Go Deep 17 April 2022

 

 resurrection 5019777 1920

Die deur is wawyd oop

Eugene du Randt

 

Dag 1: Voor die kruisiging

Jesus het opgestaan! Die graf is oop en daar het soveel dinge in die Gees saam met dit gebeur. Dikwels besef ons nie die volle omvang van dit wat gebeur het nie. Ons onthou die prentjies van die kinderbybel. Wanneer jy na die fliek “The Passion of the Christ” kyk, dan sien jy iets van dit waardeur Jesus is, maar dit beeld nog nie heeltemal so akkuraat uit wat presies gebeur het en hoe dit gelyk het nie - hoe Hy gelyk het nie. Wanneer ons kyk na (of lees oor) die marteling vóórdat Jesus gekruisig is, dan sien ons dat Jesus die hoogste graad van marteling beleef het. Hy was onherkenbaar gemartel. Dit wat Hy moes verdra was onmenslik.

Stukke van Jesus se vel is uitgeruk terwyl Hy gegesel is. Hy is tot in die grond in verneder, vervloek, bespot en verkleineer. Mense het op Hom gespoeg. ’n Mens kon hom nie herken nie, nie eers as ’n mens nie.

Jesus het elke vorm van lyding tot in die ergste mate deurgegaan, om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ek en jy in hierdie leeftyd deurmaak. Miskien sukkel jy fisies – Hy het empatie, want Hy was daar. Miskien sukkel jy geestelik of met verbale vernedering – Hy het dit deurgemaak. Sy leiding het voorsiening gemaak vir hierdie seer wat jy het. Gaan jy deur verwerping? Jesus is deur almal verwerp, sodat Hy voorsiening kon maak vir my en jou wat deur verwerping gaan. Voel jy alleen? Jesus was alleen daar in die tuin van Getsémané en daar aan die kruis toe Hy gevra het, “My God, waarom het U my verlaat?”

Jesus het voorsiening gemaak vir elke denkbare vorm van uitdaging en graad van uitdaging wat ons kán beleef. Hy het gedink aan jou en aan my. Hy het tot die dood toe sy eie lewe nie liefgehad nie. Hy het voorsiening gemaak. Hy het seker gemaak dat ons binne-in ons storms en omstandighede van hierdie lewe ’n oop deur kan hê na sy Hemelse realiteite. Dit is wat Hy vir ons gedoen het!

Lees:

Ps. 22:15-19

Jes. 53:2-4

Mediteer:

  • Dit wat ons hierdie naweek vier, is baie meer as net ’n langnaweek. Dit is nie iets wat ons net een keer ’n jaar kan onthou nie. Leef ons elke dag van ons lewe die waarheid van die kruiswerk?
  • Te midde my moeilike omstandighede voel ek dikwels alleen en of dit net ek is wat werklik weet hoe erg dit is. Verstaan ek werklik waardeur Jesus is en hoe erg dit was?
  • As Jesus voorsiening gemaak het deur sy lyding vir elke moeilike omstandigheid wat ek in hierdie lewe kan beleef, wat beteken dit vir my in hierdie oomblik/oomblikke?

Bid:

Jesus, ek kan nie anders as om dankbaar te wees vir dit wat U deurgegaan het nie. Ek verstaan nie die volle omvang hiervan nie, maar ek besef dat die marteling voor u kruisiging so erg was dat dit voorsiening gemaak het vir my omstandighede en dit waarmee ek worstel. Dankie Jesus, dat U bereid was om Uself neer te lê vir my. Dankie, dat U Uself nie te hoog geag het nie, maar my so lief gehad het om te volhard in hierdie onmenslike taak. U is waarlik Waardig en Heilig vir Ewig en Altyd!

Bonus: Spreek Lewe!

Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem en ons smarte – dit het Hy gedra!

Aanbidding:

Thank You Jesus for the Blood – Charity Gayle

  pexels pixabay 247851 1

Dag 2: Tydens die kruis

Besef jy die grootheid van dit wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het?

Die intensiteit van die feit dat Jesus se hande en voete aan die kruis vasgeslaan was met lang 9-duim spykers waaruit die bloed gesypel het? Die worsteling om asem te haal terwyl sy boonste helfte van sy onderste helfte af wegskeur. Hoe Hy Hom moes probeer optrek en stoot aan dieselfde hande en voete wat vas was, net om asem te kon skep. Dit na ál die marteling en bloedverlies. Daar aan die kruis hang die Seun van die mens, honger, dors, uitgeput, alleen en angstig, onherkenbaar.

Jesus het Homself VRYWILLIG vir ons gegee. Hy het geweet dat Hy hierdie pyn en smart moes deurgaan. Hy het wel gevra of hierdie beker van Hom af weggeneem kon word, maar nogtans het Hy “Ja” gesê vir hierdie taak. Jesus het ingestem omdat Hy lief is vir jou en vir my. Sy hart is rein. Sy hart is heilig. Hy wil ons by Hom hê, in 'n verhouding met Hom en met God.

Jesus seën ook nie net die “heiliges” nie. Hy het aan die kruis geweet hoe om steeds ’n seën uit te spreek oor die ongeregtiges. Dit is juis vir die sondaars wat Hy gekom het.

Jesus het nie sy oog net op sekere mense gehad nie. Hy het my en jou in gedagte gehad. Nie net sekere “regte” mense nie. Ons elkeen is sondig, Hy het die sondaars in gedagte gehad.

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Enigste Seun gegee het...

Die deur wat hierdie gebeurtenis vir jou en my oopmaak, is hierdie finale feit dat die Lam geslag is vir ons sonde. Die prys is betaal! Ons is vrygestel! Ons is vry!

Lees:

Fil. 2:6-8

Joh. 3:16

Mediteer:

  • Vermorsel hang Hy aan die kruis vir diegene wat Hom daar hang. Hy spoeg die suur medisyne uit wat met ’n sponstakkie aan Hom voorgehou word, wat die pyn kan verdoof. Wat beteken dit vir my?
  • Hoe lyk Jesus se hart en gedagtes oor my, as Hy ingestem het om iets te doen wat Hy geweet onmenslik is?
  • Waar plaas hierdie dade van Jesus my?

Bid:

Here, dankie vir elke druppel bloed wat gevloei het sodat ek gesond kan wees, heel kan wees en skoon kan wees, al is ek nie perfek nie. Dankie, dat ek perfek kan wees in U Jesus, deur wat U vir my aan die kruis bewerk het. Dankie, dat ek vry is, omdat U al my skuld gedra het. Dankie, dat U aan my gedink het. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Aanbidding:

Forgiven - Crowder

 alicia quan kBybHJ3CEWI unsplash

Dag 3: Ná die kruis

Totale vergifnis is vir my aan die kruis bewerk. Dit wil sê dat daar niks is wat ek al gedoen het, of nog kan doen, waarvoor die bloed van Jesus nie genoeg is nie.

Nadat Jesus sê, “Dit is volbring”, blaas Hy sy laaste asem uit en Hy gee sy Gees aan God oor.

Die aarde sidder, rotse skeur en grafte gaan oop. Die voorhangsel in die tempel skeur van bo na onder. Hierdie voorhangsel was daar om die Allerheiligste (God se woonplek) van die heilige te skei. Hierdie skeiding was nodig, want net die heilige hoëpriester is toegelaat om eenkeer ’n jaar daar in te gaan, om versoening vir die hele volk se sondes te bring. Die hoëpriester het dan ’n tou aan sy middel vasgebind, want as daar sonde in sy lewe was, het hy dood neergeslaan in die teenwoordigheid van God. Dan moes die ander hom aan die tou uitsleep.

Wanneer God hierdie voorhangsel van die tempel skeur, is dit vir ons ’n duidelike bevestiging dat Jesus vir ons die skeidingsmuur tussen ons en God weggeneem het. Sy bloed was voldoende om vir ons sonde te betaal en die inperkinge te verwyder, sodat ons nou met vrymoedigheid na God, die Allerheiligste, kan gaan, deur die bloed van die Lam. Jesus is ’n oop deur na ons Vader. Die deur is wawyd oop en ons hoef nooit weer vêr verwyderd te wees van God af nie.

Jesus is die enigste pad. Daar is nie nog ’n ander pad of ’n ander middelaar nie. Hy is die enigste Een. Hy is die Weg, Hy is die Waarheid, Hy is die Lewe!

Lees:

Mat. 27:51

Mat. 28

Ef. 2:13

Mediteer:

  • Die voorhangsel was gedurig ’n herinnering dat sonde die mens van God skei. Die voorhangsel skeur van bo tot onder. Dit beteken dat geen natuurlike ramp of menslike hand dit kon bewerk het nie. Dit is God Self wat sê daar is nou ’n nuwe weg na My toe. Dit wil sê, van bo tot onder, van dak tot grond, van hemel tot aarde is daar nou geen skeiding meer tussen God en die mens nie. Sy eie hand het dit oopgeskeur.
  • Dit was deur middel van die bloed van die Lam wat die voorhangsel geskeur het. Die bloed van die Lam het die weg na die hemel oopgemaak!
  • Enigeen kan nou inkyk en ook inloop in die heerlikheid van die Allerhoogste in!
  • Wat beteken hierdie feite vir jou?

Bid:

Jesus, dankie vir u volharding op aarde om Uself nederig te maak. U wat die Hemelse Koning is, het mens geword. As mens het U die ergste deurgemaak. U het getrou gebly aan hierdie taak waarvoor U gekom het, sodat ek ’n oop verhouding met God die Vader kan hê. Daarom kan ek nou met vrymoedigheid na die troonkamer toe kom en self met God praat. Dankie, vir hierdie deur wat U wawyd oopgemaak het. Ek begryp nie heeltemal die volle impak van u werke nie, maar ek weet dit is ongelooflik. U is die Koning van my hart. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

GOD IS WITH US!

Aanbidding:

Out of Hiding – Steffany Gretzinger & Amanda Cook

pisit heng ci1F55HaVWQ unsplash 1

 Dag 4: ’n Leë graf

Niks en niemand kon God se plan verander nie. Die graf is leeg!

Wanneer kinders ’n geskenk ontvang, kan hulle nie stilbly daaroor nie. Dit is hoe ons moet wees oor hierdie goeie nuus. Ons vier nie net die leë kruis nie, maar ook die leë graf! Dit is juis hier waar die deurbraak en die oorwinning behaal is. Dood, waar is jou angel nou? Jesus het nie net vir ons gesterf nie, maar Hy het opgestaan. Hy leef! God staan nie arms gevou nie - Hy staan soos die verlore seun se pa met oop arms en wag vir diegene wat daarin wil hardloop. Hy het elke mens in gedagte gehad van die begin af.

Deur sy opstanding, bewys Jesus dat daar geen houvas op Hom is nie, geen mens, geen sonde, geen siekte of dood kon Hom keer nie. The enemy is de-feated and de-armed! Jesus het voorsiening gemaak sodat ons nie meer die dood hoef te vrees of te ervaar nie, want as ons fisies doodgaan, lewe ons siel en gees vir ewig saam met Hom in ’n Hemelse plek! Die dood het nou geen houvas meer oor ons nie.

The death certificate of Christ, gave me a new birth certificate.

Lees:

Ef. 2:13

Jes. 53:2-4

Mediteer:

  • As Jesus se opstanding ’n oop deur vir my vir ’n nuwe lewe is, wat beperk my tans?
  • As God deur Christus met oop arms op my wag, wat keer my om in sy arms in te hardloop?
  • Waarvoor vertrou ek die Here? Neem nagmaal hiervoor.

Bid:

Jesus, U leef waarlik. U is die Koning, vir ewig en altyd. Amen!

U lewe getuig van u Heerlikheid, U is Heilig. U is waardig. U is die Leeu, U is die Lam. Alles is aan U onderwerp. U het die dood oorwin, dood waar is jou angel nou? Jy het geen heerskappy meer nie. Here U is die Weg, U is die Waarheid, U is die Lewe. U is die Deur, U is die Lig. U gee vir my genesing, vryspraak en lewe! U gee vir my ’n nuwe lewe. U is my brood, my manna. Aan U al die eer tot in alle ewigheid. Amen!

Bonus: Spreek Lewe!

Because You live, I can face tomorrow!

Aanbidding:

Forever – Kari Jobe

sun 5640543 1920

Dag 5: Wawyd oop

Ek skuld niks nie – it is fully paid! Ons vier die bloed van Jesus en die groot krag daarvan. Deur Jesus se bloed is dit nie meer nodig vir die hoëpriester om vir my in te tree nie. Jesus is the Great High Priest! Dood het nie meer mag nie.

Die deur is nou wawyd oop en die tafel is gedek. Jesus het die sleutels van die ewige lewe en Hy gee vir my hierdie sleutels. Ek het sy Gees ontvang. Ek het sy genade ontvang.

  • Genade om gered te wees.
  • Genade om vergewe te wees.
  • Genade om vry te kom.
  • Genade om te leef in sy oorvloed!

Ek het die sleutels ontvang, die tafel is gedek, maar dit is nie al nie. Die tafel is ook gedek vir ander mense om my. Ek kan nou vir ander verlore manne en vroue in die gaping staan. Daar is meer as genoeg vir my en vir almal om my. Niemand is uitgesluit nie. Ek kan ander help om Jesus te ontvang en ook aan te sit by die tafel.

Ek kan lewe begin spreek oor hulle, oor my man/vrou, my kinders, my familie, my kerk, my gemeenskap. Selfs oor dié wat my haat. My tong het mag oor lewe en dood.

Die deur is wawyd oop vir my en vir almal om my!

Lees:

Heb. 4:16

Ef. 2:13

Joh.10:10

Mediteer:

  • Hy het die volle prys betaal. Sy liggaam is verwond om my heel te maak. Sy bloed het gevloei om my skoon te was en te reinig van alle ongeregtigheid. Leef ek dit?
  • As God vir Elia in ’n tyd van hongersnood en droogte kon vleis en brood stuur deur kraaie, is daar probleme en uitdagings in my lewe wat Hy nie kan hanteer nie?
  • Wat beteken ’n oop deur vir my?
  • Wat maak ek met hierdie oop deur?

Bid:

Jesus, daar is soveel krag in u bloed! Dankie, dat u bloed my kragtig red en ook genoeg is om almal om my te red. Dankie, dat U alles gedoen het en dat die deur nou wawyd oop is vir my. Dankie, dat ek nou die ewige lewe het. Meer as dit, dankie dat die deur ook oop is vir ander mense om gered te word deur my getuienis. Dankie, dat U my 'n instrument gemaak het om in u oorvloed te leef en om ander mense na u tafel toe te bring. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Grace isn’t a destination, it is an open door!

Aanbidding:

Come to the Table – Sidewalk Prophets

The Table – Chris Tomlin