Go Deep 01 Mei 2022

Setting Forth His Wonderful Deeds

Neville Goodchild

Die vyand se enigste toegang tot jou lewe is deur jou verlore gesag

 pexels maria orlova 4969831

Dag 1: Dit wat ons vier

Wat is die dinge wat ons in ons lewe vier? Hoe vier ons dit? As ons dink aan vakansiedae soos ‘Erfenisdag’ en ons onderhou dit, wat is dit wat ons onderhou en vier? Waaraan dink ons? Daar is baie dinge wat ons vier, maar dit het nie noodwendig 'n uitwerking op ons lewens nie. Ons onderhou dit, neem daaraan deel, vier dit, maar glo nie eintlik daarin nie.

So is Christenskap vir sommige van ons. Dit is ’n teologie, maar indien ons dit nie prakties toepas nie, word dit net ’n dogma, ’n godsdiens. Dit sluit rituele en datums in en op die ou end bindings, maar dit is nie ’n leefwyse wat ons handhaaf wat gelykstaande is aan die Woord nie.

As die Woord sê dat Hy vir ons kosbaar is (1 Pet.2:7), dan beteken dit dat Jesus vir ons waardevol is. 'Waardevol' beteken dat ek altyd baie waarde daaraan heg. Dit is maklik om iets te sê. Ons leef in ’n wêreld waar mense maklik hul opinies kan lig op verskeie sosialemedia-platforms. Die vraag is of ek my daad by my woorde kan voeg.

Wat ek glo is baie belangrik. Wanneer ek iets glo, leef ek dit. God wil betrokke wees in elke deel van my wêreld, maar laat ek Hom toe? Is ek intensioneel in my geloof in Hom?

Dikwels voel ons teleurgestel deur die kerk, want ons sien nie geloof wat werk nie. Waarom is dit? Die kerk vier tog Jesus se dood en opstanding. Wanneer ons kyk na hierdie teleurstelling, is die prentjie veel wyer as die kerkomgewing. Ons sukkel om dit wat ons glo en vier in ons huise uit te leef. Dit is waar ons uitdagings dikwels lê.

Lees:

1 Pet. 2:7-9 (ARF53)

Mediteer:

  • Wat is die dinge in my en my gesin se lewe wat gevier word?
  • Hoe kan Jesus Christus vir my waardevol bly?
  • Wat beteken dit om elke dag te glo en dit prakties uit te leef?
  • Ek glo in die kruiswerk en opstanding van Christus: Watter implikasies het hierdie stelling in my lewe?
  • Hoe leef ek die kruisdood en opstanding van Christus prakties uit?
  • Niks wat ek tans beleef, is buite God se speelveld of raamwerk nie. Hy is nie ’n God wat hands-off is nie. Alles wat ek doen, is deel van my wêreld waarin God betrokke wil wees. Sy betrokkenheid hang af van my intensionaliteit. Hoe intensioneel is ek om Hom deel te maak?

Bid:

Here, ek glo in U. Dankie, dat U my leer hoe om my geloof in U uit te leef. Here, ek wil nie net ’n godsdiens handhaaf nie, maar ’n lewende verhouding met U hê wat ek na ander mense toe kan uitleef. Ek vra vir ’n dieper openbaring van U, sodat U nie net ’n idee is waaraan ek vaskleef nie, maar ’n diepe vertroue en wete, ’n diepe onthulling van Uself. In Jesus se Naam. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, woon in my.

Aanbidding:

Jesus, My Treasure – Canyon Hills Worship

 

pexels skitterphoto 9334

Dag 2: Watter kant toe gaan my vuur?

Ons Christenskap is soos ’n vuur. Dit word óf aangewakker, óf dit is besig om te sterf. As jou geloof nie besig is om warmer te word en jy meer intensioneel begin leef nie, is dit besig om te taan.

Dikwels beleef ons nie die dinge waarvan ons oortuig is in die kerk nie en ons dink dan ons is by die verkeerde kerk. Eintlik is die regte plek om die krag van die Here in ons eie lewens te sien, in ons eie huise. Ons is veronderstel om ons getuienisse uit te leef. Nie net na die gemeenskap nie, maar in ons eie huise. Indien jy in ’n kerk is waar jy die wonderwerkende krag van God sigbaar beleef, maar nie in jou eie huis nie, sal dit jou niks baat nie. Wat baat dit my om jare lank in die kerk te wees, maar nie my Christenskap in my eie huis te beleef nie? Dan is my lewe by die kerk anders as my lewe by die huis. Dit beteken ek leef ’n dualistiese lewe. Ons het grootgeword om te sê die kerk is die huis van die Here, maar dit is ’n Ou-Testamentiese beginsel. Die Nuwe Testamentiese kerk is God in ons!

Ons beleef as Christene enorme aanslag in ons huise. Dit beïnvloed ons huwelike, kinders en die gesondheid van ons gesin. Dit help veel ons het sukses by die werk, maar tuis misluk ons. Die aanslag op ons geloof word net feller. Christenskap word aktief vervolg en lou godsdiens sal binnekort heeltemal verkoud. Dit sal net nie meer die moeite werd wees om aan te hou met ’n kragtelose en nuttelose oefening nie.

Wat by ons huise gebeur is deurslaggewend. God begeer om in jou huis te werk! Die geestelike klimaat van jou huis is meer aanduidend en bepalend van jou konneksie met God, as wat jou kerk se klimaat aandui.

Lees:

1 Pet. 2:7-9 (ARF53)

Mediteer:

  • Hoe lyk die geestelike klimaat van my huis?
  • Gaan ek kerk toe omdat ek God daar wil beleef? Wat keer my om God in my eie huis te beleef?
  • Watter stappe kan ek neem om my geloof in my eie huis uit te leef? Wat is die een stap, waarmee ek kan begin?

Bid:

Here, dankie dat U die vuur binne my aanblaas om aktief betrokke te wees en te werk in my huis op ’n geestelike vlak; Dat ek my geloof uit kan leef waar ek woon en om outoriteit te neem oor die geestelike atmosfeer van my huis. Dankie, dat U my help om standpunt in te neem en om my geloof te groei. Dankie, dat U betrokke is in my huis. Ek kies om U te dien. Ek loof U Heilige Naam. U is my Koning. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Geloof is om intensioneel standpunt in te neem in my huis, vir dit wat ek glo!

Aanbidding:

Soul on Fire – Third Day

 san marino 1713740 1280

Dag 3: Die gesag in my huis

Die vyand se strategie is om destruktiewe goed in menselewens te gebruik om hul lewens te probeer verwoes. Hy gebruik omstandighede in die huis as afbrekende en demotiverende faktore in gelowiges se lewens. Hy gebruik lyding, verwerping, depressie, misbruik, armoede, siektes en hartseer, sodat gelowiges nie God se krag, goedheid en guns beleef nie.

Om God te leef en te beleef in my eie huis, is ’n doelbewuste toewyding en belyning wat herhaaldelik moet gebeur totdat daar geestelike deurbraak kom.

As jy van jou huis ’n plek van liefde, vrede en krag wil maak, moet jy weet:

Jou huis is ’n fort: Dit is ’n sterk vesting. Dikwels is daar uitdagings wat maak dat ons vergeet dat ons die fort moet versterk of uitbou. Ons moet bou aan die droom van die veilige vesting wat ons huis is. Dit verg toegewydheid aan die Here.

Wat tuis gebeur, het geestelike waarde: God se grootste wonderwerke het te doen met jou huis en jou familie. Die uitwerking van God se hand in jou eie huis, dra baie groter gewig vir jou en jou gesin.

God en satan wedywer oor jou huis: Jou huis is nie ’n neutrale plek nie. Daar is ’n voortdurende stryd.

Jy het die sleutels: Jy is die outoriteit. Jy sit met die gesag.

Lees:

1 Pet. 2:7-9 (ARF53)

Hand. 9:17-18

Mediteer:

  • Wat kan gebeur as die lede in 'n gesin begin saamstaan in geloof? Saam op God begin vertrou vir deurbrake, saam begin bid vir uitkoms, mekaar begin opbou met woord en gebed, mekaar begin seën met God se woord?
  • Wat doen jy met die sleutels van jou fort?
  • Wie kry ingang tot jou fort? Watter rol speel jou optredes, gedagtes en oortuigings hier?
  • Wat beteken goddelike gesag prakties in jou huis?

Bid:

Here, vandag kies ek om op te staan in die oorwinning wat U reeds gevel het. Ek kies om die gesag in te neem oor my huis, om geestelike standpunt in te neem en u waarheid te verklaar. Ek kies dat U, en nie die vyand nie, die geestelike gesag in my huis kan kom wees. U is die Koning van my huis. Ek kom verklaar u goedheid, u guns, u liefde, u vrede en u krag in my huis en in my gesin. Ek roem vandag in U, nie in enige werke of enige afgode nie, maar in U alleen. U is die Koning van my hart en gedagtes. Dankie Jesus, dat ek geregtig is in U en daarom met gesag kan optree in my huis. In u naam Jesus, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!,

Om God te leef en te beleef is ’n doelbewuste toewyding en belyning wat herhaaldelik moet gebeur totdat daar geestelike deurbraak kom.

Aanbidding:

Praise Before My Breakthrough – Bryan & Katie Torwalt

african lion 2888519 1280

Dag 4: Jy sit met die gesag

Jy het gesag oor jou grootste geestelike besitting. Verstaan wat gesag is:

Gesag hanteer die situasies wat buite God se wil is: Belyn jou omstandighede met God se waarheid en sy wil. Dit is wanneer iemand in die huis opstaan en begin sê, “Hierdie is nie reg nie”. Dit is makliker om nie op te staan en iets te sê nie. Dit is makliker om passief te bly. Gesag bly nie passief nie.

Gesag pleit nie, maar beveel in die Naam van Jesus, in lyn met die Woord. Dus neem jy verantwoordelikheid, jy daag die geestelike atmosfeer uit en jy betree die geeswêreld. Hanteer die dinge wat nie in lyn is nie en beveel dit om in te skakel met God se Woord, in Jesus se Naam. Deur dit te doen, neem jy 'n posisie in met die sleutels wat joune is en nooi jy die regte gesag in die situasie in. Jy gee vir God die reg.

Gesag bevestig en pas die werklikhede van God se koninkryk toe op die aarde. Dit is wat ons ook bid: soos in die hemel, so ook op die aarde. Die fokus van gesag is nie om die vyand op sy plek te sit nie. Die fokus van gesag is die vestiging koninkrykrealiteite op die aarde, in jou huis.

Gesag is slegs aan die mens gegee. Maar, dit is weggegee...

Die enigste toegang wat die vyand tot jou lewe het, is deur die gesag wat jy verlore laat gaan het. In Jesus kan jy hierdie sleutels terugneem en jou gesag bevestig met jou woorde, belydenis en verklarings wat in lyn met die wil van God en sy Woord  toegepas word!

Lees:

Hand.13:6-12 (AFR53)

Mediteer:

  • Op watter praktiese wyse neem jy gesag terug in jou huis?
  • Is daar situasies in jou huis wat jy weet nie in ooreenstemming is met God se wil en Woord nie? Hoe kan jy hierdie situasies belyn?
  • As die sleutels aan jou gegee is, watter middele is tot jou beskikking om God se koninkrykrealiteite in jou huis te bevestig en toe te pas?

Bid:

Jesus, dankie dat U vir my die sleutels gegee het en dat ek met gesag in u geregtigheid kan opstaan. Dankie, vir die gesag om die situasies in my lewe te hanteer wat nie tot u eer is nie. Ek kom nou in die Naam van Jesus en beveel hierdie situasie (noem die situasie voor die Here) om die knie te buig voor U, in u Naam Jesus Christus. Ek kom verklaar u Woord van lewe in oorwinning (volgens Joh.10:10) oor my en my gesin se gesondheid, ons finansies en ons verhoudinge. Op grond van die Woord (Deut.28:13) wat sê dat ek die kop is en nie die stert nie, die bokant en nie die onderkant nie, en op grond van u kruiswerk en opstanding en, bowenal, van u Gees in my en u krag, neem ek nou die gesag en spreek lewe oor dit wat dood is in my lewe (noem dit voor die Here), vrug en groei oor dit wat verlep is (noem dit op sy naam), en genesing (noem die siekte) deur die wonde van Jesus en verlossing wat U reeds bewerk het. Dankie, dat ek nou kan opstaan en die situasies waaraan U my herinner, kan hanteer in u Heilige Naam, Jesus. Ek roep u koninkryk en u wil in hierdie situasies in. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Kerke kom in herlewing wanneer huisgesinne in herlewing kom!

Aanbidding:

Prophesy – Influence Music

 to graduate 3083812 1920

Dag 5: Neem jou gesag terug

Gesag is aan die mens gegee – om te heers oor die aarde (Gen.1:28), maar die mens het dit weggegee. Die enigste oop deur en die enigste toegang wat die vyand tot jou lewe het, is deur jou geregtigde gesag wat jy weggegee het.

Daar is twee realiteit waarmee jou gesag weggegee word, naamlik deur passiwiteit en ongedissiplineerdheid.

Passiwiteit: Deur passief te wees, gee jy jou sleutels weg. Jy abdikeer (doen afstand van) jou troon. Dit is soos 'n koning wat die reg het tot die troon het, maar nie daarin belangstel nie: Dit bly 'n aksie van gesag weggee.

Ongedissiplineerdheid: Jy gee jou gesag weg wanneer jy oor 'n lang periode nie op die regte manier die ritme kan hou nie. Ons bring ons gesinne in ooreenstemming met God se wil deur 'n gedissiplineerde leefstyl te handhaaf. Ons red ons kinders deur die Here gedissiplineerd te te dien en om ons gesin by ons aanbidding te betrek.

Jou huis is 'n vesting. Dit is dáár waar gesag begin werk.  Raak ontslae van passiwiteit en 'n ongedissiplineerde leefstyl! Neem jou outoriteit in jou huis op. Dit is hier waar herlewing begin!

Lees:

1 Pet.2:7-9 (ARF53)

Hand. 9:17-18

Hand.13:6-12 (AFR53)

Mediteer:

  • Is daar enige tekens van passiwiteit in jou lewe? Op watter manier kan jy jou sleutels terugneem en jou geregtigde gesag uitoefen?
  • Waar in jou elke dag se bestaan is daar ongedissiplineerdheid? Op watter manier steel die vyand hierdeur van jou?
  • Waar begin jy om dit te red wat eens op 'n tyd 'n droom was?

Bid:

Here, U is vir my, wie kan teen my wees? U is vir my familie, wie kan teen hulle wees? U red my ongeredde geliefdes, want niks kan ons van u liefde skei nie. Daar is geen situasie in my lewe wat vir U te veel is, of wat bo U is nie. U is bo alles. U laat alles ten goede meewerk, want ek het U lief en ek dien U. U help my en daarom kan ek opstaan en optree, die sleutels terugneem en ’n gedissiplineerde leefstyl leef wat U behaag. In Jesus se Naam. Amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Gesag word bevestig deur Woord, belydenis en optrede wat Woord waarheid bevestig.

Aanbidding:

I Speak Jesus – Charity Gayle

The Blessing – Kari Jobe & Cody Carnes