Go Deep 10 April 2022

 go d

Wanneer sy evangelie my evangelie word

Neville Goodchild

 

Dag 1: Toeskouers en deelnemers

Jesus het 'n wonderwerk kom doen. Hy het mense kom ontmoet wat verlore was, wie se lewens geen rigting of toekoms gehad het nie en wat sonder hoop was. Aan dit wat dood was, het Jesus lewe kom gee. Mense wat werklik in kontak gekom het met Jesus, sy Persoon in diepte leer ken het en begin het om 'n verhouding met Hom te hê, se lewens was nooit weer dieselfde nie.

Voor Jesus se koms het niemand nog ooit Vader God gesien nie, maar Jesus het vir Vader God kom openbaar (Johannes 14:9). Jesus het hierdie waarheid aan Filippus openbaar en hom uitgenooi  om in Hom te glo. Hy het verder belowe dat diegene wat in Hom glo in staat sal wees om te kan doen wat Hy gedoen het en selfs nog groter werke sou kon verrig. Om hierdie opdrag te vat en dit te begin uitleef, moes die dissipels 'n skuif in hulle lewens maak.

Paulus onderskei in 1 Korinthiërs 9 tussen twee groepe mense. “You have all been to the stadium and seen the athletes race. Everyone runs; one wins. Run to win. All good athletes train hard. They do it for a gold medal that tarnishes and fades. You’re after one that’s gold eternally.” (Vers 24-25). Die een groep is die toeskouers wat kyk na hoe die atlete hardloop. Die ander groep neem deel aan die wedstryd. Jesus nooi ons uit om meer as slegs toeskouers te wees en deel te neem.

Die grootste vervulling wat ons in ons lewens kan beleef, is om saam met Jesus aan die koninkryk deel te neem. Hy wil in en deur ons werk om lig te bring aan hierdie wêreld. Hy noem ons die sout en die lig vir hierdie wêreld en versoek ons om nie ons southeid te verloor nie. Wanneer Hy deel van ons lewens word, begin ons deel word van Vader God se perfekte plan vir ons lewens en vir hierdie wêreld.

Lees:

Joh. 14:7-15 AMP

1 Kor. 9:24-27

Rom. 10:11-13

Mat. 16:25

Mediteer:

  • Leef jy as 'n toeskouer of as 'n deelnemer?
  • Jesus staan nooit gereed om jou te veroordeel nie, maar Hy nooi jou voortdurend uit om saam met Hom die ware geloofslewe te beleef waarin jy werklike vervulling sal ervaar. “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” Matthéüs 16:25.
  • Het jy Jesus al persoonlik in jou lewe ontmoet?
  • Om Jesus te ontmoet, bring lewe aan elke dooie aspek van jou lewe. Hy begin alles vul met sy lig!
  • Al sê Jesus dat dit nie altyd maklik sal wees om Hom te volg nie, belowe Hy dat ons ware lewe en vervulling sal vind in Hom. Hy belowe ook dat Hy ons nie sal verlaat of in die steek sal laat nie.
  • “Want die skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” Romeine 10:11. Geen persoon wat op Jesus vertrou, sal teleurgestel word nie.
  • As jy nog nie jou lewe aan Jesus oorgegee het nie en jy 'n oorgawe aan Hom wil maak en kies om Hom te volg, skakel asseblief die voltydse span op 051-4519999 om jou daarin te lei en saam met jou te bid.

Bid:

Jesus, U het vir die vergifnis van my sonde kom sterf. U het dit vir een rede gedoen: omdat U my liefhet.  U bring my terug na 'n verhouding met die Vader. U het nie net gesterf nie, maar U het ook uit die dood opgestaan, met oorwinning teen die duiwel en die dood. U gee ewige lewe. U gee ook nuwe lewe hier op aarde. Jesus, niks vergelyk met U nie! Ek prys en loof u Naam, want U is waardig om verheerlik te word! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is meer wat voorlê vir my lewe. Dit wat ek nou beleef, is nie al wat die Here voorberei het nie. Ek vind 'n lewe van ware vervulling in Hom!

Aanbidding:

Rule - Hillsong UNITED

 

Dag 2: Feesviering

Tydens die aanloop tot die  Paasfees het 'n besondere gebeurtenis een week voor Jesus se kruisiging plaasgevind. In Johannes 12 staan dat Jesus uitgenooi is na 'n maaltyd in Betánië. Matthéüs 26:6 maak ook hiervan melding en stel ons voor aan Simon, die melaatste, in wie se huis hulle bymekaar sou kom. Lasarus, Martha en Maria was ook by hierdie byeenkoms. Ongeag die verhouding tussen Simon en die drie familielede (Lasarus, Martha en Maria) sien ons dat hulle in hierdie huis gemaklik genoeg was om vrymoedig te doen wat hulle altyd gedoen het.

Hier vind iets plaas wat waarskynlik van meer betekenis as net 'n eenvoudige aandete was. Die mense wat hier vergader het, was besig om fees te vier. Lasarus het gesterf, maar Jesus het hom op 'n besondere manier uit die dood opgewek. Toe Jesus daar aankom, het Lasarus nie kort van tevore gesterf nie, maar hy was reeds vier dae lank in die graf. Die mense by die graf was besig om te rou, maar die Koning van lig en van lewe het opgedaag en 'n wonderwerk verrig. Hy het vir Lasarus uit die graf geroep en die mense het voor hulle oë gesien dat 'n man wat al vir vier dae lank ‘n lyk was, uit die graf gestap het.

Wanneer Jesus in ons lewens opdaag, is daar feesvieringe in die Hemel. Die tafel word gedek en ons word genooi, net soos Lasarus, om saam met Jesus as 'n kosbare en geliefde vriend te kom aansit om saam die hoop en vreugde te beleef wat gaan volg. Hy is lig en alle duisternis word verdryf waar Hy teenwoordig is. Lasarus was verseël in 'n graf wat geen lig ingelaat het nie. Jesus roep hom op uit die dood en kom skyn lig in sy lewe in.

Jesus is hier om by jou “grafte” op te daag en dit tot lewe te roep. Elke aspek van jou lewe en jou wêreld kan uit die dood opgewek word. Jy kan lewe in oorvloed in elke area begin beleef. Die dele waar jy net duisternis beleef, kan na die grootste bron van lig gebring en verander word om ook ‘n lig vir ander te word. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Geen dood en geen duisternis kan Hom weerstaan nie. Hy is verskriklik lief vir jou en Hy sal alles oorwin wat oorwinning in jou lewe nodig het. Dit is tyd om saam met Jesus fees te vier!

Lees:

Joh. 12:1-11

Mat. 6:26-27

Joh. 11:38-44

Mediteer:

  • In watter deel van jou lewe beleef jy 'n aspek wat net dood voel weens sonde, of omstandighede, of verhoudings, of enige iets wat jou belemmer om lewe in daardie area te ervaar?
  • Vra vir Jesus om te kom na daardie “grafte” toe. Hy is getrou en Hy sal kom lewe gee.
  • Sekere areas het genesing op ander gebiede nodig. Omdat jy nie onmiddellike oorwinning daaroor ervaar nie, beteken dit nie dat die Here nie besig is nie. Vra vir sy leiding sodat jy Hom kan ontmoet daar waar Hy nou besig is om te werk. Dit waarmee Hy nóú besig is, is altyd wat die  beste vir jou is.

Bid:

Jesus, U daag op en gee lewe! Dit is wie U is en U vind soveel vreugde daarin om te sien dat lewe terugkom na mense toe. Dankie dat U my so lief het dat U my van 'n geestelike dood gered het en vir my ewige lewe kom gee het! Jesus, kom in hierdie areas in waar ek nog nie lewe of lig beleef nie. Verwyder alles wat verwyder moet word en skep dit wat U in daardie areas wil skep. Vorm my om meer te word soos U! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus daag in my lewe op elke keer wanneer ek na Hom vra en Hy gee lewe en in oorvloed!

Aanbidding:

You Came (Lazarus) - Bethel Music

 

Dag 3: 'n Man se storie

“En 'n groot menigte uit die Jode het verneem dat Hy daar was, en het gekom, nie alleen ter wille van Jesus nie, maar ook om Lasarus te sien, wat Hy uit die dode opgewek het.” Johannes 12:9. Jesus se storie het mense laat begin beweeg. Die wêreld het begin kennis neem dat ‘n Man opgedaag het wat lewens verander het. Hierdie Man het gebrokens genees, Hy het gevangenes vrygelaat, Hy het wonderwerke gedoen en lewens getransformer. Lasarus het eerstehands beleef dat Jesus die Seun van God is. Hy het sy lewe verloor, maar deur Jesus het hy dit terug gekry.

Die werk wat Jesus gedoen het om vir Lasarus te red, was nie net Jesus se storie nie. Dit was ook Lasarus se storie. Elke persoon wat Jesus persoonlik ontmoet en kies om die deur oop te maak en vir Jesus te volg, se storie word deel van Jesus se storie. Ons lees dat mense na Jesus toe gekom het, maar hulle het nie net vir Jesus gekom nie. Hulle het ook gekom om vir Lasarus te sien wat uit die dood opgewek is. In Johannes 12 lees ons ook verder dat baie Jode begin glo het in Jesus as gevolg van hierdie wonderwerk.

Jesus kom doen wonderwerke in elke persoon se lewe wat in Hom begin glo en vertrou. Jesus se storie begin jou storie word wanneer jy Hom toelaat in jou lewe. Jou storie is bedoel om ‘n getuienis te raak vir mense om jou om vir hulle te wys wie Jesus is. ‘n Belangrike waarheid wat ons moet raaksien in Lasarus se storie, is dat hy nie 'n volgeling van Jesus was nie. Lasarus was ‘n kosbare vriend van Jesus. Hy was in 'n verhouing met Jesus. Ons storie begin met 'n verhouding met Jesus. Wanneer jy groei in jou verhouding met Jesus, begin Jesus se storie nie net jou storie word nie, Hy maak jou deel van sy storie.

Lees:

Joh. 12:9-11

Mediteer:

  • Het jy onlangs weer kontak gemaak met jou eie getuienis?
  • Geen getuienis is klein of kragteloos nie. Elke persoon se storie van redding het die potensiaal om baie ander mense se lewens te red.

Bid:

Here Jesus, U het deel geraak van my storie. Ek was eens iemand wat U nie geken het nie, maar nou ken ek U, die Koning van lewe en van lig! U red soos niemand anders kan nie. Ek vra dat U my leer hoe om te groei in my verhouding met U. Kom gee vir my 'n nuwe openbaring van wie U is. Dankie dat ek U vriend kan word! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek word uitgenooi en deel gemaak van die storie van Jesus en van Vader God. 'n Storie van verandering, van vreugde en van nuwe lewe!

Aanbidding:

Thank You Jesus for the Blood - Charity Gayle

 

 

Dag 4: God se storie

Die verhaal van Jesus en van sy betrokkenheid in ons lewens het reeds baie lank gelede begin. Vader God het geskep. Hy het alles wat bestaan deur sy Woord gevorm. Volgens Johannes 1 is Jesus die Woord van God en daar word van getuig dat alles wat geskape is, deur Hom ontstaan het. Jesus was deel van die skeppingwerk van Vader God en Hy was deel van hierdie verhaal. Hierdie verhaal het nie by die skepping begin nie. In Efésiërs 1 lees ons dat God ons reeds vóór die grondlegging van die aarde uitverkies het om aan Hom te behoort.

“Just as [in His love] He chose us in Christ [actually selected us for Himself as His own] before the foundation of the world, so that we would be holy [that is, consecrated, set apart for Him, purpose-driven] and blameless in His sight. In love He predestined and lovingly planned for us to be adopted to Himself as [His own] children through Jesus Christ, in accordance with the kind intention and good pleasure of His will.” Efésiërs 1:4-5 AMP

Vader God het jou lewe beplan. Hy het dit gedoen met liefde en vreugde en het jou toe reeds vir Hom uitverkies. Hierdie was wel sý verhaal, maar Hy wou jóú gehad het om deel daarvan te word. Trouens, die aarde waarop ons lewe en alles wat in die natuur bestaan, is geskape sodat Hy plek kon maak vir jou om in te woon, want Hy het vir jóú gesoek! Sy Seun, Jesus, het deel van hierdie verhaal geword. Hy het na ons wêreld toe gekom om vir jou te veg en uit liefde vir jou die prys te betaal.

Jesus het vir ons die baie goeie nuus kom gee. Jesus het dit moontlik kom maak vir ons om deel van Vader God se verhaal te word. Jesus bring vergifnis en verlossing van sonde. Hy transformeer lewens. Hy gee oorwinning teen verslawing, genesing van siektes en bevryding van geeste. Dit doen Hy alles in ons lewens. Elke werk van Jesus in ons lewens getuig van wie ons Vader is. Hierdie getuienisse maak vir God deel van ons verhaal. In hierdie verhouding saam met Jesus kry ons vervulling en ware vreugde wat nie meer afhang van omstandighede nie. Só word God se verhaal ook ons verhaal.

Lees:

Efe. 1:4-5 AMP

Mediteer:

  • Dien jy Jesus met godsdiensoefeninge, of het jy 'n verhouding met Jesus?
  • Jesus se uitnodiging is nooit net godsdiens nie. Hy wil, soos met Lasarus, persoonlik betrokke word in ons lewens en ons Vriend word. Daarom is God se metode om ons na Hom te bring: eerstens, om vir ons liefde te bewys sonder dat ons dit verdien het, en ons dan uit te nooi om te begin lewe soos wat Hy veronderstel het dat ons moet lewe.

Bid:

Vader God, dankie dat U al aan my gedink het voor die fondasies van die aarde gelê is! Dis wonderlik om te weet dat U my lewe met vreugde en liefde beplan het. Jesus, word deel van my storie! Ek sien U goedheid in my lewe en ek wil net meer daarvan sien. Heilige Gees, leer my om onder elke omstandigheid die goedheid van die Here te bely, want dit is sy goedheid wat nasies na Hom toe lei. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Wanneer ek deel van Jesus se storie raak, dan is daar vervulling, guns en goedheid wat altyd meer sal wees as die versoeke, uitdagings, of aanvalle!

Aanbidding:

Give Me Jesus - UPPERROOM

 

Dag 5: Jou storie

Daar is 'n rede waarom mense in lande waar daar baie vervolging is steeds kies om Jesus te volg en vrymoedig te wees in hulle geloof. Jesus se storie het hulle storie geword. Ons lewens word grootliks vervul wanneer ons Jesus se storie ons eie begin maak. Dit het ook 'n groot uitwerking op hierdie wêreld, aangesien die manier waarop ons God dien en Hom liefhet 'n bedreiging vir die wêreld word.

Lasarus se storie het ontwrigting veroorsaak. 'n Menigte Jode het gekies om die wette van die hand te wys. Hulle het na Jesus gedraai en Hom as die Seun van God erken na aanleiding van Lasarus se storie en getuienis. 'n Dag nadat die feesmaal by Simon se huis gehou is, het Jesus die stad op ‘n jong esel ingery. Daar was ‘n skare mense wat Jesus met palmtakke tegemoet gegaan het en hulle het begin sing en juig oor Jesus se aankoms. Dit was dieselfde mense wat daar was toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het. In Johannes 12:18 staan, “Daarom het die skare Hom ook tegemoet gegaan, omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het.”

Die Fariseërs het begin planne beraam om Lasarus om die lewe te bring as gevolg van Jesus se werk in Lasarus se lewe. Hulle het gesien hoe almal vir Jesus begin volg het as gevolg van hierdie wonderwerk wat gebeur het. Die krag van een man se storie, die storie wat ons almal ken, het herlewing veroorsaak. Wanneer Jesus se storie ons storie word, begin die planne van Vader God in ons lewens realiseer. Planne wat groter is as ons grootste drome en gebede (Ef. 3:20).

Paulus se brief aan die Romeine wys ook vir ons hoe vordering in geloof verloop. Aan die begin van sy brief praat Paulus oor die evangelie wat God vir Hom gegee en aan hom toevertrou het. Soos sy brief vorder, skryf hy oor die evangelie van Jesus. In Romeine 16 praat hy oor sy eie evangelie. Die evangelie wat eers van Vader God af gekom het, het Paulus se evangelie geword.

Ons lewens kan roem bring aan God. Nie deur perfek te lyk of omdat ons perfek lewe nie, maar omdat ons Hom deel maak van ons lewens. Lasarus het niks gedoen nie. Jesus het al die werk gedoen, maar Lasarus was bevriend met Jesus en omdat hy geglo het dat Jesus hom liefhet, kon hy Jesus deel van sy storie maak. Jy hoef niks reg te kry of te doen nie. Jesus bewys voortdurend dat Hy goed en liefdevol is. Hy wil net hê dat jy Hom deel van jou storie maak en van sy goedheid en sy liefde getuig.

Lees:

Joh. 12:17-19

Rom. 16:25

Rom. 5:6-11

Ef. 3:20-21

Mediteer:

  • Hoe kan jy roem bring aan die Here? Probeer jy op jou eie of laat jy Hom toe om te kom doen wat Hy wil doen?
  • Wat is jou getuienis?
  • Geen getuienis is kragteloos nie. Dit maak nie saak wat jou storie van geloof is nie en en dit maak nie saak of dit klein of groot getuienisse oor die Here se goedheid is nie: Dit het krag om lewens te verander.

Bid:

Vader God, dankie dat U meer vir my lewe beplan het as wat ek ooit kon droom of voor bid. Ek loof en prys U vir u ongelooflike liefde en goedheid oor my lewe. Jesus, help my om nie u goedheid en liefde in my lewe mis te kyk nie. Ek wil dit gebruik as 'n getuienis om roem te bring aan U. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Wat Jesus vir my gedoen het, het die krag om hierdie wêreld te verander! Ek sal getuig en Hom verheerlik!

Aanbidding:

Wonder - Hillsong UNITED