Go Deep 19 September 2021

Hoekom moet ons Bybel lees?

Neville Goodchild

Ontdek die essensie en krag van die belangrikste geestelike dissiplines vir ons tyd!

 

Dag 1: Die aanslag teen die Woord

Godsdiens het ons geleer om sekere dinge aanhoudend op dieselfde manier in ons lewens te doen, maar baie keer besef ons nie regtig wat die krag is van daardie dissiplines (streng ordelike gedrag) nie. Die dissipline van bybellees se krag word die meeste onderskat.

Die wêreld het begin om opinies te skep oor hoe die Bybel gelees en gebruik moet word. Twee van die mees algemene opinies is dat die Bybel soos 'n groot letterkundige werk gelees moet word en dat die Bybel geïnterpreteer moet word volgens ons wêreldbeskouing. Albei hierdie opinies is aanslagte teen die Woord van God en weerhou ons van die krag wat die Woord vir ons gee.

Die waarheid is:

  • God se Woord moet nie gebruik word om kennis te verkry, soos wat 'n mens doen deur letterkundige werke te bestudeer nie. Die Bybel moet eerder bestudeer word om openbaring te ontvang.
  • God se Woord word nie geïnterpreteer deur omstandighede nie; God se Woord interpreteer omstandighede.

As ons die Woord van God nie ken nie en ons begin self kies wat belangrik, nodig, of waardevol in God se Woord is, begin ons om god te speel in ons eie lewens. Dit is ook die aanval wat die duiwel teen Eva geloots het. Hy het selfs vir Jesus met hierdie selfde taktiek probeer aanval, maar die verskil was dat Jesus die duiwel met die suiwer waarheid uit God se Woord kon antwoord, omdat Jesus die Woord is en die Woord ken.

Lees:

Gen. 3:1-5

Luk. 4:1-13

Mediteer:

  • Een vers waarmee die Here aan jou 'n waarheid oor jou lewe openbaar, kan vir die res van jou leeftyd 'n uitwerking op jou lewe uitoefen.
  • Wanneer die Woord van die Here verdraai word om aan te pas by die wêreld en by die kultuur waarin ons nou lewe, is die duiwel besig om mense op 'n dwaalspoor te probeer lei.
  • Wanneer God se Woord gelees word en die Here begin om daardeur openbaring te gee, word geloof geaktiveer.

Bid:

Vader God, dankie dat U my leer van die waarheid agter die geestelike beginsels wat U vir ons voorskryf. Help my om dit doeltreffend toe te pas en dat U met my sal praat en openbaring sal gee elke keer wanneer ek die Bybel lees. Lei my deur u Woord en verander my lewe daardeur. Ek loof en prys U, Here. U is waardig om alle lof en eer te ontvang! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se Woord het die krag om te verander en Hy het ‘n spesifieke Woord wat Hy oor my lewe uitspreek om my roeping te aktiveer!

Aanbidding:

Psalm 34 - Shane & Shane

 

Dag 2: Been en murg

Waarom het die Woord van God die krag om ons gedagtes te verander (transformeer)?

Hebreërs 4:12 - “Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”

God se Woord is die enigste woord wat krag het om deur “gewrigte en murg” te dring, tot na die diepste dele van ons lewens waarheen dit die moeilikste is om deur te dring, naamlik tot in ons gedagtewêreld. Die beginsel van bybellees om God se Woord te leer ken, dra baie meer krag as wat ons verstaan. Bybellees het die vermoë om sake te verander soos min ander dissiplines kan.

Die krag van God se Woord stop nie daar nie, want Paulus leer ons dat, wanneer ons die woord van God hoor, geloof in ons lewens bygevoeg word.

Romeine 10:17 - “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God.”

Beoefen die beginsel van bybellees om te hoor wat die Here aan jou wil openbaar, om verander te word, en om geloof te verkry vir die seisoen waarin jy jouself bevind.

Lees:

Heb. 4:12

Rom. 10:17

1 Pet. 5:6-8 AMP

Mediteer:

  • Met watter benadering lees jy die Bybel? Wanneer jy tyd maak om Bybel te lees, vra vir die Here om jou te lei en om gedurende daardie tyd met jou te praat.
  • Is dit belangrik om uit eksterne bronne al die inligting te verkry oor die Bybel en die geskiedenis of kultuur van die tyd waarin dit geskryf is?
  • Alle antwoorde wat jy ooit sal benodig, kan jy in die Here se Woord vind.

Bid:

Vader God, U sê dat U antwoorde sal gee wanneer ek vra. Lei my in u Woord en help my om die antwoorde te vind vir die vrae wat nou in my hart is. Gee vir my ook 'n woord vir hierdie seisoen, sodat ek die geloof kan ontvang om in hierdie seisoen oorwinning te beleef. Ek loof en prys U, Here! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek het nie nodig om geloof te ontwikkel nie, die Here se genade gee aan my kragtige geloof deur sy Woord wanneer ek begin hoor wat Hy vir my sê!

Aanbidding:

Goodness of God - Jenn Johnson

 

Dag 3: Daaglikse brood

Daar is drie eienskappe van God se Woord wat, as ons dit verstaan, 'n groot uitwerking op ons lewens het. Hiermee saam: indien ons nie van hierdie drie eienskappe bewus is nie, kan dit beteken dat ons nie die krag van bybellees verstaan nie.

Die eerste eienskap is daaglikse brood. God se Woord is jou daaglikse brood. In Exodus lees ons dat, terwyl die Israeliete deur die woestyn trek en begin honger raak, die Here vir hulle van manna voorsien. Ons lees wel dat die Here nie vir hulle op een slag in groot maat voorsien om hulle behoefte vir ‘n langer tydperk te bevredig nie. Hy kies eerder om vir hulle net genoeg vir elke dag te voorsien wanneer hy aan hulle die opdrag gee om elke dag net genoeg manna vir een dag bymekaar te maak. Waarom voorsien Hy op hierdie manier?

Exodus 16:4 - “Toe sê die Here vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.”

Die Here wou sy volk toets om te kyk of hulle in sy wet sou wandel deur hulle gehoorsaamheid om elke dag hulle daaglikse brood te gaan ontvang. Die Here staan elke dag gereed om Rhema (openbaring) vanuit die hemel te laat reën. Hy wil elke dag vir jou Woord vir die dag gee. Hy werk die meeste in ons lewens wanneer ons Hom soek en elke dag, deur 'n verhouding met Hom, deel van ons lewens maak.

Lees:

Ex. 16:4

Mat. 6:11

Mediteer:

  • Jesus het hierdie beginsel geken. Hy leer dit vir sy dissipels toe Hy aan hulle die Onse Vader gebed voorstel. Hy het ook self 'n beginsel gehad om in die oggend en aand tyd saam met die Vader deur te bring om God se Woord te hoor en daarvolgens te lewe. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig om hierdie beginsel toe te pas nie.
  • Elke dag het sy eie uitdagings, maar die Here wag met 'n Woord wat vir jou 'n antwoord sal gee op alles wat jy vandag of môre gaan beleef.

Bid:

Vader God, dankie dat U 'n antwoord het vir alles in my lewe. Ek wil U soek en die openbaring ontvang wat U vir my oor vandag wil gee. Ek kom loof en prys U dat U kragtig werk in my lewe en dat U betroubaar is en altyd sal wees. Help my om meer van U te beleef, deur die beginsel van bybellees elke dag toe te pas en U in 'n verhouding deel te maak van my lewe. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is nie een dag in my lewe waarvoor God nie 'n Woord wat hoop, vreugde, vrede en geloof gee, voorberei het nie!

Aanbidding:

More - Red Rocks Worship

 

Dag 4: Ondersteunende brood

Hoe kon Jesus dit regkry om 40 dae in die woestyn deur te bring sonder om te eet? Die duiwel het geweet dat Jesus in die vlees honger was en het probeer om daardie vleeslike swakheid te gebruik om Jesus te versoek. Hy het vir Jesus voorgestel dat, as Jesus die seun van God is, Hy die klippe moet beveel om brood te word vir Hom om te eet. Die duiwel probeer selfs God se Woord te verdraai deur te sê, “As U die Seun van God is”, want God se Woord het klaar bevestig dat Jesus die Seun van God is.

Jesus het die tweede eienskap van God se Woord geken, naamlik dat God se Woord ons ondersteunende brood is. Dit het vir Hom die krag gegee om die honger te oorwin, want sy behoud was die Woord van God. Met die Woord van God vars in sy gedagtes, kon Hy ook die duiwel se aanval afweer deur te verwys na God se Woord en die waarheid wat daarin geskryf staan.

Die ondersteuning van die Woord van God elke dag in ons lewens is in die openbaring dat Jesus die Woord is. In Johannes 1 word ons geleer dat Jesus die Woord is. Daarom vra Jesaja, “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie?” Hy praat profeties oor Jesus en dat jy nie versadig sal raak deur enige iets behalwe Jesus nie. Om Bybel te lees, laat jou verhouding met Jesus groei en vul jou lewe met Jesus.

Lees:

Mat. 4:3-4

Jes. 55:2

Joh. 1:1-3

Mediteer:

  • Verhouding met die Here is nie bedoel om vervelig te wees of so te voel nie. God het bedoel dat ons geestelike avontuur in ons lewens sal beleef wanner ons in 'n verhouding met Hom lewe, en alles wat Hy wil belê in jou lewe deur sy Woord, wil dit aktiveer.
  • Hoe kan ek meer van Jesus in my lewe kry? Lees die Bybel sodat jy met God se Woord gevul word; sodat jy met Jesus gevul kan word.

Bid:

Here Jesus, ek loof en prys u Heilige Naam! U is waardig om aanbid te word. U was van die begin af daar en alles wat bestaan, het tot stand gekom deur U en kon sonder U nie tot stand gekom het nie. Help my om U meer intiem te leer ken en U elke dag in u Woord te soek. Lei my en openbaar meer van Uself aan my. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus is die wingerdstok en ons is die lote. Wanneer ons elke dag in Hom geplant bly deur verhouding, sal ons nooit honger of dors word nie.

Aanbidding:

Worthy - Elevation Worship

 

Dag 5: Lewende brood

Die Woord van God is nie net bedoel vir elke dag se geestlike voeding en vir ondersteuning en onderhoud van ons lewens nie. Dit is ook lewende brood. Dit is voeding wat meer as net die leemte in jou maag vul. Dit vul ook die leemtes in ons siel en ons gees. As die Woord van God lewende brood is, dan is dit lewende woord wat vryheid in ons lewens bring. Die wêreld sien die riglyne wat die Bybel vir ons voorskryf as beperkings en reëls wat ons verhoed om ‘n gelukkige lewe te leef.

Wat hulle nie verstaan nie is dat die waarhede en die beginsels wat die Here vir ons in sy Woord leer, ons eerder toelaat om vry te leef. Vry van die greep van sonde, oordeel, en selfs wêreldse beperkings. Die bybel gee aan ons die openbaring van God se glorie, en daardeur kan ons die geesteswêreld betree en die dinge wat onmoontlik is vir menslike vermoëns, begin beleef.

Johannes 6:49-51 - “Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe en die wêreld sal gee.”

Slegs deur die lewende brood te eet (dit is Jesus wat ook die lewende woord is)  kan jy die ewige lewe ontvang. In die Bybel ontvang ons die goeie nuus dat ons van sonde en alles wat ons keer om ons volle potensiaal te bereik. bevry word.  Ons kan die ewige lewe kan ontvang en saam met die Here vir altyd in sy heerlikheid lewe.

Die antwoord vir alles waaroor jy wonder, lê op jou bedkassie.

Lees:

Joh. 6:49-51

Joh. 15:5

Jes. 55:11

Mediteer:

  • Wat verstaan jy van die beginsels van God se Woord? Voel dit vir jou of jy 'n lewe van plesier en geluk moet prysgee as jy die Woord sou kies? Waag dit om in die Woord te begin wandel en ervaar die waarheid, vervulling en vryheid wat vir jou wag! 
  • Het jy nodig om 'n standvastige en betroubare stem te hoor in jou lewe, een wat nie gaan lieg of teruggaan op beloftes nie? Die Woord is deurspek met beloftes wat die Here vir jou gee. Hierdie Woord is waarheid vir jou en van toepassing op jou! Die Woord van die Here is die enigste Woord wat vir ewig en altyd betroubaar is. 

Bid:

Vader God, U was nog altyd betroubaar en U is dit nog steeds en sal dit vir ewig wees. Ek prys U dat U u Woord hou en dat U aan my beloftes gegee het wat my lewe bemagtig en bemoedig. Leer my om dit raak te sien in die Bybel en gee vir my die geloof om U te vertrou daarmee. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Woord van God is nie net genoeg vir hierdie lewe nie, dit is genoeg om ons vol tot in ewigheid te vul!

Aanbidding:

Sufficient for Today - Maverick City feat. Maryanne J. George