A New Creation!
Neville Goodchild
Beleef die werk van die Heilige Gees!

Dag 1: Jou reis
God het jou van die begin af na sy gelykenis en na sy beeld geskape om in 'n verhouding met Hom te staan. Hy wou van die begin af met sy Gees intiem in jou lewe en deur jou lewe betrokke wees. Hy wil nie hê dat jy net as toeskouer staan of by geleentheid iets vier nie. Hy wil nie net ’n tradisie wees nie, maar jou lewe transformeer. Jesus het opgestaan en God wil deur die uitstorting van sy Heilige Gees vir jou op ’n plek plaas waar jy in hierdie leeftyd kan regeer! Die verhouding wat God met jou het, is vir Hom die belangrikste. Hy wil ’n avontuur vir jou gee: Hy wil hê dat jy die lewe moet ontdek, nie net die eindbestemming nie, maar ook die roete daarheen. Jy is gemaak vir hierdie reis en die ontdekking van alles wat hierdie roete behels!
Lees:
Mediteer:
- Wat glo jy oor jou verhouding en jou reis (jou journey) met God?
- Wat verhoed jou om op die regte roete met God te wees?
- Wat is die roete om tot by God te kom?
- Wat is die belofte vir dié wat Christus ontvang het?
Bid:
Vader, dankie dat ek, deur Jesus Christus, direk na U toe kan kom en dat daar geen muur meer tussen ons is nie. Dankie, dat U my geskape het om in 'n verhouding met U te staan en dat ek kan stil raak om U as God in my lewe te ervaar, as deel van my lewe. Dankie, dat u Gees betrokke is in my en deur my en dat U vir my hierdie week ’n dieper openbaring gee van u betrokkenheid in my lewe. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Op grond van Jesus Christus se afgehandelde werk kan ek my bekeer, laat doop in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en die Heilige Gees as gawe ontvang!
Aanbidding:
God of All My Days – Casting Crowns

Dag 2: Ewigheid voor oë
Nadat Lucifer uit die hemel geskop en op die aarde gegooi is, was daar chaos en vernietiging. Daar waar demoniese aktiwiteite is, is daar vernietiging. Dit is ook wat in die tuin gebeur het. God het die mens gemaak om vir ewig saam met Hom te wandel, in perfekte harmonie en vrede. Waar die vyand kom, kom daar vernietiging en in een generasie lei hierdie vernietiging na die mens se laagste punt - die dood. Waar die vyand heers, is daar chaos en dood.
Wat doen God met hierdie chaos, met die verwoesting as gevolg van sonde?
In Gen.1:2 sien ons dat God se Gees oor die chaos broei. Die Gees van God sien potensiaal raak en gee kans om dit te verwesenlik. God se Gees broei en die chaos word georden. God Spreek: LIG.
Alles wat vanaf die begin van die skepping gemaak was, was goed geskape. Die lig is goed.
Waar staan jy in hierdie storie? God maak alles goed en skep jou om sentraal te staan in die skeppingsverhaal. Dit is hier waar jy jouself moet begin soek, in die middel van sy skeppingswerk. Perfek geskape, volkome, met geen plan dat jy biologies tot ’n einde moet kom nie. God se plan vir die mens is so volkome, dat dit die ewigheid in oog het, saam met jou.
Lees:
Mediteer:
- Watter rol speel die Heilige Gees in jou journey met God?
- Die Gees van God broei oor chaos, soos ’n voël oor haar eiers. Wat beteken dit vir jou in jou omstandighede?
- Die werk van God se Gees is baie duidelik: Uit die chaos skep die Gees van God en bring harmonie en vrede.
- Jesus Christus is die deur na God toe. Hy is die enigste weg. Sodra ons Hom ontvang as die Seun van God wat vir ons die pad gemaak het, kan ons direk na ons Vader toe kom. Ons is nie meer weeskinders nie, maar bid nou direk tot God ons Vader!
- Op grond van Jesus se werke kan ons ook God se Gees ontvang. Dit is God se Gees wat ons in alle waarheid lei, want Hy openbaar alle dinge van Jesus aan ons (Joh.16). Daarom kan ons, deur God se Gees, besig wees met dit wat Hy aan ons openbaar.
Bid:
Vader, dankie dat u Heilige Gees oor my moeilike omstandighede broei en dat U geduldig is in dit wat U bewerk. Dankie, dat ek sentraal staan in u skeppingsplan en dat U ’n doel het met my lewe. Dankie, dat U in die ewigheid in aan my dink en dat my lewe op aarde, sowel as in die ewigheid, vir U belangrik is. Openbaar u ewigheidsplan en u visie aan my, asseblief, in Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
God het die mens gemaak uit sy familie, met geen vrees, in harmonie, vol respek en om in vrymoedigheid voor God te staan.
Aanbidding:
Daar is ’n Naam – Retief Burger

Dag 3: LIG - LEWE
Kyk na die werk van die Heilige Gees en sien hoe God herstel. Dit wat in algehele chaos verkeer, herstel God binne ’n paar dae. God skep alles binne ses dae en op die sewende dag rus Hy oor die werk wat Hy gedoen het in jou lewe (Gen. 2:2). Hierdie verhaal gaan oor jóu lewe in God se hande en die Gees wat gereed is om te werk. Die Heilige Gees kom oor jou omstandighede op dieselfde manier as in Genesis. In alles wat woes en leeg is, broei die Gees van God oor daardie omstandighede en uit chaos skep Hy en gee Hy vrede.
God het gesê, “Lig” - en daar was lig!
Mense vergeet dat alles ontstaan het deur die Woord van God. Die Woord is saad wat gebêre word vir die perfekte omstandighede, sodat die saad kan wortelskiet en groei.
God het die lig aangeskakel oor die duisternis en lig op die onderwerp van chaos geplaas. Dit is die eerste ding wat Hy geskape het. God hou van die lig wat Hy aangeskakel het. Dit is een van die belangrikste basiese werke van die Heilige Gees. Hy sê dat jy ’n kind van die lig is. Nou kan jy ten minste sien. Hy skakel die lig aan sodat jy kan sien, sodat jy kan onderskei.
Daar is iets in ons geestelike lewe wat gekoppel is aan God se skeppingswerk. 'n Besef dat daar waar die Gees van die Here oor jou omstandighede broei, God se belofte, sy inisiatief, sy intensie en sy saad (sy Woord) waar sal word. Waar die Gees oor jou potensiaal broei, sal daar lewe en lewe in oorvloed wees!
Lees:
Mediteer:
- Wanneer die werk van die vyand gelos word, is die chaos ongekend.
- God skakel die lig aan sodat ons kan sien daar is fout. Wanneer ons dit toelaat, broei God se Gees oor ons donker omstandighede en Hy skakel die lig aan sodat ons kan sien. Hy help ons om te onderskei! Wat staan my te doen in hierdie omstandighede?
- Hy broei oor die potensiaal wat Hy sien en Hy skep opnuut. Hy gee nuwe lewe!
Bid:
Here, dankie dat u Gees oor my en my omstandighede broei. U skakel die lig aan sodat ek kan onderskei en kan sien waarmee U besig is. U spreek, en wanneer U praat, skep U opnuut. Dankie, vir u passie en die potensiaal wat U sien en wat U verwesenlik. U gee vir my nuwe hoop en passie om te kyk en betrokke te wees waar u Heilige Gees besig is in my lewe. Ek loof en prys u Heilige Naam! Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God red ons van ons chaos!
Aanbidding:
Let There Be Light – Hillsong Worship

Dag 4: Onderskeid
Die werk van die Heilige Gees is om lig te gee in duister omstandighede sodat jy kan sien, sodat jy onderskeid kan tref tussen goed en kwaad. God het die lig geskei van die duisternis.
Een van die eerste tekens dat die Heilige Gees besig is om te broei oor jou en jou geliefdes, is dat jy kan begin onderskei tussen goed en sleg.
Volgens Heb.5 :13-14 is die onderskeid tussen goed en kwaad, en reg en verkeerd, ’n teken van geestelike volwassenheid. Ons wil so dikwels uit die vlees reageer en ’n plek van veroordeling inneem wanneer ons weet dat iemand anders iets verkeerd gedoen het, al weet ons nie presies wat dit was nie nie.
Die erkenning of wete van wat reg en verkeerd, is ’n teken dat die Heilige Gees reeds daar betrokke is. Die Heilige Gees is besig om lig te gee in die situasie en die lig word geskei van die duisternis. Daarom kan daar tussen reg en verkeerd onderskei word.
Hierdie besef moet ons juis motiveer en ons geloof aktiveer. Dit is ’n geesreaksie, wanneer jy begin glo in die werk waarmee God se Gees besig is. Hy is besig met ’n skeppingswerk. God is besig met hierdie skeppingswerk en handel dit binne ses dae af, sodat God self kan begin rus oor die persoon. Jy kan dus ook nou skuif na ’n plek van rus in met die wete dat die Heilige Gees reeds betrokke is in die chaos.
Lees:
Mediteer:
- Is daar iemand in jou lewe oor wie jy bekommerd is? Is daar tekens dat hierdie persoon onderskeid begin tref tussen reg en verkeerd? Wat beteken dit?
- Die skeppingswerk is ’n verhaal van bekering, wat geestelike waarde sal hê tot aan die einde (2 Pet. 3:3-13). Hoe pas jou bekering in by God se skeppingswerk?
- Om as 'n gewoonte tussen goed en kwaad (reg en verkeerd, of lig en duisternis) te onderskei, is ’n teken dat die Heilige Gees betrokke is. Watter gewoontes maak jy vas in jou doen en late? Wat van jou hart en gedagtes?
- Maria het gesukkel om die engel te glo omdat sy nie ’n man gehad het nie. Die engel antwoord haar dat die Heilige Gees oor haar sal kom en die krag van die Allerhoogste haar sal oorskadu (Luk1:34-34). Dieselfde Gees wat oor die ongeordende massa gebroei het, verwek Jesus, die belofte, in Maria. Daar was ’n belofte. Wat is God se beloftes oor jou lewe? Wat is God se beloftes oor jou geliefdes?
Bid:
Vader, u Gees is besig om te broei en te beweeg en iets nuuts te maak uit die chaos wat ek beleef. Dankie, dat U vir my en my geliefdes help om tussen reg en verkeerd te begin onderskei. Dit gee my hoop, want ons is besig om in U te groei. U Gees is besig met ’n groot skeppingswerk wat vir altyd groot geestelike waarde sal hê. Dankie, daarvoor. Ek stel myself oop vir U om my te kom leer onderskei tussen reg en verkeerd en ek vra dat U my sal help om gehoorsaam te wees en te reageer wanneer U praat. Dankie, dat ek in u rus en vrede kan gaan waar U besig is met my geliefdes en dat ek nie uit my vlees hoef te reageer nie, maar dat ek nuwe hoop kan kry by U dat U besig is. Ek sien die tekens en ek vertrou op U vir die werk wat U begin het, dat U dit sal voltooi. In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
The acknowledgment of sin is the beginning of repentance.
Aanbidding:
Thank You Jesus for the Blood – Charity Gayle

Dag 5: Openbaring
Ons sukkel baie keer met omstandighede waarin ons nie kan sien nie. God het die lig aangeskakel sodat ons oë kan oopgaan oor sy fenomenale skeppingsverhaal. Nadat Hy die lig aangeskakel het, was daar nog vyf dae se werk oor. Tydens hierdie proses begin ons dikwels om die verkeerde dinge te huisves. Jy begin onderhandel omdat jy moeg raak tydens die wag. Jy wil kompromieë aangaan en dink dit is nie so erg nie. Kompromieë wat met duisternis aangegaan word, is tekens dat die Heilige Gees in jou situasie afwesig is. Die gemeenskap wat in duisternis vasgevang is, het op dag 1 van die skeppingsverhaal plaasgevind. Jy vergeet daarvan, en binnekort loop hierdie verhaal uit op die sewende dag en God wat rus oor sy skepping.
God skep ’n dag- en nagritme. Hy gee dag sodat ons in geregtigheid as kinders van die lig kan wandel. Hy skakel die lig aan sodat ons die risiko’s kan sien en die vyand nie kan steel soos tydens ’n rooftog in die nag nie. Om in die gewoonte te kom om goed van kwaad te onderskei, is die vaste spyse van openbaringskennis. Dit is die teken van Geestelike volwassenheid. Deur hierdie geestesvermoë te beoefen, skep ons ’n kultuur waarin ons ander mense leer om tussen goed en kwaad te onderskei. Ons skep ’n Goddelike kultuur, ’n Goddelike gemeenskap.
Onder Geesgevulde gelowiges word daar baie woord gespreek oor situasies. Baie beloftes word neergeskryf en God se Gees, die Heilige Gees, reageer op die Woord van God.
Lees:
Mediteer:
- Het jy al in die gewoonte gekom om jou omstandighede deur die Heilige Gees met die Woord van God te hanteer?
- Seën jou geliefdes met Woord en ervaar hoe God se Gees nuwe lewe skep en hoe jy in dieselfde rus gaan soos wat God, op dag sewe van die skeppingsverhaal, oor jou is.
- Daar waar God se Gees broei, kom sy Woord in vervulling.
Bid:
Vader, dankie dat u Woord in vervulling kom oor my lewe. Dat ek deur u Gees u Woord oor my omstandighede en oor my familie kan uitspreek en in u rus kan ingaan en ervaar hoe u Heilige Gees vernuwe en uit chaos lewe gee. Dankie, vir die outoriteit wat U my gee in Jesus en dat u Naam, Jesus Christus, krag het. Dankie, vir nuwe wyn, nuwe manna, nuwe openbaring tot eer en verheerliking van u grote Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
God herskep deur sy Woord in die teenwoordigheid van sy Gees!
Aanbidding: