Go Deep 9 April 2023

DIE GRAF IS LEEG!

Neville Goodchild

Dag 1: Die Graf is leeg

Christenskap is die enigste godsdiens ter wêreld waar die mens homself nie vir sy god offer nie, maar andersom. Dít maak Christenskap uniek. God het 'n besluit geneem om Homself vrywilliglik vir die mens te gee. Hierdie besluit het Hy enduit deurgevoer en hierdie besluit staan vir altyd. Hy het Homself tot die dood toe nie te hoog geag nie, sodat die wat in Hom glo, kan lewe.

Jesus Christus is die Lig vir die mense. Hy is die Lewe. Hy gee lig sodat ons as mense lig kan hê en kan lééf! Hy gee waarheid en vryspraak. Jesus Christus is God en Jesus Christus leef!

As Christene vier ons nie net Jesus Christus se dood nie. Die graf is leeg! Toe die vroue by die graf kom en besef dat die graf leeg is, het hulle 'n nuwe openbaring ontvang. Dit is in hierdie feit, dat die graf leeg is, waarin hulle nuwe Rhema ontvang en vrymaking beleef. Al die trauma waardeur hulle is en al die dinge van die afgelope paar dae, die wanhoop, geloof wat vernietig is, die teleurstelling en die hartseer, word in 'n oomblik vervang met hierdie nuwe realiteit. Die graf is leeg!

'n Nuwe bedeling word aangekondig. Die tyd van die Nuwe Testament  het aangebreek. Die ou tradisies en gebruike is iets van die verlede. Dit word deur die nuwe vervang. Ons hoef nie meer terug te gaan na die ou dinge soos 'n hond na sy braaksel nie. Jesus Christus het ons van die dinge van die verlede bevry. Ons kan vorentoe beweeg in die nuwe wet van liefde. In hierdie nuwe bedeling staan ons nie meer onder die wet nie, maar onder liefde, en waar daar liefde is, is daar geen veroordeling nie. God is liefde.

Dit is die sentrale deel van ons geloof: Jesus Christus het vir ons gesterf (Hy is dood verklaar, Hy is begrawe, sy liggaam is deur die reinigingsrituele). Met die aanbreek van die Sondagoggend is Jesus nie meer daar om aan die dinge van die dood deel te neem nie. Die graf is leeg! Jesus Christus het die ou dinge afgehandel en nuwe dinge vir ons gegee. Ons is in 'n nuwe bedeling!

Lees:

Luk.24:1-3

Mediteer:

  • Al die ou tradisies en feeste verkondig die boodskap dat God sy volk gered het en dat daar 'n Messias kom. Hoekom vier ons nie meer hierdie feeste nie? Wat glo ons?
  • Hoekom begin die Nuwe Testament daar waar die vroue hoor en sien dat die graf leeg is?
  • Watter implikasie het die leӫ graf op my lewe?

Bid:

Dankie Here, dat U  u lewe vir my gegee het en vir my gesterf het. Dankie dat U getrou was tot in die dood en dat U opgestaan het en leef, sodat ek ook kan leef. Dankie dat ek in hierdie nuwe tyd ná u opstanding kan leef en dat ek kan uitsien na 'n lewe waarin U my nou reeds deel gemaak het van u Koninkryk. U leef! Halleluja!

Spreek Lewe!

Die graf is leeg, Jesus Christus het die dood oorwin, Hy leef! Ek het saam met Hom in die doopwater gesterf, opgestaan en leef nou saam met Hom!

Aanbidding:

Jesus Messiah – Chris Tomlin

Dag 2: Onthou julle nie?

Die vrouens wat Sondagoggend by die graf aangekom het, was besig om te rou. Hulle was wanhopig, uitmekaargeskeur en het die grootste geloofsteleurstelling beleef. Hulle het alles verloor waarop hulle gehoop en geglo het. Hulle het geleef in 'n tydperk van onderdrukking en beperkinge op hul godsdiens en het 'n hoop gehad dat hierdie Messias hulle sou verlos van onderdrukking. Dat Hy die regering sou omverwerp. Nou is Hy dood. Hulle het op 'n tyd van vrymoedigheid, vrede en vreugde gehoop, maar het net smart ervaar. Hulle was deurmekaar en dit was vir hulle moeilik om alles te verstaan.

Toe hul by die leë graf kom, het die engel vir hulle gevra: "Hoekom soek julle die lewende by die dooies? Onthou julle dan nie wat Hy vir julle gesê het nie?" Die engel het hulle aan Jesus se presiese woorde herinner: “Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan”. Tussen al die preke en gesprekke en boodskappe, is dít die belangrikste sin om te onthou. Dit is hier waar hulle nuwe lewe begin het. Hulle het die dissipels dadelik gaan vertel. Nuwe realiteite het aangebreek.

Die Nuwe Testament begin wanneer ons onder slegte omstandighede, wat nie soos Koninkryk lyk nie, begin onthou wat Hy gesê het.

Lees:

Luk.24:1-7

Mediteer:

  • Watter nuwe realiteite het vir jou aangebreek met die besef dat Jesus leef?
  • Waarvan het Jesus jou verlos?
  • Watter Woord het jy vir jou persoonlike lewe ontvang wat jy moet onthou?

Bid:

Vader, u Woord gaan uit om nie leeg terug te keer nie. U stuur dit om te werk volgens u Wil. Dankie dat U 'n spesifieke Woord vir my lewe het. Die Word wat U oor my het, is kragtig en lewend. Ek wil dit met alles wat ek het vat, glo, vashou en hoop op U. Dankie dat hierdie feite in die geskiedenis my bemoedig en my geloof versterk, sodat ek kan weet dat U doen wat U gesê het. Dankie daarvoor. Amen

Spreek Lewe!

Ek soek die Here se Woord oor my lewe. Ek gryp dit en hou vas daaraan. My lewe begin by sy sterwe, opstanding en Woord, en ek onthou dit!

Aanbidding:

Hy Leef – Retief Burger

Dag 3: Weg van die graf af

Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” (Luk.24:5). “Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel” (v.8).

As jy al ooit by ’n geliefde se graf was, weet jy hoe moeilik dit is om van daar om te draai en weg te loop. Maria, Jesus se ma (met haar hart deurboor) skroom nie om om te draai en dadelik vir die ander te gaan vertel nie. Die vroue het nie aangehou treur nie. Hulle het vrymoedigheid gekry om weg te gaan van die graf af en die goeie nuus te verkondig.

Ons moet nie hier wees om te treur en te wonder nie, maar om te onthou, te weet en te gaan vertel.

Waarom verlang jy na die ou dinge en soek nuwe dinge op die verkeerde plek? Waarom soek jy jou toekoms by jou verlede? Ons gaan nie die nuwe dinge op die ou plekke vind nie. Jou storie se klem lê nie in die verkeerde dinge van jou verlede nie, maar in die nuwe dinge wat die Here doen. Die dinge van die lewe is nie by die dinge van die dood nie. Ons moet ons gedagtes vernuwe. We need to relocate ourselves mentally. Ons kyk dikwels op die verkeerde plekke, of na ander mense se stories. Ons moet herbesin en ’n nuwe koers inslaan. Die koers van lewe!

Lees:

Luk. 24:1-10

Mediteer:

  • Wat het met die vrouens gebeur dat hulle kon omdraai en weggaan? Wat moet ek besef, sodat ek ook op so ’n draaipunt kan wees.
  • Hoe kan ek herbesin en my gedagtes vernuwe?

Bid:

Heilig is U vir ewig en altyd Here! U lewe, U is lankmoedig en getrou. U is die begin en einde en U is waardig om aanbid te word. U heerlikheid en krag hou alles in stand en gee lewe. Ek wil U lof besing want alle eer behoort aan U. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek draai om van die dinge van die dood en strek my uit na lewe en dit wat die Here doen. Ek vertel met vrymoedigheid die goeie nuus!

Aanbidding:

Holy Forever – Bethel Music

Dag 4: Relocate mentally (Om geestelik te hervestig)

Ons is besig met 'n geveg wat in ons sinne bestaan. Ons stryd is om daarin te slaag om onsself te geestelik te hervestig.

Hoe is dit dat van duisende Israeliete wat bevry is uit Egipte en vir 40 jaar lank deur die woestyn geloop het, daar net twee mense was wat die beloofde land kon ingaan? Hulle was almal sonder gebrek, sonder siekte, selfs die klere en skoene wat hul aangehad het, het nie verniel nie. Hulle is dag en nag deur God versorg. Moses self kon die beloofde land net van vêr af aanskou.

They could not relocate themselves mentally.

Josua en Kaleb kon hulself geestelik hervestig. Hulle kon hulself in moeilike omstandighede skaar by dit wat God sê. Die res van die verspieders het almal gesê dat hulle in die oë van hul vyande soos sprinkane lyk. Josua en Kaleb kon egter sê wat God sê, en kon met hul geestesoë sien wat God belowe het. Dít is geloof.

They were able to relocate themselves mentally (Hulle was in staat om hulself geestelik te hervestig). In ons interne verstandelike stryd sukkel ons tans met een van die volgende: Óf ons val vas in die Ou Testamentiese manier van dink, óf ons val vas in die wêreldse ingesteldheid. By watter een is jy?

Jesus het vir 33 jaar lank onder die wet geleef en aan al die vereistes van die wet voldoen en dit vervul. Die wet vereis ’n offer vir sonde, en Jesus Christus het finaal voldoen aan hierdie vereiste. Hy het die juk van slawerny en onderdrukking, wat die wet veroorsaak het, finaal gebreek.

’n Testament tree in werking wanneer die testateur te sterwe kom. Jesus Christus moes die oue afhandel sodat die nuwe kon begin. Hy het die twee nie gemeng nie, maar ’n duidelike einde gemaak aan die ou bedeling. Met Jesus se sterwe en opstanding het die nuwe bedeling begin. Ons is bevry van die las van die wet en ons staan nou in ’n nuwe lewe.

Ons moet ’n kopskuif maak deur die Nuwe Testamentiese lewe te leef.

Lees:

Luk. 24:1-10

Kol. 2:20-22

Mediteer:

  • Op watter plek haak jy vas?
  • Ons kan enige iets met applous begroet, maar moet versigtig wees met wat ons in ons lewens verheerlik. Wat is dit wat jy verheerlik?
  • Ons is in werklikheid nie soveel ván iets verlos as wat ons áán iets uitgelewer is nie. Aan wat is jy uitgelewer?

Bid:

Here, ek wil elke gedagte gevange neem en gehoorsaam wees aan U. Ek vertrou dat u Heilige Gees my sal help om leuens te identifiseer en waarheid te bring, sodat ek vry kan leef, in U. Ek wil nou en voortaan 'n Nuwe Testamentiese lewe leef wat getuig van u goedheid en U verheerlik. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Wat God sê, tel!

Aanbidding:

Great Things, Battle Belongs, God of Revival, Living Hope – Phil Wickham

Dag 5: Nuwe realiteit

Op die Saterdag na Jesus se kruisdood was sy stem stil. Hy was dood. Daardie Sondagoggend, by die leë graf, ontvang die vroue Rhema. Jesus leef! Dit verander alles. Daar is nuwe insig, nuwe diep geestelike openbaring. Hierdie nuwe lewe wat wag is nie te vinde in die verlede of in die wêreld nie, daarom kan die vroue omdraai en haastig uitgaan om die goeie nuus te deel. Dit is ook waarom ons op Sondae bymekaarkom. Ons vier Jesus Christus se lewe en ons lewens in Hom! Die Ou Testamentiese dae en wette is verby!

Dikwels bestaan 90% van mense se getuienisse uit dit wat verkeerd was. Net die laaste gedeelte is dan ’n kort beskrywing van dit wat die Here gedoen het en doen. Ons moet versigtig wees wat ons vier. Ons moet fokus op die dinge van die Here eerder as die dinge van die verlede. Ons vier ons nuwe lewe in Christus. Ons moet fokus op die nuwe dinge en die dinge daarbo!

Wanneer jy jou laat doop, sterf jy saam met Jesus Christus (Kol. 2:20). Jou ou lewe is verby en die ou ek het gesterf. Dan kom jy uit die water en jy staan saam met Jesus op in 'n nuwe lewe, net soos Hy opgestaan het uit die dood. Menslik gesproke is verandering onmoontlik, maar wanneer ons gehoorsaam is en Jesus Christus deur die doopwater volg, is daar geestelike skuiwe en blokkasies wat God bonatuurlik verwyder. Nie net is daar dinge wat God verwyder nie, maar deur Jesus Christus is daar nou nuwe dinge wat ons ontvang. Waaraan ons bevry is, is ’n baie groter getuienis as waarvan ons bevry is. Ons is bevry aan Koninkryk-realiteite.

Waarom dan, as jy saam met Jesus Christus gesterf het, hou jy jou nog besig met wêreldse en Ou Testamentiese gebruike (Kol. 2:20)? Onthou die graf! Onthou Jesus se Woorde! Onthou Jesus se opstanding en waarvoor Hy dit gedoen het! Ons leef nie meer asof ons deel is van die Ou Testament of van die wêreld nie. Ons is nie net bevry van die wet en die las van sonde nie, maar ons is bevry aan ’n nuwe realiteit! Ons is bevry aan ’n Koninkrykslewe! Dit het ’n nuwe implikasie!

Lees:

Luk. 24:1-10

Kol. 2:20-22

Kol. 3:1-4

Mediteer:

  • In hierdie nuwe lewe in Jesus Christus, is my lewe verborge in God. Ek is veilig en word beskerm. God gee vir my ’n nuwe identiteit en ek is nie meer wie ek was nie. Selfs al onthou ander die ou ek, sien God my soos Hy my werklik gemaak het om te wees in Hom.
  • Waaraan ek bevry is, is ’n baie groter getuienis as waarvan ek bevry is. Ek vier my nuwe lewe in Christus. Dit is die plek waarby ek moet vashaak! I have now been delivered unto the Kingdom! Ek is nie nou net bevry van my verlede nie, maar bevry aan ’n nuwe Koninkrykslewe!
  • Soek die dinge daar bo waar Jesus Christus langs God is (Kol. 3:1). Dit is waar jou fokus moet wees! Maak Jesus se openbaring, jou openbaring!
  • Ek skuif nou van ’n lewe van eie werke en self-pogings na ’n lewe van gewilligheid om God se Wil uit te leef. Dit bring vir my vriendskap met God, diep vrede en rus.
  • Relocate yourself mentally: If His death and resurrection is your death and resurrection in a new life, then the environment of our lives has become grace and our identity righteousness in Christ!

Bid:

Here, ek gryp u nuwe Koninkryksrealiteite aan en doen weg met my wêreldse en Ou Testamentiese denke en idees. Dankie, dat U deur u Gees, u nuwe realiteite en implikasies aan my openbaar en dat ek nou, in Jesus Christus, ’n nuwe lewe kan uitleef en vier. In Jesus se Naam. Amen

Bonus: Spreek Lewe!

Ek volhard om met toewyding die gevolge (die implikasies) van my verborgenheid in Jesus Christus uit te leef!

Aanbidding:

Mystery (Hidden Things) – Vous Worship