New Creation
Neville Goodchild
Beeld + Gelykenis = Heerskappy

Dag 1: Shalom
Die skeppingsverhaal is profeties en getuig direk van die Heilige Gees se werk in ons lewens. In die skeppingsverhaal beweeg ons na die 7de dag waar God rus van sy werk, tevrede terugstaan en die volkome herstel van sy skepping beleef. Ons noem dit sabbatsrus. Dit is Shalom, 'n toestand van vrede en tevredenheid. Shalom verwys na volkome herstel en volkomenheid (wholeness). Net so herstel en herskep God deur die Heilige Gees die chaos in ons lewens wat deur die vyand veroorsaak is. God wil hê dat ons saam met Hom in die sabbatsrus moet ingaan en dat ons in elke aspek van ons lewens 'n algehele herstel, harmonie en vrede (Shalom) moet beleef. Die Heilige Gees wil broei oor ons lewens en, net soos met die res van die skepping, op die bestemde tyd en in die regte seisoen, nadat die regte hoeveelheid tyd verloop het, lewe voortbring. Hierdie broei van die Heilige Gees is die volmaakte werk van God. Dit is intensioneel en tydgebonde. God wil hê dat ek saam met Hom rus van my werke en oor myself. Dit is God se genade.
Die gevaar is dat ons hierdie sabbatsruslewe en Shalom kan misloop, omdat ons nie aanvaar dat Jesus Christus se kruiswerk genoeg was om vir ons alles af te handel nie. Ons voel dat ons nie waardig is nie en dat ons nie heeltemal kwalifiseer nie. Ons wil probeer om hierdie vrede en genade deur godsdiens en werke te verdien. Dit is die rede waarom die mens geneig is om reëls te maak vir mense om vir die genade en vrede van God te kwalifiseer. Selfs wat die nagmaal betref, is daar verskeie vereistes in kerkomgewings waaraan mense moet voldoen voordat hulle aan die nagmaal mag deelneem. Daar is ook vereistes vir kleredrag, assosiasie en kerkbetrokkenheid. Die Woord sê egter dat as ons iets wil vrees, moet ons vrees dat ons hierdie vrede en Shalom wat God vir ons bestem het, sal misloop.
Wanneer die verlore seun vuil en gebroke huistoe kom, wag sy vader hom in en omhels en verwelkom hom net soos hy is. Sy vader luister nie eers na sy verskonings nie, want hy is so bly om sy seun weer te sien dat hy 'n vetgemaakte kalf slag en feesvier omdat sy kind weer tuis is. Die ander seun, wat altyd daar was en alles met sy vader gedeel het, verstaan nie hoekom sy vader dit doen nie. Volgens hom verdien sy broer nie so 'n ontvangs en goeie behandeling nie. Hierdie beskrywing van die vader se ontvangs van die verlore seun, wat hy nie verdien het nie, is presies die beskywing van wat die nagmaal wel is.
Daar bly vir ons net een rus oor, naamlik om in die rus in van ons werke in te gaan.
Lees:
Mediteer:
- Is jy in God se rus oor jou lewe en beleef jy die vrede van God oor jou redding?
- Probeer jy dalk bewustelike of onbewustelik om God met jou werke en pogings, godsdiens en “sondeloosheid” te beïndruk om vir jou redding en God se seën te kan kwalifiseer?
- Wil jy nie vandag alles oorgee aan God die Vader, vir eens en altyd volkome op Hom vertrou vir redding, en jou eie werke en pogings laat vaar nie?
Bid:
Vader, ek bely elke vorm van godsdiens en erken dat my eie pogings, werke en godsdiens nooit genoeg sal wees om u genade en redding te verdien nie. Vader, ek kies vandag om net op U vir my redding en genesing te vertrou. Vader, help my om ten volle in u rus in te gaan. Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.
Spreek Lewe!
Op grond van Joh. 1:12 word ek 'n kind van God en kan ek van my eie werke rus, bloot op grond van my geloof in die afgehandelde werk van Jesus Christus.
Aanbidding:

Dag 2: Beelddraers van God
Gen. 1:26 (53 Vert.) “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers.” (83 Vert.) “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers.” (AMP) “Let us (Father, Son and Holy Spirit) make man in Our image, according to our likeness [not physical, but a spiritual personality and moral likeness]; and let them have complete authority."
God is gees en dus verwys die beeld van God na 'n verantwoordelikheid wat ons het om God te verteenwoordig met dit wat ons doen en sê, asook met die gesindheid waarmee ons dit doen. Dit is werklik so dat baie mense oor die algemeen klaaglik daarin misluk om verantwoordelike beelddraers van God te wees nie. Ons hoor dikwels van mense wat Christus nie wil aanneem nie, want die manier waarop Christene teenoor hulle optree en uitsprake maak, het hulle daarvan oortuig dat hulle nie 'n God kan dien wie se volgelinge so optree nie.
Ons kan dit alleenlik deur die Heilige Gees regkry om beelddraers van God te wees. Die Heilige Gees is ons helper en slegs in Christus, en met die krag van die Heilige Gees, kan ons hierdie skeppingsdoel bereik. Sonder wedergeboorte en sonder die Heilige Gees is ons lewens sinneloos en hopeloos. Die Woord sê dat ons uit stof geskep is, sal doodgaan en weer tot stof sal terugkeer.
Kom laat ons vandag stil word en toelaat dat die Heilige Gees ons lei om verantwoordelike beelddraers van God in ons wêreld te wees.
Lees:
Mediteer:
- Elke mens is volgens die beeld van God geskape.
- Sonde en verlorenheid het veroorsaak dat ons 'n verwronge beeld van God uitdra.
- Dink na oor die wêreld waarin jy 'n invloed kan uitoefen. Dink jy jou wêreld het 'n behoefte aan iemand wat 'n betroubare en gesonde beeld van God aan hulle vertoon?
- Hoe lyk jy as 'n beelddraer van God?
Bid:
Vader, ek bely dat ek nie altyd 'n suiwer beeld van U in die wêreld uitdra nie. Wil U my asseblief deur u Gees elke dag help om te hernuwe, sodat ek oral waar ek gaan 'n beelddraer van U kan wees. Vader, wil U my help tot by 'n plek van genesing waar ek uit u vrede kan funksioneer en 'n suiwer beelddraer kan wees. Vader, help my deur u Heilige Gees om elke dag minder te word en laat Christus meer word in my; laat my meer en meer van die vlees aflê en laat my al meer in die Gees wandel en leef. In Jesus se naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee, en ek kan die verantwoordlikheid om 'n getroue beelddraer van God te wees, verstandig hanteer.
Aanbidding:

Dag 3: Gelykenis van God
Die feit dat die mens na die gelykenis van God geskape is, gee aan ons die wonderlike voorreg om in 'n verhouding met God te kan staan. “Let us make man in our image; according to Our likeness.” God self het die mens uit die stof van die aarde gevorm en toe gees in sy neus geblaas. Gees is 'n stukkie hemel en die mens word deur die skeppingswerk die skakel tussen die aarde en die hemel; tussen God en die aarde. Die mens is geskape met die vermoë om deur die Gees in 'n verhouding met God te staan, en omdat die mens vlees is, kan hy op aarde leef en heers. Die mens is afhanklik van die lewegewende Gees van God en kan nie sonder die Gees leef nie.
Job. 34:14-15: "As Hy op Homself af sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou die vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer."
Die Gees van God is lewegewend. Die asem wat in die neus van die mens geblaas is, gee lewe (pneuma is Grieks vir asem/gees; ru’ach is Hebreeus vir wind/asem/gees). God se asem, sy Gees, bring lewe in alles. Ons kan nie sonder die Gees van God lewe nie. Omdat ons die Gees van God in ons lewe het, is ons lewe óók lewegewend. Die Heilige Geeskrag bring orde, lewe, herstel, seën en wysheid waar Hy kom. Die Heilige Gees rus my en jou toe vir ons skeppingsdoel.
