THE MISSION
Neville Goodchild
Ontdek wat God mee besig is, wat God bedoel en wat Sy intensie met ons lewens is!
Dag 1: Hy het Sy deel gedoen!
Het jy al gewonder waarom God jou geskape het? Wat Sy missie is met jou lewe hier op aarde? Om God se missie met ons lewens te verstaan, is van uiterste belang vir ons om ’n effektiewe lewe te leef. Soms vergeet ons van hierdie missie en het ons nodig om daaraan herinner te word, sodat ons nie in ’n ritueel of godsdienstigheid verval nie.
God het ’n missie. Sy plan sluit in om ’n konneksie te maak met mense wat besluit het om hulle lewens aan Hom toe te wy. Hy het ’n missie met jou lewe en ’n missie met hierdie wêreld.
Deel van God se plan is dat ons deur ons samekomste gevoed en bemagtig word om die Koninkryk op wonderlike maniere uit te brei. Die kerk van vandag is fantasties toegerus om vir hierdie wêreld presies te gee wat hierdie wêreld nodig het. Die kerk het oor en oor bewys dat hy ’n gesant van die Here is en dat dit is hoe ons God se Koninkryk hier op aarde sien kom.
God se Koninkryk op aarde is nie die wederkoms nie. Die wederkoms sal wees wanneer Jesus Christus kom. Baie mense bid hiervoor, maar besef nie die implikasies daarvan nie. Wanneer Jesus kom, sal dit die afsnypunt wees vir sondaars. Daar sal nie nog ’n kans wees nie. God sê self Hy stel die oordeelsdag uit, sodat meer mense gered kan word. So, wat is God se missie vir ons as Christene in gesprekke oor die wederkoms? As ons bid dat dit vinniger kom, skryf ons eintlik sondaars af en sê ons ons is nou klaar—ons gaan nou hemel toe. Dit is nie belyn met God se plan nie. God se missie met ons is juis dat Hy sondaars red, en Hy werk deur ons!
Baie gelowiges bid ook vir herlewing. Hoe dink jy lyk herlewing en hoe gebeur dit? Gelowiges is dikwels onseker oor hulle bedoeling hiermee. Ons weet iets moet verander, iets anders moet gebeur, maar ons is onseker hoe hierdie verandering lyk. Sommige sal sê dat die werking van die Heilige Gees meer sigbaar moet word. In ’n mate is dit reg, maar daar sal nie ’n nuwe manier wees of ’n nuwe opdrag wees, of iets nuuts wat God uitdink nie. Die grootste herlewing het reeds 2000 jaar gelede plaasgevind toe Jesus Christus opgevaar het na die hemel toe, met die uitstorting van die Heilige Gees. Dus bid ons vir mense se bekering en die werking van die Heilige Gees in hulle lewens. God staan nie gereed om nuwe dinge in hierdie wêreld te aktiveer nie. Hy het reeds alles gedoen wat Hy moes. Die Gees van die Here is uitgestort oor ons almal. Dit is nou die kerk wat in aksie moet kom. Herlewing kan slegs gebeur wanneer die kerk besef: God se plan is jy!
Dit is daarom nodig vir ons as gelowiges om uit ons gemak te kom en te begin deelneem aan die uitstorting van die Heilige Gees in hierdie wêreld. Om te weet waar ek is in hierdie missie van God, moet ek kyk hoe my deelname lyk, en dit begin by die atmosfeer in my huis. Hoe dit by my huis lyk vanaf Sondagaand tot Saterdagoggend, is ’n baie goeie barometer van hoe ver ek van herlewing af is. Wonderwerke en herlewing begin eerste in my privaat lewe. Dit is nie nodig om Hom te gaan soek by een of ander spreker, leier, konferensie of plek nie. God bly nie meer in geboue of strukture nie. God se Gees is nou in ons. Daarom gebeur herlewing binne ons huise.
Die kerk besef dat herlewing eers gebeur wanneer dit binne ons huise gebeur. Mense moet God se Gees begin verwelkom in hulle persoonlike lewens, die gawes toepas en die krag van die Gees begin sien werk. Dan sal herlewing binne die kerk outomaties wees. Ons moet die Gees van die Here in aksie kry binne ons midde en die Here vertrou dat Hy kragtig werk; dat Sy Gees uitgestort is in almal se harte, sodat ons kan sien wat ons moet sien en vir die wêreld kan gee wat die wêreld nodig het in hierdie tyd.
Ons is reeds bemagtig daarvoor!
Lees:
Mediteer:
- Wat is God se missie met jou lewe?
- As wederkoms en herlewing nie die antwoord is nie, wat is God se plan dan?
Bid:
Vader, dankie dat U ’n grootprent-God is. U sien verder en beter. U het ’n missie met my lewe en ek wil graag hierdie missie uitleef. Dankie dat U reeds alles gedoen het, sodat ek kan begin deelneem aan die kragtige werking van die Heilige Gees, en dat U missie by my persoonlik begin. Help my asseblief om die atmosfeer in my huis, my en my gesin se geestelike reis en groei reg te bestuur, sodat U wil in ons lewens kan geskied en herlewing by ons kan begin. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
God se plan begin by my, en soos ek God se Gees toelaat om in en deur my te werk, sien ek herlewing in my huis!
Aanbidding:
Death Was Arrested – North Point InsideOut
Dag 2: Goedheid en Liefde!
Hierdie boodskap oor God se missie is kernbelangrik, nie net omdat die kerk geaktiveer moet word nie, maar sodat jou persoonlike missie ook geaktiveer kan word. Dit is maklik om saam te stem oor wat moet gebeur wanneer ons bymekaar kom, en dan in die groter groep te verdwyn, maar die missie wat God vir jou het, is meer as net ’n Sondagbelewenis. Dit moet baie persoonlik word, want roeping is persoonlik. Dit is nie die kerk wat tot bekering kom en wedergeboorte beleef nie, maar mense. Mense beleef die Gees van die Here wat uitgestort word, en ervaar persoonlike stories van transformasie.
Wat is die persoonlike belewenis wat jy het wat maak dat jy God prakties beleef? Dat jy beleef Hy werk in jou lewe, dat Sy Gees vloei, dat dit wat geblokkeer het skoongemaak word, en dat jy geestelike groei ervaar en bewus is dat die Here binne jou leef?
“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (Titus 3:4-7).
God se plan was nie dat jy net betrokke raak om ná ’n paar jaar op ’n plek te kom waar jy alles bevraagteken en nie seker is waarmee jy besig is nie. Ons het nodig om aanhoudend te onthou wat die missie is en dit voor oë te hou. Wat is God besig om te bereik? Waaraan stel Hy ons bloot? Waarheen is ek op pad, en waarheen is ons almal op pad?
Titus 3 gee vir ons ’n baie duidelike merker waarvan ons moet kennis neem. Dit is die goedheid van die Here wat ons na Hom toe trek. As ons nie God se goedheid beleef nie, sal ons nie na Hom toe getrek word nie. Dit is juis God se goedheid in jou lewe wat jou na Hom toe trek en ook ander na Hom toe trek.
Die aanvanklike getuienis aan die begin van groei in mense se lewens is: “God se hand is op my; Hy is besig met my; God het my bereik; Hy is besig in ons familie.” Hulle getuig van die transformasie in hulle eie lewens, en ook in hulle familie. Dit is ’n plek waarna ons kan streef. Dit is ’n wonderlike plek om die lewe vanuit te beskou. Dit bring sin in die lewe.
Wat is goedheid? Dit is wanneer jy na jou lewe en omstandighede kyk en kan sien, ervaar en getuig dat die Here goed is. Dit is wanneer jy kan smaak en sien dat God goed is. God wil vir ons goed wees in hierdie lewe. In watter area van jou lewe jy ook al ’n uitdaging beleef, wil God juis jou aandag daarop vestig en Sy goedheid daarin aan jou openbaar.
God se goedheid is ’n goue lyn dwarsdeur die Bybel en is ’n voortgaande gesprek. Sy goedheid staan gereed en wag vir jou!
Deel van God se goedheid wat Hy wil hê ons moet ervaar, is Sy liefde. Daar sal eendag baie mense voor God se troon staan omdat Sy goedheid en liefde hulle oortuig het – nie vrees nie, nie oordeel nie, maar goedheid en liefde.
’n Mens kan maklik onderskei of ’n boodskap wat Skrif insluit, sekulêr is, en of God besig is om te werk. Baie sosiale boodskappe gebruik Skrif, maar bring vrees en angs. Die effek daarvan is veroordeling. Dit maak mense angstig en laat selfs Christene twyfel of hulle dit regtig gaan maak.
Die kenmerk van ’n boodskap en gesindheid van Jesus Christus oor die Koninkryk van God is goedheid en liefde.
As jy selfs kyk na die sekulêre betekenis van liefde, sien jy die mensdom glo en ervaar dat liefde alles verander (“love changes everything”). Ons ervaar egter net ’n klein bietjie van die liefde waaruit God bestaan binne ons verhoudings. Ons glo ons liefde kan mense verander, maar tog twyfel ons in die veranderingskrag van God se liefde.
God ís liefde, en Sy liefde trek nasies na Hom toe. Sy liefde het die krag wat nodig is om lewens te verander, en Sy goedheid oortuig ons van Wie Hy is.
Lees:
Mediteer:
- Kan ek in my huidige omstandighede sien dat God besig is om Sy goeheid aan my te openbaar? Op watter manier doen Hy dit?
- Glo ek in die transformerende krag van God se liefde?
Bid:
Vader, dankie dat U getrou is om my na U toe te trek deur U goedheid en liefde. Alles wat goed is in my lewe kom van U af. Ek het dit nie altyd raakgesien nie, maar nou dat ek begin kyk en soek, sien ek dat U nog altyd getrou was teenoor my. Dankie vir U liefde en dat U alles gedoen het om dit vir my moontlik te maak om U te vind en te volg. Dankie dat U ’n missie met my lewe het en dat daar ’n doel is met my lewe. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
God trek my in Sy Koninkryk in deur Sy goedheid en liefde. Ek sien Sy goedheid raak en getuig daarvan.
Aanbidding:
Goodness of God – Jenn Johnson
Dag 3: Oordeel en/of Genade
Die begin van transformasie in ons lewens is die goedheid en liefde van die Here, nie die oordeel van die Here nie. Oordeel is ’n realiteit, maar die tema – die deurlopende goue draad deur die Woord – is God se goedheid.
Baie mense wil graag hoor, of waarsku vinnig, dat God die wêreld gaan veroordeel. Dat God die wêreld gaan uitsorteer en duidelik gaan maak wat Hy bedoel het toe hulle nie wou luister nie. Dat daar ’n reuseverskil en onoorkombare kloof is tussen Christene en die sondige wêreld, en dat daar geen hoop vir die wêreld is nie. Hierdie boodskap bring angs en spanning, selfs vir wedergebore Christene wat wonder of hulle ’n egte geloof het. Hierdie boodskap staan ook lynreg teenoor dit wat Jesus aan ons kom openbaar het.
Dit is wáár dat daar ’n oordeelsdag kom, maar God self sien nie uit na hierdie dag nie, want dit beteken dat Hy mense sal moet oorgee aan ’n ewige verdoemenis. God sien nie daarna uit nie, en daarom stel Hy dit uit (2 Pet. 3:9). Dit is nie God se groot missie om by die oordeelsdag uit te kom nie – anders sou dit reeds gebeur het. Die groot tema van die Bybel is nie oordeel nie; dit is nie sonde of die idee dat ek heeltyd bewus moet wees van my sonde nie. Die groot tema van die Bybel is God se genade en hoe Hy dit bewys.
Baie van ons dink maklik dat daar miskien meer balans moet wees. Dat daar tog iewers ’n bietjie wet moet bykom en ’n bietjie straf waar verkeerd gehandel is. Net ’n bietjie balans en ’n bietjie uitsorteer. Miskien ’n pakslae, ’n dreigement, en as die persoon nou mooi geluister het, kan daar dán ook ’n bietjie genade bykom. Dan lyk dit soos ’n mooi gebalanseerde teologie wat sin maak. Maar daar is ’n groot probleem met hierdie benadering.
Wat is genade? Wat is die definisie van genade?
“'n Onverdiende guns, die vergiffenis van sonde, of kwytskelding van 'n verdiende straf”.
Genade is altyd onverdiend. Dit kan nie iets anders wees nie en kan nie as ’n aparte konsep funksioneer nie. Die vertrekpunt van genade is dat dit onverdiend is. Dit kan op geen manier verdien word nie.
As genade eers ’n plek kry ná straf of veroordeling, word dit verdien – en dan is dit nie meer genade nie. Dit diskwalifiseer genade. Dit is waarom genade nie met oordeel gemeng kan word nie. Dit is ook waarom ons sien dat die meeste van Jesus se wonderwerke plaasgevind het voordat mense wedergeboorte beleef het – voordat hulle dit kon verdien. Dit is ’n geskenk! Dit is die Vaderhart van God. Hy trek mense nader deur Sy goedheid, Sy liefde en Sy genade.
Ons hoef nie te vrees dat oorvloedige genade mense nie sal red nie, of dat hulle sal aanhou in hulle sondige natuur en daarom ’n boodskap van verdoemenis nodig het nie. Dit is vrees wat ons só laat dink, en ook ’n mate van ongeloof – asof God se transformasiekrag nie genoeg is nie. Maar dit is juis God se genade wat mense in Sy Koninkryk inbring.
Om op sonde te fokus, hou jou gevange in sonde. Dit is soos om te sê: “Moenie aan ’n pers olifant dink nie.” Waaraan dink jy? Juis daaraan! Daarom bring ’n sondebewuste lewe, en ’n lewe in vrees vir oordeel, nie bevryding nie. Dit is God se liefde, goedheid en genade wat ons in Sy Koninkryk inbring, sodat ons werklik vry kan wees.
Wanneer ons wedergebore is en Sy Gees ontvang het, gebeur dit dat Sy Gees ons oortuig – en ook die wêreld oortuig – van sonde, van geregtigheid en van heiligmaking. Die Gees van God doen Sy werk binne ons. Die goedheid en liefde van die Here is kragtig genoeg om mense se lewens te verander. Dit is wat uiteindelik oorwin. God se genade is groot genoeg, en Sy liefde bedek alles.
Genade wen!
Lees:
Mediteer:
- Waarom kan genade en oordeel nie saamgevoeg word as die manier hoe God ons red nie?
- Wat beteken genade vir jou?
- Vir wie wag daar dan ’n oordeel?
Bid:
Vader, dankie dat U vir my onverdiende genade gee en dit bewys het deur Jesus Christus. Dankie dat daar nou, deur Jesus Christus, vir my geen oordeel wag nie, en dat U getrou is aan U Woord. Dankie dat ek nie in twyfel hoef te staan oor U waarheid nie, omdat U nie dubbelsinnig is nie. U bedoel wat U sê, en U het ’n missie met U werke. U het ook ’n missie met my en met hierdie wêreld. Help my asseblief om hierdie genadeboodskap te verstaan en dit uit te leef teenoor almal om my.
In Jesus se Naam. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek ontvang onverdiende genade uit Vader se Hand!
Aanbidding:
My King Forever – Josh Baldwin
Dag 4: Transformasie
Die volle pakkie van die veranderingskrag wat die Here vir ons gee, is in Sy liefde, vir mense wat dit nie kan verdien nie!
“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” (Titus 3:4-7).
Paulus gebruik die konsep van ’n bad van wedergeboorte. Wedergeboorte word in die Bybel as drieledig beskryf: bekering, doop en vervulling met die Heilige Gees.
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12). Wanneer jy Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, is jy ’n kind van God. Jy het nodig om Hom aan te neem, om te aanvaar dat Sy bloed gegiet is vir jou en dat Sy kruiswerk genoeg is om jou sondeskuld te betaal. Dat God jou sonde vergewe op grond van Jesus Christus se werk aan die kruis. As jy nie aanvaar dat Jesus Christus die offer vir jou betaal het nie, kan daar nie vergifnis wees vir jou sonde nie. Bekering is wanneer jy aanvaar dat Jesus Christus jou enigste hoop en Redder is.
Wanneer jy dit aanvaar, spreek jy dit hardop uit. Jy bely dit met jou mond. God het reeds alles gedoen om jou te red, maar jy het ook ’n plek van deelname. Bely met jou mond dat Jesus Christus die Seun van God is en jou Koning en Verlosser. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word” (Rom. 10:10).
Die rede waarom jy met jou mond bely, is omdat “geloof kom deur die gehoor, en die gehoor deur die Woord van God” (Rom. 10:17). Wanneer die Woord sê dat lewe en dood in die mag van die tong is (Spr. 18:21), kies dan dit wat lewe gee – en dit wat lewe gee, is Jesus Christus. Dit waarvan die hart vol is, loop die mond van oor (Matt. 12:34; Luk. 6:45).
Waarvan is jou hart vol? “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spr. 4:23).
Daar is ’n siklus van transformasie wat lewe bring, en dit begin wanneer ek reg begin praat en my “tegnologie” reg aanwend. Dit beteken dat ek my geloof (volgens Heb. 11:1) begin uitspreek en die dinge wat nog nie is nie begin roep asof dit reeds daar is. Ek sien dalk nog nie wat daar moet wees nie, maar ek roep dit in geloof.
Dit is soos wanneer jy vir jou baba gereeld sê: “Jy’s ’n wenner,” maar vir die eerste ses maande is jy heeldag besig om doeke te ruil. Dit is al wat jy in realiteit doen, maar jy spreek reeds die potensiaal uit wat jy nog nie sien nie. Jy spreek dit in geloof van die begin af. Jy glo daar is potensiaal, en jy hou nie op om dit uit te spreek nie. Dit is geloof.
Wat is die bestanddeel wat sommige verhoudings het wat jou toelaat om op so ’n manier te praat? Dit is liefde. Dit is die ekstra bestanddeel in verhoudings wat maak dat jy volgens die Koninkryk van die Here begin praat oor mense en hulle omstandighede. Dit is wat daar is tussen ouers en kinders. Dit is wat daar is tussen jou en God. God spreek al lankal Sy goedheid en guns oor jou uit.
Titus 3 begin met die goedheid en liefde van God wat aan die mens verskyn het. Maak nie saak waar jy is, in watter toestand jy is of wat jy al gedoen het nie – as jy Jesus bely as jou Here, berou het oor jou sonde en aanvaar dat Sy bloed vir jou gestort is en jou sondes vergewe is, dan behoort jy aan God. Dan is jy die geregtigheid van God en Sy kind. Dan behoort jy aan Hom, en Hy gee vir jou vrede.
Dit is waar lewensverandering begin: by Sy goedheid en liefde wat jou transformeer.
Lees:
Mediteer:
- Kan jy ’n spesifieke dag onthou waarop jy Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem het?
- Vir watter sonde dink jy kon die kruis nie betaal nie?
- Waar begin ware transformasie?
- Is daar enige stappe in die drieledige wedergeboorteproses wat jy nog nie deurgegaan het nie? Wat keer jou?
- Die mag van lewe en dood lê in jou woorde. Wat sê jy en wat tik jy op jou foon?
Bid:
Jesus Christus, ek het ’n Verlosser nodig. Vandag aanvaar ek dat U vir my sonde gesterf het, sodat ek verlos kan wees daarvan. Ek is jammer Here ek het gesondig. Ek aanvaar U offer aan die kruis en dat dit genoeg is vir my. Dit sluit geen van my sonde uit nie. Dankie dat U dit deurgevoer het sodat my sonde vergewe kan wees. U is my Verlosser en Saligmaker. U is my Koning. Dankie Vader dat ek nou met vrymoedigheid na U toe kan kom, omdat U my sonde deur Jesus Christus vergewe het. Dankie dat ek nou aan U behoort. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Lewensverandering begin by Sy goedheid en liefde wat my transformeer!
Aanbidding:
Dag 5: Groei!
Daar is ’n paar goue reëls vir gelowiges wat geestelik wil groei en nie stuck wil raak nie. Miskien ken jy die Here, maar dit voel vir jou of jy nie groei nie. Dan het jy nodig om ’n bietjie ondersoek te doen en te kyk wat in jou fondasie aangaan – soos ’n boom wat nie wil groei nie, waarvan jy die wortels oopgrawe om te kyk wat die obstruksie is.
1. Glo in God se Onvoorwaardelike Vergifnis
As jy Jesus Christus as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem het, dan het God jou sondes vergewe. Die wêreld se sondes is nie sommer net outomaties vergewe nie. Dit is wanneer jy Jesus as Koning van jou lewe aanvaar en om vergifnis vra dat jy bevryding ontvang. God maak jou vry van die sondelas, en dit is onvoorwaardelike vergifnis deur Jesus Christus. Jesus Christus het alles gedoen om vergifnis te bewerkstellig.
Om bietjie dieper te grawe, vra jouself af: Glo ek net halfpad, of glo ek dat Jesus se offer aan die kruis genoeg is vir my? As ek berou het, vergewe Hy.
2. Vergewe Jouself
Dikwels is ’n mens so teleurgesteld in jou eie foute en tekortkominge dat jy probeer om God tevrede te stel deur godsdienstige oefeninge. Jy raak skaam oor jou verlede en handhaaf ’n tipe valse nederigheid. Jy dink jy moet bewus leef van jou sondige natuur. Maar die idee dat jy dit reg kan maak deur sondebewus te leef, is ’n vals godsdiens.
God het ons sonde heeltemal verwyder, so ver soos die ooste van die weste (Ps. 103:12), en Hy kies om nooit weer daaraan te dink nie (Heb. 8:12). Hy maak onderskeid tussen sonde en die sondaar, en omdat Hy deur Jesus Christus met ons sonde afgereken het, hoef ons nie daaraan vas te hou nie. God kan sonde verwerp sonder om Sy liefde vir ons te beëindig. Omdat ons deur Jesus Christus vergewe is, kan ons ook onsself vergewe en dit agterlaat.
Om jouself te vergewe het niks met hoogmoed te doen nie. As jy mooi na die Woord kyk, sien jy dat dit eerder ’n teken van nugtere denke is.
3. Noem Jouself wat God jou Noem
God noem ons geregverdig deur Jesus Christus (Rom. 3:21–22; 2 Kor. 5:21). Dit beteken ons staan reg voor Hom, sonder skuld en skaamte. Dit is die geskenke wat ons ontvang het: genade en geregtigheid.
As jy wil groei in die Gees, het jy nodig om te werk aan jou selfkonsep. Eerder as om sondebewus te leef, leef genadebewus. Begin sê wat God oor jou sê. Kies God se Woord bo alles – ook Sy Woord oor jou. Elke belofte wat Hy gegee het, is waar vir jou. Vat dit!
Lees:
Mediteer:
- Met watter een van hierdie drie belangrike punte het jy gesukkel om dit te verstaan en vir jouself te vat? Bid daaroor en vra dat die Here jou help en deur Sy Gees vir jou openbaring gee.
- Neem die tyd en neem God se vergifnis aan.
- Neem die tyd en vergewe jouself.
- Begin sê wat God oor jou sê en moenie leuens oor jouself spreek nie.
Bid:
Jesus Christus, dankie vir U offer aan die kruis en dat dit genoeg is om al my sondes te vergewe en van my af weg te neem. Dankie, Vader, dat U nooit weer daaraan dink nie. Ek aanvaar U vergifnis vir my. Ek vergewe nou ook myself vir _____________ (waarvoor vergewe jy jouself).
Ek spreek myself nou vry, want deur Jesus Christus is ek vrygespreek. Ek hou nie langer vas aan my verlede, my sondes en my swakhede nie, want U kies om nie daaraan te dink nie. Dankie, Vader, dat ek nou deur Jesus Christus geregverdig is en dat U my heilig maak. Ek is waardig, ek is goed genoeg en ek het ’n roeping, want U is my God.
Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Ek is vry omdat ek vergewe is en kan wees wie God my gemaak het om te wees. Tot Sy eer!
Aanbidding: