GELOOF, HOOP en LIEFDE!
Neville Goodchild
Oortuigings wat my lewenswyse en my toekoms bepaal
Dag 1: Geloof
Alhoewel ons dikwels weet wat dit is om gelowig te wees, verstaan ons nie altyd dat daar ’n verskil tussen geloof en hoop is nie.
Ons dink dat om geloof te hê, is om in Jesus te glo. Die Woord sê: jy doen goed, die duiwels glo ook. Maar hoekom sidder die duiwels dan en is hulle nie gered as hulle glo nie? Dit is omdat hulle nie glo in Jesus as Verlosser nie en hulle vrees die veroordeling. Sommige van ons het so groot geword: Dat ons moet vrees vir die oordeelsdag en dat ons voortdurend moet seker maak dat ons net reg wandel en ons sondes bely, vir ingeval die oordeelsdag vandag kom. Hierdie siening was en is uit ’n plek van vrees.
Daar kan dinge wees wat ons glo wat bindinge veroorsaak. Om die verkeerde dinge te glo, veroorsaak meer bindinge as wat dit vry maak. As ek glo dat ek onder veroordeling staan, sal dit juis my verderf veroorsaak, net soos die duiwel wat weet hy is onder veroordeling.
Die woord sê dat volmaakte liefde alle vrees verdryf. Daarom het ons vrymoedigheid, want in hierdie volmaakte liefde is ons vry en het ons moed oor die oordeelsdag.
Lees:
Mediteer:
- Ek is nie in dieselfde posisie as die duiwel nie. Ek is vrygemaak en losgekoop deur die bloed van Jesus en wat ek glo, is dat Jesus my lief het en dit beteken ek is vry.
- Jesus vra oor en oor vir Petrus, “Het jy my lief?” Onder veroordeling dink ek dat ek nie goed genoeg is nie en dat ek dit nie maak nie; dat ek Jesus teleurstel. Petrus het nodig om dit weer en weer self te hoor en te besef: ek het Jesus lief. Hieruit spruit die werk en identiteit wat ek het in die liefde van Christus.
- Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.
Bid:
Here Jesus, dankie vir u bloed wat gevloei het en u ontsaglike liefde vir my. Ek het U lief en weet dat U my liefhet. Dankie dat U my identiteit is en dat u liefde alle vrees nou en vir die toekoms verdryf. Dankie dat U vir my ’n hoop het vir my toekoms. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
"Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here." (Rom. 8:39).
Aanbidding:
In Christ Alone my hope is found – Adrienne Liesching And Geoff Moore
Dag 2: Sekerheid
Hoop is nie geloof nie; dit is iets anders as geloof. As ons nie die verskil verstaan nie, dan loop ons geestelike lewens 'n risiko om ondoeltreffend en irrelevant te bly.
Sommige mense fokus slegs op selfversekering. Ander sê weer dat ons net God-versekerd kan wees. Albei is egter noodsaaklik. Wanneer ek slegs selfversekerd is, glo ek in myself. Ek glo ek kán en God is irrelevant in hierdie saak. Dit is hoogmoedigheid. Wanneer ek net in myself glo, begin ek om myself te aanbid: ék is die god en Jesus Christus is nie ter sake in my lewe nie.
As ek slegs God-versekerd is, glo ek dat ék irrelevant is. Dan is my uitkyk dat God alles doen en dat ek nie 'n rol speel in hierdie prentjie nie. As ek dink dat ek nie 'n aandeel in God se plan het nie, maak ek myself nie ter sake in die doelwit wat God vir my lewe het nie. God wil my in sy Koninkryk hier op aarde gebruik. As God my nou reeds in die hemel wou hê, sou Hy sorg dat dit nou gebeur.
Ons het uit die geloof iets gekry - ’n rede by God, en ons roem hierin. Om te roem beteken dat ons ’n sekerheid het. Ons is nie verwaand hieroor nie. Ons het God-sekerheid en daarom is ons ook selfversekerd. Deur geloof is ons regverdig gemaak en het ons genade op genade gekry waarop ons kan aanspraak maak soos ons dit nodig kry. Ek kan beide God-versekerd en selfversekerd wees. Om selfversekerd te wees beteken dat ek glo ek het al die nodige gawes ontvang om nóú reeds Goddelik te kan lewe.
Ons dink dikwels verkeerdelik dat daar net een pad is om God se plan vir my lewe uit te leef. Daar is talle maniere om by God se doelwitte vir my lewe uit te kom. Genade is nie net vir vandag en as jy dit mis, is dit oor en verby nie. Genade is genade op genade op genade. Wat my lewe betref, is die roetes van God se wil in my lewe onbeperk en ek hoef nie te dink dat ek dit verspil of verbrou het nie.
Om hoop te hê is tweeledig. Dit beteken dat ek wilskrag het en ook dat ek weet daar is verskillende maniere op uitkoms, al weet ek nie noodwendig wat dit is nie.
Lees:
Mediteer:
- Glo ek dat God irrelevant is in my lewenspad en doel?
- Glo ek dat ek irrelevant is in God se plan met my lewe?
- Die Woord is duidelik daaroor dat die enigste manier om by God uit te kom, deur Jesus Christus is.
- Daar is verskeie roetes om by God se plan vir my lewe uit te kom.
- Rick Snyder het op ’n akademiese manier verduidelik dat hoop uit twee dimensies bestaan. Wilskrag en uitwegkrag (Will Power and Way Power). Hoop beteken dat daar iets is om na uit te sien, iets is om te verwag. Hoop bestaan nie net uit ’n wilsbesluit nie, maar ook uit die verskillende maniere hoe ek daarby kan uitkom.
- God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (Rom. 5:1-2)
Bid:
Sjoe, Here hierdie vraag of U irrelevant is en of ek irrelevant is in my lewe, laat my stilstaan en dink oor wat ek werklik glo. Ek is lief vir U Jesus. Dankie, dat U my verlosser is en my vrygespreek het en dat daar nou vrede tussen my en God is. Ek wil hierdie lewe nie sonder U en sonder U insette lewe nie. Ek wil ook nie irrelevant wees nie. U het my geskape om te heers op aarde. Dit beteken dat ek moet begin heers en Koninkrykperspektiewe huldig. Dankie dat U die hoop in my kom aanspreek. U is my vaste hoop. Dankie dat ek kan weet dat ek deel kan hê aan die heerlikheid van God deur U, Jesus Christus.
Bonus: Spreek Lewe!
Egtheid van geloof kweek hoop (Rom.5:4)
Aanbidding:
Dag 3: God het my weer en weer gered
Navorsing wys dat mense wat hoopvol leef meer sekerheid oor hul doelwitte het en hulle kan beter in ’n veranderende omgewing aanpas. Hul beleef ook minder angs en spanning en hul lewens oefen 'n groter uitwerking op hul direkte omgewings uit.
Curt Richter het in die 1950's ’n studie van hoop op rotte gedoen. In die eerste eksperiment het hy rotte laat swem in ’n houer met water waaruit hul nie kon kom nie. Na ongeveer 15 minute was hulle almal dood. In die tweede eksperiment het hy die rotte (wat op die punt was om dood te gaan) een keer uitgehaal en laat asemskep. Nadat hierdie hulp verleen is, het hy hulle dadelik weer in die houers geplaas. Hierdie rotte het vir 60 ure daarna aanhou veg. Alhoewel grusaam, is daar iets wat ons hieruit leer.
Richter se gevolgrekking was: “After eliminating hopelessness, the rats do no die”.
If the enemy can eliminate hope in your life, he will kill you.
When God can eliminate hopelessness, He can save you. Dit is wat ons moet leer wat God in ons lewens doen.
As God my eenkeer red, verander my geloof van kort oomblikke van oorlewing na ’n leeftyd van hoop!
Lees:
Mediteer:
- As ek terugdink aan my lewe: Waarvan het God my gered?
- Lank voordat ek geweet het en Jesus gekies het, toe ek nog nie my sondige natuur en hoogmoed neergelê het nie, het Hy reeds alles gedoen. Nog voordat ek in die penarie beland het, het Hy alles afgehandel om my te laat weet dat Hy hier is en dat sy wil vir my goed is.
Bid:
Here, U het my keer op keer weer gered. U wys deurentyd vir my genade op genade. U is die een wat nog altyd daar was en is vir my. Dankie, dat ek nooit alleen is nie. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Voordat ek nog daar was, het God reeds bewys dat ek nooit alleen sal wees nie.
Aanbidding:
The God Who Stays – Matthew West
Dag 4: God Assurance
Hoop is om God se Seun uit die hemele te verwag. Dit is ’n oortuiging dat Jesus terugkom om my te kom haal. Dit is belangrik om in hierdie konteks nie so heavenly minded te wees dat ek earthly no-good is nie. Nie eers Jesus Christus weet wanneer Hy weer gaan kom nie. God het daardie dag en tyd bepaal en Hy alleen weet wanneer dit is. Daarom is hoop ’n enorme werklikheid waarsonder ons dit nie sal maak nie.
Paulus sê geloof is dat ons ons bekeer het tot God, maar hoop is om uit te sien na die wederkoms van Jesus Christus.
Jer. 29:11 gee vir ons ’n deel van hoop wat deurslaggewend is. “Ek weet... .” God bedoel hiermee, “Ek is uitgesorteer in my denke oor jou. As jý nie weet nie, Ék weet, en my gedagtes vir jou sal gebeur. Ek is seker oor Myself en dit wat Ek besluit het.” – God assurance!
God se motiewe is nie 'n geheim nie. Jy kan Hom vir seker beleef. Sy gedagtes oor jou verseker vir jou 'n hoopvolle toekoms. Jy is sy oogappel en Hy hou jou met sy liefde in stand.
Die een gedeelte van hoop is God assurance! Nie ons eie wilskrag en onvermoë om te besluit en nie teleur te stel nie, maar God se wilskrag. In God se wilskrag kan jy hoop vind.
Lees:
Mediteer:
- Om hoop te hê, moet ek weet dat God ’n wil vir my lewe het en dat ek ook ’n wil het. Om hoop te hê beteken ook dat ek weet dat God ’n pad het vir my, dat daar ’n weg is en dat daar verskeie maniere is om by die doelwitte uit te kom wat God vir my lewe het.
- Ef. 1:4 wys God se motiewe en wat in God se hart aangaan oor die mens. Nog lank voor die grondlegging van die aarde (voordat God die aarde gemaak het) het God reeds besluit om my die voorwerp van sy liefde te maak en om my heel en heilig te hou.
- Watter gedagtes het God oor my? Gedagtes van VREDE en nie onheil nie. ’n HOOPVOLLE TOEKOMS. Hy het nie gedagtes van verwerping nie. Hy het klaar besluit hoe hy dink oor my.
- Hy wil my in stand hou soos wat Hy sy Skepping in stand hou.
Bid:
Here, U gedagtes oor my is so mooi. U wonderlike gedagtes oor my is ontelbaar. Daar is niks en niemand wat teen U opweeg nie. Dankie dat U hart teenoor my uitgesorteer en mooi is. Ek loof U Heilige Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Wat gee my hoop? Hy was getrou en Hy bly getrou
Aanbidding:
You are My Strength - Hillsong
Dag 5: Hoopvol
Uit die geskiedenis sien ons dat ons, as mens, nie die vermoë het om onsself te red en getrou te wees nie. Die mens het nog elke keer gefaal. Selfs toe God die reëls neergelê het, kon die mens nie goed genoeg lewe om gered te word nie.
Dit is waar die ongelooflike genade so sigbaar word. God het ’n verbond met Homself aangegaan. Hy en sy Seun het uit sy oorvloedige genade 'n testament met mekaar gesluit. Hierdie verbond is vas tussen God en Jesus. Hierdie verbintenis en ooreenkoms hang nie van my as mens af nie. Ek is die erfgenaam in sy testament. Ek is nou hoopvol omdat ek aangeneem is in sy getrouheid. Die vrug wat daar in my lewe is, is die vrug van sy verbintenis met Homself.
Ek het dus nie meer ’n vrees vir die dood of vir veroordeling nie. Hoop handel twee dinge in my lewe af: dit hanteer die dood en veroordeling. Deur Jesus se kruisiging is daar afgereken met veroordeling vir diegene wat in Jesus is. Deur Jesus se opstanding is ons dood oorwin en ons sal saam met Hom wees. Hy versoen ons met Vader.
Die fokus is nie op wanneer Jesus kom nie. Jesus Christus, wat self nie weet wanneer Hy kom nie, is nie angstig oor die werk wat gedoen moet word nie. Dit gaan nie oor ’n datum nie; dit gaan oor die waarheid van hoop. Jesus het bewys dat Hy die dood oorwin het en sal vir ons wys dat Hy ons dood ook oorwin het. Met sy wederkoms gaan ons saam met Hom verskyn.
Jesus kom nie terug om ons te veroordeel nie, Hy kom om die wêreld te veroordeel. God sal sy bruid volgens haar werke beloon. Ons sal op die oordeelsdag met God versoen wees – in vrede en liefde en met beloning. Daarom kan ons in hoop op Jesus se wederkoms leef.
Lees:
Mediteer:
Daar is twee oortuigings wat ons leer om hoopvol te leef:
- Glo dat Hy weer kom. Vir die sondaar is hierdie hoop ’n hoop op genade. Vir diegene wat gered is, is hierdie hoop ’n hoop op sy wederkoms. Hierdie goddelike belofte dat Hy weer sal kom, is seker. Enige ander hoop is feilbaar. Hy kom om my te kom haal en ek kan sonder vrees vir veroordeling leef.
- Vrees jy die wederkoms? Ondersoek dan jou hart. Onsekerheid demotiveer jou. Daar is geen groter hoop wat bestaan as die feit dat Jesus Christus tsal erugkom nie. As dit jou angstig maak, moet jy leer dat Jesus die dood en veroordeling uitgesorteer het. Het jy jou hart vir Jesus gegee?
- Glo dat God vir jou ’n hoopvolle toekoms wil gee. Miskien het jy nog altyd daaroor gewonder. God sê, “My gedagtes sal jou in ’n hoopvolle toekoms inlei.” Ons vier nóú reeds die ewige lewe. Sy koninkryk wat nóú en híér is, soos Jesus ons leer bid. Dit beteken dat ons hoopvol is en kan weet dat Jesus sal terugkeer en dat sy wil op aarde vir ons is, soos wat Hy dink wat in die hemel is. Onbeskryflik.
Bid:
Here Jesus, dankie dat U my terugbring na ’n plek van hoop. Dat ek kan weet dat U vir my ’n wonderlike toekoms beplan en dat U, Jesus Christus, sal terugkom om my te kom haal. U kom nie om my te veroordeel nie. Here, dankie dat ek nie net hoef te wag vir die dag om aan te breek nie, maar dat ek nou al kan deelneem aan u plan in u Koninkryk en met hoop kan uitsien na daardie dag. Dankie dat ek kan uitsien na die dag wat ek u beloning sal ontvang.
Bonus: Spreek Lewe!
Liefde is die massiewe geskenk − God se gereedskap om sy wil in my lewe te laat geskied!
Aanbidding: