Go Deep 13 Februarie 2022

Passionate people finding purpose in his presence

Neville Goodchild

Genade het ’n plan!

 

Dag 1: Afgehandel

Ons is besig om te kyk na ons identiteit. Ons identiteit bepaal ons optrede. Alles wat ons dink en doen, is gebore uit die oortuiging van wie ons is. Wanneer ons kyk na die Ou Testament, sien ons dat ons sondaars en onwaardig is. Selfs die priesters wat in die gedeelte van die allerheiligste kon ingaan, het dood neergeslaan indien hul sonde in hul lewe gehad het. Die grootste uitdaging wat mense in die Ou Testament gehad het, is dat skuld betaal moes word en ’n las gedra moes word vir sonde. Daar is nie een sonder sonde nie; nie een nie. Daarom het Jesus Christus gekom, want Hy is die Enigste Een wat die vereistes van die wet kon vervul. Hy is die Enigste Een wat hierdie las vir eens en altyd kon dra sodat ons nie oor en oor hoef te betaal nie. Dit is net Hy wat die wet kon volbring en net hier eindig die Ou Testament en die nuwetestamentiese lewe begin. Die feit is nou dat Jesus leef! Dit is die grootste waarheid en daarom belangrik dat ons anders leef en bely as in die Ou Testament.

Nadat God die gordyn geskeur het, is daar nou geen skeiding tussen ons en Hom nie. Ons staan nie meer onder ’n vloek nie. Ons staan nou in geregtigheid deur Jesus Christus.

Ons leef!

Lees:

Luk.7:41-50

Mediteer:

  • Hoe leef ons nou?
    • Ons het ’n passie vir die teenwoordigheid van die Here
    • Ons het ’n doel vir die Here
    • Ons het ’n passie vir mense
  • Wanneer jy jou kinders leer óns doen dit nie, of ons doen dit nie só nie, is dit maklik vir hulle om te hoor dat ons beter is as ander. Dit is nie wat ons eintlik probeer oordra nie. Ons probeer oordra dat ons sekere dinge nie doen nie, omdat ons bevry is van daardie dinge op grond daarvan wat Jesus gedoen het.
  • Leef jy vry in Christus?
  • Is daar nog enige outestamentiese beginsels waarmee jy sukkel?

Bid:

Here, U het my losgekoop en vrygemaak met u kosbare bloed. Help my om die volle waarheid van u opoffering en lewe te verstaan en te omhels. Help my ook om te onthou waar ek vandaan gekom het en om die volle impak van u nuwe lewe in my te leef. Help my asseblief om hierdie genade en liefde na ander mense toe uit te leef, sodat die wat gebroke is, gemaklik sal voel by my en nie veroordeeld nie. Here, ek wil ’n passie hê vir U, ’n passie hê vir u doel en ’n passie hê vir u mense. Die mense wat U kies, nie diegene wat ek dink dit verdien nie. U het onverdiende genade aan my bewys en daarom kan ek onverdiende genade en liefde oor en oor en oor uitleef. In Jesus se Naam.

Bonus: Spreek Lewe!

Kerk groei uit gebrokenes wat genade ontvang!

Aanbidding:

In Jesus’ Name – Darlene Zschech

 

Dag 2: ’n Ete vir die wat honger is

Die kerk van Jesus is geroep om te groei uit gebrokenheid. Wanneer ons na die toneel kyk wat in Luk. 7:41-50 afspeel, sien ons twee uiteenlopende mense. Die Fariseër is ’n gesiene man wat, volgens die samelewing, kwalifiseer in die lewe. Hy het dit gemaak. Sy lewe is nie so sleg soos sommige ander mense s'n nie. Inteendeel, hy is ’n leier van die kerk. Hy nooi Jesus om by hom te eet. Terwyl hulle rustig aan tafel sit, het ’n sekere vrou van die dorp na Jesus kom soek. Almal het geweet wat hierdie vrou se geskiedenis is en met watter geld sy waarskynlik daardie duursame olie gekoop het. Terwyl hierdie vrou Jesus se voete met haar trane was en met haar hare afdroog, sy voete soen en met reukolie salf, groei daar ’n weersin in die Fariseër. Hy dink by homself, “Hy, as hy ’n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”

Hierdie Fariseër se persepsie is dat hý kwalifiseer, maar nie die vrou met haar geskiedenis nie. Hy is ten minste baie beter af. Daarom wonder hy hoe Jesus dit kan toelaat. Vandat die vrou instap, vra sy Jesus om vergifnis. Terwyl sy Jesus se voete was, vertel Hy ’n verhaal van twee mense in skuld, en daarna vra Hy aan hulle watter een van die twee skuldenaars die geldskieter die meeste liefhê. Die Farisieër antwoord, “Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het”. Ja, die Fariseër het reg geoordeel, maar vir die vrou sê Jesus, “Jou sondes is vergewe” en “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede”. Hierdie vrou het gesmag na dit wat Jesus gehad het en kon gee, en sy is die een wat in vrede uitstap.

Hierdie Fariseër het gesukkel met ’n oordeelprobleem. Dit gaan die hele tyd vir hom oor verdienste. Ons sien ook by talle geleenthede dat daar waar Fariseërs rondgaan, die gebrokenes bly lê. Daar waar die gebrokenes is (soos hierdie vrou by Jesus se voete en soos by die bad van Bethesda), is daar elke keer Fariseërs wat vra, “Wie het die persoon die reg gegee?” “Het jy gesien?” “Weet jy wat daardie persoon alles gedoen het?"

Die verskil tussen hierdie man en vrou was dat net een van hulle honger was vir dit wat Jesus aangebied het!

Lees:

Luk.7:41-50

Spr.27:7

Mediteer:

  • Watter mense, volgens my, maak dit in die lewe?
  • Wat het hulle gedoen om dit te verdien?
  • Wat is my ingesteldheid oor ander mense wat dit nie verdien nie, of dit nie maak nie? Hoe tree ek as ‘die kerk’ op?
  • Hoe tree Jesus op?
  • Is die probleme van die kerk, van gelowiges en van gesinne of families nie dieselfde nie? Hoe dink ons, praat of tree ons op teenoor ander mense wat “erger” is as ons?
  • Wat kwalifiseer my?
  • Is ek honger genoeg na die dinge van die Here soos daarna in Spreuke 27:7 verwys word?
  • To be a Christian means to forgive the inexcusable because God has forgiven the inexcusable in you – C.S. Lewis.

Bid:

Here, vergewe my wanneer ek my met ander mense vergelyk; vir wanneer ek ooit aan ’n ander mens (wat na u beeld geskape is) dink as slegter af as ek; vir elke keer wanneer ek verag of neerkyk. Here, vergewe my wanneer ek vrae het oor hoe ander mense goeie dinge kan verdien en ek nie. Vergewe my my haat en jaloesie. Dankie dat U my help om met u oë na ander mense te kyk, om my ore te spits vir wat U sê en ook om my hart en mond met u waarheid te belyn. Jesus, dankie dat ek nie uit verdienste nie maar uit my verbintenis met U geregtig is. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Take my yoke on you, and learn of me; for I am meek and lowly in heart: and you shall find rest to your souls (Matt.7:24)

Aanbidding:

Through Jesus’ Eyes – Silverdale Music

 

Dag 3: Om lief te hê soos

Jesus is die enigste een wat al die gebooie kon vervul. Dit is vir ons as mense onmoontlik om die outestamentiese wette almal te onderhou. Jesus kry dit reg! In die Ou Testament gee God die wet dat ons mekaar moet liefhê soos onsself. Die probleem is dat indien ek myself in die lig van die Ou Testament as ’n sondaar sien, moet ek vir my sonde gestenig word. Wanneer ek ander mense sien soos ek myself sien, dan is die gevolgtrekking dat ek hulle as sondaars sien en hul moet dus ook gestenig word. Alles wat ons doen, is gebore uit ons oortuiging van ons identiteit.

