Go Deep 29 Maart 2026

Die Openbaring van Vergifnis

Neville Goodchild

 

Dag  1: Die Here vergeet graag

Ons is nie goed met vergeet nie, inteendeel, ons hou ander in boeie met ons veroordeling en ons gedagtes bly skuifel na ons eie foute. Ons kasty ons onsself met ons eie sonde.

Ons onthou wat mense gesê het.
Ons onthou wat ons gedoen het.
Ons onthou daai een fout… oor en oor.

Maar God werk anders.

Hy sê in Hebreërs 8:12  (The Voice) dat alles wat ons pla, klaar uitgevee is. Hoe vreemd is dit nie vir ons menslike gedagtes nie?

Ons is lief om:

  • dinge teen mense te hou
  • onsself die hele tyd te straf oor goed wat in ons verlede opgestapel is

Maar God kies om te vergeet.

Nie omdat dit nie saak maak nie, maar omdat Jesus die troonkamer se deur oopgemaak het. Die Here wil hê dat ons die idees en gedagtes wat Hy alreeds begrawe het, in die stof agter ons los. Ons is vry, nie vasgevang in sonde nie. Dink hieroor: geloof  IS nie net om te glo dat God vergewe nie…

Hy dink nie eers meer oor ons verlede nie, hoekom  doen ons?

 

LEES:

 

Heb. 8

 

MEDITEER

Hou jy nog aan “ou goed” vas wat die Here lankal laat gaan het?

 

Bid: 

Here, dankie dat U nie vasklou aan my verlede nie. Help my om dit ook te doen. Help my om te leef soos iemand wat regtig vergewe is. Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

God hou nie my verlede teen my nie — ek gaan dit ook nie meer doen nie.

 

Aanbidding:

Every Beat – Seth Condrey

Dag  2: Aardskuddende Verandering

Baie van ons is vasgevang in dieselfde (amper eentonige) siklus.

Ons sondig.
Ons voel skuldig.
Ons probeer harder.
Ons faal weer.

En dan begin alles van voor af.

Dis so uitputtend.

Maar hier is die probleem:
ons probeer verander vanuit skuldgevoelens en dit maak ons swak.

Soms val ons vir Fariseërdenke wat ons net verder veroordeel. Daar is so baie media deesdae wat onsself toelaat om ons sleg oor onsself te laat voel in plaas van om met selfvertroue te leef in die wete dat ons vergewe is die oomblik toe ons Hom vra.

Veroordeling tap ons krag.
Dit hou ons vas in dieselfde patrone.

Ons groei nie.

Die dag op Golgota, toe Jesus sterf, het iets gebeur, ʼn simbool van ons skeuring en vergifnis van sonde.

Die aarde het geskud.
Grafte het oopgegaan.
En die voorhangsel in die tempel het van bo na onder geskeur.

Dit was nie net simbolies nie.

Dit was God wat sê: die ou manier is verby.

Geen meer afstand nie.
Geen meer skuld wat tussen ons staan nie.

Ons is nie net vergewe nie —
Ons is losgeskeur van ons ou status.

Heeltemal.

En dit verander alles.

Ons probeer nie meer reg leef om aanvaar te word of sekere boksies af te tiek nie.
Ons begin reg leef omdat ons reeds aanvaar is.

Ons het die reg om onsself Sy kinders te noem.

Ons het Sy geregtigheid ontvang.

Hy kyk nie vir ons sonde nie.

Dis die deurbraak.

Wanneer dit in insink, verloor sonde sy houvas op ons.
Dit pas nie meer by wie ons is nie.

 

LEES:

Romeine 8:1

MEDITEER

Het jou verlede nog ʼn houvas op jou?

Hoekom kan jy dit nie agter laat nie?

Wat moet ons doen wanneer ons dit agterkom?

 Bid

Here, ek wil binne-in U geregtigheid loop en leef. Ek wil met selfvertroue U kind wees, nie een wat skaam is oor sonde wat alreeds vergeef is nie. Ek wil leef vir U en ek wil leef soos U, U heilige voorbeeld volg. En as ek struikel, weet ek dat ek vergewe is en dat U nie eers kyk na my sonde nie, maar na geleenthede waar ek in diens van U Koninkryk kan wees. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

God hou nie my verlede teen my nie — ek gaan dit ook nie meer doen nie.

 Aanbidding:

Daar is ʼn Naam -  Retief Burger

Dag  3: Absolute vergifnis

Lukas 7 wys maar net weer hoe Jesus altyd in liefde reageer wanneer mense om vergifnis vra.

Ons sien twee mense in hierdie toneel saam met Jesus.

Simon. ʼn Fariseër. Hy doen nie baie moeite met Jesus nie en hy is waarskynlik vrot van die geestelike hoogmoed. Hy ken die wette, hy ken die Ou Testament, maar hy weet nie wat vergifnis beteken nie.

Die tweede karakter in hierdie storie is vir seker ʼn buitestaander. Sy koop verskriklike duur salf en kom gee haar hart vir Jesus met oorgawe. Met haar trane was sy Sy voete. Met haar hare droog sy dit af. Dink jouself in. Die omstanders moes lekker ongemaklik wees oor haar optrede, veral as ons haar moontlike agtergrond in gedagte hou.

Jesus maak die rede vir hierdie verskil duidelik: “Wie min vergewe is, het min lief.”

Dit beteken nie dat Simon minder sonde gehad het nie, maar dat hy minder bewus was van sy behoefte aan vergifnis. In sy eie oë was hy in ’n mate “reg”. Die vrou, daarenteen, het geweet dat sy baie ontvang het. Haar daad van toewyding was nie bloot emosioneel nie, maar ’n direkte reaksie op die genade wat sy beleef het.

Hier  is die waarheid: Ons kan nie liefde vir God forseer deur bloot te probeer om meer te doen of wette na te kom nie. God se vergifnis is ʼn werklikheid, ongebonde aan wette uit die Ou Testament. Jesus het dit vir ons gedoen.

 

MEDITEER:

Wat kan ek en jy nou doen om net weer op daardie vlak te kom waar ons hartseer juig oor die genade en vergifnis wat ons reeds ontvang het?

 

LEES:

Lukas 7:37-50

 

Bid: 

Here, bewaar my van geestelike hoogmoed. Hou my hart nederig sodat ek ander mense na U toe kan lei. Amen.

 

BONUS: SPREEK LEWE!

Die Here steur Hom nie aan my verlede nie.

Aanbidding:

Jesus paid it all - Stephen McWhirter

Dag  4: "Om" teen "Omdat"; ʼn denkverskuiwing

Baie van ons is vasgevang in die idee dat ons ons sonde moet bely om vergewe te word.

Sodat Hy ons vergewe.

Dit is ʼn valse lering wat oraloor, selfs op sosiale media, voorkom. Dit kom al ʼn lang pad. Van ons het al op harde kerkbanke gesit en gevrees oor die veroordeling wat vir seker in ons rigting gaan kom. Soos ʼn trein in ʼn donker tonnel.

Vandag se leesstuk bewys die teenoorgestelde. Johannes 1:9 wys dat die teenoorgestelde eintlik die waarheid is. God se reaksie is nie onseker of wisselvallig is nie. Dit is geanker in wie Hy is: Hy is getrou en regverdig. Getrou — omdat Hy doen wat Hy belowe het. Regverdig — omdat die prys vir sonde reeds betaal is.

Belydenis word dus nie ’n poging om God se guns te wen nie. Dit is eerder ’n eerlike manier om ons sonde met Hom te bespreek. Hy weet in elk geval alreeds van alles wat ons doen. Ons noem dit wat Hy dit noem, sonder versagting of verskoning. Maar ons doen dit nie uit vrees nie en nie omdat ons ʼn boksie wil tiek nie. Ons bely sonde in ons gesprek met die Here, in die wete en LIG van Sy genesing en vergifnis.

Belydenis is nie ʼn swaar las nie, dit is ʼn oop deur. Dit is die plek waar eerlikheid en genade mekaar ontmoet, waar Jesus die troonkamer van God vir ons oop skop. Jesus het die “werk” gedoen, ons kan rus in die vrede van geregtigheid wat God aan ons toe eien.

 

 

MEDITEER:

Bely jy nog uit ’n plek van onsekerheid, of uit ʼn plek van verstaan en vertroue in wat reeds uitsorteer is?

LEES:

1 Joh. 1:9 (The Voice)

Bid: 

Here, leer ek wil eerlik voor U leef. Dankie dat U seun die pad vir my gebou het om met selfvertroue, nie met vrees nie, my sondes te bely. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Ek het Jesusversekering oor my sonde. Tyd vir rustig raak.

Aanbidding:

Shout to the Lord – Jessie

Dag  5: Skoon gewas

Vandag se leesstuk kom uit 2 Petrus 1:5-9. As ons hierdie stuk ons eie kan maak, altyd onthou en dit wat ons ons eie maak, sal ons geestelik groei.

Geloof, deug, kennis, selfbeheersing, vasbytvermoë, goddelike opregtheid, vriendelikheid soos broers wat mekaar lief het en ...

Liefde

As dit voel asof hierdie eienskappe by ons ontbreek, is dit omdat ons vergeet het dat ons skoon gewas is.

Nie onkundig nie.
Nie swak nie.

Ons het vergeet.

Ons het nie nodig om God te oortuig om ons te aanvaar en vergewe nie. Dis klaar.

Ons is skoon gewas.

Reinig

 

MEDITEER

Hoekom vergeet ek dat ek skoon gewas is?

LEES:

2 Petrus 1:5-9

Bid: 

Here, help my om te onthou dat ek die eerste keer wat ek my sondes voor U bely het, skoon gewas is. Help my om te leef uit daardie kennis, tot U eer. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE!

Skoon gewas!

Aanbidding:

Thank you Jesus for the blood – Charity Gayle