Die GEES-INTERSEKSIE in jou lewe
Neville Goodchild
“Ek het gebid, maar niks gehoor nie?” – Ontdek hoe God jou kan lei na jou volgende stap van geloof!
Dag 1: Die reg van God se wil
Vir sommige van ons is dit baie belangrik om presies te weet wat God se wil is. Ons wil weet wat die regte pad is, die regte afrit vir ons lewe. Dit is vir ons so belangrik om reg te weet, of dalk eerder, reg te wees, dat wanneer ons die regte besluite geneem het en terugkyk, ons maklik praat oor hoe ons reg gehoor en reg gereageer het. Maar hierdie tipe getuienis mis eintlik heeltemal die punt. Want waaroor gaan getuienis? Wat is belangriker om op te fokus? Draai ek die fokus na Jesus toe, of soek ek eintlik my eie eer? Waaroor getuig ek?
Ons is dikwels baie meer in kontak met ons eie vermoë om reg te wees, en raak maklik selfbewus. Dit kan vinnig begin gaan oor ons eie werke. Wanneer die tema van ons geestelike lewe oor ons eie vermoë om reg te wees gaan, het ons van God se genade vergeet.
Ons moet versigtig wees dat ons soeke na God se wil wat reg is, nie net nóg ’n wetties-belaaide belewenis word wat spanning op ons plaas, ons van God af wegtrek en ons fokus na onsself toe draai nie – en uiteindelik ’n bron van angs en vrees word.
Kan ek God se wil vir my lewe ken? Ja. Moet ek dit ken? Ja. Maar God se wil lyk nie altyd dieselfde nie, en daar is dikwels verskillende “kruispaaie” op die pad van ons lewe. Die moontlikheid om ’n verkeerde afdraai te neem maak ons angstig en onseker, want ons weet nie altyd wat die gevolge gaan wees nie.
Ons weet ons moet kies tussen reg en verkeerd, en dat daar gevolge is wanneer ons verkeerd kies. Maar om net “reg” te kies of alles presies te weet, is nie al wat belangrik is wanneer dit by God se wil kom nie – dit is net ’n deel daarvan.
Ons mis God se groter en Almagtige vermoëns wanneer ons net bly fokus op die reg van God se vermoë en die reg van God se wil. Die reg van God se wil is maar net ‘n aspek van God se wil. Om te weet is nie die volle prentjie van God se wil nie – dit is slegs ’n aspek daarvan.
Dit gebeur dikwels dat mense wat baie seker is oor geestelike dinge, die een oomblik reg is en ’n paar dae later heeltemal verkeerd. Dit wys juis hoe onvoorspelbaar en onstandvastig ons eie vermoë om reg te wees is – en hoe afhanklik ons van God se genade is.
Nog ’n aspek van reg wees, is om reg te begin. Om reg te begin is soos om ’n resieskar te bestuur: dit help nie jy ken net die eerste rat nie – jy moet die hele proses en werking verstaan om die wedren te voltooi.
Ons almal ervaar die menslike realiteit dat wat ons tydens aanbidding beleef, nie altyd Maandagoggend nog so duidelik voel nie. Wat ons geïnspireer het om ’n geloofstap te neem, voel soms minder seker wanneer ons alleen is, of wanneer ander mense se opinies inkom.
Die fokus op “die reg wees van God se wil” kan maklik ’n rooftog in ons lewens word, want dit plaas jouself in die middel as die fokuspunt. Dit plaas ’n onnodige en ongeestelike las op jou skouers.
Ons het nodig om vas te hou aan die waarheid en ’n bietjie te ontspan oor God se wil vir ons lewens – veral oor ons vermoë om dit perfek reg te hoor en reg te doen.
Daar is ander belangrike temas wat ons moet onthou – dinge wat ons verlig, vrymaak en help om ons lewens nader aan God se wil te navigeer.
Om te fokus op God se hand, Sy genade en Sy goedheid, is ’n baie sterker getuienis as die beloning vir jou eie “regte” besluite.
Lees:
Mediteer:
- Waarom is God se wil wat reg is vir my lewe, nie die enigste en belangrikste vir my lewe nie?
- Waarop moet ek eerder fokus in hierdie week wat kom?
Bid:
Vader, soos ek stil word, terugkyk oor my lewe, na binne kyk en na buite, besef ek dat U goedheid en genade in my lewe seevier! Ek is jammer dat ek dit so miskyk en gedurig murmureer en fokus op die verkeerde dinge. Here ek wil nie U plan vir my lewe mis, omdat ek op die verkeerde dinge fokus nie. Help my asseblief om U hand in alles raak te sien, selfs wanneer dinge nie gaan soos wat ek gedink het of beplan het nie.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek fokus op God se genade en goedheid in my lewe!
Aanbidding:
Dag 2: Gehoorsaamheid en geloof
Dikwels, wanneer ons in ’n spanningsvolle seisoen is en besluite moet neem, wil ons graag weet wat God se wil is. Wanneer ons na die Woord kyk, sien ons God se basiese vertrekpunt in Psalm 32:8. Hy maak ’n belofte en sê Hy wil betrokke wees—Hy gaan en Hy sal—sodat jy, wanneer Hy dit doen, beleef: Hy sien jou. Dit is ’n goeie beginpunt. Uit die Woord van die Here leer ons dat God baie gewillig is om ons raad te gee. By God is die tema nie reg en verkeerd nie; by Hom is die tema verhouding. Dit is deur verhouding dat Hy Homself aanbied, saam met jou die pad stap en jou leer, as jy Hom toelaat.
God se wil is nie altyd ’n stem uit die hemel nie. Soms is dit wysheid op aarde!
Aanvanklik weet ons nie God se wil nie, en soos ons groei en ontdek, besef ons dat ons God se wil vir ons lewens kan én wil ken. Dan begin ons die pad stap. Daar is dikwels getuienisse van gelowiges wat beleef dat hulle die stem van die Here hoor. Dit is egter nie die reël nie, en wanneer ons dit die reël maak, is daar ’n risiko dat ons passief raak en nie meer deelneem nie, omdat ons nie weet wat om volgende te doen as ons nie die stem van die Here hoor nie. Dan beleef ons verliese in ons verhoudings, in die materiële en selfs in ons gesondheid—want God praat nie weer op dieselfde manier soos die eerste keer nie.
Die vraag is: hoe kies en beweeg ek vorentoe wanneer God se wil vir my nie duidelik is nie, of wanneer ek nie hoor wat ek verwag om te hoor nie?
Ons het in die afgelope reeks geleer van God se Sewereine wil, Sy morele wil, Sy toegelate wil en Sy persoonlike wil vir my lewe—en dat dit moontlik is om God se wil te ken.
Maar wat as ek God nie so beleef nie? Wat as dit voel asof God nie met my praat nie? Ek bid, ek het al gebid, ek gebruik nagmaal, ek gaan kerk toe, ek raadpleeg ander gelowiges—en tog hoor ek niks.
’n Realiteit van ons geestelike lewe is dat ons dikwels tussen twee dimensies in ons verhouding met God leef: gehoorsaamheid en geloof. Daar is oomblikke in ons lewens wanneer God baie duidelik vir ons sê wat om te doen en waarheen om te gaan, en dan moet ons eenvoudig gehoorsaam wees. Dit is ’n wonderlike plek om te wees.
Maar soos ons groei in ons geloofsreis, ontdek ons dat dit dikwels makliker is om gehoorsaam te wees as om in geloof te wandel.
In ’n huishouding word gehoorsaamheid dikwels met kinders geassosieer. Dit is nie vreemd vir ’n ouer om vir ’n kind te sê om gehoorsaam te wees nie. In ons verhouding met God begeer ons soms om altyd in daardie plek van gehoorsaamheid te bly, omdat dit eenvoudiger voel. Maar geloof vra meer. Geloof behoort aan volwassenheid.
Gehoorsaamheid is ’n reaksie op iets wat jy gehoor en verstaan het. Geloof werk anders—dit vra dat jy beweeg, selfs wanneer jy nie alles duidelik hoor of sien nie.
Wanneer jy bid oor sake waarin jy glo God sal antwoord, maar Hy doen nie, is jy heel moontlik besig om te skuif van ’n plek van kindskap na ’n plek van volwasse geloof.
Wanneer jy ’n begeerte het om God se stem te hoor, maar jy hoor nie, moet dit eerder vir jou ’n teken van groei wees as iets wat jou ontmoedig. Hou aan bid. Praat met die Here en sê vir Hom jy verlang om Sy stem te hoor en antwoorde te kry—maar erken ook dat geloof ’n pad is.
“Soos geskrywe is: “The righteous shall walk by faith” (Heb.10:38; 2 Cor.5:7). Children walk by sight.
Jou begeerte om God se stem te hoor plaas jou voor ’n keuse tussen gehoorsaamheid en geloof—veral wanneer jy nie hoor nie.
Dit is belangrik om te onderskei: wanneer jy bid en God antwoord jou nie soos jy verwag nie, beteken dit nie jy is verwerp nie. Dit beteken dikwels dat jy genooi word om te groei in jou geloofsreis en nie vas te bly by kindskap nie.
God begeer dat jy as seun of dogter in geloof sal wandel!
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan ek weet wat God se wil is as ek nie daarna soek nie?
Hoe soek ek na Sy wil? - Wanneer ek God se stem hoor of ’n innerlike oortuiging deur die Gees ervaar oor wat ek moet doen, is dit makliker om in gehoorsaamheid te wandel. Maar wanneer ek Hom nie hoor nie en nie weet wat om te doen nie—wat is die beste stappe om te neem?
- God se wil:
- Sewereine wil – Sy bepaling; Sy wil wat die mens nie kan verander nie. Sy Seun gaan terugkeer aarde toe om Sy bruid te kom haal. Dit sal gebeur, of jy daaraan deelneem of nie, en of jy glo of nie. Hy gaan dit doen.
- Morele wil – Sy wil wat Hy in Sy Woord openbaar. Dit is die standaard vir hoe God wil hê ons moet optree, leef en hoe ons karakter moet lyk.
- Persoonlike wil – God wil deur ons werk, en daarom moet ons sensitief wees vir die Gees, sodat ons kan leer hoe Hy deur ons werk. Byvoorbeeld: wanneer die Here iemand op jou hart lê, om daardie persoon te bel of spesifiek vir hom/haar te bid. God werk deur jou verhouding met daardie persoon. God se persoonlike wil is ’n diep innerlike bewuswording en oortuiging van wat jy moet doen.
- Toegelate wil – Dit is in jou hande; jy kan kies. Jy gaan nie God se Gees of Sy seën verloor omdat jy besluite neem nie. Maak seker jy bid daaroor en vra dat Sy vrede jou sal lei. Jy het God se Gees in jou wat wysheid gee en ’n vrede bring wat alle verstand te bowe gaan. Volg Sy vrede en bewaak dit. Deur besluite te neem, rebelleer jy nie teen God nie. Ken Hom in alles, en as jy nie spesifieke antwoorde kry nie, neem die besluit.
Bid:
Vader, dankie dat ek U in alles in my lewe kan ken en kan weet dat U Gees in en deur my leef. U gee vir my wysheid wanneer ek U vra, sodat ek die regte besluite kan neem en U vrede kan toelaat om my te lei.
Dankie dat U getrou is oor my, en dat ek nie in vrees en angs hoef te leef oor of ek die regte of verkeerde besluite neem, of of ek in U volmaakte wil leef nie.
U het U Gees aan my gegee om te lei en te regeer in my lewe. Ek vra U vir leiding, en as ek nie ’n duidelike antwoord kry nie, aanvaar ek dat dit ook deel van U wil vir my lewe is—dat ek as seun/dogter in geloof moet wandel.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek raadpleeg die Here en wanneer Hy stil is, neem ek besluite en stappe in geloof.
Aanbidding:
You Keep Your Promises – Charity Gayle
Dag 3: Deure in jou lewe
God begeer dat Sy seuns en dogters in geloof sal wandel. Jy is gemaak om te heers en om besluite te neem aangaande jou lewe. God wil graag betrokke wees in hierdie proses en wil hê dat jy Hom moet raadpleeg.
Wat gebeur wanneer ons nie hoor wat God vir ons wil sê nie?
Soms, wanneer ons nie hoor nie, praat God met ons deur tekens. Hy kan enige tyd ingryp met ’n teken—’n duidelike boodskap wat ons stop of in ’n ander rigting stuur.
Soms praat God met ons deur oop deure
In 1 Korinthiërs 16:5–9 sien ons hoe God vir Paulus deur oop deure lei. Paulus is wys en ervare, en hy kan geleenthede raaksien en benut. Hy sê dat daar vir hom ’n deur oopgegaan het, en hy besluit om die geleentheid te gebruik—al is daar baie teëstanders.
In vers 8 sê Paulus dat hy in Efese sal aanbly. Hoekom bly hy, al het hy nie ’n spesifieke woord, skrif of ander bevestiging ontvang nie? Daar het nie ’n engel aan hom verskyn nie. Al wat hy gehad het, was ’n geleentheid. Hy ken sy roeping, sien die geleentheid en kies om dit te benut.
Soms is die geleentheid self die Here se stem. Die deur is wawyd oop, en dit is waarop die Here jou aandag wil vestig. Vanuit jou ervaring besef jy dit is ’n goeie geleentheid. In so ’n geval: raadpleeg die Here, noem jou besluit aan Hom en gee Hom tyd om te antwoord.
Die Here is God—Hy kan enigiets doen en enige situasie verander. Stel vir jouself ’n tydlyn, byvoorbeeld: neem die besluit teen môreoggend 08:00. Spandeer tyd in die Woord en in gebed, en vra die Here om jou te lei deur Sy vrede of deur ’n duidelike indruk. Noem dat jy teen daardie tyd ’n besluit wil neem. As jy dan geen verdere leiding ontvang teen daardie tyd nie, neem ’n besluit op grond van die wysheid wat die Heilige Gees in jou gee. Laat Sy vrede jou lei.
Paulus het die oop deur gesien en besluit om dit te neem. Die oes op sy besluit was enorm. Dit is wat dit beteken om in geloof te wandel.
Net omdat ’n deur oop is, beteken dit nie dit gaan maklik wees nie. Ons dink soms dat as iets moeilik raak, dit nie die Here se wil is nie. Maar in die Geeswêreld weet ons as gelowiges dat daar met groot geleenthede ook groot weerstand kom. In hierdie weerstand beloon die Here ons soeke na Hom en ons geloof (Heb. 11:6).
Soms praat God met ons deur geslote deure
In Handelinge 16 sien ons hoe die Here ’n deur in Paulus se lewe sluit. Dit gebeur ook met ons: ’n geleentheid lyk perfek, en volgens ons insig kies ons daardie pad—maar dan gaan die deur skielik toe.
Ons lees hiervan in vers 6 en weer in vers 7. Paulus was nie ongehoorsaam nie. Hy het voortgegaan in sy roeping, maar die Gees het hulle nie toegelaat nie. Die deur was toe. Dit was nie weerstand wat hom laat stop het nie, maar die feit dat die deur gesluit was.
Paulus aanvaar dit as God se leiding. Hy worstel nie daarmee nie en val nie terug nie—hy beweeg eenvoudig aan na die volgende geleentheid.
Dit is hoe God ons ook lei deur geslote deure. Wat belangrik is, is om te besef dat die Here ook daarin teenwoordig is. Wanneer jy bid, Hom raadpleeg en ’n besluit neem, maar die deur gaan toe, beteken dit nie dat God jou verwerp nie. Die Here werk ook deur geslote deure—Hy beskerm jou.
Beweeg dan aan na die volgende geleentheid.
Lees:
Mediteer:
- Dink terug aan ’n tyd toe jy ’n geleentheid wou benut, maar die deur skielik toegegaan het. Kan jy nou sien dat dit God was wat jou beskerm het, of dat Hy ’n beter geleentheid vir jou gehad het?
- Is daar geleenthede in jou lewe wat jy moet benut? Het jy al daaroor gebid en die Here vertrou vir Sy leiding? Het jy al ’n besluit geneem, of het jy teruggeval en passief geraak omdat jy nie optree nie?
- Kan jy God se goedheid en guns in jou lewe raaksien?
Bid:
Vader, dankie dat U my wys wat U wil is—deur geleenthede wat ek kan aangryp en ook deur deure wat toegaan om my te beskerm, of omdat U beter weet watter geleenthede U vir my het.
Dankie vir U Gees in my wat wysheid gee, sodat ek U in alles kan ken en besluite kan neem tot die beste van my vermoë.
Dankie dat U in elke geleentheid teenwoordig is, en dat, selfs wanneer dinge nie volgens my plan verloop nie, ek kan weet: U wil is beter, U plan is beter.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Die Here praat deur oop en geslote deure in my lewe en ek kan in vrede elke geleentheid benut met die wete dat Sy Gees in my is om my te help.
Aanbidding:
So So Good – Phil Wickham, Brandon Lake, Elevation Worship
Dag 4: God praat deur gefrustreerde planne en alledaagse besluite
God praat met Paulus op verskeie maniere—soms deur engele, soms deur kragtige manifestasies en soms deur deure wat oop- of toegaan.
God praat deur gefrustreerde planne
In 1 Korintiërs 16:6 skryf Paulus: “En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.”
Paulus is nie altyd seker nie. Hy sê “moontlik”, maar hy bid al lank en dinge wil net nie uitwerk nie. Hy verstaan dat God op verskillende maniere werk.
Miskien beleef jy ook frustrasies in jou planne. Jy het gebid en ’n rigting ervaar, en daarom besluit wat om te doen. Jy het planne gemaak, maar nou werk die omstandighede en geleenthede nie uit nie, en jy beleef frustrasie. Dinge verloop nie soos jy gedink het nie. Dit kan ’n manier wees waarop God met jou praat. Dit kan selfs Sy beskerming wees. Die Here weet beter. Soms lei Hy ons na groter en beter dinge as ons ag slaan op wat Hy besig is om te doen, selfs te midde van frustrasie.
Paulus wys vir ons sekere karaktertrekke wanneer planne nie uitwerk nie. Daar is twee belangrike kenmerke om raak te sien:
1. Paulus is nie altyd seker nie.
Hy sê: “miskien kom ek” en “miskien bly ek.” As gelowiges wil ons dikwels altyd seker wees wanneer dit by die Gees kom. Maar absolute sekerheid is nie die hoogste doel nie. Soms vra God dat ons in geloof moet wandel, en soms dat ons eenvoudig ’n besluit moet neem. Ons kan nie altyd 100% seker wees oor wat God gesê het oor môre nie.
2. In die onsekerheid is Paulus nie angstig nie.
Hy kommunikeer sy onsekerheid in 1 Korintiërs 16:6 sonder om homself te verdedig of onrustig te raak. Hy raak ook nie ongeestelik nie. Hy vertrou dat dinge met tyd sal uitklaar.
Om besluite te neem in ons alledaagse lewe is deel van ons wandel met die Here.
“En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan” (Hand.15:36).
Hier neem Paulus ’n praktiese besluit. Hy sê nêrens dat hy ’n spesifieke woord van die Here gehoor het nie. Dit is waar wysheid inkom. Ons staan daagliks voor keuses, en dit is God se wil dat ons—as volwasse, Geesvervulde gelowiges—besluite sal neem.
Wanneer jy byvoorbeeld ’n finansiële besluit moet neem—om iets te koop of ’n belegging te maak—kan God se wil sigbaar wees in praktiese dinge soos jou bankrekening. Jy kan ’n raadgewer raadpleeg en met wysheid optree, sodat jy finansieel verantwoordelik bly. Nadat jy gebid het en die Here betrek het, en jy steeds geen spesifieke antwoord ontvang nie, neem dan ’n besluit.
As jy seker is dat God se Gees in jou woon en dat jy in Christus is, dan is dit God se wil dat jy besluite neem in die alledaagse lewe.
Dit maak egter nie sin om God se wil vir ’n groot besluit te soek, terwyl jou lewe nie getuig van ’n wandel met die Gees nie. Om God se wil buite Christus te soek, maak nie sin nie.
Wanneer jy in die Gees leef, leef jy reeds in God se wil. As jy Sy Gees ontvang het, het jy wysheid. En wanneer jy die Here betrek het en steeds nie ’n spesifieke antwoord kry nie—neem dan ’n besluit.
Lees:
Mediteer:
- Is dit God se wil dat ek besluite neem?
- Hoe maklik is dit om buite die wil van die Here te beweeg?
- Watter tipe besluite neem my buite die wil van die Here?
- Watter tipe besluite is binne God se wil vir my lewe?
Bid:
Vader, U praat met my deur alledaagse omstandighede waarin ek besluite moet neem. Here, daar is dikwels geleenthede waaroor ek bid en oortuig is dat ek dit moet neem, maar in die proses beleef ek frustrasie. Dankie dat hierdie frustrasie nie beteken dat U nie in die planne of proses is nie. Ek besef dat ek nodig het om in U vrede te bly, te midde van die frustrasie. Dat ek nie angstig hoef te word nie, en dat dit ook nie beteken dat, omdat ek onsekerheid beleef, ek op die verkeerde plek is nie. U is my Vader, en omdat ek U raadpleeg, hou U U hand oor my, en my besluite is veilig in U. Geen besluite wat ek neem, waarin ek U eerste ken en wat belyn is met U morele wil, sal buite U wil val nie omdat U Gees my in wysheid lei.
Bonus: Spreek Lewe!
Gefrustreerde planne is deel van God se manier om met my te praat. Te midde van die frustrasie fokus ek op dit waarmee God besig is. Ek neem besluite nadat ek God geraadpleeg het en plaas my vertroue in Hom!
Aanbidding:
Dag 5: In Hom
Paulus neem besluite.
Beteken dit dat, as ek nie weet wat God se wil is nie, en ek het al gebid, maar ek hoor nie, of dit is moeilik om te verstaan, dat ek dan net beheer neem oor alles in my lewe en bloot my eie kop en besluite volg? Want Paulus doen dit. Paulus gaan aan.
Is dit dan die antwoord?
Wat as ek foute maak?
Moet ons dan maar vir ons hele lewe alles self besluit?
Dit is baie duidelik uit Paulus se briewe dat hy meer bemoeid is met die goedheid van God as met sy eie korrektheid.
God se goedheid is groter as my vermoë om reg te wees en reg te besluit. Hierdie besef bevry my van ’n swaar las.
Dit ís nodig om na die Here te draai en te sê: “Here, ek wil U wil ken en in U lig wandel volgens U Woord,” en dan dit te doen. Soms antwoord die Here nie, omdat Hy verwag dat ek in wysheid besluite sal neem, asook verantwoordelikheid vir daardie besluite sal aanvaar, terwyl ek op Sy goedheid vertrou. God het die vermoë om alles in my lewe ten goede te laat meewerk.
In Efesiërs 1 sien ons meeste van die elemente van God se wil:
In verse 3–4 sien ons dat God reeds voor die grondlegging van die aarde besluit het om ons die objek van Sy liefde te maak. Dit is God se soewereine wil — ons kan dit nie verander nie.
Verderaan sien ons God se geopenbaarde wil, en dat selfs al verstaan ons God nie altyd nie, ons steeds vervul kan word met die Heilige Gees en daardeur elke geleentheid kan benut om keuses te maak.
“in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef.1:11).
Paulus weet dat God se goedheid belangriker en beter is as om altyd reg te wees. Die plek waar hy staan, is ’n plek van seunskap — en dit is reeds uitgesorteer. Hy verklaar dat hy ’n erfdeel ontvang het volgens God se wil, omdat hy in Jesus Christus is.
Dit is net in Christus dat ons hierdie alles ontvang en in God se wil bly.
Daar is ’n groot posisionele verskil tussen gehoorsaamheid en geloof. Kindskap word gekenmerk deur gehoorsaamheid, maar volwassenheid deur geloof. God weet wanneer ons swak is, en daarom gee Hy soms spesifieke opdragte waaraan ons gehoorsaam moet wees. Dit is veilig.
Dit is nie verkeerd om te erken dat jy swak is nie. Van daar af groei ons geestelik en word sterker. God se wil is dat ons mettertyd self besluite neem volgens die wysheid van Sy Gees. Dit is nie meer net gehoorsaamheid nie, maar om in geloof te wandel.
Dit bly steeds ’n lewe van afhanklikheid en ’n diep bewustheid van God se goedheid en vermoë. Dit is om in Christus te bly, in geloof besluite te neem en te wandel volgens die roeping wat Hy vir elkeen van ons het!
Lees:
Mediteer:
- Hoe kan ek in Christus bly?
- Kan ek volwassenheid bereik sonder kindskap? Waar trek ek nou in my geloofsreis?
- Moet ek leer om stil te word en te luister?
- Het die Here al stilgebly omdat ek as volwasse gelowige besluite moet neem?
Bid:
Vader, leer my om te luister en om rustig te bly wanneer ek nie iets hoor nie. As ek ingestel is op U en in Christus is, sal ek hoor wanneer U praat, want U sê self U skape ken U stem. Ek wil begin wandel volgens U wil en stappe van geloof neem, sonder om terug te val of ongelowig te word omdat ek onseker is, of nie hoor nie. Ek wil soos Paulus voortgaan met die roeping wat U vir my gegee het. Help my asseblief om my roeping te ken en vas te maak, en dan te volhard in geloof. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
In Hom het ek ’n erfdeel ontvang, volgens God se wil en Sy voorneme om alles te laat meewerk. Ek het die Gees ontvang, sodat ek in wysheid besluite kan neem en my roeping uitleef!
Aanbidding: