Go Deep 12 April 2026

DIE GOD WAT ANTWOORD

De Villiers Nel

Ontdek die krag van Christus bo tradisie

 

Dag 1: Dorre akkers en stilte

Wanneer ons 1 Konings 18 lees, besef en verstaan ons nie altyd die emosionele konteks van wat ons lees nie. Ons lees vinnig deur die hoofstuk, maar ons moet besef hoe geweldig moeilik hierdie tyd vir die mense was.

Die riviere het opgedroog. Die aarde is dors. Die grond is hard onder jou voete, en jou oë krap met die stof van jare se onbeantwoorde gebede. Jou kinders het honger gaan slaap; gehuil in die nag. Die hemel self is toegesluit, en almal kan dit voel.

Dit is al drie jaar sedert dit laas gereën het. In jou hart, begin jy glo: ‘Ons word gestraf. Ons het verkeerd gedoen. Ons God is kwaad vir ons. Hy het ons verlaat.’

Op die heuwels het geestelike leiers bymekaar gekom rondom ’n altaar. Jy en jou gesin sit en kyk vir hulle. Die hele nasie het bymekaar gekom vir hierdie gebed. Die leiers pleit totdat hul stemme ingee. Hulle dans en skree totdat hul liggame neerval. Julle kyk hoe hulle hul eie lywe sny totdat bloed oor hul arms loop. Alles vir een ding: ’n Antwoord. Vir reën. ’n God wat wil reageer.

Maar die hemel bly stil. Daar is geen geluid nie. Niemand antwoord nie, daar is geen reaksie nie.

En nou, in die stilte, staan een man op. Geen geskree nie. Geen gesny nie. Geen vertoning nie. Net ’n enkele gebed. Net ’n enkele stem wat praat oor die desperate skare.

En die ware God antwoord met vuur. En ook, met reën.

Baie van ons ken dit, of was al in so ’n situasie waar ons desperaat en dringend antwoorde by die Here gesoek het. Die desperaatheid het jou dalk al laat voel dat jy bereid is om enigiets te doen of enigiets te glo – net as dit dalk sal help, of jou nader aan die Here sal bring sodat jou gebede anders of vinniger verhoor kan word.

“En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het” (1 Kon. 18:17-18)

Baäl was die afgod wat die mense geglo het beheer het oor reën en plantegroei. Daarom roep hulle in hierdie tyd van hongersnood na Baäl. Hulle wag dat hy weer voorsien en roep desperaat met smeekgebede na hom. Elía praat hier nie net van een afgod nie. Die rede waarom Elía in die meervoud praat, is omdat elke gesin hulle eie beeld van Baäl gemaak het en dit aanbid het. Hulle het elkeen hulle eie interpretasie van hierdie god gehad.

“En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het” (1Kon.18:26).

“En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie” (Vers 29).

Die profete probeer al hoe meer en al hoe harder – alles in hulle vermoë – sodat hulle god sal reageer, maar alles tevergeefs. Hierdie gedeelte gaan aanvanklik oor die profete en hul afgod, maar as ons dieper lees, is daar vir ons meer hierin opgesluit.

Ons glo nie in Baäl nie, maar tog behandel ons God soms soos Baäl. Ons dink as ons harder werk, meer doen, meer opoffer, meer gee, harder bid, ons oë stywer toemaak, meer smekend en dringend bid, of spesifieke “regte” woorde gebruik, dán sal die Here antwoord. As ons net meer vas, meer verse aanhaal, die Bybel kan opsê, beter die reëls hou, die shabbat hou, die Joodse feeste vier, of selfs Hebreeus leer bid, dan sal God meer geneig wees om ons gebede te beantwoord.

Dit is hoe godsdiens werk.

Die waarheid is dat geen daad jou kan geregtig maak nie. Geen tradisie of wet wat jy onderhou, kan jou red of help nie. Net soos met die profete op die berg, sal geen ywer of strewe vir jou ’n antwoord bring nie:

“Daar was geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie...”

Waarom?

Omdat daar geen krag in wettisisme is nie.

Lees:

1Kon.18:1-29

Luk. 18:9-14

Mediteer:

  • Kyk na Lukas 18:9-14:
    • Is daar ’n deel van myself wat ek kan sien in die tollenaar?
    • Is daar ’n deel van myself wat ek kan sien in die Farriseer?
  • Wat is my onderliggende gevolgtrekking oor God wanneer ek dink dat ek iets moet doen, sodat God my gebede sal verhoor?
  • Wat mis ek, wanneer ek so optree en God as ’n Baäl/afgod hanteer?

Bid:

Vader, U is my God en nie my afgod nie. Ek mis dit so maklik. Here, kom werk hierdie week ’n dieper werk in my hart en gedagtes, sodat ek kragtig in U Gees wandel sonder wettisisme wat so wil inbreuk maak op my lewe. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Daar is geen krag in wettisime nie!

Aanbidding:

You Are My God – Highlands Worship

Dag 2: Mensgemaak

Dit wat die profete van Baäl gedoen het – die rituele en opofferings, die geskreeu en gesmeek – is presies waaroor Jesus die Fariseërs in latere jare aanspreek.

“.....Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mar.7:5-7). “So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het....” (Vers 13).

Jesus sê hier ’n baie swaar en uitdagende ding. Hy sê: Jy het God se Woord ongeldig gemaak en die krag daarvan gekanselleer deur jou tradisies en gebruike. Hy wys dat dit moontlik is om die krag van God – die krag in Sy Woord – in ons eie lewens nutteloos te maak deur tradisie en godsdiens.

Mensgemaakte praktyke maak altyd van God se Woord iets wat dit nie is nie. Mensgemaakte voorskrifte interpreteer God se Woord op ’n verdraaide manier. Tradisie verdraai die waarheid van God se Woord.

Tradisie en mensgemaakte praktyke kom staan tussen my en God, en ek mis God se genade heeltemal. Ek kan God nie meer duidelik sien nie, want daar is ’n muur tussen ons – die muur van wettisisme.

Ons lees die verhaal van 1 Konings 18 in parallel met dit wat Paulus in Kolossense 2 skryf:

“Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie” (Kol. 2:8 AFR20).

Om meegevoer te word, is soos om jou deur emosies te laat lei. Dit voel reg en klink reg. Jy raak verlore in daardie tipe denke, en dit voel nie verkeerd nie. Hoe weet ons dat ons meegevoer word deur filosofie en leë bedrieëry? Omdat dit mensgemaakte, aardse beginsels is – nie God se Woord-waarheid nie. Mense het dit uitgedink en tradisies daarvan gemaak.

 “... As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie” ”(Vers 18-21). 

Paulus vra: As ons saam met Christus gesterf het vir die wêreld (deur ons doop in Jesus Christus), waarom wil ons weer teruggaan na reëls en mensgemaakte praktyke?

“Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard” (Vers 22-23).

Om 03:00 in die oggend wakker te word en te bid, is nie verkeerd nie. Maar wanneer ons dit ’n vaste praktyk maak waardeur ons dink ons God se guns verdien, kan dit maklik wetties word. Daardie “moets en moenies” wat jy dink jy moet aanhou doen wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, maak jou onvrymoedig voor God as jy sukkel om dit vol te hou.

Hierdie tipe dinge is op sigself nie verkeerd nie, maar kan vinnig wetties word – net soos die dade van die Fariseërs. Dit is die reëls wat ons vir onsself opstel wat ons skuldig, teleurgesteld en onvrymoedig laat voel.

Dit is nie ’n nuwe probleem nie. Die kerk se geskiedenis is vol hiervan. Dink byvoorbeeld aan tye waar mense net swart en wit klere gedra het, of die idee dat pelgrimstogte maak dat God jou gebede beter verhoor, of dat God minder kwaad sal wees en jou sal ophou straf as jy jouself met swepe of stokke slaan. Niks hiervan maak jou méér geestelik nie. Dit het net ’n skyn van nederigheid.

Hierdie tipe denke kom vandag nog voor wanneer ons rampe aan die mens se sonde toeskryf. Daarmee verklaar ons indirek dat Christus se kruisdood nie genoeg was nie.

In tye van pyn en desperaatheid val ons maklik terug in verkeerde denke en mis wat Christus vir ons aan die kruis gedoen het. Ons dink ons kan God se arm draai sodat Hy sal ingryp – net soos die profete van Baäl.

Wat mis ons dan? Waaroor gaan dit werklik?

Ons weet nou dat daar geen krag in wettisisme is nie. Maar waarin lê die krag dan?

Lees:

Mar. 7:5-7, 13

Kol. 2:8, 18-23 (AFR20)

Mediteer:

  • Is daar reëls, praktyke of denke wat ek koester om te probeer om God se guns te wen?
  • Is daar godsdienstige tradisies wat ek volg om heiliger te wees?

Bid:

Vader, sal U my herinner aan enige mure wat ek tussen U en my gebou het; dinge wat ek heilig gemaak het in my lewe of denke en reëls wat ek probeer onderhou wat wetties is; waar ek nie U hart van genade ken nie. Ek bekeer my hart van hierdie dinge. Kom was my hart en gedagtes skoon met U liefde en waarheid. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Geen godsdienstige tradisies maak my méér heilig nie. Ek kan daardie heilige koeie slag!

Aanbidding:

Be Enthroned – Jeremy Riddle

Dag 3: Wat ons gemis het

Wanneer ons vasval in tradisies, gebruike en kultuur, mis ons die kern van ons geloof. Tradisie maak dat ons nie meer die God van liefde en barmhartigheid raaksien nie, maar eerder ’n kwaai God wat ver is. Ons siening van God verander dan volgens ons menslike reëls en interpretasies. Dit kom in die pad van ’n ware verhouding met ’n lewende God. Ons mis God se hart!

“In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het” (Kol. 2:11-14).

Jou vergifnis is onmiddellik die oomblik wanneer jy tot bekering kom. Daar is niks wat jy kan doen om vergewe te word nie. Jy is vergewe. Selfs toe sonde nog nie eers van jou afgesny is nie, selfs toe jy nog nie eers gedeel het met jou sonde nie, is jy vergewe, in Christus.

Jesus het nie net ’n déél van die straf gedra nie – Hy het ál die straf gedra wat vir jou bedoel was. Hy reinig jou met ’n ewige, tydlose en volmaakte daad wat jy nie self kon doen nie. Dit is eens en vir altyd.

Selfs in tye soos COVID, die Swart Dood, armoede, oorlog of natuurrampe – selfs wanneer alles teen jou draai en jou lewe uitmekaar val – bly hierdie waarheid staan. Die skuldbewys met al die aanklagte teen jou is aan die kruis vasgespyker, en niemand – nie eers jyself nie – kan dit weer afhaal nie.

God het jou vergewe. Sy genade oor jou is groter. En meer as dit: Hy het jou nie net vergewe nie, maar jou versoen met Homself, sodat jy in ’n verhouding met Hom kan leef. Sonder hierdie verhouding maak godsdiens, roeping en selfs die lewe self nie sin nie. Hy het sin gebring. Hy het alles openbaar gemaak en in die lig gebring.

“Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het. Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus (v.15-17).

Die werklikheid is Christus. Dit het nog nooit gegaan oor wat jy moet of nie moet doen nie. Dit het nog altyd gegaan oor Jesus. Die hele storie van die Bybel gaan oor die persoon van Jesus Christus.

God roep ons om in Christus te wees. Dit was nog altyd die punt: om deur ons eenheid met Jesus Christus in ’n lewende verhouding met ’n lewende God te leef – die God van liefde.

In Kolossense 2 sê Paulus hy weet dat daar leemtes en sonde is. Hy weet daar is dinge in jou lewe wat nie reg is nie. Maar kyk wat het ons gemis:

“Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie. Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul” (Kol.2:8-10).

Christus is die Hoof, en in Hom is jy met Sy volheid vervul. Dit is dieselfde volheid waarmee Jesus gevul is – die volheid van die Godheid. Met ander woorde: IN HOM het jy nie meer ‘n leemte nie.

Lees:

Kol. 2:8-17 (AFR20)

Mediteer:

  • Wat moet ek doen om vergewe te word vir al my sonde?
  • Wat het ek nodig om nog te doen om vergifnis te verdien?
  • Hoe kan ek ’n verhouding met die lewende God van liefde hê?
  • Hoe kan ek die volheid van God in my hê?
  • Wanneer jy Jesus deur die doopwater volg – saam met Hom sterf en opstaan in ’n nuwe lewe – word jou sondige lewe weggesny. Dan word jy lewend in Christus!

Bid:

Here, ek het dit gemis. Ek het gemis waarop dinge werklik neerkom. Ek het vir so lank gedink dat ek nodig het om die regte dinge op die regte manier te doen om U tevrede te stel. Ek het gedink dat ek die leemtes binne my moet vul met klomp ander dinge. Ek het nie verstaan dat U begeerte is om in verhouding met my te staan nie. Ek het nie verstaan dat U daardie leemtes vul nie. Ek het nie verstaan dat ek my net na U toe moet draai en U offer, U Lam, Jesus Christus moet aanvaar nie. Ek het gedink ek moet werk daarvoor. Dankie dat U dit vir my moontlik gemaak het. Dat U my reeds vergewe het toe ek my hart na U toe bekeer het. Jesus, ek aanvaar U. U is my Redder, my Verlosser, die een wat vir my vrede gee in my gemoed en in my gedagtes. Dankie dat U alles gedoen het om dit vir my moontlik te maak om in verhouding met U te staan en dat U kruis genoeg is; dat ek niks hoef by te las by U afgehandelde werk nie. Vader, dankie dat U deur Jesus Christus, my kom volmaak met U volheid. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

In Jesus woon die volheid van God, en in Hom, die Hoof, is ek ook met hierdie volheid vervul!

Aanbidding:

Praise – Elevation Worship

Dag 4: Die Hoof

Wanneer ons vashou aan ’n ander lering as wat in die Evangelie verkondig is, hou ons nie vas aan die Hoof nie. Die Hoof is Jesus.

“Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom” (Kol.2:18-20).

Wanneer jy sê dit is te moeilik om ’n Christen te wees, en allerhande ander dinge probeer doen om God se guns te wen, mis jy die punt en het jy jouself so te sê “onthoof”.

In die Berean-vertaling staan dit so:

He has lost connection to the head, from whom the whole body, supported and knit together by its joints and ligaments, grows as God causes it to grow” (Col.2:19 BSB).

Dit is wanneer ons onder die wet van die Ou Testament staan as ons hoofbron van redding, dat daar ’n sluier oor ons oë getrek word, sodat ons God nie meer duidelik kan sien nie. Onder die wet mag jy nie vir God in die oë kyk nie. Dan gooi jy dit wat Jesus Christus gedoen het om verhouding tussen jou en God te herstel, weg en maak jy Jesus as’t ware niksseggend. Dit is ook dán wanneer jy vergeet wie God werklik is, Sy hart nie meer ken en verstaan nie, en terugval op gebruike van die verlede.

Onder wettisisme sien jy God deur die lens van tradisies en gebruike. Jy dink as jy hard genoeg bid, sal God jou hoor…

Dink jy ook nou aan die profete van Baäl?

Elía se naam beteken "God is my Yaweh" – God is my Here. Die Hebreeuse term Adonai, beteken "Here". Die woord Baäl beteken ook “heer”. Dit klink amper dieselfde, maar daar is ’n groot verskil. Baäl verwys na iemand wat besit – ’n eienaar – en het dikwels te doen met ’n meester-slaaf-verhouding. Adonai beteken Meester en universele Heerser, maar binne die konteks van verhouding.

Die volgelinge van Baäl is soos slawe: hulle dien uit vrees, omdat hulle glo hy sal nie reageer as hulle nie hard genoeg probeer nie. Die volgelinge van Adonai is Sy kinders: hulle volg Hom uit verhouding.

In desperate situasies val ons maklik terug en begin God behandel soos ’n Baäl – as ’n eienaar wat ons moet tevrede stel. Ons begin Hom sien as kwaai, afsydig of ver. Ons onttrek van die Hoof en dink daar is nog ’n skuldbewys teen ons. Ons verval in ’n formele verhouding en bring gebruike terug wat ons dink God sal behaag.

Maar God bly God, en Sy hart bly dat Hy verhouding met ons wil hê. Hy is Adonai, en Hy het dit moontlik gemaak vir ons om in verhouding met Hom te staan. Die sluier word net en alleen in Christus weggeneem.

In Christus staan ons in verhouding met Adonai – Abba Vader – en begin ons om vanuit hierdie verhouding ontwikkel en groei en goeie vrug te dra.

Lees:

Kol. 2:8-17 (AFR20)

1 Kon.18:1-29

Mediteer:

  • Hoe hou ek vas aan die Hoof?
  • Wie aanbid ek vandag?
  • Is God my Vader of my Baäl?

Bid:

Here, U is Adonai, my Abba Vader. U is lief vir my en wil in verhouding met my staan. Ek kies Jesus Christus as my Hoof, sodat ek kan ontwikkel en groei en goeie vrug dra. Vader, dit gaan vir U daaroor dat ek U kind is en in verhouding met U staan. Dit gaan nie vir U oor wat ek reg of verkeerd doen nie. Ek maak vandag hierdie realiteit, hierdie Goddelike waarheid vas in my hart en gedagtes, en fokus daarop, eerder as om terug te val in mensgemaakte idees. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

“It shall come about in that day,” says the Lord, “That you will call me Ishi (my husband) And will no longer call Me Baali (my Baal) (Hos.2:16).

Aanbidding:

So So Good – Phil Wickham, Brandon Lake – Elevation Worship

You Are My God – Highlands Worship

Dag 5: Vryheid in Hom

Jesus sê vir die Fariseërs in Markus 7:6; “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af”.

“Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!”. Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die Here wat afgebreek was (1 Kon.18:29-30).

Wanneer jy in wettisisme vasgevang is, moet jy oor en oor jou eie altare bou. Jy moet opoffer, werk, ywer en bloei vir jou redding. Maar God sê vandag vir jou: “Kom nader na My toe.” In Christus is daar reeds ’n altaar, daar is reeds ’n offer, en Sy bloed is genoeg. Jy hoef nie te smeek vir antwoorde nie. Laat toe dat God jou hart terugbring na Hom.

“Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, Here, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die Here neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek (v.37-38). 

Ons sien in hierdie verhaal ’n skaduwee van Christus – van Sy liggaam wat aan die kruis geoffer is. Hierdie verhaal het nooit uiteindelik gegaan oor die profete van Baäl of oor Elía nie. Die vervulling van alles wat hier gebeur, sien ons in die persoon van Jesus Christus. Die volle toorn van God teen sonde het op die offer neergekom. God se oordeel oor sonde het Jesus getref, sodat, vir ons wat in Christus is, die genade van God kan neerdaal en Sy barmhartigheid en liefde ons kan omvou. Die vuur verteer al my sonde en skuld, en ek is vry.

“Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie! (Gal.5:1)”

God se hart vir jou is nie dat jy ’n slaaf moet wees nie. Sy hart het niks met slawerny te doen nie. Sy hart vir jou is vryheid – vryheid omdat dit vryheid is. Wanneer ons verstaan wat dit beteken om in Christus te wees, besef ons: ek probeer nie meer vergifnis verdien nie. Ek hou op om myself te blameer vir alles wat verkeerd gaan. Ek begin leef in die vryheid van die Allerhoogste God.

Hierdie mense het hulle harte – wie hulle werklik is – weer na die Here toe gedraai.

“Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!” (v.39). 

Adonai, die God van verhouding, is die God wat antwoord. Die God van liefde is die Een wat luister. Al die krag en mag lê nie in wettisisme nie – dit het geen krag nie. Die krag is in Jesus Christus.

“Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën” (v.41).

Op hierdie punt in die verhaal het dit nog nie begin reën nie. Die mense was steeds honger en die aarde steeds dors. Daar was nog pyn en ongemak, maar dit was skielik nie meer die fokus nie – want nou was hulle in verhouding met God. In Hom het hulle hoop gevind, ’n God wat hoor en antwoord.

Soms soek ons God vir wat Hy vir ons kan doen – vir uitkoms en antwoorde – eerder as vir Sy aangesig. Maar in God vind ons iets beter as reën. Iets beter as net ’n antwoord op pyn en verlies. Ons vind ’n Vader wat ons liefhet en wat ons hoor.

Die uitnodiging wat Hy vir jou gee, is om jou pyn en vrae by Hom, by die kruis, neer te lê. Jy hoef nie te skree, te dans of jouself te sny nie. Jy kan eenvoudig, soos Elía, saggies ’n gebed bid.

Bid dat Abba Vader Homself aan jou sal openbaar. Kom nader na Hom.

Hy is jou Pa. En in Christus is jy vry.

Lees:

Gal. 5:1

1 Kon.18:41

Mar. 7:5-7, 13

Mediteer:

  • Wat het ek nodig om vry te wees?
  • Hoe kan ek in Christus wees?

Bid:

Here, vandag lê ek die laste op my skouers by U, aan die kruis, neer. Abba Vader, openbaar Uself aan my—ek wag op U.

Bonus: Spreek Lewe!

In Jesus Christus is ek vry en staan ek in ’n intieme verhouding met Abba Vader. Hy is my Pappa!

Aanbidding:

Running Home – Cochren & Co.

Abba – Jonathan and Melissa Helser

Arms of My Father - Antioch