
Om met Jesus se wonderlike dade op aarde voort te gaan
Neville Goodchild
Dag 1: Jesus, die hoeksteen
In die afgelope paar weke het Christene regoor die wêreld Jesus se dood en opstanding gevier. In ons dienste het ons die tyd voor en gedurende Jesus se arrestasie, sy gevolglike dood en die opstanding gevier. Ons erken wat Jesus vir ons gedoen het en dit is 'n wonderlike ding om te vier. Ons moet egter besef dat ons nie net 'n eenmalige gebeurtenis vier nie, maar ook die gevolge van daardie gebeurtenis in ons lewens. Ons vier 'n werk wat in ons gedoen is, deur die gebeure in Jesus se lewe. Ons behoort meer vrymoedig te wees en te gesels oor die implikasies wat hierdie gebeure in ons lewens het.
Ons lees vandag 1 Petrus 2:7, waar Jesus die hoeksteen genoem word. 'n Hoeksteen is 'n perfekte blok, met loodregte hoeke en sye wat uit klip gesny word om as die vertrekpunt vir die bouwerk van 'n gebou te dien. Die fondasies en mure wat gebou word, word met die hoeksteen belyn om te verseker dat dit alles reguit en sterk gebou word.
Jesus word reeds in die Ou Testament na verwys as die Hoeksteen en daar is ook sulke verwysings in Mattheus, Markus, Lukas en Handelinge. Dit is duidelik 'n baie belangrike konsep. Gaan lees gerus hierdie gedeeltes waar dit ook genoem word.
Die hoeksteen word egter 'n struikelblok vir diegene wat Hom nie in die fondasies van hulle lewe ingebou het nie. Vir gelowiges is Hy die vertrekpunt en ons meet alles wat ons doen om seker te maak dat dit in lyn is met die hoeksteen. Dit is interessant dat die hoeksteen gewoonlik die naam dra van die argitek, sowel as 'n datum. Net so het ons ook 'n datum waarop ons tot bekering gekom het, 'n datum waarná ons ons lewens anders bou, met die Hoeksteen as rigtingaanwyser en met God as argitek van ons lewens.
Lees:
Mediteer:
-
Hoe lyk die lewe wat ek tot dusvêr gebou het? Is Jesus die hoeksteen daarvan? Belyn ek alles wat ek in my lewe ‘bou’ met Jesus as riglyn?
Bid:
Here, help my om Jesus as die hoeksteen van my lewe in te rig. Help my om alles wat ek in my lewe bou, met Jesus te belyn.
Bonus: Spreek Lewe!
Christus is die hoeksteen van my lewe. Ek bou alles in my lewe gemeet aan Hom.
Aanbidding:
Cornerstone - Amanda Lindsey Cook | Bethel Music

Dag 2: Christus se liggaam
Vandag kyk ons 'n bietjie verder na hoe ons lewens 'n getuienis kan wees van wat Christus vir ons tydens die Paasgebeure gedoen het.
In ons moderne wêreld voer baie Christene ongelukkig 'n dubbellewe. Die mens wat ons by die kerkgebou op Sondae is, lyk baie anders as die mens wat ons by ons huise is. As ons ons lewens lei sonder Jesus as ons hoeksteen, verval ons dikwels in 'n godsdienstigheid om op te vergoed vir die leemte in ons lewens. Dit help nie dat ons kerke met mooi loodglasvensters versier is en met die duurste materiale gebou is, maar die krag van God ontbreek in ons daaglikse lewe nie. Dit help nie veel om met 'n skoongewaste kar en die allerbeste klere aan op Sondae by die kerk op te daag as ons binneste nie skoongewas is nie. As daar op Sondae sekere reëls en atmosfeer geld, maar Maandae en die res van die week is die reëls en atmosfeer in ons huise iets heel anders, dan loop ons die betekenis van ware Christenskap iewers mis.
Kom ons stel dit baie eenvoudig. Die Seun van God, die Christus, is as die seun van Maria gebore, naamlik Jesus. Jesus, die Vlees, vaar ná sy opstanding op na die hemel, maar die Gees bly by ons. In die Bybel word die kerk die eerste keer die Liggaam van Jesus genoem op die dag nadat Jesus opgevaar het na die Hemel. Christus is nog steeds met ons. Hy bly binne in ons. Ons het saam met die Heilige Gees die gesag ontvang om te doen wat Jesus self gedoen het, omdat die Heilige Gees nou in ons woon. Ons word hierdeur bemagtig om die werke van Christus voort te sit op aarde.
Wanneer hierdie betekenis van Jesus se kruistog, sy dood en sy opstanding 'n werklikheid in ons eie lewens word, sal ons lewens nie lyk soos dié van dualistiese Christene nie. Ons sal dan 'n geesvervulde lewe lei en die krag van God in ons daaglikse lewe begin ervaar. Ons sal dit nie kan verhelp om te getuig van wat God vir ons in ons lewens doen nie.
Niks in ons lewens is buite God se speelveld nie. Hy staan gereed om te werk in elke situasie en in elke seisoen van ons lewens. Hy is nie net 'n Sondag-by-die-kerk-God nie. Hy wil betrokke wees in elke aspek van ons lewens, elke dag.
Sy radikale intrede word egter gedeeltelik bepaal deur ons doelbewuste optredes en hoe ons kies om te lewe. Ons moet deelneem en kan nie net toeskouers wees nie. Petrus gee vir ons in 'n paar kort verse 'n strategie om dit 'n werklikheid te maak in ons daaglikse lewens, sodat ons lewens 'n getuienis kan wees. In die volgende drie dagstukkies gaan ons kyk na hierdie geestelike strategie wat Petrus vir ons gee om 'n lewe in Christus prakties te kan uitleef.
Lees:
Mediteer:
-
Waar is my fokus? Sien ek God se hand in my lewe? Sit my lewe Jesus se werke op aarde voort?
Bid:
Here, help my om nie 'n dooie godsdiens te beoefen nie. Help my om 'n lewende voorbeeld te wees van u werke op aarde. Help my om my verhouding met U te verdiep en 'n geesvervulde lewe te lei.
Bonus: Spreek Lewe!
God wil betrokke wees in elke deel van my lewe. Hy staan reg vir radikale intrede.
Aanbidding:

Dag 3: Sit Jesus se heilige werke voort
Vandag kyk ons weer na 1 Petrus 2:9. Die hele wêreld gaan weet van Jesus en wat Hy kom doen het, maar nie almal gaan dit glo nie. Gelowiges en ongelowiges se lewens gaan verskillend lyk. Diegene wat gelowig is, gaan uitgeken word daaraan dat hulle God se karakter uitleef. 'n Uitverkore geslag. Heilig. Om dit beter te verstaan, kyk ons ook vandag en more na 'n Engelse vertaling van dieselfde vers wat die oorspronklike teks effens vollediger vertaal. Vandag fokus ons op hierdie gedeelte: That you may set forth the wonderfull deeds...
Die oomblik wanneer ons fokus verskuif na ons verhouding met God en ons van sy werke in ons lewe kan getuig, het ons nie meer ‘n begeerte om mekaar te beoordeel nie. Ons vergeet dan van mense se maskers en ons eie tekortkominge. As ons 'n getuienis lewer van wat God in ons lewens doen, weet ons dat ons besig is om deel te neem aan God se werk. Ons sit dan sy werke op aarde voort.
In kontras met die vyand wat altyd probeer slag, steel en verwoes, is God altyd besig met genesing, voorsiening en versoening. Ons neem deel aan God se werke en sit dit voort deur te bid vir hierdie dinge in ons lewens. Verklaar hierdie drie dinge oor jou lewe, herinner God aan sy beloftes in jou lewe en gebruik die nagmaal gereeld in jou huis.
Tydens Jesus se lewe op aarde het sy omgewing en omstandighede nooit sy dade beïnvloed nie, maar sy dade het altyd sy omgewing verander. Dit is die teenoorgestelde van godsdiens. As ons moet verander om by die atmosfeer van 'n godsdienstige omgewing in te pas, loop ons die gevaar van dualisme. Indien ons egter daar opdaag op grond van ons intieme verhouding met God en met 'n getuienis van God se werk in ons lewens, verander óns die atmosfeer en vergeet ons van die oppervlakkige dinge rondom ons.
Wanneer ons gebede vir genesing, voorsiening en versoening en God se beloftes oor ons lewe ons fokuspunt word, sal die kunsmatigheid van "godsdienstig te wees" soos mis voor die son verdwyn.
Lees:
Mediteer:
-
Waarvoor bid ek? Werk ek saam met God, in lyn met sy Woord en sy werke van genesing, voorsiening en versoening?
-
Wat is die beloftes wat ek van God ontvang het? Fokus ek daarop eerder as op my omstandighede en omgewing?
-
Kan ek sien hoe God in my lewe werk?
Bid:
Here, help my om my dade in lyn te bring met u werk in my lewe. Help my om op die regte dinge te fokus, sodat daar genesing, voorsiening en versoening in my lewe kan plaasvind. Here, help my dan ook om vrymoedig genoeg te wees om my getuienis oor wat U in my lewe doen met ander mense te deel.
Bonus: Spreek Lewe!
God se werke van genesing, voorsiening en versoening word daagliks voortgesit in my lewe.
Aanbidding:
Million Little Miracles | Elevation Worship & Maverick City

Dag 4: Verkondig Jesus se deugde
Vandag se opskrif maak dalk meer sin in die Engelse weergawe van die skrif wat lui: ...display the virtues and perfections of Him...
Die woord virtues beteken ook qualities. Sy eienskappe. Ons behoort met integriteit te wandel en 'n Goddelike karakter te vertoon. Deur dít te doen, verteenwoordig ons God se koninkryk op aarde. Dan dra ons die vrugte van die Gees.
Ons moet God se volmaaktheid op aarde uitleef deur absolute geloof in sy plan vir ons lewens te hê. Volmaaktheid in hierdie wêreld het te doen met prestasie. In die koningkryk van God is volmaaktheid die perfekte vrede van God. Wanneer ek in sy volkome plan glo, het ek 'n vrede in my wat die wêreld nie kan verstaan nie. Dit is die oortuiging dat alles sal uitwerk vir hulle wat in Hom glo. Dit wat ek nie regkry nie, behoort my nie te diskwalifiseer vir my perfekte plek in God nie. Dit is genade om, ten spyte van my tekortkominge, op die perfekte plek te kan wees, afgesien van hoe my omstandighede lyk.
Dit gaan oor God perfeksie in my gebroke wêreld en nie oor my perfeksie om te kwalifiseer nie. Jy is waardig van die begin af, want jy verteenwoordig sy perfeksie.
As deel van ons geestelike strategie moet ons ons situasies so aan te pak om in lyn te kom met God se wil en sy plan vir ons lewens. Ons huislike omstandighede lyk nie altyd so nie, maar ons moet verstaan dat ons die gesag het om dit so te hanteer ten einde God se wil in ons huise te vervul. Ons het die gesag om koninkryk-realiteite te bevestig op aarde.
Gelowiges glo in God se krag, goedheid en guns, maar ons beleef bittermin daarvan. Hoekom? Dit is 'n aanslag van die vyand om te verwoes. Ons ervaar lyding, verwerping, depressie, misbruik, armoede, siektes, hartseer en nog meer. Ons moet egter besef dat ons hierdie dinge beleef omdat ons die gesag weggee wat ons ontvang het. Dit is tyd om God se voornemens vir ons lewens te begin aankondig. Wat is sy wil vir ons, en wat is nie? Pak die dinge aan wat nie binne sy wil is nie.
God begeer om in jou huis te werk! Wees sy medewerker. Wonderwerke sal gebeur as gesinne begin saamstaan in geloof. Saam op God begin vertrou vir deurbrake, saam begin bid vir uitkoms, mekaar begin opbou met woord en gebed, en mekaar begin seën met God se Woord. Dan sal ons sien hoe God se deugde in ons lewens weerspieël.
Lees:
Mediteer:
-
Is my huislike omstandighede in lyn met God se wil vir my gesin? Indien nie, moet ek besef dat ek dit in lyn kan bring en God se gesag kan toepas deur die woorde wat ek spreek, reg te kies. Ek moet my verklarings en belydenisse belyn met die Woord.
Bid:
Here, help my om die woorde wat uit my mond kom te belyn met u wil vir my lewe. Help my om die vyand met gesag aan te pak en my gesag oor my huis op te neem en uit te oefen. Help my asseblief, om absolute geloof te hê in u plan vir my lewe en om sodoende u perfekte vrede te kan beleef.
Bonus: Spreek Lewe!
Alles werk uit vir diegene wat in Hom glo. Ek belyn my met God se wil.
Aanbidding:
Katy Nichole - "In Jesus Name (God of Possible)"

Dag 5: Leef in God se lig
Vandag kyk ons na die laaste sin in 1 Petrus 2:9: Him Who called you out of darkness into His marvelous light.
As jy nie net 'n Paasfees-toeskouer wil wees nie – lewe dan in God se lig! Hy het ons geroep om in sy wonderbaarlike lig te lewe. Om jou lig te laat skyn, is om hoopvol te wees. Duisternis is hopeloosheid. Loop weg uit die duisternis en loop die lig binne. Jou lig is nie deel van jou persoonlikheid nie, dit is deel van jou belewenis van God, van jou hoop in Hom. Lig kan nie skyn as jy hoploos is nie. Jy is 'n ambasadeur van God se koningkryk. Wanneer jy hoop ontvang van God en dit uitleef, leef jy as 'n getuienis van God se vingeafdrukin jou lewe. Dit getuig dat jy saam met Hom lewendig geword het. Wees hoopvol in 'n hopelose wêreld!
Wanneer die kerk dinge uitdink en dit heilig maak in stede daarvan om heilig te word, het ons nie 'n verbintenis met God nie. Ons moet die heilige koeie slag, heilige konneksies met kerkdinge beëindig en begin om te fokus op 'n heilige verbintenis met God. Begin daardie verbintenis met God wanneer jy in jou eie huis is. Leef dit uit in jou verhoudings met jou huismense, en dan brei jy dit uit na jou onderlinge verbintenisse by die kerkgebou en in jou gemeenskap. Wees versigtig vir 'n skyn van godsaligheid, want dit kom nie naby die wonderbaarlike lig van God nie.
Die geestelike klimaat in jou huis wys meer van jou verbintenis met God as wat jou kerk se klimaat dit kan aandui!
Kies 'n lewe van hoop. Hoop vir jouself, hoop vir jou geliefdes by die huis en hoop vir jou breër gemeenskap, jou land en selfs die wêreld. Wees die lig van die wêreld!
Lees:
Mediteer:
-
Hoe lyk die verskillende areas in my lewe? Is ek in al daardie areas hoopvol, of is daar gedeeltes waar ek hoop verloor het?
Bid:
Here, help my asseblief om ontslae te raak van alle hopeloosheid in my lewe. Help my om raak te sien en te weet watter dinge ek uit die duisternis na die lig moet inbring. Help my om die lig te laat skyn.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur die Heilige Gees is dit moontlik om my lig te laat skyn, ongeag van my omstandighede en omgewing.
Aanbidding:
I Speak Jesus | Here Be Lions Cover