Go Deep 26 April 2026

 Geesstelike Kruispaaie

Neville Goodchild               

 

                                                         

 

Dag  1: Hoe om jou weg in die wêreldverkeer te vind sonder ʼn kompas of selfoon se GPS

Sjoe, vandag se kerk was lekker. Ons het vriende gesien, die wonderwerk van lofprysing ervaar, saam gebid en geleer. Daar is geen twyfel dat God teenwoordig in ons kerk is nie. Loodgieter, wetenskaplike, bouer, regsgeleerde, tuisblymamma en verkoopsdame, ons is saam.

Hierdie skrywer se oë traan elke Sondag wanneer hy sien hoe gewone mense die Here loof.

Wanneer laas moes jy deur massiewe padverkeer probeer om betyds te wees vir jou afspraak? Ons kan deesdae nie sonder GPS ry nie. In die ou dae het ons padkaarte en/of padaanwysings gebruik.

“You are good.”

ʼn Student staan ʼn paar rye voor ons. Oë toe. Hande in die lug. Sy is lief vir ons Here. Agter ons staan ʼn man en vrou, ouer maar kinders van Hom. Dit is nie iets wat , deur ʼn YouTube video ervaar kan word nie.

“You are good.”

Is Hy nie?

Ons is geneig om op geestelike vlak ʼn padkaart of geskryfde notas uit te haal in die hoop om ons geestelike bestemming te bereik. Ons lees boeke, luister na podcasts, maar ons kom nie by die Vader uit nie. Ons probeer by mense leer, nie by God nie.Want dit is mos Oukei. As ek doen wat “hulle” sê gaan ek Sy wil hoor en ervaar.Die Here het nie lyste vir ons nie, net liefde. Hy soek ons, selfs wanneer ons verstrengel is in ons aardsheid.

Ons soek vrede op die verkeerde plekke. Die Here het dit klaar uitsorteer. Lees vandag se leesstuk.

 

 

LEES:

Joh. 14:27

 

MEDITEER

Het ek ‘n kompas of dryf ek sonder rigting?

Bid: 

Vader, ek dobber rond sonder U raad, lering en liefde.  Help my om dit nie net te onthou nie, maar om ander daarvan te vertel. In Jesus naam, Amen.

 

BONUS: SPREEK LEWE!

Die Here stel nie belang in wat ek gedoen het nie, maar in wat ek wil doen

Aanbidding:

Glorious day – Kristian Stanfill

 

 

Dag 2: Skuif uit die Skaduwee van Doodsangs na die Lig

Het jy al agtergekom hoe vrees mens se hele wêreld kan inkrimp, asof die mure om jou al nader kruip en jou vasdruk? In vandag se tyd loop meer mense as ooit tevore rond met wat ons "angs" noem, maar diep binne is dit dikwels "doodsangs". Ons wonder of ons môre gaan maak, of ons gaan oorleef wat ons nou beleef. Hierdie gedagtes skep chaos wat lewens in duisternis dompel.

Maar hier is die goeie nuus: as gelowiges het ons 'n antwoord in die Woord. Jesus het gesê dat baie van ons die dood nie eers sal "smaak" nie (lees Matt. 16:28). Hoekom "smaak"? Want die wêreld "eet en drink" die dood totdat dit deel van hulle sisteem word. As kinders van die Here is daar egter 'n skuif—'n verskuiwing uit die kloue van die vyand na die koninkryk van lig. Ons smaak nie meer die dood nie; ons "proe en sien dat die Here goed is".

Vir 'n wedergebore kind van God is die einde van ons aardse pad nie 'n donker storie nie, maar 'n oopsluit van 'n deur na die heerlikheid. Ons hoef nie meer soos die wêreld 'n "bucket list" te jaag uit vrees dat ons iets gaan mis nie. Ons word gedryf deur die liefde van Christus en die ewige lewe. Staan vandag in daardie lig en weier om die vrees van die wêreld te eet of te drink.

LEES: Joh. 8:12

MEDITEER Is vrees die dryfveer agter my besluite, of die lig van die ewige lewe?

Bid: Vader, dankie dat U my uit die duisternis van angs gered het. Help my om vandag in U lig te wandel en die lewe te smaak wat U so ryklik voorsien. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Vrees is nie my erfdeel nie; ek is 'n kind van die lig!.

Aanbidding: You are Good Brian Johnson

 

 

 

 

Dag 3: Saai met Invloed, nie uit Verpligting nie

Almal van ons ken iemand wat boer. Daar waar hierdie skrywer vandaan kom, is baie mega-boere, manne wat baie hektaar onder besproeiing sit en baie suksesvol boer. Hulle sukses is baseer op die feit dat hulle baie moeite doen om grond voor te berei en dan saai hulle met intensie om maksimum voordeel uit die oes te haal.

In die kerk praat ons dikwels oor finansies, maar ons mis soms die hart daarvan. In die Ou Testament was daar 'n "vloek" gekoppel aan tiendes as mense dit nie gegee het nie, maar Jesus het daardie vloek verbreek en ons vry gemaak. Ons gee nie meer omdat ons "moet" of om vrymaking te koop nie—Jesus het reeds die prys betaal.

In die Nuwe Testament gaan ons finansies oor invloed. Jesus het gesê ons moet slim wees en leer by hoe die wêreld geld gebruik om deure oop te maak. In die geeswêreld maak ons finansies deure oop vir die evangelie. Wanneer jy saai, moenie dit sien as "kollekte" nie; sien dit as saad wat jy in die grond sit vir 'n spesifieke oes,.

Vra jouself af: Is daar siele om my wat gered moet word?. Gebruik jou finansies om geestelike invloed uit te oefen. Saai jou saad met die gebed dat gesinne gered sal word en dat mense wat in duisternis wandel, in die pad van die Woord sal begin stap. Jou geld is 'n instrument om die koninkryk uit te brei en mense te bereik wat die Here nog nie ken nie.

LEES: 2 Kor. 9:7

MEDITEER Sien ek my bydrae as 'n las of as 'n saad vir iemand anders se redding?.

Bid: Here, dankie dat U die bron van my finansies is. Help my om met vrymoedigheid te saai sodat daar 'n oes van geredde siele in my omgewing sal wees. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! My finansies is 'n instrument van goddelike invloed op aarde!.

Aanbidding: I will follow – Chris Tomlin

 

 

Dag 4: Die "Vredemeter" op ons Geestelike Instrumentpaneel

Hoe weet jy of jy in die wil van God is? Baie van ons jaag gevoelens of tekens na, maar die Here het vir ons 'n baie spesifieke meter op ons "geestelike dashboard" gegee: Vrede. Jesus se laaste geskenk aan ons was Sy vrede.

Die Griekse term vir hierdie vrede funksioneer soos 'n "umpire" (skeidsregter) in sport. Wat die skeidsregter sê, is die finale besluit, dit is buite die toeskouers en deelnemers se invloedsfeer. As die Skeidsregter van vrede sê "dis uit," dan moet ons dit nie teengaan nie. Ons moenie dinge doen wat ons vrede kos nie.

Selfs al verstaan ons nie alles in die gees nie, gee God vir ons die vermoë om in ons vlees ongemaklik te voel: "Iets pla my hieroor; ek het nie vrede nie". Vrede is die eenvoudigste manier om te weet of jy God se hand mis of nie. Leer om vrede te prioritiseer bo jou eie wil of die wêreld se druk. As jy onvrede ervaar, wees "mans genoeg" om nee te sê of jou koers te verander.

LEES: Fil. 4:4-8

MEDITEER Is daar iets waarmee ek tans besig is wat my vrede steel?.

Bid: Vader, leer my om sensitief te wees vir die vrede van U Gees. Help my om op te hou of weg te loop wanneer ek nie vrede voel nie. In Jesus naam, Amen.,.

BONUS: SPREEK LEWE! Die vrede van God is die finale skeidsregter in my lewe!.

Aanbidding: I raise a hallelujah – Jonathan and Melissa Helser

 

 

Dag 5: God as jou Persoonlike Afrigter

As ʼn kind deesdae baie goed wil doen in sport, byvoorbeeld gholf of tennis, sal daar ʼn persoonlike afrigter betrokke moet wees. Een-op-een lesse werk tog net beter as groepafrigting. Baie mense maak ook gebruik van ʼn persoonlike afrigter in die gimnasium, nie net om hulle te leer nie, maar ook in lyn met die oefenprogram en doelwitte te hou.

In Psalm 32:8 sê die Here: "Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees ". Dit is 'n uitnodiging tot 'n persoonlike verhouding waar God self ons leermeester word. Wanneer God ons leer, is daar geen plafon nie—mense (boeke, YouTube-preke, Facebookversies) kan ons net tot op 'n sekere punt leer, maar die Here trek ons op na hoër, suiwerder vlakke van geloof en vrede. Dink daaraan, ons het ʼn Persoonlike Afrigter wat ons belange op die hart dra.

Die Joodse kultuur het 'n pragtige kultuur waar 'n pa wanneer die tyd reg is, met intensie sy kind leer om "wins te maak" of voordeel te trek uit die lewe. Jesaja sê ook die Here leer ons wat "winsgewend" is. Dit gaan nie net oor geld nie, maar oor hoe om die lewe optimaal te leef volgens Sy plan.

Die Here wil ons raad gee (counsel) en Sy oog op ons hou. Dit beteken nie Hy wil ons uitvang of dophou nie; dit beteken Sy persoonlike aandag is op ons gerig. Hy wil nie met ander mense 'n pad stap oor ons lewe nie—Hy wil dit met ons stap. Meld aan by Sy voete en sê: "Here, leer my vandag."

LEES: Psalm 32:8-9

MEDITEER Maak ek tyd vir die Leermeester om my direk uit Sy Woord te onderrig?

Bid: Here, ek meld aan vir U klas. Leer my in U weë en gee my die insig om te wandel in die pad wat U vir my voorberei het. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! God se oog is op my en Hy lei my persoonlik elke tree van my lewe!

Aanbidding: Teach me Your ways – Rivers and Revival

 

 

 

 

Dag 6: Die Geheim van die regte Ingesteldheid

Ons oorkompliseer dikwels God se wil vir ons lewens. Ons dink dit gaan alles oor die "wat"—wat moet ek swot, waar moet ek werk, wat moet ek ry? Maar God is baie meer besorg oor die wie as die wat. Hy werk aan ons karakter en wie ons word as Sy ambassadeur.

Romeine 12:2 gee vir ons die sleutel. As jou gemoed en ingesteldheid verander, begin jou huwelik, jou finansies, jou vriendskappe en jou toekomsblik anders lyk as die wêreld s'n. Jy begin "anders" leef.

Wanneer jy jou energie fokus op jou verhouding met God en Sy karakter in jou lewe soek, sal jy outomaties in Sy wil "vasloop". Is dit nie ʼn wonderlike nuwe kennis om te hê nie? Jy hoef nie elke detail van môre te ken nie—trouens, die Bybel leer ons bitter min oor ons aardse toekoms. As jy vandag getrou is in die klein dingetjies en jou voetstappe volgens Sy Woord rig, sal die toekoms in lyn met Sy perfekte wil ontvou.

LEES: Rom. 12

MEDITEER Fokus ek meer op wat ek moet doen, of op wie ek besig is om te word in Christus?.

Bid: Vader, vernuwe my gemoed sodat ek nie soos die wêreld dink nie. Help my om vandag getrou te wees in die klein dinge en te leef tot U verheerliking. In Jesus naam, Amen.

BONUS: SPREEK LEWE! Ek leef anders omdat my ingesteldheid deur God se Woord vernuwe is!

Aanbidding: Psalm 23 – Outlaw Gospel Blues