Go Deep 03 Julie 2022

 jametlene reskp i2Q9Tlp2os0 unsplash

It’s Done!

Nevile Goodchild

Verstaan die afgehandelde werk van Jesus!

 

Dag 1: Heel en heilig

Die skeppingswerk van God kan oral in die hele Bybel raakgelees word. Dit is 'n getuienis van herstel wat oor al die eeue heen herken en gevier kon word. God het die woes en leë wêreld gesien en het dit kom herstel. Hierdie getuienis is ook ‘n getuienis van wat God in ons lewens doen.

Alle mense is in sonde gebore en diegene wat vandag Christene is, het uit 'n lewe van sonde gekom. Paulus beskryf vir ons die effek hiervan in Efésiërs 1:4: “God het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heel en heilig voor Hom te wees...” Hierdie was deel van God se oorspronklike doel en beplanning voordat die wêreld geskep is.

Reeds voor die skepping plaasgevind het, het God ons al uitverkies en voorbeskik (Efé. 1:5) om as sy kinders deur Jesus Christus aangeneem te word. Jou uitverkiesing was nie net vooruit beplan nie, maar Vader God het vreugde geneem in die beplanning van jou lewe en uitverkiesing, soos wat Paulus in Efé. 1:5 skryf “... na die welbehae van sy wil.”

Maar waardeur is ons heel en heilig gemaak? Ons kan soms verkeerdelik aanneem dat die heelmaking wat ons nodig het, deur die liefde van ons Here kom, maar dat die heiligmaking deur die wet kom. Dis belangrik om te sien wat Paulus deur die inspirasie van die Heilige Gees in Efé. 1:4 skryf: “... soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”. Beide heelmaking en heiligmaking vind plaas deur die verstaan en ontvangs van genade. Die wet se tyd is verby. Jesus het nie die wet verwyder nie, maar Hy het dit eenmalig gedoen. Nou kan ons deur genade die volheid van God se oorspronklike plan ontvang en uitleef.

Lees:

Efé. 1:4-5

Mediteer:

  • Wat verstaan jy van heelmaking en heiligmaking?
  • Wat dink jy is nodig sodat jy heel en heilig gemaak kan word?
  • Die woord sê dat jy heel en heilig gemaak word voor Vader God in sy liefde. Daardie liefde verwys na sy genade, want aangesien Hy vir jou lief is, het Hy vir jou genade gegee om die wet, wat ons gediskwalifiseer het, te vervang. Om genade te ontvang, is dit slegs nodig dat jy vir die Here vra om jou te vergewe. Hy is getrou om te vergewe en jou te herstel!

Bid:

Vader God, U beplan net die beste vir my. U het beplan dat ek gekies sou word om as u kind aangeneem te word. Dankie dat ek deel kan raak van u familie. Heilige Gees, help my om volgens die genade van Jesus te leef en nie meer volgens die wet nie. Herinner my aan die werk wat Jesus klaar afgehandel het aan die kruis, wat my heel en heilig maak. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus se liefde en genade maak my heel en heilig om ‘n lewe in oorvloed te kan lewe!

Aanbidding:

When I Lost My Heart To You (Hallelujah) - Hillsong UNITED

 jose castillo mBWjDIHnVA4 unsplash

Dag 2: Die siklus van godsdiens

Daar is 'n sterk pertinente denkpatroon wat ons kan verhinder om geestelik te groei. Wanneer ons nie genade verstaan en met die wet klaarmaak in ons lewens nie, kan ons vasgevang raak in die denkpatroon van werke. Onbewustelik vind ons onself op 'n plek waar ons uit ons eie krag probeer om alles reg te doen om ons toelating na die teenwoordigheid van die Here te gee, terwyl ons reeds deur die werk van Jesus vrye toegang ontvang het.

Godsdiens veroorsaak ‘n siklus wat ons sal weghou van die vryheid wat God deur sy Gees belowe. Hierdie siklus begin altyd by selfpoging. Self-poging lei na mislukking. Mislukking lei na frustrasie en frustrasie veroorsaak 'n nuwe selfpoging. So begin die siklus van voor af. Terwyl so baie mense vasgevang is in hierdie siklus, wat die vryheid, lewe en vreugde uit ons lewens steel, het Vader God bedoel dat ons op die afgehandelde werk van Jesus moet staatmaak.

Jesus het een keer aan die kruis gesterf en het een keer uit die dood opgestaan. Hy is nou vir ewig langs God die Vader op die troon aan die Vader se regterhand. Ons kan nie vrykom uit ‘n lewe vol mislukking en frustrasie deur nog selfpogings nie, maar deur te onthou van Jesus se afgehandelde werk. Hy het die las van die wet gedra sodat ons deur sy perfekte offer vrygemaak kan word en vrylik in 'n verhouding met God kan leef.

Lees:

Heb. 10:9-12

1 Joh. 1:9

Mediteer:

  • Wat is jou benadering tot 'n lewe van geregtigheid? Is dit gefokus op werke, of op genade?
  • Dit wat goed is en getuig van ‘n lewe van geregtigheid hoef nooit moeite te wees nie, dit is eerder ‘n reaksie wat geaktiveer word wanneer die genade en liefde van Jesus ontdek word.

Bid:

Vader God, help my om my vooropgestelde idees oor godsdiens neer te lê en die genadewerk van Jesus te ontvang. Daarin lê die krag om my lewe te verander. Heilige Gees, kom ontwikkel die vrugte van die Gees in my lewe sodat my lewe meer en meer belyn sal word met God se wil. Ek loof en prys U, Here! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is vrygemaak van die las om goeie werke te doen sodat ek toegang na Vader God kan kry. Jesus het klaar vir my die weg gebaan en die deure wawyd oopgemaak!

Aanbidding:

I Choose To Worship - Rend Collective

 Capture05jul2022

Dag 3: 'n Seun kom terug

Jesus vertel 'n bekende storie in Lukas 15, wat na die skepping verwys. God het 'n wêreld gesien wat Hy perfek geskape het: dit was woes en leeg, as gevolg van die duiwel se invloed. In hierdie verhaal lees ons van 'n seun wat kosbaar was vir sy pa, maar hy het gekies het om sy pa dood te wens en wou reeds sy erfporsie van sy pa opeis. Nadat hy die erfporsie gekry het, het hy dit op verderflike dinge gaan vermors.

Na verloop van tyd het hierdie seun die einde van sy onbesonne lewe bereik en hy moes 'n keuse maak: om in sy ellende te sterf, of om terug te gaan na sy pa toe en die oordeel te ontvang wat hy verwag het. Hy kies om terug te gaan na sy pa toe. Met sy terugkoms wag sy pa hom in, sien hom reeds van ver af aankom en hardloop hom tegemoet. Die seun het die las van godsdiens op homself geplaas en was van voornemens om sy vader om verskoning te vra en was bereid om verder vir hom as 'n slaaf te werk.

Die vader (jou Hemelse Vader) het net een ding in gedagte gehad: om die terugkoms van sy seun te vier. Nog voordat sy seun iets kon sê, gee die vader reeds aan sy diensknegte opdrag om hom met geskenke te verwelkom. Hy gee nie aan sy seun kans om op veroordeling aanspraak te maak nie. Die vader het sy seun met liefde en in genade terugontvang en hom gesien in die lig van wie hy was en nie vir dit wat hy gedoen het nie.

Jou goeie werke en jou slegte optrede is nie deel van God se visie van jou nie. Hy sien wie jy is en hy het jou lief in die lig van daardie waarheid. Wie is jy? Jy is God se beminde, sy geliefde kind en sy vreugde. Hy sien jou as die persoon wat Hy bedoel het jy moes word. Hy sien nie jou tekortkominge raak nie, maar wel  jou geestelike potensiaal en jou volkome herstelde lewe!

Lees:

Luk. 15:21-24

Mediteer:

  • Hoe voel jy in jou verhouding met die Here? Ken jy Hom as ‘n Vader?
  • Wat sukkel jy om te verstaan of te glo in verband met God se gedagtes oor jou?
  • Wanneer ons genade by Jesus ontvang het, sien Vader God die beeld van Jesus wanneer ons na Hom toe gaan. Hy sien ons in sy Beeld en Gelykenis en as mense wat gemaak is om te heers.

Bid:

Vader God, dankie dat U my terugontvang en my geliefd laat voel. Ek wil U beter leer ken. Wys vir my u hart en u liefde op meer intieme maniere. Heilige Gees, help my om sensitief te wees vir die stem van my Vader wat sy waarheid oor my spreek.

Bonus: Spreek Lewe!

Die genade van Jesus wat my in Vader God se teenwoordigheid toelaat en my na my geregtigheid herstel, gee vir my die krag om te verander!

Aanbidding:

I Am Your Beloved & Running Home - Jonathan David & Melissa Helser

 Capture06Jul2022

Dag 4: Die eerste kleed

As gevolg van die genadewerk van Jesus ontvang Vader God almal wat na Hom toe terugkeer in liefde. Wanneer ons vergifnis by Hom vra, verwyder Hy ons oortredinge van ons so ver as wat die ooste verwyderd is van die weste. Dit is meer as net vergifnis:  Ons word herstel na God se oorspronklike plan vir ons lewens. Ons word weer geregtig gemaak in Jesus.

Die verlore seun het by sy vader aangekom en gevra of hy eerder as 'n slaaf vir sy vader kan kom werk. Die las van sy oortredinge en die idee dat hy veroordeel sou word, het sy persepsie oor sy eie selfwaarde aangetas. Die seun se eie siening van homself was baie minder in vergelyking met hoe sy vader hom gesien het. Die eerste geskenk wat sy vader aan hom gegee het, wys vir ons die hoë agting wat hy vir sy seun gehad het.

“Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete” (Lukas 15:22).

Die oorspronklike betekenis van die “beste kleed” is in werklikheid die "eerste kleed”. Dit was nie bloot 'n gewone kleed nie, maar meer 'n spesiale mantel soos bedoel vir 'n koning. Dit verwys nie slegs na 'n koninklike mantel nie, maar ook na die oorspronklike kleed wat die seun gedra het voordat hy weggeloop het. Dit was 'n kleed wat aangedui het dat hy die seun van daardie vader was. Wanneer mense die seun met daardie kleed aan gesien het, het hulle geweet hy is die seun van daardie vader.

Vader God herstel jou weer volgens sy oorspronklike plan vir jou: Om volgens sy Beeld en Gelykenis geskape te wees om te kan heers. Hy herstel jou na die beeld waarvolgens jy vóór die sondeval bedoel was. As gevolg van die afgehandelde werk van Jesus kan jy glo dat jy volledig volgens God se Beeld en Gelykenis herstel is, en jy kan dit vier. Wanneer jy dit in geloof vier, beëindig jy jou siklus van self-pogings.

Lees:

Ps. 103:12

Luk. 15:21-24

Mediteer:

  • Wat glo jy oor jouself en jou posisie in Jesus?
  • Petrus leer ons dat dit belangrik is om te onthou van jou bekering. Wanneer jy onthou wat Jesus vir jou gedoen het en jy vier dit, maak dit jou vry van die las om werke te moet verrig.

Bid:

Vader God, dankie dat U my vergewe en herstel na dit wat U oorspronklik vir my bedoel het. Ek wil vier wat U klaar vir my gedoen het! Heilige Gees, herinner my aan Jesus se woorde vir my lewe en sy goeie werke. Dankie dat ek vrygemaak word wanneer ek fokus op dit wat Jesus klaar afgehandel het aan die kruis, vir my. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek word vrygemaak deur die afgehandelde werk van Jesus!

Aanbidding:

Battle Belongs - Phil Wickham

 ray hennessy gdTxVSAE5sk unsplash

Dag 5: Viering van genade

“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:15).

Dit maak nie saak hoe ver ons val of hoe baie ons gesondig het nie, diegene wat na Vader God toe terugkeer, word herstel. Wanneer ons wedergebore is, ontvang ons nie alleenlik die eerste kleed wat ons gehad het voor ons geval het nie, maar ons ontvang die Heilige Gees, die Gees van aanneming as kinders van God. Dit is die grootste geskenk wat ons deur genade ontvang: God se teenwoordigheid by ons elke dag in die persoon van die Heilige Gees.

Dit is hierdie einste Heilige Gees wat begin om vry te maak. Jesus sê dat die Heilige Gees ons sal herinner aan alles wat Jesus gesê het. Hy sal ons nie net herinner aan wat Jesus gesê het nie, maar ook aan die goeie werke, wonderwerke, genadewerk, goedheid en guns van ons Here. Terwyl ons onthou van alles wat Jesus vir ons gedoen en vrylik gegee het, vind ons vryheid van die vrees wat deur ons self-pogings veroorsaak word. Daarom sê Paulus dat ons nie 'n gees van slawerny ontvang het nie.

Ons ontvang hierdie vryheid slegs as ons God se perfekte liefde vir ons verstaan. Dit is waaraan die Gees ons herinner wanneer Hy bevestig dat ons as kinders van God aangeneem is. “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie”( 1 Johannes 4:18). Al wat ons moet doen, is om te glo in die liefde van ons Vader, in die genade van Jesus, en om die Heilige Gees toe te laat om ons te herinner en ons terug te vat na die afgehandelde werk van Jesus.

Lees:

Rom. 8:15

1 Joh. 1:9

1 Joh. 4:18

Mat. 5:3 NLV

Mediteer:

  • Glo jy dat jy die Heilige Gees, die Gees van aanneming tot kinders ontvang het?
  • Vra vir die Here om jou te help om te sien of daar enige leuens in jou lewe is wat jy oor die Heilige Gees glo.
  • Sukkel jy daarmee jy om te glo dat God jou liefhet en jou nie wil bestraf of veroordeel nie?

Bid:

Vader God, ek verstaan nog nie ten volle hoe U my liefhet nie. Daar is tye wanneer ek vrees vir oordeel en straf, of selfs begin glo dat ek besig is om gestraf te word. Ek kies om te glo dat U my liefhet en dat U vir my u Heilige Gees gestuur het sodat ek u kind kan wees. Heilige Gees, herinner my aan die goeie werk van God in my lewe. Leer my en wys my hoe lief Vader God my het en hoe U betrokke is om vryheid in my lewe te bring. Ek loof en prys u Here! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek is nie meer ‘n slaaf van vrees en oordeel nie, ek is ‘n kind van God en het die volheid van sy liefde in my lewe ontvang!

Aanbidding:

No Longer Slaves - Jonathan David and Melissa Helser