Go Deep 21 November 2021

 

 

MEESTERSTUK

Neville Goodchild

Ontdek God se genadewerk

 

Dag 1: Hoe benader jy die genadegawe teenoor misdaad?

Ons leer in hierdie reeks dat Genade ’n mens is. Genade is Jesus Christus Self. Dikwels wanneer ons te doen kry met iemand wat die genade misbruik, voel ons dat hierdie persoon nodig het om sy/haar kop te stamp, of seer te kry, of in die moeilikheid moet beland sodat die Here hulle kan regruk. Dan sal hulle besef hul het die Here nodig!

In Rom. 5:15 lees ons, “...maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding...” Hierdie oortreding, hierdie misdaad kan nie dieselfde verstaan word as die genadegawe nie. Genade werk nie soos misdaad nie. Deur misdaad van een moet baie sterf. Ons dink dan genade is wanneer een herstel bring vir baie en dat die skale weer reg gebalanseer word. Dinge is weer soos dit vir Adam was. As ons na genade kyk in die konteks van hierdie misdaad, redeneer ons verkeerdelik dat genade die balans terug kom herstel. Dan redeneer ons dat alles met Adam skeefgeloop het en dat Jesus dit weer kom reggestel het na die oorspronklike “Adam”. Dit is egter nie wat die Woord sê nie. Die Woord sê nie dat Jesus balans kom herstel het van die misdaad nie.

Lees:

Rom. 5:15

Joh.1:12

Mediteer:

  • Hoe kan ons as gelowiges ons posisie teenoor mense, asook ons verhouding met mense wat in sonde is, verander?
  • Wat maak ons met iemand wat lyk asof hul genade misbruik?
  • Hoe kan ons meer doeltreffend beïnvloed word om genade te bedien?

Bid:

Here Jesus, dankie dat daar wonderlike openbaring opgesluit is in u Woord en dat ons hierdie week kan ontdek wat U waarlik sê oor genade. Here, U maak Uself aan my bekend in persoon en U posisioneer my in en uit u genade. Dankie vir u geeswerking en dat U hierdie openbaring diep in my laat posvat, sodat ek uit u Gees belyn word. Dankie dat U my beïnvloed om U as persoon uit te leef na almal om my. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se parskuipe loop oor vir sy kinders en sy skure is tot oorlopens toe vol!

Aanbidding:

Your Grace Is Enough

 

Dag 2: Wat beteken veel meer?

Ons redeneer aanvanklik dat dit wonderlik is om weer terug in herstel te wees soos Adam in die tuin van Eden gewandel het. So wonderlik soos wat dit was, praat die Woord nie van herstel terug in die paradys nie. Die Woord wys op herstel in my verhouding met God. Wat Jesus kom doen het, is nie net ’n geskenk en herstel nie, maar véél méér. Vers 15 en 17 verwys na veel meer. God kan dit wat verkeerd gegaan het in my lewe en dit wat ek berou, omswaai in veel meer. As gevolg van die kruiswerk is daar veel meer om te ontvang as wat ek aanvanklik sou behou het. God las nie gebreekte stukke weer aan mekaar nie. God maak alles nuut.

Kyk na Luk. 22:49-51 waar Petrus die hoëpriester se oor afgekap het. Jesus het nie die oor opgetel en weer gelas nie. Jesus het vir hom ’n nuwe oor gegee. Daar is nie littekens van God se werke nie. Daar is méér heerlikheid, sonder foute, in Jesus Christus!

Lees:

Rom.5:15-17

Luk.22:49-51

Mediteer:

  • Wat is die beperkinge in jou lewe?
  • Glo jy dat Jesus vir jou nog veel meer beplan?
  • Wat beteken veel meer vir jou?
  • Wat beteken veel meer vir die sondige mense in jou lewe?
  • Hoe kan jy veel meer uitleef na die sondige mense rondom jou?

Bid:

Wow Jesus, U beplan vir my nog veel meer as net herstel. U maak alles nuut in my lewe. U beplan nog veel meer vir ander mense rondom my. Jesus, raak my oë aan sodat ek veel meer kan sien wat U vir ander het. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

I (God) create out of nothing!

Aanbidding:

Thrive – Casting Crowns

 

Dag 3: Genade wat toeneem

Genade herstel nie net nie, maar gee veel meer. Veel meer is die heerskappy van genade. Sonde kan net heers tot die dood. Die oomblik wat daar dood is, hou die sonde op. Die uiteinde is net dood. Maar die genade heers tot in die ewige lewe. Sonde het ’n einddatum, maar genade het geen einde nie. Genade word net oorvloediger. Dit neem toe.

V15,17 en 20 verwys na veel meer, meer oorvloedig. Hierdie is ’n konsep van genade wat ons moet verstaan. Vir mense wat lyk of hulle die genade misbruik, moet ons weet dat genade oorvloedig word en hoe meer sonde, hoe meer neem die genade toe.

Lees:

Rom.5:15-17

Mediteer:

  • Wie ken jy wat die genade misbruik? Hoe kan jy hierdie persoon blootstel aan meer genade?
  • Hoe kan jy jou posisie teenoor so ’n persoon verander?

Bid:

Here, dankie dat U genade vir my en elkeen om my toeneem.

Bonus: Spreek Lewe!

Genade kan tot in alle ewigheid nie ophou nie!

Aanbidding:

The God Who Stays – Matthew West

Dag 4: Beperk v Onbeperk

Ons kan redeneer dat sonde ’n einde het en daarom sal genade ook ’n einde hê. Dit is egter nie wat Rom. 5 ons leer nie. Volgens vers 20, waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword.

Wat is die verskil tussen beperkte en onbeperkte genade? Mense dink dikwels dat genade verval as dit nie nou gebruik word nie. God gaan dan veroordeel. Ons sukkel met hierdie idee dat genade ’n keerdatum het en dat ons ons moet beywer om nie die genade wat ons gekry het te misbruik of te verloor nie. Ons behandel genade dan soos ’n werkwoord.

Genade kan egter nie beperk of gebalanseer word nie. Daar is geen werk wat ons kan doen om dit te verdien nie. Net soos ons nie ons eie geregtigheid kan bewerk nie, kan ons genade nie verdien nie. Wanneer genade nie ’n einddatum het nie, beteken dit dat genade tot in die ewigheid in strek. Wanneer ons met oorvloedige, onverdiende, onbeperkte genade werk, dan het ons met Koninkryk te doen.

Lees:

Rom. 5:21

2Tim. 1:9

Mediteer:

  • Het iemand jou al ooit vergewe vir iets waarvoor jy nie vergifnis verdien nie? Hoe het jy gevoel?
  • Wie ken jy wat oorvloedige, onbeperkte genade benodig?

Bid:

Here, dankie vir u onbeperkte genade oor my lewe. Dankie dat ek ook oorvloedige, onbeperkte genade kan uitdeel aan almal om my, veral wanneer ek wil dink dat hulle dit nie verdien nie. Here, help my gedagtes om in lyn te wees met u hart. U is genadig oor my verlede en daarom kan ek genade uitgiet oor ander. Dankie, Jesus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Genade bedek nie sonde nie, genade bevry van sonde!

Aanbidding:

Reckless Love – Cory Asbury

 

Dag 5: Onmeetbaar en oorvloedig

Ons redeneer dikwels dat ons eie sonde of ander mense s'n te swaar weeg. Dan wil ons, op grond van hoe swaar ons dink die sonde weeg, bepaal hoeveel genade nodig is. Kan ons dit in gramme, of kilogramme weeg? Wat is dan die maatstaf waarmee ons dan genade wil bepaal? Hoe sal die genade dan teen die sonde opweeg? As ons genade kan meet, kan dit dan opraak? Is dit so kosbaar dat ons versigtig moet wees aan vir wie ons dit betoon? Veroordeling gee altyd te min genade, sodat sonde verder in ’n persoon se lewe toegelaat word. Genade wat nie veroordeel nie, stop ’n owerspelige vrou se sonde net daar en dan in sy spoor. Genade maak die deur van demoniese werking toe. Genade van die Here ken geen einde nie.

Genade het ook nie ’n begin nie. Nog lank voordat jy vuil in sonde was, het God vir altyd voorsiening gemaak. Niks het méér waarde as God se genade nie. Die probleem wat jy het, of pyn wat jy ervaar, het ’n einddatum en genade sal vir jou wag. God het lankal voorsiening daarvoor gemaak.

Lees:

Rom. 5:15-21

Luk. 22:49-51

2 Tim. 1:9

Mediteer:

  • Hoe langer ek aanhou glo dat genade te min is, hoe meer tyd laat ek vir sonde toe om ander mense se lewens te verwoes.
  • Soek mense wat genade benodig en giet dit oor hulle uit. Kyk dan hoe God se genade lyk.
  • God’s grace challenged sin eternally.
  • Bid vir mense wat jy ken wat genade nie verstaan nie en nog nooit daarvoor gevra het nie. Jesus het lankal al die aanklagte hanteer.

Bid:

Dankie, Here dat u genade hoog en wyd strek en van vêr af kom. U genade is só kosbaar en in oorvloed en dit verlos my. Dankie, Here dat u genade my red en nie beperkinge het nie, maar verniet aan my gegee word. Ek vra dat U my sal help dat die vrug van genade oorvloedig in my lewe sal wees. Dat ek in oorvloed genade aan ander mense sal gee omdat ek dit in soveel oorvloed van U ontvang. In u Naam Jesus, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie (Mat. 12:7).

Aanbidding:

Mercy – Elevation Worship & Maverick City