A New Creation
Nevile Goodchild
Beleef die werk van die Heilige Gees

Dag 1: Perfek herstel
Alles wat God gemaak het was perfek. Hy het hemel en aarde gemaak, maar sodat dit bewoon kon word en nie bestem is om woes en leeg te wees nie (Jesaja 45:18). Tog lees ons in Genesis 1:2 dat die aarde woes en leeg was met 'n duisternis op die wêreldvloed. Hier is 'n aanduiding dat iets gebeur het tussen die skepping van hemel en aarde en die eerste dag wat God gemaak het. Die duiwel het verwoesting kom saai. Dit wat bestem was om bewoon te word, het verander na iets wat sonder vorm was.
Die skeppingswerk waarvan ons in Genesis lees, gaan oor die herstel van die perferkte aarde wat God gemaak het, nadat die duiwel dit kom verwoes het. Hierdie is nie geskiedkundige gebeurtenisse nie, maar dit het geestelike betrekking op ons eie lewens. Nadat God lig gebring het en die duisternis kom verwyder het, was die volgende stap om die waters van die wêreldvloed te skei. God het 'n uitspansel tussen die waters gemaak, wat Hy "hemel" genoem het. Voordat skeiding tussen die waters gebring is, was die aarde vormloos. Dit kon nie die doel vervul waarvoor dit geskape was nie.
Die Heilige Gees bring lig in ons lewens in, sodat ons kan begin sien en onderskei tussen goed en kwaad. Dit is tekens dat die Heilige Gees in ons lewens en ander mense se lewens begin werk. Al kan ons wel begin onderskei, kan daar nog steeds chaos in ons lewens wees. Op dag 2 van die skepping het God die ongevormde leë ruimte (formless void) kom aanspreek. Hy het die chaos begin aanspreek deur aan die Heilige Gees opdrag te gee om vorm te herstel. Die Heilige Gees is gestuur om in jou te herstel te bring volgens jou goddelike doel en roeping. Dit is nie herstel na 'n vorige vlak wat jy al in jou lewe gehad het nie, maar herstel na goddelike potensiaal wat baie groter is as jou menslike vermoë! Dit is herstel wat jou terugbring na die Here se perfekte wil, dit waaroor God self sê, “Dit is goed!”
Lees:
Mediteer:
- Kan jy onderskei tussen wat goed en sleg is in die verskillende aspekte van jou lewe?
- Is daar dele van jou lewe wat nie lyk soos God se skepping nie?
- In watter gebied kan jy die Heilige Gees nooi om herstel te bring?
Bid:
Vader God, dankie dat U my in gedagte gehad het toe U die aarde geskep het. U het nie net daar gestop nie, maar my ook geskape. Ek leef dalk nog nie my volle potensiaal uit nie, maar kom en herstel die dele van my lewe wat buite u bepaalde doel funksioneer. Laat u Heilige Gees oor daardie areas kom sweef en my heeltemal herstel. Ek prys U vir wie U is! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur Jesus Christus en die werk van die Heilige Gees word ek herstel tot die beeld en gelykenis van God. Ek kan in geregtigheid en in oorvloed lewe!
Aanbidding:
Dag 2: Net God alleen weet, want net God alleen kan
Wanneer die Heilige Gees in ons lewens betrokke raak, bring Hy volkome herstel. Hierdie is nie iets wat gebeur wanneer ons begin om dinge reg te kry nie. Die werk wat op die tweede dag van die skepping voltooi is, was nie van 'n persoon se gehoorsaamheid afhanklik nie nie. Hiermee profeteer die Here dat Hy herstel in ons lewens kan en sal bring sonder dat ons aan iets hoef te voldoen. Hy gaan die herstel bewerkstellig sodra die Heilige Gees betrokke raak. Ons leer in die Nuwe Testament dat die Heilige Gees vrylik aan ons gegee word as 'n genadegawe van God wanneer ons Jesus Christus se redding, vergifnis en genade ontvang.
Hierdie herstelproses sien ons in Esegiël 37. Esegiël beleef 'n oomblik waar God hom na ‘n laagte vol doodsbeendere bring. Die Here vra toe vir hom, “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Esegiël antwoord en sê, “Nee, dit weet net U, Here my God.” Hierna gee die Here vir Esegiël opdrag om oor die bene te profeteer. Ongelooflike herstelwerk vind op daardie oomblik plaas wanneer die beendere weer aanmekaar gevoeg word en met vleis en vel bedek word. Daar was egter nog geen lewe in hulle nie.
God se volgende opdrag aan Esegiël was dat hy moes profeteer en met die Gees moes praat. Nadat hy die opdrag van die die Here uitgevoer het, gee die Heilige Gees lewe aan daardie herstelde liggame. Die Heilige Gees herstel ons tot 'n perfekte geeslewe waarbinne ons die Here intiem kan ontmoet en beleef, en aan sy plan vir ons kan deelneem. Jesus is die Een wat profeteer oor ons lewens sodat daar lewe kan kom. Hy sê dat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is en dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie. Jesus aktiveer die Heilige Gees se lewegewende krag in jou lewe. In Jesus, waar ons gemaak is om te wees, vind ons die herstel na 'n oorvloedige lewe wat die Heilige Gees vir ons wil gee.
Lees:
Mediteer:
- Is daar “beendere” in jou storie wat nie lewe het nie?
- Voel dit asof jy iets verkeerd gedoen het of besig is om iets verkeerd te doen wat verhoed dat daardie dele van jou lewe weer opgewek word?
- Vader God se motief is om jou te herstel na dit wat Hy oorspronklik vir jou in gedagte gehad het, naamlik om na sy Beeld en Gelykenis te wees. Hy wil dit kom doen omdat Hy jou ongelooflik liefhet en sonder dat jy daarvoor hoef te kwalifiseer.
Bid:
Vader God, dankie dat U herstel kom bring. Deur u Heilige Gees word die chaos in my lewe weer herstel volgens u oorspronklike plan. U is die Skepper van orde. Ek prys U daarvoor! Here Jesus, ek bring hierdie gedeeltes van my lewe, wat voel asof dit leweloos is, na U toe. Profeteer daaroor en laat dit weer deur u Gees herlewe. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kry nuwe lewe by my God! Alles wat dood is, word lewendig gemaak deur God se woord en deur sy liefde vir my!
Aanbidding:
Dag 3: Die atmosfeer van seën
God hou nooit net by herstel op nie. Hy het altyd groter planne voorberei vir diegene wat Hom liefhet. In verskeie verhale sien ons dat God meer as net herstel bring. Hy wil seën in mense se lewens laat losbreek. Al het Dawid baie keer gesondig, was Vader God steeds goed vir hom. Nadat Dawid deur genade herstel is, is hy van vooraf weer deur Vader God geseën.
Op die tweede dag van die skeppingsverhaal het die Heilige Gees herstel gebring aan die vorm van aarde nadat Vader God die woord gegee het dat die waters geskei moes word. Die waters is geskei met 'n gedeelte daarvan onder die uitspansel en 'n gedeelte daarvan bo die uitspansel wat deur God die hemel genoem is. Die waters onder die hemel is dit wat ons as die oseane op ons aardoppervlak ken. Dit wat bo die hemel is, is die wolke waarbinne groot massas water gestoor word om op die regte tyd vrygelaat te word sodat die aarde seën kan ontvang.
Wanneer ons in God se woord lees van reën, word die seën van God daardeur aangedui. Dit is net Hy wat kan bepaal dat daar reën kom op die regte tyd waarvoor Hy dit bestem. Voor daardie tweede skeppingsdag was daar egter nog geen spasie vir God om te seën nie. Die areas in jou lewe wat vormloos is (sonder die bepaalde vorm wat Vader God vir jou lewe in gedagte het) kan nie God se seën ontvang nie. Wanneer jou lewe herstel word na die bepaalde vorm, naamlik volgens God se Beeld en Gelykenis, of dit wat ook God se geregtigheid genoem word, word spasie gemaak vir God se seën oor jou lewe. Die goeie nuus is dat Vader God jou deur Jesus geregtig maak en jou herstel na sy Beeld en Gelykenis. Dit gebeur sonder dat jy dit hoef verdien. Deur sy betrokkenheid in jou lewe, bring die die Heilige Gees die seën van God in jou lewe in.
Lees:
Mediteer:
- In die Bybel is die Heilige Gees en water sinoniem met mekaar. Die Heilige Gees herstel en skep 'n sisteem in jou lewe waar God se seën gebring kan word. Hy is die stroom van lewende water wat uit jou binneste vloei sodat jy nooit weer sal dors word nie.
- Watter area van jou lewe is nog nie volgens die Beeld en Gelykenis van God herstel nie?
- Vader God wag met oop arms en oorvloedige, onvoorwaardelike liefde om daardie areas van jou lewe te herstel. Soos met die verlore seun, staan die Vader gereed om jou te ontvang met die kleed en die ring wat geregtigheid en identiteit herstel.
Bid:
Vader God, dankie dat U my wil seën. U wil sien hoe my lewe vervul raak met u goedheid en guns, want U is lief vir my en het net die beste vir my voorberei. Ek kies om U lief te hê en u geregtigheid in Jesus te ontvang. Ek loof en prys U en ek is dankbaar vir dit wat U doen! Kom maak spasie vir seën in my lewe en laat daardie seën u goedheid aan hierdie wêreld bekend maak sodat hulle sien dat U die enigste ware God is. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Heilige Gees maak spasie vir Vader God se seën en guns in my lewe. Ek kan 'n potensiaal in hierdie lewe bereik wat groter as my menslike vermoë is!
Aanbidding:
There Is A Cloud - Elevation Worship

Dag 4: Seën en genade
Die volheid van God se seën word in sy genade vir jou ontvang. Genade oor jou lewe is God se seën, want genade beteken om nie te ontvang wat jy verdien nie (die dood weens sonde), maar te ontvang wat jy nie verdien nie (elke goeie en welgevalige geskenk van God). Om in 'n atmosfeer te lewe wat gereed is om God se seën te kan ontvang, moet ons genade ontvang.
Jesus is die Een wat genade in ons lewens inbring. Ons vind in Jesus ons herstelde vorm wat die spasie skep vir seën om te gebeur. Wanneer ons in Jesus is, nie net by Hom of voor Hom nie, maar in Hom, kan ons die Vader se oorvloedige seën ontvang. Deur in Jesus te wees, ontvang ons ook self die erfporsie van Jesus. Deur in Jesus te wees, leer ons om die Vader se liefde in diepte te verstaan.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes kon nie die seën ontvang wat die Vader deur Jesus wou bring nie. Hulle lewens is nie tot hul bepaalde vorms herstel nie. Slegs ‘n lewe wat in geloof oorgegee is aan Jesus kan herstel word om geregtigheid te wees, en dit is die bepaalde vorm wat God vir ons lewens voorberei het. Weens hulle ongeloof in Jesus kon hulle nie die geregtigheid van God word nie. Daarom was hulle lewens leeg, net soos die aarde was voordat God met die herstelwerk begin het. Daarteenoor het diegene wat Jesus gekies het fonteine van lewende water geword wat uit hulle gevloei het. Jy ontvang nie slegs die seën van reën nie, maar lewende waters vloei dan selfs uit jou eie lewe voort.
Lees:
Mediteer:
- Hoe lyk die vorm van jou geestelike lewe? Is dit gevorm deur genade in Jesus Christus, of is dit vormloos in godsdien en wettisisme?
- Jy kan nie vir geregtigheid kwalifiseer nie. Nadat Adam gesondig het, kon niemand meer kwalifiseer nie. Jesus het egter die mag om mense te kwalifiseer sodat jy na jou oorspronklike vorm (geregtigheid, beeld en gelykenis) herstel kan word.
Bid:
Vader God, U herstel my lewe deur genade. Jesus, kom bedek elke deel van my lewe met u genade en leer my om nederig te wees voor U en nooit te probeer om seën te verdien deur wat ek doen nie. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek hoef nie seën te verdien nie, ek ontvang dit vrylik deur die genade wat Jesus vir my gegee het.
Aanbidding:
Closer - Brandon Lake & Maverick City Music
Dag 5: Ek is die Here en daar is geen ander nie
Vader God profeteer deur die skepping wat Hy in jou lewe wil doen. Hy bring herstel en seën. Vader God doen dit weens sy groot liefde vir jou, maar met dit wil Hy ook aan ander mense begin bekend maak wie Hy is. Dit begin by 'n persoonlike verhouding met Hom waarin jy vir God en sy Karakter leer ken, asook die openbaring van wie Hy is en wat Hy sê, sien en hoor.
In Jesaja 45 lees ons die woorde wat Vader God oor Kores verklaar. Die woorde wat God spreek is die herhaling van die werke wat Hy gedoen het in Genesis 1. Hy verklaar sy goeie wil oor Kores se lewe en dat Hy vir Kores sal seën. Vader God WIL ons kom seën. Dit was deel van sy oorspronklike plan, maar Hy wil hê dat ons daarop moet reaggeer met aanbidding. God het alles wat Hy geskape het vir ons gemaak sodat ons aan die wêreld daardeur sal kan wys dat daar, buiten Hom, geen ander is nie.
Jesus nooi jou uit om Hom te volg en Hy lei altyd na die Vader toe. Hy lei jou na 'n lewe van aanbidding wat God verheerlik en aan die wêreld bekend maak dat God lewe en dat daar net een is soos Hy. Soms ervaar ons nie noodwendig God se seën nie, maar hoe meer ons in 'n verhouding met Hom groei, hoe meer begin ons sien dat Hy nog steeds besig is om ons te seën. Dit is nie noodwendig altyd die groot goed in ons lewens nie, maar die kleiner seëninge wat ons lewens vervul. Om daardie seëninge raak te sien en in dankbaarheid te aanbid en voor die Vader te kom, bring vervulling in ons lewens wat niks anders in hierdie wêreld ons kan gee nie.
Lees:
Mediteer:
- Watter seëninge kan jy in hierdie seisoen van jou lewe raaksien?
- Aanbid die Here vir wie Hy is. Aanbidding help ons om ons fokus te verskuif vanaf die gebrokenheid of die chaos in ons lewens en laat ons fokus op die Een wat ons kan herstel.
- Watter getuienis van dit wat God vir jou gedoen het, kan jy met mense om jou deel?
Bid:
Vader God, U alleen is God. Daar is niemand soos U nie! Ek bring U lof en eer! Help my om al die seën wat U vir my gee raak te kan sien. Kom openbaar ook meer van Uself aan my. Ek is lief vir U en dankbaar vir alles wat U in my lewe doen! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kan tevrede wees wanneer ek my oë gevestig hou op Jesus. Wanneer ek Hom in my lewe het, is daar niks anders wat ek nodig het nie.
Aanbidding:
