Go Deep 05 Maart 2023

Living tougher than nails in a culture as tough as nails

Ed Delph

Therefore we must pay much closer attention to what we have heard, lest we drift away from it. – Hebreërs 2:1

Dag 1: Een Bron van waarheid

Is die kultuur waarin ons lewe besig om nader aan God of verder van God af te beweeg? Kultuur probeer ‘n norm skep waarvolgens van almal verwag word om te lewe. Indien jy nie daarvolgens lewe nie, word jy vreemd genoem of selfs verwerp deur die mense in die omgewing waar jy lewe. Die wêreld om ons is besig om ‘n kultuur te skep wat nie belyn is met God se waardes nie. Die wysheid van die Allerhoogste God is prysgegee vir die wysheid van feilbare mense.

Ons is nie gemaak deur hierdie wêreld nie. Ons is gemaak vir hierdie wêreld. Vader God het ‘n visie gehad vir elkeen van ons. Hy het ‘n plan ontwikkel van hoe ons lewens moet lyk en besluit om lewe te laat gebeur sodat daardie plan verwesenlik kan word op aarde. Ten einde God se plan op aarde uit te leef, moet ons harder as die kultuur om ons wees. Dit beteken nie ons moet liefdeloos en koud wees nie. Ons moet funksioneer uit ‘n innerlike krag wat nie gesmee kan word deur eksterne invloede nie.

Ons het een Bron waaruit ons moet lewe en dit is die Here. Ons lewens moet op Hom en sy Woord gegrond wees. Wysheid begin met die vrees van die Here. Om die Here te eer vir sy grootheid en goedheid en sy Woord as finaal te aanvaar oor ons lewens, is die begin van wysheid. Wysheid versterk jou innerlike sodat die uiterlike nie kan indring nie. Dit begin by die vorming van wie jy is en wie God jou gemaak het om te wees. Vind jou identiteit in die waarheid van sy Woord en dit wat God persoonlik oor jou sê, en fokus daarop. Dan sal jy nie beïnvloed word deur die kultuur om jou wat vir jou wil voorskryf wie jy moet wees nie

Lees:

Rom. 12:1-2 MSG

Spr. 9:10

Spr. 9:10 AMP

Mediteer:

  • Hoe is die kultuur besig om die omgewing om jou te beïnvloed?
  • Hoe kan jy onderskei tussen die wysheid van God en die wysheid van mense? Dink na oor hierdie gedagtes:
    • God se wysheid sê dat God die heelal, die reëls en die Waarheid gemaak het.
    • Die mens se wysheid sê dat die heelal om my draai en ek kan kies wat vir myself reg en waar is.
    • God se wysheid sê dat dit die doel van ons lewens is om te dien en nie om gedien te word nie.
    • Die mens se wysheid sê dat dit die doel van my lewe is om te heers en dat almal my moet dien.
    • God se wysheid sê dat ons almal ‘n Redder nodig het.
    • Die mens se wysheid sê dat ek alles op my eie kan doen.

Bid:

Vader God, daar is so baie invloede in hierdie wêreld. U Woord sê dat U my help om te transformeer deur die vernuwing van my denke sodat ek nie by die kultuur sal aanpas nie. Kom leer my u weë en help my om geanker te wees in my goddelike identiteit wat U vir my gegee het. Ek wil u Woord en Uself leer ken. Openbaar u Woord aan my sodat dit meer as net kennis sal wees, maar wysheid wat ek in my lewe kan toepas. Ek prys u Here! U is God Almagtig en bo alles! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek sal bo hierdie kultuur uitstyg en die ongelooflike persoon word wat God my gemaak het om te wees!

Aanbidding:

Psalm 46 – Shane & Shane

Dag 2: Die valstrik van kultuur

Waar verwarring heers, is daar ‘n afgod. Die kultuur van ons tyd probeer om verwarring te saai. Sosiale media, regerings, akademie, ens., is die aanvoerders van kultuur en probeer om die wysheid van die mens in ‘n norm te omskep waarvolgens almal moet lewe. Sekere instansies gaan sover om direkte indoktrinasiemetodes toe te pas in plaas van 'n subtiele invloed. Hoe verder die wêreld verval, hoe makliker sê die wêreldse kultuur dat dit wat kwaad is, goed is.

Ons vind ‘n goeie voorbeeld hiervan in die Bybelboek Daniël. Koning Nebukadnésar het Israel aangeval en oorwin. Daarna is baie van die voorwerpe uit die tempel van God na ‘n Babiloniese tempel geneem. Verder het hulle al die jongmense gevange geneem wat potensiële leiers was en die volgende generasie was wat Israel sou bestuur. Hulle is na Babel toe weggevoer. Onder hulle was Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja.

Hierdie nuwe kultuur het die identiteit van die genoemde vier mans probeer verwoes. Elkeen het 'n nuwe naam gekry met 'n teeenoorgestelde betekenis as hul oorspronklike goddelike name. Daniël, wat beteken “die Here is my Regter”, is Béltsasar genoem wat beteken “Vrou, beskerm die koning”. Hiemee het die Bailoniese regeerders probeer om die mans van God se identiteite te verander en hulle te “name-wash”.

Daniël en sy vriende is direk deur ‘n kultuur gekonfronteer wat verwarring wou saai oor wie hulle is. Deur toe te laat dat dit wat buite hulle is nie in hulle binneste inkom nie, het hulle het bly staan vir God en dit wat God hulle gemaak het om te wees. Hierdie mans het gekies om te fokus op dit wat God sê. Daar was ‘n keuse om aan God vas te hou en te bly vertrou. Selfs toe hulle deur die kultuur vervolg is, het Vader God hulle gered en  voorspoedig gemaak. Kultuur het hulle nie gevorm nie. Inteendeel, hulle het begin om die kultuur te verander.

Lees:

Daniël 1

Mediteer:

  • Is daar iets wat jy oor jouself glo wat deur kultuur vir jou gesê het oor wie jy is?
  • Is dit belyn met die Woord van God oor jou lewe?
  • Weet jy wat God oor jou sê?
  • Praat met die Here oor die naam wat Hy vir jou gegee het. Dit kan meer wees as die naam wat jy het. Daar is ‘n goddelike identiteit en kapasiteit binne jou, en Vader God wag in opgewondenheid om dit in 'n verhouding aan jou te openbaar.

Bid:

Jesus, U openbaar die waarheid. Hierdie wêreld en hierdie kultuur waarin ons lewe is nie die pad na lewe toe nie, U is! Jesus, wys vir my wie Vader God my gemaak het om te wees. Heilige Gees kom maak dit vas in my hart sodat ek kan begin om hierdie kultuur en valshede te weerstaan. Dankie dat ek versterk word sodat my innerlike nie aangetas sal word deur die uiterlike nie. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Jesus Christus is die Weg na lewe. Daar is geen lewe behalwe in Jesus nie. Ek sal hierdie wêreld se maniere weerstaan deur Jesus wat in my is!

Aanbidding:

Cornerstone – Hillsong Worship

Dag 3: Weerstaan

Hoe kan jy die invloede weerstaan in ‘n kultuur wat verwarring probeer skep en die bose toelaat om te heers ? Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja wys vir ons hoe hulle, deur die krag van die Here, die kultuur weestaan het en dit selfs verander het. Hulle het vooraf besluit wat die waarheid is en op grond daarvan bepaal wat hulle waarheid is. Terwyl die Babiloniërs probeer het om hulle te indoktrineer, selfs deur vir hulle nuwe name te gee met verwronge identiteite daaraan gekoppel, het hierdie vier mans deur hulle voorafbepaalde keuses om te glo in dit wat God hulle genoem het, nie by die kultuur aangepas nie.

Boonop het Vader God hullle voorspoedig gemaak in alles wat hulle gedoen het omdat hulle getrou was aan die woorde en die wil van God. Hulle het nie toegelaat dat nuwe lering hulle waarheid vervang nie (Daniël 1:8-16). God se Woord was die eerste en laaste vir hulle. Dit was die finale outoriteit in hulle lewens. Hulle het guns in die oë van God en van mense ontvang (Daniël 1:17-19).

Daniël het getransformeer en nie gekonformeer nie (Romeine 12:1-2 MSG). Hy het deel geraak van die koning se diens en het regeer in die land van Babel. Deur die voorspoed wat God vir hom gegee het, het hy die kultuur begin verander deur sy eie waardes uit te leef, maar ook terug te gee aan die gemeenskap. Hy het aktief betrokke geraak sodat sy aktiwiteite die kultuur kon verander. Eers het hy vasgestel wat is die waardes waarvolgens hy sal lewe om vir God te eer, en daarna het hy self daarby betrokke geraak om van binne af die kultuur te verander in plaas daarvan om van buite af die kultuur uit te daag.

Lees:

Dan. 1:8-10

Dan. 1:17-19

Rom. 12:1-2 MSG

Mediteer:

  • Watter keuses kan jy maak wat in lyn is met God se Woord waarvolgens jy gaan lewe?
  • Wat is jou waardes? Kan jy jou waardes belyn met God se waarheid?
  • Waar daag die kultuur jou uit om jou waardes prys te gee?
  • Waar kan jy betrokke raak om kultuur te begin verander?

Bid:

Vader God, ek het u Woord en u waarheid nodig om hierdie kultuur te weerstaan en to oorwin. Gee vir my wysheid om te weet hoe ek daaraan kan deelneem om hierdie kultuur te verander en gee vir my die krag om die uitdagings van hierdie kultuur te weerstaan. Jesus, dankie dat U saam met my is en dat ek, deur u Heilige Gees in my, kan oorwin teen hierdie wêreld. Ek prys u Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Hy wat binne my is, is groter as hy wat in die wêreld is!

Aanbidding:

Our God – Chris Tomlin

Dag 4: Die leeu in Daniël se kuil

Daniël was geanker in die waarheid van God oor sy lewe. Hy het daarvolgens gelewe en het gefloreer. As regeringsamptenaar was dit sy werk om drie konings se heerskappy te bestuur. Gedurende elke koning se tydperk was Daniël die hoofamptenaar van die land se regering. Weens die goeie gehalte van sy lewe en werk kon sy vyande niks teen hom vind as rede om hom uit sy posisie te laat ontslaan nie.

Hulle het egter geweet dat hulle deur slinksheid Daniël se geloof kon gebruik om vir hom ‘n strik te stel (Daniël 6:1-13). Daniël was getrou aan God en het drie keer elke voor die Here aanbid. Die kultuur het blatant sy geloof uitgedaag en hom daaroor vervolg. Volgens die kultuur was die volgende stap om Daniël in die leeukuil te gooi. Die kultuur se invloed het Daniël met die dood gedreig.

Vader God bewys Homself getrou om vir Daniël te red. Die leeu het God self saam met Daniël in sy kuil aangetref. Diegene wat kies om die Here te volg, sal selfs deur daardie vervolging geseënd wees (Mattheus 5:10-12). Vader God sal dit wat uit jou binneste vloei gebruik om alles rondom jou in iets beter. te verander.

Lees:

Dan. 6:1-24

Mat. 5:10-12

Mediteer:

  • Wat is die waardes waarvolgens jy wil lewe om die Here te eer?
  • Wat is daar in jou lewe wat jy moet neerlê om vir die Here te kan lewe?

Bid:

Vader God, dankie dat U my voorspoedig maak in alles wat ek doen in lyn met u wil. Selfs terwyl daar teenstand is, maak U deure oop. Help my om volgens u wil en u woord te lewe. Ek prys u Heilige Naam, Jesus. Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Hy wat binne my is, is groter as hy wat in die wêreld is!

Aanbidding:

Another in the Fire – Hillsong UNITED


Dag 5: Sien die geleentheid raak

“So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê” – Jeremia 29:4-7.

Die Israeliete is uit hulle eie land weggevoer. Volgens hulle perspektief sou hulle nou by ‘n nuwe kultuur moes aanpas. Vader God se opdrag aan hulle was egter om nie aan te pas nie, maar om te floreer sodat God se Koninkryk uitgebrei kon word in hul nuwe ‘n land met die kultuur daar wat teen God gekant was. Daniël het die geleentheid raakgesien en hy het God se opdrag geëer. Hy het sy aansien daar verhoog deur ‘n voortreflike Gees wat in hom was (Daniël 6:4). Hy het homself in hul kultuur ingewerk en het begin om dit van binne af te verander. Gedurende twee konings (Darius en Nebukadnésar) se heerskappy het Daniël se leefwyse daartoe gelei dat beide konings aan hulle onderdane opdrag gegee het dat die God van Daniël bo almal vereer moet word.

Ons het die Heilige Gees in ons. ‘n Voortreflike Gees wat ons lewens wil transformeer en ons innerlike wil versterk sodat ons nie deur kultuur verander kan word nie. Inteendeel, Sy inspraak sal lei na verandering in die kultuur waaraan ons begin deelneem. Die Heilige Gees is die antwoord om 'n kragtige uitwerking te hê op ‘n kultuur wat besig is om verwoesting te saai. Hy wil deur ons werk, maar ons moet Hom toelaat. Die oomblik wanneer ons Hom toelaat, verander ons lewens in magtige wapens wat God se Koninkryk laat kom en hierdie wêreld verander.

Lees:

Jer. 29:4-7

Dan. 6:4

Mediteer:

  • Ken jy die Heilige Gees soos wat jy Jesus ken?
  • Die Heilige Gees is God se teenwoordigheid konstant in jou.
  • Wat kan jy van die Heilige Gees vra om te verander in jou lewe?
  • Wat kan jy begin verander in die omgewing rondom jou deur die bemagtiging van die Heilige Gees? Dink aan deelname aan ‘n skoolraad, of die verandering van kultuur in jou werksomgewing, of selfs om deel te wees van ‘n gemeenskapsprojek.

Bid:

Vader God, dankie dat U ons lewens wil gebruik om in hierdie wêreld ‘n verskil te maak. Heilige Gees, kom en verander my lewe sodat die manier waarvolgens ek lewe, God se glorie sal bewys. Wys my ook waar ek kan begin om ‘n verskil te maak om hierdie kultuur te verander. Lei my hierin, Heilige Gees. Ek prys u, Here! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God se Koninkryk gaan deur my kan kom, deur sy Gees wat in my lewe!

Aanbidding:

Holy Spirit – Kari Jobe feat. Cody Carnes