Lees:
Mediteer:
- Die mens is die enigste wese op aarde wat met God in 'n verhouding kan staan en wat die vermoë het om te aanbid. Is jy aktief besig om jou verhouding met God lewend te hou?
- Dink jy 'n verhouding met enige ander mens kan intiem en eg wees, asook groei en sinvol wees, sonder om tyd saam met so 'n persoon deur te bring?
- Hoeveel tyd bring jy saam met God deur? Is dit 'n spesiale tyd? Het jy 'n spesiale plek waar jy goeie gehaltetyd saam met God en sonder enige onderbrekings kan deurbring?
- Om 'n verhouding te kan bou, benodig jy tyd, beplanning, praat, luister, doen, gee en ontvang – al is dit 'n verhouding met die Vader.
Bid:
Vader, ek wil graag in 'n dieper verhouding met U staan. Ek kies vandag om meer aktief by ons verhouding betrokke te raak deur doelbewus tyd met U deur te bring. Heilige Gees, kom vul my weer met 'n brandende liefde vir U, sodat ek spontaan sal reageer en altyd tyd sal maak om naby U te wees. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies om terug te keer na my eerste liefde en te reageer op Abba Vader se liefde vir my.
Aanbidding:
Hoe groot is U liefde - Retief Burger

Dag 4: Beeld en gelykenis = Heerskappy
Die mens se primêre doel is om te heers. Die mens is vlees en Gees, en moet noodwendig in beide die natuurlike en die geestelike terrein heers. Voordat God gesê het dat die mens sal heers, het Hy het die mens toegerus met sy (Vader, Seun en Heilige Gees se) natuur en Gees, asook sy beeld en gelykenis. Dit is belangrik om te verstaan dat dit die formule is. Dit is die som en die balans wat nodig is om te heers. Die mens moet die hemel en die aarde verteenwoordig, mens en God, vlees en Gees, genade en waarheid.
Rom. 8:19: "Die hele skepping wag met reikhalsende verlange na die bekendmaking van die kinders (seuns) van God."
Die hele skepping wag dat die mens volgens God se beeld en gelykenis sal leef en heers. Die probleem is vandag dat die mens wil heers, want dit is sy skeppingsdoel. Hy wil dit egter buite die beeld en gelykenis van God doen. Hy vereenselwig hom nie met die morele waardes en die etiese kode van 'n kind van God nie. Party mense het 'n morele etiese kode, maar hulle glo nie in Jesus Christus as hulle Verlosser en Saligmaker nie. Hulle het nie die Heilige Gees van God in hulle lewe nie. Hulle het dus nie die inwoning en leiding van die Heilige Gees nie. Hulle verteenwoordig die vlees, maar nie vir God in die geestelike nie.
Die Woord sê dat die Heilige Gees aan ons wysheid en lewe gee. Sodra die beeld en gelykenis van God verwronge of uit balans in 'n mens se lewe is, is die heerskappy verwronge en uit balans. In stede van leierskap, kry die mens dominansie; nie heerskappy nie, maar oorheersing; nie liefde nie, maar manupilasie; nie beskermende krag nie, maar aggressie, woede en huishoudelike geweld.
Die mens kan die beste bedoelings in die lewe hê, maar as jy nie 'n gesonde beeld en gelykenis van God in jou lewe het nie, sal jy nie 'n goeie verteenwoordiger van God en mens, en van aarde en hemel wees nie. Jou heerskappy sal nie sy goddelike doel bereik nie, maar verwronge wees. Jesus Christus het gekom om die heerskappy te herstel. Ons het Vader, Seun en Heilige Gees nodig om verantwoordelik op aarde te kan heers.
Lees:
Rom. 8:19
Mediteer:
- Hoe lyk jou heerskappy in die wêreld wat jóú invloedsfeer vorm?
- Is jy passief en het jy alle vorm van heerskappy oorgegee?
- Heers jy met verwronge heerskappy deur dominansie en aggressie, en moet jy in beheer wees?
- Het jy al genesing vir jou wonde gekry om as 'n gesonde kind van God met 'n gesonde goddelike heerskappy oor jou invloedsfeer te kan heers?
- Het jy dalk nodig om hulp te kry vir jou genesing, omdat jy al jare met aggressie sukkel en jou eie pogings lei nie na genesing nie?
Bid:
Vader, wil U my na volkome genesing en herstel lei. Wil U my lei om, indien nodig, by die regte mense uit te kom. Ek vra dat U my sal genees van my seer en pyn uit die verlede, sodat ek in my wêreld met 'n goddelike heerskappy kan heers. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Omdat Jesus reeds vir my redding en genesing gesterf het, kies ek om vanaf vandag my genesing in Jesus Christus te soek en daarvolgens onder die leiding en krag van die Heilige Gees te heers.
Aanbidding:
Open the eyes of my heart – Paul Baloche

Dag 5: Jesus Christus = God en mens
Die Woord praat van die eerste Adam waardeur die sonde en die dood in die wêreld gekom het. Dit beskryf elkeen van ons se toestand van nederlaag en mislukking.
In Genesis 1:26-27, toe God die Vader, Seun, en Heilige Gees “bymekaar kom” en besluit om die mens te skep volgens hulle beeld en gelykenis, en om hom te laat heers oor die skepping, het God reeds geweet dat die mens 'n goddelike ingryping gaan nodig hê. Ten spyte daarvan, skep God steeds die mens, soos die psalmdigter dit stel, as net effens minder as 'n hemelwese. God beklee die mens met eer en heerlikheid en laat die mens oor God se skepping heers. Die mens is beeld en gelykenis; vlees en Gees. Jesus Christus kom aarde toe en word mens. Die mens word gemaak as die skakel tussen die aarde en God. Jesus Christus (die tweede Adam) bring redding, geregtigheid en ewige lewe deur sy kruiswerk. Dit wat vlees en Gees was, word nou in Christus verenig. Jesus Christus kom herstel die beeld van God en die gelykenis van God in die mens. Die mens kan nou weer in Christus Jesus, deur die werking van die Heilige Gees, heers soos God dit bedoel het. Heers met goddelike krag, wysheid en doelgerigtheid.
Die skepping smag daarna dat ek en jy met verantwoordelikheid en in 'n verhouding met God sal lewe en dat ons met die Heilige Gees se leiding op die aarde sal heers. Ons moet ons losmaak van die dinge van die vlees en fokus op die Heilige Gees en Koninkryk, sodat ons gesonde heerskappy kan hê. Dit waarmee ons tyd deurbring en waarop ons fokus, sal ons lewe bepaal. Soos 'n mens se gedagtes is, so is hy. Vandag moet ons ‘n keuse maak: lewe ek in die vlees en gee ek soos die eerste Adam my heerskappy aan die vyand, of lewe ek in die Gees en heers ek op die aarde volgens my skeppingsdoel, God se wil en plan vir my lewe?
Lees:
Mediteer:
- Leef ek meer uit die vlees of meer uit die Gees in my elke dag se wandel?
- Hoe heers ek en hoe beïnvloed my heerskappy myself en die mense rondom my?
- Bring ek genoeg tyd in die teenwoordigheid van God deur en laat ek toe dat die Heilige Gees my toerus met wysheid vir doelbewuste en doelgerigte heerskappy?
- Besef ek hoe kosbaar dit is om tyd in die teenwoordigheid van God deur te bring, om Hom Abba Vader te noem, en om deur die Heilige Gees bedien te word?
- Die lewe maak net sin as ons heers en ons skeppingsdoel uitleef soos God dit bedoel het.
Bid:
Vader, ek kom gee myself meer en meer oor aan U en u Gees se werking in my lewe. Heilige Gees, ek nooi U in my lewe in. Maak my al meer sensitief vir u werking in my gees. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Omdat ek ‘n seun (kind) van God is, kan ek oor die vyand, siektes en omstandighede heers.
Aanbidding:
Above all by Michael W Smith lyrics