Worthy - Elevation Worship

 

Dag 3: Voorsiening, versorging, en versoening

Wat bied nagmaal vir ons? Buiten dat dit ons herinner aan dit wat Jesus vir ons gedoen het en ons daardeur geestelike inspirasie en persoonlike openbaring van Jesus Christus ontvang, is dit ook ‘n beginsel wat vir ons voorsiening, versorging en versoening gee.

Dawid leer ons van die nagmaal in die bekendste psalm in die Bybel. Psalm 23 - “'n PSALM van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”

By die tafel wat die Here vir ons voorberei (nagmaal), ontvang ons voorsiening in ons behoeftes, versorging van ons siel en liggaam en versoening in ons verhouding met die Here en met mense. Selfs met die Israeliete in Egipte het die Here vir hulle beveel om nagmaal te gebruik toe die hulle die opdrag kry om ‘n lam te slag en te eet. Die opdrag het ingesluit dat hulle die hele lam moes eet, wat simboliseer dat daar in ALLES voorsien sal word, genees sal word, en versoen sal word. Daar is niks wat jy nie kan bring na die tafel om vir voorsiening, versorging of versoening te vra nie.

Lees:

Ps. 23:1-6

Exo. 12:5-10

Ps. 105

Mediteer:

  • Voorsiening - Psalms 105:36-37
  • Versorging - Psalms 105:37
  • Versoening - Psalms 105:43
  • Vir die gebed wat deel is van vandag se dagstuk, gebruik nagmaal saam met jou geliefdes of in persoonlike stilte tyd saam met die Here en bring jou spesifieke behoeftes na die Here toe.

Bid:

Vader God, in hierdie tyd wat ek saam U deelneem aan nagmaal, wil ek hierdie behoeftes en omstandighede na U toe bring. U alleen is die antwoord vir alles in my lewe! Ek kan op U staat maak en U is betroubaar. Dankie dat U voorsiening gee. Dankie Here, dat U my versorg. Dankie dat U my versoen met U en dat ek volle toegang het tot U teenwoordigheid. Ek loof en prys U! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die tafel wat die Here vir my voorberei het, is vir elke aspek van my lewe! Ek kan enige iets na Hom toe bring en aan Hom oorgee!

Aanbidding:

Nothing Else - Cody Carnes

 

Dag 4: Voor my aangesig teenoor my teëstanders

In ‘n tyd wat Dawid van Saul af vlug en sy lewe in gevaar is, kom hy by die profetedorp van Nob aan. In sy nood vra hy vir die priester Ahiméleg om vir hom iets te ete te gee. Die priester antwoord dat daar slegs die heilige toonbrode is om te eet. Dawid het aangedring daarop dat die priester vir hom daardie brode gee en hy het dit ontvang. Hierdie brood was ‘n teken van die nagmaal. Die Here het nie net vir Dawid en sy manskappe van voedsel voorsien nie, maar in daardie oomblik het Dawid ook die swaard van Goliat ontvang.

Die Here het vir Dawid die tafel voorberei, maar terwyl Dawid by die priester was, was hy ook in die teenwoordigheid van sy vyand: Doëg, ‘n dienaar van Saul, was ook daar en het alles gesien wat met Dawid gebeur het. Wanneer ons teenstand beleef en voel asof daar vyande is wat teen ons optrek en ons probeer oorwin, kan ons nogmaals na die tafel van die Here toe kom en nagmaal gebruik, want selfs voor die aangesig van ons vyande, bied die Here vir ons bonatuurlike deurbraak.

As ons oorweldig word deur die vyandigheid van die wêreld, is dit nodig om op Jesus te fokus. Die nagmaal wat vir ons persoonlike openbaring van Jesus Christus in ons lewens gee, is ‘n kragtige beginsel om ons te help om ons oë van die wêreld af te haal en op Jesus te fokus.

Lees:

1 Sam. 21:1-15

Ps. 23:5-6

Heb. 12:2-3

Luk. 22:7-22

Mediteer:

  • Hebreërs 12:2-3 sê dat ons ons oë op Jesus gevestig moet hou wat die kruis verdra het vir die vreugde wat vir Hom voorgehou was. Waar het Hy sy vreugde vandaan gekry? Die Vader het vir Hom die tafel voorberei voor sy teëstanders. Jesus het saam met Judas, wat Hom sou verloën, aan tafel gesit en saam geëet toe Hy en sy dissipels saam in die bovertrek was. Jesus het sy vreugde van die Vader af ontvang al het Hy geweet dat die persoon wat Hom in die rug sou steek so naby aan Hom was.
  • Vir die gebed wat deel is van vandag se dagstuk, gebruik nagmaal saam met jou geliefdes of in persoonlike stilte tyd saam met die Here.

Bid:

Vader God, dankie dat U vir my die tafel voorberei. Help my om my fokus van die wêreld af te haal en konstant op U te fokus. Kom herinner my aan u liefde en genade en versterk my geloof. Laat ek alle vyandigheid weerstaan tot eer van u Naam, met vreugde en vrede wat my hart vol maak! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My vyande kan slegs toekyk wanneer die Here my nooi om aan sy tafel te eet en deel te neem aan dit wat Hy vir my voorberei het!

Aanbidding:

Son of Suffering - David Funk & Matt Redman

 

Dag 5: Onderskei van die wêreld

Die Bybel verwys net na een geval waar die nagmaal verkeerd gebruik kan word. Die verkeerde manier is egter nie wat meeste mense geneig is om te dink dit is nie. Dit is nie:

  • Om nagmaal te gebruik as jy gesondig het nie.
  • Om nagmaal by die huis te gebruik nie.
  • Om nagmaal sonder ‘n pastoor te gebruik nie.

Inteendeel,  Paulus leer vir ons in 1 Korinthiërs 11 dat  dit die verkeerde en onwaardige manier is om die nagmaal as ete te gebruik sonder om dit te doen tot Jesus se gedagtenis en om dit nie te onderskei van die wêreld se feeste nie.  Die nagmaal verloor krag wanneer dit nie gebruik word om “Jesus se liggaam te eet en Sy bloed te drink” nie.

Die beginsel van nagmaal moet onderskei word van dit wat die wêreld doen.  Deur die nagmaal te gebruik, beleef ons ook die bonatuurlike deurbraak in ons lewens soos wat in die wêreld nodig is. Genesing vir dodelike of ongeneesbare siektes vind plaas. Finansiële voorsiening in hopelose omstandighede gebeur. Versoening van verhoudings wat vir lank gebroke was, vind plaas. Hierdie is nie ‘n klein nuttelose aktiwiteit nie, dit is ‘n beginsel wat baie geestelike krag dra en ‘n groot uitwerking op ons lewens kan hê.

Lees:

1 Kor. 11:18-34

Mediteer:

  • Was jy daarvan oortuig dat jy nie nagmaal kan gebruik vir enige redes anders as wat vandag oor gesels is nie?
  • Jesus het vir ons hierdie beginsel gegee om Hom op ‘n gereelde basis deel te maak van elke aspek van ons lewens.
  • Vir die gebed wat deel is van vandag se dagstuk, gebruik nagmaal saam met jou geliefdes of in persoonlike stiltetyd saam met die Here.

Bid:

Here Jesus, U het op ‘n unieke manier vir ons gewys hoe om herinner te word aan U reddingskrag. Ek wil U loof en prys dat U deel is van elke aspek van my lewe. Sonder U sou ek baie kortgekom het, maar te danke aan U het ek alles ontvang wat ek benodig. Dit is u Naam wat waardig is om aanbid te word. U verdien die lofprysing en aanbidding! Ek prys u Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is geen aspek van lewe waarin die Here nie wil betrokke wees nie!

Aanbidding:

Goodness of God - Bethel Music