Meesterstuk
Neville Goodchild
Ontdek God se genadewerk!
Dag 1: Wilskrag versus gewilligheid
Hoe gereeld word ons deur onself of ander oortuig dat, solank jy jou wilskrag kan gebruik, jy iets sal kan bereik of voltooi? Hoeveel te meer is hierdie idee in ons geloof betrokke? Solank jy net uithou en deurdruk en al jou wilskrag inspan om te doen wat jy moet dan sal jy seën ontvang. Alhoewel dit logies sin maak en 'n edel gedagte volgens die wêreld is, vind mens min getuienisse van mense wat deur wilskrag iets groot bereik het, en slegs 'n klein persentasie daarvan wat nie uit verkeerde motiewe gebore is nie.
Die wet wat Moses gebring het, het vereis dat gelowiges deur wilskrag alles van daardie wet uitvoer. Waar dit veronderstel was om lewe te bring, het dit veel eerder oordeel en dood gebring oor almal wat dit nie moontlik kon uitvoer nie. Inteendeel, die Woord van God sê dat geen mens dit ooit kon maak deur volgens die wet te lewe nie, want geen mens kon deur wilskrag alles van die wet nakom nie. Die Here, in sy liefde vir ons, het gesien dat die wet onvoltooid was en het deur sy Seun vir ons die antwoord kom gee.
Jesus het met sy kruisiging en opstanding die wet volbring en het daardeur vir ons die nuwe wet kom gee. Ons leef nie meer volgens die wet van die sonde en die dood nie, maar volgens die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus. Die wet van lewe in Jesus - die wet van genade en liefde - maak ons vry van die oordeel van die wet van veroordeling.
Wanneer ons in Jesus is, dan sal ons nie meer deur God veroordeel word nie. Hierdie waarheid verander wilskrag na gewilligheid. Die vrymaking wat Jesus vir ons deur liefde en genade kom gee het, maak dat ons wil lewe volgens die opdragte en die beginsels wat die Here vir ons gegee het. Gewilligheid verander die dieper dele van ons harte, naamlik ons begeertes. Ons begin begeer om na die Gees te wandel en nie meer na die vlees nie: waar wilskrag 'n innerlike geveg is teen wat ons voel ons moet doen, teenoor wat ons begeer om te doen. Daarom, deur genade word ons vrygemaak, want met daardie gewilligheid word die innerlike geveg oorwin.
Lees:
Mediteer:
- Probeer jy jou geloof uit te leef deur wilskrag of deur gewilligheid?
- Ervaar jy ‘n innerlike stryd tussen jou vleeslike begeertes en jou geestelike oortuigings?
- Wat gee vir die gelowiges (wat deur soveel verdrukking gaan) die moed en die krag om aan te hou?
Bid:
Vader God, ek loof en prys U! U het gesien dat ek dit nie op my eie kan maak nie, maar U het uit liefde vir my 'n verlosser gegee in Jesus Christus. U maak my vry en U verander my hart, Jesus! Leer my om u wil te ken en te hoor wat U van my vra. Help my om my posisie in U, Jesus, te verstaan en oortuig te word dat ek nie meer deur God veroordeel word nie. Heilige Gees, kom maak my vol en verander die begeertes van my hart sodat dit in lyn kom met dié van my Hemelse Vader! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is hoop om klaar te maak met sonde en totaal vry te kan lewe!
Aanbidding:
Champion - Maverick City Music & UPPERROOM
Dag 2: Posisionering en leefstyl
Die genadeboodskap wat Paulus vir ons aankondig, was amper 'n skok vir die vertalers van die Bybel. Die oorspronklike Griekse vertaling van Romeine 8:1 het net gelees “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Sommige vertalings voeg by “vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees”. Dit is nie verkeerdelik bygelas nie, maar is 'n verwysing na Romeine 8:4-5. Wat belangrik is, is om te verstaan wat die voornaamwoorde “in” en “na” in hierdie vers aandui.
Wanneer Paulus skryf dat daar nie veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie, is hy besig om met ons te praat oor posisionering. Om in Christus te wees, beteken ons is in Jesus geposisioneer voor die Vader. Daarom is daar geen veroordeling wat ons van God sal ontvang nie. Aangesien ons nie hierdie waarheid ken nie, kan Romeine 8:1 vir ons veroordelend raak, want as ons na die vlees wandel en nie na die Gees nie, lees ons dat ons weer nie kwalifiseer vir die belofte dat ons nie veroordeling by die Vader sal kry nie.
Nou weet ons dat as ons in Jesus is, sal ons nie deur God veroordeel word nie. Die “na” voornaamwoord verwys na leefstyl. Alhoewel ons nie deur God veroordeel sal word wanneer ons in Jesus geposisioneer is nie, kan ons nog steeds oordeel ontvang oor hoe ons leeftstyl lyk, maar van ander bronne af. Ons kan, byvoorbeeld, nog steeds deur owerhede veroordeel word. Op 'n dieper vlak kan ons eie harte ons veroordeel, selfs wanneer God ons nie veroordeel nie.
Ons hoop om na die Gees te wandel begin by ons posisie. Wanneer ons reg geposisioneer is, kan ons na die Gees wandel en dan begin ons lewens in lyn kom met die Here se wil en die beginsels wat Hy vir ons gegee het om volgens te lewe.
Lees:
Mediteer:
- Is jy geposisioneer in Christus? Om in Jesus te wees beteken om wedergebore te wees. As jy die proses van wedergeboorte wil bespreek, maak kontak met een van die kerk leiers.
- Om in die Gees te wandel is nie 'n voorwaarde van genade nie. Jy ontvang eers genade voordat jy bemagtig word om in die Gees te wandel.
- Uit watter ander bronne ervaar jy veroordeling? Wat kan jy verander in jou leefstyl om daardie veroordeling te verwyder?
- Wanneer die Bybel praat van die harte van klip wat die Here wil verander na harte van vlees, verwys dit na 'n hart wat veroordeel, want klippe is gebruik om te stenig. Genade begin om jou hart ook te transformeer sodat dit nie 'n bron van veroordeling in jou lewe sal wees nie.
Bid:
Here Jesus, dankie dat U my sondes vergewe en my die geregtigheid van God maak wanneer ek in U lewe. Help my om my posisie in U te verstaan. Heilige Gees, kom en transformeer my hart en verander my leefstyl deur die krag wat U gee om te lewe volgens die Here se wil. Dankie dat U my bemagtig en bemoedig en dat U my lei na die Vader toe. Ek loof en prys U, Here! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek wil reg lewe, want in Jesus kan ek dit regkry!
Aanbidding:
Mercy - Elevation Worship & Maverick City Music
Dag 3: Die antwoord is 'n persoon
Die waarheid dat ons nie deur die Vader veroordeel sal word wanneer ons in Jesus is nie, is vir ons die beginpunt van 'n lewe wat heilig is. Heiligmaking gebeur nie meer soos in die Ou Testament deur selfpogings nie. In Christus word Jesus vir ons wysheid uit God, geregtigheid, heiligmaking en verlossing (1 Kor. 1:30). Daarom het ons hoop.
Nou dat ons ons posisie in Jesus begin verstaan, is die tweede stap om te werk aan ons leefstyl, sodat dit na die Gees sal wees en nie na die vlees nie. So kan ons die laaste bronne van veroordeling uit ons lewens begin verwyder. Maar hoe kan ons dit doen? Om dit aan te pak, kan op sy eie vir ons baie oorweldigend voel. Dalk is daar so baie wat jy voel jy in jou leefstyl sal moet verander. Miskien is daar een gewoonte wat jy al vir jare lank sukkel om te laat staan. As ons kyk na wat Paulus skryf oor die stryd tussen vlees en gees in Romeine 7, sonder om te verstaan wat Paulus met die boodskap bedoel het, kan dit selfs ons hoop bevraagteken.
In Romeine 7 is Paulus besig om in 'n interesante koers in te slaan. Paulus skryf dat hy verkoop is onder die sonde en dat hy dinge doen wat hy níé wil doen nie, en verder dat hy die dinge wat hy wíl doen, nie gedoen kry nie. As selfs Paulus, wat vir baie van ons so groot held is, struikel - hoe sal ons dit regkry om die sonde te oorwin? Wat hier belangrik is, is dat Paulus nie vir ons vertel van hoe hy dit nie kon regkry om teen sonde te oorwin nie, maar om vir ons te wys waarom ons die antwoord so nodig het om ons lewenstyl te kan verander.
In die oorspronklike teks was daar nie 'n skeiding tussen hoofstukke 7 en 8 van hierdie brief wat Paulus geskryf het nie. Romeine 8:1 begin met die antwoord vir die probleem waarvan Paulus in Romeine 7 praat. Vóór Romeine 8 word daar in die hele boek van Romeine slegs een keer melding gemaak van die Heilige Gees, maar in hoofstuk 8 word die naam van die Heilige Gees 19 keer genoem. Die enigste manier om die effek van sonde in ons lewens te oorkom, is deur die krag en die teenwoordigheid van die Heilige Gees!
Lees:
Mediteer:
- Watter aspekte van jou lewe het verandering nodig? Bring dit alles na die Here toe en vra vir die Heilige Gees om jou te kom lei en krag te gee om dit te doen wat die Here wil.
- Omdat ons genade ontvang het, het die dryfkrag agter ons sondige natuur gesterf. Al wat nou oor is, is ons onveranderde denke (Rom. 12:2).
Bid:
Vader God, U het die antwoord vir alles in ons lewens! Ek loof en prys U vir die geskenk van die Heilige Gees om my te bemagtig om my lewenstyl te verander volgens u wil. Heilige Gees, verander my denke en help my om dit wat goed is en volgens die Vader se wil is te bedink. Dankie dat U teenwoordig is in my lewe. U is 'n goeie vriend en iemand wat intiem betrokke wil wees. Ek loof en prys U, Here! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees is die antwoord vir transformasie in ons lewens: Die tipe transformasie wat 'n goddelike vreugde en vrede in ons lewens bring. Wanneer Hy ons lewens begin transformeer, word nie net ons lewenstyl verander nie, maar ook die begeertes van ons harte!
Aanbidding:
Spirit Move - Kalley Heiligenthal
Dag 4: Die Heilige Gees
Johannes 14:16-17 - “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees”.
Hoe wonderlik is dit nie dat die Here vir ons die antwoord deur ‘n persoon sal gee nie? Weereens wys Hy vir ons dat dit nog die hele tyd sy missie is om 'n verhouding met ons te hê. Die Heilige Gees is 'n persoon wat deur middel van 'n verhouding in ons lewens wil betrokke raak. Hy het 'n stem en Hy wil met ons praat. Hy vervul ook baie rolle in ons lewens.
Johannes 14:26 AMP - “But the Helper (Comforter, Advocate, Intercessor - Counselor, Strengthener, Standby), the Holy Spirit, whom the Father will send in My name [in My place, to represent Me and act on My behalf], He will teach you all things. And He will help you remember everything that I have told you.”
Hy verteenwoordig Jesus op 'n intieme vlak in ons lewens. Hy spreek in lyn met die Vader se wil en lei ons slegs in die rigting wat die Vader wil, maar Hy lei net waar ons Hom toelaat. Hy is egter ‘n goeie vriend. Hy sal jou nooit oorheers of forseer nie, maar altyd geduldig wag totdat ons Hom toegang gee en toelaat dat Hy in en deur ons werk. Al is Jesus nie meer op aarde nie, het ons Hom nou baie nader aan ons as voorheen. In plaas van om Hom net te hoor of te sien, kan ons een word met Jesus en in Hom lewe deur die Heilige Gees wat in ons is.
Lees:
Mediteer:
- Wat verstaan jy van die Heilige Gees?
- Die Heilige Gees gee die bemagtiging vir jou roeping.
- Hy is die konneksie tussen jou en die Here op 'n geestelike vlak.
- Hy bring Jesus naby aan jou. Trouens, Jesus word deel van jou.
- Hy gee vir jou openbaring van dit wat die Here sê wanneer jy bid en vir leiding vra oor 'n besluit wat geneem moet word.
- Hy is die bron van die geestelike gawes wat in jou lewe vloei.
Bid:
Heilige Gees, kom openbaar Uself aan my op ‘n nuwe manier. Ek gee U toegang tot elke area van my lewe. Kom verander dit wat in my lewe is wat die Here wil verwyder of kom leer my dit wat die Here wil byvoeg. Ek loof en prys U. Dankie vir die nabyheid van God wat U vir my kom gee in my lewe. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees gee vir my die vermoë om dinge te doen wat andersins nooit moontlik sou gewees het nie. In sy krag kan ek God se plan vir my lewe bereik.
Aanbidding:
Dag 5: Where the Spirit of the Lord is, there is freedom
Die vorige verbond wat gesluit is, naamlik waar die wet gebruik is as inhoud vir daardie verbond, het die heerlikheid van God uitgebeeld. Hierdie was 'n verbond wat gelei het na die dood. Nou het ons 'n nuwe verbond deur Jesus Christus ontvang waarvan die Heilige Gees die inhoud is. Dit is die verbond wat lewe en vryheid gee. As die verbond wat na die dood gelei het soveel heerlikheid gehad het, hoeveel meer heerlikheid is daar nie in die verbond wat na die lewe lei nie? (2 Kor. 3:7-11)
Om in Jesus geposisioneer te wees en in hierdie verbond ingesluit te wees, gee vir ons 'n verwagting om hierdie allesoortreffende heerlikheid in ons lewens te ervaar. Wanneer ons op die wet staatmaak en nie deur genade lewe nie, is daar 'n sluier oor ons oë wat ons verhoed om hierdie heerlikheid te sien. Maar, wanneer ons in Jesus geposisioneer is en ons na die Heilige Gees toe draai, dan verwyder Hy die sluier.
2 Korinthiërs 3:16-17: “Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier. Die 'Here 'dui op 'Gees' en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid.”
Vryheid heers wanneers ons na die Heilige Gees toe draai. Hierdie vryheid verlos ons van sonde en help ons om ons leeftstyl te verander. Dit is ook nie net een oomblik van vryheid nie, maar 'n voortdurende realiteit wat in ons lewens waar word. Ons ontvang vrymoedigheid om die heeltyd na die Here toe te gaan en om saam met die Heilige Gees te wandel. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met 'n heerlikheid wat steeds toeneem soos die Heilige Gees dit aan ons gee.
Lees:
Mediteer:
- Is daar iets wat jou verhoed om vrymoedig na die Here toe te gaan?
- Wat, volgens jou, staan in jou pad om na die Heilige Gees te draai?
- Jy hoef nie eers vry te wees of reg te lewe voordat jy na die Here toe gaan nie. Deur genade is daar niks meer wat in jou pad kan staan om na die Here toe te gaan nie.
- Die blote aksie om na die Here toe te gaan en na die Heilige Gees te draai, is wat vrymaking bring en transformasie laat begin.
Bid:
Here, ek draai na U toe. U heerlikheid oortref alles en U is besig om daardie heerlikheid oor my lewe uit te stort. Ek prys U, want U is waardig en u teenwoordigheid is heerlik om in te wees! Heilige Gees, kom bring vryheid van dit wat my weerhou van 'n lewe wat volgens die Here se wil is. Dankie dat U die heeltyd met my is en dat ek vrygemaak is deur U! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur die Heilige Gees se krag en nie deur my eie krag nie, word ek verander om meer soos die Here te lyk!
Aanbidding: