PASSIONATE PEOPLE FINDING PURPOSE IN HIS PRESENCE
Neville Goodchild
Wie is ek en hoe vind ek my doel?
Dag 1: Ons identiteit as kinders van God
Dit is belangrik vir ons om te weet wie ons is. Dit beïnvloed nie net wat ek van myself dink nie, maar hoe ek ander mense sien en teenoor hulle optree, en dit waarmee ek myself oor die algemeen besig hou.
My identiteit, as kind van God, behoort gegrond te wees op die totale oortuiging van my wese en krag.
Wie is ek in wese? 'n Nuutgemaakte wese, deur wedergeboorte. 'n Kind van God, liefgehê deur my Hemelse Vader. Ek behoort nie te kyk na myself in die vlees nie, maar na die gees in my, wat opgewek is toe ek tot bekering begin kom het en gedoop is. 'n Nuwe skepsel met oneindige geespotensiaal.
Die hele Nuwe Testament verkondig dat ek nou deel is van 'n geestelike familie, as kind van God. Ek is wedergebore uit die saad van my God. Dieselfde krag wat Jesus Christus uit die dood uit opgewek het, is in my.
Hierdie identiteit wat in Christus gesetel is, behoort ons van binne af te vorm. As ons nie toelaat dat dit so gebeur nie, sal die wêreld om ons ons vorm. Ons identiteit as Christine behoort ons te onderskei van die res van die wêreld; ons behoort anders na mense te kyk en anders op te tree as mense wat hul indentiteit in die uiterlike vind.
Lees:
Mediteer:
-
Hoe beskou ek myself? Weet ek dat ek bo alles my Hemelse Vader se kind is, 'n nuutgeskape wese deur Jesus?
-
Beoordeel ek myself gegrond op my geespotensiaal of gegrond op dit wat ek van 'n eksterne perspektief sien?
Bid:
Here, help my om gedurig bewus te wees van wie ek is. Om my identiteit vas te maak in wat u woord oor my sê en nie in wat die wêreld van my sê nie.
Bonus: Spreek Lewe!
My identiteit is in Christus. Ek is 'n kind van God. My geespotensiaal bepaal wat ek is en wie ek word.
Aanbidding:
Dag 2: Hoe ontdek ek my doel?
As Christen het jou doel niks te doen met doestellings nie, maar eerder met roeping. Ek moet aandag gee aan wat my roeping is, want dit sal my lewe help stuur.
Hier en daar is mense wat indrukwekkende stories kan deel van hoe hulle ontdek het wat hulle roeping in die lewe is. Sommige het dalk eenmaal, toe hulle nog jonk was, 'n lewensveranderende persoonlike profetiese woord ontvang wat 'n stempel op hul lewens geplaas het en hul rigting aangewys het. Hier en daar hoor ons ook dalk 'n storie van iemand wat by 'n groot geestelike byeenkoms rhema woord (onthullende profesie) ontvang het. Daar is baie voorbeelde van sulke stories in die Bybel (byvoorbeeld die van Saulus in Handelinge 9, wat veroorsaak het dat sy lewe drasties verander en in 'n baie spesifieke rigting ingestuur word) wanneer mense ontdek wat hulle roeping is agv 'n groot gebeurtenis in hulle lewe.
Ons moet egter besef dat hierdie nie almal se storie is nie en dat die meeste mense nie hulle roeping ontek aan die hand van visioene, profesieë en wonderwerke nie. Jy het nie werklik sulke aardskuddende gebeurtenisse nodig om jou doel te ontdek nie. Die gebrek aan massiewe ‘wow’ oomblikke in jou lewe beteken beslis nie dat jy nie 'n spesifieke doel het nie.
In Fillipense 2 lees ons dat dit elkeen van ons se eie verantwoordelikheid is om die geloofspad saam met die Here te stap om uit te vind wat my doel is. Dit is 'n reis van karakterontwikkeling waartydens God in jou werk, en waartydens jy kan deelneem aan sy welbehae in jou lewe. Ons moet vir onself uitmaak wat God se wil is vir ons lewens en dit najaag, maar ons doen dit nie alleen nie − ons doen dit saam met die Here, met sy Woord as wapen. Dit is mos soos 'n tweesnydende swaard wat tussen murg en been indring om die geestelke van die vleeslike te skei en ons te help om dinge in die gees te verstaan, wat ons nooit in die vlees op ons eie sou kan verstaan nie. Dit is 'n asemrowende ontdekkingsreis wanneer ons daaraan deelneem.
Ons kan dit ook as gemeente doen, wanneer ons saam die wil van God vir ons lewens najaag en volgens sy doel saamwerk. Ons kan wonderlike goed vir die Koningkryk regkry.
Lees:
Mediteer:
-
Weet ek wat die roeping op my lewe is? Is dit iets wat ek aktief saam met die Here uitwerk?
Bid:
Here, help my deur die roeping op my lewe aan my bekend te maak. Herinner my aan die roeping wat dalk reeds aan my bekend is, maar waarvan ek vergeet het. Help my om 'n pad saam met U te stap om my roeping te ontdek. Om dit soos 'n vlammetjie wat aangesteek is aan te blaas om 'n groot vuur te word.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is 'n roeping op my lewe. Ek kan deelneem aan God se welbehae vir my lewe.
Aanbidding:
For your pursose – Victory Worship
Dag 3: Jesus vra my om deel te neem
Vandag lees ons van een van die twee wonderwerke van die vermeerdering van brood en vis. Dit lyk op die oog af na 'n eenvoudige storie. Daar is honger mense, Jesus doen 'n wonderwerk, mense word versadig en daar is boonop nog kos oor. Daar is egter van die fynere besonderhede van hierdie storie wat ons nie durf miskyk nie, want anders gaan ons dit misloop op ons pad saam met God.
Jesus het op daardie dag 'n groot menigte mense genees van siektes en gebreke. Die mense was honger vir Hom. Hy het wonderwerk na wonderwerk gedoen soos mense met behoeftes na hom toe aangedra is. Dit sou seker nie vreemd gewees het as Jesus vir hierdie mense, wat al drie dae daar lank daar in die woestyn vertoef het, ook iets gegee het om te eet nie. Hy doen dit egter nie sommer net self nie.
Hy draai eers na sy dissippels toe en vra hulle wat húlle het om vir die mense te gee. Hy vra sy dissipels vir iets wat Hy baie maklik self kon voorsien. Hulle moes hom seker op daardie oomblik met groot verbasing aangekyk het. Jesus wou hê hulle moes deelneem; hulle moes ook iets na die tafel toe bring. Hulle kon egter nie baie bring nie. Die stukkies brood en vis wat hulle gehad het, het seker so belagik min gelyk vir hulle, dat hulle nie vir 'n oomblik gedink het dat hulle bydra sou kon help om duisende mense te voed nie. Tog het Jesus hulle gevra om dit te bring.
Hy vra ons elkeen ook om te bring wat ons het. Nie wat ons nog gaan kry, of aan werk om eendag reg te kry nie. Nee, Hy vra elkeen in elke oomblik om te bring wat hulle nóú net. Hy vra ons samewerking in die wonderwerke wat hy in mense se lewens wil doen. Ons is nie daar om op die kantlyn te staan en kyk nie, ons moet deelneem.
Ons moet ook nie hier miskyk nie dat Jesus die kos geneem het, God daarvoor gedank het, en dit toe vir die dissipels teruggegee het. Dit was reeds terug in die dissipels se hande toe die vermeerdering plaasgevind het. Hy het hulle gebruik om dit wat hulle bereid was om vir hom te bring, in 'n wonderwerk te verander.
Lees:
Matt 15: 29-38
Mediteer:
-
Neem ek deel aan wat God in sy koningkryk doen, of staan ek op die buitewyke as 'n toeskouer terwyl Hy sy magtige werke doen in mense se lewens?
-
Is ek bereid om wat ek het vir Hom te bring, sodat Hy my kan gebruik?
-
Hoe neem ek deel aan ander mense se reis saam met God?
Bid:
Here, wakker asseblief 'n bereidwilligheid in my aan, om op te daag en bruikbaar te wees. Leer my om saam met U te werk. Help my om nie skaam te wees om die bietjie wat ek het, beskikbaar te stel vir u groter doel nie. Gee my die geloof wat nodig is om te kan herken dat U met enige bietjie wat ek bring, kan werk. Help my asseblief om op te hou passief wees en meer aktief deel te neem aan die werk van u koninkryk.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is genooi om aktief deel te neem aan God se koninkryk en ek het reeds alles wat ek ooit sal nodig kry om dit te kan doen.
Aanbidding:
Sidewalk Prophets - Come To The Table
Dag 4: Wat ek het om by te dra, is genoeg
Vandag kyk ons na dieselfde wonderwerk as gister, maar ook na nog 'n baie soortgelyke wonderwerk wat kort daana plaasgevind het. Mattheus skryf oor altwee hierdie wonderwerke en dan skryf Markus ook op sy beurt oor beide geleendhede. Die weergawes van dieselfde stories, soos met ander verhale in die evangelies wat deur verskillende apostels geskryf word, is natuurlik nie altyd identies nie. Elke apostel skryf uit sy eie herroeping van die gebeure en elk laat hier en daar iets weg of voeg iets by wat die ander nie doen nie, gebaseer op hul ervaring. Soos enige speurder jou egter sal vertel, is daar altyd sekere goed waaroor al die getuies sal gesels – dit is daardie dinge wat uitgestaan het vir almal, en dit word in alle gevalle genoem. In hierdie twee verhale is dit opvallend dat daar ooreenkomste is tussen die twee gebeure wat in albei gevalle deur albei die skrywers vasgelê word.
Een van hierdie ooreenkomste waarna ons vandag kyk, is die feit dat in al vier vertellinge, toe Jesus vra hoeveel kos hulle het, die getal sewe genoem is. Is dit toevallig, of is hier iets dieper wat ons moet raaksien? Ons het gister genoem dat wat hulle gehad het baie min was en dat dit in hulle oë totaal en al onvoldoende moes gelyk het. Die getal wat in albei gevalle die antwoord was op Jesus se vraag oor hoeveel hulle het om te gee, was baie opvallend elke keer sewe. Eers was dit vyf brode en twee visse (saam sewe) en met die tweede geleendheid sewe brode en 'n onbepaalde aantal vissies. Sewe is die volmaakte getal, en dit verteenwoordig perfeksie, rus,'n man van God, iemand wat gekwalifiseer om te dien, asooksewevoudige seëning en reiniging. Jesus het gekyk na wat hulle het en Hy het nie dieselfde gesien as wat hulle sien nie: Hy het dit as voldoende gesien, want Hy kan enige iets met die kleinste bietjie doen, maar alleenlik as jy dit vir Hom aanbied om mee te werk. Enige iets wat jy het om na die tafel te bring is prerfek.
Hy sal wonderwerke laat gebeur met die geringste wat jy bring. Jy kan enige iets bring om te deel, dit hoef nie eers tasbaar te wees nie. Selfs kennis, of jou ervarings kan ander help in God se koninkryk.
Lees:
Mark 8:1-10
Mediteer:
-
Besef ek dat ek wel kwalifiseer om te dien? Dat enige iets wat ek kan bring, al is dit hoe klein, 'n massiewe verskil kan maak?
Bid:
Here, help my om myself beter te leer ken en te herken wat in my lewe en van myself 'n hulp kan wees vir my medemens. Help my om na myself te kyk en raak te sien wat ek U kan aanbied om te deel in u koningkryk. Help my om te verstaan dat U my reeds alles gegee het. Dat ek reeds alles het wat ek nodig het en dat dit klaar perfek is; dat ek dit net moet bring. Here, kom doen wonderwerke met die klein bietjie wat ek kan bring.
Bonus: Spreek Lewe!
Wat ek het is klaar genoeg. Perfek. Hy kan dit omskep in wonderwerke.
Aanbidding:
Dance with me/Glory come down – Artist collab
Dag 5: Raak betrokke
Vandag lig ons nog 'n fyn besonderheid uit van die tweede wonderwerk van die vermeerdering van die brode. Dit word spesifiek deur Markus genoem. Jesus het die dissipels gevra om die skare in klein groepe op te deel, en hulle het in groepe van 50 en 100 gaan sit, voor die kos aan hulle uitgedeel is.
'n Mens lees maklik sommer net verby dit, want dit klink maar net soos 'n praktiese reëling om die uitdeel maklik te maak. Dit maak egter tot vandag nog sin in die kerk om mense beter te kan bedien wanneer hulle in kleiner groepe ingedeel is. As ek 'n skare van 'n paar duisend vra of almal genoeg geëet het, gaan ek maklik iemand mis wat nog honger is. As ek egter die skare opdeel en dissipels aanstel om elke groep te versorg, is daar minder gevaar dat iemand se behoeftes onvervuld gelaat gaan word. Dit is makliker om jou hand op te steek en te sê, “Ek sukkel.” wanneer jy saam met 'n handjie vol mense by 'n selgroep sit as wat dit sou wees om dit Sondag in 'n stampvol kerk te moet doen.
Dit is belangrik dat ons betrokke raak by die kleiner groepe in die kerk. Ons kan self makliker daar geestelik gevoed word, maar dit is ook 'n plek waar ons gebruik kan word om 'n ruimte te skep vir ander om gevoed te word.
Lees die gedeelte in Efesiers mooi deur. Hier word gepraat van wat met elke liewe Christen gebeur wanneer hulle wedergebore word. Die amplified bybel weergawe sê so baie wanneer die woord wedergebore in die bronteks verder in hakies verduidelik word as “spiritually transformed, renewed, and ready to use”. Jy is klaar bruikbaar, reg om gebruik te word vir goeie dade. God het jou klaar bruikbaar gemaak die oomlik toe jy weer gebore is: dis net genade. Hy het alles klaar voorberei, ons kan net daarin wandel en die lewe lei wat hy klaar vir ons gereed gekry het. Ons hoef net te sorg dat ons teenwoordig is en deelneem in die koninkrykswerk, en al wat ons nodig het, is dit wat ons reeds van God ontvang het.
Wanneer jy wonder hoe en waar om betrokke te raak, vra jouself, “Met watter van die dinge wat ek rondom my sien, het Jesus die meeste meegevoel?” Begin daar.
Lees:
Mediteer:
-
Watter klein bietjie kan ek gee? Waar kan ek betrokke raak?
Bid:
Here, help my asseblief om op te hou om myself te diskwalifiseer om betrokke te raak by u kerk se mense. Help my om raak te sien dat ek deur genade klaar alles het om deel te neem en 'n bydrae te maak vanuit wat U my reeds gegee het. Here, kom roer in my hart en gee my meegevoel vir ander soos U meegevoel het vir hulle, sodat u werk deur my gedoen kan word.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het deur genade alles wat ek nodig het om 'n verskil te maak in my en ander rondom my se lewensreis.
Aanbidding:
Danny Gokey - Make A Difference