Go Deep 19 Maart 2023

God wil genade aan jou vyande bewys

Neville Goodchild

Is jy gereed?

Dag 1: Die werk van God

Die Here het ‘n reddingswerk kom doen. Hy het genade kom gee wat red. Sy werk is meer as net die redding van jou sonde. Ons het onder baie omstandighede redding nodig. Ons kan kinders van God wees en onsself steeds in omstandighede bevind waar ons moet uitroep na God om hulp en redding. Eintlik is dit nodig dat ons moet besef dat ons nie sonder God kan funksioneer nie. Ons probeer om baie uitdagings self te hanteer en dan, wanneer ons gewroeg het om dit te herstel en net nogmaals besef dat ons nie dit kan regmaak nie, begin ons na God toe te draai.  Jesus wil hê dat ons na Hom sal kyk vir alles in ons lewens, vir alles wat belangrik en die moeite werd is.

God se werk stop nie net by ons nie. Sy bedoeling is dat sy werk deur ons kan gebeur om ander mense se lewens te verander. Alhoewel God almagtig is en enige iets kan doen wat Hy wil, kies Hy om ons deel te maak van dit, deurdat Hy deur ons begin werk. Dit is ons voorreg om deur Vader God gebruik te kan word om in ander mense se lewens in te spreek en hulle lewens ook te vul met die liefde en goedheid van God.

Hierdie idee kan dalk moeilik wees om te begryp, veral wanneer jy voel dat jy in jou eie lewe in nood verkeer. Hoe kan ek vir ander mense iets doen wanneer ek self nog God se redding nodig het? Jesus het 'n antwoord vir daardie vraag. Hy sal altyd diegene red wat sy redding nodig het. Hy het egter nie na mense gaan soek wat hul eie probleme reeds klaar opgelos het om saam met Hom te werk nie. Die dissipels was mans wat nie volgens die reëls sou kwalifiseer nie, tog het Jesus gebroke mense gebruik om God se Koninkryk te laat kom. Jy kan glo dat God se goedheid jou sal red, maar ook weet dat God deur jou kan werk, selfs al voel jy nog nie gereed nie.

Lees:

Rom. 8:28

Fil. 1:6

Mediteer:

  • Waaraan het jy nood? Waarvan moet God jou red?
  • Waarvan het die Here jou al gered? Hoe kan jy dit gebruik om mense om jou te stig wat deur iets soortgelyk gaan?
  • Wie is jou naaste? Vra die Heilige Gees wat jy vir hulle kan doen in hierdie tyd.

Bid:

Vader God, dankie dat U nog altyd goed was, altyd goed sal wees, en nou ook goed is. Ek vra dat U my sal kom red van dit in my lewe wat gered moet word. Verander dit deur u genade oor my lewe. Heilige Gees, wys vir my hoe ek ook deel kan neem aan God se werk in die mense om my se lewens. Ek voel nie noodwendig gereed nie, maar ek weet U besit die krag van God en U lewe binne my. Kom en werk deur my. Ek prys u Heilige Naam, Here Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

My God kan my red! Hy wil my ook gebruik om ander mense e red!

Aanbidding:

Goodness of God – Jenn Johnson


Dag 2: Die volgende stap

Die Here wil méér doen as wat ons besef. Soms fokus ons op die lewe wat óns dink die beste vir ons sal wees. Ons kies ons eie pad of ons eie manier van lewe buiten die nuwe lewe wat vir ons gegee is toe die Here ons gered het. In die Ou Testament, in een van die bekendste boeke onder die profete, lees ons van Jona. 'n Man wat deel van God se mense was. Die Here het vir Jona gesê om na die groot stad Ninevé te gaan en vir die inwoners daar te gaan preek sodat hulle van hul booshede bekeer kon word.

Jona weier volstrek en verkies om van God af weg te vlug. Hy klim in Joppe op 'n skip wat op pad was na Tarsis. Die Here het 'n storm gestuur wat Jona sou verhoed om te vlug. Nadat Jona oorboord gegooi is sodat die ander mense op die skip kon oorleef, het hy byna verdrink. Die Here het 'n groot vis gestuur om hom in te sluk. Daar in die ingewande van die vis het Jona uitgeroep na die Here. Hy het aanbid, vir redding geroep vir die Here belowe dat hy Hom weer met offerhandes sal aanbid. Al was Jona ongehoorsaam teenoor die Here, het Hy nie sy ore toegedruk en Jona nie gered nie. Die vis het Jona op land uitgespoeg.

Dit is 'n belangrik feit dat Jona nie in Joppe uitgespoeg is nie. Die vis het hom naby Ninevé uitgespoeg. Jona het verwag dat hy gered sou word, maar dat hy gered sou word sodat hy kon aangaan met sy lewe en voortgaan om die Here in die tempel van God te dien. Die Here wou egter dat Jona sou aangaan met die missie wat God vir hom gehad het en het weer vir Jona gevra om die mense van Ninevé te gaan besoek en vir hulle te preek. Hierdie keer was Jona gehoorsaam.

Wat keer ons om gehoorsaam te wees aan die Here wanneer Hy vir ons vra om uit te reik na mense rondom ons? Jona is gekeer deur dit wat in sy eie hart voorop gestel was teenoor die mense van Ninevé. Vir hom was hulle nie waardig om gered te word nie. Dit was die Assiriërs, die mense wat bekend was vir hulle verskriklike wreedheid gedurende oorlogstye en hulle was boonop in daardie tyd direkte vyande van die Israeliete. Jona was moontlik bang vir hulle. Dit is egter duidelik dat sy ongehoorsaamheid, selfs teenoor God, gebore was uit sy woede en haat teenoor die mense van Ninevé.

Wanneer God red, begin 'n nuwe lewe vir ons. Dalk is ons klaar gered, maar het verdere redding nodig in dele van ons lewens wat lyk asof dit ongered is. Met redding word daardie dele nuut. God wil nie daar stop nie. Hy red nie net vir jou nie, maar hy red vir jou en alles om jou. Dit sluit jou naastes in wat nie noodwendig jou vriende is nie. Die mense met wie jy in kontak is maar vir wie jy nie tyd het nie is juis daardie mense wat God deur jou wil red.

Lees:

Jona 1

Mediteer:

  • Wie ken jy, wat so in die wêreld is, dat jy die enigste openbaring van Jesus is wat hulle ooit sal hê?
  • Is daar mense in jou lewe vir wie jy kwaad is?
  • Is daar mense in jou lewe wat jy haat?
  • Vra vir die Heilige Gees om te begin werk in jou hart teenoor daardie mense.

Bid:

Heilige Gees, dankie dat U my lei. U is my bystand en my hulp en U openbaar die woorde van my God aan my. Laat ek hoor en gehoorsaam wees en verander my hart teenoor mense. Jesus, wys my hoe om lief te wees en genade te hê net soos U het. Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Die Here het 'n groter werk om te doen in my lewe. My lewe is nie betekenisloos nie, maar kan gebruik word om deel te wees van die grootste storie van almal! God se storie!

Aanbidding:

Heart of God – Zach Williams


Dag 3: Gered net vir jouself, of gered vir jou en alles om jou?

“Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” – Jesaja 55:8-9.

Redding is nie 'n saak vir een party nie. Wanneer God red, het hy vir jou en ook die mense agter jou of om jou in gedagte. Alhoewel dit vir ons 'n groot werk is wat die Here kom doen het en dit gladnie onbelangrik is nie, is die werk wat Hy daarna wil doen soveel groter. Jona is gered sodat hy redding vir Ninevé kon gaan aankondig. Sy hart was opstandig teenoor die Here omdat hy die inwoners van Ninevé gehaat het. God se missie vir ander mense kon nie uitgevoer word voordat Jona se hart verander het om God se opdrag te gehoorsaam nie.

Ons kan in die pad staan van die werk wat God in mense se lewens wil doen wanneer ons dalk net iets sê soos “Net die Here kan hulle red”. Vader God wil deur ons werk om genade en die goeie nuus aan ander mense te verkondig, maar ons opinie oor daardie mense kan verhoed dat Jesus hulle bereik. Soms vat dit nie eers baie om daardie mense te bereik nie. Ninevé was so 'n groot stad dat dit drie dae geneem het om deur dit te stap. Tog, nadat Jona selfs net 'n dag deur Ninevé gereis het, was die hele stad besig om te bekeer en het berou vir hulle sondes en booshede getoon. Jona het nie eers die indrukwekendste preek gelewer nie nie. In Afrikaans was dit maar net sewe woorde wat daardie stad se transformasie veroorsaak het.

Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy in die oë van sy direkte vyande gekyk en vir Vader God gevra om hulle te vergewe, want hulle het nie geweet wat hulle doen nie. Jona het gaan profeteer aan mense wat nie bekend was as God se volk nie. Hulle God nie geken nie, maar tog het God 'n hart vir hulle gehad. In Jona 4 sê God dat hierdie mense nie kon onderskei tussen hulle links en regs nie. Hulle het nie werklik geweet wat hulle doen nie. Ons moet dieselfde genade wat die Here vir ons het, verstaan en dit ook hê vir ander mense rondom ons wat ook nie weet wat hulle doen nie. Mense wat nie vir God ken nie, is juis die mense na wie Hy wil uitreik. Daarvoor moet ek en jy, as God se kinders wat geroep is, sy genadeboodskap aan ander mense verkondig. Ons het dit ook ontvang toe ons nie geweet het wat ons doen nie. Jesus vra dat ons ons verharde harte sal verruil vir harte wat kan liefhê om die goeie nuus ook vir daardie mense te bring.

Lees:

Jes. 55:8-9

Jona 3

Jona 4:11

Mediteer:

Waarvan het God jou gered? Wat beteken dit vir jou?

Hoe kan jy jou verhaal gebruik om ander mense se lewens te verander?

Vra vir Vader God of jy in die pad staan van sy werk om ander mense te bereik weens jou verharde hart teenoor hulle. Laat Jesus jou lei om daardie mense te bereik en vir hulle die liefde van Jesus te wys.

Bid:

Vader God, dankie dat U my gered het. Ek het nie geweet waarmee ek besig was in my lewe nie en U het dit kom verander. U het 'n lewe wat op pad was na die dood verander sodat dit lewe en in oorvloed kan hê. Wys vir my of ek in die pad staan van u werk vir ander mense omdat my hart teenoor hulle verkeerd ingestel is. Jesus, kom en maak my hart reg teenoor mense wat ek dalk sien as my vyande en wys vir my hoe ek hulle kan bereik. Wees U my voorbeeld en help my om ander se lewens ook te red deur U wat deur my werk. Ek prys u Heilige Naam! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

God red nie net vir my nie, maar ook alles om my!

Aanbidding:

Nobody – Casting Crowns

Dag 4: Die groot stad

Wat kan die Here doen met die klein bietjie wat ek het om te gee? Wat kan die Here nié doen nie, is 'n redelike antwoord op hierdiedie vraag. Jona moes 'n ontsaglike groot stad (Jona 3:3) besoek en aan hulle die Woord van God verkondig. Selfs Vader God het vir hom gesê dat dit ‘n groot stad was. Maar Jona se opinie daaroor was anders as God se opinie. Jona het dit 'n groot stad genoem bloot omdat dit hom lank sou vat om deur te reis. God het dit ‘n groot stad genoem, want Hy het die stad en sy mense belangrik genoeg geag om deel te word van God se groter storie.

Jare later verkondig Jesus aan die hardkoppige mense wat nie wou luister na sy boodskap nie dat Ninevé hulle sal oordeel. Ninevé se mense het hulle bekeer, maar die generasie wat Jesus bedien het, wou nie luister nie. ‘n Stad wat nie deel was van God se volk nie en ook nie uit die bloedlyn van Abraham, Isak en Jakob gekom het nie, sou deel gemaak word van God se plan om te getuig teen diegene wat nie wil luister wanneer God hulle wil bereik nie.

Unimportant to man, but of utmost importance to God. Die Here het groter planne as wat ons besef. Sy werk is groter as ons s'n, sy denke is groter as ons s'n. Ons besef nie wat die Here kan en wil doen deur die werk wat Hy vir ons gee om te doen nie. Dit wat vir ons onbelangrik lyk, is vir God van die grootste belang, want daardie een mens wat Hom nie ken nie, is iemand wat Hy wil verander om een van sy grootste diensknegte te word.

Buiten die feit dat die volk wat Jona bedien het deel sou raak van God se missie, het selfs Jona se eie redding deel gevorm van die storie van Jesus. Alhoewel dit gebeur het weens 'n rebellie, het die Here beplan om Jona se visverhaal te gebruik om te profeteer van Jesus. Die Here kom verander dit wat sleg is en laat dit ten goede meewerk! Selfs jou slegste verhale kan God vir iets goed gebruik. Selfs jou kleinste werke kan God gebruik om vir ewig in getuienisse van geloof herhaal te word. Wat dalk vir jou as te klein lyk, is nog steeds vir die Here belangrik.

Lees:

Jona 3:2-3

Mat. 12:41

Mat. 12:39

Mediteer:

  • Jou slegste herinnering kan jou grootste getuienis word. Het jy al vir die Here gevra om dit ook te red?
  • Wat is die klein werke wat jy nou doen, dit wat dalk onbelangrik lyk?
  • Niks is klein vir God nie. 'n Eenvoudige opdrag wat Hy op jou hart druk, kan die wêreld se verskil maak vir die persoon aan die ontvangskant.

Bid:

Vader God, dankie dat U selfs my slegste belewenisse kan red. U maak nuut en U gebruik dit vir iets goeds. Dankie dat ek ook vir U kan lewe. Selfs al voel dit vir my soos klein werke, is dit vir U belangrik en vir ander betekenisvol. Heilige Gees, lei my sodat ek heeltyd gehoorsaam kan wees aan Vader God in dit wat ek doen en dat ek dadelik sal reageer op die opdragte wat Hy vir my gee. Ek loof en prys U, Here! In Jesus se Naam, amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Niks is klein vir die Here nie. In sy manier van werk, is dit wat klein is, groot!

Aanbidding:

There’s Nothing That Our God Can’t Do – Passion feat. Kristian Stanfill


Dag 5: Die einde van die storie?

Jona se storie het geëindig so gou soos wat dit begin het. Alhoewel daar 'n hele paar kort boeke in die Ou Testament is, is die boek Jona een van die kortstes. God het 'n groot werk deur Jona kom doen. 'n Hele stad wat deur ander as verlore gesien is, is gered en het deel geword van die Here se meestersplan. Terwyl God so 'n groot werk kom doen het, was Jona se hart heeltyd verhard teenoor die mense van Ninevé. In die laaste vers van Jona 4 vra die Here vir Jona of Hy nie vir Ninevé mag spaar nie. Dit was in reaksie op Jona se ontsteltenis oor die feit dat die Here die stad wou spaar.

Van al die profetiese boeke in die Ou Testament is daar nie een wat eindig soos die boek Jona nie, waar die God vr Jona aanspreek omdat sy hart verhart was vir die goeie werk wat God vir ander mense wou doen. Jona kon nie saam met daardie mense die goeie werk van God vier nie. Daar was geen bereidwilligheid by hom om die werk van die Here te doen nie. Dit is onbekend waarom Jona se storie so vinnig eindig. Dit is egter vir ons duidelik dat Jona nie bereid was om saam met God te werk aan die mense wat hy nie wou aanvaar het nie.

As die waarde wat ons op ander mense se lewens heg, gebaseer word op hoe ons oor hulle voel, kan dit ons verhinder om meer van God se werk in ons eie en in ander mense se lewens te sien. As ons nie ons kwaad en haat reg hanteer nie, kan dit 'n doodloopstraat word waar ons onself eers moet bekeer voordat die Here verder in ons lewens kan werk. Wat dit betref, was Jesaja die teenoorgestelde van Jona. Jesaja hoor in 'n visie hoe Vader God vra, “Wie kan ons stuur?” Jesaja antwoord en sê dat hy sal gaan om die werk van die Here te doen. Die verskil tussen hierdie twee profete was hulle gewilligheid en hulle harte teenoor mense. Jesus het 'n hart vir mense. Hy het 'n hart vir jou, maar ook vir die persoon langs jou. Laat die Here jou hart teenoor mense verander en volg Jesus in sy missie om lewens te verander. Jou storie word só deel van 'n groter storie wat nooit sal eindig nie.

Lees:

Jona 4

Jes. 6.8

Mediteer:

  • Van watter storie wil jy deel wees?
  • Is daar iemand in jou lewe teenoor wie jy jou hart moet verander?
  • Wie is daar wat jy moet vergewe?
  • Jesus leer sy dissipels dat die persoon wat die minste is, die meeste in die Koninkryk sal wees. Alhoewel dit uitdagend mag wees, moet jy die minste wees en uitreik na iemand waarmee jy verhoudingsbreek gehad het, en vir vergifnis vra. Die Afrikaanse spreukwoord lui, “Daar is altyd iets om voor jammer te sê.”

Bid:

Vader God, dankie dat U my liefhet. Ek is vir U belangrik genoeg. Verander my hart en help my om mense te vergewe wat my te na gekom het. Heilige Gees, gee vir my wysheid sodat ek mense met wie ek nie 'n goeie verhouding het nie kan benader om herstel te probeer bewerkstellig. U is altyd goed vir ons! Ek prys u Heilige Naam, Jesus! Amen.

Bonus: Spreek Lewe!

Ek kies om my lewe deel te maak van God se storie van redding. 'n Storie wat vir ewig en altyd sal aangaan.

Aanbidding:

Your Love Awakens Me – Phil Wickham