GRACE IN A PIGSTY
Madz Deyzel
Is daar doel en rede in trauma, verlies, teleurstelling en pyn? Kan my skuld, skaamte en seer betekenis vol wees? Kan ek God vind in my varkhok?
Dag 1: God se doel met my lewe
Wanneer die lewe ingewikkeld raak, wonder ons dikwels: Wanneer gaan hierdie kompleksiteit ophou? Dit voel asof daar elke dag nog uitdagings bykom. Die lewe raak soms soos 'n varkhok, en wanneer ons om ons kyk, sien ons net die skade en gebrokenheid rondom ons.
Maar dit is juis in hierdie varkhok-oomblikke van die lewe waar God se genade kragtig werk en aanhou werk. Dit is ons hoop: dat selfs in die kompleksiteit van die lewe, genade steeds aan die werk is.
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).
Die Here is nie stadig nie; Hy is geduldig, en dit is genade. Sy goedheid, Sy genade en Sy hart is dat elke mens hulle sal bekeer en na Hom toe sal kom.
Soos ons meer leer van God se hart en God se doel met ons lewens, word ons eie verantwoordelikheid daarin ook geopenbaar. Dit openbaar ook hoe ons op Sy plan reageer. God bly soewerein, selfs in die kompleksiteit van die lewe.
As ouers bevind ons onsself soms in situasies waar ons wonder of ons die regte ding doen – veral wanneer ons kinders besluite neem wat ons weet hulle in die varkhok kan laat beland. Ons voel soos mislukkings as ouers en ervaar skaamte wanneer ons sien hoe ons geliefdes verkeerde besluite neem. Dit kan ons paniekerig maak omdat ons die situasie wil beheer.
Juis daarom het ons insig nodig in die Vaderhart.
“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Ef. 4:11-12).
God is doelgerig en strategies. Sy hart is om die liggaam van Christus toe te rus, en daarom rus Hy die kerk toe met verskillende gawes, spesifiek hiervoor. Dit is goeie nuus wanneer ons na die diversiteit van hierdie gawes as toerusting kyk.
God het gawes aan die kerk gegee om mense toe te rus.
“totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (vers 13);
Die doelwit is om tot geestelike volwassenheid in Christus te groei – om op te weeg teen die volle standaard van Christus.
Die doel van toerusting is nie bloot kennis nie, maar volwassenheid in Christus.
Wanneer 'n pasgebore baba saam met jou huis toe gaan, is daardie baba 100% afhanklik van jou en dra hy 0% verantwoordelikheid. Jou doel as ouer is egter om daardie kind só groot te maak dat hy uiteindelik as 'n volwassene uitstap met 0% afhanklikheid van jou en 100% verantwoordelikheid vir sy eie lewe.
Ons moet groei van afhanklike kinders na verantwoordelike seuns en dogters.
Waarom is dit die doelwit?
“sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (vers 14)
Die waarskuwing is dat ons nie deur elke "wind van lering" rondgeslinger moet word nie.
Wat is dan die metode?
“maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (vers 15)
Daarom het ons dikwels nodig om in liefde die waarheid te spreek – selfs wanneer dit moeilik is.
Volwassenheid beteken om meer soos Christus te word.
“One man and Christ is the majority in every situation.” – David Lipscomb
Dit is geestelike volwassenheid. Dit bring hoop in hopelose situasies.
Selfs die varkhok hoef nie die einde van die storie te wees nie. In Christus kan selfs die kompleksiteit van die lewe gebruik word om ons tot geestelike volwassenheid te lei.
God se plan is nie net redding nie; dit is geestelike volwassenheid.
Lees:
Mediteer:
- Watter areas van my lewe voel tans soos 'n "varkhok", en hoe kan ek God se genade en teenwoordigheid juis daar begin raaksien?
- Op watter gebied nooi God my om te groei van afhanklike kindskap na verantwoordelike geestelike volwassenheid in Christus?
- Waarin roep die Vader my vandag om die waarheid in liefde te ontvang en daarin te groei na die beeld van Christus?
Bid:
Vader, U is almagtig, genadig, lankmoedig, liefdevol en vol trou. U het 'n groter plan as net die varkhok wat ek raaksien. Sal U asseblief U waarheid aan my openbaar en my help om dit nie opsy te skuif nie, maar dit eerlik in die gesig te staar, sodat ek kan groei na die beeld van Christus en tot geestelike volwassenheid. Ek wil verantwoordelikheid neem vir die dinge wat U as my Vader aan my toevertrou. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek neem verantwoordelikheid vir dit wat God aan my toevertrou. Deur Sy genade groei ek na geestelike volwassenheid, ten spyte van my omstandighede!
Aanbidding:
Dag 2: Die risiko van selfgenoegsaamheid
In die verhaal van die verlore seun leer ons van die risiko van selfgenoegsaamheid. Die jongste het vir sy pa gesê: “Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel... ” (Luk. 15:11-13).
Ons moet onthou dat God 'n spesifieke doel het. Sy hart is om Sy seuns en dogters tuis groot te maak in wysheid en geestelike volwassenheid. God se hart vir die kerk is om seuns en dogters binne 'n geestelike familie toe te rus as apostels, profete, evangeliste, herders en leraars, sodat ons as 'n volwasse liggaam kan funksioneer.
Die verlore seun het hierdie doel verwerp. Sy plan was eenvoudig: “Gee vir my wat my toekom.” Dit is wat ek wil hê, en jy moet dit vir my gee. Hy het weggeloop van die huis wat bedoel was om hom te vorm en te help groei tot volwassenheid. Tog het hy reeds alles gehad wat hy nodig gehad het in sy vader se huis. Hy wou onafhanklik en selfgenoegsaam wees.
Hierdie is egter nie net 'n verlore-seun-probleem nie; dit is 'n menslike uitdaging. Ons sien dieselfde gesindheid reeds in Eden in Genesis 3:4-5: onafhanklikheid van God. Die vyand het die vrou oortuig dat sy God nie nodig het nie en dat dit beter is om onafhanklik en selfgenoegsaam te wees. Dat as sy van die boom van die kennis van goed en kwaad eet, sy soos God sou wees – wat sou beteken dat sy Hom nie meer nodig het nie.
Binne hierdie verhaal lê daar 'n vraagteken oor God se goedheid. Die oortuiging ontstaan dat God iets van ons weerhou en dat dit dalk beter is om dinge uit eie krag te doen en self te besluit wat reg en verkeerd is – “Om self te bepaal wat waar is”.
Het jy al gehoor hoe mense sê: "Dit is my waarheid" of "Hierdie is wat vir my waar is"?
Die vrou was oortuig dat die boom goed was en dat die vrug begeerlik was. Sy wou self bepaal wat waar is en haar eie insig volg. Net soos die verlore seun het sy in wese gesê: "Gee vir my." Dit is die taal van dwaasheid – die "gee vir my"-ingesteldheid.
Spreuke beskryf dwaasheid op verskillende maniere en onder andere as selfgenoegsaam, weerstandig teen verandering, beïnvloedbaar deur slegte geselskap, aanhoudende dwaasheid en gekenmerk deur valse selfvertroue. Dwaasheid is om dinge uit eie krag te probeer doen – sonder afhanklikheid van God.
Wanneer ons na die verhaal van die verlore seun kyk, ontstaan daar 'n paar belangrike vrae.
Die eerste is: Waarom het die vader vir sy seun sy erfdeel gegee?
Hoeveel van ons wat ouers is, sou dit doen? Het die vader sy seun se dwaasheid gevoed deur in te stem?
God weet dat die pad van dwaasheid en selfgenoegsaamheid uiteindelik na die varkhok lei. Maar God weet ook dat die varkhok ons dikwels terugbring tot besinning. Om tot jou sinne te kom, is die hoop. Wanneer dit wat uit eie krag gebou is nie meer werk nie, ontdek ons weer ons afhanklikheid van die Vader.
God laat soms die gevolge van ons keuses toe om ons tot besinning te bring.
As jy onafhanklik en selfgenoegsaam leef, is die risiko dat jy jou siel vir ewig verloor. En dit is juis die Vader se hart – Hy wil jou nie verloor nie.
Is daar enigiets meer waardevol as jou siel? As jy R400 triljoen sou ontvang, maar jou siel verloor, sou die ruil die moeite werd wees?
“Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mat. 16:26)
Die vader was bereid om 'n wêreldse erfdeel te verloor as dit sou beteken dat hy sy seun weer sou terugkry; as dit sou beteken dat sy seun vir ewig verlos sou wees. Dit is die hart van God.
God sê as't ware:
“Ek is bereid om alles van hierdie wêreld prys te gee as dit jou terugbring na ewige verlossing – terug na My.”
Dit is genade in die varkhok.
Lees:
Mediteer:
- Was ek al op 'n plek waar die gevolge van my eie keuses my tot stilstand gebring het en ek het besef: Ek kan dit nie alleen doen nie; ek het die Vader nodig? Is daar dalk so 'n area in my lewe vandag?
- Onafhanklikheid van God lei tot gebrokenheid; afhanklikheid van God bring lewe. Is daar areas van my lewe waarin ek onafhanklik van God funksioneer?
Bid:
Vader, dankie dat afhanklikheid van U beteken dat ek veilig is om te groei en te leef. Dankie dat ek nie op my eie insigte hoef staat te maak nie, maar dat ek U in alles in my lewe kan ken en sodoende 'n lewe in oorvloed kan leef. In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
In my afhanklikheid van God groei ek tot geestelike volwassenheid!
Aanbidding:
Here Again – Elevation Worship
Dag 3: Genade in die varkhok
Die tweede vraag wat belangrik is om te oordink, is: Waarom het die vader nie uitgegaan om sy seun te gaan soek nie?
In die drie gelykenisse lees ons van 'n verlore skaap, 'n verlore muntstuk en 'n verlore seun. In die eerste gelykenis het die herder sy verlore skaap gaan soek. In die tweede het die vrou haar verlore muntstuk gesoek. Maar in die derde verhaal het die vader nooit sy seun gaan soek nie. Hy het vir hom gewag. Hy het na hom uitgekyk. Maar hy het nie agter hom aangegaan nie.
Waarom?
Sommige mense is verlore omdat hulle nog nooit die Vaderhart leer ken het nie. Maar in die verhaal van die verlore seun was dit anders. Die seun het sy vader van die begin af geken. Dit is die kern van die verhaal. Die verlore seun was nie verlore omdat hy nie geweet het waar sy huis was nie; hy het doelbewus gekies om weg te gaan van sy vader se goedheid. Daarna het hy homself in die varkhok bevind.
Daarom het ons wysheid nodig wanneer dit kom by mense se varkhok-seisoene en hoe ons daarop reageer.
Daar moes waarskynlik baie gesprekke tussen die vader en sy seun plaasgevind het voordat die vader sy erfdeel aan hom gegee het. Uiteindelik het die vader egter opgehou redeneer.
Soms kom ons ook by 'n plek waar ons moet ophou praat en ophou redeneer (Spr. 23:9). Dan moet ons toelaat dat die lewe sy loop neem, sodat mense tot hulle sinne kan kom. Soms gee God mense oor aan hulle eie dwaasheid (Ps. 81:11-13; Rom. 1:24-26).
Wanneer God mense aan hulle eie dwaasheid oorgee, is dit nie verwerping nie. Dit is wysheid. Daar is tye wanneer ons daarop aandring om dinge op ons eie manier en uit eie krag te doen. Juis dan ontdek ons dat ons dit nie alleen kan regkry nie en dat ons God nodig het.
Die derde vraag wat ons moet oordink, is: Wat sou gebeur het as die vader vir sy seun KFC na die varkhok toe geneem het? Sou die seun dan tot sy sinne gekom het?
Wat was dit wat die verlore seun uiteindelik tot sy sinne gebring het?
“En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie” (Luk. 15:16).
"Niemand het hom enigiets gegee nie."
Die Grieks maak dit duidelik dat dit nie 'n eenmalige ervaring was nie. Niemand het aangehou om hom te onderhou nie. Daar was herhaaldelik niks.
Ons leef in 'n wêreld wat baie dors is – dors na waarheid, maar ook dors na beheer en selfgenoegsaamheid.
Daar is baie mense wat dors is, en daarom het ons wysheid en onderskeiding nodig om te weet wanneer dit die regte tyd is om water in die varkhok in te bring en mense na die Fontein van lewende water te wys.
In Johannes 6 sê Jesus dat ons nie moet werk vir voedsel wat vergaan nie (vers 27), want Hy is die Brood van die lewe (vers 35). Niks in hierdie wêreld – nie eers 'n erfdeel van R470 triljoen nie – kan die siel versadig nie. Net Christus kan.
Die wêreld bied nie die regte voedsel vir ons siele nie. Daarom laat dit ons leeg en onvervuld. Alles wat die wêreld belowe, gee uiteindelik niks.
“Maar hy het tot homself gekom... (Luk.15:17)
Dit was die keerpunt.
God se genade beteken nie altyd redding uit die varkhok nie; soms ontmoet Sy genade ons juis dáár, sodat ons tot ons sinne kan kom.
Die doel van die varkhok is nie vernietiging nie, maar openbaring. Dit openbaar dat die wêreld nooit kon gee wat net die Vader kan gee nie. Wanneer ons tot ons sinne kom, ontdek ons dat die Vader nog steeds wag, nog steeds uitkyk en nog steeds gereed is om ons in Sy huis te verwelkom.
Lees:
Joh.6:27; 35
Mediteer:
- Hoe ontmoet God my in my varkhok-seisoen, en wat wil Hy my van Sy Vaderhart openbaar?
- Help ek mense op 'n manier wat hulle nader aan die Vader bring, of maak ek dit makliker vir hulle om in die varkhok te bly?
- Is daar mense in my lewe wat tans 'n varkhok-seisoen beleef en wie se nood my emosioneel, geestelik of finansieel uitput? Hoe nooi God my om hulle met liefde én wysheid te ondersteun?
Bid:
Vader, gee my onderskeiding om te weet hoe om mense in hulle verskillende seisoene lief te hê – met waarheid, genade en wysheid. Amen
Bonus: Spreek Lewe!
Daar is hoop in gebrokenheid, want die Vader se genade werk selfs in die varkhok. Die varkhok is nie die bestemming nie; die Vader se huis is!
Aanbidding:
Known By You – Gateway Worship
Dag 4: Die pad van bekering
Die seun het tot sy sinne gekom:
“Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge” (Luk.15: 17-19).
Wat hier gebeur, is dat die storielyn verander. Die ingesteldheid verander van "gee vir my" na "maak my" – van selfgenoegsaamheid na diensbaarheid.
Om jou te bekeer, is om tot jou sinne te kom. Ons dink dikwels dat bekering bloot beteken om jammer te sê. Maar bekering is meer as net berou. Dit is die besef dat ek op my eie krag en insig staatgemaak het; dat ek probeer het om my siel te voed met my eie "brood van die lewe", en dat dit my uiteindelik leeg gelaat het.
Bekering is 'n 180°-omdraai. Dit is die besef dat dit beter is in my Vader se huis, en dan die besluit om die pad terug te begin stap. Bekering is die reis van selfgenoegsaamheid na oorgawe – die erkenning dat ek dinge nie uit myself kan doen nie.
Bekering sluit ook die heilige vrees van die Here in. Dit is die openbaring dat die pad van onafhanklikheid uiteindelik tot vernietiging lei. Dit gebeur wanneer ons ophou om God te vrees. Ons leef in 'n wêreld waar baie mense vir Jesus lief is, maar nie altyd Sy soewereiniteit besef nie. Hy is Majesteit. Hy is Heilig.
“maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” (Luk.12:5).
En dan lees ons:
“Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (vers 6-7).
Hierdie verse staan nie in kontras met mekaar nie. Dit is eerder 'n uitnodiging: Hê ’n Heilige ontsag vir God, maar leef nie in vrees nie.
Die heilige vrees van die Here beskerm ons teen dwase besluite wat na die varkhok lei. Ons besef dat God die mag het oor lewe en dood en dat Hy die laaste sê het. Hierdie ontsag bewaar ons en hou ons naby aan die ware lewe. Dit is ook die besef en die oorgawe dat dit beter is in my Vader se huis, en dat ek hierdie lewe nie uit my eie krag kan leef nie.
Die Vader se uitnodiging bly altyd dieselfde: Kom terug huis toe.
Ware bekering is die reis terug na die Vader. Dit is om tot jou sinne te kom, op te staan en terug te keer na die Een wat jou nog altyd liefgehad het.
Bekering is nie bloot om weg te draai van sonde nie; dit is om terug te draai na die Vader.
Lees:
Mediteer:
- Is daar areas van my lewe waarin ek nodig het om 'n 180°-draai te maak en terug te keer na die Vader se huis?
- Hoe kan ek God vrees en Sy heiligheid eer, sonder om bang te wees om na Hom toe te kom?
- Hoe lyk die "maak my"-ingesteldheid prakties in my lewe, en wat vra die Vader van my om aan Hom oor te gee?
Bid:
Vader, ek is jammer dat ek so op myself aangewese was. Jammer dat ek net wou hê wat ek gedink het my toekom. Vergewe my dat ek die dinge van hierdie wêreld nagejaag het en nie in U huis wou bly om te groei en te leer tot geestelike volwassenheid nie.
Vader, ek draai vandag terug na U en begin die reis terug na U Vaderhart. Dankie dat U vir my wag en my met ope arms ontvang. U genade is groter as wat ek ooit kan begryp. Dit is amper te goed om waar te wees.
Vader, maak my die seun/dogter wat U nog altyd bedoel het ek moet wees. Vorm my na die beeld van Christus en leer my om in afhanklikheid van U te leef. Wees teenwoordig in my huidige omstandighede en lei my ook in die pad wat voorlê.
In Jesus se Naam. Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Ek kies die pad van bekering. Die Vader vorm my tot die seun/dogter wat Hy nog altyd bestem het dat ek moet wees.
Aanbidding:
Dag 5: Die Vader herstel
Ons leer deur die verhaal van die verlore seun ’n paar dinge oor die Vader.
Liefde gee vryheid. Dit beheer nie. God eer ons vrye wil. As ouers wil ons graag ons kinders onafhanklik grootmaak, maar die oomblik wat hulle onafhanklik is, wil ons hulle weer inperk en beheer. As jy ’n ouer is, moet jy weet dat jou waarde nie bepaal word deur jou kinders se aksies en besluite nie. Vader God laat nie toe dat ons besluite Sy identiteit of waarde bepaal nie. Hy is standvastig in Sy identiteit en Sy hand bly oop vir ons, want Hy weet daar kom ’n tyd wat ons tot ons sinne sal kom.
Die Vader kyk uit vir sy seun en Hy wag. Hy hardloop nie agter hom aan om hom te verander nie. Om te wag is nie swakheid nie; dit is moed. Die gebed van 'n ma en die gebed van 'n pa wat wag en uitkyk, is geloof en hoop, toegevou in liefde.
Die Vader beskerm deur die skande tegemoet te hardloop. Toe die vader sy seun in die verte sien, het hy hom tegemoet gehardloop. Hy het nie gewag dat sy seun eers by die huis aankom nie. Die oomblik toe hy sien dat sy seun met 'n bekeerde hart terugkeer, het hy na hom toe gehardloop.
Hierdie het ’n diep betekenis. In die Joodse kultuur was dit 'n groot skande wanneer 'n seun sy familie se erfdeel verloor het. Wanneer so iemand terugkeer, kon die gemeenskap hom openlik verwerp deur 'n seremonie uit te voer wat sy afsnyding van die gemeenskap simboliseer. Dit sou beteken dat hy nie meer welkom was nie.
Daarom het die vader uitgekyk vir sy seun. Die oomblik toe hy hom sien, het hy gehardloop om eerste by hom uit te kom. Hy wou sy seun beskerm teen die skande en verwerping van die gemeenskap. Deur dit te doen, het die vader die risiko geneem om self die vernedering te dra. Hy was bereid om die skande op homself te neem om sy seun te red.
Is dit nie wat Vader deur Jesus gedoen het, toe Jesus ons skuld en skande geword het, sodat ons ’n nuwe lewe in Hom kan hê nie?
In Genesis 3 lees ons van die eerste keer wat die mens skuld en skaamte (skande) beleef. Hulle het besef dat hulle naak is. Hulle het weggekruip en hulleself probeer bedek. Dit is wat die mensdom doen wanneer daar skuld en skaamte is. Hardloop weg, kruip weg, bedek jou skande. Niemand leer dit vir jou nie, dit is instink.
Om skuldig te wees beteken dat jy iets verkeerd gedoen het, ’n fout gemaak het. Skande sê egter dat jý ’n fout is.
Dit is een van die grootste leuens van die vyand. Hy wil hê dat jy in die varkhok van skande moet bly leef. Eers verlei hy jou om van die vrug te eet, en daarna beskuldig hy jou omdat jy daarvan geëet het. Hy weet dat skuld en skande mense wegdryf van God af.
Het jy al ooit probeer om vir jouself 'n uitrusting van blare te maak? Dit hou nie lank nie. Dit verdor, breek af en val uitmekaar.
So is dit ook wanneer ons probeer om ons skuld en skande met ons eie oplossings toe te maak. Uiteindelik laat dit ons geestelik leeg, honger en uitgeput.
In Genesis 3 het God ’n beter plan gegee. Hy het ’n dier doodgemaak en kledingstukke van die dier se pels gemaak. Adam en Eva beleef hier vir die eerste keer hoe ‘n onskuldige slagoffer hulle skande bedek.
Dan herhaal die geskiedenis homself. Die bedekking van die dier word die bedekking van Christus. God se hart het nie verander nie. Hy wil hê dat die verlore seuns moet terugkom huis toe. Terselfdetyd wil Hy ook hê dat ons tot ons sinne moet kom en besef dat ons dit nie uit eie krag kan doen nie. Ons het die Brood van die Lewe nodig.
Die hart van die Vader in hierdie verhaal is herstel.
Hy bring die seun terug in sy huis en herstel sy volle identiteit:
- die kleed — bedekking en waardigheid
- die ring — gesag en identiteit
- die sandale — seunskap en aanvaarding
- die feesmaal — herstel van verhouding en gemeenskap
Die Vader sê:
"Hierdie seun van my was dood en het weer lewend geword; hy was verlore en is gevind."
Daarom word daar feesgevier.
God se hart is nie veroordeling nie, maar herstel.
Die Vader se liefde herstel volledig wat sonde, skuld en skande probeer vernietig het. Die varkhok was nooit die bestemming nie; die Vaderhuis was nog altyd die bestemming.
Lees:
Mediteer:
- Watter aspek van die Vader se hart in hierdie verhaal raak my die meeste, en waarom?
- Hoe het God my al ontmoet in my skuld en skande, en hoe het Hy my daarmee gehelp?
- Wanneer ek foute maak, sien ek myself as iemand wat 'n fout gemaak het, of as iemand wat 'n fout ís? Wat sê die Vader daaroor?
Bid:
Vader, ek het berou oor die verkeerde besluite wat ek geneem het. Ek besef dat ek dikwels voel soos 'n mislukking en dat ek nie behoort nie. Ek is jammer vir my foute. Ek besef vandag dat ek die lewe nie op my eie kan doen nie. Ek kry dit nie reg sonder U nie.
Vandag draai ek terug na U toe. Here, ek is skaam oor my sonde en my mislukkings, en dikwels wil ek wegkruip. Maar dankie dat U my tegemoet hardloop. Dankie dat U my skuld en skande bedek deur die bloed van Jesus. Vandag ontvang ek hierdie genade, al voel dit soms te goed om waar te wees.
Dankie dat U my herstel as seun/dogter in U huis. Dankie dat U my identiteit herstel en my herinner dat ek nie 'n fout ís nie. Ek is wie U sê ek is.
Dankie dat U vir my 'n fees voorberei en my uitnooi om aan U tafel te sit. Dankie dat U saam met die hemel feesvier wanneer verlore seuns en dogters huis toe kom.
Ek was verlore, maar nou is ek tuis by U.
Dankie, Abba Vader.
In Jesus se Naam.
Amen.
Bonus: Spreek Lewe!
Deur Jesus Christus is ek ten volle herstel. My skuld en skande is bedek, my identiteit is herstel, en ek sit aan die tafel wat my Vader vir my voorberei het.
Aanbidding: