Go Deep 31 May 2026

Die Geesvervulde Lewe

De Villiers Nel

Leef Gees geïntegreerd

Dag 1: ‘n Masker vir elke rol

Ongeveer 250 voor Christus was daar teaters in party van die dorpe waar die inwoners kon gaan kyk het na ‘n vertoning van die nuutste Griekse tragedie. Die halfmaan teaters was uit klip gekap en so teater het bekend gestaan as ‘n odeon. Die klank het van die klippe af weerkaats en dit het nie saak gemaak waar jy in die teater sou sit nie, jy sou duidelik die woorde van die akteurs kon hoor. Die akteurs het eenvoudige, niksseggende kostuums aangehad, maar die belangrikste deel van die kostuums was ‘n groot masker met ‘n oordrewe gesigsuitdrukking. Die masker het die identiteit van die karakter wat opgevoer word geopenbaar aan die gehoor. Die persoon wat die rol vertolk neem dan die identiteit van die karakter aan wat hy uitbeeld. Die akteur is dus nie homself nie, maar verander sy optrede om die identiteit van die rol wat hy vertolk aan te neem. Die Griekse naam vir diè akteurs was ‘hypokrites’. Dit beteken letterlik iemand wat ‘n masker dra.

Hypokrites – hypocrite – skynheilige.

Wanneer ons aan Jesus dink en aan die woord ‘hipokrites’, maak ons onwillekeurig die konneksie met die Farrisieërs en skrifgeleerdes. In Matt. 23:27 en 28 sê Jesus vir hulle dat hulle soos witgepleisterde grafte is. Mooi aan die buitekant, maar lelik aan die binnekant. Hulle lyk vroom voor die mense en geniet hulle aansien. In Matt. 6:5 verwys Jesus na die Farrisieërs as skynheilig en dat hulle op die straathoeke en sinagoges gaan bid om deur mense gesien te word en aansien te verkry. Die Here sê dat as ons op aarde die aansien van mense gesoek het, het ons ons loon reeds weg.

‘n Mens dra ‘n masker om ‘n ander identiteit uit te beeld en om jou eie identiteit te verbloem. Ons hou nie van die idee dat iemand ‘n masker dra en ons om die bos lei met wie hulle voorgee om te wees nie. Dit voel soos ‘n leuen, ‘n bedrogspul. Ons moet egter net ‘n oomblik mooi gaan dink of ons altyd dieselfde is, maak nie saak waar ons is of by wie ons is nie. In ons menslikheid sal en sondige natuur is ons baie keer geneig om maskers te dra en ‘n ander identiteit aan te neem as wie ons werklik is.

Is ek dieselfde persoon Sondag by die kerk, Maandag in die verkeer, vanmiddag as ek moeg en geïrriteerd by die huis kom, by die braaivleis vuur, as my vriendin my vertel hoe iemand haar ingedoen het of seergemaak het, as iemand my vals beskuldig, as ek erg onder stres is?

Watter een van die karakters is ek werklik? Hoeveel maskers het ek en hoekom? Wat het die Heilige Gees hiermee te doen? Dit is van die vrae wat ons die week gaan antwoord.

LEES:

Matt. 6:5

Matt. 23:27 en 28

Mediteer:

  • Dra ons nie almal soms ‘n masker nie? Dink hieroor en wees eerlik met jouself. In watter omgewings sal jy anders wees as wie jy regtig is?
  • Hoe voel jy as jy uitvind iemand dra ‘n masker voor jou?
  • Dink jy dit is moontlik om heeltemaal sonder ‘n masker te leef?

Bid: 

Vader, ek besef dat ek ook soms ‘n masker op het en dat ek ook partykeer voorgee in sekere omgewings. Vader wil U my kom leer deur U Gees hierdie week om so vry te leef in U Gees dat ek van nature sonder ‘n masker kan leef. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Kerk gebeur waar daar geen maskers is nie.

Aanbidding:

Casting Crowns – Start Right Here (Single Version) (Official Lyric Video)   

Dag 2: “Tell-tales”  - Groei of stagneer jou geestelike lewe

Soos wat hulle naam sê vertel die ‘tell-tales’ ‘n storie. ‘Tell-tales’ is ‘n stel toutjies wat aan weerskante van ‘n seil op ‘n seilboot aangebring word en wat ‘n aanduiding gee van die vloei van lug aan weerskante van die seil. Die toutjies moet gelyk agtertoe staan en sal dan daarop dui dat die wind aan weerskante van die seil ewe sterk vloei. Wanneer die toutjie aan die eenkant wapper en aan die anderkant gelyk agtertoe staan is die vloei nie dieselfde nie en sal die seilboot stagneer. ‘n Ervare seilboot vaarder sal die heeltyd die wind en die ‘tell-tales’ dophou om die seile aan te pas en die vloei van die wind aan weerskante te balanseer. Dit veroorsaak die maksimum spoed.

In ons geestelike lewe loop ons ook die gevaar dat ons kan stagneer as die geesvloei in ons lewe nie gebalanseerd is nie. By wedergeboorte ontvang ons die Heilige Gees en moet ons toelaat dat die Heilige Gees ons lei om in Christus vernuwe te word in ons geestelike en sekulêre lewe. Slegs deur die werking van die Heilige Gees sal ons dit kan regkry om nie anders te leef en op te tree die res van die week as wat ons op Sondag by die kerk is nie. Dit gebeur byvoorbeeld indien ons Sondag by die kerk baie vroom, geestelik en godsdienstig optree en net die volgende oomblik ons humeur verloor in die verkeer. Hoe ons optree by die kerk, werk en by die huis, tussen vriende, ou kennisse sal net gebalanseerd wees en getuig van egtheid indien ons die Heilige Gees in ons lewe het wat ewe sterk vloei in alle omstandighede. Met die Heilige Gees se werking in ons lewe sal die ‘tell-tales’ in ons lewe wys dat ons Sondag en in die week dieselfde persoon is wat een identiteit het. As mens alleen kan ons dit nie regkry nie, maar alleen deur die Heilige Gees kan ons geestelik groei. Dit is 'n proses van heiligmaking en ons moet soos die ervare seevaarder die 'tell-tales' in ons geestelike lewe dophou. Indien ons nie die seile aanpas nie, sal ons stagneer. Die gevaar is dat ons geestelik sal stagneer en sal dan besef dat ons jare na ons bekering, geestelik nog op presies dieselfde plek is waar ons was toe ons tot bekering gekom het.

Lees:

Rom. 8:1-7

Mediteer:

  • Watse storie vertel die “tell tale” van jou lewe?
  • Is dit vir jou moeilik om jou twee wêrelde te balanseer dat jy altyd dieselfde is?
  • Dink aan die stelling: “ek moet in die Gees lewe en nie in die vlees nie”

Gebed:

Vader ek erken dat dit vir my ook soms moeilik is om altyd in die Gees te lewe, daar is tye wat ek ook ‘n masker ophet na gelang van die oomblik. Heilige Gees wil u my kom leer om U meer en meer toe te laat om deur my te leef sodat ek van nature U vrug kan dra.  Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Deur die Gees dra ek vrug van nature en nie deur moeitevolle arbeid nie!

Aanbidding:

Oceans (Where My Feet May Fail) – Hillsong UNITED – Live in Israel

 

Dag 3: Roeiboot teenoor ‘n seilboot

Die roeiboot beweeg net vorentoe wanneer die persoon in die boot met roeispane roei. Dit is harde fisiese werk en sodra die persoon ophou roei staan die boot weer stil. Indien jy dus met ‘n roeiboot iewers heen gaan, gaan jy stadig beweeg en dit gaan met moeite en harde arbeid gepaart gaan.

Die seilboot daarenteen kan deur die seile die windkrag gebruik om die boot vorentoe te trek. Dit gaan gepaard met tegniek en vaardigheid, maar dit is die moeite werd. Die seilboot vaarder moet die wind ken en weet wat die wind doen. Dan kan hy die wind se krag optimaal gebruik en baie meer doen as wat menslik moontlik is. Die seilboot beweeg vinniger en dit beweeg sonder konstante vermoeiende insette van die persoon wat vaar met die boot.

Die roeiboot word hier as ‘n metafoor gebruik vir iemand wat uit hulle eie wil baie graag reg wil lewe en wil doen wat volgens hul oortuiging wetties en Christelik korrek is. Die roeiboot verwys na wettisisme. Sonde en skande dryf ons as mense om onsself te wil bewys en verdedig. As ons nie die genadeboodskap verstaan nie sal ons oorslaan na prestasie georiënteerdheid. Ons sal harder werk om ons eie saligheid en vergifnis te probeer verdien met ons harde werk en met baie moeite en tyd. Die probleem is dat ons nooit by ‘n punt sal kom wat dit genoeg is nie. Die oomblik as ons ophou roei, staan ons weer stil. Dit maak my ‘n slaaf van die wet, want die Woord is baie duidelik dat ek sonder God niks kan doen wat goed is nie en my beste werke is soos vuil lappe. Ek vertrou net op my eie insette en insig. Ek ken nie die Heilige Gees nie en laat nie die Heilige Gees toe om my te lei nie.

Ons het gehoor dat die Heilige Gees vergelyk word met die wind wat die seilboot trek. Die Heilige Gees staan hier gelyk aan die evangelie van redding, genade, Goddelike krag, bonatuurlike insig en ingryping. Onder die genade kan ons vry en in dankbaarheid lewe vir die redding wat God die Vader in Jesus Christus vir ons bewerk het. Ons kan geestelik groei en ons kan die leiding van die Heilige Gees volg. Met wedergeboorte ontvang ons die Heilige Gees en ons identiteit verander van sondaar na kind van God. Ons tree op vanuit ‘n posisie van kind wees en nie vanuit die posisie van sondaar wat gebuk gaan onder die las van sonde en veroordeling nie. Onder die wet ‘moet’ ons en as ons gered is ‘wil en mag’ ons. Die seilboot is dus ‘n metafoor vir iemand wat gered is, hulle posisie verstaan as kind van God en wat die Heilige Gees toelaat om hulle te lei en vrug voort bring in hulle lewe, wat spruit uit hulle verhouding met God. Dit is nie iets wat geforseer is nie, maar wat natuurlik kom as ons saam met die Heilige Gees funksioneer.

Lees:

Rom. 8:1-7 en 12-16

Mediteer

  • Is jou Christenskap of ook dan jou strewe na ‘n heilige lewe moeitevolle arbeid of kan jy getuig dat jy, sonder enige inspanning uit die self, vrug dra wat by die kindskap van Vader pas?
  • Sien jou eie christelike wandel en antwoord jouself eerlik op volgende vraag; “Is my christelike lewenswandel ‘n seilboot of ‘n roeiboot?”
  • Hoe sien jy jouself voor Vader? Staan jy voor Hom ontspanne, met die wete dat jy vry is en dat jy ‘n nuwe identiteit gegee is? Of sien jy jouself as iemand wat steeds elke dag hard moet werk om voor Vader te verskyn?

Gebed:

Dankie Vader dat ek kan vry wees en nie onder die juk van werke staan nie. Dankie Vader dat ek nie voor U moet “perform” nie maar dat ek deur die Gees in vryheid kan leef. Help my om so oorgegee te wees aan Die Gees dat ek sonder moeitevolle arbeid ‘n vrugtevolle lewe kan leef.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Heilige Gees is die bomenslike bron van alles wat tot my beskikking is om optimaal te kan lewe as kind van God.

Aanbidding:

Made for More – Josh Baldwin feat Jenn Johnson

Dag 4: Meer en meer soos Jesus

'En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.' II KORINTHIËRS 3:18 (Afr.53)

'Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.'
2 KORINTIËRS 3:18 (Afr.83)

Ons kan nie tot bekering en wedergeboorte kom en dieselfde mens bly wat ons was voor dit nie. Jesus Christus se reddende krag en die Heilige Gees se krag veroorsaak dat ons moet verander. Ons maskers kom af. Ons het nie meer ‘n sluier voor ons oë nie. Ons aanskou die heerlikheid van ons Verlosser. Ons hou ons oë op Hom. Ons begin lyk soos dit waarna ons kyk. Ons neem Jesus Christus se identiteit aan en word meer en meer soos Hy.

Die maskers in daardie tyd was brons en blink. Met die gevolg dat jy jouself agter in die masker kon sien. Dit was dus wie jy was en hoe jy gelyk het, jou gebroke stukkende self. Die Heilige Gees verander jou soos wat jy op God fokus, God se heerlikheid aanskou en op God wag sonder ‘n masker. Dit is wonderlik om te weet dat God is elke dag, elke oomblik beskikbaar en nie net Sondag by die kerk nie. Elke dag en elke oomblik kan ons God soek en God beleef. Sonder die Heilige Gees is dit onmoontlik om mens se Christenskap konstant uit te leef.

Sonde en skaamte maak dat mens trots openbaar en goed wegsteek vir die liggaam van Christus wat eintlik openbaar moet wees vir die liggaam om reg te funksioneer. Hoe moet die liggaam sy ledemate bedien as hy nie weet van hulle seer of kwale nie? Ons is skaam en steek seer, vrees en aanstoot weg, sodat ‘die mense’ en die liggaam net dit sien wat ons graag wil hê hulle moet sien. So ontneem ons die liggaam die voorreg om ons in ons nood by te staan en te bedien. Ons beleef dit as swakheid, maar dit is reeds in gedeelde smarte en saamstaan wat ons die liggaam van Christus kan versterk. Ons moet dus bereid wees om weerloos, kwesbaar en eg te wees, sodat die liggaam van Christus kan intree en funksioneer soos wat die liggaam gebou is om te funksioneer. God kan nie ‘n masker seën nie.

Lees:

2 Kor. 3:18

Hand 1:8

Mediteer:

  • Sou jy sê jy het al meer in die Gees begin wandel vandat jy jou lewe aan die Here oorgegee het, maw sou jy sê jy kan gemaklik altyd dieselfde wees maak nie saak of dit Sondag of Maandag oggend is nie, sonder ‘n masker?
  • Om meer en meer soos Jesus te word is nie moeitevolle arbeid of selfpoging nie. Dit is om in die Gees te wandel. Wag jy op God en fokus op Hom, sodat Sy Gees jou kan nuutmaak en jy meer en meer God se heerlikheid kan weerspieël.
  • Wat verstaan jy van die stelling; “om in die Gees te wandel”?
  • Hoe kom jy in die Gees?

Bid:

Dankie Vader dat ek meer en meer soos U kan word as ek bereid is om in die Gees te wandel, die maskers te laat gaan en weerloos en blootgestel voor U te staan. Help my om dit te verstaan en om  U Gees toe te laat om deur my en in my te werk. Vader leer my van U Gees. Amen.

Bonus: Spreek Lewe

Here U Gees verander my om meer en meer soos U te lyk en U heerlikheid te weerspieël.

Aanbidding:

John Wailer –  “While I’m Waiting” feat. Scenes from Fireproof

Passion, Kristian Stanfill, More like Jesus (Live)

Dag 5: ‘Mission Possible’

‘maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. ' HANDELINGE 1:8'

Paulus sê vir die kerk dat hy na hulle kom in die krag van die Heilige Gees. Die Gees werk konstant in en om ons, om ons as Christene te verander om meer en meer soos Christus te laat lyk en wees. Wie ek werklik is, is my identiteit in Christus wat die Gees van God in my opwek, onder die masker. Ek is kind van God. Ek moet sensitief wees vir die Heilige Gees en kwesbaar wees. Ek moet bereid wees om myself neer te lê om God toe te laat om in my te werk.

Koning Dawid was ‘n magtige koning en die Here het hom groot mag gegee. Dawid het ten spyte van enige iets in sy lewe, altyd na God teruggekom en sy sonde bely en genade ontvang. Uit Dawid se Psalms kan ons sien dat Dawid kwesbaar was voor God en dat Hy altyd weer God se aangesig gaan soek het. Dit is ook geen wonder dat God vir Dawid ‘n man na Sy hart genoem het nie. Dawid het na God gegaan in berou oor sonde en God se aangesig gaan soek. Dawid het God se teenwoordigheid gesoek en gevind in egtheid en verootmoediging. Hy was eg voor God en het nie voorgegee nie. God kan nooit seën wat ons voorgee om te wees nie. Hy sien die bedoelinge van ons hart en werk daarvolgens met elkeen van ons.

Ons het die Heilige Gees nodig om ons krag te gee vir die lewe en die groot opdrag van God. Ons moet altyd onthou dat dit maak nie saak hoe gewild of suksesvol ‘n mens word nie, ons sal altyd net in die Heilige Gees krag die lewe kan lei wat God vir ons bedoel het. Alleen kan ek nie en lyk alles te groot vir my. Met die Heilige Gees raak 'Mission Impossible', 'Mission Possible'.

Lees:              

Hand 1:8

Mediteer:

  • Is ek eg?
  • Gee ek voor?
  • Vader kan net seën wat eg is.
  • Kan jy soos Dawid eg en eerlik voor Vader staan?
  • Beleef jy dat jy die krag van die Gees ontvang het om deel te neem aan die groot opdrag?

Bid:

Vader wys my waar ek nie eg is nie en dalk met ‘n masker rondloop. Vader leer en help my om altyd oop en bloot eerlik voor U te wees. Vader vul my ook met u Gees se krag om vrymoedigheid te hê om deel te neem aan U koninkryk. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek sal krag ontvang wanneer die Gees oor my kom en ek sal Sy getuie wees in Bloemfontein, die Vrystaat, Suid-Afrika, Afrika en tot aan die uiteinde van die aarde.

Aanbidding:

Ascend Worship| Come Holy Spirit (Deep Soaking Prayer Song| Spirit Filled Atmosphere)