Jesus het egter vir ons ’n nuwe wet gegee. Hy sê, “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Joh.13:34).

Joh.13:1 sê dat Jesus op ’n spesifieke manier liefgehad het: “...en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.”

Hierdie "tot die einde toe" beteken nie slegs liefgehad tot met Jesus se dood nie. Hierdie liefgehad is ’n profetiese liefde, doelgerig en met ’n eindresultaat.

Petrus het Jesus drie keer verloën en Jesus het vooraf geweet dat dit gaan gebeur. Hy het geweet dat elkeen van sy dissipels sou vlug. Hy het geweet dat Petrus afvallig sou raak. Tog sien Hy die potensiaal in Petrus raak. Jesus het lief en sy liefde sorg dat sy woord oor Petrus se lewe vervul word.

Lees:

Joh.13:1

Joh.13:34

Mediteer:

  • Hoe verskil Jesus se liefde vir jou van sy liefde vir ander mense, soos gelees in die Evangelies?
  • Hoe beïnvloed hierdie nuwe wet jou siening oor ander mense, naamlik dat jy ander mense moet liefhê soos Jesus jou liefhet?

Bid:

Here, baie dankie vir u oneindige liefde vir my, 'n liefde tot aan die einde. Dankie vir u woord wat nooit ledig terugkeer in my lewe nie en dat U my so liefhet dat u woorde oor my lewe in vervulling kom. Dankie, Jesus dat U my leer hoe om ander mense lief te hê soos wat U my liefhet. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ons glo in die toekoms en potensiaal van mense wie se lewens aan flarde is. Ons het mense lief, sodat God se woord oor hulle lewens vervul kan word.

Aanbidding:

Holy and Anointed One – Bethel Music and Upperroom

Dag 4: Uitdaging vir kerk

Die uitdaging wat ons het, is nie om sondeloos te lewe nie. Die uitdaging wat ons het, is om liefdevol te lewe.

Liefdeloosheid is eintlik hoogmoed. Hoogmoed weerstaan vergifnis. Vergifnis bring liefde. Oordeel weerstaan die liefde.

Hoe méér vergifnis daar in jou lewe is, hoe méér neem die liefde toe, want dit is wat genade doen!

Jesus sê eintlik vir Simon die Fariseër, “Simon, daar is twee mense in jou teenwoordigheid. Jy wat dink dat jy nie skuld het nie en die vrou wat jy veroordeel oor haar verlede. Ek, Simon, stel belang in liefde.”

Jesus het profeties lief. Jesus se liefde gee doel en het ook ’n eindresultaat in gedagte.

Lees:

Luk. 7:41-50

Joh.13:1

Joh.13:34

Mediteer:

  • Waarom het Jesus vir Simon hierdie storie van die geldskieter vertel?
  • Hoekom wys Jesus (vlg. Luk. 7:45-46) die dinge vir Simon uit wat hy nie aan sy gas (Jesus) bewys het nie?
  • Wat bedoel Jesus met hierdie woorde in Luk 7:47: “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”
  • Hoe kan ek ander mense profeties liefhê?
  • Hoe kan ek ander mense liefhê sodat God se doel vir hulle in vervulling kom?
  • Hoe kan ek ander mense liefhê met die eindresultaat in gedagte?

Bid:

Here Jesus, U is geïnteresseerd in liefde. Vergewe my waar ek in liefdeloosheid optree. Here, ek maak my hart, gees en gedagtes oop vir U om my te vul met u liefde, u lewende water, sodat ek kan vloei in u liefde na ander mense. Dankie, dat U my help om ander mense profeties lief te hê met ’n doel en met die eindresultaat in oog. In u Heilige Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die kwaliteit en intensiteit van ’n gemeente se liefde word gemeet deur vergifnis. Liefde eskaleer wanneer meer sonde vergewe word.

Aanbidding:

I Speak Jesus – Charity Gayle

Dag 5: Hoe lyk liefde?

Wanneer ons kyk na die storie van Maria Magdalena, sien ons Jesus se liefde in aksie. Sy is die vrou wat besete was. Baie glo dat sy die een was wat Jesus se voete met olie kom salf het. Ons kan nie met sekerheid sê nie, want ons sien dat Jesus die vrouens wat in sonde vasgevang was se identiteite beskerm het. Wat het Jesus gesien toe Hy haar sien? Wat gebeur met hierdie vrou se lewe toe sy blootgestel word aan Jesus se liefde? Jesus se liefde vir haar was profeties, doelgerig en met ’n eindresultaat. Die skrif verwys keer op keer na haar spesifiek. Daar word verskeie kere melding gemaak dat Maria Magdalena, uit wie sewe duiwels uitgegaan het, daar was. Elke keer wat sy op die toneel verskyn, word sy op die naam genoem. Hoe reageer Jesus teenoor haar? Jesus het haar so lief dat haar lewe verander. Omdat sy weet hoe baie sy vergewe is en die oorvloedige genade ontvang het, bly sy by Jesus en sy ontwikkel ’n hart vir bediening. Sy het nie ’n problem daarmee om Jesus uit haar besittings te bedien nie. Sy was altyd laaste in die gemeenskap, maar in Jesus se liefde verander haar posisie. Sy word saam met Jesus gesien, sy volg Hom. Sy is daar aan die voet van die kruis toe Hy gekruisig is. Sy help om sy liggaam voor te berei en sy is daar toe Hy begrawe is. Sy is ook vroeg daardie oggend met sonsopkoms by sy graf om Hom te salf. Toe Hy nie daar was nie, het hulle weggegaan van die leë graf af, en Jesus verskyn heel eerste aan haar. Sy hoor heel eerste die goeie nuus. Sy het die voorreg om hierdie goeie nuus aan sy dissipels oor te dra. Sy vind hulle waar hulle rou en huil. Hulle glo haar eers eers nie.

Maria Magdalena het uit Jesus se liefde ’n vrymoedigheid ontwikkel om die goeie nuus oor te dra. Die Here het in sy liefde haar identiteit herstel.

Ons weet sy is van demone bevry, maar daar word nie verder daaroor uitgebrei nie. Ons weet net dat Jesus haar liefgekry het tot die einde toe. Hy het haar lief met ’n liefde wat 'n doel aan haar lewe gee. Jesus het haar met soveel liefde hanteer dat sy ’n prominente rol gespeel het in die vervulling van die evangelies. Jesus het almal wat God aan Hom toevertrou, profeties, doelgerig en tot die einde toe lief.

Lees:

Luk. 8:1-3

Mat. 27:56

Mark.16:9

Mediteer:

  • Hoekom word die storie van Maria Magdalena oor en oor vertel?
  • Hoekom het Jesus nie die vrou van die nag op haar naam genoem nie?
  • Kan stukkende mense liefde by ons beleef in so ’n mate dat hulle 'n lewensdoel kry en ewigheidswaarde beleef?
  • Hoe moet ons as kerk lyk?

Bid:

Jesus, dankie dat U my ook profeties, doelgerig en vir ewig lief het; dat U ewigheidswaarde in my lewe instort. Dankie Here dat my lewe ook kan getuig van u liefde en dat ek tyd by u voete kan spandeer, sodat u wil vir my lewe vervul kan word. Vervul ook u wil in ander  mense se lewens deur u liefde en genade wat ek teenoor hulle uitleef. Help my om na ander mense te kyk soos wat U na Maria Magdalena gekyk het. In Jesus se Naam.

Bonus: Spreek Lewe!

Hierdie vrou wat laaste was, word in drie gevalle eerste in die evangelies!

Aanbidding:

I Was There – The Testimony of Mary Magdalene

Go Tell the World – Philippa Hanna