Go Deep 12 Junie 2022

New Creation

Neville Goodchild

Die Heilige Gees rus ons toe vir die bonatuurlike

 sunset 3454964 1920

Dag 1: Skepping - reg om lewe te ontvang

Elke dag van die skeppingsverhaal openbaar aan ons hoe die Heilige Gees op 'n unieke wyse in en deur die mens wil werk.

Gen. 1:20: And God said, "Let the waters bring forth abundantly the moving creatures that hath life, and fowl that may fly above the earth in the open firmament of heaven."

Op die vyfde dag van die skepping was die aarde reg om nuwe lewe te ontvang. God het die woord gespreek en dit het die werking van die Heilige Gees geaktiveer. Daar was lig om tussen reg en verkeerd te onderskei. Die waters op die aarde is geskei. Hemelliggame is geskep en ritmes, seisoene en stelsels is vasgestel. Die grond, water en hemel is geskei. Grasspruite, struike en bome is geskep. Die habitat is voorberei om lewe te ontvang.

God het die woord gespreek en deur die kragtige werking van die Heilige Gees is lewe uit die water voortgebring. Die water het gewemel met seediere en lewende wesens wat beweeg, en die voëls het die lug gevul.

Dit is die krag wat die kerk vandag het. Ons spreek die Woord van God en dit aktiveer die krag van die Heilige Gees om dit wat gespreek is, tot stand te bring. So moet ons die Heilige Gees aktiveer om lewe te bring in alle areas van ons bestaan waar ons lewe nodig het. Dit sluit enige iets in ons lewe in waar chaos is, wat stagnant of buite beheer is. 

Dink maar aan iemand wat 'n landery het en dit nie bewerk nie. Hy saai nie saad in die landery nie en ontvang ook nie 'n oes nie. Die landery was bestem om 'n oes te lewer en suksesvol te wees, maar omdat die persoon nalaat om dit te bewerk, is daar geen oes nie. Dit is hoe dit is wanneer ons nie die toerusting wat God vir ons deur sy Woord en die Heilige Gees gee, gebruik om lewe te spreek in elke area van ons lewe en in elke situasie nie.

Lees:

Gen. 1:1-23

Gen. 1:28

Mediteer:

  • Net soos God die skepping voorberei het om lewe te ontvang, so berei Hy ook die mens deur die wedergeboorte en die ewige lewe voor om 'n lewe in oorvloed te ontvang. Beleef ek 'n lewe van oorvloed wat spreek van die krag van die Heilige Gees in my?
  • Watter leuens van die vyand glo ek wat my verlam om die werk van die vyand teen te staan, omdat ek nie die waarheid (die Woord van God) spreek en die werking van die Heilige Gees aktiveer in daardie area van my lewe nie?
  • Die oorvloedige- of oorwinnaarslewe is slegs moontlik as ons die Heilige Gees ontvang het en aktief die werk van die vyand teenstaan. 
  • Het ek 'n Woord van God ('n droom)  oor my lewe wat stagnant is omdat ek nie bereid is om dit wat ek van die Here ontvang het prakties te spreek nie?

Bid:

Dankie Vader, Seun en Heilige Gees vir die skepping en vir lewe. Vader, die Woord sê dat U alleen is goed. Ek wil U eer en loof en dankie sê vir u Woord oor my lewe en vir die werking van die Heilige Gees om dit wat U gespreek het, te skep en in die lewe te bring. Dankie Here dat ek weet dat dit wat U vir my beplan goed is, naamlik oorwinning, sukses en 'n lewe wat getuig van u teenwoordigheid en u rus. Dit is 'n lewe wat krag ontvang het toe die Heilige Gees oor my gekom het om die goeie stryd tot die einde toe te stry. Help my Here om die leuens van die vyand te identifiseer en om dit met die waarheid van u Woord te vervang. Help my Here om die vyand teen te staan en elke dag van my grondgebied in u koningkryk terug te vat. Here, ek spreek oorwinning oor my lewe en laat die vyand niks aan my sal hê nie. Amen.

Spreek Lewe!

Op grond van Christus, wat alles volbring het asook die werk van die Heilige Gees in my lewe, seën God my en heilig Hy my. Ek spreek dat elke Woord wat U oor my lewe gespreek het deur die Heilige Gees geopenbaar en geproklameer sal word. 

Aanbidding:

Speak life - TobyMac

 

fishermen 83031

 

Dag 2: Bonatuurlike werking van die Heilige Gees

Vanaf die begin van die reeks beleef ons dat God met ons praat oor die bonatuurlike.

