Go Deep 29 Mei 2022

A New Creation

Neville Goodchild

Groei: Ontwaak tot jou potensiaal

 pexels anas hinde 4300715

Dag 1: Jou Storie

Dit is dikwels vir ons makliker om die werk van die Heilige Gees in ander se lewens rondom ons te identifiseer, maar nie so maklik om dit in ons eie lewens raak te sien nie. Die belangrike vraag is, beleef ek die Heilige Gees se werk in my eie lewe? Daar is soveel fasette in ons lewens en so baie dinge wat gebeur, dat dit dikwels moeilik is. Die skeppingsverhaal gaan oor meer as net ’n storie. Hierdie is die storie van die mens. Die verhaal in Genesis gaan oor my en oor jou.

Moses het nie werklik baie klem gelê op die wetenskaplike feite van die skeppingsverhaal soos wat hy in fynere besonderhede die bou van die tempel beskryf het nie. Die rede hiervoor is omdat ons veronderstel is om onsself te ontdek in hierdie verhaal waar God se handewerk betrokke is en waar die Heilige Gees teenwoordig is. In Genesis sien ons die elementêre werk van die Heilige Gees wat ons in ons eie lewe kan beleef.

Binne ses dae doen die Heilige Gees alles wat God in ons lewe wil doen, mits ons sy Gees toelaat.

Dag 1: Skep lig sodat ons kan onderskei tussen lig en duisternis, tussen goed en kwaad. Dit is sodat ons Lig sal leef! Ons is kinders van die Lig!

Dag 2: God skei die waters. Heilige Gees bring orde waar wanorde en vormloosheid heers, waar water buite verband is. Op hierdie dag sit God ’n sisteem in plek sodat dit kan reën. Hierdie reën is die seën wat God gee. Reën is God se voorkeurmetafoor vir sy seën. God sorteer die chaos uit en daarom kan die seën gebeur.

God seën alles, nog voordat Hy by dag 3 kom!

Lees:

Gen.1:1-13

Mediteer:

  • Kan jy jouself binne-in hierdie skeppingsverhaal sien?
  • Hoe beleef jy Heilige Gees se werk in jou eie lewe?
  • Het jy al die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei?
  • Op dag 2 gee God reën, sy seën. Hy sorteer die chaos uit en bring seën in jou lewe. Dit is die werk van die Heilige Gees in jou lewe! Kan jy dit al sien en getuig daaroor?
  • God maak seker dat die sisteem wat in plek is voortdurend reën kan gee. God seën voortdurend. God besluit nog voor dag 3 dat Hy jou en alles van jou seën.
  • Waar God se Woord gespreek word, gaan die Heilige Gees en verrig die werk, wanneer Hy toegelaat word!

Bid:

Here, U gee lig in duisternis sodat ek kan onderskei. Dankie, dat U my die vermoë gee om tussen goed en kwaad te onderskei en om gehoorsaam te wees aan U, deur die werking van U Heilige Gees. U sorteer ook die chaos in my lewe uit en seën my en my familie. Dankie, dat U wil is om alles van my en my familie te seën, net soos U die waters op dag 2 geskei het om voorsiening te maak met reën. Dankie, dat U U Geestelike reën in my en my geliefdes se lewe voorsien en dat dit elke faset van my lewe insluit. Ek nooi u Gees om die werk in my lewe te verrig, volgens die Woorde wat u Vader God gespreek het. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek stel myself oop om deur die Heilige Gees gevorm te word om in Lig, in lyn te leef met God se Woord vir my lewe!

Aanbidding:

Let There Be Light – Hillsong Worship

Creation: Days 1 & 2

 

germ 1525665 1920

Dag 2: Saad wat Groei!

Die perfekte habitat is nodig vir saad om te groei. Sommige wetenskaplikes sê dat dit die grond is wat saad laat ontkiem en ander sê weer dat dit water is. Eintlik is nie een hiervan heeltemal waar nie. Min mense weet wat die perfekte omstandighede is wat veroorsaak dat ’n saad se seël breek en dat daar lewe en groei gebeur. Saad bevat reeds al die potensiaal en moontlikheid wat nodig is om te groei en te word waarvoor dit gemaak is. Die omstandighede moet egter reg wees vir hierdie groei om plaas te vind en om die potensiaal te kan bereik.

En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die derde dag (Gen.1:11-13).

Wanneer God se Woord wat krag het uitgaan, verrig die Heilige Gees die werk. God se Gees is betrokke by die ontkieming en groei van saad. God skep op dag 3 die perfekte habitat vir hierdie ontkieming en groei om te gebeur. Daar verskyn klein grasspruitjies op die oppervlak van dit wat eers dood was. Hierdie eerste tekens van lewe is so klein dat ’n mens dit amper nie eers kan sien nie. Die werk van die Heilige Gees is aanvanklik onsigbaar en elementêr, maar kort voor lank is daar plante wat saad gee en kan voortplant. Dan kan bome begin groei. Die werk van die Heilige Gees is progressief. Daar is progressiewe groei. So ook is die werk van die Heilige Gees in jou eie lewe dikwels amper onsigbaar, maar met die verloop tyd is daar groei en nuwe saad, nuwe lewe. Daar is progressiewe groei en die uiteinde daarvan is goeie vrug wat jy dra.

Lees:

Gen.1:1-13

Mediteer:

  • Ons wil vrug in ons lewens sien, maar hoe kom ons daar? Eers is daar klein verandering, amper onsigbaar (klein grasspruitjies). Ons moet dit nie minag nie. Die betrokkenheid van Woord en Heilige Gees is in hierdie tyd krities. 
  • Wanneer daar goeie saad gesaai is en jy die Heilige Gees nooi om betrokke te wees, sal daar verdere tekens wees van Heilige Gees se werking in jou lewe (plante wat saad lewer sodat voortplanting moontlik is).
  • Wanneer ons goeie vrug begin dra (bome), wys dit dat God se potensiaal bereik is.
  • In die gelykenis van die saaier, word saad gesaai. Hierdie saad is Woord wat verkondig word. Spandeer jy tyd in die Woord sodat hierdie Woord in goeie grond kan val en goeie vrug kan lewer?
  • Het jy al die Heilige Gees genooi om betrokke te raak in jou lewe? Het jy God al kans gegee om die Woord wat gespreek is oor jou lewe, die saad wat reeds gesaai is, of weer gesaai word, te laat ontkiem?

Bid:

Here U skep die perfekte omgewing vir u Gees om te beweeg in my lewe en groei te bewerk. Here ek wil tyd spandeer in U Woord, en alle idees wat ek het daaroor eenkant sit. Help my om by u Woord uit te kom sodat daar goeie saad kan val. Ek nooi U om die grond te kom bewerk sodat alle saad wat U in my lewe saai, kan ontkiem en groei en sodat daar goeie vrug in my lewe kan wees. Ek stel myself oop vir u Gees om te werk sodat daar nie net goeie saad en vrug in my eie lewe is nie, maar ook in ander mense rondom my. Verbreed u grondgebied deur my lewe, laat daar voortplanting wees van Goddelike saad. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

God gee lig sodat ek kan onderskei en Hy seën my tot in die ewigheid. Op dag 3, gee God lewe waar daar eers niks was nie.

Aanbidding:

Fresh Wind / What A Beautiful Name – Hillsong Worship

Water is Wild – Elevation Worship

Creation, Day 3

 olive oil 1596639 1280

Dag 3: Goddelike Saad

Wat op dag 3 van die skepping gebeur: God skei die water en grond om die perfekte habitat te skep vir die saad om te ontkiem en groei. Hierdie sisteem wat Hy skep, is een wat sal aanhou voortplant. Hierdie is profeties van dit wat in jou lewe gebeur.

Eers gee God lig. Dit vorm deel van die bekeringsproses, waar ons bewus raak van reg en verkeerd en waar ons ons draai na die Lig. God gee vir ons hoop sodat ons die verlede kan hanteer. Hy gee ook vir ons hoop sodat ons ons realiteite kan hanteer. 

God skep ook ’n sisteem waarbinne Hy die bron van ons lewe en seën word. Hy het nooit beplan dat ons moet lewe en voortplant buite sy seën nie. Ons het wel daardie keuse. Ons kan wel buite God se seën lewe wanneer ons buite sy Woord leef.

Die nuwe lewe wat God vir ons op dag 3 gee, is ’n progressiewe lewe. Enige geestelike beweging, hoe gering ook al, wys dat die Heilige Gees betrokke is.

God het reeds al die DNS in die saad gesit wat nodig is vir die saad om te ontwaak, te groei en te bereik waarvoor dit bestem was. Die seël moet net gebreek word, sodat hierdie saad kan groei en ook voortplant.

Ons wil graag die vrug in ons lewe sien, maar ons moet iewers begin. Ons moet nie die dae van klein begin onderskat nie. God maak die grasspruitjies sodat die DNS van die plante kan ontwikkel en beter kan word oor tyd. Om ons volle doel te bereik, het ons die werk van die Heilige Gees nodig.

“Ontwaak, jy wat slaap en staan op uit die dode en Christus sal oor jou skyn” (Ef.5:14). God het reeds alles in jou geplaas, al die potensiaal om te ontwaak, te groei en die mandaat, identiteit en doel te bereik waarvoor jy geskape is! Heilige Gees is betrokke. Leef Lig!

Lees:

Gen.1:1-13

Ef.5:14

Mediteer:

  • God gee lig, Hy seën en Hy gee lewe. As God dit alles binne 3 dae doen, wat kort nog in jou lewe?
  • As God reeds al die potensiaal binne jou geplaas het om te ontwaak, te groei en die mandaat, identiteit en doel te bereik waarvoor jy geskape is, wat is nog nie in plek vir dit om te gebeur nie?
  • Wat bedoel die Woord met “Ontwaak jy wat slaap”? Hoe ontwaak ons?
  • Het jy al vervulling van die Heilige Gees beleef? Sien jy die vrug van die Heilige Gees in jou lewe?

Bid:

Heilige Gees van God, kom woon in my. Kom vul my met u krag en u vrede. Ek stel myself oop om U te ontvang in Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nuut gebore uit onverganklike saad!

Aanbidding:

Awake My Soul – Chris Tomlin

What I See – Elevation Worship

pexels pixabay 207247

Dag 4: Staan op

STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word” (Jes. 60:1)

Die belofte is dat jy deur die werk van die Heilige Gees opgeroep word om te lewe en as jy die lig kies, sal Jesus iets vir jou doen. Hy sal sy lig oor jou skyn en die ligte sal vir jou aangaan! Net soos op dag 1.

“... en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Mat.14:26)

”... laat die Gees julle vervul.” (Ef. 5:18)

Waar Woord uitgaan, volg die Heilige Gees en verrig die werk, nie net in die Gees nie, maar in elke opsig van jou lewe. Dit is waarom ons groei sien in die sekulêre lewe, nadat profetiese woord ontvang word. Alles kom tot stand deur die Woord van God, die hoop, die belofte wat latent lê totdat die omstandighede reg is vir hierdie Woord om te ontkiem en te groei deur die werk van die Heilige Gees. Daarom moet ons met wysheid optree soos dit in Ef. 5:16-17 staan en nie onverstandig optree nie, maar ons ywer om te wete te kom wat die Here wil hê ons moet doen. Dit is ’n keuse wat ons het.

“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.” (Ef.5:8)

Jy was duisternis, maar jy is nou lig en loop nou as produk van die Lig. Jy is die saad van God, die nageslag van God, gebore uit die Lig omdat jy deur Jesus Christus wedergebore is. Jy is nou (Native born to the Light) ’n direkte afstammeling van die Allerhoogste!

Word wakker met hierdie wete. Kies Hom! Staan op! Leef voluit!

Lees:

Jes.60:1-22

Ef.5:8-18

Joh.14:26

Mediteer:

  • Die enigste manier om die skeppingsverhaal te lees, is met openbaringskennis. God sê, “Kom ons begin oor, kom ons begin nuut.” Op die derde dag, nadat Hy die chaos uitgesorteer het en sy seën oor alles gegee het, skep Hy nuwe lewe. Hy sê jy is nou MY seun/dogter, verwek uit MY DNS.
  • Jesus red ons nie net nie, maar Hy doop ons met God se Gees. Nou kan ons groei sodat ons die volle potensiaal bereik wat God in ons opgesluit het en ons ’n Goddelike generasie kan wees, met sy Heerlikheid wat oor ons skyn!

Bid:

Dankie, Vader dat U reeds u Goddelikheid in my geplaas het om te ontwikkel volgens u wil en roeping vir my lewe. Laat my lewe (en my gesin se lewe) ’n aangename geur wees vir U en ander om my, sodat ons ’n Goddelike generasie kan wees. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

“Die son sal bedags my lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir my geen skynsel gee nie; maar die Here sal vir my wees 'n ewige lig, en my God sal my sieraad wees.” (Jes.60:19).

Aanbidding:

Make Room – Kim Walker-Smith

matthew smith rFBA42UFpLs unsplash

Dag 5: Onverganklik

God het vir jou méér in oog vir hierdie lewe as net redding en doop. Hy wil sy Gees in jou uitstort, sodat jy kan groei! Hy sê, “Kyk na die lelies in die veld, hulle kom op en verdor weer vinnig”. Sy wil vir jou is méér as dit. Hy gee vir jou sy Gees sodat jy jou doel kan bereik en ’n nalatenskap kan los.

In die skepping sien ons elke dag die ritme van dag en nag, die son kom op en gaan dan weer onder. God herinner ons elke dag dat ons nie meer in duisternis kan wandel nie. Jy kan nie meer in duisternis wandel nie. Jou dae van treur is verby!

Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die Here sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby (Jes.60:20).

God skep eers ’n sisteem van seën, sodat jy binne-in hierdie konteks kan leef. Dit beteken sy wil is dat jy nie buite hierdie seën moet leef nie, maar moet aanhou leef in lyn met sy Woord wat vir ewig leef, sodat jy geseënd en vir ewig geseënd sal wees!

As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is (1Pet.1:22-25).

God wil die volle potensiaal wat in jou opgesluit is, oopbreek sodat die saad weer vir nog ’n geslag opbrengs kan bring en daar ’n generasie op aarde kan ontstaan wat God van geslag tot geslag kan verheerlik.

Ons weet dat ons bestem is vir meer as wat ons leef, maar weet nie hoe om dit te ontgin of te bereik nie. Die Heilige Gees se werk is om jou nie te laat streef na iets wat jou dan lam lê nie, maar om dit wat God binne-in jou geplaas het, te laat groei! Die Heilige Gees openbaar God se potensiaal wat reeds in jou is. Hierdie groei gebeur op die regte tyd en die Here sal dit gou laat kom. Waar die Heilige Gees werk, groei jy eksponensieel vinnig. Jy dra vrug. Hierdie vrug sal op die regte tyd en gou opkom en sal ’n magtige nasie voortbring, van geslag tot geslag!

En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit — as lote deur My geplant, 'n werk van my hande, tot my verheerliking. Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die Here, sal dit op die regte tyd gou laat kom (Jes.60:21-22).

Lees:

1 Pet 1:22-25

Ef. 5:8-18

Jes. 60:1-22

Mediteer:

  • Voel jy of jy nie purpose het nie? Voel jy of jy ’n lewelose bestaan voer? Jou doel en roeping is reeds deur God in jou opgesluit. Dit lê latent en kan nie groei as die Gees nie betrokke is nie.
  • Wil jy weet wat die saad is wat God gesaai het wat ontkiem moet word? Laat toe dat die Gees van God betrokke raak en jou lei na dag 7 van rus, waar jy en God beide kan rus oor jou lewe. Nooi Hom om jou lewe te verander en jy ’n sinvolle, doeltreffende en doelgedrewe lewe kan leef!

Bid:

Vader ek bring enige lewelose areas van my lewe na U toe vandag. Kom verander elke area van my lewe om die potensiaal wat U in my geplaas het, tot sinvolheid te bring, sodat ek doeltreffend kan leef, doelgerig en in die roeping wat U oor my lewe uitgespreek het. Sodat hierdie vrug van geslag tot geslag sal groei en voortplant en my kinders en hulle kinders tot in die duisendste geslag ’n nasie sal wees wat U verheerlik. In Jesus se Naam, Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die vrug in my lewe wys dat God se potensiaal bereik is!

Aanbidding:

Breathe – Michael W. Smith

Great are You Lord/Let it Rain/Healing Rain – Michael W. Smith