Die Here is my Herder
De Villiers Nel

Dag 1 Die Here is my herder – verstaan ons dit?
Ons is so gewoond aan sekere skrifgedeeeltes dat ons dit feitlik woord vir woord kan aanhaal. Psalm 23 staan vir seker voor in die ry. Ons ken dit. Ons leer dit vir ons kinders. Die gevaar is dat ons die poësie, die dieper betekenis daarvan mis of nie oordra aan ander nie.
'n Skotse predikant het gesê: "It is a well-known Psalm but it is not necessarily known well."
Psalm 23:1 (53-vertaling) – “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”
Die Psalm is van Dawid. Dit is 'n lied, 'n liefdesgedig van Dawid, wie se naam "Geliefde" beteken. Dit is die lied van die Geliefde.
Kom ons verstaan “herder” in hierdie konteks. Die Hebreeuse woord verwys na die een wat voer en oppas, maar dit dra ook die betekenis van nabyheid, om 'n metgesel of selfs 'n ware vriend te wees.
In hierdie wêreld het almal seker ʼn herder van een of ander soort, maar Dawid is spesifiek. Hy wéét. Die Here, niemand of niks anders nie, is sy Herder. Dawid verstaan dat God sy versorger is.
Martin Luther het gesê dat die kern van Psalm 23 lê in die persoonlike voornaamwoorde wat hy gebruik: "Die Here is MY herder." God se uitnodiging is altyd persoonlik. Dit is nie net 'n universele waarheid nie; dit is 'n direkte, intieme verhouding.
Hierdie stelling lei tot die volgende gevolgtrekking: as God ons Herder is, is die noodwendige uitslag dat ons niks sal ontbreek nie.
Om op te som. Ons kan bo-oor Psalm 23 lees en net goed voel daaroor, of ons kan die diepte daaruit waardeer en ons verhouding met die Here verdiep. Hy is ons Herder (Hy pas ons op). Dit is ʼn intieme verhouding wat liefde impliseer. Ons God, ons Herder, ons Heer.
Lees
Mediteer
Wat beteken “Herder” vir jou?
Gebed
Vader, help my om die werklikheid van U herderskap te sien, ervaar en uit te leef. In Jesus naam. Amen.
Aanbid
Still Waters – Leanna Crawford

Dag 2 Stilte te midde van die daaglikse geraas
Psalm 23:1 bevestig twee goed vir ons. Omdat die Here ons Herder is, kom ons noodwendig niks kort nie. Ons ons Hom het, het ons alles wat ons nodig het. Die moderne wêreld fokus baie op wat ons besit, dit skep konstant nuwe begeertes en wense. Dit wil ons leer om gedurig te soek vir meer geld, meer sukses, meer geluk, meer plesier. Gejaagde lewens vol wind.
Dikwels is dit hierdie onvervulde soeke wat ons lei op paaie waar ons verder en verder van die Here af dwaal. Dwaalspoor.
In Vers 2 (2020) staan daar: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.”
Hier is dit wat ons soek. ʼn Oase in hierdie gejaagde, materialistiese wêreld waar ons ware vrede, liefde en vervulling kan ervaar in en by die Herder self.
Hy laat my rus in groen weivelde: Dit beteken daar is meer as genoeg. Die skape hoef nie te soek nie. Dit is 'n daad van geloof: om te sê ek het altyd troos op 'n ander plek gesoek, maar ek vind nou my fisiese, geestelike en emosionele vrede by God.
Na waters waar daar rusplek is, lei Hy my: Die woord vir "rusplek" in Hebreeus beteken letterlik "stilte van gees" . Dit is hier waar ons ons denke oor rus moet aanpas. Ons maak dikwels die fout om te dink dat rus, stilte en vrede die eindbestemming van ons harde werk is. Ons sê: "Ek sal eers rus as die projek klaar is," of "Ek sal eers vrede hê as die konflik opgelos is." Die Woord sê egter: Hy lei my langs waters waar daar rusplek is. Rus is nie die doelwit of die beloning nie; vrede is die weg. Dit is hoe God ons lei.
Die Herder is die enigste een wat die wêreld se lawaai, die eise van materialisme, en ons innerlike onrustigheid kan stilmaak. Ware rus begin in die wete dat Hy joune is, en dat Hy jou lei, nie net na 'n rusplek nie, maar pens pootjies in die vrede self. Vandag se leesstuk is die eerste drie verse uit Psalm 23. Die vertaling is uit The Message. Soms help dit ons Bybelstudie wanneer ons verskillende goeie vertalings bestudeer. Hierdie is pragtige poësie in ʼn moderne vorm.
Die lied wat vir vandag gekies is, is spesiaal. Dis ʼn versugting om die Here beter te leer ken, ʼn uitspreek van ʼn diepe behoefte en pragtige aanbidding.
Lees
Psalm 23:1-3 (The Message)
Mediteer
Wat beteken vrede vir jou as persoon?
Gebed
Vader, ek wil U vrede elke dag, elke oomblik ervaar. Ek wil rus in U. Help my om meer en meer op U te fokus en minder op myself en my materiële behoeftes. Leer my vertrou, Here, leer my om myself uit die prentjie te haal, want ek wil self sorg terwyl U alreeds alles in beheer het. In Jesus naam. Amen.
Aanbid
Known by You – Jessie Harris

Dag 3 ʼn Lewe vol Innerlike Rykdom
Dit is nie net Dawid wat in Psalm 23 verklaar dat die Here sy Herder is nie, Jesus sê dit self in Joh. 10:11 en Hy proklameer weereens Sy liefde vir ons (The Living Bible): ““I am the Good Shepherd. The Good Shepherd lays down his life for the sheep.” Ons weet dat Hy later Sy lewe afgelê het vir ons redding.
Hy is die bron van lewe, en dit in oorvloed. Hierdie lewe is meer as net 'n lang bestaan; dit is 'n volle, ryk lewe—'n lewe wat sielsrus insluit.
Hierdie oorvloedige lewe word verder in Psalm 23:3 uitgebeeld (NIV): “ He refreshes my soul. He guides me along the right paths for his name’s sake..."
Die Hebreeuse woord vir “refreshes” is nefesh, en dit verwys na hele fisiese en emosionele gesondheid, die kern van ons wese en ons aptyt vir die lewe. Hy gee ons 'n rede om weer opgewonde te wees, 'n lus vir die lewe.
Hy lei ons op die regte paaie. In die oorspronklike Hebreeus, is hierdie ʼn verwysing na die sirkelpaadjies wat skape teen 'n berg se hang volg, om veilig te bly. Hulle herder het hulle so gelei.
In vers 4 (NIV) staan daar:” Even though I walk through the darkest valley, I will fear no evil, for you are with me; your rod and your staff, they comfort me.” Dawid verklaar sy vertroue in die Herder. Hy weet dat die Here hom sal beskerm in alle omstandighede. Dit skep vertroue om selfs in moeilike omstandighede suksesvol en met insig op te tree, die regte keuses te maak, ons uitdagings met selfvertroue aan te pak.
In die Afrikaanse weergawe van 1953 word verwys na die dal van doodskaduwee. Jesus self sou eventueel hierdie donkerte ervaar aan die kruis. Hier het Hy die “dood” namens ons oorwin. Sy lyding het ons rus en vrede as resultaat. Sielsrus. Sielsvrede. ʼn Lewe volgepak met innerlike rykdom.
Ons kan gerus die Here vertrou. Die gevolg van sy oorwinning is ons lewe en dit in oorvloed.
Vertrou die Goeie Herder. Hy het vir ons Sy lewe afgelê sodat ons lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Lees
Mediteer
Is jy op ʼn plek waar jy die Here se leierskap ervaar en aanvaar?
Gebed
Vader God, dankie dat U ons toelaat om te rus op groen weivelde, in plekke waar ons sielsrus kan ervaar. Help ons om altyd te onthou dat U by ons is in die donker valleie wat die lewe na ons toe gooi, maar ook dat U daar is wanneer ons op die bergtoppe dans. In Jesus naam. Amen.
Aanbid
Psalm 23 – Phil Wickham

Dag 4 ʼn Tyd om Fees te Vier
In Psalm 23:5 (TLB) staan daar: “You provide delicious food for me in the presence of my enemies. You have welcomed me as your guest; blessings overflow!” Hier is waar Psalm 23 se fokus skuif van God wat ons Herder en Beskermer is, na ʼn rol waarin Hy ons Gasheer is. Hy berei ʼn feesmaal vir ons voor.
In die Afrikaanse vertaling van 1953 staan: "U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor."
Dink net daaroor: 'n Tafel word vir jou gedek—'n volle fees—en dit gebeur face-to-face met die Here. Die ongelooflike ding is dat hierdie fees plaasvind teenoor jou teëstanders. Dit maak nie saak watter probleme jy moet uitsorteer nie, wie die lewe vir jou moeilik maak nie, wat in die lewe nou vir jou moeilik is nie—die tafel is gedek, en jy is genooi!
As Christene, verstaan ons hierdie feesmaal op 'n dieper manier, veral wanneer ons dink aan die Nagmaal. 1 Korintiërs 10:16 vra: "Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?"
Die beker is nie net wyn nie; dit is die wyn van die Nuwe Verbond—die lewende water wat Jesus vir ons gegee het. Die Siriese vertaling sê: "U vul my beker - dit loop oor soos iets wat leef." Die Griekse vertaling praat van 'n beker wat jou bly maak "soos die beste wyn."
Ons beker loop oor! Dit borrel oor van lewe en lewe in oorvloed (Johannes 10:10). Selfs terwyl die wêreld om ons woed en ons teëstanders loer, sit ons aan 'n tafel wat die Here self gedek het. Hy salf ons, voed ons, en maak ons vol met Sy lewende teenwoordigheid. Dis 'n fees, en dit is vandag!
Lees
Mediteer
Ervaar jy ʼn feesmaal in jou verhouding met die Here?
Gebed
Dankie, Here Jesus, dat U my Goeie Gasheer is. Dankie dat U vir my 'n feesmaal dek, selfs met my teëstanders rondom my. Ek eer U as my Lam. Laat my beker oorloop van U lewende water en die vreugde van U teenwoordigheid. Mag ek vandag my oë op U tafel hou en in U oorvloed leef. Amen.
Aanbid
This House won’t fall – Emerson Day

Dag 5 Goedheid en Troue Liefde
Psalm 23:6:"Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae."
Op eerste oogopslag, wanneer ons hierdie vers lees, dink ons maklik aan 'n sagte beeld van God se goedheid wat sommer net teenwoordig is, besig is om die skape rustig te volg. Die Hebreeuse woord vir "volg" beteken egter iets baie meer dramaties as net teenwoordigheid, dit beteken "om in te jaag" of "om te vang."
Dink daaraan: Ons Herder se goedheid en troue liefde is nie passief nie. Dit jaag ons na, elke dag van ons lewe. Of ons nou onsself verknies in ellende en of ons op ʼn vinnige wentelbaan op pad na iets opwindend is, die Here wil Sy genade vir ons gee en Hy is nie ʼn passiewe toeskouer wat kyk hoe ons voortploeter nie, Hy gee om. Dit is 'n liefde wat vasberade is om ons vas te hou, ongeag waar ons is of wat ons doen. Hy is nie net by in goeie tye nie, ook in die dae van pyn, twyfel en mislukking.
Hierdie liefde wat ons agternasit, het 'n doel: om ons "terug te bring na die huis van die Here." Die lewe is 'n reis, en God se liefde is die onfeilbare kompas wat ons heeltyd na Homself terugtrek. Hy jaag ons huis toe.
Lees
Psalm 23 (The Message)
Mediteer
Wat doen ek in moeilike omstandighede wanneer ek herderloos voel?
Gebed
Dankie, Here, dat U goedheid en troue liefde my elke dag agternasit. Dankie dat ek in U huis tuis kan wees. Vergewe my as ek soms van die pad afdwaal. Hou aan om my na Uself te jaag, want ek weet ek is eers werklik tuis wanneer ek by U is. Amen.
Aanbid
Worthy is the Lam – Hillsong