Genade nooi jou! RSVP om jou plek te verseker!
Neville Goodchild
Dag 1: Genade is net die voordeur
Jesus het vir ons onthalwe 'n ongelooflike prys betaal. Daardeur het Hy vir ons 'n ongelooflike geskenk kom gee, maar soms verstaan ons nie presies wat die geskenk alles bevat nie. As ons hierdie geskenk oopmaak, ontdek ons genade: onvoorwaardelike vergiffenis van al ons sondes; iets wat nie verdien kan word nie. Niks word gedoen om dit te ontvang nie, en ons kan dit ook nie regkry om só te leef dat ons nie sondig nie. Hierdie is 'n absolute wonderwerk wat Jesus vir ons kom doen het en dit dra by tot die goeie nuus: die nuus wat harte verander en lewens transformeer. Maar, genade is net die voordeur.
Genade het 'n groter doel as om net vergiffenis te gee. Die vervulling van genade se werk in ons lewens is nie net om te weet of te hoor dat jy vergewe is nie. Vergiffenis se doel is om ons te lei na 'n nuwe lewe. Die liefdevolle Vader wat ons dien het besluit dat Hy nie net wil stop by vergiffenis in ons lewens nie. Indien ons net by vergiffenis sou stilstaan, sal dit altyd net 'n siklus word waar ons herhaaldelik sondig en vergiffenis vra en so sal dit aangaan. Die Vader gee egter vergiffenis sodat die transformasie en bevrydingswerk kan plaasvind en ons in 'n nuwe lewe in verwelkom kan word.
Jesus vertel in Mattheus 22:1-14 'n gelykenis van 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun voorberei het. Daarvoor het die koning net die beste voorgesit. Hy het sy vetgemaakte beeste en vee geslag en gereed gekry vir die fees wat sou volg. Daar was 'n aantal genooide gaste wat nie opgedaag het vir die fees nie. Verskeie kere is diensknegte gestuur om hulle te gaan haal, maar hulle wou nie reageer nie. Daarna het die koning die fees oopgestel vir almal. Nadat die Israeliete nee gesê het vir Jesus se bruilofsfees, het die Vader deur sy groot genade vir die heidene (vir ons) die deur oopgemaak en ingenooi. Ons is uitgenooi om vir die res van ons lewens aan Jesus se bruilofsfees deel te neem.
Lees:
Mediteer:
- Die geskenk van genade is vir almal beskikbaar. Het jy al die geskenk aanvaar?
- Hoe ver het genade jou gevat? Staan jy nog by die voordeur waar daar net vergiffenis van sonde is, of het jy dit al gewaag om by die deur in te stap om deel te neem aan die feesmaal?
- Daar is 'n lewe van oorvloed wat Jesus vir ons belowe het. Nie 'n lewe vry van alles wat sleg is nie, maar 'n nuwe, getransformeerde lewe wat vry is en ook ander mense vrymaak.
Bid:
Vader God, dankie dat U, eerstens, vir my die geskenk van genade kom gee het deur u Seun te stuur om vir my te sterf. Jesus, ek loof en prys U vir die onvoorwaardelike liefde en die vergiffenis van sonde wat U vir my gee. Dankie, Abba Vader dat U nie net by vergiffenis gestop het nie, maar my verder wou vat en vir my 'n nuwe lewe gee het. Ek wil deelneem aan die feesmaal. Leer my wat U alles in my lewe wil laat geskied terwyl ek deelneem aan Jesus se bruilof. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is na die bruilof toe uitgenooi! Ek kan deelneem sonder dat dit vir my nodig is om alles reg te doen, of dat ek op ‘n sekere manier moet lyk wat betref my leefstyl, sukses en aansien!
Aanbidding:
Dag 2: Te besig met werke
In hierdie verhaal van die bruilofsfees lees ons van een groep mense wat besluit het om nie te reageer op die diensknegte se uitnodiging na die bruilofsfees nie. Hulle het weggegaan en teruggekeer na hulle handelsake en lande. Hierdie “afkeer” reaksie verteenwoordig die rol van die wet in ons lewens wanneer die wet en die werke wat daarmee saamkom met genade gemeng word.
Vir die mense wat genooi was om deel te neem aan die fees wat die Vader vir hulle voorberei het, was hul werke belangriker. Hulle het weggestap van die geleentheid om deel te neem aan dit wat ware lewe gee. Wanneer die wet geforseer word, kan genade nie vervul word nie. Die effek van genade sal altyd deur die wet onderdruk word. Hierdie groep mense verteenwoordig die Fariseërs en skrifgeleerdes wat, terwyl die fees voor hulle oë plaasgevind het met Jesus in hulle teenwoordigheid, eerder verkies het om besig te wees met hulle werke wat vir hulle in die vlees roem sou bring.
‘n Deur is oopgemaak na die nuwe lewe toe, maar diegene wat verkies het om vas te hou aan die wet, het gekies om die ou lewe aan te hang waar geen transformasie kon plaasvind nie. Die bedeling waar ons God se goedheid en guns deur werke moes verdien, is verby. Deur so te lewe, sal ons nie die volle betekenis van God se guns in ons lewens kan ervaar nie. Ons kan die beste wat die Vader wil gee, die vetgemaakte beeste en veë, slegs ontvang as ons die werke laat vaar en aanvaar dat ons nooit sy guns en goedheid sal kan verdien nie. Ons kan egter genade ontvang sodat ons aan die feesmaal en hierdie nuwe lewe kan deelneem.
Lees:
Mediteer:
- Is daar areas in jou lewe waar jy gedeeltes van die wet met die boodskap van genade vermeng?
- Uit watter perspektief kyk jy na die mense om jou se lewens? Kyk jy deur die lens van veroordeling omdat hulle nie optree of lyk soos gelowiges nie? Of, kyk jy deur die lens van genade wat mense met liefde benader en wat verklaar dat elke persoon oor geestelike potensiaal beskik?
Bid:
Vader God, dankie dat U die tydperk van verdienste uit eie werke finaal afgesluit het. Ek prys U dat U die keuse gemaak het om deur die onverdiende geskenk van genade en die opdrag om slegs te glo in Jesus, vir my ‘n nuwe lewe kom bied het. Jesus, leer my om met u sagte juk en ligte las te lewe instede van die swaar laas wat gedra word wanneer ons uit ons eie krag probeer om reg te lewe. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
God se beste wag op diegene wat dit ontvang nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat hulle in Jesus glo en die geskenk van genade ontvang!
Aanbidding:
Thank You Jesus for the Blood - Charity Gayle
Dag 3: Geregtigheid en die nuwe lewe
Wat beteken dit om hierdie nuwe lewe te ontvang? Dit gaan nie slegs daaroor dat ons kan deelneem aan die Vader se bonatuurlike voorsiening en die vreugde wat ons by Hom kan vind wanneer ons saam met Hom aan tafel sit en die feesmaal geniet nie. Dit gaan oor meer: sodra ons die uitnodiging van genade aanvaar en by die bruilofsfees instap, word ons beklee met geregtigheid. Hierdie kleed beteken dat ons ‘n nuwe identiteit ontvang.
Voorheen was ons as sondaars geïdentifiseer. Die sonde in ons lewens was deel van ons identiteit. Nadat Jesus gekom het, het Hy deur sy genade vir ons die geregtigheid van God gemaak. Jesus se genade gee vir ons ‘n hele nuwe identiteit. Soos met genade, móét ons egter ook hierdie geskenk in ontvangs neem. Jesus vertel van 'n man wat by die bruilofsfees was, maar sonder sy bruilofskleed. Terwyl daar by die bruilof beide goeie en slegte mense was, was die man sonder sy bruilofskleed die enigste persoon wat verwerp is. Hierdie kleed is die kleed van geregtigheid.
As ons net genade ontvang en nie ook die identiteit van geregtigheid nie, verrig genade nie sy doel nie. Geregtigheid bring heelmaking van dit wat in ons lewens sonde veroorsaak. Vader God wil by ons harte inspreek. Hy wil bevestig wie ons is en wie ons gemaak is om te wees. Daar is meer vir jou voorberei as om net te glo dat jy vergewe is en dat daardie vergiffenis net sal geld totdat jy weer sondig. Geregtigheid beteken dat jy nie meer ‘n sondaar is nie, maar 'n seun of dogter van God en dat jy vry kan kom van 'n leefstyl wat frustrasie veroorsaak. Net deur in hierdie nuwe identiteit te lewe, kan ons die oorvloed van lewe ontvang wat Jesus vir ons kom gee het.
Lees:
Mediteer:
- Voel jy dat jy nie aan die bruilofsfees kan deelneem nie omdat jy dink jy is ‘n slegte mens?
- Die Koning het al die gaste wat sy diensknegte genooi het by die bruilofsfees ontvang. Slegte en goeie mense is genooi en aanvaar solank as wat hulle die kleed gedra het. Vader God het voorsiening gemaak vir slegte mense sowel as vir goeie mense. Niemand word van God se uitnodiging uitgesluit nie.
- Is jy oortuig van die nuwe identiteit wat Jesus vir jou kom gee het, naamlik die geregtigheid van God?
- Die geregtigheid van God beteken dat jy aanvaarbaar is voor die Vader, nie uit verdienste nie, maar deur Jesus wat vir jou die prys betaal het. Hy het jou ou identiteit op Homself geneem, daardie identiteit saam met Hom laat sterf, en vir jou opgestaan met ‘n nuwe identiteit wat jou toelaat om vrymoedig na die Vader toe te gaan en by Hom te ontvang wat jy nodig het.
Bid:
Here Jesus, ek aanvaar hierdie geskenk van geregtigheid wat my nuut maak en wat my sonder enige veroordeling toegang gee na die Vader. Vader God, dankie dat U na my kyk met aanvaarding soos ek voor U staan in my nuwe identiteit wat ek nooit self kon verdien het nie. Leer my om uit hierdie identiteit te lewe. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek het volle toegang na die teenwoordigheid van Vader God, waar my lewe met vreugde, vrede en waarheid gevul word en my bemagtig om volgens God se doel vir my lewe te funksioneer!
Aanbidding:
Dag 4: Die diensknegte wat die uitnodiging gee
Daar is drie groepe diensknegte uitgestuur. Die eerste groep was onsuksesvol. Van die diensknegte in die tweede groep is deur die mense vir wie hulle uitgenooi het, doodgemaak. Van die die derde groep word daar spesiaal melding gemaak: hierdie groep diensknegte se opdrag was was om 'n uitnodiging te gee aan almal wat hulle kon vind of ontmoet. Omdat die oorspronklike groep mense die uitnodiging nie aanvaar het nie, wou die koning die bruilofsfees vol maak.
Vader God het 'n uitnodiging gegee aan Israel om deel te neem aan hierdie bruilofsfees, maar hulle het nie die uitnodiging aanvaar nie. Inteendeel, hulle het die persoon wat die uitnodiging gegee het, naamlik Jesus, doodgemaak. Terwyl hulle nog hulle hele lewe lank gebid het vir die bruilof om te gebeur, het hulle die bruidegom doodgemaak. Daarna het Vader God die deur vir die heidene oopgemaak en almal het die uitnodiging van genade ontvang. Mattheus 22:10 sê dat goeie mense sowel as slegte mense na die bruilofsfees genooi is. Geen persoon was uitgesluit nie, en vir niemand was dit nodig om eers as ‘goed’ verklaar te word hom uitgenooi te word nie.
Vader God het verder bepaal dat ons, wat reeds genade leer verstaan het, daardie diensknegte sal word wat mense uitnooi om deur genade deel te word van die bruilofsfees hier op aarde, in die nuwe lewe deur geregtigheid te begin lewe, en ook te mag deelneem aan wat Jesus vir hulle wil gee. Ons het nie net die geskenke van genade en geregtigheid ontvang nie, maar ook die verantwoordelikheid om die ander mense om ons, deur genade, uit te nooi na die lewe van oorvloed wat Jesus vir hulle voorberei het. Die werking van genade word vervul wanneer ons met ander mense die geskenke deel wat ons ontvang het. Dan beleef ons ook vervulling in ons eie lewens, want Vader God het geen groter doel vir ons as om mense lief te hê en met hulle die geskenk van genade te deel nie.
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan jy genade bied vir die mense om jou of in jou lewe?
- Is daar iemand in jou lewe wat jy moet vergewe?
Bid:
Vader God, dit is soms moeilik om voortdurend aan die mense om my genade te wys. Dankie Jesus, dat U vir my die krag gee om dit te kan doen en dat U my bystaan wanneer ek dit die nodigste het. Ontwikkel my hart sodat ek ook, soos die Vader, sal kyk na die mense wat nie in my vleeslike oë goed genoeg voorkom nie. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Om aan 'n ander persoon genade te bewys en by hierdie bruilofsfees in te nooi, verander nie net hulle lewens nie, maar dit gee aan my eie lewe vervulling en geluk!
Aanbidding:
Build My Life - Housefires feat. Pat Barrett
Dag 5: Baie is geroep, maar min is uitverkies
Aan die einde van hierdie verhaal maak Jesus ‘n stelling. Baie mense is geroep, maar min mense is uitverkies. In baie gevalle word hierdie vers gelees met die idee dat die Here net sekere mense sou kies om deel te wees van sy Koninkryk. Hierdie vers kan vinnig misbruik word as ‘n wapen om aan te kla. Die oorspronklike vertaling wys dat hierdie woord 'n ander betekenis het waarvan ons moet kennis neem.
In die oorspronklike vertaling is die woord “eklektos” gebruik. Hierdie woord beteken "gekies". Dit beteken egter nie dat ons op 'n sekere manier hoef te lyk, voor te kom of op te tree voordat ons gekies kan word nie. Dit beteken eintlik dat ons reageer het op die manier wat Jesus van ons verwag om te reageer. So, wie is dan diegene wat uitverkies is en wie is nie uitverkies nie?
Diegene wat uitverkies is, is hulle wat gereed was om die uitnodiging te ontvang. Die “eklektos” van die Here was eenvoudig daardie mense wat nog nie self alles in hulle lewens uitgesorteer het nie, maar wat gereed en beskikbaar was om die genade en geregtigheid te ontvang. Vir hulle wat beskikbaar was, het Vader God ‘n baie groot maaltyd van sy goedheid voorberei gehad.
Lees:
Mediteer:
- Is daar mense waarna jy gekyk het en wat, volgens jou mening, nie ingepas het in die prentjie wat jy oor uitverkore mense het nie, en met wie jy nie die uitnodiging gedeel het nie?
- Voel jy gediskwalifiseerd wanneer jy hoor dat daar net sekere mense is wat uitverkies is?
- Om toegelaat te word en deel te hê aan hierdie geskenke en nuwe lewe, gaan bloot daaroor of jy beskikbaar is vir die Here om in jou hart te kom werk of nie.
Bid:
Vader God, dankie dat U mense aanvaar wat net na U toe kom en hulself vir U beskikbaar stel. U wys vir ons dat U nie ‘n aannemer van persoon is nie en dit maak ons hart net voller vir die mense rondom ons. Jesus, leer ons om met liefde na die mense rondom ons te kyk en altyd bereid te wees om met almal die geskenk van genade en geregtigheid te deel. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kwalifiseer deur my beskikbaarheid. Deur te reageer op Jesus se uitnodiging, kan ek die volheid van God ontvang en 'n nuwe identiteit in Hom, waarvolgens God my kwalifiseer vir sy wil vir my lewe!
Aanbidding: