
Identiteit
Ernie Amos
Dag 1: Identiteit: jou grootste geveg
Jy het 'n Skepper. Voordat jy gebore is, was daar reeds 'n plan en 'n bloudruk vir jou lewe voorberei. Die Here het vanaf die begin gedink en gedroom oor jou. Hy het begin om te bepaal wie jy gaan wees voordat enige iemand iets kon sê wat dit sou weerspreek. Vader God het jou liefgehad voordat jy die vermoë gehad het om op daardie liefde te kon reageer. Ons kan dit sien in Genesis toe die Here besluit het om die mens na God se beeld en gelykenis te skep.
Intussen het die duiwel gekom om mense te oortuig van 'n leuen oor hulle identiteit. By Eva se ontmoeting met die slang het satan die waarheid verdraai. Hy het vir Eva gesê dat as sy van die boom van kennis van goed en kwaad sou eet, sy meer soos God sou wees (Gen. 3:5). Hiermee het die slang haar identiteit bevraagteken, want God het reeds besluit dat die mens volgens sy beeld en heerlikheid geskep sal word.
Eva was reeds soos God geskape, maar sy het die leuen aanvaar en geglo dat sy nog iets moes doen om meer soos God te raak in haar identiteit. In plaas daarvan dat dit haar identiteit versterk het, het sy haar identiteit, wat reeds in God se Woord gevestig was, verruil vir 'n valse identiteit wat op werke en aksies berus het.
Die wêreld en die duiwel gaan probeer om jou te oortuig dat jy nie volgens die beeld en gelykenis van God geskape is nie. Selfs godsdiens gaan jou probeer oortuig dat jy daardie identiteit moet probeer verdien deur die manier waarop jy lewe. God gee ons egter 'n identiteit voordat ons enige iets doen om dit te kan verdien. Daar is slegs een manier waarop God jou identiteit bevestig en openbaar: Deur sy Woord wat oor jou lewe gespreek word en wat net tydens intieme en persoonlike oomblike saam met Hom gehoor kan word. Ons sien dat selfs Jesus die bevestiging van sy identiteit moes hoor.
In Markus 1:11 praat die Vader met Jesus, nadat die Heilige Gees op Jesus neergedaal het. Die Vader sê vir Hom, “U is my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het.” Petrus getuig dat eer en heerlikheid op daardie oomblik by Jesus se lewe gevoeg is. Vader God rig 'n persoonlike uitnodiging aan jou om Hom te soek en te leer ken sodat Hy met jou kan deel dit wat Hy jou gemaak het om te wees. Daardeur voeg Hy eer en heerlikheid by jou lewe en word jou identiteit in Hom gevestig.
Lees:
Mediteer:
- Probeer jy jou identiteit deur sukses, roem, besittings of godsdiens te vestig? God het bepaal dat daar méér is, en jy het nie nodig om enige iets reg te kry om daardie identiteit te ontvang nie.
- Jy is na God se beeld en gelykenis geskape. Enige iets wat jou van daardie realiteit weerhou, verhoed jou om dit te wees wat jy gemaak is om te wees.
Bid:
Vader God, U het my na u beeld geskape. Soms is dit moeilik om die volheid daarvan te verstaan, maar kom vestig daardie identiteit in my lewe. Leer my om dieper te groei en om vertikaal op te bou voordat ek in enige ander rigting begin inbeweeg. Here Jesus, dankie dat U my uitgesoek het en my liefgehad het. U liefde verander my lewe. Kom openbaar meer van Uself aan my en leer my hoe om in U te lewe. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is na God se beeld en gelykenis geskape. Hy is die Een wat my identiteit bevestig en geen stem kan dit wat God gesê het weerspreek nie.
Aanbidding:
A Thousand Hallelujahs - Brooke Ligertwood
Dag 2: Perichoresis
Die Here het die mens uit die stof van die aarde geskep, maar God het die mens nie in die tuin gemaak nie. Die mens is eers in die tuin geplaas nadat hy geskape is. In Genesis 2:15 staan geskryf dat die Here die mens geneem het en hom in die tuin geplaas het. Dit wys dat die mens iewers anders as in die tuin op aarde geskape is.
Die vorming van die mens het in die Perichoresis plaasgevind. Dit is 'n Griekse woord wat verwys na die intieme verhouding tussen die drie-eenheid van God. Aangesien ons volgens God se beeld en gelykenis gemaak word, word elke mens binne daardie verhouding geskep: daardie intieme plek van liefde en verhouding.
Om te kan weet wie ons is, moet ons weet waar ons storie begin het. Vir somige mense is die storie van hulle geboorte 'n storie van seer en skaamte. Wat in daardie eerste oomblike van lewe gebeur het, kon traumaties gewees het en het ook dikwels die vermoë om ons identiteit af te breek. As ons toelaat dat enige seer oomblik uit die verlede bepaal wie ons is, sal dit ons daarvan weerhou om in ons goddelike identiteit te lewe. Daarom moet ons verstaan en hoor dat ons, voordat enige iets in ons lewens kon gebeur het, in daardie plek van intieme verhouding en liefde geskape is.
Jou oorsprong was in die teenwoordigheid van die Vader, Jesus en die Heilige Gees, waar jy volgens God se beeld en gelykenis geskape is. Dit is wie jy is: 'n Mens oor wie God gedroom het, 'n mens wie se lewe Hy beplan en geskep het sodat Hy hom kon liefhê en daardie mens Hom kon liefhê. Jy is nie die produk van jou verlede nie, maar 'n kind van God wat heilig en geregtig gemaak is deur Jesus wat JOU lewe uit liefde kom red het.
Lees:
Mediteer:
- Is daar gebeure in jou verlede wat steeds seer en skaamte veroorsaak wanneer jy daaraan dink?
- Wanneer jy as gevolg van omstandighede soms aan daardie seer herinner word, beïnvloed dit enigsins hoe jy op daardie oomblik oor jouself dink?
- Vra vir Jesus om die seer van daardie gebeurtenisse te genees. Hy sal jou dalk na daardie oomblike wil teruglei, maar Hy is lief vir jou en belowe dat Hy jou nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Hy sal by jou wees en vir jou die oorwinning behaal.
Bid:
Vader God, U is geseënd! U het my uitverkies voor die grondlegging van die aarde om heilig en sonder gebrek voor U in liefde te wees. U het ook u enigste Seun gestuur sodat ek as u kind aangeneem kan word. Dankie daarvoor Vader God! Here Jesus, ek vra dat U enige seer wat nog uit my verlede oorbly, sal bedien en genees. Kom en spreek U woord oor daardie omstandighede en wys vir my wat die waarheid daarvan is. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is uitverkies om, weens sy liefde, heilig en heel voor Vader God te wees! Hy het my vanaf die begin van my lewe en tot in ewigheid lief!
Aanbidding:
Holy and Anointed One & Yeshua - David Funk and Jenn Johnson
Dag 3: Jesus en jou geregtigheid
Daar is net een plek waar jy jou ware identiteit kan kry. Dit is by God, die Een wat jou geskape het. In die Ou Testament kon die mense nie die volheid van hulle identiteit in God verstaan nie. Terwyl die Israeliete in Egipte was, het hulle 'n nuwe identiteit vir hulself aangeneem. Hulle het 'n identiteit van weeskinders en slawe oor hulle lewens aanvaar. Selfs nadat Moses gekom het om die volk uit Egipte uit te lei, het hulle in die woestyn voortdurend gekla en God se goedheid betwyfel.
Die Israeliete het nie hul identiteit as kinders en geliefdes van God verstaan nie en het nie 'n verhouding met Vader God gehad nie. Omdat hulle nie daardie verhouding gehad het nie, het hulle nie in God se woord geglo nie. Dit het uiteindelik beteken dat hulle, weens hulle ongeloof, nie die beloofde land kon ingaan nie.
Jesus kom in die Nuwe Testament en deur die opoffering van sy eie lewe, het Hy ons die geregtigheid van God gemaak. Geregtigheid kan nie verdien word nie, want dit is 'n geskenk van genade. Geregtigheid beteken ook nie dat ons reg voor Vader God staan nie, want Vader God is ook geregtig genoem en Hy staan nie reg voor Homself nie. Geregtigheid, uit Grieks vertaal, beteken iemand wat is soos wat hy veronderstel is om te wees. Ons is so geregtig soos God gemaak in Jesus, en ons word deur ‘n ontmoeting met Jesus verander om in daardie geregtigheid te lewe. Jesus maak ons oë oop om die glorie van God te sien wanneer ons geregtig word.
In Moses se verhaal het hy vir God gevra het of hy God se glorie mag sien. Die Vader het gesê dat geen mens God se gesig kan sien en bly lewe nie. Hy het egter vir Moses gesê om op die rots, wat langs God was, te staan. Vader God het verder gesê dat Hy vir Moses in die skeur van die rots sal plaas en beskerm terwyl Hy verby Moses beweeg, sodat Moses vir God van agter kon sien en sy glorie kon aanskou. Wanneer ons hier van 'n rots lees, is dit 'n profetiese voorstelling van Jesus wat die Rots in ons lewens is.
Die enigste manier waarmee Moses en enige een van ons ooit God se glorie sal kan sien, is deur in Jesus te wees. Moses was nie óp die rots nie, maar ín die rots geplaas. Ons is nie gemaak om van aangesig tot aangesig voor Jesus te wees nie, maar om binne Hom te wees. Dit is die enigste plek waar ons God se glorie in ons lewens kan ervaar en die identiteit van die geregtigheid van God kan aanneem. Ons is gemaak om ons identiteit te ontdek in daardie intieme verhouding met Jesus, waar ons binne Hom is.
Lees:
Mediteer:
- Staan jy vóór Jesus of lewe jy binne Hom?
- Hoe groot is die rol wat godsdiens in jou lewe speel? Jesus het gekom om godsdiens te vervang met 'n verhouding. Slegs wanneer jy Hom erken as jou Redder en in 'n verhouding met Hom is, kan jou lewe begin verander.
Bid:
Vader God, U het my gemaak om in Jesus te wees en vanuit my ware identiteit te leef. Dankie dat ek nie 'n weeskind is nie, maar deur U aangeneem is om u kind te wees. Ek prys U vir die liefde wat U vir my gee en dat ek deur daardie liefde gered word. Here Jesus, ek wil in U leef. Leer my hoe om in U te wees. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is die geregtigheid van God, gemaak deur Hom om soos Hy in Jesus te wees!
Aanbidding:
Who You Say I Am - Hillsong Worship
Dag 4: Van openbaring na ontmoeting
Kennis lei na openbaring, maar openbaring is nie genoeg om jou lewe te verander nie. Openbaring is kosbaar en verskriklik belangrik in ons lewens, spesifiek die openbaring van die Vader en van Jesus. Deur openbaring leer ons Vader God en Jesus ken. Ons begin om sy eienskappe te ontdek en te sien wie Hy is en wie Hy gesê het Hy sal wees. Openbaring sal net vir ons wys wie God is, maar as ons net by openbaring bly, gaan ons vir God kan sien sonder om in 'n intieme verhouding met Hom te wees.
Ons gee so baie aaandag aan vrees vir die Here. Dit is belangrik om God te respekteer, maar in 1 Johannes lees ons dat volkome liefde alle vrees uit ons lewens verdryf. As ons fokus op die “heilige” vrees vir die Here, is ons nie besig om God met liefde en in ''n verhouding te benader nie. Ons is gemaak om in Jesus te wees, maar vrees gaan ons buite Hom hou. Daarom kan ons nie net stop by openbaring nie.
Openbaring is die skarniere van die deur wat lei na 'n persoonlike ontmoeting met Jesus. Openbaring wys vir ons wie Jesus is, maar daar is 'n uitnodiging om Jesus te gaan ontmoet in 'n verhouding. Lof en aanbidding is die regte reaksie wat op 'n openbaring van God behoort te volg. Lof en aanbidding is hoe die intieme ontmoeting met Jesus lyk. Wanneer jy openbaring ontvang, is daar 'n oop deur na ‘n ontmoeting met die Here, met ‘n uitnodiging om lof en aanbidding aan Hom te bring en in daardie oomblik Hom ook toe te laat om oor jou te spreek.
Wanneer jy Jesus ontmoet in aanbidding en jy stel jou oë op Hom, begin Hy wat jou gemaak het vir jou te wys wie jy veronderstel is om te wees. Seek the eyes of the One by whom you were made. Johannes skryf dat alle dinge wat geskape is, deur Jesus ontstaan het. Jy is deur God gemaak met jou oorsprong uit Jesus. Dit is waar jy ten volle kan ontdek wie jy is. In 'n verhouding met God gaan jy begin om jou naam te hoor. Die naam wat God vir jou gee en nie wat deur die wêreld gegee word nie.
Lees:
Mediteer:
- Het jy onlangs openbaring van Vader God of van Jesus of van die Heilige Gees ontvang?
- Hoe het jy op daardie openbaring gereageer?
- Jy word nie veroordeel as jy nie met lof en aanbidding gereaggeer het toe jy openbaring ontvang het nie, maar neem kennis dat Jesus vir jou uitnooi na daardie intieme en persoonlike ontmoeting met Hom.
Bid:
Vader God, ek prys U vir u goedheid en u liefde vir my. U is wonderlik en waardig om aanbid te word. Here, kom gee vir my vars en nuwe openbaring oor wie U is. Wys vir my wie u Seun, Jesus, is. Maak my oë oop om die Heilige Gees ook in my lewe te sien en Hom beter te leer ken. Here Jesus, ek wil U ontmoet. Ek loof en prys u Naam, die Naam bo alle name, wat bo alles verheerlik is. U is die Koning. U is my Koning! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is geen vrees in liefde nie en Jesus het my lief met ‘n onvoorwaardelike liefde wat nooit sal verflou nie!
Aanbidding:
Dag 5: Dit sal nie van jou weggeneem word nie
Jesus se uitnodiging aan ons is om Hom op 'n persoonlike en intieme vlak te ontmoet. Hy weet dat dit die plek is waar Hy ons kan oortuig van wie ons gemaak is om te wees. Sy uitnodiging aan ons is nie eenmalig nie, maar om voortdurend na Hom toe te kom. Hy wil hê ons moet daagliks soek na Hom en Hom kom ontmoet. Dit is juis wat Jesus vir ons kom doen het aan die kruis. Deur die voorhangsel te skeur, het Hy het vir ons toegang tot 'n verhouding met God gegee.
Ons raak vasgevang in die godsdienstige aksies en oefeninge, en as ons prioriteite nie reg is nie, kan daardie godsdienstige oefeninge belangriker word as 'n verhouding met Jesus. Godsdiens kan nooit ons identiteit bepaal nie. Die enigste effek wat dit op ons lewens het, is om eie roem te probeer verkry deur die regte dinge te doen. Dit raak 'n presterende ingesteldheid, waar ons goed voel oor onsself solank as wat ons daarin slaag om die dinge te doen wat godsdiens van ons vereis. Ons kan nie daarmee aanhou nie, want ons maak staat op ons eie krag om geregtigheid te probeer verkry. Jesus leer ons egter dat niemand uit homself geregtigheid kan verkry nie. Ons kan slegs geregtig word deur Jesus wat ons geregtig maak wanneer ons Hom as ons Redder en Koning aanvaar.
In Lukas 10 lees ons van Jesus wat Martha en Maria besoek het. Tydens Jesus se besoek was Martha besig om te bedien en te werk, terwyl Maria by Jesus se voete gesit het en na sy woorde geluister het. Martha het vir Jesus gevra om vir Maria te sê dat sy met die werk moet help. Jesus se antwoord aan Martha is 'n uitnodiging aan ons almal, “Stop dit waarmee jy besig is, kom sit by my voete, luister na My, aanbid My, want dit is die beste keuse wat jy kan maak.”
Jesus erken dat Maria 'n goeie keuse gemaak het om by sy voete te sit en Hom te aanbid en dat dit nooit van haar weggeneem sal word nie. Godsdiensoefeninge gaan net 'n korttermyn uitwerking op jou lewe hê, maar 'n ontmoeting en 'n verhouding met Jesus sal jou lewe vir ewig verander. Moenie met minder tevrede wees nie. Dit mag dalk lyk asof jy, wanneer jy met godsdiens ophou, nie verder vorder nie. Begin egter soek na Jesus en 'n verhouding met Hom en jy sal begin om te groei in die rigtings wat God bepaal het. Sodoende sal jou fondasies en ankers gevestig kan word.
Jy moet eers begin om vertikaal en in diepte te groei voordat jy kan begin om horisontaal te beweeg. Jou wortels in geloof moet eers gevestig word voordat jy kan vrugte dra. Dit versterk jou karakter en dit is juis wat God die meeste van alles in jou lewe wil laat gebeur. Wanneer hierdie seisoen in jou lewe verby is, sal jy ontdek dat daar 'n groter geestelike diepte in jou lewe is waaruit jy kan put. Verder sal jy bemagtig wees vir vir baie meer as wat jy was voordat jy Jesus in 'n verhouding leer ken het.
Lees:
Mediteer:
- Jou grootste potensiaal hang af van jou verhouding met Jesus. Hoe meer jy Hom leer ken en hoor wat Hy oor jou sê, hoe groter raak die potensiaal van jou lewe om sy goedheid aan die wêreld oor te dra.
- Wat is jou fokus? Godsdiens of 'n verhouding?
- Tyd saam met die Here waar jy aanbid, stil raak, Bybel lees, bid, of op enige manier bewus raak van Jesus, sal altyd vrug dra en nooit van jou af weggeneem word nie. Wêreldse oortuigings en bekommernisse sal probeer om jou te oortuig dat dit verspilde tyd is, maar dit is eerder hierdie oomblikke wat jou vervul en aan jou lewe gee.
Bid:
Here Jesus, U is ongelooflik groot en baie goed! U verander my lewe elke keer wanneer ek U ontmoet. Ek wil elke dag meer van U leer ken, U ontmoet en dieper in 'n verhouding met U groei. Wys my ook op watter vlak U my karakter wil verander sodat ek met U daaroor kan praat. Dankie vir alles wat U doen deur u oneindige liefde! Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Tye saam met Jesus sal my lewe verander sodat ek my goddelike identiteit en geregtigheid kan uitleef!
Aanbidding: