Go Deep 31 Augustus 2025

VAN HEERLIKHEID TOT HEERLIKHEID

De Villiers Nel

Baie mense sukkel om ander mense, hulself en God in die oë te kyk. Leer hoe die Here ons nooi na ’n beter manier om te lewe.

 

Dag 1: Hoe face jy jouself?

Hoe kyk jy vir jouself in die spieël? Hoe face jy jouself? Hierdie vraag is al op klomp plekke aangeraak. Ons het so gewoond geraak aan skuld en skaamte as deel van die norm en hierdie vraag is algemeen.

Hoe kan jy die lewe face? Hoe kan jy jouself in die oë kyk, na al jou mislukkings? Jy kan dalk met jou woorde jok, maar wanneer jy skaamte beleef gee jou oë jou weg. Studies bewys dat jou oë die spieël van jou hart is. Jy verbreek kontak en kyk weg wanneer jy angstig of minderwaardig voel en dit is moeilik om hierdie weg te steek.

Ons sien dieselfde reaksie van wegbreek, wegkyk en wegsteek, die eerste keer by Adam en Eva. Hulle het hulle skaamte probeer bedek met vye blare. Daar is op ’n tyd ‘n klomp skilderye van Adam en Eva gemaak, waarin jy altyd sal oplet dat hulle nooit reguit voor hulle uitkyk nie, maar eerder af, of wegkyk. Dit is wat skaamte doen. Dit gebeur in elke kultuur. Ons is gebore met hierdie emosie van skaamte en om weg te kyk is ’n teken van ’n diep wond van minderwaardigheid. Wanneer jy só voel, dan glo jy dat jy straf verdien vir jou skuld en jy maak gereed om dit te ontvang.

Miskien het jy groot geword en geleer dat jy mense in die oë moet kyk wanneer jy hulle groet. Of dalk het jy dit nie geleer nie. Of jy dit geleer het of nie, sukkel jy miskien nog altyd om oogkontak te hou, en hierdie gevoel van minderwaardig maak dat jy wil weghardloop. Wanneer jy met skaamte leef, dan kan jy nie die wêreld of jouself face nie. Jy kan ook nie vir God face nie.

Hoe nou gemaak? Ons reis hierdie week deur hierdie belangrike vraag se antwoord.

Lees:

2 Kor 3:6-18

Mediteer:

  • Wat sien jy wanneer jy na jouself in die spieël kyk?
  • Wat gaan in jou gedagtes aan wanneer jy aan jouself dink?
  • Sukkel jy om jouself, ander of vir God te face?

Bid:

Vader, dankie ons hierdie week kan stilstaan by hierdie boodskap van hoe ek myself kan face, ander kan face en die belangrikste, hoe ek U kan face. Ek wil leer van U heerlikheid.

Leer my, werk met my, om hierdie boodskap oop te breek en vas te maak, sodat ek in U heerlikheid kan leef; dat U waarheid sal posvat binne my; en dat U waarheid en heerlikheid blywend sal wees in my lewe. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Skuld en skaamte steel jou vrymoedigheid.

Aanbidding:

All Because of Mercy – Casting Crowns

Dag 2: Vergrootglas

Skuld en skaamte steel jou vrymoedigheid. Dit maak dat jy nie kan oogkontak maak nie. Nie met jouself nie, nie met ander nie, en nie met God nie.

Dit is ons bewustheid van ons tekortkominge en foute, wat maak dat ons skaam raak. Paulus leer ons wat gebeur wanneer ons fokus op ons tekortkominge en ons eie werke.

“wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend” (2 Kor.3:6).

Wanneer Paulus verwys na die letter, dan praat hy van die wet. Wanneer Paulus praat van die wet, dan verwys hy daarna as die bediening van die dood.

Paulus dink aan sy eie verlede en ook aan die Farriseers en Skrifgeleerdes wat met soveel ywer fokus op die sonde wat gedoen word en nie gedoen mag word nie. Hulle ondersoek die skrif juis om die sonde uit te wys.

Hierdie sondebewustheid maak dat jy fokus op die wet, en die wet bring ’n oordeel. Wanneer jy gaan kyk na die wet en die wette wat opgeskryf is, dan sal jy vinnig besef, dat daar baie maniere is om God teleur te stel. Daar is baie wette wat gebreek kan word en met ons sondige aard, neig die mens na sonde. Daar is altyd ’n manier om iewers te oortree, en selfs om goeie dinge te doen word besmet, onder die wet.

Die wet verwys nie net na dinge wat jy nie mag doen nie, maar ook na dinge wat jy moet doen, en probeer om te doen om goed genoeg te kan wees. Die wet plaas ’n vergrootglas op ons dade en maak dat ons dit wil begin meet. Hoe goed doen ek nou?

Wanneer ons so sondebewus leef, dan is die vraag “wat is sonde en wat is nie?”, en jy begin twyfel in alles. Jy wonder of dit sonde is om die normale en alledaagse dinge te doen en jy wonder wanneer raak dit dan sonde? Hoe ver kan jy gaan sonder dat dit sonde is?

Die vergrootglas maak dat ons baie meer fokus op sonde as op God!

Ons misluk en die skaamte groei en ons begin al hoe meer en meer afkyk, en wegkruip. Ons kruip weg van Hom af. Ons kruip van ander af weg, en ons kruip van onsself af weg.

Hoe meer ons fokus op die wet wat doodmaak, hoe meer verval ons in sonde. Sonde word soos ’n magneet.

Maar Paulus sê duidelik, ons leef nie meer volgens die wet nie, maar volgens die gees wat lewend maak (2 Kor.3:6), en die Gees bedink lewe en vrede (Rom. 8:6)! Die Gees maak lewend! Die Here het vir ons ’n nuwe verbond gegee, ’n nuwe manier om Hom te nader. Dit is nie deur die wet nie, maar deur die Gees!

Lees:

2 Kor 3:6-18

Rom. 8:5-6

Mediteer:

  • Hoe gereeld dink jy aan jou foute?
  • Is jy vasgevang in sondebewustheid?
  • Hoe kan jy breek uit hierdie mentaliteit?

Bid:

Vader, vandag wil ek breek met my sondebewustheid. U Gees wys my nie heeltyd op my foute nie. Dit is U Gees wat vir my lewe en vrede gee. U Gees lei my en ek wil leer om te fokus op U Gees en uit U Gees uit begin vrug dra, eerder as om te fokus op my foute en teleurstellings. Ek wil my gedagtes vernuwe en begin fokus op U. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Die vergrootglas maak dat ek baie meer fokus op sonde as op God!

Aanbidding:

Freedom Reigns – Jesus Culture

Dag 3: ‘n Skaduwee

Hierdie bediening wat Paulus die bediening van die dood noem, is die wettiese bediening. Dit is waar ek goed uit myself uit probeer reg kry en die Here probeer nader deur goed genoeg te wees deur my werke.

Paulus vergelyk hierdie benadering met die glans van Moses (2 Kor. 3: 7-11). Moses het in die heerlikheid van die Here gekom, en sy gesig het geglinster van die heerlikheid van die Here. Hy het egter 'n doek oor sy kop gegooi, sodat mense nie sal sien dat hierdie heerlikheid, hierdie glans, besig was om weg te gaan nie. Hy het skaam gekry. Dit is wat gebeur wanneer ons op ander maniere probeer om guns te kry. Dit is net tydelik, dit hou nie. Jy kan God en ander mense net vir 'n kort rukkie in die oë kyk.

Die wet kan net tydelik gee. Wanneer jy fokus op gedragsverandering, is daar net tydelike verandering. Dit gaan ook verby. Sonde verdraai die werke en dan sit jy maar weer waar jy was, jy is dan net erger af as voorheen. 

Om onderdanig, in gelit met die Gees te leef, leef ons nie met 'n vergrootglas op onsself nie, maar ons fokus skuif na Hom. Ons fokus word ons verhouding met God, om nader aan Hom te leef en Hom te volg. Dit gaan nie meer oor mý vermoë nie, maar oor Hóm en Sý vermoë.

Paulus sê dat hierdie glans van Moses, nie eers vergelyk kan word met die heerlikheid van God wat ons nou het, deur die Gees nie. Die heerlikheid op Moses se gesig wat mense gedink het is wow, was maar net 'n skaduwee van dit wat ons nóú het. Daar is nóú soveel meer van God se glorie ín ons, deur Sy Gees!

Die bediening wat regverdig maak, is oorvloedig in heerlikheid!

Lees:

2 Kor 3:6-18

Mediteer:

  • Hoekom het Moses ’n doek oor sy kop getrek?
  • Voel jy dat jy jouself moet bewys aan God?
  • Voel jy dat jy God se liefde moet verdien?
  • Kan jy getuig van God se Gees in jou? As jy twyfel, maak kontak met ’n kerkleier.
  • Wat beteken dit vir jou om te weet dat God se glorie in jou is?

Bid:

Vader, dankie vir U Gees in my, U Glorie in my. Dit gaan nie oor my nie, maar oor U. Ek wil in en uit U heerlikheid leef, sodat U eer kan kry vir my lewe. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Deur God se Gees is ek geregverdig en is God se heerlikheid in my oorvloedig!

Aanbidding:

Praise – Elevation Worship

Dag 4: ‘n Sluier

Ons dink verkeerdelik dat Moses sy gesig toegemaak het, sodat mense nie sy glans sou sien nie. Moses het geweet dat die glans besig was om weg te gaan en daarom het hy skaam gekry.

Paulus verduidelik dat ons nie soos Moses onvrymoedig hoef te wees en met skaamte onsself bedek nie.

In 2 Kor 3:13-16 verduidelik hy dat die bediening van die dood, die wet, die Ou Testamentiese beginsels, ’n afstand bring tussen ons en God, dat dit ’n sluier oor ons oë trek en ons denke en harte verhard.

Wanneer ’n sluier jou bedek, kan ’n mens nie eintlik sien wat agter die sluier skuil nie. Jy moet jou verbeelding gebruik om te dink hoe die een agter die sluier lyk. Die een agter die sluier, kan dan ook nie duidelik sien wat aangaan rondom hom/haar nie.

Ons moet versigtig wees om die Ou Testament voor te gee as die Evangelie. Versigtig om eise te stel soos “Jy is goed genoeg, maar jy moet eers” tipe eise. Ons moet oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs (Mar. 8:15). Ons moet nie die wettte meng met die goeie nuus nie.

Wanneer ons met sondebewustheid leef, is daar ’n sluier oor ons oë en ons kan God nie sien vir Wie Hy werklik is nie. Dan gebruik ons ons verbeelding om ’n beeld van God te skep en ons dink dat God ver is en kwaad is. Ons verval in skuld, skaamte en vrees en sien God nie meer nie. Ons sien net gedeeltelik en kan ander ook nie sien volgens hul waarde nie. Die lens waardeur ons kyk is dan besmet.

In ons skaamte, kyk ons af vir God, ons kyk weg van onsself, en ons kyk neer op mense. Maar ons kyk niemand in die oog nie.

Die Evangelie is die bediening wat lei tot regverdigheid.

Wanneer die sluier afgehaal word, kan jy die waarheid sien, dit wat werklik aangaan, die volle prentjie.

Daar is niks wat ons weerhou of terughou van verhouding met die Here nie. Dit is juis die groot geskenk van die kruiswerk van Jesus Christus. Ons is versoen met God en daarom staan ons nou geregverdig voor Hom. Daarom lê die antwoord juis in die vrymoedigheid wat ons nou het (2 Kor. 3:12).

Wanneer ons onsself tot die Here wend, dan word die sluier gelig en ons onvrymoedigheid word van ons af weggeneem. Dan word ons vry!

Lees:

2 Kor. 3:6-18

Mediteer:

  • Hoekom is, om te dink dat ek iets moet regkry (deur eie werke), sodat die Here my lief kan hê, die bediening van die dood?
  • Met watter bril kyk jy na die Here? Is daar ’n sluier wat jou beeld besmet?
  • Waarom is die sluier daar?
  • Hoe haal jy die sluier af?
  • Hoe is die Evangelie die bediening wat lei tot regverdigheid?

Bid:

Vader, dankie vir die goeie nuus wat my vrymaak en dat ek met vrymoedigheid na U toe kan kom; dat ek nie nodig het om iets te doen om U liefde te verdien nie, maar dat die goeie boodskap juis vir my is, juis ’n geskenk is wat ek nie kan verdien nie. Ek wil U sien vir wie U werklik is, na ander kyk soos wat U hulle sien, en myself kan sien soos U my sien. Help my asseblief hiermee. Vader, vandag gee ek hierdie sluier van die wet en eie werke vir U. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Goeie Nuus maak my vrymoedig voor God!

Aanbidding:

Redeemed – Big Daddy Weave

Dag 5: Heerlikheid!

Die vergrootglas, skaduwee van wat was en die sluier gaan ons nie een help om vry te leef nie. Ons kan nie oppervlakkige gedragsverandering najaag, of harder probeer om goeie goed te doen vir lewensverandering nie. Dit is net deur die Gees van die Here wat ons bemagtig word om in vryheid te leef. “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Kor. 3:17).

Hierdie vryheid beteken ons het vryheid van die wet en vryheid van ons sondige aard. Wanneer ons God se Gees ontvang word ons waarlik vry en ons kan dan met vrymoedigheid ons Hemelse Vader in die oë kyk en in Sy Teenwoordigheid wees. Dit is juis Hy wat deur Sy Gees teenwoordig is binne in ons!

When people do not understand the gospel, they say: “I’ve messed up, do not tell Dad.” When people understand the gospel, they say: “I’ve messed up, call Dad”.

Die Gees van God is die enigste manier om los te kom van ons sondige natuur, en dit is deur die Gees van God wat ons stelselmatig heiliger word. Dit is wat vers 18 vir ons duidelik maak:

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”.

Deur die Gees van God word die sluier gelig, en ons word al hoe meer verander om God se beeld uit te straal. Dit is wat God bedoel het toe Hy ons geskape het. Dat ons Sý beeld uitstraal. Dat ons nou, deur Sy Gees, stukkie vir stukkie elke dag meer en meer leef in vryheid en vrede.

Wanneer ons die Gees van God volg, dan val sonde van ons af, ons begeertes verander en ons word belyn met God se manier van dinge doen. Ons word liefdevol, vrygewig en vergifnis kom maklik. Ons oë begin Sy heerlikheid weerkaats!

Dit is wat ek wil hê vir my lewe. Sy lig, Sy vrede, Sy heerlikheid! Wat van jou?

Lees:

2 Kor. 3:6-18

Mediteer:

  • Om God se Gees te ontvang het ek nodig om met ’n opregte hart na Hom toe te kom. God bied Jesus aan as ons Verlosser. Dit is hoe ek reg maak met God. Ek aanvaar Jesus se offer en God se vergifnis vir my.
  • Dan volg ek Jesus deur die doopwater, die watergraf, om my ou sondige natuur en begeertes te verdrink. Ek maak klaar met my ou lewe.
  • Ek ontvang God se Gees en begin ’n nuwe lewe. Ek begin wandel in Sy heerlikheid en word daagliks vernuwe om aan Hom gelyk te word. Dit is ’n keuse. Wat kies ek?

Bid:

Vader, dankie dat U vir my hierdie week openbaar dat dit U Gees is wat verandering binne my bewerk; dat ek nie nodig het om heilig te word deur werke nie, maar dat dit U is wat die werk doen binne my wanneer ek my oorgee aan U. U is heilig, U is geregtig en U is Gees. Dankie dat U gekies het om U Gees vir my te gee, sodat ek in U heerlikheid, in U glorie kan begin leef en U kan reflekteer. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus maak my vry en ek ontvang God se Gees om van heerlikheid tot heerlikheid in geregtigheid te leef!

Aanbidding:

Spirit of the Living God – Meredith Andrews