New Creation
Neville Goodchild
Rus van jou werke

Dag 1: Waar God se Woord volbring is, is daar rus
Wanneer ons lees van die sewende dag van die skeppingsverhaal, sien ek 'n prentjie van God wat tevrede na die skepping en herskepping van die aarde kyk. Dit is met goedkeuring en tevredenheid wat Hy die skeppingswerk deurkyk. Ek sien hoe Hy 'n blaar van 'n plant oplig met sy vingerpunte, daarna kyk en die eindproduk net geniet. Dit is volbring. Die werk wat deur God se Woord uitgestuur is om te doen, is voltooi en dit het tot vervulling gekom. Hoe soet is die rus aan die einde van 'n taak wat afgehandel en gedoen is!
Daar is twee sleutelwoorde in hierdie gedeelte: volbring en rus. Volbring beteken meer as net voltooi of afgehandel: dit is vervul. Die Woord wat uitgaan, is profeties en die Gees van God bring dit tot vervulling. Die afgehandelde werk waar die Gees van God die Woord van God tot vervulling gebring het, bring ons by volbringing.
Die ander dae van die skeppingsverhaal was die Woord van God nog nie heeltemal tot vervulling gebring nie. God het na die werk van die dag gekyk en gesê dat dit goed was, maar eers op die sewende dag, toe die werk van die Woord van God wat uitgegaan het (profeties), deur die werking van die Gees van God afgehandel is, het God se Woord tot vervulling gekom en is dit volbring. Die Woord sê dat God nou gerus het. Hierdie rus is nie 'n tipe rus wat daarop neerkom dat ek nou moeg gewerk is, en nou wil ek rus nie. Dit is 'n toestand en plek van vrede en tevredenheid, omdat die Woord van God en die Gees van God sy wil in vervulling gebring het.
Dit is belangrik dat ons in alle aspekte van ons lewe hierdie twee belangrike elemente moet toelaat om te heers om vervulling te kan beleef. Dit sal ons dan inlei in die rus van God. Die twee elemente is die Woord van God en die Gees van God. Baie keer het mense 'n Woord van God ontvang, maar hulle het nie gehoorsaam die Gees van God toegelaat om die Woord tot vervulling te bring nie. Ander mense het weer 'n geesbelewenis met die Heilige Gees. Hulle voel geïnspireerd en wil graag 'n taak in die Koninkryk van God verrig, maar hulle weet nie wát nie. Hulle het moontlik nie tyd met die Woord van God deurgebring en hulle eie Rhema-woord van God ontvang nie. God se wil word vervul waar God se Woord en God se Gees toegelaat word om te heers. Die wil van God kan nie tot vervulling kom as een van die elemente ontbreek nie. Daarom ontwyk die rus waarvan God praat en waarin God op hierdie sewende dag van die skepping ingaan, ons so baie.
Wanneer God se wil in my lewe tot vervulling kom, word ek na rus toe gelei. Die Woord sê dat die Here my lei na waters waar rus is. Ons fokus partykeer so op die rus dat ons nie die Here volg na die rus toe nie. Ons wil by die rus uitkom, maar ons gaan nie waar die Here ons lei nie. Die Here lei ons na waters waar rus is. Die waters verwys na die Heilige Gees. Ons sien dat ons ook nie by rus kan uitkom as ons nie die Woord van God en die Gees van God volg nie.
Lees:
Mediteer:
- Dink bietjie na oor elke aspek van jou lewe en of jy beleef dat jy in God se rus lewe en dat jy op 'n plek is waar God se wil in jou lewe volbring is.
- Beleef jy dat jy dalk meer fokus op die feit dat jy rus nodig het en sielsmoeg is, as wat jy op die Here en die leiding van die Heilige Gees fokus om jou by daardie rus uit te bring?
- Op watter element fokus jy die meeste, die Woord van God of die Gees van God?
- As daar 'n balans in jou lewe is en jy beleef dat die Woord wat God jou gee in jou lewe deur die werking van die Gees van God in vervulling kom, dan is dit goed. Neem 'n oomblik en rus van jou werk. Kyk na die werk wat God deur sy Woord en Heilige Gees tot vervulling gebring het en geniet dit. Sê dankie vir God vir sy genade en dat jy deel kan wees van iets wat groter as jy is. Bring lofprysing aan God omdat sy gedagtes en planne aangaande jou goed is.
Bid:
Vader, dankie dat u Woord profeties oor my lewe uitgaan om U wil in my lewe te vervul. Help my om tyd met die Woord deur te bring om elke dag my Rhema-woord soos manna uit die hemel te ontvang en om dit te spreek en te bely. Dankie Heilige Gees vir u leiding elke dag en u kragtige werking. Maak my sensitief vir u leiding om in die wil van Vader te beweeg. Vader, help my dat ek nie die vervulling van u wil in my lewe en u rus sal misloop nie. Ek aanbid en eer U omdat U groot en almagtig is en aan u goedheid is daar geen grense nie. Wonderbaar en groot is u Naam op die hele aarde. Amen.
Spreek Lewe!
Ek kies om die Woord van God profeties oor my lewe en my grondgebied te spreek, en om die Heilige Gees se werking in elke aspek van my lewe toe te laat tot verheerliking van God en tot vervulling van sy wil.
Aanbidding:
Worship together – I will rest in You – (with lyrics)

Dag 2: Jesus is die Woord
Baie keer probeer ons as mens om die Woord van God letterlik te interpreteer, ontleed en feitelik te benader. God se Woord is lewend en die Heilige Gees gebruik dieselfde skrif om verskillende waarhede aan elkeen van ons te openbaar. Daardie skrif wat vir ons persoonlik of spesiaal is omdat die Heilige Gees ons in 'n situasie daaraan herinner het, en omdat ons 'n emosionele verbintenis met daardie skrif gevorm het, gaan altyd vir ons ‘n dieper betekenis hê as vir die volgende persoon wat dit lees. Vir iemand wat alleen is, sal die skrif wat sê dat ek is by jou en ek sal jou nooit verlaat nie, 'n baie dieper betekenis hê as vir iemand wat omring is met geliefdes.
1) Jesus Christus is die Woord, die Lig en die Waarheid (Joh. 1:1-5). In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2) Hy was in die begin by God. 3) Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het niks ontstaan nie. 4) In Hom was lewe, en die lewe was die lig vir die mense. 5) En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Jesus Christus was in die begin van die skepping reeds by God en alles wat geskep is, is deur Hom geskape. Daar word na Jesus Christus verwys as die Woord. Alles wat tot stand kom, kom deur Jesus Christus, die Woord, tot stand. Die Woord spreek en dit wat gespreek is, kom in wording. Dit word geskep. Die Woord is dus profeties van aard. Ons moet met ons mond spreek volgens die Woord en so profeties die dinge roep wat nog nie is nie, asof dit reeds gebeur het. Net soos die skepping deur die Woord in die lewe in geroep is, so moet ons die skrif wat aan ons geopenbaar word deur die Heilige Gees, in geloof spreek en in wording roep.
Ons sien dat die Woord van God nie woorde is soos die woorde wat in 'n woordeboek staan nie. Dit is egter woorde wat deur die Heilige Gees geopenbaar en neergeskryf is. Die Heilige Gees werk kragtig saam met die persoon wat gelowig bid en op God vertrou om die woord wat hulle oor hulle lewe ontvang het, waar te maak. Die Woord moet deur die Heilige Gees vir ons openbaar word en die boodskap wat die Heilige Gees vir ons uit dieselfde vers/skrif gaan gee, gaan nie noodwendig altyd dieselfde wees nie. Hoe meer skrif 'n mens leer en hoe meer jy die Heilige Gees in die teenwoordigheid van God vra om die Woord vir jou oop te breek en te verduidelik, hoe meer gaan jy besef wat dit beteken dat Jesus Christus die Woord is. Jy gaan 'n vraag vra en God gaan jou deur die Heilge gees na die presiese antwoord in die Bybel lei. God openbaar Homself ook in sy grootheid deur die kragtige werking van die Heilige Gees wat sy Woord waar maak en soms fisies manifisteer. So het ons al volgens die Woord van God vir die genesing van mense gebid en die Heilige Gees het kragtig gewerk en die persoon genees. So het God sy Woord deur die werking van die Heilige Gees waargemaak en God self word daardeur verheerlik.
Lees:
Mediteer:
- Het jy al 'n openbaringwoord van God ontvang wat spesiaal vir jou gegee is?
- Partykeer is dit 'n seën wat oor jou uitgespreek is en ander kere is dit 'n profesie oor jou lewe en bediening. Soms is dit 'n motivering of 'n bemoediging.
- Skryf jou woord neer en dink oor dit wat al in vervulling gekom het en wat nog in vervulling moet kom.
- Vat jou woord wat nog nie in vervulling gekom het nie in gebed na God toe en vra Hom om aan jou te wys watter woord se seisoen is verby en watter woord is bedoel vir nou. Daar kan ook woord wees wat bedoel is vir die toekoms. God sal nooit vir jou woord gee wat in stryd is met die Bybel nie.
- Indien daar van die woord wat jy ontvang het is wat bots met die Woord van God, kan jy daardie woord maar skrap. God se woord kan nie een ding sê en jou dan leiding gee om die teenoorgestelde te doen of iets wat bots met sy woord nie.
Bid:
Vader, baie dankie vir u Woord wat lewend is. Wil U meer en meer u Woord vir my oopbreek en aan my u volle waarheid openbaar. Heilige Gees, ek nooi U om die Woord aan my te openbaar, maar help my om te kan onderskei tussen wat van U kom en wat nie van U is nie. Heilige Gees, wil U die Seun en Vader aan my openbaar. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek ontvang die Lewende Woord in my lewe. Dit gee my lewe en vernuwe my daagliks om tot eer van Vader te lewe. Dit rig my, stig my, leer my, vertroos my en is die anker van my geloof.
Aanbidding:

Dag 3: Waar die Heilige Gees is, is daar groei
Water (reën/dou/rivier/lewende water) is die simbool wat in die meeste in die Bybel gebruik word vir die Heilige Gees. Ons sien dat die reën/dou die aarde/grond benat en dat die plante groei. Dit bring vrugte en sade voort wat in die mens se kosbehoeftes voorsien. Dit is 'n seëning en voorsien ook in ons behoeftes.
Net soos met die vlees, is dit ook die geval met die gees. Die Heilige Gees reën op die grond van ons siel en benat dit. Daar vind groei plaas en dit bring die vrugte en saad in die Heilige Gees voort. Geen groei is moontlik sonder die werking van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees openbaar God aan ons. Die Heilige Gees berei ons harte voor om God te ontvang. Hy laat die Woord van God in ons harte ontkiem en groei. Die Heilige Gees bring ons in die regte verhouding met God.
Ná wedergeboorte word ons in die water en met die Heilige Gees gedoop. Die Heilige Gees help dat ons die vlees al meer kan neerlê soos ons vernuwe word: minder van myself en meer van God word. Ons beweeg in die seën van Abraham in deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Ons kan nie heers, deel wees van die bonatuurlike Christenlewe en geestelike hernuwing beleef sonder die Heilige Gees nie. Ons het die Heilige Gees elke dag in ons wandel met God nodig.
Elke mens het 'n keuse om die werking van die Heilige Gees in hulle lewens te herken en toe te laat, óf om die werking van die Heilige Gees teen te staan. Die Woord van God (Jesus Christus) en die Heilige Gees werk saam om God se wil in ons lewens te vervul. Altwee is nodig vir redding en groei.
Lees:
Mediteer:
- Is ek sensitief vir die leiding van die Heilige Gees?
- Waar en hoe het ek die werking van die Heilige Gees al beleef?
- Groei ek geestelik, of is my geestelike lewe stagnant?
- Dink na oor die rol wat die Heilige Gees vandag in jou lewe speel. Die Heilige Gees is ons Helper en is sentraal in ons Christenbestaan. Dit is waarom Jesus Christus gesê het dat Hy na die Vader moes gaan en vir God die Vader vra om vir ons die Helper, die Heilige Gees, te stuur. God die Vader en Jesus Christus het geweet dat ons nie 'n oomblik kan staande sal kan bly, groei en heers, sonder die Heilige Gees nie. Beleef jy jou afhanklikheid van die Heilige Gees? As jy meer van die Heilige Gees in jou lewe soek, bid daarvoor. Dit is 'n gebed wat God graag beantwoord, want dit is sy plan en wil vir ons.
Bid:
Abba Vader, baie dankie vir u Heilige Gees wat U vir ons gestuur het. Ek wil U loof en prys en u Naam verheerlik. Dankie vir u goedheid en guns. U is liefde bo my begrip. Dankie Vader dat U geweet het dat ek u Heilige Gees elke dat so nodig het. Dankie Heilige Gees vir u kosbare leiding, waarskuwing oor die planne van die vyand, bewusmaking van u kragtige werking, asook elke Woord van God, openbaarmaking van God se plan in my lewe, en die toerusting om dit dan te leef. Ek bid vir meer van U in my lewe elke dag. Help my om elke dag meer van my en my eie agenda neer te lê en vul my meer en meer met u Heilige Gees. Help my elke dag met heiligmaking en gehoorsaamheid. Ek is lief vir U. Dankie dat U my eerste liefgehad het. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Elke Woord wat uitgegaan het oor my lewe sal in vervulling kom deur die kragtige werking van die Heilige Gees en my lewe sal gekenmerk word aan die vrugte van die Gees. Ek sal 'n lewe leef wat eer aan God bring deur die werk van die Woord en die Heilige Gees in my lewe.
Aanbidding:

Dag 4: Hoekom loop ons die rus mis?
God het bedoel dat die mens in God se rus sal ingaan. God is nie 'n mens wat moeg raak en daarom moet rus nie. Die Bybel sê God raak nie moeg nie en God sluimer of slaap nie. Die rus waarvan hier gepraat word, is die rus ná 'n afgehandelde taak. God het die aarde en alles daarop in sewe dae geskape en op die sewende dag het Hy gerus. Die werk was afgehandel. Die rus van God is deur geloof. Geloof is die posisie waarin die afgehandelde werk van God my laat. Daar is drie hoofredes waarom ons die rus van God misloop:
Die boom van kennis van goed en kwaad: Adam en Eva het in die tuin die vrug van die sonde geëet en hulle heerskappy op aarde aan die vyand gegee. Alhoewel Jesus Christus vir ons 'n weg aan die kruis gebaan het om ons geregtigheid in Christus terug te kry, bly dit 'n keuse. Baie kinders van God kies steeds die vrugte van sonde.
Ongeloof: Die volk van Israel het in die woestyn omgekom en God sê 'n paar keer in Hebreërs 4 dat hulle nie in sy rus sal ingaan nie, weens hulle ongeloof. Hulle het alles gesien wat God gedoen het en steeds het hulle nie geglo nie. Ons kan maklik dink: How could they? Nogtans, ons hét Jesus Christus en die Heilige Gees - en steeds glo baie mense nie in die afgehandelde werk van God nie.
Godsdiens: Baie mense weet van die werk wat Jesus Christus aan die kruis gedoen het en dat ons gered word deur genade as ons Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aanneem. Hulle voel dat dit nie genoeg kan wees nie. Ek móét darem elke Sondag kerk toe gaan. Ek móét darem hard werk in die Koninkryk en mense moet kan sien dat ek werk en getrou is. Soos die oudste seun in die verhaal van die verlore seun wat vir sy pa sê dat hy al die jare so harde gewerk het vir sy pa en getrou was. Dit maak nie van hom 'n beter kind van sy vader nie. Hy staan in die afgehandelde werk van sy vader, maar omdat hy dit nie besef nie, loop hy sy kindskap mis.
Lees:
Mediteer
- Het jy al die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis ten volle vir jou lewe aanvaar? Dit beteken ook dat jy heerskappy oor jou lewe en jou hele wêreld kan terugneem.
- Het jy al in 'n plek van heerskappy gekom?
- Glo jy met alles in jou aan die afgehandelde werk van God, of probeer jy nog om God met jou lewe of werke te beïndruk?
- Dink daaroor na of jy rustig oor jou lewe is en of jy vrymoedigheid teenoor Vader het? Indien nie, is dit dalk moontlik dat jy nie daarvan oortuig is dat Jesus se werk aan die kruis vir jou genoeg was nie?
Bid:
Vader, ek maak vandag 'n keuse om 100% te vertrou op die afgehandelde werk van Jesus aan die kruis. Ek laat vaar my eie pogings om U te beïndruk. Dankie Vader dat ek kan rustig raak oor my lewe en my redding, omdat dit nie van myself afhang nie, maar alleenlik van u afgehandelde werk. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek lewe en het vrede voor Vader. Ek gaan met vrymoedigheid na Vader omdat ek vry en skoongwas is. Heerskappy en rus is my erfdeel.
Aanbidding:
Brook Ligertwood – Honey in the Rock (with Brandon Lake)

Dag 5: Geloof is die sleutel
Dit wat mens in jou gedagtes en in jou hart glo, is jou waarheid en dit bepaal jou hele lewe. Ek kan alleenlik in die rus van God ingaan wanneer ek glo dat die afgehandelde werk van God aan my behoort en ek dit aanvaar, wanneer ek toelaat dat my hart en gedagtes vernuwe word, en wanneer ek my posisie as kind van God met al die beloftes, waarhede en profesieë inneem. Afgesien van wat in die wereld gebeur, het ek het 'n vaste vertroue dat God my in sy hand hou en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hy liefhet.
Kyk na die afgehandelde werk van God: die skepping en die kruiswerk, die opstanding en die hemelvaart. Geloof in die afgehandelde werk van God plaas my in ‘n posisie van rus. My toekoms is vas en my God is my vaste rots.
Ons kan met vrymoedigheid na God gaan. Daar wag 'n feesmaal van versoening, verlossing en voorsiening op ons. Kyk na die psalmdigter in Psalm 23. Kyk na die verlore seun wat huistoe gekom het. Daar is 'n feesmaal waar ons die afgehandelde werk van God kan vier en in God se rus kan wees.
Ons kan niks byvoeg by die werk wat God reeds gedoen het nie. Ons werk is om die goeie nuus te versprei van dit wat God reeds gedoen het, en om deur die Heilige Gees instrumente in God se hand wees, sodat soveel mense as moontlik tot geloof kan kom en in God se wonderlike rus kan ingaan.
Maak vas wat jy glo, want dit is jou fondasie en dit bepaal jou hele lewe.
Lees:
Mediteer:
- Vra jouself die vraag af aan die einde van die reeks: Is ek in God se rus, Shalom of Sabat?
- Is ek werklik op 'n plek waar ek kan sê dat ek rustig is oor my toekoms, en spesifiek oor die lewe na die dood?
- Jy kan net werklik in rus wees as jy ten volle vertrou op die afgehandelde werk van Jesus en geen vertroue op jou eie pogings en eie werke plaas nie.
- Besef vir eens en altyd dat jy jouself nie kan red nie, en gaan die Vader se afgehandelde rus in.
Bid:
Vader, ek lê my eie pogings neer en besef dat ek niks kan doen om U te beïndruk nie. Dankie dat ek nou in U rus kan ingaan en saam met U kan rus oor my lewe en my toekoms.
Bonus: Spreek Lewe!
Van vandag af spartel en spook ek nie meer om myself voor Vader te bewys nie. Ek rus omdat Hy alles gedoen het wat vir my nodig is om wedergebore en skoon gewas te wees. Ek gaan met vrymoedigheid na Vader.
Aanbidding:
This I Believe with Lyrics – The Creed Hillsong Worship