God spreek en uit die waters word lewende wesens voortgebring wat beweeg, asook al die voëls in die hemel. Wanneer ons kyk na die uitspansel, die sterrehemel, plante, diere, die aarde en al sy wonders en na die mens, kan ons nie anders as om te besef hoe groot God is nie. Die werk van die Heilige Gees is bonatuurlik en bo ons begrip. Die bonatuurlike is deel van God se beeld en gelykenis en word deel van ons as ons die dag wedergeboorte beleef en die Heilige Gees ontvang.

Ons sien dat Nikodemus ook kon ervaar dat die werke van Jesus bonatuurlik was. Hy het vir Jesus gevra (Joh. 3) hoe Hy dit regkry om hierdie bonatuurlike dinge te doen.

Joh. 3:5: Jesus antwoord, "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie."

Joh. 3:6: Wat uit die vlees gebore is, is vlees en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Die mens is geneig om bang te wees vir dit wat ons nie verstaan en begryp nie. Die wonder is dat God sy Gees vir ons gee en nie net sy werk aan ons openbaar nie, maar ons ook betrek by sy bonatuurlike werk. Ons het wedergeboorte nodig om ons deel en doel in die skeppingsverhaal te bereik.

Lees:

Gen.1:20

Joh. 3:1-8

Mediteer:

  • Is die gedagte van die bonatuurlike werk van die Gees vir jou vreemd, of bots dit dalk met waaraan jy gewoond is, of waaraan jy in jou kerk tot nou toe blootgestel was?
  • Indien wel, wil jy nie die Heilige Gees 'n kans gee om Homself aan jou te openbaar nie en jou te wys dat daar tog meer steek in die werking van die Heilige Gees as dit waaraan jy gewoond is nie?
  • Ons het wedergeboorte nodig om deel te neem aan die bonatuurlike werking van die Heilige Gees.
  • Is jy seker van jou wedergeboorte? Indien jy wil seker maak of jy wedergebore is, kan jy die volgende gebed in opregtheid bid.

Bid:

Vader, ek kom na U toe omdat ek onseker is daaroor of ek gered en wedergebore is. Ek besef dat ek myself nie kan red deur my eie pogings en goeie werke of “sondeloosheid” nie. Ek kom en bely vandag dat ek baie sonde het en dat ek 'n Verlosser nodig het. Ek glo dat Jesus in my plek gesterf het aan die kruis en dat Hy my sondeskuld volledig betaal het. Ek glo Jesus Christus is die Seun van God en dat sy offer genoeg was vir al my sonde. Ek gee nou my lewe vir U en glo op grond van Joh. 1:12 dat, as ek bely dat Jesus Christus die Seun van God is en alles aanneem wat Hy gedoen het en wie Hy is, dan gee Vader aan my die reg om sy kind te wees. In Jesus se naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek glo ek is nou wedergebore deur die afgehandelde werk van Jesus Christus aan die kruis en my geloof daarin. Ek is nou gereed om saam met die Heilige Gees aan die bonatuurlike deel te neem.

Aanbidding:

I surender - Hillsong Worship 

 grey heron 4353038 1920

 Dag 3: Opdrag om te heers

Die term "heers" is die term in die skeppingsverhaal wat ons die meeste hoor. Dit gaan spesifiek daaroor dat die mens geskep is volgens God se beeld en gelykenis, en dat dit God se roeping is dat die mens oor God se skepping moet heers. God gee aan die mens alles wat hy nodig het om te kan heers.

Die eeste Adam het in die tuin met die sondeval die outoriteit aan Lucifer weggegee, en die tweede Adam, Jesus Christus, het met sy “een daad van geregtigheid” – sy kruiswerk – vir ons oorwinning bewerk in regverdigmaking deur genade. Die een doel van die herstel van die mens se geregtigheid is dat die mens se heerskappy herstel kon word om sy roeping te vervul. “Heers oor die skepping” beteken nie dat ons oor die omgewing moet heers deur vir die diere te sê wat hulle moet doen nie. Heerskappy is 'n geestelike konsep waarvoor ons die Heilige Gees benodig om geestelike insig in God se groter plan te verkry.

Die vyand se doelwit is om verwoesting te saai. Ons moet heers deur ons roeping vas te maak, sensitief te wees vir die Heilige Gees, verantwoordelikheid te neem vir ons grondgebied, en om die werk van die vyand teen te staan.

Lees:

Gen.1:27-28

Rom. 5:17-18

Mediteer:

  • In watter mate heers ek in my realiteite? Heers ék, of word daar óór my deur die vyand geheers?
  • Dink na oor die gebiede of dele van jou bestaan waar jy chaos beleef en waar dit duidelik is dat jy nie meer heers nie, maar die vyand.
  • Wil jy vandag begin om 'n elementêre eerste stap te neem om jou heerskappy terug te vat, om te begin heers oor jou omstandighede, siekte, tekorte, emosies en/of verhoudings? Bid hardop daaroor en spreek Woord en lewe daaroor, in die naam van Jesus.

Bid:

Vader, leer my deur hierdie reeks om aan die bonatuurlike te begin deelneem. Heilige Gees, kom leer my hoe om te heers en hoe om u geestelike beginsels van heerskappy te verstaan en toe te pas. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

In die naam van Jesus bevel ek nou dat _______________ ( noem jou chaos of uitdaging) in lyn sal kom met God se volmaakte plan vir my lewe en ek beveel die vyand in Jesus se naam om terug te staan.

Aanbidding:

This I believe (The Creed) Lyrics – Hillsong Worship 

 

camargue g0b7adc81d 1920

Dag 4: Toegerus vir die bonatuurlike

Jesus stuur sy dissipels uit met ‘n opdrag om siekes gesond te maak, dooies op te wek en duiwels uit te dryf. In kort, Hy het aan hulle opdrag gegee om uit te gaan en dieselfde te doen as wat hulle Hom sien doen het. Hierdie opdragte gaan alles oor die bonatuurlike. Jesus sou nie sy dissipels uitgestuur het om hierdie opdragte uit te voer as Hy hulle nie toegerus het om dit te kon doen nie. Later sien ons dat Paulus na hierdie dinge verwys as "melkkos".

Dit is natuurlik vir die mens om in 'n gemaksone van die natuurlike en allerdaagse te wil bestaan. Wie van ons staan in die oggend op met die gedagte, “Ek wonder hoeveel mense ek vandag gaan gesond maak of uit die dood uit gaan opwek?" Ons glo maklik dat ons die Heilige Gees het en uit die Gees gebore is, maar kan onsself nie indink in die rol van dissipels, waar die bonatuurlike 'n deel van ons allerdaagse bestaan is nie.

In 2 Pet. 1:4 lees ons dat ons 'n goddelike krag het om ‘n goddelike natuur te leef: die Heilige Gees. To live a godly nature. In Joh. 3:5 sien ons dat iemand wat nie uit water en Gees gebore is nie, nie in die koninkryk van God kan ingaan nie.

Die Woord van God en die Heilige Gees gee ons goddelike krag en rus ons toe om aan die bonatuurlike werk in die Koninkryk deel te neem, waar ons elke dag lewe.

Die waters en die oseane is in die antieke samelewing as boos gesien. Die seevaarders het geglo daar is monsters, bose geeste en die Leviatan in die see. Dit is ‘n groot en ongerepte massa water en dit hou risiko in. Die lugruim en hemel is as die tuiste van God gesien en beskou as ‘n plek wat geleenthede en moontlikhede daarstel. Dit is net moeilik om hierdie moontlikhede te ontgin, want ons het nie die vermoë om te vlieg nie. As ons dus kyk na die opdrag om te heers oor die waters en die lug en die lewende wesens daarin, raak ons bewus van twee struikelblokke wat ons in die oë staar as dit kom by die bonatuurlike. Ons raak bewus van risiko's en moontlikhede. Die risiko's laat ons onbekwaamheid voel, want ons sien dat ons kan seerkry en in die natuurlike glo ons nie dat ons die vermoë het om hierdie moontlikhede te ontgin nie. Ons beleef dus 'n onvrymoedigheid en onvermoë as dit kom by die bonatuurlike.

Ons moet besef dat ons 'n God aanbid wat in die bonatuurlike funksioneer en ons beveel en toerus om as sy beelddraers deur die kragtige werking van die Heilige Gees saam met Hom in die bonatuurlike te beweeg.

Lees:

Matt. 10:8

2 Pet. 1:4

Joh. 3:5

Rom. 8:6

Heb. 5:13

Mediteer:

  • Vader nooi jou om betrokke te raak by die bonatuurlike, selfs meer as om vir jou alledaagse behoeftes en uitdagings te bid, te glo en daaroor te spreek.
  • Wat is die kans dat jy jou vir Vader sal beskikbaar stel om selfs siekes hande op te lê vir genesing en om te profeteer?
  • Wil jy dit waag om in jou huis vir iemand hande op te lê en genesing te beveel in die Naam van Jesus?
  • Toe Jesus se dissipels ná hulle opdrag weer by Jesus uitkom, was dit duidelik dat hulle nie verwag het dat dit werklik sou gebeur dat mense sou genees en dat bose geeste na hulle sou luister en vlug nie. Hulle het basies in ongeloof uitgegaan en was verbaas toe hulle sien dat die krag van God deur hulle gewerk het, soos deur Jesus self. Dit beteken dat ons steeds gehoorsaam moet wees en hierdie dinge doen, al sien ons die risiko's en al glo ons dat ons nie toegerus is om die geleenthede/moontlikhede te ongin nie. Die Woord en die Heilige Gees werk deur ons wat in Christus Jesus is. 

Bid:

Vader, wil U my die moed gee om dit in die bonatuurlike te waag. Gee ook vir my die geloof en vrymoedigheid om te waag. Vader, waar ek voel dat ek nie die vermoë het nie, wil U my kom toerus met die nodige kennis en vaardigheid om u geeswerk voort te sit op aarde.

Bonus: Spreek Lewe!

Al voel ek swak en onbekwaam, is dit die Gees se krag en wysheid en insig wat in my woon wat my bemagtig en toerus om God se werk te doen.

Aanbidding:

Our God is an awesome God – Michael W. Smith

 

boat 5159224 1920

Dag 5: Betree die bonatuurlike met die Heilige Gees

In 'n vorige reeks het ons geleer dat, wanneer 'n mens met 'n seiljag vaar, jy die wind gebruik om jou voorentoe te vat om deur die waters te navigeer. Die Heilige Gees is die wind en die rigtingwyser. Die Heilige Gees gee ons krag en openbaringskennis.

Ons moet die werk van die vyand teenstaan. Ons kan nie slegs hoop dat dinge eendag beter gaan word nie. Wat God vir ons wil hê, is heerskappy en oorwinning. God het die wêreld reeds oorwin. Hy rus ons toe met die Heilige Gees om die bonatuurlike te betree, te deel in sy oorwinnings en te heers waar Hy ons met goddelike gesag geplaas het.

Ons kan heers oor die werk van die vyand, want ons het:

Gesag: Jes. 45:11 Thus saith the Lord, the Holy One of Israel and his Maker, “Ask Me of things to come concerning my sons and concerning the works of my hands command ye me.” God gee aan ons profetiese insig oor wat gaan gebeur, asook die gesag om vir Hom te sê wat God moet doen, sodat ons kan heers binne die grense wat God ons aangestel het om te heers. God wil weet wat ons wil hê Hy moet doen. Ons moet dit spreek. Lewe en dood lê in die mag van die tong.

Outoriteit oor die vyand se werk: In Matt. 10:8 gee Jesus aan sy dissipels die opdrag om siekes gesond te maak, melaatses te reinig, dooies op te wek en bose geeste uit te dryf. Hulle moet die werk van die vyand ongedaan maak. Hy gee ons die gesag (outoriteit). Die nagmaal is die teken van Jesus se kruiswerk en van die oorwinning oor die werk van die vyand. Hy gee aan ons voorsiening, versorging en versoening. Ons is kragtig in die Here se sterkte.

Weerstand en beskerming: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. God het die bose magte van hierdie wêreld en die vyand teen wie ons stryd is, oorwin. Ons deel in sy oorwinning. Met die wapenrusting van God kan ons die vyand weerstaan en self staande bly.

Bid in die Gees: Gebed in die Gees by elke geleentheid sal ons altyd in die regte posisie plaas om te kan heers en in oorwinning te leef, soos God dit beplan het.

Lees:

Joh. 16:33

Jes. 45:11-13

Matt. 10:8

Ef. 6:10-18

Mediteer:

  • Om te heers of om met gesag (in outoriteit) te leef, bestaan uit twee aspekte:
    • Om die vyand se werk teen te staan.
    • Om Vader se plan en seën vir jou lewe te spreek en te roep.
  • Ek kan nie slegs wanneer daar 'n groot krisis is, by die Heilige Gees in die bonatuurlike aansluit om te heers en in outoriteit te leef nie. Dit is ‘n leefwyse waarin ek daagliks moet wandel.
  • Ek moet biddend daaroor dink en beplan hoe ek gaan begin om aktief deur die Heilige Gees aan die bonatuurlike deel te neem.
  • Is daar areas in jou lewe wat die bonatuulike nodig het vir verandering? Gebruik die toerusting wat God jou in die Heilige Gees gee om te heers en oorwinning te beleef.
  • Wanneer dit kom by die bonatuurlike, gaan alles in die eerste plek oor die Koninkryk van God en nie oor my eie selfsugtige behoeftes nie, 

Bid:

Vader, leer my deur U Heilige Gees waar en hoe ek kan deelneem aan die bonatuurlike. Heilige Gees, leer my hoe om in outoriteit te leef. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

In die Naam van Jesus kom staan ek teen die werk van die vyand in my lewe en ek roep God die Vader se volmaakte plan oor my lewe.

Aanbidding:

Armed and dangerous by Ron Belcher