
Genade en geregtigheid: die Heilige Gees
Neville Goodchild
Dag 1: Jou hele wêreld wag
“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.” Romeine 8:19.
Jesus het vir ons genade gegee. Diegene wat bekeer en kies om Hom as hulle redder te erken, ontvang daardie genade wat 'n menigte gawes kom gee. Hierdie gawes sluit in die vergifnis en vrymaking van sondes, genesing, bevryding, ewige lewe, versoende verhouding met Vader God, en elke goeie ding wat die Vader vir ons wil gee. Wanneer ons nie van hierdie gawes kan getuig in ons lewens nie, begin ons soms dink dat God se tyd nog nie gekom het nie. Ons begin wag dat God hierdie goed vir ons in ons lewens laat realiseer.
Die werk wat Jesus kom doen het en dit wat Hy kom gee het, is afgehandel in ons lewens. Tensy jy 'n openbaring van Vader God af ontvang het waar Hy vir jou die opdrag gee om te wag vir ‘n tyd, is dit wat Vader God belowe het klaar vervul deur Jesus se afgehandelde werk. Die glorie van God wat vir JOU wêreld bedoel was, wag nie vir God nie, dit wag vir jou. Hoe kan ons dan sien hoe dit realiseer in ons lewens?
Genade word geaktiveer deur geloof in God se liefde vir jou. Liefde vir 'n persoon verg 'n verhouding. Om werklik lief te wees vir iemand moet jy in 'n verhouding wees met daardie persoon. 'n Verhouding met God ontwikkel net op een manier in ons lewens. Die goeie nuus is dat dit ‘n gawe is wat ook onvoorwaardelik gegee word sonder dat ons dit hoef te verdien.
Die uitstorting van die Heilige Gees is die gawe wat Vader God vir ons gee sodat 'n verhouding met Hom moontlik word. Ons vlees kyk gereeld in die realiteit van hierdie wêreld vas waar ons nie fisies die Here kan sien of hoor of beleef nie. Die Heilige Gees maak egter vir ons die deur oop sodat ons Vader God se stem kan hoor en sy werke in ons lewens kan sien.
Lees:
Mediteer:
- Is jy nog besig om vir God te wag sodat sy seën en beloftes oor jou lewe bewaarheid kan word?
- Wag jy vir iets omdat daar 'n oomblik was waar jy beleef het dat die Here het gesê jy moet vir ‘n seisoen wag?
- Wanneer God sê om te wag, beteken dit nie dat ons niks moet doen nie. Hy is heeltyd besig met werk in ons lewens en al is die opdrag om te wag vir ‘n seisoen vir die waarmaking van een belofte, wil God nog steeds met jou praat en jou lei met dit waarmee Hy nou besig is.
Bid:
Vader God, dankie dat U vir my so baie gawes deur genade kom gee het! Alles wat ek nie verdien nie, het U gegee en dit wat ek verdien, gee U nie. Ek prys U vir u liefde vir mense soos ek wat redding nodig het. Vader, help my om die Heilige Gees in my lewe te erken en deur sy betrokkenheid in liefde met U te groei. Dankie Jesus dat U vir my versoening met Vader God kom gee het deur genade. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Vader God is van die begin van my lewe besig om my hart na te jaag met sy liefde. Sy liefde vir my sal nooit eindig nie. Ek kan 'n diep en intieme verhouding met Hom beleef en ek kan vertrou dat Hy my nooit sal verlaat of in die steeksal laat nie.
Aanbidding:
Here Now (Madness) - Hillsong United
Dag 2: Die kern van Jesus se genadewerk
Jesus is die deur na 'n verhouding met die Vader, maar terwyl Hy ons deur genade met die Vader versoen het, stuur Hy vir ons die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die kern van genade in ons lewens. Dit is deur Hom wat ons alles wat vir ons deur genade gegee is kan ontvang en begin beleef.
‘n Paar weke gelede het ons gepraat oor liefde wat genade in ons lewens aktiveer. Voordat Jesus se bediening begin het, was daar eers 'n oomblik waar Vader God vir Hom gesê het dat Hy geliefd is. In daardie oomblik was daar 'n gebeurtenis wat die bevestiging van liefde voorgegaan het. Lukas 3:22 sê dat die Heilige Gees op Jesus neergedaal het nadat Hy gedoop is. Eers nadat die Heilige Gees oor Jesus gekom het, het Hy die woorde van erkenning en liefde van sy Vader gehoor.
Die Heilige Gees is die kanaal waardeur Vader God en Jesus met ons praat. Hy is die grootste geskenk wat ons deur genade ontvang het. Ons sien die krag wat in Jesus se lewe gebeur, want nadat Jesus gedoop is, is Hy in die woestyn ingelei. Terwyl Jesus vir 40 dae in die woestyn gevas het, kom die duiwel om Jesus te versoek. Die Heilige Gees het vir Jesus die sensitiwiteit gegee om elke aanslag van die duiwel te verdedig deur middel van die woord van God.
Die Heilige Gees se uitstorting oor ons lewens is 'n bevestiging van Vader God se liefde vir ons lewens. Daarom werk die genade van God optimaal in die atmosfeer van die Heilige Gees. Hy is die Persoon wat verandering in ons lewens veroorsaak. Hy lei ons vanaf die plek van genade tot by geregtigheid.
Die Heilige Gees, is die krag van God wat in ons begin werk. Deur Hom word genesing in ons lewens geaktiveer. Deur die Heilige Gees kom bevryding. Jesus is gestuur om die gebrokenes te genees en die gevangenes vry te maak en Hy kon dit net doen nadat die Heilige Gees oor Hom gekom het. Selfs die opstanding van Jesus het gekom deur die krag van die Heilige Gees en daardie selfde Heilige Gees leef nou in ons. Omdat Jesus geweet het dat die Heilige Gees vir ons gestuur gaan word, kon Hy vir ons sê dat ons groter dinge as Hy sal doen. Nie uit ons krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees.
Lees:
Mediteer:
- Hoe weet jy dat jy die Heilige Gees ontvang het?
- Jesus dui vir ons een roete aan na wedergeboorte, naamlik bekering, doping en vervulling deur die Heilige Gees. Hy gee dit ook altyd in daardie orde. As jy gedoop is, kan jy met vrymoedigheid glo dat jy die Heilige Gees ontvang het.
- As jy nie gedoop is nie, beteken dit nie dat jy nie die Heilige Gees kan ontvang nie. Aangesien die doop egter die eerste stap van gehoorsaamheid in 'n verhouding met Jesus is, sal die Heilige Gees jou ook daarheen lei.
Bid:
Vader God, dankie dat U vir my die bevestiging van u liefde stuur in die persoon van die Heilige Gees. Heilige Gees, ek wil in 'n verhouding met U lewe. Dankie dat U deel raak van my lewe. Lei my in die wil van Vader God en kom openbaar sy woord aan my. U bring orde in my lewe. Help my om U meer in my lewe te erken en raak te sien. Ek loof en prys U, Here! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur die Heilige Gees kan ons groter dinge doen as wat Jesus gedoen het, wat alles eer sal betuig aan God wat vir ons die Heilige Gees gestuur het!
Aanbidding:
Make Us One - Catch The Fire Music (feat. Naomi Raine)
Dag 3: Die seël van ons redding
Die Heilige Gees bring krag in ons lewens in. Hy aktiveer ook die gawes wat God vir ons deur genade gegee het. Die Heilige Gees word verskeie name genoem, maar een van die wonderlikste name in terme van die betekenis daaragter, is “die Seël”. Hy is die Seël van ons redding en die Seël van God se beloftes oor ons lewens. Met Hom in ons lewens kan ons sekerheid hê oor ons redding, asook sekerheid dat die beloftes wat die Here vir ons gegee het in ons lewens sal waar word.
Omdat Hy ons lewens verseël, kan ons lewens begin om van Jesus te getuig. Sonder die Heilige Gees is dit onmoontlik om vir Jesus, Here te noem. Nie omdat dit onmoontlik is om die woorde te sê nie, maar omdat dit onmoontlik is om met ons lewens te wys dat Jesus ons Here is. Slegs indien die Heilige Gees in ons lewens is, sal die getuienis oor Jesus deur ons lewens aan die wêreld bekend gemaak word.
Die getuienis oor Jesus word verder aangedui deur die geestelike gawes wat ons ontvang wanneer ons deur die Heilige Gees bemagtig word. Daardie gawes moet gebruik word vir die bediening van ander mense. Geen geestelike gawe word gegee om sonder liefde gebruik te word nie en Jesus se liefde stel ander mense altyd eerste. Wanneer ons ons geestelike gawes gebruik, word Jesus erken as ons Koning en Here wat gekom het om redding te bring aan almal wat gebroke en gevange is.
Lees:
Mediteer:
- Ervaar jy dat jy geestelike gawes ontvang het?
- Indien nie, vra vir die Heilige Gees dat Hy vir jou sal wys watter spesifieke gawes Vader God vir jou gegee het, en dat Hy dit sal aktiveer.
- Indien ja, is jy besig om daardie geestelike gawes te gebruik?
- Alle gawes word gegee vir die bediening van ander mense en vir die bevordering van God se koninkryk.
Bid:
Vader God, ek loof en prys U! U het vir my die seël van u beloftes kom gee. Ek het die waarborg van U beloftes ook deur die Heilige Gees ontvang. Heilige Gees, kom aktiveer die gawes wat Vader God vir my gegee het. Here Jesus, wys my hoe om dit te gebruik om ander mense se lewens te verander en om hulle in liefde te bedien. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees is die waarborg van al God se beloftes in my lewe! Ek is 'n erfgenaam van God se beloftes saam met Jesus!
Aanbidding:
Rest On Us - Maverick City Music
Dag 4: Die dienskneg en die bruid
Verandering kan in ons lewens plaasvind wanneer ons die Heilige Gees ontvang. Jesus se karakter en glorie begin meer en meer om deur ons te skyn. Dit word genoem die vrug van die gees in ons lewens. Die Heilige Gees se primêre werk is om ons, die bruid, vir die Seun van God voor te berei.
Ons sien 'n profesie hiervan in die Ou Testament in die verhaal van Rebecca se uitverkiesing as Isak se vrou. In Genesis 24 lees ons dat Abraham sy hoofdienskneg vra om 'n vrou vir sy seun Isak te gaan kies uit Abraham se mense wat woon in die land waaruit hy gekom het. Die dienskneg het met tien kamele, volgelaai met kosbare besittings, vertrek na die land waarheen Abraham hom gestuur het.
Daar het die dienskneg vir die Here gebid en hulp gevra om dit vir hom duidelik te maak watter vrou vir Isak bestem is. Hy het die Here die volgende gevra: Wanneer hy by die put aan 'n vrou vra vir water en sy dan aanbied om ook vir sy kamele water te gee, dit die teken sal wees dat die Here daardie vrou vir Isak uitgekies het. Terwyl die dienskneg nog besig was om te praat, het Rebecca by die put aangekom. Die dienskneg het vir haar water gevra en het sy het ingestem en ook aangebied om ook vir al sy kamele water te gee. Hierop het die dienskneg vir haar die kosbare besittings gegee wat hy saamgebring het en haar daarmee gemerk as die vrou wat vir Isak bestem is.
Vader God (Abraham) stuur die Heilige Gees (die dienskneg) om deel te word van ons lewens en ons voor te berei as die bruid vir sy Seun, Jesus Christus (Isak). Dienswerk is die teken van diegene wat geken word as die bruid van Jesus. Rebecca het vir die dienskneg water gegee en genoeg water vir al sy kamele gaan skep totdat hulle genoeg gedrink het. Dienswerk is die teken dat die Heilige Gees in ons lewens geestelike gawes ontwikkel en ons bemagtig om dit te gebruik.
Rebecca het aanvanklik vir die dienskneg soos 'n diensmeisie gelyk. Hy neem haar saam met hom terug na Abraham en Isak. Die oomblik toe Isak vir Rebecca sien aankom, het hy geweet dit is sy, want sy het vir hom soos ‘n bruid gelyk. So verander die Heilige Gees ook ons lewens om soos die bruid van Jesus. te lyk. Ons word met eer en heerlikheid gekroon en ons begin om die glorie van Jesus uit te straal. Alles wat God vir ons bestem het, wat veel meer is as ons grootste drome, begin dan in ons lewens werklikheid te word.
Lees:
Mediteer:
- Watter geestelike gawes beleef jy wat deur die Here in jou lewe deur die Heilige Gees belê is?
- Op watter vlak is jy met dienswerk besig?
Bid:
Vader God, dankie dat U my nooit los om te bly waar ek is nie - dat u hart vir my is dat ek die volheid van u liefde sal leer ken en daardeur ook die volheid van u glorie en teenwoordigheid in my lewe kan beleef. Dankie dat U belowe het dat U my nooit sal verlaat of in die steek laat nie. Heilige Gees, wys my wat U in my lewe wil verander en help my om die hoop te sien van die lewe wat ek in 'n verhouding met God sal kan geniet. Ek loof en prys U, Here! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees berei ons perfek voor vir Jesus. Ons word verander om dit te word wat ons bestem is om te wees!
Aanbidding:
Holy Spirit - Kari Jobe (feat. Cody Carnes)
Dag 5: Gelowiges met die Heilige Gees
Jesus het vir ons lewe in oorvloed belowe. Dit is 'n waarheid wat in ons lewens kan realiseer. Hy het alles klaar gegee vir ons om só te leef. Ons ontvang dit wanneer ons genade ontvang, en ons ontvang die Heilige Gees wat dit alles kan aktiveer. Wanneer hierdie beloftes nie realiseer nie, is dit 'n uitnodiging aan ons om meer in 'n verhouding met die Heilige Gees te wandel. As jy die Heilige Gees ontvang het, is daar kenmerke wat jy in jou groeiende verhouding met Hom kan begin raaksien,
- Met die Heilige Gees in jou lewe kan jy begin om orde te bring in die chaos in jou en ander mense se lewens! Dit beteken nie dat daar nie chaos sal wees nie, maar dat jy kan glo dat die Heilige Gees vir jou wysheid sal gee om orde daarin te bring.
- Met die Heilige Gees in jou lewe het jy die krag ontvang om genesing en bevryding te bedien! Dieselfde Gees wat Jesus uit die dood uit opgewek het, leef nou in jou en kan genesing- en bevrydingswerk deur jou lewe kom doen.
- Met die Heilige Gees in jou lewe kan jy jou ware doel op aarde met blydskap vervul! Hy bemagtig jou om met jou gawes te funksioneer en dit doeltreffend te gebruik tot eer van die Here, om God se wil vir jou lewe te kan voltooi.
- Met die Heilige Gees in jou lewe kan jy leiding neem in jou invloedsfeer! Hy gee vir jou vrymoedigheid, asook die wysheid om leiding te kan gee in omstandighede waar leiding nodig is.
Die Heilige Gees maak Vader God se liefde vir ons op 'n nuwe manier bekend. Ons ontvang Vader God se eie Gees om binne-in ons te kom woon. Ons begin dan lewendig word wanneer ons die volheid van God kan begin beleef en sy konstante liefde en goedheid vir ons lewens begin raaksien. Die moontlikhede is oneindig met ons Here aan ons kant en met sy teenwoordigheid die heeltyd met ons!
Lees:
Mediteer:
- Dink aan oomblike waar die Heilige Gees vir jou gelei het, waar jy bonatuurlike wysheid en insig beleef het.
- Wat kan jy vandag doen om meer in 'n verhouding met die Heilige Gees te groei?
- Van watter belofte van die Here wil jy graag meer beleef?
Bid:
Vader God, dankie dat U op so 'n intieme vlak deel kom raak het van my lewe deur u eie Gees te stuur om in my te woon. Heilige Gees, ek wil U beter leer ken. Wys vir my u karakter en help my om die werk waarmee U besig is raak te sien en daarby aan te sluit. Ontwikkel in my die vrug wat getuig van u teenwoordigheid in my lewe. Dankie dat U my hoor. Ek loof en prys U, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan lewe in oorvloed en ten volle beleef met die Heilige Gees wat in my woon!
Aanbidding: